|
Opsomming
Die doel van hierdie artikel is om aan te toon watter rol 17de-eeuse Nederlandse seemanstaal (en daarmee saam handelstaal) gespeel het in die totstandkoming van die Afrikaanse leksikon, meer spesifiek betreffende vaste uitdrukkings wat met die seetema verband hou. Die artikel is ’n gewysigde weergawe van ’n referaat wat in 2018 by ’n kollokwium oor die see by die Nelson Mandela Universiteit aangebied is (Otto 2018). Verskillende teoretiese raamwerke is hier ter sake, naamlik die taalgeskiedenis, leksikologie en fraseologie. Die herkoms van uitdrukkings wat verband hou met die see word ondersoek deur gebruik te maak van ’n literatuurstudie waarin sowel Nederlandse as Afrikaanse etimologiewoordeboeke gebruik word, naas ander tersaaklike bronne oor taalgeskiedenis. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans. Selfs voordat die VOC Jan van Riebeeck en sy mense na die Kaap gestuur het om ’n verversingspos te stig, het baie VOC-reisigers ’n aangepaste vorm van Nederlands gedurende hulle verblyf in die Ooste verkry en hulle het lang tydperke aan die Kaap deurgebring tydens hulle terugvaart (De Ruyter en Kotzé 2002). Die verskillende variëteite van die ongestandaardiseerde Nederlands (op daardie stadium) het saam met Jan van Riebeeck en die nedersetters uit verskillende dialekgebiede van Nederland, en met verskillende beroepe, na die Kaap gekom. Die matrose en ander laaggeskoolde nedersetters het eenvoudiger taal gebruik as die formeler Nederlandse amptenaartaal (Carstens en Raidt 2017:347). In hierdie artikel word nie in besonderhede aandag geskenk aan al die ontstaansteorieë oor Afrikaans nie, maar slegs gefokus op die rol van seemanstaal en handelstaal van Nederlands. Hoewel hierdie artikel fokus op die herkoms van vaste uitdrukkings, kan die invloed van 17de-eeuse seemanstaal op Afrikaans ook aangetoon word op woordvlak, soos Scholtz (1965:174–8) tereg uitwys deur skeepswoorde soos kombuis, kombers, spens, kooigoed, afslag, baken, balie, bottel en kok.
Trefwoorde: Afrikaans; betekenis; idiome; leksikon; Nederlandse oorsprong; skeepvaart; see; spreekwoorde; taalgeskiedenis; vaste uitdrukkings
Abstract
The history of some Afrikaans expressions dealing with the sea
The aim of this article is to indicate the role that 17th-century Dutch nautical language (and trade language as well) played in establishing the Afrikaans lexicon, more specifically with regard to fixed expressions relating to a sea theme. The article is a revised version of a paper read in 2018 at a colloquium about the sea hosted by the Nelson Mandela University (Otto 2018).
Different theoretical frameworks are relevant here, namely language history, lexicology and phraseology. Language history deals with the study of the origin and development of a specific language or of languages in general (HAT 2015:1313), while lexicology is the study of the lexicon and the meaning of words, as well as the study about the arrangement of the language in total according to scientific principles (HAT 2015:726). Phraseology is also relevant here as phrases, that is fixed expressions, are studied (HAT 2015:293). All these study fields are used in different degrees in order to establish how fixed expressions like idioms and proverbs which deal with the theme of the sea became part of Afrikaans. The meaning of idioms cannot be explained merely by looking at the sum total of meanings of the individual words, while proverbs, on the other hand, are fixed expressions in which truths are contained.
The history of fixed expressions dealing with the sea will be investigated by using a literature study in which both Dutch and Afrikaans etymological dictionaries are used, as well as other sources, including the day register of Jan van Riebeeck and an archival source indicating some of the areas from which the Dutch settlers came.
According to current lexicographical convention in printed dictionaries the first noun in the expression is used as a lemma. Deviation from this occurs where the first noun has no relation to the sea and a nautical word occurs in the expression. In such cases the second noun is preferred. For coherence and synopsis lemmata are divided into four categories, according to the aspect of navigation that the expression relates to: the ship itself and ship equipment, life and work on board, the sea landscape and land, pier and shipyard.
The Dutch East India Company (VOC) played an important role in the development of Afrikaans. It was an organisation that received sole trading rights east of the Cape of Good Hope and west of the Street of Magellan by the Dutch government. It was established on 20 March 1602. It was important for the ships that sailed from Europe to Asia to get fresh water and food, therefore Jan van Riebeeck and his people were sent at the end of 1651 from the Netherlands to the Cape to establish a refreshment post there. Even before the VOC sent Jan van Riebeeck and his people to the Cape to establish the refreshment post many VOC travellers had acquired an adapted form of Dutch in the East, and they spent substantial periods at the Cape when they journeyed back to the Netherlands.
De Ruyter and Kotzé (2002) indicate that the earliest roots of Afrikaans can be traced back to Austro-Dutch. In the 17th century Dutch had not yet been standardised and there were many varieties of Dutch in the Netherlands. These different varieties came to the Cape with Jan van Riebeeck and the settlers, who had different jobs in the Netherlands and were from different dialect areas. Van Riebeeck and the other officials of the VOC had to speak the more formal Dutch (Carstens and Raidt 2017:346), while the sailors and other settlers schooled only to a lesser degree used simpler language. Afrikaans is not a daughter language of modern Dutch, but a sister language, as they had the same basis, namely the 17th-century Dutch dialects (Carstens and Raidt 2017:347).
There are various theories about the history of Afrikaans, but according to Carstens and Raidt (2017:431) no theory can fully answer all the questions about the origin of Afrikaans. There are four (groups of) perspectives on the origin of Afrikaans: that of the role of varieties of Dutch in the development of Afrikaans; spontaneous language transfer as factor; the role of learners of the language and the establishment of different varieties; amalgamation of varieties and standardisation. In this article the concern is not with these perspectives, since the focus is on the influence of 17th-century Dutch nautical language on the language at the Cape. The other influences are therefore not denied, but due to the delimitation of the subject only Dutch nautical language will be discussed.
The history of quite a number of fixed expressions from the “sea sub-lexicon” of Afrikaans is described. While some of the expressions remained in comparable form and with the same meaning in Dutch and Afrikaans, e.g. die loef afsteek / de loef afsteken (“to outwit/outmanoeuvre”), a change of meaning occurred in quite a number of expressions in Afrikaans. Another example of similar form and meaning appears in expressions with grootskeeps/grootscheeps, such as grootskeepse feesvierings (“grand celebrations”) and grootskeeps lewe (“live on a large scale, impressively, in a grand style”). In Dutch grootscheeps can be traced back to the 17th-century in the meaning of “according to the manner or use of a big ship, in other words in a huge, luxurious or beautiful manner”, as in een grootscheepse huishouding/leven (“on a large scale / impressive”) or grootscheeps doen (“do on a grand scale”). The expression van bakboord na stuurboord stuur is currently less used in Dutch than the synonymous expression het kastje naar de muur zenden. In some instances expressions in Dutch became extinct, like expressions with (Afrikaans) bottel. The Afrikaans expression diep in die bottel kyk (“be fond of liquor”) has the following equivalent in Dutch: diep in het glaasje kijken. Similarly expressions with the word kombers (“blanket”) in them stayed alive only in a naval context in Dutch, while it acquired a more inclusive meaning in Afrikaans, e.g. onder een kombers slaap, al jou kinders onder een kombers kan toemaak, etc. Meaning expansion also happened with the word anker (“anchor”), as in the expression ankers uitgooi (“to brake”), which appears only in Afrikaans. The word balie (“open barrel or cask”) also developed an additional meaning in Afrikaans, namely “corpulent person”.
Keywords: Afrikaans; Dutch origin; fixed expressions; idioms; lexicon; meaning; navigation; proverbs
1. Inleiding
In hierdie artikel word die herkoms van Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see nagegaan. Die doel van die artikel is om aan te toon watter rol 17de-eeuse Nederlandse seemanstaal (en daarmee saam handelstaal) gespeel het in die totstandkoming van die Afrikaanse leksikon, meer spesifiek wat vaste uitdrukkings wat verband hou met die seetema, betref. Hierdie artikel is ’n gewysigde weergawe van ’n referaat wat in 2018 by ’n kollokwium oor die see by die Nelson Mandela Universiteit aangebied is (Otto 2018).
Verskillende teoretiese raamwerke kan benut word om die genoemde tema te ondersoek, byvoorbeeld leksikologie, wat die “leer [is] van die woordeskat en die betekenis van woorde; leer omtrent die ordening van die taalskat volgens wetenskaplike beginsels” (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, voortaan HAT 2015:726); taalgeskiedenis, die “bestudering van die herkoms, wording en ontwikkeling van ’n besondere taal of tale, of van taal in die algemeen” (HAT 2015:1313); en die fraseologie, wat frases wat vaste uitdrukkings is, bestudeer (HAT 2015:293). Al hierdie studievelde word in ’n meerdere of mindere mate betrek ten einde na te gaan hoe vaste uitdrukkings soos idiome en spreekwoorde wat met die seetema verband hou, deel van Afrikaans geword het. Idiome se betekenis kan nie verklaar word deur na die somtotaal van betekenisse van die individuele woorde te kyk nie, terwyl spreekwoorde vaste uitdrukkings is waarin waarhede na vore kom (Collins Online Dictionary s.j.).
Vir hierdie artikel is gebruik gemaak van ’n literatuurstudie waarin sowel Nederlandse as Afrikaanse etimologiewoordeboeke gebruik is, naas ander relevante bronne.
Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans. Dit was ’n organisasie wat in die 17de en 18de eeue die alleenreg op handel oos van die Kaap die Goeie Hoop en wes van die straat van Magellaan by die Nederlandse regering gekry het. Die VOC is op 20 Maart 1602 gestig en het uit ses kamers bestaan: Amsterdam, Middelburg, Enkhuizen, Delft, Hoorn en Rotterdam. Dit was belangrik vir die skepe wat vanaf Europa na Asië gevaar het om vars water en voedsel te verkry, gevolglik is Jan van Riebeeck en sy mense aan die einde van 1651 uit Nederland na die Kaap gestuur om ’n verversingspos daar te stig (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie s.j.).
De Ruyter en Kotzé (2002) dui aan dat Afrikaans nie eers ná 1652, toe Van Riebeeck en sy mense by die Kaap aangekom het, begin ontwikkel het nie, maar dat die vroegste wortels na Austro-Nederlands teruggevoer kan word. Verkorte werkwoordvorme kan byvoorbeeld ook gevind word in sowel die Ceylon-Portugese kreool as in Indonesies en Maleis-beïnvloede tale van Indonesië. Baie VOC-reisigers het ’n aangepaste vorm van Nederlands gedurende hulle verblyf in die Ooste verkry en hulle het lang tydperke aan die Kaap deurgebring tydens hulle terugvaart na Nederland.
Carstens en Raidt (2017:346) wys op die belang van die Nederlandse taalgeskiedenis vir die studie van Afrikaans se ontwikkeling. In die 17de eeu was Nederlands nog nie gestandaardiseer nie en daar was baie variëteite in Nederland. Hierdie verskillende variëteite het saam met Jan van Riebeeck en die nedersetters, uit verskillende dialekgebiede van Nederland en met verskillende beroepe, na die Kaap gekom. Die Monsterrolle in die Wes-Kaapse Argief bevat die name van alle VOC-amptenare, en elke persoon se plek van herkoms en plaaslike beroep. Jan Riebeeck (Command:r)1 het van Cuylenburgh gekom, Pieter van der Stael (sieckentrooster) van Rotterdam, Jan van Harwaerden (sargeant) van Deventer, Arent van Strylandt (bottelier) van Amersfoort, Hendrick Hendricksz.Boom (hovenier) van Amsterdam, Hendrick Juriaens.Hartsman (baesmith) van Oldenburch, David van Eps (onderbarbier) van Lochum, Jonas de la Geune (wiltschut) van Havre de Grace, Cornelis Cornelisz (soldaat) van Rotterdam, Jacob Beeckman (cuyper) van Wesel, Ryck Overhagen (soldaet) van Steenwijck en Gijsbert Andriessz (baes int bosch) van Langesont (Liebenberg 2018:212). Van Riebeeck en die ander amptenare van die VOC moes die formeler Nederlandse amptenaartaal gebruik (Carstens en Raidt 2017:346), terwyl die matrose en ander laaggeskoolde nedersetters eenvoudiger taal gebruik het.
Afrikaans is nie ’n dogtertaal van (moderne) Nederlands nie, maar ’n sustertaal, want albei het op hulle eie wyse gestandaardiseer geraak op verskillende kontinente, maar dieselfde basis gehad, naamlik die 17de-eeuse Nederlandse dialekte (Carstens en Raidt 2017:347).
Daar bestaan verskillende teorieë oor die ontstaan van Afrikaans, maar geen teorie kan volgens Carstens en Raidt (2017:431) al die vrae oor die ontstaan van Afrikaans volledig beantwoord nie.
Conradie en Groenewald (2017:44) dui vier groepe beskouings oor die ontstaan van Afrikaans aan: die rol van variëteite van Nederlands in die vorming van Afrikaans; spontane taaloordrag as faktor; aanleerders se rol en die vorming van verskillende variëteite; en laastens die samesmelting van variëteite en standaardisering. In hierdie artikel word dié debat nie betrek nie, want die fokus is op die invloed van 17de-eeuse Nederlandse seemanstaal op die Kaapse taal. Die ander invloede word dus nie ontken nie, maar ter wille van die afbakening van die onderwerp word slegs Nederlandse seemanstaal betrek.
Die vraag kan tereg gevra word watter bewyse daar bestaan vir die invloed van seemanstaal op Afrikaans.
Wat woorde betref, wys Scholtz (1965:174–5) daarop dat uit aantekeninge van Van Riebeeck gesien kan word dat die skeepsterme kombuis en kombers van die begin af aan die Kaap gebruik is. In Van Riebeeck se Dagregister is daar by 10 April 1652 ’n kaart van die Fort de Goede Hoop, en in die sleutel tot hierdie kaart word die woord combuys aangedui as g (vergelyk 2.1.10., kombuis). Die ander woorde word slegs genoem en nie verder bespreek nie, aangesien hierdie artikel oor vaste uitdrukkings gaan, en nie spesifiek oor woorde nie.
Daarnaas kom ook woorde voor soos spens, kooigoed, afslag, baken, balie(s), bottel, brandwag, bulsak, dros (ww.), kardoes en reling, wat in argiefstukke van die 17de eeu voorkom (Raidt 1980:163). Liebenberg (2018:213) noem ook die woorde kok en koksmaat.
Vervolgens sal spesifieke uitdrukkings in alfabetiese orde (volgens trefwoorde) bespreek word.
2. Bespreking onder trefwoorde
Volgens die bestaande leksikografiese konvensie word die eerste selfstandige naamwoord in die uitdrukking as trefwoord gebruik. Hiervan word egter wel afgewyk waar die eerste selfstandige naamwoord geen verband met die seevaart toon nie en daar wel ook in die uitdrukking ’n seemanswoord voorkom; in dié geval word die tweede verkies.
