Op weg na die volheid van die Afrikaanse taal

  • 4

Hierdie bydrae deur Hein Willemse, verbonde aan UP se departement Afrikaans en Nederlands, vorm deel van die Afrikaanse Taalraad se reeks opiniestukke oor strategieë vir Afrikaans, en val saam met hierdie maand se viering van UNESCO se Internasionale Herinneringsdag vir slawehandel en die afskaffing daarvan. Die artikel hier onder is deur Ria Oliver uit die Engels vertaal.

Op een van my boekrakke staan ’n geraamde swart-en-wit afdruk van Frederick I’Ons se uitbeelding van ʼn vrygestelde slaaf wat in 1840 geskilder is, twee jaar na die finale vrystelling van slawe aan die Kaap. ʼn Skynbaar vrolike man in verflenterde klere swaai ʼn wit lap wat aan ʼn duif herinner in sy regterhand rond terwyl hy ʼn takkie in sy linkerhand vashou. Sy skoene is onopvallend, maar ook die duidelikste teken dat hy ’n vry man is, want slawe was verbied om skoene te dra. Net so simbolies is die takkie as ʼn teken van hergeboorte en die wit lap as ʼn vredesteken. Die dansende man kyk reguit dog versigtig na vore.

Ons besef dat die skets die brutaliteit van die verlede sylangs verberg. Mens kan jou net die angs indink wanneer mens duisende myle oor die oseane heen verskeep word, vasgeketting in die donker romp van ʼn slaweskip: van die Asiatiese argipel, die Indiese subkontinent, die Maskarene, Madagaskar, of Oos- en Wes-Afrika. Duisende het gedurende daardie skeepsvaarte omgekom en mens kan jou net indink hoe afgesonderd, angsbevange en verwilderd die oorlewendes gevoel het by hul aankoms by die vreemde plek wat hul slawemeesters Kaap de Goede Hoop genoem het. Toe hierdie mans, vroue en kinders as besittings by slaweveilings op voetstukke onder bome verkoop is, is hulle ontneem van alles wat hulle individue gemaak het: hulle familie- en gemeenskapsnetwerke, hul name, hul tale, hul gebruike, hul godsdienste.

Baie min van die eerste geslagte van slawe het ooit weer vryheid gesmaak. Geslagte van hul nasate is in slawerny gebore in huishoudelike diens, op plase en onder die swepe van die amptenare van die Vereenigde Oostindische Compagnie. Ons kan ons nie die 180 jaar van slawerny aan die Kaap sedert die middel van die 17de eeu indink nie. Ons het hope bewyse dat slawe in die kolonie vir die geringste oortreding allerlei vorme van fisieke marteling in die gesig gestaar het. Hulle is gebrandmerk, geboei en geslaan; seksueel aangerand en verkrag; vermink, afgekamp en gehang, en in ’n finale daad van perversie, dikwels die waardigheid van ʼn begrafnis misgun.

Op een of ander manier het voorheen geknelde mense, soos die een wat uitgebeeld is, die brutaliteit van slawerny oorleef. Met hul vrystelling moes die nasate van slawe bewustelik die ou gewoontes afleer en geleidelik die gevoel van agentskap aanleer wat hulle en hulle voorsate vir so lank en vir soveel geslagte ontsê was. Op die een of ander manier het hulle en hulle afstammelinge oorleef. Vandag sien ons hul nalatenskap in die geboue en meubels wat hulle gebou het, in die eeue oue tuine, boorde en wingerde wat hulle geplant het, in die kunstradisies wat hulle oorgedra het, en indien ons dit hoegenaamd vind, in hul ongemerkte grafte. Ons sien en hoor die nietasbare oorblyfsels van daardie geskiedenisse van vreemde lande en van onderwerping. Ons sien dit in mense se gesigte, ons hoor dit in hulle familiename, herdoop deur koloniale susereiniteit. Ons vind daardie oorblyfsels in die ou Kaapse dorpe en stede, op die oorblywende sendingstasies, in die cuisine, in die verhale en musiek, en in taal. Die bevryde man in I’Ons se afbeelding kon waarskynlik Kaaps-Hollands, die voorloper van Afrikaans, praat.

Afrikaans is gevorm in die monde van al diegene wat aan die Kaap en in die binneland gebly het. Dit is in hierdie kreooltaal dat ons die oorblyfsels van die slawe se vreemde tale hoor, en die spore van hul ervarings. Ons hoor die geskiedenisse van koloniale inperking en onderdrukking in woorde van Maleise oorsprong soos “amok”, “sambok” (sjambok) en “tronk”. Net soos die woorde en resepte van slawekokke algemeen geword het in ons kombuise van, “atjar” tot “blatjang”, “bobotie” en “piesang”, of die troetelwoorde wat ons gebruik, soos “poenankies” (oulik), of etiket vervat in woorde soos “kanalla” (asseblief), “tramakassie” (dankie) of “barakat” (ʼn geskenk). Woorde soos “agáma” (godsdiens), “labárang” (eid, dit is fees), “poewása” (vas), “bátja” (lees) of “adhan” (die oproep tot gebed) herinner ons aan die ryke erfenis wat Oos-Asiatiese tradisies van Islam aan die Afrikaanse taal toebedeel het.

