So kry ons Afrikaans
Christo van Rensburg
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799356601
Koop So kry ons Afrikaans nou by LAPA.
“Nie geweet jy’s een van dááis nie!” sê ’n kennis waar ons mekaar in Wordsworth raakloop.
“Wat bedoel jy, ‘een van daais’?” vra ek, hoewel ek kan raai.
“Jy weet,” lig hy ’n wenkbrou in die rigting van Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans waarvoor ek wag om te betaal, “een van die taalbulle!”
Ek kyk af na die boek in my hand, verby die ooglopende bewyse dat “taalkoei” ten minste biologies meer in die kol sou wees, en antwoord gelate: “Nee, ek’s maar net lief vir Afrikaans.”
Ek is lief vir Afrikaans, maar op die dorp waar ek woon, bely mens hierdie feit selde hardop. Daar is immers min temas, op die onderwerp van kleur na, waarrondom polities korrektes so versigtig trap soos dié van Afrikaans.
Almiskie. Ek ís lief vir Afrikaans, en nie omdat ek terughunker na ’n verlore magsposisie nie: in die hoofsaaklik Engelssprekende stad waar ek gebore is, was daar nooit mag aan Afrikaans gekoppel nie, nie eens tydens hoogapartheid nie. Ook nie omdat ek iets teen Engels het nie: ek is getoë in ’n volkome tweetalige familie waarin die Engelse nefies en niggies so gemaklik na Afrikaans kon oorslaan as wat die Afrikaanses na Engels kon oorskakel.
Vandag gee van hulle voorkeur aan Engels; ander – ook ek – aan Afrikaans. My tong mag beide tale kon praat, maar my kop en my hart het geweet ek is Afrikaans. Van altyd af.
Dis nie vreemd dat kinders wat in ’n tweetalige omgewing grootword, uiteindelik ’n sterker voorkeur aan een van die tale sal gee nie. Wáárom een vir Engels en die ander vir Afrikaans sal kies, is egter minder duidelik. Miskien weens die gewaande persepsie dat die een meer status as die ander het; meer waarskynlik omdat een taal in die keiharde werklikheid van die mark meer ekonomiese voordele as die ander bied.
Maar dalk is daar iets bykomend, iets eiendomlik aan ’n taal self. Iets wat veroorsaak dat sommige sprekers daarvan mag voel dat hulle taal nie net hulle identiteit aandui nie, maar dit ook help vorm en bepaal. Sodat jy eerder Engels as Afrikaans – of Afrikaans as Engels – vóél.1
Dat ’n spesifieke taal wel ’n bepalende invloed op sy verbruiker kan hê, het ek begin vermoed toe ek ’n paar jaar gelede Bahasa Indonesië, die amptelike taal van Indonesië en die Maleis van die ou Kaap, aangeleer het. Vriende en familie wat met geleentheid teenwoordig is, sal dikwels opgemerk het dat ek “heeltemal ’n ander persoonlikheid” word as ek hierdie taal praat.
Hoe word ’n mens ’n ander persoonlikheid bloot deur ’n ander taal te praat? Is dit moontlik dat die verskille tussen tale meer kan wees as slegs die verskillende klanke waarmee dieselfde betekenisse oorgedra word? Kan ’n taal ’n eie karakter hê wat die spreker daarvan subtiel dwing om op ’n spesifieke wyse uitdrukking te gee aan die werklikheid? Anders te kyk na die wêreld? Daardie waardes en wêreldbeskouings te weerspieël waarvan die taal ’n draer is?
Dit was met hierdie vrae in gedagte dat ek So kry ons Afrikaans (SKOA) van die rak gehaal het, ’n boek wat beloof om die geskiedenis van die ontstaan van Afrikaans opnuut na te vors sodat “die volle (gedeelde) geskiedenis van Afrikaans en die mense wat Afrikaans praat, vertel kon word”, sodat “die misverstande oor waar Afrikaans vandaan kom, finaal by(ge)lê” kan word. Kan ons kennis van die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans ons dalk help om iets van die passie te verstaan wat sommige van haar gebruikers vir haar het?
In hierdie resensie wil ek argumenteer dat daar tussen die reëls van hierdie historiese vertelling ’n paar leidrade gevind kan word vir waarom vele voel dat daar iets onvervangbaar is aan Afrikaans.
