Khoekhoegowab in die kollig-gesprek: indrukke van die dag

  • 2
  • Op Saterdag 12 Mei het ’n geskiedkundige gesprek, “Khoekhoegowab in die kollig” (KKG-dialoog), by die Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands plaasgevind. Die gesprek is aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en !AL-OM (!Alom Aboriginal Customary Council). Menán van Heerden het foto’s geneem (Khoekhoegowab in die kollig-gesprek: fotogalery).

  • Lees Christo van Rensburg se artikel oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans hier.

Sprekers en deelnemers lewer kommentaar oor die gesprek:

Glynn Alard

My indruk van Saterdag se vergadering is bo alles positief. Dit was interessant dat niemand ons doel vir saamtrek om ’n taal bevraagteken het nie. Dit was tasbaar dat die aanleer van Khoekhoegowab (oftewel Nama) iets dieps aanraak. ’n Trots, ’n plek in die son, ’n bewys van Afrikaan-wees, inboorling-wees, nes ons mede-inheemse Suid-Afrikaners. Die raadstigting gee been en vleis aan die vele gemeenskapspogings wat hul erfenis en identiteit in hul eie hande neem. Dit blyk dat die grondslagwerk wat tans deur vrywilligers gedoen word, die eintlike krag van die poging is, en wat dit so volhoubaar maak. Al is daar hier en daar effense teenstrydige motiewe, het ons kans hier in Kaapland om etniese, rasse-, politieke en leiersbakleiery van die hand te wys. Die aantrekkingskrag van die taal is groot genoeg om ons doelwit helder te laat skyn en gee ons die woorde om brûe mee te bou tussen ons gemeenskappe. Die sentrale gereg van taal maak dit moontlik om baie potte om een vuur gaar te maak.

Catherine Arendse

Soms sien mens nie die harde werk en toewyding wat mense doen om jou kultuur en taal te bevorder nie, maar die eindproduk van hierdie gesprek is baie goed, want daardeur sal talle mense se lewens geraak sal word. Ek is bly dat !AL-OM en die Afrikaanse Taalraad betrokke is by die projek. Wat die samewerkingsooreenkoms betref, sal ons bande versterk in Afrikaans, ons oorlewingstaal en Khoekhoegowab, ons oeroue taal.

Al wat ek sê, is dankie vir die groot stap in die regte rigting.

John Cornelius Witbooi

Namagowaba is een van Suid-Afrika se oudste tale. Weens apartheid en ander historiese faktore kon die taal nie gepraat word nie, nog minder beskerm of bevorder word. Baie Khoin-Khointale het reeds uitgesterf. Namagowaba is slegs een van twee Khoin-Khointale wat oorleef het, waarvan Namagowaba by verre die sterkste is. Die meeste Khoin-Khoingemeenskappe assosieer hulle met Namagowab.

Om vir Pedro Dausab by die werksessie te kry as hoofspreker, maar ook as taalkenner, was ’n uitstekende idee. Hy het daarin geslaag om die onderskeid te tref tussen Namagowab en Khoekhoegowab. Dit het alle onduidelikheid uit die weg geruim. Hy het verder gegaan deur te beklemtoon dat die fokus moet val op Namagowaba. Die Khoin-Khoingemeenskappe in Suid-Afrika sal baie gereeld moet bid dat die Here hom moet seën met baie goeie gesondheid en ’n baie lang lewe. Hy is inderdaad ’n groot bate vir die Khoin-Khoingemeenskappe.

Ek was ook beïndruk deur die goeie gees waarin die werksessie plaasgevind het, asook die insette wat gelewer is. Die erns en toewyding van die leiers teenwoordig het ook beïndruk.

Die samestelling van ’n voortsettingskomitee het die erns beklemtoon. Om twee vroueleiers, by name Celeste Matthews-Wannenburgh as voorsitter en Jamie-Lee Adendorf as sekretaresse, te kies om die interimstruktuur te lei, is goeie blootstelling vir vroue in leierskap. My beste wense vergesel hulle.

