-------------------------------------
“Genadendal het ’n dinamiese bydrae tot die ontstaan van Afrikaans gelewer” – Samuel Baatjes
-------------------------------------
Op Saterdag 26 Mei is Internasionale Museumdag in die Overbergse dorp Genadendal gevier.
Museumdag by Genadendal is aangebied deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in samewerking met Genadendal Sendingmuseum.
Die vroeë-Afrikaanse publikasies De Bode van Genadendal (eerste uitgawe 1859), Benigna van Groenekloof of Mamre (1873) en Die Afrikaanse Patriot (1876) was die fokus van die gesprek.
Genadendal, ’n historiese sendingdorp, is ongeveer 7 km van die skilderagtige Overbergse dorp Greyton geleë.
Samuel Baatjes beskryf Genadendal as ’n gemeenskap, ’n klein dorpie met ’n ryk geskiedenis: “Die Genadendalse drukkery het ’n dinamiese bydrae gelewer tot die taal wat ek praat.”
Die Genadendalse drukpers het Genadendal se spreektaal gedruk, reeds in die vroeë 19de eeu.
Kitsfeite oor Genadendal:
- Volgens Isaac Balie is Genadendal (vroeër Baviaanskloof genoem) die oudste sendingstasie in Suid-Afrika.
- Hierdie Morawiese sendingdorp is in 1738 deur die sendeling Georg Schmidt gestig.
- Volgens Christo van Rensburg is hierdie dorp die oudste in die binnelandse grensgebied.
- Tydens die VOC-tydperk is daar op geen ander plek sendingwerk gedoen nie (Christo van Rensburg).
Danny Titus benadruk die rol wat Genadendal in die Afrikaanse taalgeskiedenis gespeel het:
“Anders as die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 het Genadendal Dutch hom reeds in 1816 van die Hoë Hollands losgemaak en is ook op ’n Gutenberg-model-drukpers gedruk.”
Genadendal “het ’n groot rol gespeel in die vestiging van die gesproke taal tot ’n geskrewe taal, enersyds omdat dit die eerste instelling vir tersiêre onderwys gehad het en andersyds omdat dit een van die eerste drukperse in die Kaap gehad het waar hierdie taal in letter- en boekvorm bevorder en gepubliseer kon word.”
De Bode van Genadendal (eerste uitgawe 1859) en Benigna van Groenekloof of Mamre (1873)
Die opvoedkundige Samuel Baatjes het meer oor die rol van De Bode van Genadendal (1859–1914) en Benigna van Groenekloof of Mamre (1873) vertel.
Hierdie twee publikasies van 1859 en 1873 is jare vóór die koerant van die Genootskap van Regte Afrikaners (gestig in 1875), naamlik Die Afrikaanse Patriot (1876), gedruk. Volgens JC Steyn is Die Patriot gestig “om die Afrikaners te help oortuig dat Afrikaans hul eie taal is”. Die doel was onder andere: “Ons skryf nes ons praat” (JC Steyn, “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare).
De Bode van Genadendal (1859) was dus die eerste Afrikaanse koerant.
Om weer te benadruk: die Genadendalse drukpers het Genadendal se spreektaal gedruk, reeds in die vroeë 19de eeu.
De Bode, gestig deur Benno Marx en gedruk in 1859, was een van die eerste vyf godsdienstige blaaie in Suid-Afrika. Die sendelinge asook die gemeentelede van die gemeenskap was betrokke by De Bode. Dit is vir hul eie gemeenskap uitgegee.
Die laaste uitgawe van De Bode is in Maart 1914 gedruk. Vanaf April 1914 word die nuwe nuusblad, Die Huisvriend, uitgegee.
Die inhoud het ’n hoofartikel, godsdienstige artikels, biografieë van gemeentelede en sendelinge, grepe uit die geskiedenis van sendingstasies (bv Mamre), godsdienstige gedigte en briewe ingesluit.
Die sogenaamde plat taal / vereenvoudigde Nederlands is doelbewus deur briewewisseling in De Bode bevorder. Verskillende briefskrywers het onder skuilname oor plaaslike en algemene wêreldnuusgebeure geskryf. Hierdie briefskrywers “wou doelbewus die taal wat ons praat, promoveer”.
