Ont-taling

  • 20

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

Willa Boezak (foto verskaf)

Maria de la Quellerie het op ‘n jong ouderdom in Batavia gesterf, net 35 jaar oud. ‘n Begaafde klavichordspeler en perfek as kommandeursvrou, omdat sy gemaklik hoë amptenare kon onthaal wat Kaap de Goede Hoop aangedoen het. Maar haar lewe was vol pyn omdat die meeste van hul agt kinders vroeg gesterf het in die 15 jaar wat sy getroud was. Haar pa, Abraham, was ‘n predikant in die Franse Protestantse beweging wat as kettery gebrandmerk was. Wonder wat sy sou gedink het van die lot wat uiteindelik haar mense in die pragtige valleie van die Boland sou tref.

In 1685 is ‘n vredesverordening rakende die Franse Protestante opgehef en vervolging het meegebring dat duisende gesinne as Hugenote uit die land gevlug het. ‘n Kommissaris van die Kaap is daarheen gestuur om toevlug aan te bied, en sowat 180 gesinne het dit tussen 1688 en 1690 met dankbaarheid aanvaar. Hul nuwe plase het knus tussen die Hollanders s’n genestel met Franschhoek in die middel. Maar dié gasvryheid het met ‘n prys gekom. Ja, hulle kon na hartelus Bordeaux-wyne maak, maar die Hollands Oos-Indiese Kompanjie wou //Hui-!gaeb (die Kaapse Khoi-naam vir “Die plek waar die wolke vergader”) op alle gebiede beheer. Onttaling het 'n magtige wapen geword.

Vanaf 1701 het die HOIK ‘n streng taalbeleid begin toepas: in skole en die staatskerk is slegs Hollands toegelaat; Frans is verbied in openbare vergaderings en alle amptelike korrespondensie moes in die taal van die maghebbers wees. Die gevolg? Teen die middel-1700’s het die Hugenote hul huistaal begin vergeet en hul kennis daarvan was iets van die verlede. Erger nog, hulle het as unieke gemeenskap met ‘n uitsonderlike identiteit en leefwyse verbrokkel. ‘n Logiese gevolg, omdat taal nie net ‘n kommunikasiemiddel is nie, maar gekoppel is aan identiteit en kultuur. Dit alles het niks met ras te doen gehad nie. Eerder magsmisbruik en manipulasie. Ondertrouery met die bure het ook tot hul onttaling bygedra. Of het hulle maar gehensop? Villion het immers Viljoen geword.

Ditto die Khoi-San. Xiri (of Gri), die oertaal van die #Karixurikwa – wat later bekend sou staan as die Griekwas – het lankal uitgesterf. Hele taalfamilies, soos Ju en !Ui- Taa, is daarmee heen. Die taal van die Koranas en Soakwas – weg. Net twee het oorleef: Nama en !Nu van die Kalahari-Boesmans. Oumense vertel nou nog hoe hul voorouers van Nama 'n "skindertaal" gemaak het deur dit net te praat wanneer hulle alleen was. So het hulle hul kinders beskerm teen swaar strawwe by die skool en kerk. Vandag word Namagowab formeel as skoolvak in sommige Noord-Kaapse skole aangebied en !Nu informeel in vrywillige taalklasse. Ouma Elsie Vaalbooi was die laaste van ‘n handjievol oorlewende sprekers van !Nu toe PanSAT rondom 2000 ingegryp het en dit op band vasgelê het.