Ter wille van samehang en oorsigtelikheid word die trefwoorde in vier kategorieë verdeel na gelang van die aspek van die seevaart waarmee die uitdrukking verband hou: 2.1 Die skip en skeepstoerusting; 2.2 Die lewe en werk aan boord; 2.3 Die seelandskap; en 2.4 Land, kaai en skeepswerf.
2.1 Die skip en skeepstoerusting
Figuur 1. Die dele van ’n skip (Bron: https://historiek.net/gezegdes-en-uitdrukkingen-uit-de-scheepvaart/58445)
2.1.1 anker
Wanneer ’n mens êrens of by iemand anker gooi, of jou anker(s) laat val, dan vestig jy jou êrens of by iemand (Du Plessis (hoofred.) 2005:34 – voortaan Du Plessis). As jy jou anker lig, vertrek jy of neem jy afskeid van iets/iemand (Verklarende Afrikaanse woordeboek 1993:42 – voortaan VAW), en iets of iemand wat vir jou ’n anker is, bied vir jou steun en veiligheid (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal 2015:56 – voortaan HAT).
Al hierdie uitdrukkings is ook in Nederlands in dieselfde betekenis algemeen bekend: ergens zijn anker laten vallen, uitwerpen / neergooien; het / zijn anker lichten en het anker onzer hoop / het anker van troost (Van Dale Groot woordenboek der Nederlandse taal 1984:182 – voortaan Van Dale). ’n Uitsondering is die informele uitdrukking ankers uitgooi, “remme aanslaan”, wat slegs in Afrikaans voorkom (Du Plessis 2005:34).
Beide die voorwerp en die woord anker is reeds vroeg in Germaans uit die Romeinse skeepvaart oorgeneem, wat die nuwe uitvindsel (en woord) op sy beurt aan Grieks (ankura) te danke het (Philippa, Debrabandere, Quak, Schoonheim en Van der Sijs 2010). In Middelnederlands (1240) kom anker in die letterlike sin voor, maar teen die 17de eeu is dit ook in die oordragtelike betekenis algemeen gebruiklik (Stoett 2010).
2.1.2 bak
In VAW (1993:8) word die uitdrukkings fluks/gou/vinnig by die bak, maar lui by die vak, “gretig om te eet, maar nie om te werk nie”, asook uit dieselfde bak eet, “op goeie voet met mekaar verkeer”, en nie uit een bak eet nie, “nie met mekaar kan klaarkom nie”, gevind.
In Van Dale (1984:237) staan onder bak 7: (scheepst, veroud.) “houten balie waarin de warme spijs voor de schepelingen van de kok wordt gehaald; aan de bak eten de baksmaats”. Nie een van die Afrikaanse uitdrukkings hier bo kon in dieselfde vorm in Nederlands opgespoor word nie, maar in die Limburgse streektaal kom wel (vlug) bij den bak zijn, “er vlug bij zijn om te eten”, voor (Stoett 2010), en in Van Dale (1984:237) word onder bak 7 ook die uitdrukking aan de bak, “aan de familiedis”, gevind.
Die woord bak stam uit die Middelnederlands bac of backe, “kom, trog of vat” (1285), wat oorspronklik ontleen is aan Oudfrans bac, “bak, broukuip” (12de eeu) < Latyn baccu(s), wat op sy beurt waarskynlik ’n ontlening uit Kelties (Gallies) is (Philippa e.a. 2010).
2.1.3 bakboord
Die Afrikaanse uitdrukking iemand van bakboord na stuurboord stuur, “iemand rond en bont stuur” (HAT 2015:74), is saamgestel uit: bakboord, “linkersy” (1599) van Middelnederlands, bac, “rug”, en stuurboord, “van agter na voor gesien die regtersy van die skip” van stuerbort (1532).
Vroeër het mens nie ’n vaste roer in die lengte-as van die skip gehad nie, maar agteraan deur die regter–boord, “opstaande skeepswand”, ’n soort rug na die linkerkant, wat back boord genoem is (1599), ’n samestelling met bac, wat in Middelnederlands ook “rug” kon beteken. Vergelyk ter aanvulling ook boord, “rand”, in die vroeë Friese waternaam Bordine (701–750), bo(o)irt, bord, “rand, soom (van skip, klere)” (Van Veen en Van der Sijs 2010).
Hoewel die uitdrukking van bakboord naar stuurboord zenden en daarnaas ook soms van bikboord naar bakboord zenden wel in Nederlands bestaan (Van Dale 1884:237), is dit teenswoordig veel minder gebruiklik as die sinonieme uitdrukking van het kastje naar de muur zenden. Martin (hoofred.) (2011:167) dui die uitdrukking selfs as uitsluitlik Afrikaans aan. Dit gaan hier dus om ’n segswyse wat in Afrikaans standgehou het terwyl dit in Nederlands grotendeels vervaag het.
2.1.4 balie
Hoewel die woord in die algemene betekenis “oop vat of kuip” in Nederlands in onbruik geraak het, het dit wel al sedert die 16de eeu in die seevaartkonteks bestaan, en is byvoorbeeld in Killiaen se Etymologicum (1599) opgeneem (Boshoff en Nienaber 1967:151). Dit kom ook voor in Van Riebeeck se Daghregister in die meervoudsvorm balijs (Van Riebeeck se Daghregister, 14 September 1652) en soos reeds eerder vermeld, blyk dit uit vroeë geskrifte dat die woord al in die 17de eeu aan die Kaap gebruiklik was (Raidt 1991:185 – voortaan Raidt).
Mettertyd het die woord betekenisuitbreiding ondergaan, en word dit teenswoordig in Afrikaans in ’n veel breër konteks gebruik, nie slegs as seemansterm nie. Volgens Van Wyk (2003:35) het daar selfs in Afrikaans ’n bykomende oordragtelike betekenis ontwikkel, naamlik “swaarlywige persoon”, soos blyk uit ’n regte balie wees. In VAW (1993:56) kon drie verdere uitdrukkings met balie opgespoor word, naamlik leë balies/blikke maak die meeste geraas (teenswoordig meer bekend as leë bottels maak die grootste geraas), “mense met min verstand praat die meeste”, hy is lig in die balie, “hy het nie veel persoonlikheid nie” en die balie het hom omgeskop, “hy is dronk”. Nie een hiervan word egter in meer onlangse woordeboeke opgeneem nie, en hulle is dus vermoedelik verouderend of reeds verouderd.
Hoewel balie II wel in Van Dale (1984:241) opgeneem is, word daarby vermeld dat die woord spesifiek verwys na “een grote tobbe of kuip ... zoals op schepen gebruikt wordt”, en dat dit slegs gewestelik voorkom in uitdrukkings soos een balie koffie, “’n groot koppie koffie”, en een bezige balie, “’n bedrywige vrou”.
2.1.5 boeg
Gouws en De Villiers (1988:10) verklaar iets oor ’n ander boeg gooi as “iets op ’n ander manier aanpak”. HAT (2015:128) bevat ook die uitdrukking jou oor ’n boeg werk, “sonder ophou werk”, wat vermoedelik na ’n veel ouer betekenis teruggevoer kan word.
Die woord boeg stam naamlik uit Vroeë Middelnederlands boegh (1240), waar dit na die voorskenkel van diere verwys het, ’n betekenis wat nog steeds in Nederlands en Afrikaans bestaan, soos blyk uit boeg 4 in Van Dale (1984:386) en boeg 2 in HAT (2015:132). In Nederlands kon egter slegs een ekwivalente uitdrukking met boeg in dié betekenis opgespoor word, naamlik uit de boegen, “met groot kragsinspanning”, wat weliswaar as slegs gewestelik aangemerk word (Van Dale 1984:387).
In ’n teks uit 1466 kom boech egter wel reeds in die samestelling boechline voor in die betekenis van die ronding of voorste deel van ’n skeepsromp, en in 1599 as selfstandige woord in dieselfde betekenis (Philippa e.a. 2010). Van Dale (1984:386) gee as tweede betekenis onder boeg 2 aan “een der boorden of zijden van het voorschip, waarover het ligt of zeilt”. Dit is hierdie betekenis waarop die uitdrukking iets over een andere boeg gooien gebaseer is (Meijer 2010).
2.1.6 bottel
Volgens Boshoff en Nienaber (1967:182) is bottel, “glashouer vir vloeistowwe; fles”, oorspronklik aan Oudfrans bouteille ontleen. Dit kom dan ook in Middelnederlands voor as bouteille, boutielje en bottelje, en het via die seemanstaal die Kaap bereik, waar dit in verskeie Kaapse tekste (1652–1705) sy beslag gekry het (Scholtz 1965:174 ).
In Nederlands het bottel egter in onbruik geraak. In Van Dale (1984:424) word die woord wel opgeneem, maar as gewestelik aangemerk, en in Martin (2011:1606) word dit selfs as uitsluitlik Afrikaans aangedui. Hier is dus sprake van ’n seemansterm wat in Nederlands byna geheel uitgesterf het, maar in Afrikaans voortgelewe en selfs dermate uitgebrei het dat ’n hele reeks uniek Afrikaanse uitdrukkings daaruit ontstaan het.
In Martin (2011:289) word verskeie Afrikaanse uitdrukkings met bottel gevind: al bars die bottel, “kom wat wil”; leë bottels maak die meeste/grootste geraas, “mense met min verstand praat die meeste” (nou verouderd, en bottels is vervang deur blikke); te diep in die bottel kyk en lief wees vir die bottel – albei “te veel drink”; dis ’n goeie sluk op die bottel, “dit maak ’n groot verskil”, en les bes ook die kleinste botteltjies hou die grootste gif, “klein mensies is dikwels aggressief”, wat waarskynlik nou verouderd is, aangesien dit nie in HAT (2015) en VAW (2010) voorkom nie.
Volgens Martin lui die vergelykbare Nederlandse uitdrukkings – egter sonder bottel – soos volg: al komt de onderste steen boven; holle vaten klinken het hardst; diep in het glaasje kijken; van de fles houden en dat scheelt een slok op de borrel (drankie). By die laaste uitdrukking, die kleinste botteltjies hou die grootste gif, word egter slegs ’n omskrywing gegee, geen ekwivalente Nederlandse uitdrukking nie.
2.1.7 grootskeeps
Grootskeeps in verbindings soos grootskeepse feesvierings en grootskeeps lewe beteken “op groot skaal” of “indrukwekkend, met praal, deftig, swierig” (HAT 2015:393).
In Nederlands kom grootscheep(sch) volgens Stoett (2010) reeds in die 17de eeu voor in die betekenis van “naar de wijze of naar het gebruik van een groot schip”, met ander woorde “op zeer ruime, weelderige of prachtige wijze”, soos in een grootscheepse huishouding en grootscheeps leven of grootscheeps doen (Van Dale 1984:998).
2.1.8 kelder
Na die kelder gaan beteken (a) “vergaan (van ’n skip gesê)” en (b) “ten gronde gaan, maatskaplik ondergaan” (HAT 2015:602).
In Van Dale (1984:1309) word onder kelder 4 die betekenis “bergplaats van de scheepsvoorraad aan boord” aangegee, met daarby die figuurlike uitdrukking het schip ging naar de kelder, “het zonk, verdween in de diepte”, asook naar de kelder gaan, “te gronde, failliet (bankrot) gaan”. Dié uitdrukking beteken in Nederlands volgens Stoett (2010) dieselfde as naar de haaien gaan, dit wil sê “vergaan, ten gronde gaan”, en is steeds in die skeepvaart algemeen bekend.
Die selfstandige naamwoord kelder is reeds in die vroeg-Romeinse tyd ontleen uit die Latyn cellarium, “voorraadkamer, kelder”, en kom al in Oudnederlands in die meervoudsvorm kellere voor (Philippa e.a. 2010). Hieruit het die werkwoord kelderen ontwikkel.
Die werkwoord kelder word oorganklik gebruik in die uitdrukking ’n skip kelder, “’n skip laat vergaan/sink” (HAT 2015:502), en in breër sin iets kelder, “iets ten gronde rig” (VAW 1993:331). Onoorganklik kan kelder ook “vergaan / skerp daal” beteken (VAW 1993:331). Albei toepassings is ook in Nederlands gebruiklik, byvoorbeeld in een schip kelderen of een voorstel/plan kelderen (Martin 2011:854), asook de aandelen kelderen, “de koers daalt scherp” (Van Dale 1984:1309).
2.1.9 kombers
Scholtz (1965:174) wys daarop dat kombers, “warm bedbedekking”, in Afrikaans gevestig is via die 17de-eeuse seemanstaal, waar kombaars spesifiek verwys het na die growwe wolbedekking waarmee die seelui op skepe tevrede moes wees.
In Afrikaans het die woord mettertyd ’n meer inklusiewe betekenis verkry, wat aanleiding gegee het tot ’n aantal uitdrukkings wat eie is aan Afrikaans. Martin (2011:907) noem die volgende: onder een kombers slaap, “dit in alle opsigte met mekaar eens wees”; al jou kinders onder een kombers kan toemaak, “al jou kinders nog tuis / naby jou hê”; en onder die kombers, uit met die kers, “by iemand in die bed spring”.
Hoewel kombaars ook in Nederlands bestaan, kom dit slegs in seevaartkonteks voor. Van Dale (1984:1411) definieer dit dan ook as “grove wollen of gewatteerde deken zoals de matrozen vroeger gebruikten”, en merk dit as Portugees van oorsprong aan. Ook Boshoff en Nienaber (1967:362) noem dat kombers waarskynlik afkomstig is uit die Portugees coberta, “bedekking”, en dat die oudste Nederlandse vorm combaerts of coopeers (sonder m) was.
2.1.10 kombuis
Figuur 2. ’T Fort De Goede Hope, Sleutel by Kaart No. 814 van Rijksarchief Den Haag (ons omkringing van g) (Bron: https://www.dbnl.org/tekst/rieb001dagh01_01/rieb001dagh01_01_0009.php)
In Afrikaans verwys kombuis na enige plek binnens- of buitenshuis waar kos voorberei word (Martin 2011:907). Van Dale (1984:1411) definieer kombuis as “stook- en kookplaats op een schip, scheepskeuken”. In ander kontekste word in Nederlands keuken gebruik.
Hoewel daar geen idioom of vaste uitdrukking met kombuis opgespoor kon word nie, verdien dit hier sekerlik vermelding, aangesien dit een van die mees gebruikte van ’n aantal 17de-eeuse skeepvaartterme is wat in Afrikaans oorgeneem is en aan die Kaap betekenisuitbreiding ondergaan het, terwyl dit in Nederlands uitsluitlik tot die skeepvaartkonteks beperk gebly het (Scholtz 1965:174).
2.1.11 laag
In Afrikaans bestaan die uitdrukking iemand die volle laag gee slegs in die oordragtelike betekenis “iemand met alle krag aanval, hom kwaai berispe”. Dit kom nie meer in HAT 2015 voor nie, egter wel in HAT 2005, asook in VAW (1993:428) en Du Plessis (2005:309).
Onder laag III (scheepst.) gee Van Dale (1984:1506) die definisie “de gezamenlijke stukken geschut op hetzelfde verdek van een oorlogsschip” en noem ook dat die uitdrukking de volle laag geven beteken om alle kanonne aan een kant van die skip tegelyk af te vuur, asook in figuurlike sin iemand de volle laag geven, “iemand geducht de waarheid zeggen”.