Nie dat alle Afrikaans-gebruikers só voel nie. Toe ’n skrywer jare gelede op LitNet gevra is of hy in enige ander taal as Afrikaans sou kon skryf, was sy antwoord ’n onomwonde ja. Taal, so het hy geargumenteer, is bloot die instrument waarmee die skrywer sy of haar storie vertel. Sommige kognitiewe wetenskaplikes sal met dié minder romantiese interpretasie van wat die wese van taal is, saamstem. Aan die basis van alle kulturele prosesse, taal inkluis, lê volgens die evolusionêre psigoloog Stephen Pinker byvoorbeeld niks meer verhewe nie as fisiologiese prosesse; instinkte wat die resultaat is van ’n evolusionêr-geslypte genoom. Verre daarvan om ons bo die banale te laat uitstyg, is kultuur – waarvan taal een van die belangrikste produkte is – bloot “a tool for living” (Pinker 2002:66). Taal is alleenlik ’n meganisme vir oorlewing.
Dat wetenskaplikes soos Pinker iets van die waarheid beet het, blyk dan ook inderdaad uit SKOA. Trouens, Van Rensburg verwys dikwels na die feit dat Afrikaans – en veral Khoi-Afrikaans – in ’n stryd om ekonomiese en politieke oorlewing ontstaan het. Van leiers soos Autshumato en Damon tot by latere ontstamde Khoi-enkelinge, onthutste Oosterse en Afrika-slawe en les bes ekonomiese2 en religieuse vlugtelinge uit Europa: “Twee belangrike geboorteplekke van tale, het navorsers al van vroeg af gevind, is markplekke en werkplekke” (19); “Die Khoi-Khoin was beter gemotiveerd as die VOC-personeel om ander tale aan te leer”3 (24); en “Oorlewing is belangriker as identiteit” (69).
Afrikaans, so wys hy uit in sy eerste drie hoofstukke (13–67), is gebore toe uiteenlopende groepe ter wille van politieke en ekonomiese oorlewing aan Nederlands voorkeur begin gee het bo hulle eie tale: “Daar was sprekers van baie moedertale in die vroeë Kaap, maar Nederlands was die toonaangewende taal” (23). Maar dikwels “het net die Nederlandse kerngedeeltes oorleef. Die res is deur die aanleerdersmeule afgemaal. En dan speel die aanleerders se moedertaal ook nog ’n rol in die resultaat” (23).
Dit is ’n belangrike insig dat feitlik almal wat aan Afrikaans gehelp maak het, nie-Nederlandssprekers was. Maar lê die bestaan van Afrikaans as eiesoortige taal slegs daarin dat dit diep beïnvloed is deur die woordeskat en sinskonstruksies van die oorspronklike moedertale wat daarin gevoed het; dat dit deurspek is met wat ons verkeerdelik op skool geleer “leenwoorde” uit ander tale is? Sal Afrikaans óphou bestaan die dag wanneer al hierdie oorspronklike “leenwoorde” in onbruik verval het, soos toenemend aan’t gebeur is?
Dit is ’n vraag wat selde ter sprake kom wanneer daar oor die ontstaan van Afrikaans geskryf of gepraat word en op die oog af wil dit voorkom asof SKOA nie ’n uitsondering is nie. Nietemin gee hierdie boek vir ons die belangrikste leidraad in ’n soeke na ’n antwoord: Afrikaans, so blyk duidelik uit Van Rensburg se teks, is anders as Nederlands, omdat hierdie taal gemaak is op die bodem van Afrika en deur mense vanuit oos, wes, noord en suid.
Wie dus soek na die uniekheid van Afrikaans, moet in gedagte hou dat hierdie nuwe taal gesmee is deur groepe en mense wat nie bloot Nederlands moes aanleer nie, maar in die proses waarskynlik ook hulle on-Nederlandse sienswyses en ervarings in ’n “ander tongval” moes begin verwoord. In die proses, so wil ek argumenteer, het hulle aan ’n Europese taal (Nederlands) nie net ’n paar nuwe woorde en ’n anderste konstruksie gegee nie, maar ook (en waarskynlik veral) ander wêreldbeskouings, ander waardes en ander sintuie.
As voorbeeld kan ons kyk na die belang wat Maleis volgens Van Rensburg via die slawe op hierdie wordende taal gehad het. Dat Maleis Afrikaans beïnvloed het, is nie nuus nie. Die bekende Moslem-sosioloog van die Bo-Kaap, Achmat Davids, het dekades gelede reeds hierdie invloed met sterk bewyse begrond (Davids 1987), ’n invloed wat daarbenewens, volgens Fritz Ponelis,4 Afrikaans via twee kanale bereik het: regstreeks uit die Maleise taal self en onregstreeks via Maleise invloed op Laagportugees, die lingua franca van die meeste slawe aan die Kaap. Die invloed van Maleis was volgens hom daarom baie sterker as dié van die ander slawetale.
