………
“Hier staan Afrika in die sentrum en gaan die storie eintlik oor hoe Afrikaans wortel geskiet het in Suidelike Afrika.”
………
Titel: Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika. Deel 2
Samestellers: WAM Carstens en Edith Raidt
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306863
“Die vraag is dus: ‘Beoefen ons wetenskap of is dit ’n meer populêre soort besinning oor taal?’” (Raidt, 1988: 50)
“’n Mens kan slegs die verlede en sy mense vir ander laat herleef indien jy jou kan indink hoe dit moes gevoel het om in ’n ander era, in ’n ander konteks, met ’n ander waardestelsel te leef … Dit is belangrik om die andersheid van die verlede te begryp. Dit gee ook daartoe aanleiding dat ’n mens versigtig word om oordele te vel.” (L. Koorts, 2017a in Carstens & Raidt, 2019: 591)
Inleidende opmerkings: storie, biografie, geskiedenis en wetenskap
Edith Raidt en Wannie Carstens is albei gerespekteerde taalkundiges wat heelwat gepubliseer het oor ’n verskeidenheid onderwerpe.
Hierdie onderhawige boek van hulle is deel 2 van die storie (of biografie) van Afrikaans. Hier staan Afrika in die sentrum en gaan die storie eintlik oor hoe Afrikaans wortel geskiet het in Suidelike Afrika. Deel 1 van hierdie omvattende storie het gehandel oor Afrikaans en sy Europese verlede en die klem val daar op “hoe hierdie Nederlandse verlede Afrikaans se eie vorming en verdere ontwikkeling beïnvloed het” (Voorwoord).
Dit is duidelik dat Raidt se eie (gepubliseerde) navorsing sterk neerslag vind in deel 1 en so word ook die verwagting gewek dat Carstens se navorsing en sienings sterker sal figureer in die onderhawige studie. Deurdat die eerste hoofstuk in hierdie tweede deel van Afrikaans se storie begin met hoofstuk 12 word duidelik gemaak dat die twee dele ’n eenheid vorm. Hierdie “Suid-Afrikaans-gerigte” storie word volledig vertel vanaf die “vroeë Suid-Afrikaanse voortyd”, die sewentiende en agtiende eeue met klem op die rol van die Khoi en slawe in die ontwikkeling van ’n nuwe omgangstaal en dan drie hoofstukke wat gewy word aan die negentiende eeu.

Maleise bruid en haar strooimeisies (Foto: Die Verenigde Koninkryk se Nasionale Argiewe [OGL v1.0], via Wikimedia Commons)
Hierdie geskiedenis, met klem op die taalontwikkeling, is nog nooit vertel in soveel besonderhede nie en is daarom uiters waardevol vir die leek asook vir die vakkenner. Daar sou dalk geopper kon word dat die boek soms té wydlopig is en dat so ’n volledige weergawe van die verloop van die Anglo-Boereoorlog nie byvoorbeeld nodig is waar dit eintlik gaan oor ’n taalgeskiedenis nie. Behalwe dat oorvolledigheid verkieslik bo té min gegewens is, illustreer die verloop van die oorlog (die aanvanklike oorwinnings, latere verliese en oorgawes; bittereinders teenoor hensoppers; verraad; lyding in konsentrasiekampe, en derglike meer) ook belangrike verwikkelinge waarvan die uitwerking lank na die oorlog sou duur en voorts die psige van die Afrikaner vir dekades daarna sou bly beïnvloed. Die Afrikaner is deur die oorlog verneder en verarm en dit was aanleiding tot verset teen Engelse imperialisme wat weer Afrikaner-nasionalisme gevoed het. Die laasgenoemde was later verantwoordelik vir ’n (oormatige) klem op selfbeskikking wat die teelaarde vir apartheid en al die vergrype daarvan geskep het.
In volgende hoofstukke word die 20ste eeu onder die loep geneem en word die storie tot en met 2015 vertel. Hoewel die taal die fokus bly, word dit telkens kontekstueel geplaas teen die Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis in die breë. Dit illustreer daarmee oortuigend dat taal nie bloot ’n kommunikasiemiddel is nie, maar ingebed in die politieke en sosiale geskiedenis is; daarom is dit dikwels ’n uitdrukking van nasionale bewussyn. Maatreëls om tale in te perk of wetlik te kniehalter het uiteraard politieke oogmerke, maar is ook ’n middel om taalgroeperings te verneder en te straf. As daar een les is wat hierdie werk leer, is dit dat taal (en bepalings rakende tale) met omsigtigheid en wysheid hanteer behoort te word. Onregte word deur mense gepleeg – dikwels ongelukkig ook gerugsteun deur optredes, uitsprake en selfs bepalings in ’n bepaalde taal. Tog kan ’n taal nie die sondebok van onderdrukkende optrede van sprekers daarvan gemaak word nie. Indien dit die geval was, het Russies, Duits, Afrikaans en veral Engels, lank reeds as tale verdwyn. In hierdie werk word voorts baie ruimte bestee aan “Afrikaans en politiek” in hoofstukke 20 tot en met 23.
………
“Hierdie ‘Suid-Afrikaans-gerigte’ storie word volledig vertel vanaf die ‘vroeë Suid-Afrikaanse voortyd’, die sewentiende en agtiende eeue met klem op die rol van die Khoi en slawe in die ontwikkeling van ’n nuwe omgangstaal…”
………
In hoofstuk 20 word aandag gegee aan die opkoms van Afrikaner-nasionalisme en die gevolge daarvan, soos regeringsoorname, maar ook die instel van beperkende (apartheids-) wetgewing. Afrikaans se plek na 1994 staan sentraal in hoofstuk 21. Hoofstuk 22 is iets van ’n hutspot, omdat dit ’n bestekopname is van Afrikaans (feite, persepsies en versoening). Een van die vrae wat hier prominent figureer, is of versoening tussen wit en bruin (swart) Afrikaanssprekendes moontlik is en indien wel, hoe dit moet geskied? Hoofstuk 23 gaan, onder meer, oor die toekoms van Afrikaans. In hoofstuk 24 gaan dit oor ’n sogenaamde “wyer blik op die geskiedenis van Afrikaans”, ’n blik wat as “regstellend” bestempel sou kon word omdat die marginalisering van bruin mense (en die gevolge daarvan vir Afrikaans) hier behandel word. Hoewel ek uitvoerigheid verkies, is hierdie hoofstuk tog wydlopig en die bespreking van bruin leiersfigure (waarvan baie Engelssprekend is) op verskillende terreine, het nie altyd ’n direkte verband met die storie van Afrikaans nie.
Hierdie boek is ’n geskiedkundige bron wat in die toekoms onontbeerlik gaan raak weens die skat aan inligting wat dit bevat. Ek sal slegs enkele voorbeelde verstrek: die uiters waardevolle inligting (soos op bladsy 213 ten opsigte van koerante) en die tydlyn (277-284). Ook die gedeeltes op bladsye 297-314; 363-368; 375-379; 380-384; 386-390; 448-452; 535-544 (boektitels per onderwerp), is uiters nuttige, samevattende skemas. Ook die verskillende vertalings van die Afrikaanse Bybel (413-416) en die statistiek oor Afrikaans (699-708) en die data (753-760) is waardevolle inligting.
Een van die werklike winste in hierdie boek (die “regstellende” blik op die verlede en die daaruit spruitende klem op versoening tussen alle sprekers van Afrikaans) word enigsins in die wiele gery deur die wyse waarop hierdie standpunt (soms bykans woordeliks) herhaal word. Strategies is dit goed om te herhaal, omdat wit Afrikaanssprekendes (aan wie hierdie versoenende boodskap éintlik gerig word) soms hardhorend is ten opsigte van vergrype in die verlede. Retories-pragmaties werk dit egter aweregs: die leser raak afgestomp en selfs geïrriteerd, soos dikwels tydens ’n preek waar die dominee net nie end kan kry nie. Vanweë die emosionele appèl wat gerig word op wit Afrikaanssprekendes in hoofstuk 22, gerugsteun deur feite in hoofstuk 24, sou drastiese inkorting en samevoeging van dié twee hoofstukke liefs eerder die sluitstuk moes wees.
Op die titelbladsy lees ons: Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika. Deel 2 deur WAM Carstens en EH Raidt. Die titel word op die omslag en skutbladsy ook gegee as Biografie van ’n taal. Deel 2. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika – ’n Biografie van ’n taal. Hieruit kan reeds ’n hele paar afleidings gemaak word: dit is ’n storie, maar dit is ook ’n biografie én Europa en Afrika is belangrike komponente van die storie of biografie. (Ongelukkig kan ook afgelei word dat eenvormigheid in hierdie werk soms in die slag bly. Later meer hieroor).
Voorgaande is nie slegs muggenzifterij of ’n vlieëvangery nie. ’n Storie is ’n narratief met karakters, geplaas in ruimte en tyd; alles saam in ’n kousale handelsverloop. Hierdie beskrywing sou bykans net so ook op ’n biografie van toepassing gemaak kon word. Die groot verskil is egter dat ’n storie die verwagting wek van fiksionaliteit (alle stories is dit wel nie) en karakters, ruimte en handeling. In hierdie storie is die ruimte, Afrika (Europa kom in die eerste deel aan bod); wat die tyd betref, word ’n tydperk van ongeveer 1652 tot 2015 redelik volledig gedek én daar kan sekere hoofkarakters onderskei word: hier is dit die verskillende rassegroeperings met die bruin mense duidelik as die miskendes.
Die biografie weer maak aanspraak op feitelikheid (nie-fiksionaliteit). As sub-genre is dit ook ’n vorm van geskiedskrywing wat op sy beurt al die metodologiese kwessies betrokke by geskiedskrywing na vore haal. Relevant is veral die feit, by so ’n “gekontesteerde” onderwerp soos die biografie van Afrikaans, dat intersubjektiwiteit nagestreef moet word; (absolute) “objektiwiteit”, weet ons al sedert die historiese narrativiste, bestaan ook nie in geskiedskrywing nie.
………
“Klem word veral geplaas op inklusiwiteit (ten aansien van projekte, lidmaatskap van organisasies, en derglike) en op ’n versoenende houding (én op die erkenning van die wit kant van die onregte van die verlede). Die gevolg is dat daar enigsins weggeskram word van kragdadige optrede ten bate van die taal.”
