Annél Otto en Else Boekkooi gesels met Remona Voges oor hul artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), "Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see".

Fotobron: Unsplash
Hallo Annél en Else. Baie geluk met jul LitNet Akademies-artikel “Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see”. Ek het dit geweldig interessant gevind. Waarom is dit, in jul mening, belangrik om die oorsprong van woorde, uitdrukkings en idiome te verstaan?
Dieselfde rede waarom ’n mens jou familiestamboom so ver moontlik probeer navors: om by jou wortels uit te kom. Al is ons taal minder as 400 jaar oud, gaan sy wortels veel en veel dieper. Dis waar ons wil uitkom, juis in hierdie tyd waarin soveel idiomatiese uitdrukkings besig is om in onbruik te raak. David Wilton wys tereg daarop dat die studie van die oorsprong van woorde en frases nie noodsaaklik is in dié sin dat dit lewens kan red nie, maar dat dit fassinerende insigte bied in die geskiedenis en die aard van menswees. Hy noem verder dat taal nie net mettertyd groei en verander nie, maar dat dit die spil is van ons identiteite. Verder is daar soms verskillende idees oor die herkoms van ’n uitdrukking. Indien die storie oor die oorsprong waar is, is dit meestal baie interessant. Wanneer dit nie waar is nie, help die soektog na die ware Jakob mens om jou kritiese denkvaardighede op te skerp.
Die herkoms van linguistiese vorme (morfeme, woorde en uitdrukkings) is nie net vir sowel baie linguiste as leke interessant nie, dit het ook opvoedkundige waarde. Pierson (1989) argumenteer oortuigend in die ELT journal (43[1]: 57-63) dat etimologie-onderrig betekenisvolle taalkundige inligting en beginsels aan die intermediêre/gevorderde tweedetaalleerder kan verskaf. Betekenisvolle leer gebeur wanneer leerders voortbou op dit wat hulle reeds weet, inligting word langer behou en kan makliker veralgemeen word.
Waar het die inspirasie vir julle artikel vandaan gekom en hoekom het julle besluit om te fokus op woorde/uitdrukkings wat met die see verband hou?
Die Nelson Mandela Universiteit het in Junie 2018 ’n kollokwium oor verskillende aspekte van die see aangebied en dit was vir my (Annél) ’n goeie geleentheid om op tuisbodem ’n taalkundige bydrae te lewer. Die see en alles wat daarmee verband hou, het my in ieder geval nog altyd gefassineer. Aangesien taalgeskiedenis nie my spesialisveld is nie, het ek besluit om die besondere kundigheid van Else te benut om saam met my hierdie tema aan te pak.
Julle skryf in jul artikel dat “17de-eeuse Nederlandse seemanstaal ’n belangrike rol gespeel het om uitdrukkings wat met die see as tema verband hou in Afrikaans te laat posvat”. In hoe ’n mate het die 17de-eeuse Nederlandse seemanstaal van ander Nederlandse dialekte verskil?
Die woord “seemanstaal” is eintlik ’n problematiese benaming. Daar was in dié tyd geen sprake van ’n eenheidstaal nie. Die VOC-matrose was maar ’n redelike bontspul; nie net was hulle uit alle dialekhoeke en -streke van die Lae Lande afkomstig nie, maar baie van hulle het bowendien uit ander lande soos Duitsland, Frankryk, Skandinawië en die Balkanlande hulle heil by die VOC kom soek. Die algemene voertaal op VOC-skepe was wel Nederlands, maar waarskynlik het ’n mens in praktyk maar ’n mengelmoes van dialekte en ander Europese tongvalle gehoor, in ieder geval nie die hoogdrawende soort Nederlands wat amptenare soos Van Riebeeck gebruik het nie. Uiteraard het die woordeskat ook woorde bevat wat spesifiek op die skeepvaart van toepassing was en nie noodwendig in ander kontekste ewe gebruiklik was nie.
Idiome is vir my interessant omdat dit, soos humor, dikwels moeilik en selfs onmoontlik is om te vertaal omdat konteks en verwysingsraamwerke dikwels ’n deurslaggewende rol speel vir ’n begrip daarvan. Stem julle saam met hierdie stelling? Brei asseblief uit.
