Verandering en toekoms: om 'n kreoolse Afrikaans te bedink

  • 0

Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009

Prof Hein Willemse, Universiteit van Pretoria


Ek bedank u graag vir die uitnodiging om aan hierdie konferensie deel te neem oor die tema “Verandering en toekoms: om ’n kreoolse Afrikaans te bedink”. Ek praat egter nie as ’n linguis of sosiolinguis nie, maar as ’n literator wat belang stel in die breër sosiaal-kulturele bewegings en ontwikkelings van ons tyd. Gegee dat hierdie konferensie tydens ’n kunstefees plaasvind, bied ek my voordrag polemies eerder as streng akademies aan. Ek vertrou dat dit u sal geval.

Die breë onderwerp van hierdie sessie is “Die ont-/verpolitisering van Afrikaans”. Met politiek verstaan ek nie net partypolitiek nie, maar die historiese prosesse wat gekenmerk word deur mags- en sosiale kontestasie. Ek verstaan ook dat ek my moet bepaal by die kwessie van Afrikaans qua Afrikaans en nie talige betrekkinge in die algemeen in Suid-Afrika of verhoudings met Nederlands nie.

Onderliggend aan u onderwerp is die uitgesproke aanname dat Afrikaans en politiek nou verbonde is. Dit kan nie anders nie, want hierdie taal se bestaan en ontwikkeling is ingebed in strydende politieke bewegings en magte van opeenvolgende historiese periodes.

Toe Krotoa en Doman, die eerste Khoe-tolke, hulle in die maande na die aankoms van die Drommedaris, Reijger en De Goede Hoop aan die nuwe aankomelinge verstaanbaar moes maak, is die spore en spanninge van wat ons vandag as die taal Afrikaans ken, gevestig. Nog later, toe slawe en laerstand-setlaars hulle in ’n gepidginseerde intertaal moes handhaaf, was die politieke ekonomie van slawerny en kolonisasie aanwesig.

Toe ’n groep jong nasionaliste aan die einde van die 19de eeu ’n teenimperiale Afrikanerskap begin formuleer het en ’n gemiekste Hollands tot hul taal verhef het, kon oom Alspraat van Genadendal met verbasing in De Huisvriend aanstip dat “die witmense nou onse taal skryf”. En toe die pro-Britse dr Abdullah Abdurahman in die openbaar geredeneer het dat sy mense liewer nie die “barbarous Cape Dutch” moes praat nie, “[because it is] not conducive to progressive thought” en dat mense wat hulself respekteer eerder die koningstaal van sy tyd – Engels – moes praat, was Afrikaans onlosmaaklik ingebind in ’n politieke stryd om selfhandhawing. Toe in die jare vyftig skole op die Kaapse vlakte as Afrikaansmediumskole gevestig is, was onderwysleiers se aanklag dat ’n verwerplike politiek van Afrikanerisering bedryf word. En besoek ’n mens vandag een van die belangrikste monumente vir Afrikaans, die Hector Peterson Museum in Orlando-Wes, Soweto, konfronteer die dure gevolge van politieke mag jou met elke tree, net soos Nelson Mandela se lees van ’n Afrikaanse gedig tydens die opening van die eerste demokratiese parlement nuwe bestaansmoontlikhede geopen het.

Natuurlik was daar momente in die geskiedenis van Afrikaans toe die politiek op die agtergrond geskuif is en die pragmatiese voorrang geniet het, soos toe die Turkse aankomeling Abubakr Effendi die spreektaal van die strate gebruik het om sy riglyne vir die beoefening van Islam in Bayan-al-Din te verkondig, of toe Arnoldus Pannevis betoog het dat die Bybel vir die Kaapse onderklas – “de kleurlingen” – toeganklik gemaak moes word. Maar sulke momente is raar. Die metafore wat Afrikaans tot “’n verdrukkerstaal”, “’n versoenende taal”, “’n vriendelike taal” of “’n minderheidstaal” wil verklaar, is ten diepste politieke stellings. Elke kunste-, musiek-, kos- of dergelike fees wat vandag oproepe vir Afrikaans wil maak – ook hierdie Roots-fees – skryf in groot letters die politiek van Afrikaans.