………
Objektiwiteit en intersubjektiwiteit is nie presies dieselfde nie; hulle is egter wel verwant deurdat die laasgenoemde makliker bereikbaar is (De Groot, 1961: 237). Intersubjektiwiteit word verkry deur die aanbied van kontroleerbare/toetsbare gegewens en afleidings (“feite”), ’n diskoers met geykte terme of begrippe, wegstuur van persoonlike en ideosinkratiese opvattings en die vermyding van ongefundeerde aksiomatiese aannames. Waarnemings moet betroubaar (“gegrond”) en sistematies wees. Herhaalbaarheid, toetsbaarheid en vervangbaarheid van die subjek vorm skering en inslag hiervan (Beerling, Kwee, Mooij en Van Peursen, 1974: 15). Dit impliseer ook die noulettende aanduiding van bronne wat onafhanklik geraadpleeg kan word en “getoets” kan word vir die herhaling van dieselfde afleidings. “En die grootste verdienste wat […] ’n teorie sou kon hê, is natuurlik om juis, objektief en waardevry te wees: om dus te klop, korrek te wees en daarmee die waarheid uit te spreek op ’n neutrale en kontroleerbare wyse” (Van Huyssteen, 1987: 20). So ’n absolute standpunt klink vandag agterhaald, veral die redelik argelose wyse waarop “juis”, “objektief” en veral “waarheid” hier gebruik word. Veeleerder moet die ondersoeker bewus wees van sy/haar vooroordele; die onmoontlikheid om volkome objektief te wees en om ’n onomstootlike “waarheid” te vind. ’n Verantwoorde poging om kontroleerbaarheid in te bou is al ’n groot stap. In die beredenering van Ankersmit (2010) is die historikus slegs ’n gids tot die verlede en is sy gekose pad daarheen een van baie moontlike weë, want daar bestaan nie so iets soos “die” waarheid oor die verlede nie; die waarheid is slegs diensbaar aan die reis na die verlede. In die meningsverskille oor enige geskiedenis gaan dit juis oor die verskillende paaie na die verlede. Belangrik is egter dat die gekose pad sekere “feite” as boustene het; die historikus het nie vrye spel nie.
Ook die taal wat gebruik word in ’n bepaalde werk is dikwels ’n aanduiding van die aard van die werk. Wetenskaplike werke hoef nie horingdroog te wees nie; Frits van Oostrom se taalgebruik in sy werke oor die Middeleeue is ’n voorbeeld waar ’n voortreflike vakman se taalgebruik toeganklike tekste skep, vol humor en verwysings na die eietydse (populêre) werklikheid. Desondanks gaan dit ook by hom primêr om beskrywende en ordenende taal. ’n Kenmerk van die taal van die voor-wetenskaplike ervaring is dat dit “veel meer een ‘handelingstaal’ is, dit wil sê dat iemand aangespoor word tot optrede; om ’n bepaalde handeling te verrig” (Beerling, Kwee, Mooij en Van Peursen, 1974: 24). Hoewel dit nie beteken dat wetenskaplike kennis en buite-wetenskaplike ervaring absolute teenpole is nie, is die eersgenoemde afstandeliker, meer besinnend én kontroleerbaarder as die laaste.
Om te praat van ’n digotomie (selfs soms ’n skisofrenie) in hierdie boek, mag dalk lyk na ’n oordrywing. Desondanks is daar onversoenbare standpunte of uitgangspunte aan te dui. Die eerste is dat die boek ’n skipper tussen ’n objektief, wetenskaplike beskrywing van die historiese verlede van Afrikaans en ’n subjektiewe, betrokke en interpretatiewe evaluering van dié historiese verlede van, en uitdagings vir Afrikaans is. Op sig is daarmee niks verkeerd nie, want ook in die letterkunde is literêre geskiedskrywing (en selfs die interpretasie van tekste) dikwels ’n vermenging van die objektief-wetenskaplike werkwyse waar subjek en objek streng geskei is en die hermeneuties-subjektiewe werkwyse waar objek en subjek versmelt.
Hier is die gevolge egter opvallend. Die styl raak progressief betogend; daar word skynbaar geen onderskeid getref tussen bronne ten opsigte van hulle betroubaarheid en wetenskaplikheid nie en aanhalings uit gedeë wetenskaplike studies geniet dan dieselfde status as koerantartikels, briewe in koerante of persoonlike uitlatings. Die betogende aard van die diskoers werk ook herhalings in die hand.
Oor die herkoms van Afrikaans is daar dieselfde digotomie. Lees jy bepaalde gedeeltes klink dit asof Afrikaans gemaak is deur die Khoi, die slawe en die Moslems. Raadpleeg jy egter weer ander gedeeltes raak dit duidelik dat Afrikaans ’n aanleerdersvariëteit van Nederlands was én dat wit sprekers van Afrikaans ’n ewe belangrike rol in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het, veral in die standaardisering en vestiging daarvan as ampstaal. Billikheidshalwe moet vermeld word dat dit moeilik is om by die wording van Afrikaans al die puntjies by paaltjies te kry. Miskien ook deur (vir my) die redelike argelose wyse waarop stellings gemaak word dat Afrikaans reeds ontstaan het voor die koms van Van Riebeeck. Daar is kwalik meer as ’n paar woorde opgeteken; “praat” impliseer ’n volledige diskoers (met sinne) en daarvoor is min of geen bewys nie. Hierdie gebrekkige Nederlands (’n aanleerdersvariëteit) in die geval van die Khoi-Khoin, eweneens “met ’n Afrikaanse klank” kom ook voor in Nederlandse dialekte en in die omgangstaal van matrose en soldate voor Van Riebeeck se landing in die Kaap.
Daar word heelwat opmerkings gemaak oor die herkoms van Afrikaans wat almal as “ontstaansteorieë” bestempel sou kon word:
1. Deel 1 van hierdie omvattende storie het gehandel oor Afrikaans en sy Europese verlede en die klem val daar op “hoe hierdie Nederlandse verlede Afrikaans se eie vorming en verdere ontwikkeling beïnvloed het” (Voorwoord).
2. Volgens MCJ van Rensburg “is hierdie versigtige taalkontak tussen die Khoi-Khoin en die Nederlanders die eerste fase in die geskiedenis van die taal wat later as Afrikaans bekend sou staan.”
3. “[D]aar word ook aangeneem dat die taal wat uit hierdie kontak [van koloniste en slawevrouens] na vore gekom het, reeds ’n voorfase was van Afrikaans” (bladsy 57). “Daar was teen hierdie tyd dus reeds ’n nuwe tussentaal aan die ontwikkel wat via die slawe aan die koloniste oorgedra is” (bladsy 58). Hierdie tussentaal is egter ook gebesig deur soldate, matrose en vryburgers.
4. “Daar word algemeen aanvaar dat die manier waarop die Duitsers en Franse Hollands gepraat het ’n beduidende rol gespeel het in die ontwikkeling van Afrikaans” (71). “Die Franse en Duitsers het wel ’n indirekte invloed op wordende Afrikaans uitgeoefen deur hulle gebrekkige aanleer van Nederlands” (bladsy 104). Op bladsy 215 verskyn daar ’n hele lys Afrikaanse woorde afkomstig van Duits.
5. Teen die middel van die agtiende eeu het veeboere die grense van die nuwe land al hoe meer uitgebrei. “Die taal wat gepraat is, was lank nie meer die Hollandse Nederlands nie, maar eerder ’n aangepaste vorm daarvan op die Suid-Afrikaanse bodem, en daar is na hierdie taalvorm begin verwys as Afrikaans-Hollands” (bladsy 74).
6. “Daar word aangeneem dat die basis van Afrikaans in die Oosgrens vasgelê is hierdie tyd van taalkontak [teen die einde van die agtiende eeu tussen veeboere en Khoi-Khoin],” (94).
7. Op bladsy 113 staan: “Die druk van die verbygaande tyd en die lewe in ’n nuwe samelewing het onvermydelik die taal van die Kaap beïnvloed en mettertyd het hieruit ’n eenvoudiger taal, Kaaps-Hollands of Afrikaans-Hollands, na vore gekom.”
8. “Die taal [Afrikaans] was dus die gesamentlike skepping van Europeërs en nie-Europeërs, van wit en swart, van base en slawe. Die taal is sowel op die platteland as in Kaapstad ontwikkel.” Hierdie siening van Giliomee word as “raak” bestempel, bladsy 114/115.
Op sig het ek waardering vir hierdie genuanseerde siening; egter nie altyd vir die wyse waarop dit uit die verf kom nie. Ook wat betref die wyse waarop Afrikaans “gehandhaaf” moet word of eerder sy funksies beskerm moet word, is daar ’n digotomie. Klem word veral geplaas op inklusiwiteit (ten aansien van projekte, lidmaatskap van organisasies, en derglike) en op ’n versoenende houding (én op die erkenning van die wit kant van die onregte van die verlede). Die gevolg is dat daar enigsins weggeskram word van kragdadige optrede ten bate van die taal. Daar word byvoorbeeld so ver gegaan of beweer dat die hofsaak in die geval van die Hoërskool Overvaal vermy kon gewees het as daar eers met gesprekvoering begin is: “Dit maak ook sin om konfronterende gebeurtenisse soos in Januarie 2018 by die Hoërskool Overvaal te vermy. Koelkoppe moet seëvier en nie heethoofde nie” (808). Op bladsy 829 klink dit totaal anders: “Ook die hanteer van die gebeure aan die Hoërskool Overvaal in Januarie 2018 spreek van verwarring aan regeringskant: aan die een kant sê die betrokke minister dat Afrikaans nie net weggegooi kan word nie […], maar aan die anderkant dring die betrokke LUR aan dat Afrikaans aan die skool uitsluitend is.” Die opmerking onderaan bladsy 829 getuig ook van ’n digotomie: dit is goed en gaaf om versoening te predik en om “verdere konflik te vermy” (829). Die vraag is egter hóé?
………
“In hierdie storie is die ruimte, Afrika (Europa kom in die eerste deel aan bod); wat die tyd betref, word ’n tydperk van ongeveer 1652 tot 2015 redelik volledig gedek én daar kan sekere hoofkarakters onderskei word: hier is dit die verskillende rassegroeperings met die bruin mense duidelik as die miskendes.”
