Die Bo-Kaap: my erfenis

  • 1

Perspektief is ’n pragtige iets. As ’n 52-jarige vrou met vier kinders en een kleinkind, sien en leef ek, soos Oprah sal sê, my beste lewe!

My wortels en waar ek vandaan kom, is baie belangrik. Dit begin in die Bo-Kaap! Alhoewel ek nie meer in die Bo-Kaap woon nie, is my eerste herinneringe, my geskiedenis, my kultuur en tradisies in hierdie pragtige gebied op die hange van Signal Hill gewortel. Met die aanvang van gentrifikasie is die gemoedsrus van die inwoners van die Bo-Kaap tot sy kern geskud. My storie is net een storie. Daar is baie stories wat vertel moet word. Distrik 6 is uitgewoes. Ons moet ’n standpunt inneem dat die Bo-Kaap, ons kultuur, tradisies en taal vir altyd sal bly.

Biesmiellah Restaurant, Bo-Kaap. Van links: Fatima Allie, Abdulla Osman (eienaar) en Sinki Mlambo (Foto: verskaf)

My grootword was besonders. Ek is in die Bo-Kaap gebore, het grootgeword in Walmer Estate en skool geloop in Distrik 6. Ek het baie vriende gehad om mee te speel. Ek kry nou so ’n warm gevoel. Ons het in die pad gespeel en almal het mekaar geken. Ek het die berg en die see elke dag gesien. Dit was ’n sorgvrye, eerlike tyd van my lewe.

Dit is nuuskierig hoe mense op belangrike oomblikke jou lewe betree en jou in ’n sekere rigting lei. Dit het begin met die Suidoosterfees (SOF) en die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Niel le Roux, voormalige uitvoerende direkteur van die SOF, het my lewe so verander. Hy het vir my (as deel van Itheko Event Management) gevra om ’n vertoning vir die SOF, naamlik die Bo-Kaap Meander, te bestuur. Dit was so ’n lekker projek wat my oë oopgemaak het vir ’n deel van my erfenis wat ek verwaarloos het. Daar was ’n kosroete, handelsroete en moskeeroete. Al die tradisies van my groeiende jare het in die vooruitsig gekom. Ek het lewendig gevoel!

Ek het toe besef, wag ’n bietjie. In ons huis het my Oemie (Oumagrootjie), Boeya (Oupa), Mamma Aysie (Ouma) en my ouers net Afrikaans en Arabies gepraat. Ek het eers Afrikaans toe Arabies geleer. Engels is eintlik die derde taal wat ek geleer het. Al ons Moesliem-onderig (Slamse skole) was in Afrikaans. Die Afrikaans wat ons gepraat het, was nie Standaardafrikaans nie. Dit was onse tipe Afrikaans en Afrikaans was my tuistaal en moedertaal. Hoe kon ek my erfenis so vergooi?

Fatima Allie en haar familie van die Bo-Kaap

Niel le Roux word toe hoof uitvoerende beampte van die SBA en ons doen hierdie keer ’n Stap in die Bo-Kaap vir Afrikaans. Later nomineer Marlene le Roux, voorsitter van die SBA, my as direksielid en ek is deel van die SBA vir die afgelope vier jaar. Ek word ook gekies as ambassadeur vir Afrikaans en lid van die Taalkomitee.

Die SBA nomineer my as direksielid vir die Afrikaanse Taalraad (ATR) en ek dien die afgelope drie jaar ook op hierdie direksie. Ek is tans die ondervoorsitter van die ATR.

Deur Michael Le Cordeur (SBA) word ek deel van die boek Ons kom van vêr. Die redakteurs van die boek is WAM Carstens en Michael le Cordeur. Dit was ’n groot eer vir my om deel van hierdie boek te wees. Hierdie boek is toegewy aan die wyle Adam Small. Die fokus van my hoofstuk was op die verband tussen sekere soorte kos wat aan spesifieke tradisies geheg is in die Kaapse Maleise lewens, van geboorte tot dood.

Vanaand bevind ek my weer in die Bo-Kaap, maar hierdie keer met my vriendin Sinki Mlambo, ook ’n ambassadeur vir Afrikaans en ATR-direksielid. Sy wou koesisters eet toe neem ek haar na Biesmiellah Restaurant in Waalstraat, Bo-Kaap. Die gesels was oor onse kultuur, tradisies, die kos, die kleure en geure. Ek het so gemaklik en tuis gevoel in die Bo-Kaap. Ons het lekker denningvleis (’n soetsuur lamsvleisdis), geelrys, “mash potatoes”, vleiskerrie en rooti geëet. Sy het ook ’n lekker barakat (woefkadoes) huis toe geneem.