Van Rensburg wys egter op ’n verdere rede vir hierdie invloed; ’n rede wat impliseer dat die impak van Maleis op Afrikaans waarskynlik baie dieper sou strek as slegs woordontlening. Besoekers uit die Ooste het volgens hom graag gespog met hulle kennis van dié Oosterse taal (waarskynlik omdat dit, saam met Portugees, een van die belangrike handelstale van destyds se wêreld was5), asook met hulle eksotiese klere (21). Die rede hiervoor is dat die Maleise taal – en daarom die wêreld wat deur hierdie taal verteenwoordig is – ’n uitsonderlike status aan die Kaap gehad het.
Maar wat het hierdie status werklik behels? Wanneer daar van die Oosterse invloed op Afrikaans gepraat word, word daar gewoonlik verwys na woordontlening en grammatiiese veranderinge wat veral Maleis in wordende Afrikaans teweeggebring het; veranderinge, so het ek al self geargumenteer, wat ’n sekere kreatiwiteit aan die jong taal verleen het.6
As ’n paar eksotiese woorde egter die primêre invloed was, dan het Afrikaans vandag bedroewend min oor wat van daardie erfenis kan getuig. Engelse7 woorde soos chutney is besig om baie van die Afrikaans-geërfde Maleisiese woorde in die volksmond te vervang, en wie gebruik nog verouderde woorde soos doepa en katel, al is hulle so pragtig?
Reis egter deur vandag se Java – die Batavia van die ou VOC – en jy sal tot jou verligting agterkom dat ooreenkomste tussen Bahasa Indonesië en Afrikaans van ’n verhouding getuig wat veel dieper lê as die oppervlakkige vel van woorderflating. Daar is die verrassing van letterlik duisende woorde van Nederlandse oorsprong wat hierdie twee tale gemeen het en wat hulle deel maak van net ’n handjievol jong, gestandaardiseerde tale wat volgens Van Rensburg (158) ook die status van universiteitstaal het.8
Baie meer beduidend lê egter die ooreenkomste in taalgebruik wat op ’n gedeelde waardesisteem dui. Neem byvoorbeeld die (in Suid-Afrika toenemend versmaaide) gebruik om in albei tale alle ouer persone (ongeag of hulle familie is of nie, te oom9 en te tannie.10 Of die ongemak om ’n ouer persoon te jy en te jou, sodat Bahasa Indonesië sy ekwivalent het van daardie bekende Afrikaanse rympie wat ongeveer so sou klink: “Ma, sal Ma asseblief Ma se karsleutels in Ma se handsak sit?” Ingebou in die strukture van Bahasa Indonesië – in essensie die Maleis van die Ou Kaap – is ’n hoflikheid en respek teenoor ouer persone wat dikwels in veral Kaapse Afrikaans terug te vind is.11
Maleis se invloed is waarskynlik verder verdiep deur die feit dat dit ook die geloofs- en skooltaal van die slawe was; funksies wat sou veroorsaak het dat die waardes en wêreldbeskouing waarvan hierdie taal die draer was, sterk sou impakteer op diegene wat Afrikaans aan die ou Kaap gepraat het: “Onder die slawe kon Nederlands nie met Maleis meeding om ’n ander geloofstuiste te bied nie” (84). Hierdie invloed is ook nie later deur Engels uitgedaag nie, want die Britse regering het, soos Van Rensburg uitwys, “vanaf 1822 slegs Engels as skooltaal in die Kaap toegelaat. Wat het die Moesliemgeloofskole toe gedoen? Hulle het Afrikaans steeds bly gebruik!“ (85).
So sterk was die posisie van Maleis op hierdie stadium dat Ponelis gereken het dat die sterk Nederlandse inslag van Afrikaans soos ons dit vandag ken, aanvanklik geen uitgemaakte saak was nie. Dit was latere politieke en ekonomiese ontwikkelinge eerder as taalvoorkeur wat aan Nederlands die uiteindelike oorhand gegee het. Teen hierdie tyd, so kan ’n mens egter geredelik aanvaar, het Afrikaans reeds aan ’n eie, unieke wêreldbeeld uitdrukking gegee, sodat ’n mens eweveel van ’n ontlening van woorde uit Nederlands kan praat.