………
Hoewel dit teoreties korrek is om versoening voorop te stel, noodsaak die realiteit soms ’n meer militante optrede. Om ’n inbreker met ’n mes trompop te loop met ’n Bybel onder die een arm en die ander uitgestrek om te groet mag teoreties na die oplossing lyk; in die praktyk is dit selde die geval. In die bogenoemde hofsaak het dit gegaan oor mnr. Lesufi wat by verskeie geleenthede voor en ná die hofsaak (onlangs weer oor Solidariteit se Sol-Tech) blyke gegee het van ’n verskuilde agenda en aggressie teenoor Afrikaans (kyk: Bailey 2018: 9). In so ’n geval is daadwerklike optrede gewens. Só was dit ook gewees by die hele verengelsingsproses aan die Universiteit van die Vrystaat waar die destydse rektor in optrede en publikasies voortdurend laat blyk het dat hy ’n rassistiese agenda het en dat Afrikaans sal moet boet vir onregte van sy sprekers. Kortom: hierdie werk sit op twee stoele.
Op bladsy 842 tot 845 blyk hierdie digotomie die duidelikste. Eers word Webb se standpunt dat Afrikaans ’n Afrikataal is, onderskryf; selfs met ’n aansporing: “Hierdie feit behoort verreken te word in die geskiedskrywing van en oor Afrikaans: dat die taal in Afrika gevorm en hier ’n standaardtaal geword het. Dit behoort daartoe te lei dat Afrikaanssprekendes (in die besonder wit sprekers van Afrikaans) al hoe meer gebonde aan Afrika voel” (843). Net daarna word Raidt aangehaal wat sê dat Afrikaans “nie ’n Afrikataal [is] volgens linguistiese klassifikasie en terminologie nie” (843). Die skrywers vat dit saam op die volgende wyse: “Raidt se antwoord op die vraag ‘Is Afrikaans ’n taal van Afrika?’ is tipies Afrikaans: ‘Ja-Nee!’” (844). Daarom is die “tweeslagtige antwoord” as slotsom: “Afrikaans is ’n taal van beide Europa en van Afrika” (844).
Hierdie storie of biografie is ’n “regstellende” een en daarmee kan geen fout gevind word nie; enige geskiedskrywer kan verwaarloosde aspekte (wat byvoorbeeld voorkom in ander geskiedenisse), (oor)beklemtoon. Wat egter nodig is, is relatiewe objektiwiteit en kontekstualisering. Wat die eersgenoemde betref, is daar ’n opvallende tendens in hierdie werk om weg te stuur van enige kritiek teen bruin mense, die antagoniste en slagoffers in hierdie biografie. Daar is byvoorbeeld in die hele boek nie één woord van kritiek oor die voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat, Jonathan Jansen nie; ook nie een van sy omstrede uitlatings oor Afrikaans nie, ten spyte van ’n oorvloed beskikbare, gepubliseerde materiaal waaruit blyk dat hy ’n afkeer van dié taal, en sy (wit) sprekers het. Daar word ook nie gewys op talle bruin akademici (sommiges bekend as voorstanders van Afrikaans) wat die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch verwelkom het nie. Oor die groot voorkoms van Engelse woorde in Kaaps en die gevolge wat dit inhou vir taalverskuiwing word ook kwalik iets kwytgeraak.
Wat kontekstualisering betref: in die boek is daar fel kritiek op die GRA, omdat hul strewe “nie inklusief [was] nie en hoofsaaklik wit burgers ingesluit” het. (199); “[d]ie nuwe taalbewussyn en taalstrewe was ná 1875 egter amper eksklusief gekoppel aan die wit Afrikaanssprekendes” (200); daar moes “in die negentiende eeu die meer korrekte benadering tot die Afrikaanse gemeenskap, naamlik as ’n inklusiewe gemeenskap” gevolg gewees het (202). Teen dié jaar tydens die stigting van die GRA, was die bruin Afrikaanssprekende intellektuele ’n beperkte aantal (kyk die vroeëre aanhaling oor die bruin elite by die stuk oor Abraham Esau); sosiaal was daar ’n enorme afstand tussen wit en bruin (die vrystelling van slawe was nie eers 40 jaar daarvoor nie) en wit nasionaalgesinde Afrikaanssprekendes se prioriteit was om ’n verenigde front teen Engelse oorheersing te vorm. Dat die GRA-manne bruin mense negeer het, is slegs gedeeltelik waar as in ag geneem word dat hulle hul beywer het vir ’n Afrikaanse Bybelvertaling juis vir dié groep. Om te eis dat mans in die negentiende eeu ras- en gendergelykheid moes nastreef is anachronisties. Dit blyk later dat ander persone wat ook oor die GRA geskryf het meer ag slaan op die “opset van die destydse samelewing” (333), onder andere, Roy Pheiffer en Daniel Hugo.
Dit wil voorkom asof Carstens & Raidt (2019: 202) ook die reikwydte van die stigting van die GRA onderskat. Dit was die direkte oorsaak dat ook skrywers buite die “beperkte” geografiese gebied (soos FW Reitz) gestimuleer is tot die skryf van Afrikaanse verse. Hulle self meld ook die “kettingreaksie” wat hul vroeëre opmerkings eintlik loënstraf. Later (op bladsy 287) stel hulle dit nog sterker: “Die Afrikaanse Taalbeweging wat vanaf 1875 hieruit voortspruit, het toe nie net die eerste doelbewuste strewe geword om net ’n Bybelvertaling aan te pak nie, maar ook om die eie taal so uit te bou dat dit ook die hoër funksies in die samelewing sou kon vervul. Dat hulle dit so [sic!] regkry om binne 50 jaar te vorder van ’n poging tot ’n Afrikaanse Bybelvertaling tot die amptelike erkenning van Afrikaans as taal in die land, was waarskynlik nie deel van hulle drome nie.”
Hulle stelling dat hulle pogings tot taalbevordering gerig was tot “die onopgevoede laer bevolkingsklas” en dat die “intellektuele kringe dit ten sterkste afgekeur het”, verdien ook gekontekstualiseerde nuansering. Steyn (2019: 53 e.v.) skryf uitgebreid oor SJ du Toit se strategieë waaruit blyk dat hy samewerking met ander taalbewustes nagestreef het, doelbewus met intellektueles (soos JH Hofmeyr) saamgewerk het en hulle samewerking verkry het om erkenning vir “Hollands” te kry – waardeur Afrikaans ook bevoordeel is. Hulle taalbevordering sluit, onder meer, die stigting van die Hugenote Gedenkskool in waardeur intellektueles van die toekoms (ASG Visser, DF Malherbe en JDF du Toit, bekend as Totius “gekweek” is. Alle Kaapse intellektueles het ook nie die GRA en hul publikasies “sterk afgekeur” nie. JHH de Waal (redakteur en regsgeleerde) was so ’n persoon. Oor Die Afrikaanse Patriot was sy eerste indrukke aangenaam en selfs inspirerend, “ek het gevoel dat ek te doen het met ’n maklik te verstane, gesellige huisvriend” (Steyn, 2019: 118). Carstens en Raidt (2019: 325) haal JC Kannemeyer (1974: 13) – sonder kommentaar ─ aan waar hy skryf: “In die beginjare van die Genootskap se bestaan was die stryd hoofsaaklik tot ’n klein groepie intellektueles beperk wat in die Paarl woonagtig was.” Later (op bladsy 526) lees ons dat eerw. JW van der Rijst onder die skuilnaam “Oom Willem” ’n spelgids skryf in 1878. Sou hy dan nie kwalifiseer as “intellektueel” nie? Teen hierdie tyd is die leser al verward.
’n Opiniestuk getiteld Met alleen maar feiten redden we het niet (De Standaard dinsdag 10 januari 2017) deur die Vlaamse filosoof, Herman de Dijn, is hier ter sake. De Dijn maak ’n paar belangrike opmerkings wat relevansie het vir die voorafgaande redenasie én bedenkinge ten aansien van die styl van hierdie boek.
Vorige week pleitten José van Dijck en Wim van Saarloos vurig voor het belang van wetenschap en wetenschappelijke vorming voor de democratie (DS 5 januari). Tegelijk klaagden de auteurs politici aan die lak hebben aan feiten en die de integriteit van de journalistiek, de rechtspraak en de wetenschap ondermijnen. Hoe kan iemand niet met hen akkoord gaan? Er is inderdaad een wezenlijk onderscheid tussen een wetenschappelijke bevinding en een mening. […]
Maar om de ernst van onze huidige situatie te beseffen, moet de analyse dieper gaan. Het is interessant dat de auteurs uitdrukkelijk de link leggen tussen het erkennen van ‘gezamenlijke’ feiten en de noodzaak van vertrouwen in instellingen die op zoek zijn naar de waarheid. Maar als dat zo is, dan hebben we een ernstig probleem. Vertrouwen is een attitude die een bijproduct is van een bepaalde manier van leven en samenleven. Hoe nuttig en nodig het ook mag zijn, het is en kan geen middel zijn inzetbaar at will (hetzelfde geldt voor spontaneïteit of creativiteit). Herstel van vertrouwen is een werk van lange adem en kan alleen onrechtstreeks gebeuren, via het herstel van een bepaalde soort relaties met anderen en met instellingen. De vraag is of de omstandigheden daar vandaag überhaupt gunstig voor zijn?
[…]
Literatuur en filosofie
Een ander probleem is het aangekaarte verband tussen feiten en democratisch beleid. Ontkenning van de feiten kan inderdaad geen onderdeel zijn van een goed beleid. Maar dat betekent niet dat erkenning van de feiten op zich voldoende is voor een democratisch beleid. Dergelijk beleid vergt ook waardenkeuzes en die kunnen niet alleen op basis van feiten genomen worden. Klimaatopwarming is één zaak, een andere is beslissen welke maatregelen nodig en rechtvaardig zijn. Wetenschappelijk inzicht en strikt rationeel argumenteren kunnen hier niet volstaan. Dit wijst op een fundamenteel tekort in het pleidooi van de auteurs: alles lijkt af te hangen van feitenkennis en rationaliteit. Maar uit hun observaties blijkt dat het met feiten en wetenschap niet goed kan gaan wanneer het niet ook met andere zaken goed gaat, zoals vertrouwen en dialoog. Vertrouwen is een vooronderstelling van wetenschap, maar is zelf niet louter op feiten gebaseerd; dialoog is niet hetzelfde als argumentatie. Vertrouwen en dialoog veronderstellen de werking van beelding, attitudes en emoties.
