Die bewusmakingsveldtog van Nama het in 2000 begin. Ek was aktief deel van hierdie program. Die idee om aktief die Namataal te bevorder, het ontstaan uit ’n raadplegende werkswinkel by Poem se Voetrus in 2000. Die besluit was gedryf deur die liefde vir die Namataal en Namakultuur. Vanuit hierdie raadplegende werkswinkel is daar baie projekte uiteengesit wat binne vyf jaar moet realiseer, onder andere die besluit om navorsing te doen in die Khoen- en Santale en om Namaklasse aan te bied vir diegene wat belangstel om dié pragtige, erfenisryke taal aan te leer.
Die finale navorsingsverslag is op 15 Maart 2005 ingedien, inleiding deur Pedro Dausab, wat die taalaspek van die Namataal gedek het en W Brink wat die geskiedkundige omslag gedek het. Terselfdertyd het ek Namaklasse aangebied. Die klasse het vier modules (wat ek self geskryf het) ingesluit wat ek later saamgevat het in Inleiding tot die Namataal (boekie en CD). Die hoogtepunt van hierdie bewusmakingsveldtog was ’n sertifikaatseremonie wat in Plettenbergbaai gehou is waarby die boekies en CD’s uitgedeel is.
Die volgende hoogtepunt was nadat ek Nama-koorlesse aangebied het, die eerste Nama-massakoor in die wêreld – ’n glansgeleentheid waarby sewe verskillende kore opgetree het.
Nama herleef: ’n Namataal-koorfees is op 1ste September 2005 op Plettenbergbaai gehou. Dit was die eerste fees van sy soort en die hoogstepunt van ’n sowat sewe jaar lange projek om die Khoen- en Santaal, spesifiek die Namataal in die Wes-Kaap te laat herleef.
Die navrae vir Namaklasse en -koorlesse het nie staande gebly nie en moes ek meer klasse en koorlesse aanbied. Die Nama-koorlesse was aangebied in Crags, Franschhoek, Eksteenfontein, Hawston, Vredendal, Oudtshoorn, Plettenbergbaai, Grootbrakrivier, Mitchell’s Plain, Elsiesrivier en Kuilsrivier.
’n Volgende mylpaal wat die Namabewustheidsprojek bereik het, was met die hersiene weergawe van die Namaboekie en CD wat ek in Maart 2010 bekendgestel het. Hierdie boekie en CD is ’n goudmyn van inligting wat mense in staat stel om self die Namataal aan te leer. “AitsamaNamagowaba ||kh?|kh?sen” – “Leer jouself Nama.”
Die stand van die taal het in 2011 ’n geweldige knou gekry. Projekte wat in veral Oktober 2010 beplan en belê is, kon nie van die grond af kom nie. Die redigering van die Namagowab en Afrikaanse woordeboek, wat 75% voltooid was, deur my, mej Matroos en mnr Damara, het nie voortgegaan nie en al die ander projekte is tydelik gestaak. Die grootste rede hiervoor is die skorsing van die UH van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSAT).
In die Wes-Kaap het ons redelik vordering gemaak met projekte: in 2011 het ons byvoorbeeld die eerste Namakalender uitgebring en in 2012 amper dieselfde weergawe, maar een wat heelwat verwerk is en pragtig daar uitsien. Die Namadagboek was ook in die “pyplyn”, maar weens geldelike tekort het dit nie die lig gesien nie. Daar is baie inligting ingewin en dit sal baie beslis die lig sien.
Die stigting van ’n Nama-belangegroep in Kaapstad en George was ’n groot sukses.
Bo en behalwe die vertaling van die trouformulier uit Engels in Nama vir die Vredendalse “fop-huwelik” is daar verskeie vertalings en Namataal-naamgewings gedoen. Daar is selfs dialoog deur die Nama-klas-leerders geskryf.
Met die Wêreldbeker in 2010 is die Namataal ook goed adverteer. Onder andere pryk ’n Namaspreekwoord op die Vryheidspark-mure en ’n afdeling van Vryheidspark se geboue het ook ’n Nama-naam: ||HAPOS, en op die muur aan die verwelkomingsarea pryk die volgende woorde: “||HAPOS GE ||HAPO DAMAHâ HOARAGA |HAOHâS DIS DAMAS GA I-HO” – “Dream is not a dream unless it is shared by the entire nation.”
Met die tolking in die Richtersveld-grondeise in !Gubus en dan in die hooggeregshof in Kaapstad het ek agtergekom dat ongeveer 90% van die Nama-grootmense Namasprekend is en gevolglik praat hul kleinkinders goed die Namataal, veral dié wat nie na die bewaarskool (kleuterskool) toe gaan nie.