Hoe sterk die invloed van Maleis egter ook al was, is dit aan Khoi (en via Khoi ook San12) dat Afrikaans volgens Van Rensburg die meeste te danke het: singwoorde soos gogga, boegoe, dagga, kwagga, eina, sjoe, hoeka, kambro, kamma, karee, karos, kierie, koedoe, nerina, sa! en sies! kom almal uit Khoisan. Dis van die mooiste woorde in Afrikaans, maar beswaarlik ’n druppel in hierdie taal se emmer vol Nederlands-geërfde woorde.
Soos met Maleis moet ons dus vra: Hoe ver strek die invloed van Khoisan regtig? In sy boek Die Groot Avontuur het Leon Rossouw ons reeds bekend gestel aan die werk van die Suid-Afrikaans-gebore sosiolinguis Nigel Crawhall, volgens wie die tale van die Khoisan die oudste tale ter wêreld is. Volgens Crawhall, so vertel Rossouw, is die kliktale van die Khoisan die tipiese taal van jagterversamelaars: “Die geklik klink soos die geritsel van die gras en stel die wild gerus” (Rossouw 2006:174). Crawhall se teorie word gereeld uitgedaag, maar dat die verhaal van die Khoisan byna so oud soos die mensdom self is, word nietemin deur genetiese studies ondersteun. (Kyk byvoorbeeld Schlebush, Naidoo en Soodyall 2009.)
Wat het hierdie feit vir die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans beteken? As jagter-versamelaars het die Khoisan slegs kon oorleef as gevolg van geslypte sintuie; sintuie wat tot ’n verhoogde vorm van waarneming en beskrywing sou gelei het en wat onwaarskynlik die Europese inkomelinge gekenmerk het.
In SKOA verwys Van Rensburg na die wyse waarop Khoisan-invloed ’n neerslag gevind het in die kreatiewe aard van Afrikaanse plekname (56). Dié invloed lê seer sekerlik dan ook aan die grond van die skatkis van plant-, blom- en voëlname wat ons in Afrikaans het; name wat getuig van uitsonderlike waarneming- en beskrywingsvermoë.
Uit die feite van die geskiedenis wat SKOA aan ons bied, kan ons dus aflei dat die kreatiewe wyse waarop die Khoi hulle wêreld toenemend in Afrikaans moes verwoord, die jong taal waarskynlik met sintuie toegerus het wat dit nie by Nederlands gekry het nie. Hierdie verhoogde sintuiglikheid is vandag veral terug te vind in die buitengewoon beskrywende aard van Namakwa-, Griekwa- en Karoo-Afrikaans – vorme van Afrikaans wat die wêreld op ’n wyse ter tale bring wat uiteindelik ’n invloed het op die sintuie van ook die hoorder van hierdie Afrikaans. Watter Latynse naam vir ’n vaal Namakwalandse struik sal jou oë en vel op dieselfde wyse kan rig om te sien en te voel as die Afrikaanse naam voëltjie-kan-nie-sit-nie?
Is dit dalk die afwesigheid van hierdie verskerpte sintuiglikheid wanneer (sekere) Afrikaanse tekste vertaal word wat daartoe lei dat Erika de Beer, in haar resensie van Carol Campbell se Karretjiemense,13 van mening is dat “’n mens jou skaars (kan) voorstel dat dié mense nie uit die staanspoor sulke raakvat-Afrikaans gepraat het nie”? Wat Afrikaanse skrywers soos Etienne van Heerden instinktief laat voel dat “net Afrikaans die Karoo kan vasvat”? Wat aan die grond lê van die feit dat Louis Leipoldt serebraal feitlik altyd in Engels, maar poëties byna uitsluitlik in Afrikaans geskryf het?
En dit bring my terug na die aanvanklike vraag waarmee ek hierdie resensie begin het: Kan ’n oorsig van die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans ons help om te verstaan wat eie is aan Afrikaans? Is daar iets aan hierdie taal wat die sprekers daarvan se identiteit nie slegs aandui nie, maar dit ook vorm en bepaal?