Dat betekent niet dat wetenschap en rationele argumentatie niet van belang zijn, maar er zijn ook – vooral – andere elementen nodig die onrechtstreeks het vertrouwen en de dialoog kunnen helpen herstellen. Dat betekent dat we, wat het onderwijs betreft, niet alleen mogen inzetten op meer wetenschap en leren argumenteren, en op allerlei competenties voor een succesvolle carrière. We moeten daar ook (bijvoorbeeld via literatuur, filosofie en cultuur) de verbeelding, het inlevingsvermogen en bepaalde habits of the heart cultiveren. Helaas is dat wel het laatste waar men in deze activistische en hyperpragmatische tijden aandacht voor heeft of belang aan hecht.]
Wat dit beteken in terme van die styl van die boek onder bespreking is dat Carstens & Raidt ook die wetenskaplike diskoers en sy grense dikwels (móét) verlaat en ’n etiese appèl rig tot (wit) Afrikaanse lesers ten aansien van hul houding teenoor bruin Afrikaanssprekendes. Dit behels erkenning van die bydrae van hierdie gemarginaliseerde groepering, óók ten aansien van die ontstaan van Afrikaans en hul bydrae tot sy woordeskat, uitdrukkings, letterkunde en so meer. Maar ook aktiewe boetedoening oor vergrype van die verlede: erkenning én restitusie.
Bladgewyse kommentaar
Een van die grootste komplimente wat aan enige wetenskaplike studie bewys kan word, is om daarmee in gesprek te tree. Die volgende kanttekeninge is dus bedoel as kommentaar of wenke ter verbetering by ’n herdruk (of vertaling) wat na my gevoel iets is wat sal gebeur. Om dit oorsigtelik te hou, word telkens begin met ’n bladsyaanduiding.
Bladsy 25: “Teen die tyd dat die eerste vroeë reisigers die Kaap begin aandoen het, het hulle in wese te doen gekry met stamme wat reeds gevestigde belange gehad het en dit nie wou prysgee nie […] In latere jare (1936) sou die trekkers op die Groot Trek met van hierdie stamme in konflik kom …”. ’n Afleiding is dat die skrywers sê dat swart stamme (oor wie daar ook pas geskryf is in die vorige paragraaf) in die Kaap gewoon het. Dit was egter nie die geval nie as gekyk word na bladsy 53 waar daar net vermelding is van “verskillende Khoi-stamme”.
Bladsy 28: “Elders, soos in St. Helenabaai (waar daar niks was om te verhandel nie) of in Mosambiek, kon in veiliger omstandighede voorraad verkry word. Daar was die handelsomstandighede ook beter en kon groter winste gemaak word”. “Elders” slaan op beide St. Helenabaai en Mosambiek wat die sin onlogies maak.
Bladsy 33: Die leser moet ingelig word waarom seereise van Texel (en nie byvoorbeeld van Amsterdam nie) aangepak is.
Bladsy 35: Die verwysing na die Khoi Autshumato wat Van Riebeeck “kon groet in Nederlands” word nie gestaaf deur ’n argivale bron (soos Van Riebeeck se Daghregister) nie; daar word slegs verwys na Van Rensburg wie se bewyse ook nie gegee word nie. Om soos hy te beweer dat “hierdie versigtige vroeë taalkontak tussen die Khoi-Khoin en die Nederlanders die eerste fase in die geskiedenis [is] van die taal wat later as Afrikaans bekend sou staan” (Cartsens & Raidt, 2019: 35) lyk na ’n weerspreking in die lig van hulle eie vroeëre opmerkings dat Afrikaans se spore in Europa lê. Juis, omdat die outeurs se standpunt meer genuanseerd is, verdien dit herformulering.
Bladsy 36: Om te beweer dat daar in die sewentiende eeu “nog nie ’n gevestigde Hollandse taal in Nederland self [was] nie” is dalk te sterk gestel. Die verskyning van die Statebijbel in 1637 (waar verskeie Brabantse vorme, naas Hollandse woorde in opgeneem word) het die grondslag van so ’n standaardtaal gelê. Die amptenary in die Kaap se taal was in ’n hoë mate gestandaardiseer weens die feit dat hulle redelik homogeen was; meestal afkomstig van Holland.
Bladsy 42: Hier is ’n voorbeeld (soos dikwels verder) van stilistiese kenmerke tipies van ’n handboek met vrae, opmerkings, ensovoorts.
Bladsy 42: “Die ‘Afrikaans’ van 1652 en die wordende Afrikaans van 1800 was dus duidelik nie meer dieselfde nie en dit word deeglik in die literatuur vir ons aangetoon”. Waar en deur wie?
………
“Een van die werklike winste in hierdie boek (die ‘regstellende’ blik op die verlede en die daaruit spruitende klem op versoening tussen alle sprekers van Afrikaans) word enigsins in die wiele gery deur die wyse waarop hierdie standpunt (soms bykans woordeliks) herhaal word.”
………
Bladsy 45: HW Claassens, se werk Die geskiedenis van Boerekos 1652-1806 word in die Bronnelys opgeneem (1065), maar daar word nie verwys na haar uitvoerige bespreking van Van Riebeeck se groente- en kruietuin nie en die Nederlandse kookkuns überhaupt nie. Kyk ook bladsy 60: Hoewel die slawe “Indiese geregte en ander Oosterse spesialiteite aan die Kaap ingeburger laat raak het” (60) het al hierdie geregte reeds in die Nederlandse kookkuns bestaan en het die slawe-eienaars dit aan die slawe geleer (Claassens, 2006).
Bladsy 53: “die Khoi se onbetroubaarheid (vanuit Westerse perspektief)” (53). Dit sou goed wees as die skrywers die Khoi se optrede dan vanuit ’n ander perspektief tipeer om iets van kultuur-relativisme te laat blyk.
Bladsy 53: Autshumato se ontsnapping van Robbeneiland (wat beskou word as ’n veilige bewaarplek/tronk in ’n lekkende boot, verdien ook beskrywing.
Bladsy 54: Carstens & Raidt beskryf hoe die Khoi-gemeenskap verbrokkel het en al hoe meer afhanklik van die kolonie geraak het ten aansien van ekonomiese sake en regspleging. Die stelling op dieselfde bladsy: “Later het die vryburgers daartoe bygedra toe hulle werkgeleenthede vir die arm Khoi-Khoin gebied het en die noodsaak om self vir onderhoud te sorg, begin vervaag het”, is besonder vreemd. Daar kan tog nie bedoel word dat die vryburgers die Khoi-Khoin eerder aan hulle lot moes oorlaat en hulle laat verhonger nie?
Bladsy 57: Hier word ’n besonder genuanseerde beeld gegee: die slawe het van verskillende lande gekom en moes een taal praat, die “Neederduijtsche taal”; Nederlands was dus die omgangstaal en ook die kinders van slawe moes dit aanleer. Dat dit onsuksesvol was impliseer ’n taalsituasie waarin geen perfekte Nederlands deur enige persoon buite die elite gepraat is nie en nuanseer derhalwe die huidige siening dat Afrikaans deur slawe óf die Khoi geskep is; inderwaarheid was dit ’n omgangstaal wat gepraat is deur die Khoi, slawe, soldate, matrose én vryburgers. Hierdie standpunt word deur die outeurs onderskryf (kyk: 58). Boonop het ander “tussentale”, soos die Nederlands van die Franssprekende en Duitssprekende immigrante ook die proses aangehelp (kyk ook: 68; 73). Op hierdie selfde bladsy word verwys na die verskillende tale wat deur die slawe “saamgebring [is] na die vreemde nuwe land”. Tog word min gesê oor die verskillende godsdienste wat ook saamgebring is, veral die Moslem-geloof.
Bladsy 61: Die sin “Van die idees van hierdie tyd is selfs later gebruik om apartheid te regverdig – dat daar naamlik ’n inherente meerderwaardigheid aan die kant van wit mense was” is onduidelik. Of ’n inherente meerderwaardigheid aan wit kant het aanleiding gegee tot apartheid óf daar was ’n inherente rassisme aan die kant van wit mense.
Bladsy 68: Deur wie presies word die invloed van Frans op die Kaapse taal oorskat?
Bladsy 74: Hier blyk dat Carstens en Raidt ongemaklike bedmaats is. Die bronne waarna verwys word in reisjoernale (77) is veel meer gedetailleerd en betroubaar as dié oor Khoi-taal.
Bladsy 85: “Miskien moet ’n mens die smalende opmerkings van verskeie reisigers oor die ontwikkelingspeil van die Kapenaars nie te ernstig opvat nie, al is daar seker ’n mate van waarheid in”. Wat beteken dit?
Bladsy 86: Hier word ’n aanhaling van Mentzel gegee wat beskryf word as “’n vermaaklike kykie op die mentaliteit van die plattelandse mense in die agtiende eeu”. In werklikheid weerspieël dit die tipiese hovaardigheid van die kolonialis teenoor die ander, omdat hy die inheemse kennis(stelsels) minag.
Bladsy 87: Onder “Sosio-ekonomiese omstandighede” verskyn twee aanhalings as “stemvurke” wat maar beide heel ylerig is. Om te beweer dat “[f]eitlik niemand kon skryf [in die agtiende eeu nie] ”, aldus Giliomee & Mbenga, is soos dit hier staan, ’n growwe oordrywing” (al word Suid-Afrika waarskynlik bedoel) en Van Rensburg se uitspraak raak kant nóg wal.
Bladsy 92: Die mense in die grensgebiede was dikwels eiegeregtig, koppig met ’n afkerigheid van gesag en in ewige struwelinge met bure gewikkel. Desondanks was hulle voorbeeldig, gasvry, mensliewend en openhartig en ongeveinsd vriendelik. Weer is dit asof hier ’n digotomie is.
