Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans

  • 2
  • Op Saterdag 12 Mei het ’n geskiedkundige gesprek, “Khoekhoegowab in die kollig” (KKG-dialoog), by die Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands plaasgevind. Die gesprek is aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en !AL-OM (!Alom Aboriginal Customary Council).

  • Lees sprekers en deelnemers se indrukke van die dag hier.

Christo van Rensburg is gevra om meer oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans te skryf:

Die Kaapse Khoi-Khoi was die eerste van die Khoi-stamme wat Afrikaans aangeleer het. Dit het gedurende die vyftigjaarperiode van 1595 af gebeur voordat die VOC-verversingspos in 1652 onder Van Riebeeck gevestig is. Khoi-Afrikaans het ontstaan as gevolg van die kontak tussen verskeie Khoi-groepe wat die Kaapse weidingsgronde gereeld besoek het en die seelui van die Hollandse skepe wat die Kaap sporadies besoek het. Hulle wou ’n kommunikasietaal vir handelsdoeleindes geskep het. Khoi-Afrikaans het goed wortel geskiet, en word vandag nog gepraat. Die Kaapse Khoi-Khoi was nie net die eerste sprekers van Afrikaans nie: die eerste tekste in Afrikaans is in die 1670’s ook in Khoi-Afrikaans opgeteken.

Die funksies van ’n taal is in ’n hoë mate aan die ekonomiese krag van sy sprekers gekoppel. Voor die einde van die 17de eeu is die Khoi-Khoi se veestapels so geërodeer dat hulle hulle ekonomiese waarde vir die Kaapse samelewing van daardie tyd verloor het en ook die ekonomiese rugsteun vir die behoud van hulle taal. Die Khoi-Khoi moes hulle vir assimilasie aan, en oorlewing in, die samelewing van die Kaap, en later in die binneland, op hulle Afrikaans verlaat wat vir werkgewers verstaanbaar was. Hierdie Afrikaans was hulle eie Khoi-Afrikaans met ’n duidelik herkenbare Khoi-basis, ’n voortsetting van hulle eerste Afrikaans.

Moderne formele en informele Afrikaans vertoon baie invloede van Khoi-Afrikaans wat grammatika betref, soos sinstrukture (Hy wat Gert is), woordstrukture (aanja, bly staanstaanmaakloop staan slaap, oompie-goed), uitspraak (gjel naas geld), hoë vokale (wiet naas weet), woorde sonder -r in eindposisie (probee naas probeer), en talle uitdrukkings. Plekname dwarsoor Suid-Afrika (Grootrivier uit Gariep) beklemtoon die sprekers van Khoi-Afrikaans se wisselwerking met die Suid-Afrikaanse bodem. Oorsigtelik: in die Adam Small-trant het daar al baie poësie in die idioom van Khoi-Afrikaans verskyn, dieselfde manier waarop Hans du Plessis sy Griekwa-psalms geskryf het. Elias Nel se verhale pas ook hierby, asook Nathan Trantaal se bydraes. Met die oop-opname-beleid van die jongste AWS sal die aandeel van Khoi-Afrikaans aan formele Afrikaans toeneem.

Daar is tans baie nasate van Khoi (en ook San, wat ’n aanvegbare verdeling kan wees), wat vaardig is in húlle Afrikaans, maar wat ook, ooreenkomstig hulle woongebied, een (of meer) van die ander Suid-Afrikaanse tale praat, of tale wat noord van Suid-Afrika bekend is.

Christo van Rensburg (Foto: verskaf)

Hierdie nasate identifiseer hulle met ’n verskeidenheid van dosyne stamme, groepe, taalvorme en dialekte, meestal noord van Suid-Afrika, waaronder !Xuntali, ǁGana, ǀXam (wat op ons landswapen gebruik is), ǀGui, Ju/’hoan, Khwe, Khwedam, Kxoe, N/u, Nama, Naro, Shua en Tshwa, om maar enkeles te noem. Die oorhoofse naam Khoekhoegowab pas in hierdie gevalle goed: -gowa beteken “taal” (vgl goba of gowa, wat ook “praat” beteken), en Khoekhoe is ’n variant van Khoi-Khoi. Nama is heelwaarskynlik die enigste vorm van Khoi wat tans in Suid-Afrika gepraat word.

Die Khoi-Khoi se Khoi-Afrikaans en Standaardafrikaans is dig verweef, en sprekers van Khoi-Afrikaans skakel gemaklik van een variëteit oor na die ander. Vir die meeste sprekers van Khoekhoegowab is Standaardafrikaans hulle onderrigtaal. In Standaardafrikaans is al talle ondersoeke na Khoekhoegowab gedoen, waaronder grammatikabeskrywings en woordelyste en woordeboeke. Self sit die nasate van die Khoi-Khoi hulle volksverhaal- en volksliedjietradisie in hulle Khoi-Afrikaans voort. Ook in Engels is al beskrywings van Khoekhoegowab gedoen, al van die einde van die 19de eeu af, asook vertalings van die ryk oorlewerings van |Xam-literatuur, hoewel dit in ’n mindere mate ook in Afrikaans gebeur. In Engels kry mens ’n blik op die inhoud van die vroeë rotskuns.

Hoe waardevol kan dit nie wees om die kollig te laat val op taal- en kultuuraktiwiteite wat in Khoekhoegowab gewortel is nie.

Lees ook:

Beginafrikaans

LitNet Akademies-resensie-essay: Só maak Afrikaans ons

Die taal (Namataal Khoe-khoegowab)

Khoekhoegowab, ti ǂnīsasib

Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920

Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen

Ontronding in Kharkamsafrikaans?

Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis

!Xun Bible translation: an interview with Masenyani Baloyi

Interview: Die Ju / 'hoan Tsumkwe Dialect / Prentewoordeboek vir Kinders / Children’s Picture Dictionary

 

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit is hoogs spekulatief en ook misleidend om te beweer dat Afrikaans 'n halfeeu voor die koms van Van Riebeeck in 1652 bestaan het. Teen 1595 het 'n minimale getal Hollandse skepe die Kaap aangedoen en taalkundige kontak met die Khoi-Khoin was seker tot 'n minimale getal sprekers beperk. Myns insiens sou daar in daardie stadium suiwer taalkundig kwalik van proto-Afrikaans gepraat kon word. Daar is waarskynlik meer beduie as gepraat. Myns insiens is dit politieke byderwetsheid wat die terugdatering van Afrikaans tot 1595 inspireer. Ek vind dit eienaardig dat Van Rensburg nie die onderskeid tussen die taal Khoi en die bevolkingsgroep Khoi-Khoi (enkelvoud) en Khoi-Khoin (meervoud) - 11de AWS 2017, p 371 - eerbiedig nie.

  • Hans Richardt

    Nama, soos in suide van Namibië was dalk verder suid, met variasies.
    Om my punt te beklemtoon, ons het geen tongklap woorde in Afrikaans /Vlaams nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top