Die samestelling van die interimstruktuur skep ook goeie balans, deurdat dit jeug, vroue, taalaktiviste, taalkundiges en inheemse leiers insluit. Ek kan nie wag dat die Namagowaba Taalraad die lewe sien nie – hoe gouer hoe beter.

Ter afsluiting: die Afrikaanse Taalraad se betrokkenheid waarborg die totstandkoming van die Namagowaba Taalraad. Conrad Steenkamp en Ria Olivier se toewyding en hardwerkendheid het oor die jare ’n onuitwisbare indruk op my gelaat. My boodskap aan hulle is: gaan voort met die goeie.

Jatti Bredekamp

Die erfgoedlike simboliek van die !AL-OM Aboriginal Customary Council STELLEN-WC024-BOSCH se KKG-taaldialoog-inisiatief te SASNEV in Pinelands, in vennootskap met die Afrikaanse Taalraad, was vir my die Saterdagmôre gou duidelik as genooide waarnemer. Uit van die gespreksgenote se spraaksamigheid kon mens vinnig aflei dat passievolles daar bymekaargebring is om te praat oor ’n Khoekhoegowab-taalinisiatief ter bevordering van die herlewing van ’n gemarginaliseerde Wes-Kaapse inheemse Afrikataal waarvan min Suid-Afrikaners dusver kennis geneem het. 

Die dialoog die oggend het gou ’n verwarrende onsekerheid onder die oorwegende Afrikaanssprekers laat blyk: of Khoekhoegowab nie net ’n nuwe modenaam vir die minder onbekende Nama-taal is nie; ’n reeds gemarginaliseerde Afrikataal van hul Khoesan-voorouers van veral die ou Namakwaland. Dit is ook die taal waarmee sommige aanwesiges die afgelope paar jaar in na-uurse spesiale klasse by die Kasteel de Goede Hoop vertroud geraak het. Danksy die ewe passievolle toespraak van die taalkundige Pedro Dausab as geleentheidspreker is groter duidelikheid in die debat op voetsoolvlak gebring. Derhalwe was dit vir die meeste gaandeweg duidelik dat Nama die benaming is vir ’n eiesoortige inheemse Khoekhoetaal teenoor die meer geleerde term Khoekhoegowab as oorkoepelende benaming vir die familietaalgroep waarvan Nama, Damara en ander deel vorm. Dit het vir my ook die tema van die geleentheid duideliker verklaar: “Khoekhoegowab in die kollig”. In dié opsig het veral die gespreksfasiliteerder, Timo Gonnema van stamhoof Karel King se !AL-OM, en die ATR se skribant van die dag, Conrad Steenkamp, hul besonder goed van hul vennootskaplike taak gekwyt.

Dit was ook onder hul rigtinggewing dat sprekers aansluiting gevind het by verwysings na die besondere simboliese betekenis van die KKG-taaldialoog-byeenkoms in Pinelands. Aansluitend hierby het die ATR-beampte Ria Olivier my in haar afsluiting versoek om kortliks ’n ruimtelik-historiese konteks oor my vroeëre verbintenis met die SASNEV-bymekaarkomplek in die laat 1990's te deel. Sodoende kon ek die gehoor kortliks meedeel dat dit toe bekend was as het Huis der Nederlanden met die aankoop, verbouing en uitbreiding van die kompleks; alles deur die finansiële tussenkoms van die Willem de Zwijgers-stichting in Nederland. Die aanvanklike doel en oogmerk was om ’n “kultureel-opvoedkundige sentrum [daar] te vestig en in stand te hou vir die bevordering van die Nederlandse taal en die Nederlandse-Vlaamse kultuur in samehangende kulturele wetenschaplike uitinge”. Binne die verstandhouding is dit gratis beskikbaar gestel vir gebruik deur die Stichting Huis der Nederlanden, synde die medeoprigters van die Huis der Nederlanden. Kenmerkend van die destydse vennootskap is steeds, ook selfs meer onder SASNEV, die bedryf van die omvangryke Sentrumbiblioteek en ’n uitreik na gemarginaliseerde Afrikaanstaliges in die nuwe Suid-Afrika. ’n Gepaste ruimte vir die historiese eerste gesprek waartydens die Khoekhoegowabtale in die kollig geplaas is.