Bladsy 105: Hier word Van Rensburg aangehaal waar hy sê dat die eerste Afrikaans al in 1595 begin het toe die Khoi-Khoin die eerste Nederlands probeer napraat het; in gebrekkige Nederlands dus. Dan sou ’n mens, soos ook al eerder gesê, met ewe veel (of min) bewyse kon poneer dat die eerste Afrikaans al vroeër ontstaan het toe matrose, soldate, ensovoorts, onderling met mekaar in variëteite van Nederlands begin gesels het; ewe swak Nederlands dus.
Bladsy 106: Die skrywers nuanseer wel soms Van Rensburg se uitsprake waar gestel word dat die direkte Khoi-invloed in die Afrikaanse woordeskat “meer beperk is as wat ’n mens sou verwag”.
Bladsy 111: Cartsens & Raidt beweer dat vroue “’n behoudende én ’n vernuwende rol in wordende Afrikaans gespeel [het] … In hulle spreektaal […] kon oorgeërfde Nederlandse dialekvorme ongehinderd voortbestaan […] sodat hulle hier ’n uitgesproke konserwatiewe, behoudende funksie vervul het”. Hulle dialektiese Nederlands sou tog die proses van uitkalwing van Nederlands in die rigting van Afrikaans eerder aanhelp? En dan is dit kwalik behoudend.
Bladsy 263: PG du Plessis het met Fees van die ongenooides ook die grootste letterkundeprys (in geldwaarde) verower, naamlik die Helgaard Steynprys in 2014.
Bladsy 261: ’n Baie belangrike opmerking is dat “Standaardafrikaans soos ons dit vandag het, veel eerder ’n versameling van kenmerke en invloede van al drie die historiese variëteite (Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans én Grensafrikaans) is”.
Bladsy 330: DF Malherbe was nie slegs die “latere professor in Afrikaans aan die Grey Universiteitskollege in Bloemfontein nie” (330), maar ook rektor van hierdie instelling.
Bladsy 335: “Talle Afrikaanse intellektuele van die tyd, soos hoofregter lord J.H. de Villiers, het geglo dat Engels die enigste geskikte toekomstige taal in die land sal en behoort te wees”. Gelukkig was daar ander Afrikaanse intellektuele (wat dikwels in Europa studeer het) wat ’n ander mening toegedaan was: Johannes Brill (333), DF Malan, MT Steyn, JBM Hertzog, DF Malherbe, ensovoorts.
Bladsy 335 e.v.: Hier verdien WJ (Willem) Viljoen vermelding as een van die grootste voorstanders van Nederlands, hoewel ook hy later in 1925 pro-Afrikaans is (Steyn, 2019:114 e.v.).
Bladsy 344: Hier behoort Malherbe se “postuur” aangedui te word, byvoorbeeld sy promosie met die hoogste lof in Freiburg met ’n proefskrif Das Fremdwort in Reformationszeitalter. Op 346 e.v., veral 349 kort meer informasie. Die stryders vir Afrikaans was nie net “gedrewe manne” (349) nie, maar veral intellektueles (wat (doktors)grade van Europese universiteite het). Dat juis hulle (Malan, Malherbe, Steyn, Hertzog, ensovoorts) só opgekom het vir Afrikaans, is heel frappant.
Bladsy 401: By die lys van universiteite wat nie meer Afrikaans aanbied nie, ontbreek die Universiteit van KwaZulu-Natal. Beide die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat is ook reeds meer as twee jaar in die praktyk slegs eentalig ─ Engels.
Bladsy 480: “Dat van hierdie organisasies nog steeds die wit Afrikaanssprekende gemeenskap as fokusgroep het, is ’n leemte en dit behoort beslis meer inklusiewe organisasies te wees.” Waarom? Indien die opvatting van die skrywers is dat géén Afrikaanse (wit) organisasie bestaansreg het nie, moet dit beredeneer word met verrekening van die betrokke organisasies se standpunte hieroor.
Bladsy 522: “Die gekose standaardvariëteit word nie deur taalkundiges gekies nie […] Dit het eerder te doen met die feit dat ’n bepaalde streek (en dit is ook histories toevallig dat dit juis daardie streek is) op ’n tydstip die sosiale magsposisie beklee in die samelewing”. Dit is ’n ope vraag omdat dit so toevallig is. Dikwels is daar redes (soos ’n natuurlike hawe; standhoudende riviere; hulpbronne; natuurlike verskansings, en derglike meer), maar ook die doelbewuste keuse van maghebbers en die kulturele elite om hulle daar te vestig.
Bladsy 544: Hier word gepleit vir dringende herstandaardisering van Afrikaans sonder dat hierdie begrip verduidelik word; dit word eers gedoen op bladsy 570. Voorts is dit opvallend dat Carstens & Raidt sê dat “Afrikaans en Nederlands vandag nog onderling verstaanbaar is” (545), terwyl Hans du Plessis (2015: 72) juis presies die teendeel beweer.
Bladsy 570: Die skrywers betoog hier dat “beide die primêre Afrikaanse taalgemeenskap (dit is al die moedertaalsprekers van die taal) én die sekondêre Afrikaanse taalgemeenskap […] by hierdie [herstandaardiserings]proses betrek word om Afrikaans se volle potensiaal te kan bereik”. Tog laat die skrywers na om uit te spel hóé dit behoort te gebeur, hulle uit te spreek oor watter woorde (byvoorbeeld Engelse woorde) liefs geweer moet word en of daar presedente elders ter wêreld vir so ’n proses bestaan. Vroeër op 522 is juis beweer: “Die gekose standaardvariëteit word nie deur taalkundiges gekies nie […] en is duidelik gemaak dat taalkundiges (alleen) kwalik standaardisering teweeg kan bring.
Bladsy 581-585: Die lang stuk oor taalfeeste kon baie ingekort geword het. Dit is ’n fel, betogende stuk wat totaal uit pas val in ’n wetenskaplike diskoers.
Bladsy 619: Hier word FW de Klerk beoordeel deur ’n bont mengelmoes mense. Op sig is dit interessant, maar die rol van ’n politikus (of wetenskaplike, skrywer en digter) moet tog oorgelaat word aan kenners?
Bladsy 624 e.v.: In hierdie volledige bespreking van rassisme en “etniese vervolgings” word slegs gefokus op Europa en die VSA en is daar geen verwysing na die talle etniese oorloë en volksmoorde in (Suid-) Afrika waarin miljoene mense die lewe gelaat het nie.
Bladsy 659: Hier ontbreek verwysing na Antjie Krog se boeke en talle ander wetenskaplike artikels oor die Afrikaanse letterkunde en byvoorbeeld die Waarheids- en Versoeningskommissie.
Bladsy 708: Hier word sonder meer gesê “In enige proses rakende Afrikaans moet die bruin sprekers van Afrikaans ’n dominante rol speel” (my kursivering, HC). Op bladsy 714 word gesê dat die “wit inwoners se vlak van naskoolse opleiding die hoogste en die bruin bevolking se vlak die laagste [is]”. Volg hieruit nie dalk dat blote getalle nie alleen kan bepaal watter groep die “dominante rol” behoort te speel in byvoorbeeld die gesprek rondom die standaardtaal nie?
Hoofstuk 22 is ’n emosionele oproep, nie ’n (objektiewe) beskrywing nie.
Bladsy 763: Die elf tale “was die resultaat van ’n politieke kompromis in die Kemptonpark onderhandelinge, alhoewel dit onprakties mag voorkom. Status-, funksie- en selfs getallegewys was dit ’n terugslag vir Afrikaans, maar aan die anderkant weer ’n mosie van vertroue in die vermoë van die vroeër gemarginaliseerde tale (die ‘polities korrekte’ term vir Afrikatale) om ’n eie status te ontwikkel.” Hieruit blyk ook die skisofrenie waarvan daar reeds sprake was.
Bladsy 763: Die “duidelike pad vorentoe” is vir my onduidelik: om die taal in die hande van gewone mense te laat, “om vrede te maak met die nuwe Suid-Afrika. En om ’n rol in sy ekonomie te vind waarin [sic!] jy ’n nuttige bydrae kan maak”?
Bladsy 911: “Hoe Kaaps presies verreken moet word, is nog nie duidelik nie, maar dat dit as deel van die repertoire van die sprekers in Afrikaans in skoolonderwys betrek moet word, is wel ’n gegewe”. Dit is ’n stelling wat beredenering en toeligting nodig het (kyk later na die opmerkings oor Kaaps). Kaaps is nie gestandaardiseer nie en dit is tog nodig vir ’n taal voordat dit op skool gebruik word? In die geskiedenis van Afrikaans het geblyk hoe standaardisering Bybelvertaling en gebruik op skool en universiteit voorafgaan.
Bladsy 915: “Die sogenaamde ‘dop-stelsel’ op wynplase in die vroeë 20ste eeu het aanleiding gegee tot ’n toename in alkoholisme en dit het weer tot talle maatskaplike probleme gelei.” Dat dit bygedra het tot alkoholisme mag waar wees, maar dat dit alleen aanleiding gegee het tot alkoholisme (soos hier gesuggereer) is betwyfelbaar, omdat alkoholisme onder bruin mense nie beperk was/is tot mense wat op plase gewerk het nie. Alkoholisme as ’n ingewikkelde sosiale probleem hoort veel meer omsigtig behandel te word in ’n wetenskaplike werk.
Teksversorging: herhalings, foute en weersprekings
In die teks gebeur dit dikwels dat presies dieselfde teks op meerdere plekke gebruik word; op ander plekke weer bykans dieselfde verwoording. Soms kom daar uitsprake voor wat onmiddellik daarna deur ’n ander uitspraak teengespreek word. En soms is daar bloot foutiewe gegewens.
Bladsy 29: Hier word Francis Drake in die oorspronklike Engels aangehaal en sy woorde word dan byna letterlik herhaal in Afrikaans twee paragrawe later.
Bladsy 48: Die aanhaling uit Gosselink (2016b: 53) is ’n letterlike herhaling van ’n gedeelte van voetnoot 14 (Hoofstuk 13, bladsy 939).
Bladsy 51: Hier verskyn twee tekeninge van Simon en Willem Adriaan van der Stel met datums daaronder. Die datums by Simon van der Stel is foutief en moet wees 1679-1691; 1691-1699 óf 1679-1699.