GS Nienaber noem in sy boek Khoekhoense Stamname dat sekere clans vermeng geraak het met Europeërs en die Westerse leefstyl verkies het. Natuurlik moet 'n mens die heersende magsverhoudinge van daardie tyd begryp. Verwestersing het beter weigronde, werksgeleenthede en status meegebring. Met perd en Bybel het stamme soos die Basters en Oorlamme al meer ‘n vroeë vorm van Afrikaans, naamlik Hottentots-Hollands, in eie geledere gedryf. Teen die 1800’s het ons oertale min of meer verdwyn binne die grense van die Kaapse Kolonie. Dus: nie net die strenge onttalingstrategie van die HOIK was vir die verdwyning van ons oorspronklike tale verantwoordelik nie, maar van ons voorouers het self meegehelp om Afrikaans te vestig. Ten koste van die eie. Dié ironie wek teenstrydige gevoelens by my.

Die teenstrydigheid lê in die feit dat Khoi-vissergemeenskappe vanaf die laat 1500’s ‘n gebroke marktaal begin ontwikkel het met die verbygaande Europeërs wat op pad na die Ooste was: die moeisame geboorte van Afrikaans. Al meer Portugese, Engelse, Hollanders, Franse en ander het ruilhandel aangegaan met die veeryke inboorlinge aan die suidpunt van Afrika. Die fokus was op geldmaak, maar hoe praat jy besigheid as julle nie mekaar kan verstaan nie? Taalvaardigheid was ‘n absolute moet. Geen wonder dat die Engelse die leier van die Goringhaikwa, !Kora, met sy krale teen die hange van Hoeri ‘kwaggo (Tafelberg, soos wat die Hollanders die “Berg by die See” herdoop het) teen sy wil vanaf 1613 tot 1614 na Londen geneem het nie. Hy moes ‘n tolk word. Met dieselfde doel in gedagte het hulle vanaf 1631 tot 1632 die leier van die klein Goringhaikona-vissergemeenskap na Java geneem. Autshumao is (spottenderwys?) King Harry genoem wat later “Herry die Strandloper” vir die Hollanders geword het. Die punt is dat taalbeheer in die hande van die koloniseerder ‘n belangrike wapen was en die onttaling van die gekoloniseerde ‘n selfs magtiger een.

Uiteindelik, vertel Christo van Rensburg in sy So kry ons Afrikaans, begin die GRA vanaf 1875 orde uit die warboel van variëteite skep en kom te vore met ‘n kragtige wetenskapstaal. Die Khoikhoin en slawe se bydraes was opgeneem in Standaardafrikaans, maar nie erken nie. En dan praat ons nie van ‘n woordjie hier en ‘n uitdrukking daar nie. Volgens Nienaber het Afrikaanssprekende Khoikhoin “ook tot die vorming van die taal bygedra, sy aard, karakter en seggingskrag. Ons weet van Oud-Hessekwa te Genadendal wat in die middel-1800’s al Afrikaanse nuusbriewe en maandblaaie uitgegee het – nogal met hul eie drukpers. Meer nog, toe lord Charles Somerset vanaf 1822 Engels as die enigste skooltaal probeer deurdruk, het die Genalers hul daarteen verset. Die Khoi-San is vandag ‘n volledig Afrikaanssprekende gemeenskap. Wanneer Breyten Breytenbach dus skryf: “Wat gaan dan word van die opkomende geslag jong mense in die Karoo en die Klein-Karoo en die Bokkeveld en Namakwaland en die Overberg en die Vlakte en die Boland?”, verwys hy bedoeld of onbewus grootliks na die nasate van die Khoi-San.

Onttaling is ‘n lang, uitgerekte sterfbed, en ‘n gesonde uitlewing van die taal is die enigste manier om dit te verhoed. Verset vorm deel hiervan. Daarom vererg ek my vir mense in verantwoordelike posisies en poste wat verengelsing nie net toelaat nie, maar bevorder, weens “transformasie”; “te min Afrikaanse teksboeke”; “vertaling neem te lank of is te duur”; “die ouers, kinders en studente verkies Engels”; “meertaligheid is onprakties”; blablabla. Ons sal nooit met so ‘n hensophouding die taal as erfenis lewend hou nie. In sy wese is onttaling ‘n magspel met manipulasie as doel. Dis soveel makliker om mense in een (lees: vreemde) taal te manipuleer as om hulle toe te laat om krities in hul moedertaal te dink.