Dit kan nie anders nie – en miskien móét dit nie anders wees nie. Ja, inderdaad, Afrikaans was die taal van dwang en oorheersing, van onuitspreekbare geweld, maar dit was ook die taal van kanalla, van omgee en medemenslikheid, ’n taal van verset en vryheidsoeke. Ook hierdie politieke gespletenheid kan nie anders nie. Tans staan Afrikaanse kultuur en taal in ’n gees van verandering, miskien meer as in enige periode voorheen. Oproepe oor die plek van Afrikaans as openbare taal, as onderwystaal, as universiteitstaal word by herhaling gemaak – en tereg, die plek van Afrikaans moet inderdaad beding word. Maar in sulke omstandighede kan Afrikaans juis nie ’n taal sonder politiek wees nie – géén taal is nie – en diegene wat aandring op ’n waardevrye, politieklose taal, bedryf subtiel hul eie politiek.

Vandag kenmerk burokratiese traak-my-nie-agtigheid die amptelike posisie van Suid-Afrikaanse tale, insluitende Afrikaans. (En laat my standpunt daaroor duidelik wees: die regering se verwaarlosing van inheemse Suid-Afrikaanse tale geskied ten koste van ons mense se sosiale en opvoedkundige ontwikkeling. Ons ontwikkel nie Suid-Afrikaanse tale optimaal nie en dit is tot ons almal se nadeel.) Maar terug na Afrikaans: die gemeenskapsgesprek oor die taal word oorheers deur voorstaanders van ’n eng nasionalisme wat oorverdowend die saak van “die minderheid”, “taalregte” en “ons eie” stel. Die metafore van vrees en die angste vir die onbekende oorheers. In die verlede het my ervaring daarop uitgeloop dat ten spyte van ’n gewaande openheid in sulke organisasies en gesprekke, die behoeftes en die assosiasies in sulke liggame kort voor lank draai om die belange – soms subtiel maar meesal minder subtiel – van “ons minderheid”, “ons wat moet beskerm …”

Vir sommige ander is Afrikaans ’n taal van ambivalensie – ’n toestand wat al vir dekades en geslagte bestaan. Afrikaans is die taal van marginaliteit, die taal van ’n onderklas wat nie die aspirasies van sosiale mobiliteit kan vervat nie. Vir diegene moet, ten spyte van hul eie moedertaalvaardigheid, weg van Afrikaans gemigreer word, want dit is ’n teken van mindere sosiale status of hulle moet migreer ter wille van ekonomiese geleenthede of gewoon om politieke redes.

Die meerderheid sprak by wyse van spreke g’n sprook nie. Tog beteken dit nie onverskilligheid nie. Meesal is die taal ’n wesentlikheid waarsonder hulle nie kan bestaan nie. Die grootste gros van hierdie meerderheid is swart Afrikaanssprekers, in die generiese sin van die woord. Die demografiese feit is dat meer as 60% van eerstetaalsprekers van Afrikaans swart is; dat die meerderheid van hulle arm is; dat hulle plek totaal onderbeklemtoon word en in die debatte oor die toekoms van Afrikaans selfregverdigend gemanipuleer of gewoon net geïgnoreer word. Tog is hierdie feit een van die grondaspekte van Afrikaans: Afrikaans se toekoms in Suid-Afrika gaan medebepaal word deur die sosiaal-ekonomiese verskuiwings, die politieke keuses en die assosiasies van swart sprekers van Afrikaans.

My verdere voorwetenskaplike aanname is dat die plek van wit sprekers van Afrikaans met verdrag minder gaan word en dit is gewoon ’n funksie van die bekende sosiale indekse van geboorte, dood en migrasie. Daarmee saam, neem ek aan, gaan die tradisionele assosiasies van die taal met Afrikaner-nasionalisme en die politiek van separatisme en apartheid verminder.

Hoe lyk ons toekoms as Afrikaanssprekendes dan? Die kort antwoord is dat die toekoms van Afrikaans die werklike betrokkenheid van alle sprekers van Afrikaans by sy ontwikkeling behels en dit beteken meer as net die “wit”-“bruin” assosiasies wat deesdae vooropstaan. Dit beteken dat daadwerklike pogings om Afrikaans te laat gedy oor alle sosiale en etniese grense sal moet strek. Dit behels onder meer die wete dat die ou outoriteite van die verlede geleidelik vervang en die verskeidenheid opgeneem sal moet word – met ’n groter openheid.

