Die Verenigde Nasies het 2019 as die Internasionale Jaar van Inheemse Tale verklaar.
Op 21 Februarie word die jaarlikse Internasionale Moedertaaldag gevier.
Vanjaar se tema is “Indigenous languages matter for development, peace building and reconciliation”.
Menán van Heerden vertel meer oor die invloed van die Khoi op Afrikaans.

Korah-Khoikhoi besig om hulle hutte af te breek om na nuwe weivelde te trek. Akwatint deur Samuel Daniell. 1805. (Wikimedia Commons)
- Die Khoi het ’n rol gespeel in die ontwikkeling van al die variante van Afrikaans:
- Afrikaans is ’n samesmelting van ’n Kaaps-Hollandse kreool/pidgin en ’n variëteit van Nederlands wat tydens die VOC-era deur Europeërs gepraat is.
- Die Kaaps-Hollandse pidgin was “’n medium van interkulturele kommunikasie” tussen lede van “die hoogs diverse Afro-Asiese arbeidersklas” in die Kaapkolonie, ’n “heterogene milieu”.
- Die wortels van hierdie pidgin was Nederlands-Khoi- en Engels-Khoi-handelstaalvorme wat as basiese mediums van interkulturele kommunikasie gebruik is. Kontak tussen Britte en Nederlanders en die Khoi het so vroeg as 1590 plaasgevind.
- Slawerny is in 1658 formeel in die Kaapkolonie ingevoer. Die slawe se pidgin het uit Kreoolse Portugees en Pasar-Maleis, asook die Nederlands-beïnvloede pidgin wat deur die Khoi ontwikkel is, bestaan. Die slawe se pidgin het ook die Khoi se pidgin beïnvloed.
- As daar verder teruggegaan word: In 1647 het die skip die Haerlem in Tafelbaai gesink. Taalkontak tussen die Nederlandse matrose, wat ’n jaar in die Kaap gebly het, en die Khoi, het toe reeds plaasgevind.
- Twee matrose het die toestande aan die Kaap gunstig evalueer. Hierdie skatting het onder andere tot die vestiging van ’n klein nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop in 1652 gelei.
- Afrikaanse woorde met Khoi-herkoms, sluit onder andere in: aitsa, eina, hoeka, toeka, kamma.
- Taalverskynsels en uitdrukkings soos nie ... nie en loop slaap het ’n Khoi-herkoms.
- Oranjerivierafrikaans, ’n variëteit van Afrikaans, het baie Khoi-invloede.
- Oranjerivierafrikaans omvat ook baie variëteite, waaronder byvoorbeeld Namakwalands, Griekwa-Afrikaans, Rehoboth-Afrikaans en Richtersveld-Afrikaans.
- Hier is voorbeelde van woordeskat eie aan Oranjerivierafrikaans:
xhoulag (uitspattig lag)
xhouboe (terneergedruk wees)
ntarra (vertroetel; aanmoedig)
nxa! (goed; cool; lekker)
gwarra (koggel met ’n byt)
Bronne
- “Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!”
- Ton van der Wouden. 2012. Roots of Afrikaans: Selected writings of Hans den Besten. Amsterdam: John Benjamins Publishing.
- Christo van Rensburg. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA Uitgewers.
Lees LitNet se eerste artikel wat in Nama geskryf is:
Lees meer op Voertaal en LitNet oor Suid-Afrikaanse inheemse tale asook die invloed van Khoekhoegowab-tale (bv Nama) op Afrikaans:
Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis
Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen
ATKV-taalerfenissimposium: Willa Boezak oor die Khoisan se bydrae tot die Afrikaanse taalerfenis
Kommentaar
Waarom die voortdurende eensydige klem op die bydrae van Khoi-tale? Waarom word die invloed van Nederlandse dialekte totaal geïgnoreer? Ek ontken nie dat die Khoi-tale invloed op die vorming van Afrikaans gehad het nie, maar wie gaan die moed hê om die polities inkorrekte invloed van Nederlandse dialekte te ondersoek?
Ek stem 100% saam. As 'n kreool met ook Khoi-khoi-bloed in my are is ek al regtig moeg vir daardie eensnaar Khoisan-deuntjie. Die studie van die impak van Nederlandse dialekte en ander Europese en Oosterse tale op die ontwikkeling van Afrikaans kan 'n paar interessante doktorsgrade en vele publikasies oplewer. Sal LitNET-joernaliste baie besig hou.
Interessanter sal verdere studies se uitkomste wees welke impak ander tale van die wêreld op die verdere ontwikkeling van "Royal English" gaan hê.
Vandag se Royal Engels gaan oor 100 jaar heel waarskynlik totaal anders klink en geskrywe word. Dit hang net af van welke groot nasie die nastrewenswaardige moondheid gaan wees.
En dalk gaan Afrikaans toenemend Nguni- en Tswana-dialekte insluk of omgekeerd. Wie sal weet? Interessante lewe.