Groeiende bewyse op die gebied van die neurowetenskappe14 dui daarop dat evolusie by die mens vandag nie meer deur genetiese veranderinge nie, maar grootliks deur die impak van sy eie kultuur gestuur word. Indien dit inderdaad so is, maak ons nie net ons taal nie, maar maak ons taal ook vir ons. Een van die boeiendste bevindinge op die gebied van die neurowetenskappe was byvoorbeeld die ontdekking van die sogenaamde plastisiteit van die brein: veranderinge wat in die neurale bane en sinapse van die brein intree as gevolg van eksterne invloede. Hoewel Pinker (2007:73–102) tereg daarteen waarsku dat hierdie neuroplastisiteit as ’n fisiologiese tabula rasa beskou word, is dit nietemin uit die werk van navorsers soos Chiao (2009) en Li (2003) duidelik dat eksterne faktore soos kultuur, waardes en geloofspraktyke nie bloot op gedragsverskille oor kultuurgrense heen ’n invloed het nie, maar inderdaad die neurobiologiese prosesse in en vorming van die brein self beïnvloed. Die brein is dalk nie ’n tabula rasa nie, maar dit ís wel plasties en pletbaar. Een van die implikasies hiervan is dat die menslike brein nie net beïnvloed word nie, maar ook verander kan word deur hoe ons dink, hoe ons glo en hoe ons optree.
Hierdie sogenaamde plastiese aard van die brein vereis volgens sommige neurowetenskaplikes, soos Ramachandran (2011), Seligman en Kirmayer (2008), Chiao en Blizinsky (2009), en psigiaters soos Wexler (2008) dat die impak wat waardes en kultuur op breinontwikkeling het, baie sterker in verrekening gebring moet word as wat aanvanklik deur die kognitiewe wetenskappe aangeneem is. Trouens, hoewel Ramachandran aanvaar dat die mens “anatomically, neurologically, genetically, physiologically” ’n aap is (2011:3), maak hy ’n sterk saak daarvoor uit dat die snelle inflasie ongeveer 150 000 jaar gelede van sekere kern-breinstrukture en -breinfunksies – wat die voorvereiste was vir die ontwikkeling van taal, kuns, religie en selfbewussyn –verstaanbaar is slegs indien ’n mens aanvaar dat dit nie deur genetiese verandering nie, maar deur kulturele ontwikkeling teweeg gebring is (2011:13). En sonder enige twyfel is taal die belangrikste uitdrukking en draer van die mens se denke en kultuur.15
Saam met die ontdekking van sy plastisiteit, het die ontdekking gekom van die sogenaamde spieëlneurone in die premotor- en pariëtale kortekse van die brein (kyk Rizzolati en Craighero 2004). Selle in hierdie deel van die brein raak nie aktief net wanneer ’n individu sélf by ’n aksie betrokke is nie, maar ook wanneer hy toekyk hoe ’n ander aksies uitvoer (of sien hoe aksies teen hulle uitgevoer word16). Ramachandran noem hulle daarom die Gandhi-neurone, “because they blur the boundary between self and others – not metaphorically, but quite literally, since the neuron can’t tell the difference” (2011:124). Soos ook vir Iacoboni (2009), lê spieëlneurone volgens hom daarom aan die basis van ons menslike vermoë om van ander te leer en met ander te empatiseer.17
Wat het dit met die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans te maak?
Neurowetenskaplikes soos Ramachandran vermoed dat spieëlneurone ’n deurslaggewende rol speel by die aanleer van taal. Aangesien hierdie neurone ook ’n deurslaggewende rol speel in hoe empatie gegenereer word, is daar waarskynlik ’n konkrete verhouding tussen taal en waardes; taal en wêreldbeeld.18 Taal mag dalk die produk wees van die mens as kultuurskeppende wese, maar in ’n interessante terugvoeraksie tussen taal en brein raak ons ewe veel produk van die taal wat ons praat.
Maak ons taal ons dus anders? In SKOA maak Van Rensburg se vertelling dit duidelik dat ons taal oor ander ruimtes en ander ervarings praat as Nederlands. Afrikaans se mense sien en hoor en ruik die wêreld anders as wat Nederlands se mense dit doen. Deur die rol wat groepe soos die Khoi en die Maleiers in Afrikaans se wording gespeel het, is Afrikaans waarskynlik ook draer van ander waardes en wêreldbelewenisse as wat Nederlands is. Afrikaans het ander stories om te vertel en het ’n ander wêreld wat vertel moet word. Is ’n ander taal as Afrikaans ewe veel, in die woorde van NP Van Wyk Louw, “in staat ... om hierdie nuwe land uit te sê”?
In haar resensie van die boek noem Susanne Harper SKOA ’n lekkerlees-storie. As sy daarmee bedoel dat die taalgebruik daarvan toeganklik is, stem ek saam. Dat dit “storie” eerder as geskiedskrywing is, stem ek ook mee saam. En omdat die storie vertel dat Afrikaans kind is van almal wat haar gemaak het, kan ons aanvaar dat sy uitsonderlike eienskappe in haar diverse gene dra.
