Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen

  • 1

Volgens Michael le Cordeur is Namakwalandse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans albei uitvloeisels van Oranjerivierafrikaans, en in ’n LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, “Ontronding in Kharkamsafrikaans?” (2011), fokus Daan Wissing op Kharkamsafrikaans, ’n Namakwalandse variëteit van Afrikaans.

Menán van Heerden het met Anzil Kulsen gesels om meer oor Oranjerivierafrikaans en sy subvariëteite uit te vind.

Hoe word Oranjerivierafrikaans en sy subvariëteite gedefinieer? Waar en deur wie word hulle gepraat? Wat is die algemene verskil(le) tussen die subvariëteite?

Tydens die onlangse Taalseminaar van die ATR in Paarl is daar bespiegel of die benaming nie eerder Gariep-Afrikaans moet wees nie. Wessel Pienaar het ook in die Nuusbrief van die SA Akademie (2015) Gariep-Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Nama-Afrikaans en Afrikaans van die karretjiemense as variëteite van Standaardafrikaans genoem.

Gariep-Afrikaans sou ’n gawe vervanging wees van die term Oranjerivierafrikaans, wat volgens Nieuwoudt (1990) na die volgende variëteite verwys:

Griekwa-Afrikaans
Blanke-Oranjerivier-Afrikaans
Rehoboth-Afrikaans
Richtersveld-Afrikaans
Suide van Namibië-Afrikaans
Botswana-Afrikaans.

Oranjerivierafrikaans word op voetsoolvlak veel eerder gedefinieer deur die verskillende sosiolekte en maatskaplike agtergrond van verskeie sprekers. Dis bykans onmoontlik om ’n demografiese groep sprekers aan enkele kenmerke in die variasie wat hul gebruik te koppel.

In die Noord-Kaap alleen word in verskeie streke verskillende uitdrukkings gebruik wat uniek is aan die verskeidenheid sosiale klasse en wat byna daagliks ontwikkel en verander. In Namakwaland is daar sekere nuanses en woordkeuses wat vir inwoners van ander streke vreemd klink.

Ontronding van vokale, waarna Wissing (2011) verwys, is ’n kenmerk wat in verskeie demografiese gebiede voorkom, maar ook nie alle Oranjeriviersprekers ontrond vokale nie. Soortgelyk aan Kaaps is vokaalverhoging ook in Oranjerivierafrikaans teenwoordig en is woorde soos nogals, partykeers, onse en so meer woorde wat algemeen voorkom.

Kry hierdie variëteit en sy subvariëteite genoeg blootstelling in akademiese navorsing en in die media? Watter navorsing is al gedoen, en wat is die moontlikhede vir nuwe navorsing?

In Junie 2016 het Frank Hendricks (UWK) tydens ’n ATKV-taalerfenissimposium in Muldersdrift ’n referaat gelewer waarin hy na die verskillende variëteite van Afrikaans se bestaansreg ondersoek ingestel het en het hy onder andere verwys na die uitdrukkings en inhoud in Namakwalandse verhale (2013).

In die media en letterkunde is daar ongelukkig nog te min gedoen om dieselfde soort erkenning aan die subvariëteite van Oranjerivierafrikaans te gee as byvoorbeeld aan Kaaps.  

Skrywers soos Hetta Hager, Thomas Deacon en vele ander wat tekste met die korrekte fonetiese spelling van die variëteit geskryf het, moes later op selfpublikasie steun, omdat daar nie genoeg belangstelling van uitgewers in hierdie soort tekste blyk te wees nie.

Televisieprogramme soos Die Manakwalanners en Riemvasmaak ly gebreke om die essensie van  die inwoners se manier van doen en praat weer te gee. Die gebruik van gesoute, bekende akteurs en akteurs van kleur waarborg nie die akkurate uitspraak en nuanses van die variëteit nie.

Die invloed van Nama en ander Khoitale op die variëteit van Afrikaans wat langs die Oranjerivier gebesig word, is besig om af te neem namate sprekers sosiaal ontwikkel en neig om meer dikwels Standaardafrikaans te gebruik.