2.1.12 loef
Om iemand die loef af te steek beteken om hom te oortref, verby te strewe (HAT 2015:741). Volgens Van Veen en Van der Sijs (2010) beteken de loef afsteken oorspronklik dat wanneer twee skepe parallel seil, die een aan die windkant die wind uit die ander een se seile afkeer en dit sodoende afrem.
Die uitdrukking kom vanaf die 17de eeu (1661) dikwels in die figuurlike sin “iemand verbysteek, oortref” voor, en is onder andere ook in tekste van Vondel en Hooft te vinde (Stoett 2010). Ook in Moderne Nederlands is dit algemeen gebruiklik (Van Dale 1984:1593).
Die woord loef het reeds in Oudnederlands as gloff voorgekom en as ontlening ook in Oudengels glof. Tot in Middelnederlands het lof, love, loef verwys na die dol van die roeiriem wat die roer teen die wind hou, maar in die 17de eeu het dit reeds deurgaans “die windkant (van ’n skip)” beteken (Philippa e.a. 2010).
2.1.13 mas
Om (self) die mas op te kom beteken in Afrikaans om sonder hulp reg te kom (VAW 1993:488) of om opgewasse te wees teen iets. In HAT (2015:772) kom ook die uitdrukking nie die mas (kan) opkom nie voor, en in VAW (1993:489) sien hoe jy die mas opkom en die eie mas ophaal, “sonder hulp moeilike werk verrig”.
Die uitdrukking kom nie in dieselfde vorm in moderne Nederlands voor nie, soos blyk uit Martin (2011:1054), waar dit slegs in Afrikaans aangegee word. Dit vertoon egter wel ’n verband met die huidige Nederlandse uitdrukking hij zal de mast wel opkrijgen, “zich wel helpen of weten te redden” (Van Dale 1984:1665).
2.1.14 net
Wanneer mens probeer visvang waar ander se sleepnette reeds die area leeg gevang het, is jy te laat, soos gesuggereer deur die idioom agter die net visvang en vandaar die algemene betekenis van “te laat kom; geen sukses meer behaal nie” (HAT 2015:838 en Prinsloo 2009:316).
Die vissersbedryf was van oudsher – en is nog steeds – ’n belangrike deel van die Nederlandse skeepvaart. Reeds in Vroeë Middelnederlands (1240) kom net of nette in die betekenis van “vissersnet” voor (Philippa e.a. 2010). Volgens Stoett (2010) is die uitdrukking achter het net vissen ook reeds vanaf die 16de eeu in Nederlands bekend in die betekenis “je kans verkeken hebben” (Van Dale 1984:1811).
2.1.15 peil
Ook die uitdrukking op iemand kan peil trek, “op iemand kan staatmaak”, is aan die skeepvaart ontleen. Volgens Stoett (2010) verwys die woord peil in peil trekken op na ’n toestel wat horisontaal op die kompas beweeg kon word om te bepaal waar die skip hom ter see bevind. Hierdie toestel is gerig op ’n bekende vaste punt wat mens kon vertrou, byvoorbeeld ’n vuurtoring wat as peil optree.
Die woord peyl het reeds in Middelnederlands (1477) voorgekom in die betekenis van “vasgestelde maat, merkteken” en in die 16de eeu ook al in die figuurlike sin “rigsnoer/kenmerk” (Philippa e.a. 2010). Hieruit ontwikkel die oordragtelike toepassing “op iemand kan staatmaak, hom kan vertrou” (Stoett 2010), wat ook op die hedendaagse Nederlandse uitdrukking op iemand (geen) peil kunnen trekken van toepassing is (Van Dale 1984:2139).
2.1.16 pleganker
In die uitdrukking ’n pleganker wees beteken pleganker in oordragtelike sin ’n toevlug, ’n laaste redmiddel (HAT 2015:987), iemand/iets wat in uiterste nood kan help.
Van Dale (1984:2193) dui aan dat ’n plecht ’n verhoogde dek by die voorstewe van ’n skip is en verduidelik dat die letterlike plechtanker ’n anker op die pleg van ’n vaartuig is wat in ’n noodgeval gebruik kan word, maar dat die woord ook oordragtelik gebruik kan word in die betekenis “behoud; toeverlaat”, soos in die uitdrukking het/een laatste plechtanker.
2.1.17 riem
Die uitdrukking roei met die rieme wat jy het beteken volgens HAT (2015:1060) om oor die weg te kom met die hulpmiddele wat jy het, en verder word riem in die betekenis van “roeispaan” hier as weinig gebruiklik aangedui. Die uitdrukkings ’n riem onder die hart wees, “’n steun of hulp wees”, en iemand ’n riem onder die hart steek (ook ’n hart onder die riem steek), “iemand moed inpraat”, word ook in HAT (2015:1060) onder riem 2, “roeispaan”, gevind.
Die oordragtelike uitdrukking roeien met de riemen die men heeft, “zich behelpen met de beschikbare middelen” (Van Dale 1984:2399), is reeds vanaf die 17de eeu algemeen gebruiklik in Nederlands (Stoett 2010). Hoewel iemand een riem onder het hart steken wel in Nederlands bestaan, word dit as ongewoon aangemerk; die meer gebruiklike weergawe is iemand een hart onder de riem steken. Daarnaas kom ook die uitdrukking een riem onder het zeil steken, “meer kracht of vaart aan een zaak bijzetten” (Van Dale 1984:2399), voor, waaruit die verband met die seilvaart duidelik blyk.
Die woord riem is baie vroeg reeds ontleen aan die Latynse remus (roeispaan), ’n afleiding van die Indo-Europese wortel rodra- (roei-), en is ook al in Vroeë Middelnederlands (1240) in dié betekenis as riem of reme opgeteken (Philippa e.a. 2010).
2.1.18 roer
Volgens HAT (2015:1066) verwys die woord roer in die uitdrukking aan die roer (van sake) staan, asook in die wisselvorm die roer in hande hê na die stuurmeganisme van ’n boot, en daarnaas ook figuurlik na bestuur of leiding. Die ooreenkoms is dat net soos die stuurman die boot se rigting met die roer beheer, net so bestuur die hoof van ’n organisasie daardie onderneming. ’n Ander uitdrukking wat hiermee verband hou, is die roer omgooi, “’n ander gedragslyn volg” (HAT 2015:1066).
Van Wyk e.a. (2003:383) wys op betekenisuitbreiding by roer in Afrikaans, waar daar naas 1) “stuurtoestel van ’n skip” en 2) “beheer, leiding” ook nog na analogie van betekenis 1) ’n derde betekenis spontaan ontstaan het, naamlik “beweegbare toestel agter op ’n vliegtuig om sy koers te bepaal”.
Die woord roer het reeds in Oudnederlands (1185) voorgekom in die samestelling helmroder, en in Middelnederlands (vanaf 1240) selfstandig as roer, roeder of roder. Die figuurlike uitdrukking aan het roer zijn/staan/zitten kom al sedert die 17de eeu veelvuldig in Nederlands voor (Philippa e.a. 2010), en ook het roer omgooien, “een geheel andere gedragslijn volgen” (Van Dale 1984:2423), is algemeen bekend.
2.1.19 ruimskoots
Ruimskoots beteken “meer as genoeg; oorvloedig” (HAT 2015:1083) en is ’n samestellende afleiding met bywoordelike -s van ruim en schoot. Die woord schoot word deur Weijnen e.a.(2008:491) aangedui as ’n skeepsterm en beteken “touw waarmee de benedenhoek van het zeil wordt vastgehouden”. Die woord bestaan in hierdie betekenis in Afrikaans egter uitsluitlik in die verbinding ruimskoots.
Volgens Historiek (https://historiek.net/gezegdes-en-uitdrukkingen-uit-de-scheepvaart/58445) het die woord aanvanklik beteken “met lang uitgevierde schoot, waarbij het zeil sterker aangehaald of gevierd kon worden”. Dit het reeds in die 17de eeu in die oordragtelike betekenis “ruim voldoende” bestaan (De Vries 2010).
2.1.20 seil
Die uitdrukking alle seile bysit beteken om van alle moontlike middele gebruik te maak (HAT 2015:1114). Dit beteken dat wanneer ’n skip vinnig moes wegkom, dit onder volle seil gevaar het. Voordat mens al die seile kan bysit, moet jy eers onder seil gaan, wat “(per boot) weggaan” beteken – in Afrikaans letterlik “wegseil”, maar ook in breër sin “vertrek” (Martin 2011:2146). Wanneer mens die seil (of vlag) vir iemand stryk, erken jy hom as jou meerdere (VAW 1993:748). (Hierdie uitdrukking kom nie in HAT voor onder seil nie, maar wel onder vlag.) Stoett (2010) verduidelik dat die uitdrukking stam uit die vroeëre gebruik dat die skipper ter see as teken van eerbied die seil effens kon laat sak. As jy jou seile na die wind hang/span, pas jy jou mening of houding aan na gelang van omstandighede (HAT 2015:1114).
Die Nederlandse uitdrukking het zeil voor iemand strijken het dieselfde betekenis as in Afrikaans, en in Nederlands beteken alle zeilen bijzetten ook “alle kragte inspan”. Die uitdrukking onder zeil gaan kan teenswoordig egter naas wegvaar of vertrek ook beteken “aan die slaap raak” of “met iemand trou of gaan saamwoon” (Van Dale 1984:3480), ’n betekenis wat nie tot Afrikaans deurgedring het nie. Vir die Afrikaanse jou seile na die wind hang is in Nederlands ’n sinonieme uitdrukking het vaantje / je huik naar de wind hangen (Van Dale 1984:3480) teenswoordig veel gebruikliker, en in Martin (2011:2145) word die uitdrukking selfs as uitsluitlik Afrikaans aangedui. Volgens Stoett (2010) het al die bogenoemde uitdrukkings egter wel reeds in 17de-eeuse Nederlands voorgekom.
Die uitdrukking ’n ogie in die seil hou word verder bespreek onder die trefwoord ogie.
Soos see is seil ’n Gemeengermaanse woord waarvan die herkoms enigsins onseker is. In Oudnederlands kom dit reeds in die betekenis “skeepseil” in ’n samestelling voor as segil- (uit pre-Germaans seghla-) en in Vroeë Middelnederlands as simpleks sel, seel of soms ook seghel (De Vries 2010).
2.1.21 skip
Om jou skepe agter jou te verbrand beteken om sodanige onherroeplike stap te doen dat jy nie kan terugkeer nie. Stoett (2010) verduidelik dat skepe waarmee veroweraars geland het, meermale verbrand is, onder meer byvoorbeeld deur die vroue van die vlugtelinge uit Troje wat hulle skepe verbrand het toe hulle op Sicilië geland het, asook Willem die Veroweraar (1066) in Engeland en Ferdinand Cortez in Meksiko (1516). Die uitdrukking as my skip (met geld) kom is ’n versugting wat beteken “as ek ooit ryk word; nooit” en skip van die woestyn verwys na ’n kameel (HAT 2015:1157).
Al drie hierdie uitdrukkings kom in Nederlands in dieselfde betekenis as in Afrikaans voor: zijn schepen achter zich verbranden, als het schip met geld komt en het schip der woestijn.
2.1.22 skuit
Die uitdrukking almal in dieselfde skuit(jie) wees/sit/vaar beteken dat bepaalde mense in dieselfde omstandighede verkeer of dieselfde doel het (HAT 2015:1170). VAW (1993:792) dui twee verdere uitdrukkings met skuit aan: Indien mense in een skuit is, dink hulle eenders oor dieselfde saak, en ons sit in die skuit en moet saamvaar/meevaar beteken “ons het met die saak begin en kan nie nou stop / kop uittrek nie”.
Al drie bogenoemde uitdrukkings is in Moderne Nederlands ook in dieselfde betekenis bekend, naamlik in hetzelfde schuitje zitten, in één schuitje zitten en wij zitten in het schuitje en moeten meevaren (Van Dale 1984:2562).
Ook van skuit is die herkoms onseker. Die woord skuta het reeds in Oudnederlands na ’n bepaalde soort vaartuig – ’n skuit sonder boord – verwys, en vanaf Vroeë Middelnederlands (schute, 1262) na ’n ligte vaartuig vir die binnevaart (Philippa e.a. 2010).
2.1.23 spuigate
Figuur 3. Spuigate (Bron: https://historiek.net/gezegdes-en-uitdrukkingen-uit-de-scheepvaart/58445)
Die in Afrikaans weliswaar weinig gebruikte uitdrukking dit loop die spuigate uit beteken dat iets verregaande of veels te erg is (HAT 2015:1235). Hierdie soort gat in die kant van die skeepsdek is gebruik om water te laat uitloop. Tydens gevegte het daar ook soms bloed deur die spuigate uitgeloop, ’n aanduiding van die buitensporige bloedigheid van die stryd (Philippa e.a. 2010).
Die Middelnederlandse woord speyegaten (1378) is ’n samestelling van die werkwoordstam spui-/spey-/spi-, “spuit of spoeg”, en gat (meervoud), en die oordragtelike betekenis in de spuigaten uitlopen, “alle perken te buiten gaan”, is in ieder geval reeds sedert die vroeë 17de eeu in Nederlands algemeen gebruiklik (Stoett 2010).
2.1.24 stewe
Wanneer die stewe van ’n skip gewend (gedraai) word, verander die skip sy koers. Die woord stewe beteken in ’n letterlike sin die uiterste voor- of agterpunt van ’n skip waar die twee skeepswande bymekaar kom (Van Dale 1984:2755). Volgens HAT 2015:1260) kom stewe vandag in Afrikaans slegs nog figuurlik voor in samestellings, byvoorbeeld voorstewe en agterstewe, aangesien die woord weinig gebruik word en verouderd is. Die woord stewe kom egter ook nog wel voor in die oordragtelike uitdrukking die stewe rig/wend na, soos in jou stewe huiswaarts wend (VAW 2010:1222) waar dit “koers kies huis toe” beteken.
Hierdie betekenis stem ooreen met die Nederlands de steven wenden naar (Van Dale 1984:2755). Hoewel achtersteven in Nederlands ook in die betekenis “sitvlak” voorkom (Van Dale 1984:60), word voorstewe volgens Martin (2011:2023) slegs in Afrikaans gebruik in die betekenis “boesem”.
Die grondvorm waarop die woord teruggaan, is waarskynlik tweërlei, naamlik die pre-Germaanse stabna en stamn (Oudsaksies) wat albei “steun, pilaar”, beteken het en albei aan klankverskuiwings (mn > vn en b > v) onderhewig was. In Middelnederlands (ongeveer 1350) was die huidige vorm steven egter reeds gevestig (Philippa e.a. 2010).
2.1.25 vlag
Die woord vlag is oorspronklik slegs vir die kenteken op skepe gebruik, maar vervolgens ook vir ander doeleindes (Van Dale 1984:3237).