Maar as daar goud in ons (taal se) geskiedenis is, wys Van Rensburg met SKOA dat daar ook skadu’s is. Teen die verligte doek van ’n oënskynlik ligte vertelling flikker die skadu’s uit Afrikaans se soms donker verlede, sodat SKOA eerder aan ’n delikate skadu-poppespel19 as aan ’n vermaaklike storie herinner: ’n epiese verhaal vol helde en skurke, vreugdes en tragedies wat oor eeue en oor vastelande strek. Daar is die gierigheid en grypsug van die speseryjagters en latere kolonialiseerders; daar is die vrees en honger wat Europese oorlogsvlugtelinge na ’n nuwe en onsekere toekoms laat gryp het; daar is die verskrikking en verontmensliking van slawerny; daar is die tragiese lot van diegene wat waarskynlik die vroegstes was wat aan taal geboorte gegee het ...
Stadig, pynlik vir dié wat aan haar die lewe moes skenk ... só het ons Afrikaans gekry.
Bibliografie
Chiao, JU en KD Blizinsky. 2009. Culture-gene coevolution of individualism-collectivism and the serotonin transporter gene. Proceedings of the Royal Society B: Biological Sciences. http://rspb.royalsocietypublishing.org/content/277/1681/529.
Davids, A. 1987. Arabic-Afrikaans. A view of the Afrikaans of the Cape Muslims in the nineteenth and early twentieth centuries. South African Journal of Linguistics, 5(1):24-40.
De Waal, FBM. 2009. The age of empathy: Nature’s lessons for a kinder society. New York: Three Rivers Press.
Iacoboni, M. 2009. Imitation, empathy and mirror neurons. Annual Review of Psychology, 60:653–70.
King, BJ. 2007. Evolving God. New York, Londen, Toronto, Sydney, Auckland: Doubleday
Li, S-C. 2003. Biocultural orchestration of developmental plasticity across levels: The interplay of biology and culture in shaping the mind and behavior across the lifespan. Psychological Bulletin, 129:171–94.
Newberg, AB en MR Waldman. 2009. How God changes your brain. Breakthrough findings from a leading Neuroscientist. New York: Ballantine Books.
Pinker, S. 2002. The blank slate. The modern denial of human nature. Londen: Penguin.
Ramachandran, VS. 2011. The tell-tale brain. Unlocking the mystery of human nature. Londen: Windmill Books.
Rizzolatti, G en L Craighero. 2004. The mirror-neuron system. Annual Review of Neuroscience, 27:169–92.
Rossouw, L. 2006. Die groot avontuur. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.
Schlebusch, CM, T Naidoo en H Soodyall. 2009. SNaPshot minisequencing to resolve mitochondrial macro-haplogroups found in Africa. Electrophoresis, 30(21):3657–64. http://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/PMC2988483.
Eindnotas
1 Wat hier ter sprake is, is nie die mistiese taalnasionalisme wat in die 19de eeu hoogty gevier het met uitdrukkings soos “die taal is gans die volk” nie, maar iets meer konkreet: die moontlikheid dat iets in die aard van ’n spesifieke taal ’n strukturerende invloed op die persoonlikheid van die spreker daarvan kan hê.
2 Dan Sleigh het met sy boek Eilande (2002) ’n goeie agtergrond geskilder van daardie omstandighede wat Van Rensburg bondig in die volgende sin opgesom het: “Toe die koloniste hier aangekom het, was Nederland in ’n oorlog met Engeland gewikkel wat in daardie lande tot ’n ernstige resessie gelei het. Werk in die Ooste was vir Europeërs van heinde en ver ’n uitkoms” (18).
3 Een van die opvallende kenmerke van Van Rensburg se styl is die subtiele wyse waarop hy na ontgogelende gebeure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verwys. Die sterk kant hiervan is dat dit tot ’n delikate teks lei; die probleem is dat dit dalk ewe veel tot misverstande mag lei. Hy verduidelik byvoorbeeld nie wat hy presies met hierdie stelling bedoel nie. Ek neem maar aan dat hy hier verwys na die waarskynlikheid dat die Khoi meer gemotiveerd was om Nederlands aan te leer omdat hulle politieke en ekonomiese situasie baie swakker was as dié van die Nederlandssprekendes.
4 Alle verwysings na die navorsing van Ponelis – en later ook Rossouw – kom uit ’n artikel wat ek op 14 Augustus 2010 vir die herdenking van die totstandkoming van die GRA vir Die Burger en Beeld By geskryf het.