Bladsy 53: “Autshumato en van sy volgelinge het in Oktober 1653 byna al die vee van die Kompanjie gesteel en selfs die veewagter gedood. Autshumato is hiervoor gevange geneem en na Robbeneiland verban, waarvandaan hy wel mettertyd ontsnap het.”
………
“As naslaanwerk gaan dit in die toekoms ’n onontbeerbare bron wees.
”
………
Dit is egter foutief: “Op 19 Oktober 1653 het Autshumao [spelling van Pretorius, 2012] en sy volgelinge byna al die vee van die Kompanjie gesteel en die veewagter David Jansz gedood. Toe Autshumao weer in Junie 1655 by die Fort opdaag, moes Van Riebeeck sy ontkennings en verskonings aanvaar” (Pretorius, 2012: 42) en “In 1658 het hy [Autshumato] skynbaar te ver gegaan […] Van Riebeeck het op al sy vee beslag gelê en hom na Robbeneiland verban” (Van Aswegen, 1981: 120).
Bladsy 64: Simon van der Stel was die laaste kommandeur aan die Kaap (1679-1691) en later ook goewerneur (1691-1699) nié kommandeur (1679-1991) en ook nié goewerneur (1679-1699), soos hier gesê word nie!
Bladsy 82: “Die huisonderwysers was dikwels oudsoldate wat van die Kompanjie gedros het of wat die onderwys as ’n soort neweberoep beoefen het. Dit spreek vanself dat die kinders onder daardie omstandighede nie veel kennis en beskawing kon opdoen nie.” Op bladsy 84 lees ons: “In hierdie verband mag die rol van die rondtrekkende huisonderwysers ook nie onderskat word nie. Met hulle kennis het hulle waarskynlik gedien as skakel tussen die boere in hulle afsondering en die Westerse beskawing. Waar skole en gereelde onderwysgeriewe onbereikbaar was, het hierdie huisonderwysers in ’n byna lewensbelangrike behoefte voorsien.” Sulke, byna letterlike weersprekings is slordig.
Bladsy 103: “Volgens hom [Van Rensburg] was Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans ‘onderling heeltemal verstaanbaar en vir ’n eeu was dit die twee hooftale wat in […] die Binnelandse streek gepraat is, met ingrypende wedersydse beïnvloeding.” Skaars drie bladsye later (bladsy 106 onder en 107 bo) word hierdie hele stuk woordeliks herhaal!
Bladsy 104: “Die Franse en Duitsers het wel ’n indirekte invloed op wordende Afrikaans uitgeoefen deur hulle gebrekkige aanleer van Nederlands” (bladsy 104). Op bladsy 71 staan egter: “Daar word algemeen aanvaar dat die manier waarop die Duitsers en Franse Hollands gepraat het ’n beduidende rol gespeel het in die ontwikkeling van Afrikaans”.
Vergelyk: Die Griekwas se taal “was Khoi-Afrikaans, wat vir waarnemers soos Nederlands geklink het” (161) en “Hulle [die Griekwas] het hulle vorm van Afrikaans (Oranjerivierafrikaans, of ook genoem Gariepafrikaans) saam met hulle na die noordelike deel van die land, in die besonder die Noord-Kaap geneem” (162). Al hierdie verskillende terme werk verwarrend; boonop in die aanhaling hierbo (162) ’n letterlike herhaling van ’n gedeelte op bladsy 96 (vierde paragraaf). Eers op bladsy 247 word verduidelik hoe die begrippe saamhang.
Bladsy 262: Die opmerking oor die lewend hou van herinnering aan die Anglo-Boereoorlog word bykans letterlik herhaal op die volgende bladsy.
Bladsy 271: Die wyse waarop die dood van Abraham Esau beskryf word (die “moord op Abraham Esau” verdien kontekstualisering en ’n ander formulering. Op bladsy 969 (Voetnoot 141) word die leser boonop verwys na voetnoot 29 in hoofstuk 28 oor “Abraham Esau se rol in Calvinia en sy teregstelling.” Daar is egter nie ’n hoofstuk 28 in hierdie boek nie!
Giliomee & Mbenga (2007: 220) sê die volgende oor die “moord” op Esau: “Abraham Esau [wat] grootliks verengels was [...] het [...] die ware aard van die bruin arbeidersklas in die Kaapkolonie ruimskoots verpersoonlik. Soos baie ander geesgenote het hy ’n rotsvaste lojaliteit jeens Britse heerskappy en steun aan ’n stabiele koloniale bestel onder Kaapse liberalisme gekoester [...] Toe die plaaslike magistraat weier om wapens aan bruin mans uit te reik [...] het ’n gebelgde Esau hom tot ’n ander verdedigingstaktiek gewend ...”.
(Abraham Esau se marteling en dood word beskryf in vier Afrikaanse kreatiewe tekste: Rebunie (PJ Philander); Kus van die die winterskerpioen (Johnita le Roux); Iets goeds uit Verneukpan? (Elias P. Nel) en Verliesfontein (Karel Schoeman); Van Coller (2009: 51).
Bladsy 314-315: Die paragraaf: “Heel waarskynlik … en in 1871 verskyn het.” Dit is ’n woord-vir-woord herhaling van dieselfde stuk op bladsy 244.
Bladsy 353: “Die reikwydte van die GRA […] tot die Boland en omstreke beperk was” is ’n woordelikse herhaling van ’n gedeelte op bladsy 202.
Bladsy 401: By die lys van universiteite wat nie meer Afrikaans aanbied nie, ontbreek die Universiteit van KwaZulu-Natal. Beide die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat is ook reeds meer as twee jaar slegs eentalig Engels.
Bladsy 200: “Die nuwe taalbewussyn en taalstrewe was ná 1875 egter amper eksklusief gekoppel aan wit Afrikaanssprekendes.” Hoe rym dit met die volgende stelling op bladsy 201: “Pannevis se oogmerk was ’n Bybelvertaling wat die Woord van God vir die bruin mense verstaanbaar sou maak”?
Bladsy 427: “Selfs ondersteuners van Afrikaans, soos Eugène Marais, het in daardie tyd [tydens die bestaan van die Boererupublieke] …”. In die lig van die opmerkings van Van der Merwe (2015) is hierdie stelling aantoonbaar foutief. Marais was eintlik ’n voorstander van Engels.
Bladsy 489: “In die 1970’s word talle rolprente vervaardig […] Daar word ook gekrap in die siel van die Afrikaner [sic!] […] In hierdie tyd word akteurs soos Jamie Uys, Hans Strydom […] Sandra Prinsloo, Cobus Rossouw, en talle ander huishoudelike name in die Afrikaanse gemeenskap. Uit die bruin gemeenskap is daar die name van Shaleen Surtie-Richards, Anthony Wilson, Simon Bruinders en andere.” Bruinders tree eers in die tagtigerjare van die vorige eeu op die verhoog op en sy eerste filmrol is van 1984, (Broer Matie)! Op bladsy 483 word gesê dat daar in die 1970’s talle Afrikaanse rolprent vervaardig is “maar meerendeels propagandarolprente oor die weermag en onderwerpe wat die Afrikaner ‘goed kon laat voel’ en wat as aanmoediging kon dien vir jong manne om in die weermag diens te doen soos […] Boetie gaan border toe (1984” [wat buitendien nie in die 1970’s is nie]. Net op die volgende bladsy (490) lees ons egter: “Regardt van den Berg maak die eerste rolprent waarin die weermag nie net verglans en opgehemel is nie, soos Boetie gaan border toe (1984) en Boetie op maneuvers (1987), en films gegrond op TV-reekse soos […].”
Bladsy 508-509: Hierdie stuk oor die Afrikaanse letterkunde bevat geen uitsprake van gesaghebbende literatore nie en die stuk op bladsy 509 oor “intelligente massalektuur” (dalk eerder die aanvaarde “goeie gewilde prosa” is gedateer en handel oor skrywers wat byna almal al oorlede is. Ek vermoed dat skrywers soos Hans du Plessis, Deon Meyer en veral Marita van der Vyver nie baie gelukkig sal wees om nie eers hierdie kategorie te haal nie. Hulle word ingedeel by “verstrooiingslektuur” (509)! Die lys skrywers by kinder- en jeugliteratuur is ook ’n hutspot van name. Ook die stuk oor bruin skrywers is gedateer met die verwyt dat “een groot probleem met die Afrikaanse letterkunde van vandag [is] dat dit nie die stemme van alle Afrikaanse skrywers in die hoofstroom intrek nie” (510). Om dan na ’n bron van 1997 te verwys as bevestiging, toon die gedateerdheid. “Bruin” skrywers soos Ronelda Kamfer en Amy Jephta is bekroon deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en talle ander ontvang literêre toekennings en pryse (byvoorbeeld Valda Jansen), Nathan Trantraal skryf rubrieke vir ’n Sondagblad (Rapport), talle tree op by kunstefeeste, word vermeld in literatuurgeskiedenisse (daar is byvoorbeeld perspektiewe oor EKM Dido, PJ Philander en Adam Small in Perspektief en profiel), terwyl daar ook in hierdie literatuurgeskiedenis veelvuldig na ander bruin skrywers verwys word.
Bladsy 525: Pannevis word hier aangehaal: “Die regels syn daar … die regels na te gaan” en op bladsy 535 word dieselfde stuk letterlik herhaal.
Bladsy 563-567: Die voorbeelde van “variasie van Afrikaans aan die hand van uittreksels uit geskrewe weergawes van die betrokke variëteite” is interessant, maar is verwarrend omdat Akademiese Afrikaans, Beroepsafrikaans en Mediese Afrikaans nie variëteite is nie, maar registers. Ook Tienertaal is geen variëteit nie, maar ’n sosiolek. By Kaapse Afrikaans word ’n stuk uit die Bybelvertaling in Kaaps gegee met geen enkele Engelse woord (een van die belangrikste kenmerke van Kaaps) in nie. Dalk is die bepaalde register hier die rede. Tog wek dit die vraag oor die aard van Kaaps. Wat is dit presies? Is daar ’n gestandaardiseerde vorm (ten opsigte van byvoorbeeld spelling) daarvan? Wie presies praat dit en in watter gebied? Hoeveel bevestigde sprekers is daar? Sonder hierdie data (wat in hierdie boek ontbreek) is ’n gesprek oor herstandaardisering byvoorbeeld kwalik meer as ’n politiek-geïnspireerde betoog.