HAT (2015:1501) gee verskeie uitdrukkings met vlag aan: die vlag dek die lading, “’n goeie naam strek tot aanbeveling”; die vlag dek nie die lading nie, “iets is nie wat dit voorgee om te wees nie”; onder iemand se vlag vaar, “onder iemand se beskerming optree”; onder ’n valse vlag vaar, “jou anders voordoen as wat jy werklik is”; met vlag en wimpel, “op glansryke wyse”; die vlag vir iemand stryk, “iemand as jou meerdere erken”; asook die vlag hang halfstok, “daar word gerou”. Al hierdie uitdrukkings is ook in Moderne Nederlands gangbare gesegdes (Van Dale 1984:3237).
2.2 Die lewe en werk aan boord
2.2.1 aanklamp
Die Afrikaanse uitdrukking om aan te klamp by iemand beteken “om iemand te nader ten einde ’n guns te vra, oor koeitjies en kalfies te praat, geld te leen”, ens. (HAT 2015:6). Die uitdrukking aanklamp by ’n nooi, “’n meisie die hof maak” (VAW 1993:6), kom nie in die WAT X (1996) en WAT XI (2000) onder meisie en nooi voor nie, en ook nie in HAT (2015) nie.
Aanklampen beteken in Nederlands “binnegaan, iemand aanspreek” en kom oorspronklik van aan boord klampen (1602), “jou skip aan ’n ander een vasmaak om daarbinne te kan kom”. Dit is ’n samestelling van aan en klampen, letterlik met klampe verbind soos in “aanklampen en enteren” (1642), wat egter ook al vroeg (1608) in die oordragtelike betekenis “aanspreek” en later (1677) “staande hou” voorgekom het (Philippa e.a. 2010). Die uitdrukking iemand aanklampen beteken “iemand wat mens op jou pad ontmoet, aanspreek” (Stoett 2010). Iemand aan boord klampen kan egter ook beteken “om iemand aan te rand” (Stoett 2010), ’n negatiewe betekenis wat nie tot Afrikaans deurgedring het nie.
2.2.2 agterbaks
In agterbaks optree of iets agterbaks hou (iets verborge of agterweë hou) beteken agterbaks “nie openlik nie, skelm, onderduims” (HAT 2015:39).
Die woord kom ook in Nederlands in dieselfde betekenis voor in iets achterbaks houden en iets achterbaks doen. Dit stam uit die Middelnederlandse achterbaecs of achterbake, “agter die rug van” (1470), en is ’n samestellende afleiding met bywoordelike -s uit die voorsetsel achter + snw. bac, “rug” (Van Wyk e.a. 2003:15). Dit was oorspronklik ’n bywoord van plek met die letterlike betekenis “agter iemand se rug”, maar is later uitgebrei na die betekenis “heimlik, buite iemand se medewete” (Philippa e.a. 2010).
In die skeepvaart het bak onder andere ’n spesifieke ruimte of deel van ’n skip aangedui (1685), naamlik “die voorste gedeelte van die opperdek” (Philippa e.a. 2010). As ’n groep matrose tydens ’n seegeveg agterbaks gehou is, dus versteek agter die opbou van die bodek, kon hulle ’n beslissende verrassingsaanval op die vyande loods (Van Eeden 1997:225).
2.2.3 botvier
In Afrikaans beteken iets (laat) botvier “aan iets toegee; vrye teuels gee aan” (Van Wyk e.a. 2003:65).
Die woord botvier is afkomstig uit 17de-eeuse Nederlands bot vieren (1646; Woordenboek der Nederlandsche taal – voortaan WNT). Volgens Philippa e.a. (2010) stam die uitdrukking uit die skeepvaart, waar bot na die stomp knobbel vooraan die ankertou verwys en vieren “loslaat” beteken. Reeds in 1685 is dit egter in die oordragtelike betekenis “vrij spel laten” gebruik (Philippa e.a. 2010), en ook in Moderne Nederlands is botvieren, “vrij spel laten, de vrije teugel laten” algemeen gebruiklik (Van Dale 1984:425).
2.2.4 bowe
Bowe kom in Afrikaans slegs in vaste verbindings soos bowe(n)al, bowendien en in die uitdrukkings iets te bowe gaan, “buite die bereik van iets wees”, alle beskrywing te bowe gaan, “onbeskryflik wees”, iets gaan iemand se verstand te bowe, “iemand kan iets nie begryp nie” en iets te bowe kom, “iets oorwin, baasraak” (HAT 2015:146), voor.
Die uitdrukking te boven komen is volgens Stoett (2010) ontleen aan die seevaart, waar dit spesifiek verwys het na ’n gevaarlike landpunt, kaap of klip (krans) wat omseil moes word – die oorspronklike uitdrukking was dan ook een klip / klippen te boven komen. Die oordragtelike betekenis “hinderpale oorwin” was egter reeds in die 17de eeu in Nederlands gebruiklik (Stoett 2010), en is ook in Moderne Nederlands (te boven komen, “met goed gevolg doorstaan, overwinnen”) algemeen bekend (Van Dale 1984:430).
Die Nederlandse woord boven staan in Vroeë Middelnederlands te boek as bouen (1220–40), en is gevorm uit die Proto-Germaanse voorvoegsel bi- + oven “oor, bo”, wat al in Oudnederlands (1100) opgeteken staan as ouene (Philippa e.a. 2010).
2.2.5 dwarsboom
In beide Afrikaans en Nederlands beteken om iemand te dwarsboom “om iemand teë te werk” of “om iemand se planne te verydel” (HAT 2015:236 en Van Dale 1984:685).
Die Nederlandse werkwoord bomen kan volgens Van Dale (1984:402) onder andere beteken “kleine schepen en vlotten in ondiep water met een boom (paal) voortduwen”. Iemand wat ’n skuit of skuite so dwarsboom, sorg dan dat dit dwars lê en die waterweg versper (Van Eeden 1997:230).
Dwarsboom kon egter ook oorspronklik beteken om ’n balk of boomstam dwars oor die weg te plaas om die deurgang te versper (Van Veen en Van der Sijs 2010), en Schröder (2010) lê in Van aalmoes tot zwijntjesjager ook ’n verband met die skeepvaart in sy verduideliking dat by die sluiting van die stadspoorte na sonsondergang die waterweë wat skepe toegang tot die stad gebied het, op dieselfde manier gedwarsboomd is.
Volgens Stoett (2010) was die teenswoordig gebruiklike Nederlandse uitdrukking iemand dwarsbomen, “iemand tegenwerken” (Van Dale 1982:685), in die 17de eeu een van meerdere uitdrukkings met dieselfde betekenis, onder andere iemand overdwarsen, iemand dwars zitten/vallen of iemand draaibomen.
2.2.6. glasie
Die uitdrukking ’n glasie op die valreep kom van skeepvaart en beteken “’n afskeidsdrankie”. Die valreep was aanvanklik een of twee toue met knope, later ’n touleer wat langs die skip gehang het en waarmee die matrose op en af kon klim (HAT 2015:359).
Dit is nie bekend presies wanneer die woord glasie vir die eerste keer in die betekenis van ’n alkoholiese drankie gebruik is nie, maar te oordeel aan verskeie aanhalings in die WNT was dié betekenis reeds aan die begin van die 18de eeu algemeen gebruiklik (Sanders 2010), en die uitdrukking hier bo kom in Moderne Nederlands ook steeds voor as een glaasje op de valreep, “afscheidsdronk” (Van Dale 1984:3985).
2.2.7 hand
Volgens Botha e.a. (1994:115) beteken om iets agter die hand te hou in Afrikaans en iets achter de hand hebben/houden in Nederlands “om iets agterweë te hou” (Van Dale 1984:1028 en VAW 1993:248).
Stoett (2010) meld dat die Nederlandse uitdrukking oorspronklik in die skeepvaart verwys het na die deel van die touwerk wat, wanneer die seil ingebring word, op die dek bly lê agter die hand van die agterste matroos wat help om die seil op die dek op te trek – vandaar oordragtelik “iets in voorraad hou vir later gebruik” (Stoett 2010).
Die woord hand is ’n Gemeengermaanse woord wat vrywel seker teruggevoer kan word tot ’n voor-Indo-Europese substraattaal (Philippa e.a. 2010). Dit kom reeds in die 8ste eeu in samestellings voor as ande- en in die 10de eeu in Oudnederlands as hant (enkelvoud) en hendi (meervoud).
2.2.8 kajuitraad
Die uitdrukking kajuitraad hou beteken volgens HAT (2015:569) en Prinsloo (1997:111) “om te beraadslaag”, veral in die geheim, of volgens VAW (1993:312) ook “oorlogsplanne beraam”. In Martin (2011:833) word kajuitraad, “beraadslaging”, as uitsluitlik Afrikaans opgeneem.
Volgens Philippa e.a. (2010) het kayhute in Middelnederlands (1455) oorspronklik verwys na enige woonruimte op ’n skip, maar later spesifiek na “de verblijfsplaats achter op het schip voor de opperhoofden” (1681), in dié geval dus die kaptein se kajuit, waar in die geheim koppe bymekaar gesit kon word in ’n noodgeval.
2.2.9 kaper
Die woord kaper kom in Afrikaans voor in die uitdrukking daar is kapers op/langs die kus wat volgens VAW (1993:321) beteken “dis nie veilig nie”. Martin (2011:843) noem ook daar is ander kapers op die kus. “daar is konkurrensie”, asook kapers op dieselfde kus wees, “dieselfde belange deel”. Laasgenoemde word as slegs Afrikaans aangedui, hoewel dit waarskynlik verouderd is, aangesien dit nie in HAT (2015) voorkom nie.
Die Nederlandse uitdrukking er zijn kapers op de kust beteken naas “daar is gevaar” ook “daar is konkurrensie” (Van Dale 1984:1285, 1491). Stoett (1923–1925) meld dat die uitdrukking aanvanklik veral gebruik is in die betekenis “daar is onraad”, maar dat dié betekenis in die loop van die 17de eeu verder uitgebrei het.
Philippa e.a. (2010) noem dat die werkwoord kaap al in 1612 in die uitdrukking ter kaep vaeren, “uitvaar om te kaap”, verwys het na die geoorloofde oormeestering en berowing ter see van handelskepe van vyandelike moondhede. Die goedere wat op dié manier bekom is, kon wettiglik verkoop word, en kaping was dus niks anders as gewettigde roofhandel nie, wat aansluit by die (moontlike) oorsprong van die werkwoord kapen, volgens Philippa e.a. (2010) waarskynlik afkomstig uit Oudfries kap, “koop, handel”, en dus verwant aan Nederlands kopen.
Die 17de-eeuse betekenis van kapen het later (1808) ’n oordragtelike toepassing, “heimlik wegneem”, verkry, en sedert die 1960’s het sowel die werkwoord kaap as die afleidings kaper en kaping in beide Nederlands en Afrikaans opnuut ’n meer spesifieke toepassing verkry deur ’n vlaag kapings van vliegtuie, treine en motorvoertuie (Philippa e.a. 2010). Teenswoordig word dit in ’n veel breër sin gebruik, naamlik skaak, “die beheer van iets oorneem om dit vir jou eie doel aan te wend” (HAT 2015:583), byvoorbeeld die kaping van iemand se facebook-profiel om onwettige bemarking te doen of pornografie te versprei.
2.2.10 ogie
As mens ’n ogie/oog in die seil hou, hou jy ’n wakende oog oor iets (HAT 2015:859). Ook in Nederlands is een oogje in het zeil houden ’n bekende segswyse (Martin 2011:1241). Volgens Stoett (2010) het een oghe int seil houden of een oogh int seyl slaen reeds in die laat Middeleeue voorgekom. Hy dui die verband met die skeepvaart aan in ’n aanhaling uit ’n 17de-eeuse woordeboek, Seeman: Maritiem woordenboek van Wigardus A. Winschooten: “Oog in het seil houden: dit is het werk van een goed seeman, om geduurig op sijn hoede te sijn.”
2.2.11 omseil
Die letterlike betekenis van omseil is “rondseil” of “rondom iets vaar”. Volgens Van Wyk e.a. (2003:299) beteken dit egter oordragtelik “iets problematies ontwyk”, soos blyk uit ’n uitdrukking soos iemand se vrae omseil (HAT 2015:865) of ’n wet omseil (Martin 2011:1184).
Van Wyk e.a. (2003:299) noem ook dat omseil in Nederlands reeds in die 17de eeu algemeen gebruiklik was, en dat ook die oordragtelike betekenis reeds in die 18de eeu voorgekom het in die uitdrukking een klip omzeilen.
2.2.12 onklaar
As mens onklaar trap, dan is jy verward, raak jy deurmekaar of verbrou jy (HAT 2015:887). Volgens Van Wyk e.a. (2003:306) het die Middelnederlandse skeepsterm onklaar beteken “nie in ’n toestand van gereedheid of vry van hindernisse/belemmerings nie”. In Afrikaans word daar egter kennelik nie meer ’n verband met die see gesien nie, aangesien die uitdrukking volgens WAT XI (2000:437) verband hou met ingespande trekdiere wat oor die string of trektou trap. Hier het dus betekenisverskuiwing plaasgevind.
Die uitdrukking onklaar trap kon nie in Nederlands opgespoor word nie.
2.2.13 oorboord
Oorspronklik het die woord boord “plank” of ook wel “rand/soom” beteken (De Vries 1967:49), vandaar dat die plankdek van ’n skip bekend gestaan het as die boord.
Liebenberg (s.j.:79) dui aan dat die uitdrukking (iets) oorboord gooi afkomstig is van die 17de-eeuse Nederlandse overboord werpen. De Villiers en Gouws (1988:53) dui aan dat (iets) oorboord gooi beteken om van iets ontslae te raak. HAT (2015:910) gee by dié uitdrukking naas die letterlike betekenis ook figuurlik “afsien van, laat vaar” aan. Dit geld ook vir die Nederlandse iets overboord gooien / werpen (Van Dale 1984:2053).
2.2.14 oorstuur
Volgens WAT XI (2000:663) beteken oorstuur wees onder andere “deurmekaar, verward, van stryk, ontwrig, geïrriteerd of ontsteld wees”.
Van Veen en Van der Sijs (2010) meld dat overstuur of overstier in die vroeë 17de eeu (1630) “agteruit” beteken het. Hieruit het die huidige betekenis “in de war, geheel van streek” ontwikkel. Dit is egter oorspronklik spesifiek gebruik om na skepe wat agteruitdryf, te verwys (Stoett 2010), vandaar die verband met die skeepvaart.
2.2.15 pekel
Van Wyk e.a. (2003:342) dui aan dat pekel in die idioom in die pekel beland/wees/sit, “in groot moeilikheid beland/verkeer” reeds sedert Middelnederlands bekend is in die betekenis van water waarin baie sout opgelos is en wat in die besonder as bederfweermiddel gebruik word, maar dat dit ook figuurlik “’n problematiese toestand” kan beteken.
In Moderne Nederlands kom verskeie uitdrukkings met pekel in dié betekenis voor: in de pekel zitten, “in ’n penarie sit”, maar ook iemand in de pekel zetten / door de pekel halen, “iemand in die moeilikheid laat beland”, of uit de pekel helpen, “uit die moeilikheid kry” (Van Dale 1984:2139).