Willa Boezak

Ek dink die beginpoging om al die klein en groter Wes-Kaapse Khoigroepe wat die Namataal wil leer praat, onder een sambreel te bring, is lofwaardig. 

Celeste Matthews-Wannenburgh

Voorsitter: Voortsettingskomitee

Ons beskeie vergadering onder begeleiding van Ria Olivier en Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad was emblematies van die belangrikheid van die pleeg van ons nasie se Nama-erfenis en die geskiedenis van ons historiese erfenis. Onder gesprek was die geskiedenis van ons Khoi-voorvaders wat tussen die Kaap en die groot expanses van die Namib- en Kalahariwoestyn getrek het. Asook die herstel van die kulturele waardigheid vir die “kleurling”-gemeenskappe, en veral ons jeug, en die restitusie van hul voorvaderlike fabels, tradisies en tale. Dit is fundamenteel as ons ooit gesien gaan word as gelyke akteurs in ’n groter Afrikaanse verhaal, as mense met ’n geskiedenis (hul eie geskiedenis). Die byeenkom van verskillende drade van mense van die “gekleurde” familieboom herinner my wat die plig is van unearthing en die beskerming van die fragmente waar ons Nama-erfenis val vir ons “kleurlinge” wat in die hede staan: word hulle kinders van die ernstige Griekwa, die vetdruk-Koranna-ruiters, of die kus- Goringhaikona. Ons kinders moet hul deel in Suid-Afrika se storie leer ken en verstaan in ons verhale – beide antiek en modern.

Pedro Dausab

Almal teenwoordig het gretig bydraes gelewer. Elkeen wat iets gesê het, was opgewonde met ’n gees wat iets gesê het soos: “Sal iets regtig met ons taal gebeur?”

Veral die Stellenboschgroep het selfs met hul lyftaal laat blyk dat hulle baie ingenome is met die idee dat die Khoekhoetaal hervat sal word. Eers met die kleintjies en daarna in die skole. Is dit miskien omdat hulle reeds op ’n informele basis by die Universiteit Stellenbosch tweeweekliks met elementêre klasse begin het?

Die idee van ’n kleiner werkgroep wat binnekort gaan ontmoet om die voorstelle te bespreek en te konkretiseer, is ’n goeie verwikkeling. Ek sien daarna uit.

Lees ook:

Die taal (Namataal Khoe-khoegowab)

Khoekhoegowab, ti ǂnīsasib

Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920

Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen

Ontronding in Kharkamsafrikaans?

Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis

 


Khoekhoegowab in die kollig-gesprek: fotogalery

Timo Gonnema (!Alom Aboriginal Customary Council)

Karel King (!Alom Aboriginal Customary Council)

Conrad Steenkamp (uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad)

Willa Boezak

Pedro Dausab (Khoekhoegowab-kundige)

Denver Breda

John Cornelius Witbooi

Hendrik Theys (die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad)

  • Foto's: Menán van Heerden
  • 2

Kommentaar

  • Truida Prekel

    Dankie vir so 'n interessante oorsig van die belangrike byeenkoms. Pedro Dausab was taaladviseur vir Renata Coetzee met haar boeke Koekemakranka en A FEAST FROM NATURE wat pas herdruk is. Weer eens, dank aan hom. In hierdie boeke oor voedselkultuur en tradisies van vroeë mense en van die Khoi-Khoin het sy waar moontlik die Khoi name van plante, diere en tradisies gegee.

  • Johannes Comestor

    Die enigste wanklank in hierdie berig is Witbooi se bewering dat Nama onder meer weens apartheid nie gepraat kon word nie. Tydens apartheid is baie groter erkenning aan kulturele (insluitende taal-) verskeidenheid as tans gegee. Tans word Afrikaans van owerheidsweë sover moontlik gemarginaliseer maar dit volg nie dat Afrikaans "nie gepraat kon word nie."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top