Ja, inderdaad. Soos reeds in die inleiding genoem, is ’n idioom juis ’n uitdrukking wat heeltemal ’n ander betekenis het as die somtotaal van die woorde daarin. Dus, om dit te kan interpreteer, is ’n begrip van die konteks seer sekerlik van deurslaggewende belang. As mens byvoorbeeld die idioom “oor ’n ander boeg gooi” wil vertaal, moet jy nie net met die woorde nie, maar veral ook met die konteks rekening hou. Dit kan dan verskillende vertaalmoontlikhede tot gevolg hê, byvoorbeeld try another tack; change one’s tune; change the subject.
Afrikaans is by uitstek ’n baie idiomatiese taal, myns insiens baie meer so as byvoorbeeld Engels. Sou julle sê dat moderne Nederlands ewe idiomaties is, of het dit oor die eeue heen minder idiomaties geword?
Dis ’n moeilike een! Dit is natuurlik so dat die hele taalverwysingsraamwerk in Nederlands – soos trouens ook in Afrikaans – hoe langer hoe meer globaal begin word het en idiomatiese uitdrukkings dus minder taalspesifiek geword het, maar minder idiomaties …? Ongelukkig kon ons albei in ons kontak met studente konstateer dat ook in Afrikaans heelwat idiomatiese uitdrukkings in die vergeetboek begin verdwyn. Dus is ons geneig om te sê: “Nee, ons dink nie so nie”.
Wat was vir julle van die interessantste voorbeelde van 17de-eeuse Nederlandse seemanstaaluitdrukkings wat vandag nog in Afrikaans neerslag vind?
Behalwe alledaagse, algemeen bekende woorde soos “agterbaks”, “dwarsboom” en “ruimskoots”, wat oorspronklik gevorm is van woorde wat in Nederlands verwys na skeepsonderdele ( “-bak, “-boom” en “-skoot”), maar wat in Afrikaans hoegenaamd nie meer in dié konteks bekend is nie, verder veral ook dié uitdrukkings wat hier te lande ’n nuwe lewe ontwikkel het, soos bv die volgende:
Die Nederlandse “schoon schip maken” of “zijn schip schoonmaken” kom reeds so vroeg as 1600 voor in die figuurlike betekenis “van alle schuld ontslae raak” of, soos beide HAT en Van Dale dit stel, “opruiming hou van alles wat nie deug nie”. Mettertyd kom daar egter ’n uniek Afrikaanse betekenis by, naamlik “alle wedstryde wen”.
As mens ’n uiltjie knip, dut jy ’n rukkie of jy sluimer in. In Nederlands verwys “uiltje” na ’n soort mot wat groot skade kon aanrig aan landbouprodukte, en om ’n uiltjie te knip het oorspronklik letterlik beteken om die mot te vang. Hierdie letterlike betekenis bestaan egter glad nie meer in Afrikaans nie.
In 17de-eeuse Nederlands verwys “een uiltje knappen/vangen” egter na die situasie dat die stuurman skielik teen die wind vaar omdat hy nie behoorlik opgelet het nie, waarskynlik omdat hy ingedut het, vandaar die figuurlike betekenis “een slaapje/dutje doen”. In die Groningse dialek bestaan ook die uitdrukking “een vlinder knippen”, wat beteken om stokkies te draai. Jy steel dus skooltyd, net soos wat die seeman slapies steel.
Dis maar enkele voorbeelde. Die hele ondersoek was egter vir ons ’n avontuurlike en opwindende ontdekkingsreis, en dan wel per seilskip natuurlik.
Lees ook:
Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see
Kommentaar
Vir mense van my ouderdom is daar nog heelwat van die idiome, wat hul herkoms uit die plaaslewe het. Dit is vir moderne jongmense Grieks. "Agteros kom ook in die kraal." "Mamma se witbroodjie!"
Dis ’n fassinerende artikel. My belangstelling kom meer vanuit ’n sielkundige perspektief. As mens taal vanuit ’n psigodinamiese perspektief beskou, kan die geskiedenis daarvan as deel van die kollektiewe onbewuste gesien word. Idiome kan amper as die taalekwivalent van ’n psigologiese argetipe gesien word.
Daarby, alles wat met taal te doen het, het ’n dieptestruktuur met psigologiese implikasies. Veranderinge in die betekenis van woorde en gesegdes is heel moontlik sterk aanduidings van hoe mense se denke en emosionele reaksies oor tyd verander het.
Om nie eens van kultuurverandering te praat nie. Ek sou so ver gaan as om te sê alle sosiale dinamika word in taal gereflekteer.
Afrikaans meer idiomaties as Engels?!? Seker net as jy laasgenoemde net geradbraak kan gebruik.