Die vroeë herkoms van pekel is onbekend, maar Philippa e.a. (2010) dui aan dat dit waarskynlik verband hou met die werkwoord pikken, “prik, steek”, wat teruggevind kan word in byvoorbeeld Frans piquant, “skerp van smaak”, en noem verder dat die woord oorspronklik Nederlands was en deur ander tale aan die Middelnederlands ontleen is (vergelyk Engels pickle en Duits Pökel), en waarskynlik as skeepvaartterm gebruik is vir die inmaak van vis – by name haring – direk na die vangs.
Liebenberg (s.j.:82) meen egter dat die Middelnederlandse peeckel moontlik verband hou met die naam van ’n Hollandse visserman, Willem Beukelz, wat in 1398 gesterf het, en wat vermoedelik met die pekelproses begin het.
2.2.16 poolshoogte
Volgens HAT (2015:997) beteken poolshoogte neem naas “jou plek op see bepaal” ook figuurlik “jou op die hoogte stel, inligting inwin”.
Stoett (2010) verduidelik dat die poolshoogte die afstand tussen die poolpunt en die punt op die horison wat loodreg daaronder lê, is. Vir seelui in die Noordelike Halfrond was die poolpunt die poolster. Deur dié afstand met behulp van ’n graadboog astronomies te bereken, kon die seevaarders hulle eie relatiewe posisie bepaal. Dit is die ware suid in die Suidelike Halfrond en die ware noord in die Noordelike Halfrond. Die seevaarders kon hierdie inligting gebruik om hulle koers te beheer.
Die Nederlandse poolshoogte nemen (Van Dale 1984:2220) bestaan reeds sedert die 17de eeu ook in dieselfde figuurlike betekenis as in Afrikaans (Stoett 2010).
2.2.17 skipbreuk
Die uitdrukking skipbreuk ly kan letterlik of figuurlik geïnterpreteer word, soos wat HAT (2015:1157) aandui: om op ’n skip te wees wat op die een of ander manier vergaan, of figuurlik: om te misluk.
Die woord skipbreuk het reeds in die Middeleeue voorgekom as scipbrake, scipbrekinghe en scipbrokinghe (De Vries 2010) en die uitdrukking schipbreuk lijden is reeds sedert die 17de eeu in Nederlands algemeen bekend in die figuurlike sin “te gronde of tot niet gaan” (Stoett 2010, asook Van Dale 1984:2531).
2.2.18 skoonskip
Die Nederlandse schoon schip maken of zijn schip schoonmaken kom reeds so vroeg as 1600 voor in die figuurlike betekenis “zich van alle schuld zuiveren” (Stoett 2010) of, soos beide HAT (2015:1161) en Van Dale (1984:2531) dit stel, “opruiming hou van alles wat nie deug nie”. Mettertyd kom daar egter ’n uniek Afrikaanse betekenis by, naamlik “alle wedstryde wen” (HAT 2015:1161).
2.2.19 uiltjie
As mens ’n uiltjie knip, dut jy ’n rukkie of sluimer jy in (HAT 2015:1384). Van Veen en Van der Sijs (2010) gee die oorsprong van hierdie woord en uitdrukking soos volg aan: In Nederlands verwys uiltje na ’n soort mot wat in die nag groot skade kon aanrig aan landbouprodukte, en om ’n uiltjie te knip het letterlik beteken om hierdie soort mot te vang. Ons het egter nie meer hierdie letterlike betekenis in Afrikaans nie.
In 17de-eeuse seemanstaal stam een uiltje knappen/vangen egter uit die situasie dat die stuurman skielik teen die wind vaar omdat hy nie behoorlik opgelet het wat plaasvind nie. Dit sal waarskynlik gebeur indien die seeman slaperig is of omdat hy ingedut het.
Die uitdrukking een uiltje knappen/knippen is reeds sedert die 17de eeu in Nederlands in die figuurlike betekenis “een slaapje/dutje doen” bekend. Daarnaas kom in die Groningse dialek ook die uitdrukking een vlinder knippen voor, wat beteken om van die skool af weg te bly sonder goeie rede. Jy steel dus skooltyd, net soos wat die seeman slapies steel.
2.2.20 vaar
Die werkwoord vaar beteken teenswoordig “met ’n vaartuig oor water beweeg” (HAT 2015:1415). ’n Aantal Afrikaanse uitdrukkings kan egter tot ’n veel ouer en breër betekenis, naamlik “gaan, voortbeweeg” teruggevoer word. Na die hemel / ten hemel vaar beteken na die hemel (op)gaan. As jy goed/sleg/beroerd vaar, gaan dit goed/sleg/beroerd met jou. Hoe vaar jy? beteken “Hoe gaan dit met jou of met dit waarmee jy besig is?” As jy iets laat vaar, sien jy daarvan af (HAT 2015:1415).
Ook in Vroeë Middelnederlands (1240) kom varen in die betekenis “gaan, reis” voor, maar daarnaas ook “gaan met, gesteld wees met”: hoe hebbet u gevaeren sent?, “hoe het dit sinsdien met jou gegaan?” (1265), en vaert wel, “het ga je goed” of “goede reis”, waar varen in die gebiedende wys voorkom (Philippa e.a. 2010). Omdat reis per skip in die Lae Lande so algemeen was, het die sekondêre gespesifiseerde betekenis “met ’n voertuig oor die water gaan” in Nederlands egter mettertyd veld gewen (Van Veen en Van der Sijs 1997), sodanig dat die ouer betekenisse slegs nog in ’n aantal vaste uitdrukkings te vinde is, soos de duivel is in hem gevaren, “hy is deur die duiwel besete”, iets laten varen, “afsien van iets”, er wel bij varen, “voordeel trek van iets” (Philippa e.a. 2010), en hoe vaart (het) u? of hoe vaart ge? “hoe gaan dit met u?”
In beide Nederlands en Afrikaans kan hierdie ouer betekenisse ook teruggevind word in samestellings met die afgeleide selfstandige naamwoord vaart – vgl. byvoorbeeld seevaart, skeepvaart, lugvaart, hemelvaart en bedevaart, asook in die afskeidsgroet vaarwel. In samestellings soos vaartuig, vaarwater, vaargeul en vaardiepte (almal ook in Nederlands gebruiklik) is egter slegs die huidige betekenis ter sprake.
Volgens Philippa e.a. (2010) kan varen teruggevoer word tot so ver as Sanskrit piparti of parájti (oorheen gaan of neem). Boshoff en Nienaber (1967:672) lê ook ’n verband met Latyn portare (bring of dra, vervoer). In Goties kom die woord voor as faran (reis, gaan) en in Oudnederlands (901–1000), Oudhoogduits, Oudengels en Oudnoors eweneens as faran (gaan, jou begewe).
2.2.21 weste
As ’n mens buite weste is, is jy bewusteloos, verward of totaal buite jouself (VAW 1993:1003 en HAT 2015:1586). Dié uitdrukking het in die 16de eeu ontstaan, en oorspronklik het dit beteken om jou heeltemal wes van die gewone roete te bevind. Skippers het soms slegte weer probeer vermy deur ver wes te vaar, en kon dan maklik van koers af raak (Boshoff en Nienaber 1967:719).
Die uitdrukking in sy geheel is in die oordragtelike betekenis “buiten zinnen zijn”, of ook “baie dronk wees”, al sedert die 17de eeu (1605) in Nederlands bekend (Van Veen en Van der Sijs 2010). In Afrikaans het die laasgenoemde uitdrukking egter nie voet aan wal gekry nie.
2.3 Die seelandskap
Figuur 4. Skepe op die seelandskap (Kunswerk deur Auguste Étienne François Mayer, openbare domein)
2.3.1 gety
As die gety verloop, word die bakens versit beteken volgens HAT (2015:346) dat mens jou by omstandighede moet aanpas. Vroeër kon skepe nie eenvoudig inkom of uitgaan op see nie, aangesien die water diep genoeg moes wees. As die skipper te lank gewag het, kon hy nie uitvaar nie. Vandaar die uitdrukking die gety laat verloop, wat beteken om ’n gunstige geleentheid ongebruik te laat verbygaan. Daarteenoor beteken die gety waarneem “van ’n gunstige geleentheid gebruik maak” (HAT 2015:346). Nog ’n uitdrukking waarin gety voorkom, is om met die gety saam/mee te gaan (HAT 2015:346), wat volgens Botha e.a. (1994:100) beteken om nie ’n standpunt te hê en te handhaaf nie, maar eerder met ander saam te stem. In Nederlands kon dié uitdrukking nie in dié vorm opgespoor word nie, maar wel in die sinonieme vorm met de stroom meegaan (Martin 2011:618), wat in Afrikaans ook bestaan as met die stroom saamgaan.
Die uitdrukkings als het getij verloopt, verzet men de bakens, asook het getij laten verlopen en het getij waarnemen kom egter wel in Nederlands in dieselfde betekenis as in Afrikaans voor (Van Dale 1984:907). Die oorspronklike betekenis van gety, Nederlands getij(de), Middelnederlands ghetide (1236), was “terugkerende periode”, maar in 1532 kom dit reeds meer spesifiek voor in die sin van “eb en vloed” en verwys dit na die seevlak wat op of af beweeg (Philippa e.a. 2010).
2.3.2 golf
As ’n mens olie op die golwe/water gooi, kalmeer jy die gemoedere (VAW 1993:561). Van Eeden (1997:223) noem dat daar vroeër soms, as ’n skip deur woeste branding of hoë golwe moes vaar, ’n laag olie op die water uitgegiet is, waardeur die branding kortstondig ietwat bedaar het. In Nederlands bestaan die uitdrukking dan ook as olie op de branding/golven werpen, “de hartstochten doen bedaren” (Van Dale 1984:1853).
Golf, “opgestuwd water”, het in Middelnederlands voorgekom as ghelve en kan volgens Philippa e.a. (2010) teruggevoer word na die vorm wat byvoorbeeld in Oudnoors as gjalf (lawaai, golfslag, bruising) en in Oudengels as gilp (lawaai) bestaan het en teruggaan op dieselfde Indo-Germaanse wortel as die woord gil, naamlik ghel- (lawaai) (De Vries 1967:87).
2.3.3 haai
In Afrikaans beteken die uitdrukking na die haaie gaan “ten gronde, verlore gaan” en iemand vir die haaie gooi “iemand aan sy lot oorlaat, ten gronde rig” (HAT 2015:398).
Die eerste uitdrukking hier bo kom ook vryelik in dieselfde betekenis in Nederlands voor: naar de haaien gaan/zijn, “reddeloos verloren gaan/zijn”, en die tweede in ’n ander vorm: die is voor de haaien, “die is reddeloos verloren” (Van Dale 1984:1007).
Die woord haai is volgens Philippa e.a. (2010) ontleen aan ’n Oudnoorse stam ha-. ’n Skriftelike vorm van ha- is nooit in Nederlands opgeteken nie, maar die verboë vorm haye kom wel reeds vanaf 1445 in Middelnederlands voor (Philippa e.a. 2010).
2.3.4 kaap
Die woord kaap het van oudsher beteken “in die see uitstekende landpunt of berg/voorgebergte wat omseil moet word”. Die kaap aan die suidpunt van Afrika is in 1488 deur Dias Cabo das Tormentas (Kaap van Storms) genoem, maar daarna deur Johannes II van Portugal herdoop tot Cabo da Boa Esperanca (Kaap die Goeie Hoop s.j.), wat deur die Nederlandse seevaarders vernederlands is tot Kaap de Goede Hoop of, ingekort, de Kaap (Van Dale 1984:1254). Dié naam het in Afrikaans uitgebrei, nie net na die stad wat mettertyd daar ontstaan het nie, maar na die hele streek Kaapland en later selfs die hele Kaapprovinsie.
Uit hierdie nuwe toepassing het ’n hele reeks uniek Afrikaanse gesegdes met Kaap ontstaan. Die Kaap is weer Hollands, “alles is weer in die haak”, verwys na die Bataafse heroorname van die bewind ná die Engelse besetting van die Kaap. By die Kaap (gaan) draai beteken “’n lang ompad kies” of “iets langdradig vertel”; mens kan daarop Kaap toe ry word gesê van ’n baie stomp mes; en iets in die Kaap gaan haal beteken “lank wegbly” of “’n lang aanloop tot ’n verhaal neem” (HAT 2015:563). Martin (2011:829) voeg daarby ook: nog nie die Kaap gesien nie, “nog ’n groentjie wees”.
By die afleiding Kaaps noem HAT (2015:563) die Kaapse dokter, “die suidoostewind”; ’n Kaapse draai maak/gooi, “’n swierige draai vat”; ’n hele Kaapse draai maak, “’n lang ompad kies” of “omslagtig wees”; en so oud soos die Kaapse wapad/sandpad, “so oud soos die weg na Rome”. Martin (2011:829) noem ook Kaapse maniere, “oordrewe deftige maniere”.
Die woord kaap was volgens Philippa e.a. (2010) in Middelnederlands al as cape bekend, maar veel eerder ook al in Oudengels cape (950–1000; Oxford English Dictionary). Dit is in Nederlands ontleen aan Frans cap (± 1386) < Provencaals cap, “kop” < Latyn caput, “kop” (Philippa e.a. 2010).
2.3.5 kielsog/kielwater
Die WAT V (1968:648) verduidelik dat kielsog of kielwater die skuimende water agter die skip is wanneer die voertuig beweeg. Die idioom in iemand se kielsog/kielwater vaar beteken om iemand op ’n kort afstand te volg, terwyl dit verder ook kan beteken om onder die invloed te wees van iemand, om in die voetspore van iemand te volg of om iemand na te aap.
Die uitdrukking kom ook in Nederlands in dieselfde betekenis voor as in iemands kielzog varen of in iemands kielwater zeilen/komen/raken. In Nederlands word dit egter veral in ’n pejoratiewe sin met die betekenis “onder iemands (verderfelijke) invloed komen” gebruik (Van Dale 1984:1309). Hier is dus sprake van ’n geringe betekenisverskuiwing.
’n Ander uitdrukking wat slegs met kielwater verband hou, is in die kielwater beland, wat beteken om in ’n moeilike, slegte, ongemaklike posisie te beland (WAT V 1968:648). Dit sou moontlik teruggevoer kon word tot die tweede betekenis wat in HAT (2015:613) onder kielwater aangetref word, naamlik “die vuil, stink water bo die kiel onder in die skip”.
Dié betekenis kom ook in Nederlands voor as (oud)water onderin een schip (Weijnen 2008). Nóg dié laasgenoemde betekenis, nóg die uitdrukking kon egter in Van Dale opgespoor word.
2.3.6 knyp
Die uitdrukking in die knyp sit beteken “in die moeilikheid wees” (HAT 2015:647). Botha e.a. (1994:193) dui ook die wisselvorme in die knyp wees en om geknyp te wees aan.
Volgens Van Dale (1984:1386) ken Nederlands ook ’n uitdrukking in de knijp of in het nauw zitten/raken waarin beide knijp en nauw beteken “’n engte of vernouing in ’n waterweg”, vandaar die verbintenis met skeepvaart.
2.3.7 kus
Die Afrikaanse uitdrukking daar is kapers op die kus is reeds onder die trefwoord kaper bespreek.