Volgens Isaac Balie was “’n kenmerk van hierdie briefwisseling […] die doelbewuste neiging om in die gewone spreektaal van dié tyd te skryf”. Daar word ook genoem dat mense iets in hulle taal wil lees en skryf, al het ’n persepsie geheers dat die mense hier aan die Kaap nie ’n taal praat nie, aangesien die gesproke taal nie ’n grammatika het nie. Daar word ook kommentaar gelewer oor die taal in die Patriot, en genoem dat daar min hoop is vir die Hollandse taal:
Die eerste drukpers was ’n eenvoudige houtpers (1834). Benno Marx, die vader van die Genadendal-drukkery, het in 1859 met die eerste drukkery begin. Sy visie was om “boeke, traktaatjies, tydskrifte en nuusblaaie, te druk waar mense [van die gemeenskap] met mekaar kon skakel”, en om terselfdertyd geestelike en opvoedkundige ontwikkeling te bevorder.
Die tweede drukpers, die Albion-drukpers, het in 1861 aangekom.
Die Genadendalse drukkery het in 2004 sy deure toegemaak en is as ’n drukkersmuseum ingerig.
Benigna van Groenekloof of Mamre (1873), wat die lewensverhaal van Benigna vertel, is gepubliseer twee jaar voor die eerste Afrikaanse Taalbeweging van die Genootskap van Regte Afrikaners (1875).
“Hierdie boekie was die spreektaal wat in boekvorm neergesit is. Dit is iets wat geskryf is in ons eie taal, vir ons eie mense, om te praat en vry te wees in die taal wat ons vandag praat.”
Die Afrikaanse Patriot (1876)
Christo van Rensburg het meer vertel van Die Afrikaanse Patriot wat, soos reeds genoem, in 1876 deur die Genootskap van Regte Afrikaners uitgegee is.
Van Rensburg het die drie soorte Afrikaans van die omgewing uit hierdie tydperk uitgelig: die eerste Afrikaans was op Khoi gebaseer. Dit is reeds 50 jaar voor Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, begin praat. Die tweede Afrikaans, naamlik Veeboerafrikaans, wat op ’n latere stadium ontwikkel het, se basis bestaan uit baie Europese tale en dialekte wat na Nederlands geneig het. Die derde Afrikaans het tot die Bo-Kaap beperk gebly; hierdie Afrikaans het ’n Oosterse basis.
In hierdie tydperk was Nederlands die skryftaal. Maar die Patriotte wou nie Nederlands skryf nie; hulle wou skryf soos hulle praat, soos reeds genoem. Hulle moes besluit hoe hulle Afrikaans gaan lyk. Hulle wou ook nie Khoi-Afrikaans skryf nie. Hulle het op Veeboerafrikaans besluit. Maar Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans is teen hierdie tyd al reeds vir 100 jaar in hierdie binneland saam gepraat. Die neerhalende reaksie was: maar die Patriotte skryf in Khoi-Afrikaans.
- Foto's: Menán van Heerden
Lees ook op LitNet en Voertaal:
Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans
Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!
Afrikaans: the language of dissent
Bronnelys
Balie, Isaac Henry Theodore. Die 2½ eeu van Genadendal: ’n kultuurhistoriese ondersoek. Magisterverhandeling, Universiteit Stellenbosch, 1986). SUNScholar (http://hdl.handle.net/10019.1/65102).
Carstens, WAM en Michael le Cordeur (reds). Ons kom van vêr: bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Tygervallei: Naledi, 2016.
Steyn, JC. “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal Uitgewers, 2014.
Titus, Danny. Afrikaanse boek van bruin kant ‒ taal en identiteit op die Afrikaanse werf. In Ons kom van vêr: bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans, WAM Carstens en Michael le Cordeur (reds). Tygervallei: Naledi, 2016.
Van den Heever, Randall. Tree na vryheid: ’n studie in alternatiewe Afrikaans. Kasselsvlei: Kaaplandse Professionele Onderwysersunie, 1987.
Van Rensburg, Christo. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Lapa, 2012.