5 Waarskynlik ook, vermoed ek, omdat Batavia polities en ekonomies baie meer belangrik vir die VOC was as wat ’n verversingspos aan die suidpunt van Afrika was: so was die hooggeregshof byvoorbeeld in Batavia gesetel en ’n Kapenaar wat teen ’n hofbevel wou appelleer, moes na Java reis om dit te kon doen.
6 Hiervan is een die herhaling van woorde, ’n taaleienskap wat ek eers met die lees van SKOA besef het ook in Khoi voorkom: deur ’n woord te herhaal, verkry dit ’n subtiel ander betekenis. In Maleis beteken die woord jalan byvoorbeeld “straat”, terwyl die verdubbeling daarvan, jalan-jalan, beteken “om te slenter”. Dieselfde geld vir die verdubbeling van woorde in Afrikaans, soos sit-sit, gou-gou en nou-nou. Van Rensburg meen dat die feit dat hierdie verdubbeling ook in Maleis voorgekom het, sterk ingewerk het op die sukses waarmee dit in Afrikaans opgeneem is.
7 Hierdie stelling is nie heeltemal korrek nie: chutney is afkomstig van die Sanskrit-woord ca?n? ?(wat “sous” beteken), maar is besig om die woord blatjang wel via die Engelse taal te verdryf.
8 Voorstanders van die mite dat Afrikaans grootliks ’n Nederlandse taal is, wys graag op die feit dat Afrikaans en Nederlands feitlik dieselfde woordeskat het. (Kyk byvoorbeeld Wikipedia by http://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaans: “Afrikaans het uit 17de eeuse Nederlands ontwikkel en meer as 95 persent van sy woordeskat is van Nederlandse oorsprong. 'n Klein aantal woorde is ontleen uit tale soos Maleis, Portugees, Frans, Duits, Engels en ander Afrikatale.”) Sodaniges kan gerus ’n (goeie) woordeboek van Bahasa Indonesië deurblaai: soos Afrikaans, het ook dié taal ná politieke onafhanklikheidswording in 1946 swaar aan Nederlands ontleen ten einde dit in staat te stel om ook as wetenskaps-, politieke en administratiewe taal te funksioneer, ’n feit wat daartoe lei dat die meerderheid woorde in hierdie woordeboek inderdaad van Nederlandse oorsprong is en daarom gemaklik deur ’n Afrikaanssprekende verstaan kan word. Geen Indonesiër sou egter daarom aanneem dat sy of haar taal hoofsaaklik ’n Nederlandse taal is nie.
9 Oom kom van die Maleisiese woord om.
10 Van die Franse woord tante, ’n woord wat in hierdie presiese vorm deur Javane gebruik word.
11 In Kaapse Afrikaans kom ook ’n ander Maleise gebruik voor, naamlik om, wanneer respek ter sprake is, die jy en die jou te vervang met die persoon se naam: “Pieter kan sommer Pieter se vuil koppie vir my gee.”
12 Navorsing op die gebied van die sogenaamde paleolinguistiek is besig om daarop te dui dat ’n noemenswaardige aantal Suid-Afrikaanse plekname ’n oorsprong in die San-tale het. Hierdie name is later na onder meer Afrikaans vertaal. So het die bekende Duiwelspiek in Kaapstad sy naam volgens navorsers nie aan Van Honk en sy pyp te danke nie, maar is dit ’n klanknabootsing van ’n oorspronklike San-woord. Die San-woord vir wind is naamlik duivi. Aanvanklik was Duiwelspiek die “Windberg” of “de Wind” gewees, voor die klank van die oorspronklike San-woord vir wind tot “Duiwepiek” en later “Duiwelspiek” vervorm is. Kyk Beeld, 27 Mei 2013, by: http://www.beeld.com/opinie/2013-05-02-oorlewing-van-plekname vir die volledige artikel.
13 Oorspronklik in Engels uitgegee as My children have faces en na Afrikaans vertaal deur Kirby van der Merwe.
14 Ironies genoeg het die ontwikkeling van hierdie wetenskappe veel te danke aan daardie teorie wat as die mees bedreigende vir die eiendomlikheid van die menslike kultuur beskou is, naamlik die evolusieteorie. Die insig dat nie net die mens se liggaam nie, maar ook sy kultuur ingebed is in ’n fisieke wêreld van organe, gene en evolusie, het ingrypende implikasies teweeg gebring vir hoe daar tradisioneel gedink is oor die mens en sy kultuurprodukte, soos taal, religie en kuns.