Bladsy 636 staan: “Die skrywer Breyten Breytenbach [is] selfs gearresteer, skuldig bevind aan ‘terroristiese bedrywighede’ en het sewe jaar (van sy vonnis van nege jaar) in die tronk deurgebring (1975-1982) omdat hy betrokke was by die organiseer van ANC-veldtogte; en was Bram Fischer weens sy assosiasie met die Kommunistiese Party ’n voortvlugtige vir die gereg in die 1960’s.” [my kursivering, H.P.v.C.]. Hierdie hele stelling is feitelik foutief:
“Breytenbach wou apartheid nie net met woorde veroordeel nie en het saam met vier ander wit mans die geheime organisasie Atlas Okhela gestig. Die doel was om die gewapende stryd in Suid-Afrika onder leiding van die ANC te bevorder. [...] In 1975 het hy in die geheim na Suid-Afrika teruggekeer om strukture vir ’n ondergrondse beweging te vestig, maar reeds voor sy aankoms het sekere ANC-leiers, wat hom nie vertrou het nie, gesorg dat die Suid-Afrikaanse veiligheidspolisie van sy planne hoor. [...] Teen die einde van sy besoek is hy in hegtenis geneem en voor die hof gedaag. In ’n wanhopige pleidooi om versagting het hy Vorster gevra om hom te vergewe dat hy hom ’n slagter genoem het” (Giliomee, 2004: 522).
In die Rivonia-saak “het die staat beweer dat die ANC en sy bondgenoot die SA Kommunistiese Party ’n plan aanvaar het om ’n staatsgreep uit te voer. ’n Buitelandse militêre mag sou die land inval en ondersteun word deur ’n gelyktydige binnelandse opstand waaraan 7 000 saboteurs en guerrillavegters sou deelneem [...] [Abraham Fischer] het namens die beskuldigdes erken dat hulle van 1962 af oor planne vir guerrilla-oorlogvoering gepraat het ...” (Giliomee, 2004: 486; kyk ook: Giliomee & Mbenga, 2007: 339).
Bladsy 644: In my teks is daar geen bladsy 644 nie en bladsy 664 word twee keer afgedruk! Op wat bladsy 644 móés wees (daar staan bladsy 664) word die taalbepalings in die 1996 Grondwet volledig aangehaal in ’n driekwart bladsy. Later verskyn die regte bladsy 664 wéér.
Bladsy 675: D. Marais (2015b: 62) word op bladsy 675 aangehaal en dan word presies dieselfde aanhaling wéér aangehaal op bladsy 694!
Bladsy 903: Hier word ’n uitspraak van Adam Small aangehaal wat op bladsy 905 gedeeltelik herhaal word: “Kaaps is ’n taal […] wat daarin is.”
Uit die bostaande lysie blyk dat die teksredigering onsorgvuldig en selfs slordig is. Dit ondermyn die wetenskaplike betroubaarheid van hierdie werk.
Opmerkings oor die bronnelys
Juis die bibliografie as ’n wetenskaplike werk kan problematies wees. Wat word opgeneem: die bronne wat gebruik is, aangehaal word of dalk selfs dié wat oor die onderwerp bestaan? Die laasgenoemde is nooit volstrek haalbaar nie, hoewel so ’n omvattende lys werke nuttig mag wees vir verdere navorsing. Wat die eersgenoemde vraag en onderskeid betref, sou die tweede moontlikheid na my gevoel die aangewese weg wees: neem slegs dit op waaruit aangehaal word, óók om nie die illusie te wek van ensiklopediese geleerdheid nie. Wat die gebruik van bronne betref, word onderskei tussen die objektiewe en die aksiologiese (kyk: De Vleeschouwwer, s.d.: 119). Die eersgenoemde gaan oor alles wat regstreeks met die onderwerp te make het; die tweede onderskei skerper ten aansien van die waarde van die bronne; navorsers móét bronne evalueer (Garbers e.a., 1996: 325). Die navorser se doel en benadering speel hier ’n groot rol. In ieder geval is daar na my gevoel prinsipiële (wetenskaplike) verskille tussen wetenskaplike boeke, wetenskaplike artikels, koerantartikels, briewe in koerante, aangehaalde uitsprake en derglike meer. In ’n wetenskaplike werk kan hulle nie almal oor dieselfde kam geskeer word nie. Dit gebeur meermale in hierdie boek dat daar nie ’n duidelike onderskeid gemaak word tussen bronne nie óf dat bronne oor ’n bepaalde onderwerp gesiteer word wat nie gesaghebbend is nie (voorbeelde is op bladsy 508 waar eers Stehle se karakterisering van “jonger skrywers” en daarna La Cock se oppervlakkige definisie van toeganklike literatuur gesiteer word as skynbaar “gesaghebbend”). Nie een van hierdie twee bronne word opgeneem in die bronnelys nie.
Op bladsy 1053 van Die storie van Afrikaans word die volgende opmerking gemaak oor die bronne: “As ’n bron moontlik nie in een deel voorkom nie, sal dit wel in die ander deel wees. Weens die omvang van die boek moes die bronnelys ingeperk word. In die lig van die maklike beskikbaarheid van en toegang tot bronne met die behulp van elektroniese metodes word slegs kernbronne (boekpublikasies, artikels uit akademiese tydskrifte, verhandelinge en proefskrifte, asook enkele ander toepaslike bronne hier aangedui. Die res van die bewysmateriaal (oorwegend berigte uit koerante, tydskrifte, internetpublikasies) is op die webtuiste www.storievanafrikaans.co.za beskikbaar.” Voorts word gesê dat bronne nie klakkeloos herhaal moet word nie; daar “moet iets nuuts na vore kom”; dat “bronne oor ’n wye spektrum” geraagpleeg is; “[i]n ’n studie oor die geskiedenis moet ook vooruit gekyk word en met die oog hierop moet ’n navorser noodwendig gebruik maak van meer populêre sekondêre bronne van ’n meer resente aard, soos koerant- en tydskrifpublikasies (artikels, meningstukke, briewe van lesers), van internetbronne […] asook meningvormers in die veld, ensovoorts. Hierdie bronne dui tendense aan wat nie geïgnoreer kan word nie, want in enige studie oor die geskiedenis is ’n blik op die toekoms ook hoogs ter sake”; “[v]erder is dit nie moontlik om elke bron wat hier aangedui word, ook te laat neerslag vind in die teks van die boek self nie” en les bes “[e]lke bron wat hier aangedui word, is wel deeglik geraadpleeg in die skryfproses […]. Verder het die outeurs ook uit die magdom beskikbare bronne ’n keuse gemaak van wat redelik en realisties is om in die loop van die skryfproses te betrek.”
Dit alles is nogal verwarrend: daar word gesê dat slegs “kernbronne […] hier aangedui” word, maar dan word weer gesê dat nie elke bron wat “hier aangedui word” ook neerslag in die teks van die boek gevind het nie. Verder kan nie van ’n leser verwag word om die bronne van ’n boek wat apart verskyn in ’n ander deel (of op ’n webtuiste) te raadpleeg nie. Dat “elektroniese metodes” ook noodwendig die opspoor van bronne vergemaklik is diskusseerbaar: die leser het dalk vanweë verskeie faktore nie geredelik toegang daartoe nie. Boonop het uit ’n opname van alle gesiteerde bronne geblyk dat verskeie boekpublikasies én kernbronne (op grond van die feit dat daaruit gesiteer word) nie in die bronnelys opgeneem is nie (later meer hieroor).
Nie alle historici sal saamstem met die uitgangspunt hier dat dit die historikus se plig is om (ook) uitsprake oor die toekoms te maak nie. ’n Weergawe van die verlede is reeds enigsins subjektief, omdat dit oor ’n narratief gaan wat selekteer, weglaat en orden (Hayden White, 1973). Daarom is enige weergawe van die verlede (as geskiedskrywing) slegs ’n poging om ’n bepaalde roete na die verlede aan te dui (Ankersmit, 2010). Of dit dus moontlik is om op grond van uiters subjektiewe opinies (soos uitgespreek in briewe in koerante, artikels in koerante, inskrywings op Facebook, en derglike meer) wetenskaplik-betroubare uitsprake oor die toekoms te maak, lyk vir my twyfelagtig. Evaluering van bronne is, soos bo gesê, die verantwoordelikheid van die ondersoeker en die betroubaarheid van gedeë studies aan die een kant en subjektiewe opiniestukke aan die anderkant verskil baie.
In ’n wetenskaplike werk is volledige en korrekte bronverwysings ononderhandelbaar. Wetenskapsbeoefening geskied nooit ex nihilo in totale isolasie nie en is daarom ook nooit waardevry nie. Dit bou voort op die werk en insigte van ander ondersoekers wat noulettend erken moet word. Verwysings is voort noodsaaklik vir kontrole én vir verdere navorsing. By herhaling: dit kan nie van lesers (wat dalk nie toegang mag of kan hê tot die internet nie) verwag word om verwysings daar te raadpleeg nie. In hierdie boek lyk die wyse waarop die verwysings hanteer word, lukraak: daar is méér as 1000 bronverwysings, net in die hoofteks, wat ontbreek. ’n Beduidende aantal daarvan is nie koerantartikels nie, maar moet (onder meer weens die feit dat daar soms na bladsye verwys word), artikels of boekpublikasies wees: die omvang word vervolgens geïllustreer aan die hand van voorbeelde.