Museumdag by Genadendal: sprekers
- Foto's: Menán van Heerden
Kommentaar
Dankie, dit was ‘n besonder aangename verrassing om die artikel oor Genadendal te lees. Beide uit taalkundige sowel as geloofsoog gesien. Lekker ook om weer my mentor; Christo van Rensburg ná 30 jaar te “sien”!
'n Belangrike bron van inligting oor hierdie onderwerp is: "The Moravian Brethren' Mission Movement and 'Genadendal Dutch'" in Jerzy Koch, A History of South African Literature, Part One: From the 17th to the 19th century, Pretoria: Van Schaik Publishers, 2015, p 241-271.
Beste Menán,
Dankie vir hierdie tekst wat ek pas nou gelees het (bykans op die Moedertaaldag - alhoewel Afrikaans nie my moedertaal is nie, lê dat na aan my hart, tong en oor!).
Ek wil reageer op wat jy oor "Benigna" geskryf het. Jy haal iemand aan wat geskryf of by die Genadendal-geleentheid gesê het:
“Hierdie boekie was die spreektaal wat in boekvorm neergesit is. Dit is iets wat geskryf is in ons eie taal, vir ons eie mense, om te praat en vry te wees in die taal wat ons vandag praat.”
Die probleem is dat baie min mense deesdae die boek lees en dis hoekom die ou foute herhaal word. "Benigna" is in werklikheid in suiwer Nederlands geskryf alhoewel in die dialoë partykeer Kaaps-Hollands (Afrikaans) gebruik word. Die bewering dat die boek "in ons die taal" (bedoeld word Afrikaans) geskryf is, is 'n fout wat ongelukkig dikwels herhaal word. Maar dis wel waar dat hierdie kompilasie van lewensverhale van veral vroulike personasies (trouens, ooreenkomstig die Herrnhutter/Morawiese tradisie) met die oog op die bruin mense op sendingstasies gemaak is.
Dalk lê aan die oorsprong hierdie foutiewe siening die feit dat daar onder die Morawiërs die vertaling (of 'n soort hertaling) van die teks na Afrikaans in omloop was/is; die vertaling dateer glo uit beginjare sewentig van die 20ste eeu. (Ek besit in my biblioteek in Pole beide: die oorspronkelike gedrukte boek en die Afrikaanse-vertaling – met 'n tikmasjien geskrywe – daarvan.)
Ook die opvatting dat "Benigna" deur 'n bruin leraar geskryf is, moet 'n mens weerspreek. Die outeur is HB Marx, 'n Duitse sendeling wat Nederlands en Engels geleer het vóór hy na Suid-Afrika gekom het en aan die Kaap sy taalkennis verbeter het.
Word die kulturele betekenis van "Benigna" daardeur kleiner? Nee! 'n Mens moet net die denke volgens die nasionaliteit en etnisiteit loslaat en kyk met die oog van 'n (taal)kundige na die taalvorme aan die 19de-eeuse Kaap as 'n soort kontinuum wat van Hoog-Hollands tot Kaaps Afrikaans hul uitgestrek het. Ook die aktiwiteite van die oorsese sendelinge en hul betrokkenheid by die onderwys wat aan plaaslike bevolking aangebied is (alles natuurlik volgens destydse maatstawwe), verdien meer lof.
Meer detail oor "Benigna" kan 'n mens lees in my artikel uit 2006 "Hermann Benno Marx (1827-1917) – auteur van 'Benigna van Groenekloof of Mamre' (1873)" wat aanlijn beschikbaar is: http://ifa.amu.edu.pl/werkwinkel/docsed01/1-jerzy%20koch.pdf
En nog meer daaroor – ook oor die Afrikaanse fragmente in "Benigna" – staan in my boek A History of South African Literature. Afrikaans Literature 17th-19th centuries (Van Schaik: Pretoria 2016) in die hoofstuk, 'The Moravian Brethren Mission Movement and Genadendal Dutch' soos Johannes Comestor genoem het: http://www.vanschaiknet.com/book/view/344
https://www.litnet.co.za/skrywersonderhoud-jerzy-koch-gesels-oor-a-history-of-south-african-literature/
Groete,
Jerzy