Ons land se kulturele toekoms berus op ’n onomkeerbare proses van kreolisering. Anders as in vorige periodes van hierdie land se ontwikkeling vermoed ek dat daar nou en in die toekoms toenemend minder statutêre en morele hindernisse op die weg van toekomstige kreolisering sal wees. Op ’n mees basiese vlak was apartheid met sy geweld en sy stringe wetgewing die uiterlike demonstrasie van die vrees vir mélange, die vrees vir die historiese gang van sake en op die lange duur was dit futiel. Suid-Afrika was die ruimte waar kreolisering met alle mag beëindig en stopgesit moes word, maar nou sal die durende proses van kreolisering sy loop neem.

Kreolisering is in die verlede dikwels gesien as afwyking, as gebrekkigheid, as besoedeling; en in Suid-Afrika, waar ons erg gely het onder dominante opvattings oor suiwerheid en kulturele en talige essensies, moet ons opnuut kyk. Hierdie land se grootste bate is dat hy kultureel divers is en dat mense van uiteenlopende agtergronde in hierdie land leef. Ons moet aanvaar dat daardie diversiteit alles in ons land gaan beïnvloed – ook ons tale. Maar kreolisering is meer as net vermenging van tale. In wese behels dit die vorming van nuwe kulture. Die teoretikus Homi Bhabha praat van hierdie hibridisering as die skepping van “derde ruimtes” – ruimtes waar die ou geskiedenisse verplaas en nuwe outoriteite, nuwe kulture gevestig word. Die vroeë geskiedenisse is gekenmerk deur hul vasklou aan die verlede, hul vasklou aan die wortels van vermeende suiwer essensies terwyl die nuwe in stryd en spanning gebore word.

Ek staan oop vir ’n Afrikaans vry van die behoudende dwang van vorme van eng nasionalisme wat so ’n groot deel van sy formele ontwikkeling oor die afgelope eeu gekenmerk het en vandag op allerlei maniere, in nuwe gedaantes, deel bly van ons huidige diskoers in so ’n mate dat dit klink asof hul verteenwoordigers die enigstes is wat oor Afrikaans of sy toekoms praat. Op kultureel en talige vlakke verteenwoordig die verteenwoordigers of hul gekoöpteerdes egter ’n kwynende era – vandaar ook die metafore van verlies wat daaraan kleef. Hierdie diskoers ten spyte van die regmatige aandrang op taalregte het op die lange duur geen breë legitimiteit nie.

’n Oper, ruimer Afrikaans beteken dat ons as ’n beginpunt moet aanvaar dat die toekoms van hierdie taal en kulturele omgewing kreolisering beteken. Dit is egter nie histories-onvermydelike determinasie nie, maar dit beteken wel dat ons die intellektuele en openbare omgewing moet skep waar kreolisering as ’n bate gesien word. Die voortgesette ontplooiing van ’n opnuut gekreoliseerde kultuur beteken dat onderwysers, onderwysbeplanners, redakteurs, radio- en televisieprogrammeerders, taalbeplanners, woordeboekmakers en dergelike met totaal ander oë na Afrikaans moet kyk. Hierdie kreoliserende kultuur en taal borrel onder die oppervlak van die amptelike en word steeds as afwyking of eksoties ervaar. Of erger: hierdie instellings gebruik dit nog as strategie van uitsluiting, byvoorbeeld: “Praat reg of skryf reg, anders kan jy nie die eksamen slaag nie.” By hierdie instellings sal ’n bewuste koestering van die nuwe moet plaasvind.

Dit is in hierdie “derde ruimte” dat ’n oper, breë kultuur en talige manifestasie gevestig word, maar daarvoor het ons ’n bewuste politiek van inklusiwiteit nodig. Toenemend sal ons nie meer die gegermaniseerde, “wit” vorme van Afrikaans of Afrikaanssprekendheid wat ons verlede en hede kenmerk, as die standaard, die vanselfsprekende, onuitgesproke norm kan aanvaar nie; ons sal radikaal anders met die Afrikaanse kulturele en talige omgewing moet omgaan.

Ek dank u.

Kommentaar is welkom. Stuur ’n brief aan webvoet@litnet.co.za vir publikasie op SêNet.

<< Terug na die Roots-konferensieblad | Back to Roots conference page <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top