Die uitdrukking er zijn kapers op de kust bestaan ook in Nederlands, onder andere in die betekenis “daar is onraad/gevaar”. ’n Ander Nederlandse uitdrukking wat hiermee verband hou, naamlik de kust is vrij/veilig, “die gevaar is verby” (Van Dale 1984:1491), wat ook in Engels bestaan as the coast is clear, kon egter nie in Afrikaans opgespoor word nie.
Die woord kust, “grens tussen land en see” (Van Dale 1984:1491), is oorspronklik ontleen aan Middeleeuse Latyn costa, ’n verkorting van costa mans (kant van die see), wat verband hou met Sanskrit köst (rib, maar ook flank, sykant). In Vroeë Middelnederlands kom dit aanvanklik voor as coste, maar later as kuste (Philippa e.a. 2010).
2.3.8 rots
As ’n skip op die rotse loop, strand of vergaan dit, maar ook ’n huwelik, onderneming, projek, ens. kan op die rotse loop, dus misluk / tot niet gaan (Martin 2011:1502).
In Nederlands word egter die woord klip gebruik om na ’n groot, meestal steil, steenmassa (rots), vernaamlik in of langs die see, te verwys (Van Dale 1985:1371), ’n betekenis wat ook in Afrikaans nog in plekname soos Hangklip teruggevind word, en wat in Middelnederlands en 17de-eeuse Nederlands algemeen gebruiklik was (Van Wyk 2003:203).
Afrikaans klip is sinoniem met Nederlands steen, terwyl steen in Afrikaans veral “bou- of baksteen” beteken, behalwe in enkele geykte uitdrukkings soos ’n steen des aanstoots, ’n hart van steen, ens. en die Nederlands klip is in Afrikaans rots (in die see) (Van Wyk 2003:203). Die figuurlike Nederlandse uitdrukking op de klippen lopen/varen, “strand; misluk” (Van Dale 1984:1371), lui dus in Afrikaans op die rotse loop, wat presies dieselfde betekenis het.
Die woord rots is afkomstig van Oudfrans roche (ong. 980) of roke, ’n Gallo-Romaanse woord wat “rots, rotsblok of rotsburg” beteken het, en ook verder ontleen is deur onder andere Spaans (roca), Italiaans (rocca), Portugees (rochia), Baskies (arroka), Bretons (roch) en Engels (rock). Dit kom in Vroeë Middelnederlands (1240) voor as roke en later ook as rotse, rootse of rootsche (Philippa e.a. 2010).
2.3.9 sand
Wanneer iets ontelbaar soos die sand van die see is, is daar so baie (van iets) dat mens dit nie kan tel of bereken nie (Botha e.a. 1994:306).
Die eerste optekening van dié uitdrukking was in die Liesveldtbijbel (1526), Genesis 32:13, waar Jakob belowe word dat sy nasate sou wees “als dat sant des zees, dat men nyet ghetellen en can” (Van Dalen-Oskam en Mooijaart 2005), en dit is teenswoordig ook nog (hoewel ietwat deftig of formeel) in Nederlands gebruiklik (ontelbaar als het zand der zee) (Van Dale 1984:3463).
Hoewel die herkoms van die uniek Afrikaanse uitdrukking land en sand aanmekaar praat (onder land in 2.4.8 bespreek) nie met sekerheid nagespoor kon word nie, kan dit moontlik teruggaan op ’n betekenis wat deur Van Dale (1984:3463) by zand aangegee word as zandbank in zee of zandstrand soos in die verbinding het schip zit/loopt op het zand”.
2.3.10 see
In Afrikaans is daar twee uitdrukkings met see wat met mekaar verband hou: eerstens die see kan dit nie afwas nie, wat verwys na iets onvergeefliks (VAW 1993:744), en tweedens die see kan iemand nie skoon was nie of al die seewater kan iemand nie afwas / skoon was nie, wat daarop dui dat iemand iets so ergs gedoen het dat hy/sy nie vergewe kan word nie, of, soos in HAT (2015:1110) aangedui word: “deur iemand erg sleggesê word / wees”.
Volgens Stoett (2010) is hierdie uitdrukking al sedert die 16de eeu gebruiklik, en dit kom ook in Moderne Nederlands voor as dat kan al het water in de zee niet afwassen (Martin 2011:2141). Stoett (2010) wys verder op die verband van die uitdrukkings met die Doop, wat alle vlekke en smette sou moes wegneem. Die verklaring is dat wanneer iemand se dade te erg was, selfs die doop deur al die water in die see hom nie kon red nie. Stoett meld ook dat seewater oorspronklik gebruik is wanneer hande simbolies in kerkseremonies gewas is. (Daar is boonop die bygeloof dat die duiwel bang is vir sout.) Die Katolieke Kerk se doopwater en wywater bevat ook sout (Stoett 2010).
Martin (2011:2141) gee ook die figuurlike betekenis “zeer grote hoeveelheid”, soos in ’n see van bloed/trane/lig/ruimte ens., en noem verder uitdrukkings soos reg deur (die) see gaan, “reg op jou doel afgaan”. In Nederlands het die twee uitdrukkings een zee van bloed ... en recht door zee gaan dieselfde betekenis as in Afrikaans. Vir die uitdrukking die see in jou bloed hê, “vir die seevaart gebore wees”, gee Martin egter die Nederlandse ekwivalent zout in het bloed hebben, en in Van Dale (1984: 3529) zout in de aderen hebben.
Ander vaste verbindings waarin die woord see voorkom, is: die (oop) see kies, ter see en ter land, in volle see, seebene hê/kry – almal verbindings wat ook in Nederlands gebruiklik is (Van Dale 1984:3456–69).
Die meeste etimologiese woordeboeke meld dat daar nog heelwat onsekerheid bestaan oor die vroegste herkoms van die woord see. De Vries (1967:258) noem dat die woord reeds in alle Oudgermaanse tale voorgekom het, en bespiegel dat die grondvorm saiwa moontlik uit ’n voor-Indo-Germaanse taal oorgeneem is, in die lig daarvan dat ook in die nie-Indo-Germaanse Fins die woord saiva in ’n verwante betekenis voorkom. In Oudnederlands kom seo reeds in die 10de eeu (901–1000) voor, en in Middelnederlands is see al algemeen gebruiklik (De Vries 2010).
2.3.11 snoek
In beide Afrikaans en Nederlands verwys snoek na ’n gladde, getande soort roofvis. In Afrikaans is ’n snoek egter ’n seevis (Thirsytes atun), terwyl dit in Nederlands ’n soetwatervis (Esox lucius) is (Martin 2011:1620). Hier het dus betekenisverskuiwing plaasgevind.
HAT (2015:1196) dui drie uitdrukkings onder die lemma snoek aan, waarvan slegs een ook in Nederlands bestaan, naamlik die uitdrukking een snoek vangen, in Afrikaans iemand het ’n snoek gevang, wat skertsend gebruik word van iemand wat in die water val of die roeispane te diep insteek (Stoett 2010). Uniek Afrikaans is die snoek loop, wat beteken dat daar baie snoek naby genoeg is om gevang te word (HAT 2015:1196) en die informele uitdrukking slaat my met ’n nat snoek wat groot verbasing uitdruk (HAT (2015:1196).
Hoewel die oorsprong van die woord onseker is, meen Philippa e.a. (2010) die waarskynlikheid dat snoek een van ’n aantal formasies met sn- as anlaut is wat gebruik word vir ’n voorwerp/dier met ’n spits voorpunt (vgl. snawel, snuit, snip en Engels snook, snout, en snake). Dit kom in ieder geval al in Vroeë Middelnederlands voor as snoec (1286) (Philippa e.a. 2010).
2.3.12 sog
Om in iemand se sog (= waterspoor agter skip) te vaar beteken volgens HAT (2015:1202) om voordeel te trek uit iemand anders se moeite of om dit maklik te hê as gevolg van iemand anders se harde werk.
Philippa e.a. (2010) dui aan dat sog, wat ’n inkorting is van kielsog, afgelei is van die woord suig en verband hou met die suigkrag van die skip soos dit deur die water beweeg. Reeds vroeg in die 17de eeu (1622) kom soch in dié betekenis voor (Philippa e.a. 2010), en was ook die uitdrukking in iemands zog varen (vir iemand hinderlik wees) bekend, byvoorbeeld by Brederode en Vondel (Stoett 2010). Ook in hedendaagse Nederlands (Van Dale 1984:3518) is dié betekenis steeds gebruiklik naas iemand navolgen.
2.3.13 spiering
HAT (2015:1222) verklaar die betekenis van spiering as “klein, salmagtige soort vis (Osmerus eperlanus) van Europese kuswaters” en van die uitdrukking ’n spiering uitgooi om ’n kabeljou te vang as “’n kleinigheid opoffer om groot voordeel te behaal”.
Die woord spierinc of spierling staan reeds in Vroeë Middelnederlands te boek, en die figuurlike uitdrukking een spiering/schelvis uitgooien om een kabeljauw te vangen is ook al vanaf die 17de eeu in Nederlands bekend (Stoett 2010).
Oor die herkoms van spiering word nog veelal bespiegel, maar een moontlikheid sou kon wees dat dit van die Gemeengermaanse woord spier, “spits voorwerp”, afgelei is deur toevoeging van die agtervoegsel -ing, wat meermale by Nederlandse visname voorkom (vergelyk haring, bokking, wijting, ens.) (Philippa e.a. 2010).
2.3.14 strand
Volgens HAT (2015:1277) beteken op die strand loop om op die strand te beland en dan nie weer daarvandaan weg te kan kom nie, soos in die geval van ’n skip.
Oor die oorsprong van die woord strand heers daar nog onsekerheid, maar volgens Philippa e.a. (2010) was strandt reeds in Middelnederlands (1368) gevestig in die betekenis “den ouer aen see”, en die uitdrukking (met een schip) op strand lopen is in Nederlands ook algemeen bekend (Van Dale 1984:3789). (Dit doen in Nederlands egter eerder letterlik as figuurlik aan.)
Uit die selfstandige naamwoord strand ontwikkel die werkwoord stranden, “op die strand beland en vassit”, wat in beide Afrikaans en Nederlands figuurlik gebruik kan word in die betekenis “misluk” of “doodloop” (HAT 2015:1277 en Van Dale 1984:2790), asook byvoorbeeld in die uitdrukking êrens gestrand sit/wees (Nederlands ergens stranden), wat beteken “(op reis) êrens vasval en nie kan voortgaan nie” (HAT 2015:1277 en Van Dale 1984:2790).
2.3.15 streek
In die skeepvaart het streek in die 17de eeu beteken “windstreek, een van 32 onderverdelings op die kompas” (Philippa e.a. 2010). Dit is hierdie betekenis wat teruggevind kan word in ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings met streek of die wisselvorm stryk: As mens op stryk kom, dan kom jy weer op koers, oorspronklik gesê van skepe, maar deesdae figuurlik van mense, in die sin van weer regkom. Om van streek (stryk) te wees/raak, beteken om verward of ontstig te wees/raak. Iemand van stryk bring beteken “iemand verwar/ontstel”. Goed op streek (stryk) wees beteken “goed op gang/koers wees”. Stryk hou beteken “volhou; koers hou” en een stryk deur “aaneen, sonder ophou” (HAT 2015:1278). Hoewel die uitdrukkings Kry jou stryk!, “Trap!”, en ou stryk/oustryk gaan, “nog soos altyd / op die ou koers gaan”, nie in Nederlands opgespoor kon word nie, kan hulle kennelik ook tot die betekenis “gang, koers” teruggevoer word (WAT XI 2000:853).
In Van Dale (1984:2791–2792) word die volgende uitdrukkings met streek in dieselfde betekenis as in Afrikaans aangetref: op streek zijn/komen; van streek zijn; iemand van streek brengen; streek houden; in één streek.
Stoett (2010) meld dat die laasgenoemde uitdrukking reeds in Middelnederlands bekend was as eens streecs. Hy noem ook ’n verdere Nederlandse uitdrukking, lelijke streken op zijn kompas hebben, “vol streke wees”, waaruit moontlik afgelei sou kon word dat selfs ook uitdrukkings soos iemand sy streke afleer, vol streke wees, en (mal) streke uithaal, waar ’n ander betekenis ter sprake is, naamlik “lis, gril, slimmigheid of kattekwaad” (HAT 2015:1278), ’n verband met die skeepvaart sou kon toon.
Volgens Philippa e.a. (2010) is die woord streek waarskynlik terug te voer na die Germaanse werkwoordstam striki- (vgl. Goties striks en Oudhoogduits Strich – albei “streep”). Sover bekend is daar nie ’n Oudnederlandse vorm aangeteken nie, maar in Middelnederlands het streke in verskeie betekenisse bestaan, onder andere “streep; klap/raps; strook; kwashaal”, maar ook “koers/rigting”, wat in die skeepvaart ontwikkel het tot “windstreek”.
2.3.16 vaarwater/vaalwater
As jy in iemand se vaarwater (of vaalwater) kom, dwarsboom jy hierdie persoon (VAW 2010:1382) of betree jy sy gebied (HAT 2015:1415). Vir Afrikaanssprekendes het die woord en die verskynsel vaarwater egter min of geen betekenis gehad, en gevolglik het vaarwater volksetimologies verander na vaalwater (Boshoff en Nienaber 1967:672).
Volgens Van der Sijs (2006) is vaarwater ’n 16de-eeuse samestelling wat gevorm is ter aanduiding van die waterweg wat deur ’n vaartuig gevolg is, maar wat later ook na kielwater kon verwys. In 17de-eeuse Nederlands was die betekenis van in het vaarwater liggen “voor die boeg van die skip lê”, en die uitdrukking was dan ook oorspronklik dwars in’t water/vaarwater liggen (Stoett 2010).
HAT (2015:1415) noem egter ook die uitdrukking in die vaarwater (vaalwater) kom/beland, wat beteken “in die moeilikheid kom” en verband sou kon hou met die betekenis “kielwater”, wat op sy beurt “die stink, vuil water bo die kiel onder in die skip” kon beteken (HAT 2015:613). ’n Moontlik verwante segswyse bestaan ook in Nederlands, naamlik in het vaarwater / gevaarlijk vaarwater komen, “in ’n netelige posisie beland” (Van Dale 1984:3071).
2.3.17 water
Die uitdrukking al die water van die see kan dit nie afwas nie beteken dieselfde as die see / al die seewater kan dit nie afwas nie, wat reeds onder die trefwoord see (2.3.10 hier bo) bespreek is. Ander vaste uitdrukkings met water in Afrikaans is: (’n skip) te water laat, “’n skip van stapel / die werf laat loop”; die groot water, “die see”; olie op die water/golwe gooi, “die gemoedere laat bedaar”; en van geen sout of water weet nie, “in die duister verkeer” of “onkunde pleit” (Martin 2011:2065). Die laasgenoemde uitdrukking kon egter nie in Nederlands opgespoor word nie, en die verband met die seevaart is dus nie noodwendig voor die hand liggend nie.
Die segswyse dat kan al het water van de zee niet afwassen (Van Dale 1984:3353) het volgens Stoett (1923–1925) reeds sedert die 17de eeu algemeen voorgekom as dat kan (hem/haar) het water van de see niet afwassen/afspoelen/reinigen, en ook die uitdrukking (een schip) te water laten, “van stapel laten lopen”, asook olie op de golven werpen is in Nederlands algemeen gebruiklik.