Boeke wat ontbreek
Pheiffer, 1980 (69). Hierdie proefskrif is ’n seminale bron wat glad nie in die bronnelys opgeneem is nie en is gepubliseer deur Academia; LW Hiemstra, 2015 (555); L. Wessels, 1990 (555); Van Aarde, 1997 (555); Redelinhuys, 2011. (555); Danie Craven, 1972 (555); WJ de Klerk se proefskrif waarvan die publikasiedatum ontbreek (562); TH Links & WJ van Zyl se boek én publikasiedatum word nie verstrek nie (562); Kaschula & Docrat, 2018 (676 én 823) (Duidelik ’n kernbron waaruit veelvuldig aangehaal word); Assegaais, Drums and Dragoons (2012) deur Willem Steenkamp (870); A. Boesak, (2006: 4) ─ ’n artikel of ’n boek waaruit ’n lang gedeelte aangehaal word (874). ’n Kernbron waaruit veelvuldig aangehaal word. Sol Plaatje se boek, The Boer War Diary of Sol T. Plaatje, an African of Mafeking word weer genoem én die omslag weergegee op bladsy 883. Maar ook hierdie bron ontbreek in die bronnelys. Nog kernbronne waaruit gesiteer word, maar ontbreek is: Van der Horst, ST 1976 (916) en Kivido, 2003 (894).
Uiters verwarrend is ook die feit dat publikasies, byvoorbeeld, aangedui word as “Scholtz, 2011f”, maar “Scholtz, a, b”, ensovoorts) verskyn nie in die bronnelys nie. Moet die leser aanneem dat die ander publikasies bloot nie gelys word nie? Die aangehaalde bronne in die teks is dikwels nie alfabeties of chronologies gerangskik nie en laat die leser dus in die duister oor die verwysingsmetode. Vergelyk, byvoorbeeld, bladsy 853 waar “Alant 2005” gevolg word deur “Malan, C. 2005”, “De Vries F. 2012b” en dan “Giliomee 2004a”. Bronne in die bronnelys self is ook nie altyd logies gerangskik nie. Kyk byvoorbeeld na die inskrywings by “Carstens” waar eers al die bronne onder sy naam gegee word; daarna dié met ander outeurs en dan wéér ’n paar onder sy eie naam.
Soms weer is daar ’n diskrepansie deurdat in die teks, byvoorbeeld, staan “M. van den Berg (2000: 335)” (523), wat nie verskyn in die bronnelys nie; wél “Van den Berg, M. 2002” of “Conradie, C.J. (2014, 2017)” (43) wat nie in die bronnelys is nie; wél “Conradie, C.J. & G. Groenewald, 2014 en 2017)”; “Liebenberg, H.C. 2006” (’n besondere lang aanhaling) ontbreek in die bronnelys waar daar slegs ’n “Liebenberg, H.C. 2005b” is (46) of “Potgieter, T.D. 1997” wat in die bronnegids slegs aangedui word as “Potgieter, T.” (135). Die vraag wat dan ontstaan is of die gegewens foutief is en of die bron bloot ontbreek?
Wat die saak verder vertroebel is die feit dat bronne nie eenvormig hanteer word nie. Soms word bronne gesiteer as “Cloete, T.T.”; dan “Marks”; dan weer “M. du Preez” (almal op bladsye. 20-23). Op grond van die outeurs se vroeëre opmerkings, aanvaar ’n mens dat die blote noem van ’n naam en jaar ’n aanduiding is van ’n koerantberig (“M. du Preez 2015c”, 23) en dat bladsy-aanduidings by die datum dan sou verwys na ’n artikel of boek (“J. de Villiers (2012b:73”) soos dit hier wel die geval is. Tog is daar verskeie gevalle waar dit nie die geval is nie (kyk: “W. van der Walt (2014: 10)”, (814) waar dit om ’n brief gaan en “Langner (2014a: 29” waar na ’n berig verwys word: “Volgens ’n berig deur …” (849).
Wat nog meer verwarrend is, is dat daar soms voorletters en bladsynommers verstrek word en soms weer nie (byvoorbeeld: “Ecard 2013: 5”; “P. Malan 2013”; “D. Marais 2017:26” en dan weer Adendorff (2007), almal op bladsy 497. Soms weer “Prof. Ampie Coetzee (2009)”, (635); “Hugo [red.] 2009: 111”, 642 en “Ramphele 2016: 15 (643)” sonder voorletter(s). Soms word ook een van die voorletters weggelaat: “A. Jordaan, 2004: 224-232” op bladsy 655 waar dit “A.M. Jordaan” moet wees. Dan weer “R. Nel. 2016a: 11” (741); “Dave 2017” (748). Soms kom daar ’n voorletter; soms nie, kyk: “Ley, M. 2014b: 4” of “Verhoef, M.M. 2011” (790). Aangesien daar geen ander “Ley” of “Verhoef” in die bronnelys is nie (soos wel die geval is by Eloff) is dit onverklaarbaar. Vergelyk ook die wyse van weergawe: eers voorletter en dan die van (“E. Swanepoel 2016n.”); dan weer net die van (“Kwadi 2017a”) en dan weer die van en daarna die voorletter (“Cilliers, S 2017c”) almal op bladsy 790! Soms weer word ’n boek wél gelys in die bronnelys, maar sonder ’n bladsy-aanduiding wat ook futiel is: “Blake, 2010”, (865). Soms staan daar “aangehaal deur” tussen hakies; soms nie soos “Prof. Hans du Plessis (aangehaal in Altern 1993). (796)”, maar “Dr. M. le Cordeur, aangehaal in Rooi 2015g: 3.” (817).
Kyk ook na die volgende: “W. Visser (2012b) gee in sy hoofstuk ‘Die ontwikkeling van vakbonde en georganiseerde arbeid’ in die boek Geskiedenis van Suid-Afrika (2012) met prof. F. Pretorius as redakteur) ’n oorsig oor die ontwikkeling van die vakbondwese in Suid-Afrika.” Bo en behalwe die feit dat daar geen eerste hakie is nie, is die manier van verwysing hier anders as in die res van die teks. Boonop is dit ongebruiklik om titels te verskaf. Indien wel moes Visser s’n ook gegee word.
Soms word genoem dat iemand die redakteur van ’n publikasie (“Smith [red.] 1980: 243-406)” is; soms nie. Persone word by tye aangehaal onder titels (Dr. Theuns Eloff, oudvisekanselier van die NWU (aangehaal in Fitzpatrick 2018b. (793). Dr. Leon Wessels, aangehaal in Fitzpatrick 2018b. (795)); soms word hulle weer gesiteer daarsonder: op bladsy 105 word MCJ van Rensburg twee keer aangehaal; een keer as “Prof. M.C.J. van Rensburg”. (440). Vergelyk: “Giliomee, soos aangehaal in La Vita 2015b: 18.” ’n Artikel of boek. (776). Die vraag sou ook kon gevra word waarom hy dan nie ook as “Professor Giliomee” (soos die gebruik hierbo by Alexander, Eloff en Schlemmer, waar hulle met titels aangedui word) aangedui word nie? Maar later gebeur dit wel: “Prof. H. Giliomee, soos aangehaal in Vosloo 2004: 16” (833).
Hierdie ietwat lukraak wyse van verwysing ondermyn die wetenskaplike betroubaarheid van die boek. Of dit te wyte is aan oorhaastigheid, die omvang van die werk óf aan swak teksredigering aan uitgewerskant is onduidelik.
Ten slotte
Soos in die voorafgaande bespreking gesien kan word, gaan hierdie boek mank aan foute, herhalings en veral swak teksredigering. Maar aan die pluskant bevat Die storie van Afrikaans, Deel 2 ’n magdom (historiese) feite (maar ook statistieke, getalle, gegewens) wat van onskatbare ware is. Om dit self te probeer versamel is ’n onbegonne taak en die outeurs verdien elke gebruiker van (of belangstellende in) Afrikaans se dank. Voorts word die storie van Afrikaans vertel op ’n onderhoudende wyse, gerugsteun deur die belangrikste navorsingsbevindings. Na my gevoel is veral die gedeeltes oor die sewentiende tot negentiende eeu oorwegend knap en die gedeeltes oor die Anglo-Boereoorlog en die verskillende trekke insiggewend. As naslaanwerk gaan dit in die toekoms ’n onontbeerbare bron wees.
By ’n moontlike herdruk of as elektroniese bron, is deeglike hersiening gewens en kan dit waarde aan ’n goeie teks toevoeg.
Bibliografie
Ankersmit, F. 2010. Waarheid is nodig, maar niet genoeg in de republiek der letteren. De Gids 173: 268-283.
Bailey, A. 2018. Taal bly in die kollig. Forum, Maart 2018: 9.
Beerling, R.F., Kwee, S.L., Mooij, J.J.A. en Van Peursen, C.A. 1974. Inleiding tot de wetenschapsleer. Utrecht: Bijleveld.
Carstens, W.A.M. & Raidt, E.H. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. ’n Biografie van ’n taal. Pretoria: Protea Boekhuis.
Claassens, H.W. 2006. Die geskiedenis van Boerekos: 1652-1806. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.
De Dijn, H. 2017. “Met alleen maar feiten redden we het niet”. De Standaard (Dinsdag 10 januari 2017).
De Groot, A.W. 1961. Methodologie. Grondslagen van onderzoek en denken in de gedragswetenschappen. ‘S-Gravenhage: Mouton en Co.
Du Plessis, H. 2015. Afrikaans, gekry of gemaak?. Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans, 22(2): 71-89.
Garbers, J.J. (red.). 1996. Doeltreffende geesteswetenskaplike navorsing. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
Pretorius, F. (red.) 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.
Steyn, J.C. 2019. Verset en opbou. Skrywers en politici as aktivistevir Afrikaans. Centurion: Kraal Uitgewers.
Van Aswegen, H.J. 1981. Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1854. Pretoria en Kaapstad: Academica.
Van der Merwe, C. 2016. Donkerstroom. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Huyssteen, W. 1986. Teologie as kritiese geloofsverantwoording. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
White, H. 1973. Metahistory: The historical imagination in nineteenth-century Europe. Baltimore: John Hopkins Press.
Lees ook op LitNet en Voertaal
Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt
Wannie Carstens: “Die wit geskiedenis is nie die geskiedenis van Afrikaans nie”
Vijf vragen voor Wannie Carstens over Die storie van Afrikaans (Deel 2)
Kommentaar
Dankie vir hierdie gebalansseerde resensie. Dit lyk of politieke korrektheid hier geseëvier het. Hoop om meer van u resensies te sien op LitNet.
Lees gerus ook Leon Lemmer: Wannie Carstens oor Die storie van Afrikaans - http://praag.co.za/
Dankie vir dit, dis fantasties. What an education for me!