Fiksietekste soos ’n Hart vol sand (LAPA) en Tuisland (Penguin) waarin karakters variante van Oranjerivierafrikaans gebruik wat sterk beïnvloed is deur die N|uu-taal van Khomani San, behoort meer aandag deur akademici te kry.

Hein Willemse (UP) se derdejaarstudente het ’n Hart vol sand as teks bestudeer. ’n Teks soos HemelBesem se God praat Afrikaans (LAPA) bevat ook heelwat uitdrukkings wat in Kaaps en Oranjerivierafrikaans oorvleuel.

Tekste van Thomas Deacon (LAPA en NB) waarin hy veral Griekwa-Afrikaans uitlig, het ook hopeloos te min aandag deur akademici gekry.

Verskaf asseblief ’n lys uitdrukkings, woorde en hul betekenisse wat uniek is aan hierdie variëteit en sy subvariëteite?

Etsê – in plek van “Luister hier” aan die  begin van ’n belangrike stelling
diftig – kombinasie van giftig en deftig, iets wat bewonder word
kwaai/gevaarlik – uitstaande
yster – iemand wat presteer
Kauw (< Cow) – veral in De Aar/Kimberley gebruik as aanspreekvorm van gemeensaamheid
xhoulag – uitspattig lag
xhouboe – terneergedruk wees
ntarra – vertroetel of aanmoedig
kop toe vat – ernstig opneem
nxa – goed/cool/lekker
ou – leen sonder om terug te verwag
gwarra – koggel met ’n byt (oor die betekenis en oorsprong van gwarras het beide Frank Hendricks (UWK) en Maritha Snyman (UP) navorsing gedoen).

Het hierdie variëteit en sy subvariëteite se woordeskat/uitdrukkings oor die tyd heen verander, of het dit betreklik onveranderd gebly?

Die invloed van Engels, ander variëteite soos Kaaps, en die media het vir seker ’n bydrae daartoe gelewer dat die Afrikaans wat in die binneland gebruik word, verander. Tegnologie en sosiale media bring mee dat niemand meer op ’n eiland leef nie en daar is noodwendig ’n integrasie wat plaasvind.

Sosiale ontwikkeling en opvoeding speel ook ’n groot rol. In uitgelese geselskap word eerder die meer aanvaarbare vorm van Afrikaans aangewend, al beteken dit ook om jou taalvariëteit vir ’n ander te verruil net om sosiaal aanvaarbaar te wees.

Daar is ongelukkig die persepsie onder jeugdiges dat dit in orde is, of behoort te wees, om swak spelling te verdoesel deur taalvariëteit as skryftaal te gebruik. Goeie spelvaardighede en die gebruik van ’n woordeboek behoort te alle tye op skoolvlak aangemoedig te word.

Is daar moontlikhede vir verskrifteliking van hierdie variëteit en sy subvariëteite? Is daar aanvraag daarvoor? Wat is jul algemene mening oor verskrifteliking van variëteite en subvariëteite?

In die letterkunde is daar vir seker ruimte vir die verskrifteliking van hierdie variëteite. Die lewering van tekste in ’n taalvariëteit waarmee die sprekers van daardie variëteit kan identifiseer, dra by tot ’n gevoel van eiewaarde en taaltrots. Die gebruik van Standaardafrikaans in die teksgedeelte en gebruik van dialek in dialooggedeeltes kan mekaar goed afwissel en sodoende ’n teks leesbaar maak vir alle Afrikaanssprekendes.

Op akademiese vlak kan die verskrifteliking van hierdie variëteite en hul standaardbetekenisse opvoeders met beter kommunikasievaardighede toerus.

Dit sal gaaf wees as Christo van Rensburg se navorsing oor die herkoms van woorde soos ou, nxa en vele ander, wat tans deur die skoolstelsel as bloot “grammataal” beskou word, aan die groot klok gehang word, sodat mense dit met meer gemak aanvaar as woorde van Khoi-afkoms en dienooreenkomstig gebruik.

  • 1

Kommentaar

  • Louise Erasmus

    Ek is so verras met die inligting oor Oranjerivierafrikaans en die verskillende dialekte! Mens gebruik van die woorde soos: "Jy is 'n yster!" maar weet nie dat jy inderwaarheid Oranjerivierafrikaans gebruik het nie. Baie dankie vir die inligting.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top