Ek het haar die Auwal-moskee in Dorpstraat gaan wys. Dit was die eerste moskee in Suid-Afrika en huisves die Qur’aan wat deur ons voorvader Tuan Guru geskryf is. Ek het ook af Langmarkstraat gery om haar te wys die begraafplaas Tanu Baru waar ons voorvaders begrawe is.

Ek het haar ook gewys waar ek gebore was en waar wyle Achmat Davids gewoon het. Soos voorsienigheid sou hê, is die voorblad van die jongste publikasie van die SBA die Auwal-moskee.

Die Bo-Kaap (Foto: Menán van Heerden)

Foto: Menán van Heerden

Die Engelse boek van Achmat Davids is in Afrikaans verwerk deur Hein Willemse en die titel is Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. Davids het in sy werke bewys dat Afrikaans se wortels in die Bo-Kaap lê. Ons voorvaders het Arabiese Afrikaans begin. Dit het jy wanneer die Arabiese letters uitgespreek word in Afrikaans. Hierdie boek is ’n moet-lees. Vir meer inligting oor die boek, gaan na www.sbafrikaans.co.za. Dit voel asof alles wat die afgelope vyf jaar in my lewe gebeur het omtrent Afrikaans, my tot hierdie punt gebring het! Die boek van Davids oor die Afrikaans van die Kaapse Moslems in die Bo-Kaap.

Toe ons verby ons ou huis in Langmarkstraat ry, besef ek dat ons 17 mense in een huis was. Kan jy jou voorstel? Dit was my ouma, oupa, twee grootanties (tantes), Ma, Pa, sewe ooms, twee anties en ’n niggie. My pa se ma, Mamma Tiema (Fatima) het agt seuns gehad. Daar was geen dogters nie en al die skoondogters het haar dogters geword. Sy was die wet en arme Pappa Salie het net ja of nee gesê!

Ek onthou toe alles, selfs die litteken op my voorkop van toe ek voor die boom in ons voorplaas geval het toe ek nog ’n kind was. Ons het altyd saam geëet en al die probleme was sommer gou opgelos. Ek onthou hoe lekker ek altyd om die huis gehardloop het met my niggies. Dit was ’n lekker tydperk van my lewe. Dit is die stories wat ek vir my kleinkind wil vertel en ook wys.

So wat beteken die Bo-Kaap eintlik vir my? Dit is my herkoms. My familie en vriende woon nog steeds in die Bo-Kaap. Hierdie tuisdorp moet nie deur die toerismebedryf misbruik word nie. Die Bo-Kaap gaan nie net oor die kleurvolle huise nie. Daar is ’n gemeenskap wat hierdie huise lewe gee. Die Bo-Kaap huisves ’n gemeenskap waar moskees, kerke, skole, Moslem-skole en burgerlike organisasies veg vir die regte van sy inwoners teen gentrifikasie.

’n Bladsy van ’n 1860-studentenotaboek met transkripsie en vertaling

Die oudste moskee in die Bo-Kaap (Auwal-moskee) (Foto: Menán van Heerden)

Foto: Menán van Heerden

Binne die Auwal-moskee is meer inligting oor Tuan Guru te vinde. (Foto: Menán van Heerden)

’n Gedenksteen van Tuan Guru in die Tanu Baru-begraafplaas (Foto: Menán van Heerden)

Die jaar van my geboorte, 1966, is die jaar toe Distrik 6 tot ’n wit gebied verklaar is. Ons kan nie toelaat dat wat met Distrik 6 gebeur het, met die Bo-Kaap gebeur nie. Die waardigheid van alle inwoners in Kaapstad en Suid-Afrika moet bewaar word.

Wanneer ek my oë toemaak en ek dink aan my kinderjare in die Bo-Kaap, dan sien ek die huis in my tuisdorp, my erfenis, my wortels, my begin en my einde. Dit is wat die Bo-Kaap vir my beteken.

Lees ook

Wat gat nou an, Bo-Kaap?

Baai baai, Bo-Kaap

Die vrystelling van slawe: 1 Desember 1834

Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Interessant en pragtig ... delf diep, skryf op, komplimenteer dit met foto's en hou die tradisies, taal en kultuur lewendig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top