2.3.18 wind
Uiteraard was die verskynsel wind in die seilvaart van oudsher af ’n deurslaggewende faktor, vandaar die veelheid van uitdrukkings met die woord wind. Een daarvan is in Afrikaans die wind waai uit die verkeerde hoek, wat sy oorsprong daarin het dat die skipper dit sou sê wanneer hy ’n ongunstige wind op see moes trotseer, en wat in oordragtelike sin verwys na (veranderende) omstandighede wat nie vir ’n bepaalde doel bevorderlik is nie (Philippa e.a. 2010). Verder ook: As ’n mens die wind uit iemand se seile neem, spring jy hom voor of neem jy die angel uit sy argument. As jy die wind van agter het of die wind in jou seile het, of as dit voor die wind gaan, gaan dit voorspoedig met jou. As jy daarteenoor die wind van voor kry, ondervind jy teëstand (HAT 2015:1591). HAT bied verder ook weet/kyk uit watter hoek die wind waai, “weet/kyk hoe sake staan”, asook waai die wind uit dié hoek? en is dit hoe die wind waai?, “is dit hoe sake staan?”. Martin (2011:1421) noem daarnaas ook ’n uniek Afrikaanse uitdrukking punt in die wind gaan, “voorspoedig gaan”, waar punt verwys na die stewe – die uiterste voor- of agterste punt van ’n skip.
Volgens Stoett (2010) kan al hierdie uitdrukkings teruggevoer word tot die seilvaart en was die uitdrukkings iemand de wind uit de zeilen nemen, de wind van achteren / in het zeil hebben en voor de wind gaan/varen/zeilen, asook de wind van voren krijgen (Van Dale 1984:3417) al in die 17de eeu in die oordragtelike betekenis gebruiklik. Ook die Nederlandse uitdrukkings weten uit welke hoek de wind waait of zien hoe / van waar de wind komt, “weet/kyk hoe sake staan” (Van Dale 2005:3417) is in Nederlands algemeen gebruiklik.
Die woord wind kom reeds voor die 10de eeu in alle Germaanse tale voor, asook reeds in Sanskrit (as vata-), en in ’n aantal nie-Germaanse tale, soos Latyn (ventus) en Wallies (gwynt). Ook in Oudnederlands staan dit al in die 10de eeu as uuint te boek (Philippa e.a. 2010).
2.4 Land, kaai en skeepswerf
2.4.1 aanlê
Die Afrikaanse uitdrukking by iemand aanlê beteken “na iemand vry” (HAT 2015:7). Dit kom uit Nederlands aanleggen (veral ten opsigte van skepe), “teen iets aanbring en vasmaak” (1599), “stilhou of vertoef op ’n plek, ook om vrag in te skeep” (1611) en om “’n nooi die hof te maak” (1626) (Van Wyk e.a. 2003:3).
Die laaste toepassing is ook in Nederlands bekend as het aanleggen met iemand, soos aangedui in Martin (2011:53).
2.4.2 afskeep
Die Afrikaanse uitdrukking iemand/iets afskeep beteken, naas die minder gebruiklike “op ’n skip laai”, ook “iemand te kort doen of sleg behandel” of “swak werk lewer” (HAT 2015:31).
In Moderne Nederlands beteken iemand (met iets) afschepen “iemand met ’n kluitjie in die riet stuur” of “iemand minder gee as wat hom toekom”, en zich niet laten afschepen beteken “nie toelaat dat jy te kort gedoen word nie” (Van Dale 1984:110).
Afskeep is afkomstig van die Middelnederlands affscepen, “(goedere) per skip wegstuur”, en is gevorm uit af in die betekenis “weg” en die werkwoord scepen, “per skip wegvaar of wegstuur”. Die betekenis het egter mettertyd ontwikkel van ’n letterlike tot ’n oordragtelike en pejoratiewe sin (Philippa e.a. 2010).
2.4.3 aftakel
Die oorspronklike betekenis van aftakel is “die takelwerk van ’n skip verwyder”. Dit kan egter ook oorganklik in die wyer betekenis “afbreek; sloop” gebruik word, byvoorbeeld in ’n gebou aftakel (HAT 2015:35), of “buite werking stel; ontmantel”, byvoorbeeld in kernwapens aftakel (Martin 2011:115), asook in die figuurlike sin in iemand aftakel, “iemand kritiseer” (VAW 2010:38 en Martin 2011:115). Albei die laaste toepassings word deur Martin (2011:115) aangedui as uitsluitlik Afrikaans.
In Van Dale (1984:120) word die oorganklike werkwoord aftakelen as teenswoordig weinig gebruiklik aangemerk. Dit gaan dus hier om ’n betekenis wat in Nederlands vervaag, maar in Afrikaans aktief bly voortbestaan het.
Onoorganklik kom aftakel egter in sowel Afrikaans as Nederlands voor in die betekenis “liggaamlik of geestelik agteruitgaan”, soos in beide Van Dale (1984:29) en Martin (2011:115) aangedui word: Hij begint nu af te takelen en sy is kwaai afgetakel.
2.4.4 baantjies
Baantjies vir boeties verwys na poste wat vir familielede en vriende voorsien word. In Afrikaans bestaan die woord baan in die betekenis “pos, betrekking” egter alleen in die uitdrukking hier bo en in die samestelling loopbaan (“beroep”), wat in Nederlands veel minder gebruiklik is as die sinoniem carrière (Martin 2011:1018). Hoewel die uitdrukking baantjies vir boeties slegs in Afrikaans bestaan (Martin 2011:284), hou dit kennelik verband met die Nederlandse betekenis.
In Nederlands beteken baan naas “pad, weg” ook “betrekking”. Die woord kom uit die Middelnederlands vir slagveld (1340–50), speelbaan, kaatsveld (ongeveer 1410), “betrede en begaanpare weg” (ongeveer 1480); 16de-eeus baen, bane, “betrede weg” (1573). Teen die 18de eeu kom ook die betekenis “betrekking” voor, aanvanklik egter slegs in die verkleiningsvorm baantje (1739).
Dit is oorspronklik ’n seemansterm en dui op ’n betrekking by die seevaart wat vrystelling gee van die vermoeiende werksaamhede aan boord. Die betekenis het ontstaan via die uitdrukking baantje rijden vir skaatsers wat nie ’n ver en vermoeiende tog buite die skaatsbaan aangedurf het nie. Sedert die middel van die 20ste eeu kom naas baantje ook baan in die betekenis van “beroep, betrekking” voor (Philippa e.a. 2010).
2.4.5 betakel
Die werkwoord betakel het oorspronklik beteken “om ’n skip van takelwerk te voorsien”. In Afrikaans word dit slegs nog in die figuurlike betekenis “besmeer” of “handgemeen raak; toetakel” gebruik, byvoorbeeld in mekaar met verf betakel of die honde het mekaar betakel (HAT 2015:109).
Hierdie betekenis bestaan nie in Moderne Nederlands nie, en in Van Dale (1984:328) word die woord betakelen selfs in die letterlike betekenis as ongewoon aangedui. Ook hier gaan dit dus om ’n betekenis wat in Afrikaans aktief voortbestaan het, terwyl dit in Nederlands grotendeels verdwyn het.
2.4.6 invaar
Die letterlike betekenis van die samestelling invaar is in sowel Afrikaans as Nederlands “met ’n vaartuig binnegaan”. Die oordragtelike betekenis “met krag / sonder oorleg êrens ingaan / binnestorm” in uitdrukkings soos ’n vertrek/huis/kantoor invaar, asook die wye wêreld invaar of wat het in jou ingevaar?, “wat het jou besiel?”, kom egter veral in Afrikaans voor (Martin 2011:806). Volgens HAT (2015:537) kan invaar figuurlik ook “met woorde aanval / inklim” beteken, soos in die uitdrukking in/onder iemand invaar, wat ook slegs in Afrikaans voorkom.
Die uitdrukking die duiwel het in hom ingevaar kom egter ook in Nederlands voor as de duivel is in hem gevaren (Philippa e.a. 2010).
2.4.7 kant
Die betekenis van kant nog wal raak is volgens HAT (2015:581) “geen sin maak nie, die punt totaal mis”. Volgens Van Veen en Van der Sijs (2010) verwys in dié uitdrukking beide kant en wal na die waterkant of oewer, en is dit dus ook aan skeepvaart gekoppel. Dieselfde betekenis word ook teruggevind in die uitdrukking kant en wal wees/lê, “tot oorlopens vol wees”, wat egter deur Martin (2011:842) as slegs Afrikaans aangedui word.
Ook in hedendaagse Nederlands kom die betekenis “zoom van een water; oever” voor (Van Dale 1984:1280), en is die uitdrukking kant noch wal raken in die betekenis “glad verkeerd, onzin zijn” (Van Dale 1984:1280) algemeen bekend.
Philippa e.a. (2010) noem dat die woord kant ontleen is aan Oudfrans chant, “kant, soom, rand, sy”, wat waarskynlik afkomstig is van Klassieke Latyn, cant(h)us (Grieks kanthos), wat albei “velling” of “rand” beteken het.
2.4.8 land
Volgens Van Dale (1984:1518) het land van vroeg af aan ook “wal, oewer of kus” beteken in uitdrukkings soos te lande kom en selfs in woorde soos beland, aanland, e.a. Stoett (2010) meld dat die uitdrukking te lande comen, “terechtkomen”, in Middelnederlands veral in die konteks van die seevaart voorkom. In die Afrikaanse uitdrukking bestaan daar egter nouliks meer ’n verband met die seevaart en beteken dit eenvoudig “êrens beland” (HAT 2015:713). Ook die woorde belanden en aanlanden het oorspronklik beteken “aan land kom”, maar het in beide Afrikaans en Nederlands teenswoordig die breër betekenis “teregkom; aankom” (Van Dale 1984:18, 287 en HAT 2015:7, 94).
Die uitdrukking land en sand aanmekaar praat/gesels, “sonder ophou praat, oor alles en nog wat praat” (HAT 2015:713), sou kennelik verband kon hou met die betekenis hier bo, aangesien beide sand en land kon beteken “kus, oewer” (De Vries 1971 en Van Wijk e.a.1936). In Moderne Nederlands kom die uitdrukking egter nie voor nie (Martin 2011:962).
Die woord land in die betekenis “die deel van die aarde wat nie met water bedek is nie” is moontlik een van die oudste woorde in ons taal. Volgens Philippa e.a. (2010) sou dit selfs ’n ontlening kon wees aan ’n pre-Indo-Europese substraattaal, te oordeel daaraan dat dit ook in Baskies (landa) en Katalaans (lianda) bestaan.
2.4.9 opgeskeep
Hoewel die woord opskeep wel in Afrikaans voorkom (HAT 2015:932), word dit meestal as verlede deelwoord, opgeskeep, gebruik. In Du Plessis (2005) word dit selfs nie as trefwoord opgeneem nie. Wanneer mens met iemand/iets opgeskeep sit/is, is daardie persoon vir jou ’n las, en as jy met jouself opgeskeep sit, verveel jy jou (vgl. HAT 2015:926).
Van Wyk e.a. (2010) noem dat die werkwoord opschepen in die Middeleeue in die skeepvaart bekend was in die betekenis “uit ’n skip aan wal bring”, wat mettertyd egter ontwikkel het tot “op ’n skip laai, inskeep”. Van daaruit die figuurlike toepassing “belas wees”, meestal as verlede deelwoord opgescheept, wat reeds by Van Riebeeck meermale voorkom (1661–2) (Van Wyk e.a. 2010).
Van Dale (1984:2017) wys daarop dat opschepen/opgescheept ook in hedendaagse Nederlands uitsluitlik in figuurlike uitdrukkings soos met iets opgescheept zitten en iemand met iemand/iets opschepen voorkom.
2.4.10 spykers
Hoewel die uitdrukking spykers op laagwater soek, “hare kloof”, nog in VAW (1993:842) voorkom, is dit teenswoordig weinig gebruiklik.
Hoewel spiker /spike reeds vroeg in Middelnederlands (1284) bestaan het, was dit minder gebruiklik as die sinoniem nagel (Philippa e.a. 2003–2009). Die uitdrukking spijkers op laagwater zoeken, “vitten, niets beduidende aanmerkingen maken”, is egter reeds in die 18de eeu algemeen bekend in Nederlands. Stoett (2010) verduidelik dat spykers wat gedurende die dag van die werksbanke by skeepstimmerwerke in Nederland afgeval het, met laagwater gesoek is. Min of geen spykertjies is blykbaar gevind nie, en die figuurlike betekenis is gevolglik om na beuselagtighede te soek waar hulle nouliks bestaan (Stoett 2010).
Die herkoms van die woord spyker is nie heeltemal seker nie, maar daar word dikwels aangeneem dat dit afgelei is van ’n Proto-Germaanse wortel spie-, “puntig, skerp” – vergelyk spits, spier, speld, splinter, Engels spike, spindle, en selfs Latyn spica, “koringaar” (Philippa e.a. 2010).
2.4.11 stapel
Martin (2011:1668) dui aan dat die uitdrukking goed van stapel loop “goed afskop” beteken en van stapel stuur “op die been bring”. Stoett (2010) meld dat stapel in ’n skeepvaartkonteks verwys na die stellasie in ’n skeepswerf waarop ’n skip in aanbou rus voordat dit te water gelaat word. In skeepsterme verwys die uitdrukking dus na ’n skip wat suksesvol te water gelaat is.
Die figuurlike toepassing dat iets goed afloop, was in die 17de eeu reeds bekend in die uitdrukkings van stapel loopen/zetten (Stoett 2010). In hedendaagse Nederlands kom naas glad van stapel lopen, “goed, sonder probleme verloop”, en op stapel zetten, “met iets moeiliks begin”, ook te hard van stapel lopen, “onbesuisd optree”, voor (Van Dale 1984:2725), wat nie in Afrikaans bekend is nie.
Philippa e.a. (2010) wys daarop dat stapel reeds in die 8ste eeu in Oudnederlands in gelatiniseerde vorm stapilus na ’n stellasie bo ’n graf verwys het, en in Middelnederlands naas “hoop” en “opslagplek” ook “voetstuk, basis, onderstel” kon beteken, terwyl dit al in die 17de eeu spesifiek vir ’n skeepsboustellasie gebruik is.
2.4.12 stuurman/stuurlui
Die segswyse die beste stuurlui/stuurman staan aan wal, wat beteken “dis makliker om te kritiseer as om die werk te doen” (HAT 2015:1288), was volgens Stoett (2010) in die 17de eeu reeds gebruiklik en is ook in Moderne Nederlands algemeen bekend: de beste stuurlui staan aan wal (Van Dale 1984:2817).
2.4.13 takel
Van Wyk e.a. (2003:471) gee onder die werkwoord takel twee betekenisse, naamlik “’n skip van toue en seile voorsien”, wat al in die Middeleeue (1599) bestaan het, en “aanval, afransel, slaan”. In Afrikaans kom die werkwoord selfstandig voor in iemand takel, “iemand konfronteer, aanval”, en iets takel, “iets aandurf, aanpak” (HAT 2015:1316), maar – soos in Nederlands – ook in verbindings soos be-, af-, op- en toetakel.
