Mens hoor dikwels die slagspreuk op universiteitskampusse “weg met Afrikaans” met die EFF voor in die koor, maar Afrikaans is die land se reënboogtaal en nié die taal van die onderdrukker nie.
So sê die gemeenskapsleier en kultuuraktivis Willa Boezak. Hy was die gasspreker tydens ’n gesprek oor Afrikaans wat in Stellenbosch deur die organisasie Vriende van Afrikaans aangebied is. Verskeie leerders van Bolandse skole en studente van Stellenbosch het die “ommietafelgesprek” bygewoon om oor die toekoms van Afrikaans te praat.
Boezak wat onder meer aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Vrye Universiteit van Amsterdam en die Universiteit van Kaapstad studeer het, sê in die veldtog teen Afrikaans word dikwels beweer Afrikaans is ’n witmanstaal en die taal van die onderdrukker en dan glo baie mense dit. “Waar kom hulle daaraan?” Afrikaans is ’n gedeelde taal en die meeste dinge wat Afrikaans in die verlede as ’n taal van onderdrukking gekenmerk het, bestaan lankal nie meer nie.
Boezak het die herkoms van Afrikaans in 1599 gaan haal, meer as 50 jaar voor Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap. Dit was die Khoi en die San, en nie wit mense nie, wat aan die Kaap met vee geboer het wat die eerste mense was om geboorte te gee aan Afrikaans toe hulle met die Hollanders en ander seevaarders begin handel dryf het. Vandag staan dit bekend as Khoi-Afrikaans en is een van die baie variëteite van Afrikaans.
Benewens Khoi-Afrikaans bestaan daar verskeie ander dialekte van Afrikaans soos Veeboer-Afrikaans wat die Vryburgers gepraat het, Oranjerivier-Afrikaans of Gariep-Afrikaans soos wat hy dit graag noem, en later sogenaamde Standaardafrikaans.
Boezak sê dit is noodsaaklik om al hierdie variante van die taal as ewe belangrik te erken en nie ’n hiërargie te skep waar sekere variante van die taal meer of minder belangrik is as ander nie.
Boezak het gesê hy veg hard teen die Universiteit Stellenbosch se “stupid” taalbeleid om Afrikaans as akademiese taal af te skaal.
Die bewering dat Afrikaans ’n sogenaamde witmanstaal of ’n minderheidstaal is, is belaglik sê Boezak. Dit is die derde grootste taal in die land naas Zulu en Xhosa en meer as ses miljoen Suid-Afrikaners se eerste taal. Daarvan is sowat 2,7 miljoen wit, 3,4 miljoen bruin met duisende swart Suid-Afrikaners wie se eerste taal ook Afrikaans is.
Boezak voel baie sterk oor die waarde van Afrikaans as onderrigtaal tot op tersiêre vlak. Hy sê kennis is die beste wapen teen armoede en kennis kan die beste opgedoen word deur middel van moedertaalonderrig.
“Terwyl Afrikaans op talle terreine van die samelewing, soos in die musiekbedryf en by kunstefeeste besig is om te blom, is dit hartseer om die sien hoe Afrikaans as akademiese taal op Stellenbosch agteruitboer as gevolg van die klompie daar wat so gekant is teen Afrikaans as akademiese taal.”
Boezak sê dit maak geen sin om Afrikaans as akademiese taal af te skaal nie omdat die armstes uit veral die bruin gemeenskap wat in Afrikaans wil studeer die meeste daaronder ly.
“Watter sin maak dit vir ouers om hulle kinders na ’n Afrikaanse skool te stuur as hulle weet hulle kinders kan nie verder in Afrikaans studeer wanneer hulle die skool verlaat nie?”
Boezak sê die gevolg is dat baie kinders wat nie Engels magtig is nie gedwing word om in ’n taal te studeer wat nie hulle eerste taal of moedertaal is nie. Hy sê hy vind dit vreemd dat daar mense is wat alles wat koloniaal is wil afskaf in ’n koloniale taal, naamlik Engels.
Hy het sy praatjie gehou aan die hand van ’n gedig wat hy geskryf het oor Afrikaans se herkoms met dit titel “Ons Afrikaanse kind”:
hortent
sukkelend
is sy gebore
tussendeur gebare
met vreemde kaaseters
wyndrinkers en speserysoekers
al by ons kuste langs.
’n basterkind wat net geweet het van kierie
eina! en koekemakranka
en skielik kry sy ’n hupstoot
van vreemdes in kettings
en van nóg wittes
wat eers lekker-bekkig plat praat
maar later al hoër en verder
wégtrek met daai basterkind ...
kyk
daar dans vandag
’n mooi vrou in pastel
én grondkleure
omhul in skerp én sagte geure
en sy ghoema die riel in sokkies
ja, sy ghoema die riel in sokkies.
onse reënboogkind.
(uit Só glo ons: die Khoisan van Suid-Afrika deur Willa Boezak)
Kommentaar
Dr Willa Boezak is een van die min openbare figure wat die afgelope jare bewys het dat hy weet wat op die spel is as Afrikaans as akademiese taal verlore gaan. Baie dankie vir wat u doen!
Beste Dr. Boezak,
Dankie vir die raakste gebruik van 'n reënboog-idioom nog in hierdie land sover.