15 Dit ontken allermins die belang van musiek en kuns, maar resensies en interpretasies sorg daarvoor dat hierdie vorme van kultuuruitinge vandag selde “woordloos” is.
16 Dit is waarskynlik waarom stories – hetsy verbaal, hetsy visueel – so ’n kragtige impak op mense kan hê. Indien Ramachandran reg is, beleef ons ander se ervarings letterlik aan ons eie lyf wanneer ons hulle storie hoor/sien.
17 Hoewel dit in die mens waarskynlik ’n vlak van sofistikasie bereik het wat ons van die ander ape (en soogdiere) onderskei, is ’n empatiese reaksie op die lot van die ander nie uniek aan die mens nie. Die bevindinge van primatoloë soos De Waal (2009) en King (2007) dui daarop dat empatie – ook vir wesens buite die eie groep en spesie – ook by die groot ape voorkom. Om empatie teenoor die “ander” te betoon, word selfs by ander soogdier-spesies opgemerk. In 2010 is daar byvoorbeeld ’n video-opname in die Serengeti gemaak van ’n seekoei wat eers ’n sebra-vulletjie en toe ’n wildebees-kalfie uit die Mara-rivier gered het. Wat wel uniek aan die mens is, is dat hy oor eeue heen empatie met taal geformaliseer en gewettig het en so beskerm het teen die waarskynlik sterker emosie van “oorlewing van die sterkste”.
18 Die konsep van liefde vorm byvoorbeeld ’n neksus in baie van die woorde en begrippe in Bahasa Indonesië. Die woord kasih (“liefde”) word byvoorbeeld gebruik wanneer vir iets gevra word. Die bekende Hans den Besten se vertaling jare gelede tydens ’n praatjie op Stellenbosch van “kasih pisau” as “gee mes” is dus korrek, maar niks aan dié kortaf vertaling gee iets weer van die betekenis waarmee gee gevul word deurdat die konsep van liefde daarin vervat word nie. Die woord sayang (wat eweneens “liefde” beteken) word byvoorbeeld gebruik wanneer iemand jammer gekry word: “Sayang orang itu!” kan vertaal word met “Die arme mens!” Maar in wese sê die Indonesiese uitdrukking meer as die Afrikaanse vertaling: “Wees lief vir daardie mens, al is hy bejammerenswaardig.” Die trots en selfrespek waarmee selfs die armste van arm Indonesiërs die wêreld in die oë kyk, hang dus waarskynlik in ’n groot mate saam met die menswaardigheid opgesluit in die waardes opgesluit in die taalbetekenis.
19 Wie al die gewilde eiland Bali besoek het, het waarskynlik reeds ’n Wayang Kulit-opvoering gesien: Met ’n lig agter hom gebruik die dalang – die poppemeester – die skadu’s van sy poppe en die klank van die gamelan – die perkussie-orkes – om epiese verhale te vertel. ’n Ware Wayang Kulit-vertoning duur ure – selfs dae. Die terloopse toeris, aanvanklik betower deur die spel van lig en skadu en die mistieke klanke van die gamelan, raak gewoonlik na ’n uur of twee verveeld en loop. Maar diegene wat die subtiele verwysings en fyn nuanses verstaan, wat weet watter gedeelte van die geskiedenis deur elke skadu verteenwoordig word, sit naglank en kyk na die flikkerbeelde van helde en skurke, gode en duiwels, terwyl die gamelan soms sing en soms huil.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter
Kommentaar
Daar is heelwat van gesaghebbende waarde in hierdie artikel, maar daar is ander aspekte van Van Rensburg se boek wat ook aandag verdien. Ek het hierdie boek reeds op 19 November verlede jaar op SêNet bespreek.
Johannes Comestor
My grootste wens is dat Afrikaans bevry sal word uit haar "isiBhulu"/"seBhuru"-borstrok en erken sal word as 'n volwaardige Afrika-taal, nes die Afro-Engels van miljoene Afrikane, die Afro-Portugees van Angola en Mosambiek en die Afro-Frans van die voormalige Franse kolonies. Indien ons die taalgeskiedenis bo enige superioriteitsgedrewendheid verhef, sal ons besef dat enige Afrika-moedertaal net so Afrikaans soos ander Afrika-tale is. 'n Vasklouery aan Europese fondamente is retrogressief, misleidend en vals.
Kobus Faasen
Dankie vir die artikel. Insiggewend.