Dis ‘n polities-gedrewe proses. Kyk maar hoe Afrikaanse enkelmediumskole geleidelik parallelmediumskole word en uiteindelik volledig verengels. Na onttaling volg ontsteltenis, ontnugtering, ontgogeling, ontheemding, ontbering, onteiening, ontmagtiging, en vir ons kinders se kinders se kinders: onterwing. Nóú is die laaste kans om die drywers en medewerkers van onttaling te stop, anders gaan ons nageslag eendag in argiewe lees van die eens-bestaande Afrikaanse gemeenskap … as onttaaldes.

Willa Boezak

  • 20

Kommentaar

  • Die vraag is die volgende: Hoekom het Willa nie hierdie houding ingeneen toe UWK destyds in die 1990's verengels het nie? Hy was tog junior lektor vir baie jare daar. Hoekom nou?

    • Anton, ek was vir 12 jaar 'n senior lektor in Teologiese Etiek tot 1997 en al my klasse was in Afrikaans. So jy moet maar daai tyd se grootkoppe by UWK gaan vra.

  • Avatar
    Gert van der Westhuizen

    Geagte Woela

    Dankie vir die storie van jou taalhart. Ek voel skaam oor die onttaling wat Afrikaans meegebring het. Soos my naamgenoot oom Jan van der Westhuizen medisyneman van die Kalahari jou sal vertel.

    Die onttaling gaan voort.

    Dit gaan nie ophou nie.

    Wat is die teenpool van ont-?

    Gert vd W

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek verwelkom Boezak se ingeligte, ewewigtige, kerngesonde standpunt. Met voorbeelde verwys hy na die skandaligste huidige voorbeeld van onttaling van Afrikaanssprekendes, naamlik die verengelsingsinisiatiewe van die bestuur van die Universiteit Stellenbosch. Dit is myns insiens noodsaaklik dat 'n mosie van wantroue in die US-bestuur ingestel moet word.

  • Avatar
    Avril Harding

    Uitstekende artikel oor onttaling maar te min oor die verpolitisering van Afrikaans, die ontkenning van anderskleuriges se bydraes en die gevolglike valse eiening van Afrikaans as taal. Dieselfde mense wat ons nou kwansuis verkwalik omdat ons kinders nou verengels is dieselfde mense wat ons menswees ontken het. Daar moet baie meer eerlikheid wees oor die ondergang van Afrikaans.

    • conrad steenkamp
      conrad steenkamp

      Avril, daar is baie mense wat die taal liefhet en nog nooit mense verontmenslik het nie. Sommige van hulle was selfs tronk toe daarvoor. En sommige is onsteld oor die verengelsing, ja ...

    • Ek hoor wat jy sê Avril en stem saam. Dit was egter nie hier die fokus nie. Lees gerus my bydrae in Beeld 31-05-16 en Die Burger 02-06-16.

  • Toe oud President Mandela op die punt was het hy volgens oorlewering gesit en dink hoe hy die Afrikaner se hart gaan wen. Sy wyse besluit om aandag te gee aan hul taal en sport het hom vir ewig in hul harte 'n plek besorg. Mnr Mandela het ook nie haatspraak jeens hulle geuiter nie en slegs vriendelik geglimlag en vergewensgesind opgetree. Ek glo dat Mnr Mandela hierdie taal- en sportkwessie heeltemal anders sou hanteer op 'n manier wat die Afrikaanssprekende nie so ontheemd sou laat voel het nie. Ek vra net met ongeloof, waarom gee ons so maklik in.