Die skooltjie in Eksteenfontein het Namagowab as ’n vak en word dit deur iemand uit Namibië aangebied. En in die skool in Steinkopf is daar ook Namaklasse. Die probleem daar is dat die skool nie die rooster wil aanpas om die Namataal in die gewone skooldag aan te bied nie, maar na skool, en dit het die implikasie dat nie al die kinders na skool wil terug kom na ”skool”vir Namaklasse nie.
Die bevolking in Noord-Kaap praat Nama, maar hulle kan nie die taal lees of skryf nie. Wanneer werkswinkels daar gehou word, druk hulle hulself in Namataal uit, dan is die organiseerders genoodsaak om ’n Namatolk te kry.
By die Universiteit van die Vrystaat het ons Namaklasse vir kinders en volwassenes gehad waar die leerkragte uit Namibië aangevra was. Volgens my verstaan en wat mev Bona Matroos my ingelig het, word hulle nie reg besoldig nie, dus word daar nie meer hierdie klasse daar aangebied nie.
Volgens die KSNLB-lid Tony Petersen is die klasse hierdie jaar gestaak tot verdere kennisgewing.
Die taal is verder met die verkiesing van 2011 (18 Mei 2011) op ’n hoër vlak geplaas deurdat die vertaling in die volgende aspekte saam met die ander amptelike tale op die pale en ander advertensieplekke gepryk het. Ek was verantwoordelik vir die vertaling van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK/IEC):
“!? !KH?MAI ||GÂUS” (Plaaslike verkiesing)
“||HÛIS 2011 DIS” (“Verkiesing van 2011)”
“TAESA ||HÛIS ||GUI ‡AMSA?” (“Wat is die verpligting van die verkiesing?”)
“ISIB” (“Beeld na buite”)
“S·ÛIS” (“Uitstuur”) ... ens.
Akademici sê die belangstelling wat individue in Nama toon, is noemenswaardig. Hier wil ek net ’n paar noem. Aan die Universiteit Stellenbosch is daar in die sestigerjare kinderstories-opnames gemaak wat ek moes vertaal en aan dr Van der Merwe moes voorlê. Die opnames in die Namataal moet ek nog doen. Elias Nel het heelwat tekste vir sy BA-honneursgraad nodig gehad. Dr Petrus J Booys se boek Nabot se Grond, ’n Interpretasie van 1 Konings 21 deur die Khoe-Khoen as bydrae tot die gronddebat in ons land, ens, is gebruik.
Daar was ’n koerantjie wat tot onlangs toe artikels in Namataal geskryf het. Hierdie koerant was die Eland genoem en die laaste uitgawe wat ek ontvang het, was 13 Desember 2010. Die volgende artikels het in hierdie koerant verskyn: “Toekoms Goed vir Nama-taal Veldtog”; “Nama-taal raak woelig”; “Khoe-khoen moet aanhou veg vir erkenning”; “Klasse van Nama-taal ongelooflik gewild”.
Na aanleiding van wat ek hier bo geskryf het, is dit glashelder wat in Suid-Afrika met Namataal aangaan. Ek sal nog wil betrokke wees om my moedertaal (Namataal) in die toekoms te bevorder.
Kommentaar
Nama is 'n pragtige taal.Ek het dit in Namibië gehoor. Moenie ophou veg vir jou taal nie.
Perdebytjie
Dankie. Die uitdagings is soms net so baie ...
Wou nog altyd graag Nama aanleer en was al bitter spyt dat ek nie meer aan die saak gedoen het nie. Sal ek die boekie en CD - Leer jouself Nama kan aankoop?
Hoe gaan ek te werk?
Hi. Die boekie en CD was by alle biblioteke beskik baar. In watter provinsie bly jy?
In Atlantis, Kaapstad.
Hi, Mr Dausab
My apologies, I do not speak or read Afrikaans. I have been wanting to learn an indigenous Khoi / San language for a long time, and recently came across your information. I traveled to Ghantsi and Dakar in Botswana in 2014 to research the possibility of learning the "Naro" language spoken there, but was unable to stay long enough to meet with the main teacher there. I am based in Durban, and would like to know if you have a Nama language branch, course or classes here, or if it would be possible to organize classes here?
Peace
Brother Sekhem
No I don't have Nama language branch. I download the basic Nama language from the internet and try to familiarize myself with it. I heard words from my Grandmother and Grandfather and learnt those certain words. That 's about it. Maybe you can contact the following persons. Maybe they can give you some in formation.
Letitia - 072 721 8841/078 126 0808 or Henri - 078 925 2612.
They are the tour guides in Steinkopf, Northen cape. I think some of the Schools there accommodate Nama language.
Kallie
Ek self probeer die Namataal leer. Ek het nou 'n paar vriende wat saam leer.