In Moderne Nederlands kom die werkwoord takelen ook in die oorspronklike letterlike betekenis voor, maar daarnaas ook in die betekenis “met een takel ophijsen” (Van Dale 1984:2847). Die oordragtelike betekenis “ranselen” word egter as slegs gewestelik aangemerk. Dit gaan hier dus om ’n betekenis wat in Standaardnederlands op die agtergrond verdwyn het, terwyl dit in Afrikaans aktief bly voortbestaan het.
Philippa e.a. (2010) noem dat die selfstandige naamwoord takel waarskynlik uit die Middelnederlandse taken, “neem” of “aanraak, gryp”, ontstaan het deur toevoeging van die iteratiewe agtervoegsel -el, wat meermale voorkom by werktuie soos beitel, ransel, hengel, ens. Middelnederlands taken is op sy beurt verwant aan ouer Germaanse vorme soos Oudengels tacan en Oudnoors taka, albei “neem”, en Goties tekan, “raak”. Hieruit het die werkwoord takelen ontwikkel, wat oorspronklik “een schip uitrusten” beteken het, maar ook later die betekenis van “ruw behandelen” verkry het (Philippa e.a. 2010).
2.4.14 toetakel
As jy iemand toetakel, gee jy hom ’n loesing, en as ’n dame haarself toetakel, dan klee, versier of grimeer sy haarself potsierlik (HAT 2015:1351). Oorspronklik het die werkwoord toetakelen letterlik beteken “’n skip met takelwerk toerus” (Philippa e.a. 2010). In Afrikaans bestaan hierdie letterlike betekenis egter nie meer nie, en kom toetakel slegs in die figuurlike sin soos hier bo voor. Hier het die betekenis dus verskraal.
Philippa e.a. (2010) noem dat toetakelen naas die letterlike betekenis later ook ’n oordragtelike betekenis van “ruw behandelen” en ook “smakeloos bekleden of versieren” verkry het, albei uitdrukkings wat vandag nog in Nederlands algemeen gebruik word (Van Dale 1984:2942).
2.4.15 uitvaar
As jy teen iemand uitvaar, gaan jy heftig teenoor hom tekere of skel jy die persoon uit (HAT 2015:1407). Die oorspronklike betekenis van die uitdrukking was “met ’n skip op reis gaan, vertrek” (Van der Sijs 2010), maar die oordragtelike betekenis “tier, skel” is ook in hedendaagse Nederlands algemeen bekend, soos in: tegen iemand/iets uitvaren (Van Dale 1984:3053).
2.4.16 wal
In HAT (2015:1560) word wal onder meer gedefinieer as “oewer, kaai”, terwyl Van Dale (1984:3338) dit verder spesifiseer as “bemetselde of geschoeide waterkant, kade” .
In Afrikaans word verskeie uitdrukkings met wal in dié betekenis gevind: naas kant nog wal raak, kant en wal wees, en die beste stuurlui/stuurman staan aan wal (wat reeds vroeër bespreek is; kyk 2.4.12) ook nog aan wal gaan/kom of voet aan wal sit – albei “(êrens) land”; van wal stuur/steek, “wegvaar”, en ook “(met iets) begin” (HAT 2015:1560). Die uitdrukking aan laer wal wees (Du Plessis 2005:689) of aan laer wal geraak, “agteruitgaan (in die maatskappy)” (HAT 2005:1369 en VAW 1993:1071), word deur Du Plessis vierkantig in die skeepvaartkonteks geplaas in die Engelse vertaling be in the shallows of be on the rocks. Die uitdrukking kom egter nie meer in HAT 2015 voor nie.
In Nederlands is naas aan wal gaan/komen en voet aan wal zetten, asook van wal steken, in dieselfde betekenis as in Afrikaans gebruiklik (Van Dale 1984:3339, 3263). Stoett (1923–1925) wys daarop dat lager wal in die Nederlandse uitdrukking aan lager wal geraken/zijn/zitten teruggevoer kan word na die 16de-eeuse woord leegerwal, wat beteken het “het land daer de windt na toe waiet” of “de kust waar de wind op staat”. Hy meld ook dat die oordragtelike uitdrukking aan lagerwal (of lager wal) geraken/zijn, “in slechte omstandigheden komen/verkeren” reeds in die 17de eeu algemeen bekend was.
3. Ten slotte
In hierdie artikel is aangetoon dat 17de-eeuse Nederlandse seemanstaal ’n belangrike rol gespeel het om uitdrukkings wat met die see as tema verband hou in Afrikaans te laat posvat. In hierdie verband het die VOC ’n belangrike bydrae gelewer. Die herkoms van ’n hele aantal uitdrukkings uit hierdie subleksikon van Afrikaans is beskryf. Terwyl sommige uitdrukkings in vergelykbare vorm en met dieselfde betekenis in Nederlands en Afrikaans behoue gebly het, byvoorbeeld die loef afsteek / de loef afsteken, “iemand oortref”, het daar by heelwat uitdrukkings in Afrikaans betekenisverskuiwing plaasgevind. Die uitdrukking van bakboord na stuurboord stuur is byvoorbeeld tans veel minder gebruiklik in Nederlands as die sinonieme uitdrukking van het kastje naar de muur zenden. In sommige gevalle het uitdrukkings in Nederlands in onbruik geraak, soos uitdrukkings met byvoorbeeld bottel. Die Afrikaanse uitdrukking te diep in die bottel kyk se ekwivalent in Nederlands is diep in het glaasje kijken. Eweneens het uitdrukkings met die woord kombers daarin in Nederlands slegs in seevaartkonteks bly voortbestaan, terwyl dit in Afrikaans ’n meer inklusiewe betekenis verkry het, byvoorbeeld in onder een kombers slaap, al jou kinders onder een kombers kan toemaak, ens. Betekenisuitbreiding kom byvoorbeeld ook voor by die woord anker, soos in die uitdrukking ankers uitgooi, “remme aanslaan”, wat slegs in Afrikaans voorkom. Die woord balie het ook in Afrikaans naas “oop vat of kuip” ’n bykomende oordragtelike betekenis ontwikkel, naamlik “swaarlywige persoon”.
Bibliografie
Boshoff, S.P.E. en G.S. Nienaber. 1967. Afrikaanse etimologieë. Pretoria: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Botha, R.P., G. Kroes en C. Winckler. 1994. Afrikaanse idiome en ander vaste uitdrukkings. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers.
Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.
Carstens, W.A.M. en E.H. Raidt. 2017. Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika – Biografie van ’n taal. 2017. Pretoria: Protea Boekhuis.
Collins Online Dictionary. s.j. https://www.collinsdictionary.com (5 Junie 2019 geraadpleeg).
Conradie, C.J. en G. Groenewald. 2017. Die ontstaan en vestiging van Afrikaans. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.
De Ruyter, C. en E.F. Kotzé. 2002. Oor Austro-Nederlands en die oorsprong van Afrikaans. Literator, 23(3):139–60.
De Villiers, M. en R.H. Gouws. 1988. Idiomewoordeboek. Kaapstad: Nasou.
De Vries, J. 1967. Etymologisch woordenboek. Hersien deur P.L.M. Tummers. Utrecht en Antwerpen: Aula-Boeken.
—. 1971. Nederlands Etymologisch Woordenboek. Leiden. In Van der Sijs (samest.). 2010.
Du Plessis, M. (hoofred.). 2005. Pharos Afrikaans-Engels / English-Afrikaans woordeboek/dictionary. Kaapstad: Pharos.
—. 2011. Pharos Afrikaans-Engels / English-Afrikaans woordeboek/dictionary. 2de uitgawe. Kaapstad: Pharos.
HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). 2005. Onder redakteurskap van J. Luther, F. Pheiffer en R.H. Gouws. 5de uitgawe. Kaapstad: Pearson.
—. 2015. Onder redakteurskap van J. Luther, F. Pheiffer en R.H. Gouws. Kaapstad: Pearson. 6de uitgawe. Kaapstad: Pearson.
Gezegdes en uitdrukkingen uit de scheepvaart, s.j. https://historiek.net/gezegdes-en-uitdrukkingen-uit-de-scheepvaart/58445 (8 Mei 2020 geraadpleeg).
Kaap die Goeie Hoop. s.j. www.wikiwand.com. http://www.wikiwand.com/af/Kaap_die_Goeie_Hoop (29 Oktober 2019 geraadpleeg).
Liebenberg, H. s.j. Stories oor die herkoms en betekenis van Afrikaanse idiome, segswyses en woorde. http://www.taaloord.co.za.
—. 2018. Die Wes-Kaapse Argief en die begin van Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2):204–35.
Martin, W. (hoofred.). 2011. Prisma groot woordenboek Afrikaans en Nederlands. Houten en Antwerpen: Uitgeverij Unieboek/Het Spectrum.
Meijer, C.N.Ph. 2010 [1919]. Woorden en uitdrukkingen verklaard door Dr C.N. Meijer. Amsterdam. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Otto, A.N. 2018. The etymology of Afrikaans idioms and proverbs dealing with the sea. Referaat gelewer tydens ’n kollokwium oor die see in film, taal, letterkunde, kuns en musiek, 22 Junie, Port Elizabeth: Nelson Mandela Universiteit.
Philippa, M., F. Debrabandere, A. Quak, T. Schoonheim en N. van der Sijs. 2010 [2003–2009]. Etymologisch woordenboek van het Nederlands. 4 dele. Amsterdam. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Prinsloo, A.F. 1997. Afrikaanse spreekwoorde en uitdrukkings. Pretoria: Van Schaik.
—. 2009. Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom. Kaapstad: Pharos.
Raidt, E. 1980. Afrikaans en sy Europese verlede. Goodwood: Nasou.
Sanders, E. 2010 [1997]. Borrelwoordenboek: 750 volksnamen voor onze glazen boterham. Den Haag. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Scholtz, J. Du P. 1965. Afrikaans uit die vroeë tyd: Studies oor die Afrikaanse taal en literêre volkskultuur van voor 1875. Kaapstad: Nasou.
Schröder, P.H. 1980. Van Aalmoes tot Zwijntjesjager. Baarn. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Stoett, F.A. 2010 [1923–1925]. Nederlandsche spreekwoorden, spreekwijzen, uitdrukkingen en gezegden. Drie dele. 4de uitgawe. Zuthpen. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Van Dale (Groot woordenboek der Nederlandse Taal). 1984. Onder redakteurskap van G. Geerts en H. Heestermans met medewerking van C. Kruyskamp. 11de hersiene uitgawe. Utrecht en Antwerpen: Van Dale Lexicografie.
Van Dalen-Oskam, K. en M. Mooijaart. 2005. Nieuw bijbels lexicon: Woorden en uitdrukkingen uit de bijbel in het Nederlands van nu, uitgebreid met De Nieuwe Bijbelvertaling. Amsterdam: Bakker.
Van der Sijs, N. (samest.). 2006. Klein uitleenwoordenboek. Den Haag: SDU.
—. 2010. Etymologiebank. http://www.etymologiebank.nl (25 Oktober 2019 geraadpleeg).
Van Eeden, E. 1997. Groot spreekwoordenboek. Aertselaar: Zuidnederlandse Uitgeverij N.V.
Van Riebeeck se Dagregister. https://www.dbnl.org/tekst/rieb001dagh01_01/rieb001dagh01_01_0001.php (11 Mei 2020 geraadpleeg).
Van Veen, P.A.F. en N. Van der Sijs. 2010 [1997]. Etymologisch woordenboek: De herkomst van onze woorden. Tweede uitgawe. Utrecht en Antwerpen. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Van Wijk, N. 2010 [1936]. Francks’s etymologisch woordenboek der Nederlandsche taal. Tweede uitgawe. Den Haag. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Van Wyk, G.J., A.E. Cloete, A. Jordaan, H.C. Liebenberg en H.J. Lubbe. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
—. 2007. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Supplement. Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
VAW (Verklarende Afrikaanse Woordeboek). 1993. Saamgestel deur F.J. Labuschagne en L.C. Eksteen. 8ste hersiene en uitgebreide uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik.
—. 2010. Saamgestel deur F.J. Labuschagne en L.C. Eksteen. 9de hersiene uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik.
Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. s.j. Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/Verenigde_Oos-Indiese_Kompanjie (29 Oktober 2019 geraadpleeg).
WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal). 1968. Deel V. Stellenbosch: Buro van die WAT.
—. 1996. Deel X. Stellenbosch: Buro van die WAT.
—. 2000. Deel XI. Stellenbosch: Buro van die WAT.
Weijnen, A.A. 2003. Etymologisch dialectwoordenboek. In Van der Sijs (samest.) 2010.
Weijnen, A.A. en A.P.G.M.A. Fick-Weijnen; bewerking M.A. Hofman. 2008. PRISMA WOORDENBOEK Nederlands. 43ste druk. Utrecht: Uitgeverij Het Spectrum.
WNT (Woordenboek der Nederlandsche taal). Elektroniese weergawe. http://gtb.inl.nl. Leiden: Instituut voor de Nederlandse Taal (INT). (25 Oktober 2019 geraadpleeg).
Eindnota
1 In VOC-dokumente word daar dikwels woorde afgekort, en in sodanige gevalle word ’n dubbelpunt vir die ontbrekende letters gebruik; Command:r staan hier vir Commandeur.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
Kommentaar
Weklik interessante artikel. Het dit reeds in my taal lêer gebêre. Sien uit na die pdf formaat. Dis opslurpinligting. 'n Mens kan nie genoeg daarvan inkry nie. Baie dankie.
Holland het in 1815 Nederland geword. Voor 1815 moet daar eerder van Hollands as Nederlands gepraat word. Wat ook in ag geneem moet word, is dat die seelui op Hollandse skepe in die 17de eeu (Jan van Riebeeck se tyd) nie noodwendig Hollands gepraat het nie. Op daardie stadium het Holland die handel in die Baltiese See, bekend as die Hanse-handelsliga, oorheers. Matrose is in meerdere of mindere mate nomadies. Op Hollandse skepe kon daar seelui gewees het wat bv eerder Duitse en Skandinawiese tale/dialekte gepraat het.
Lekker om weer ’n Karoo-woord te hoor. Jare het ek die gebruik van "bulsak" teë te kom ... En verfrissend die etimologiese uitleg tot by Sanskrit ... Plus boeiende illustrasiemateriaal. Selde dat ’n mens so lekker en maklik lees aan ’n akademiese artikel – jul kry ’n goue ster of twee, Annél en Elsa – doe zo voort!
Uistekende stuk navorsing, Else en Annél. Dit gee 'n historiese dimensie aan die Afrikaanse woordeskat, en dui op vingerafdrukke uit 'n vergange tyd op die taalgebruik van vandag.
In die sestiende eeu was die dialekgrense langs die Noordsee en die Baltiese See nie juis skerp nie, en talle sprekers van Platduits (wat in die Hansetyd die vorige eeu Latyn as lingua franca verdring het, en ook raakpunte het met Noors, Deens en Sweeds) was in diens van die VOC. Dit is 'n baie interessante ondersoeksveld!
Interessante artikel!