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Beste Mnr Boezak, baie dankie vir die uitstekende en eerlike beskouing van die situasie. Dit sal tot ons almal se voordeel wees as ons meer geskiedenis ken. Dis jammer dat so min mense weet van die bydraes van die Genadendallers. Hoekom het ons nooit dokumentêre films gemaak oor so 'n stuk geskiedenis byvoorbeeld nie? Mnr Boezak se ontleding van die polities-gedrewe proses is nog 'n bewys waarom Wim de Villiers se denkwyse op Stellenbosch 'n katastrofe vir generasies kan veroorsaak!

  • Avatar
    Hercules Boshoff

    Anders as ander wit taalstryders, ken ek nie myself die reg toe om namens ander bevolkingsgroepe te praat nie, asof al haar sprekers 'n soort ingebore liefde daarvoor moet koester nie. In hierdie skrywe het die outeur aan my bevestig hoe gekompliseerd die geskiedenis is. Hoe dit ook al sy, om 'n taal te vernietig, ongeag hoeveel etniese groepe dit praat, is barbaars.

  • Baie interessante artikel. As 'n Afrikaanssprekende wat in die buiteland woon, is dit vir my baie hartseer om te hoor hoe Afrikaans deesdae verengels word. 'n Taal moet groei, anders sterf dit uit (bv Latyn), maar ten koste van sy eie suiwer bestaan?
    In my jong dae sou jy nie gedurf het om Engelse woorde te verafrikaans nie. Jy't die korrekte Afrikaans gebruik. Ironies dat die woord 'anglisisme' wat die verafrikaansing van Engelse woord is, eintlik beteken om die woord te 'anglecise' - maw om die woord Engels in form (spelling) te maak. Jy't nog minder jou tale gemeng.
    As 'n mens luister hoe Afrikaans deesdae gepraat word (op straat en op 'n sekere radiostasie wat homself op sy Afrikaans roem met 'n jaarlikse skryfkompetisie), dan wonder 'n mens hoe lank nog voor Afrikaans dieselfde pad as Latyn gaan loop - 'n dooie taal wat niemand meer praat nie. Of 'n taal wat so verengels het dat dit nie meer 'n taal in sy eie reg is nie.
    Op die einste radiostasie wat ek reeds genoem het, skryf 'n welbekende Afrikaanse skrywer 'n radiodrama wat self ook skuldig is aan verengelsing en taalvermenging. Daar is egter een karakter wat ordentlike, suiwer Afrikaans praat en dis verfrissend om goeie Afrikaans tussen al die 'kamstige' Afrikaans te hoor.
    Ongeag hoe hard die man (of vrou) op die straat probeer, as die taal wat mense moet hoor of lees nie suiwer gehou word nie, sal dit wel eendag uitsterf.

  • Avatar
    André van den Berg

    Ek glo dat Afrikaans slegs behoue sal bly as dit eers verbied word. Dalk sal dit die - verskoon die woord - slapgat Afrikaanssprekendes laat wakker skrik en hul taaltrots laat herleef. Taaltrots is nie kleur of rastrots nie. En tweedens, behoort alle Afrikaanssprekendes wat nie die moeite doen om enige van ons ander amptelike tale buiten Engels aan te leer nie, hulle kop in skaamte te laat sak. As ons nie erkenning gee aan ons ander taalsprekers se tale nie, kan ons nooit rustig slaap nie. Ons het ook 'n opvoedingstaak om ander taalsprekers te laat voel dat hulle taal waardigheid het net soos ons eie vir ons het. Die tekens is reeds daar dat ons almal al besig is om 'n kreoolse Engels te ontwikkel. Kom ons staan saam en stig taalsentra vir die aanleer van ons ander tale wat gebesig word in elke provinsie waar ons woon ,spesifiek vir Afrikaanssprekendes, sodat ons op die wyse ons eie kan behou.

  • Dankie dr. Boezak. U skrywe is baie insiggewend. Daar is meer mense wat aanspraak maak op Afrikaans in sy ontwikkeling. Dit was nodig om dit te hoor. Afrikaans is dus nie net die eiendom van Afrikaners nie. Annatjie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top