Volgens die Koerdiese navorser Halim Gençoğlu het die teoloog Abu Bakr Effendi in een van sy briewe geskryf dat “Moesliem-mense onder Nederlandse bewind mishandel is en dat Moesliems daarom ʼn sterk afkeer van Nederlanders het”. Ondanks hierdie indruk of die lang geskiedenis van Nederlandse wreedaardigheid het die imams aan Kaaps-Hollands ’n waardigheid toebedeel wat nóg die dramaturge van die vroeë 19de-eeuse Kaapse klugte nóg die dominees van die Nederduitse Kerk ooit kon regkry. Ons is geneig om te vergeet dat die imams van die vroeë tot middel-19de eeu die gekreoliseerde vorm van Nederlands sy vroegste bekragtiging in hul madrassas, dit is godsdiensskole, gegee het. Ons vind die eerste vorme van standaardisering van Kaaps-Hollands in wat ons vandag die “Arabiese Afrikaanse” tekste noem. Vir meer as 100 jaar het Kaaps-Hollands (en later Afrikaans) as die taal van godsdiensbyeenkomste en -onderrig in baie Kaapse moskees en madrassas gedien.

Vir ʼn huidige geslag Suid-Afrikaners is baie van hierdie geskiedenis vergete of is dit eenvoudig nooit op skool, kollege of universiteit geleer nie. Die enigste weergawe van die geskiedenis van die Afrikaanse taal wat ooit op skool geleer is of deur die populêre media gepropageer is, was die Afrikaner-nasionalistiese weergawe daarvan wat begin het met die Genootskap vir Regte Afrikaanders (GRA). Waarom gaan ons byvoorbeeld voort om aan 14 Augustus (1875) te dink as die enigste datum wat met die vroeë geskiedenis van Afrikaans geassosieer word? In die nasionalistiese weergawe van geskiedenis is die inheemse mense, die slawe en die armes oor die hoof gesien en hul rol en plek in die ontwikkeling daarvan gering geskat. Mens kan ook nie ontken nie dat die apartheidsbeleide van die Nasionale Party-regering in die middel van die 20ste eeu die Afrikaanse taal ’n aaklige slag toegedien het. Die taal is as die “taal van die verdrukker” geëtiketteer en dit het geslagte lange antagonisme teenoor die taal ontketen. Apartheidsbeleid het ook diepe vervreemding onder geslagte van eerstetaalsprekers veroorsaak. Baie van hulle het hul rug op die taal gedraai ten gunste van ʼn taal met minder politieke bagasie vir die meerderheid Suid-Afrikaners. Afrikaans word vandag nog steeds gebruik as instrument om te verdeel en om mede-Suid-Afrikaners te misken.

As Afrikaanssprekers moet ons ʼn ander storie vertel as die een wat so lank ingeskerp is deur apartheidsbeheer, want daardie storie het tot die noodwendige oorlewingsangs van Afrikaner-nasionalisme gelei. Vandag word baie planne deur alle soorte organisasies gemaak om die oorlewing van Afrikaans in die toekoms te verseker. Baie van hierdie planne berus op die eise van ʼn verskraalde Afrikaner-nasionalisme. Ongelukkig vuur baie van hierdie strategieë en praktyke steeds die onakkurate persepsie van Afrikaans as ʼn sektariese taal aan, en die eindresultaat sal noodwendig die verdere isolasie van sy sprekers en verdere vervreemding van sy sprekers wees, onder wie eerstetaalsprekers, en sy afstand van mede-Suid-Afrikaners verhoog.

Ons moet die geskiedenis van Afrikaans kragtig laat herleef – deur toenemende aksies – as een van vermenging, kreolisering en die spreektaal van mense met uiteenlopende agtergronde, of hulle inheems of setlaar is, slaaf of eienaar, swart of wit. Dit is, soos die skrywer Jan Rabie in die vroeë 1960’s gesê het, die belangrikste Suid-Afrikaanse storie. Dis deur die gemeenskaplikhede van Afrikaans met ander Suid-Afrikaanse tale te deel, of die diep geskiedenisse van sy onderskeie sprekers te verkondig, dat ons die hardnekkige persepsie van afsondering kan afbreek. Dieselfde geld vir die persepsie van materiële voorregte wat verkry is deur die assosiasie van Afrikaans met apartheid en wit wees. Dit is weens sy essensiële Suid-Afrikaansheid, en selfs Suider-Afrikaansheid, dat Afrikaans sal oorleef. Ons moet hierdie storie nie net vir onsself as Afrikaanssprekers vertel nie, maar ook vir ons mede-Suid-Afrikaners – juis waarom hierdie bydrae oorspronklik in Engels geskryf is. Dit is nodig dat ons die storie vertel van die volheid van Afrikaans, ʼn taal wat gevorm en dalk primêr gevorm is in die monde van inheemse mense en mense soos die bevryde slaaf in I’Ons se skets.

Lees ook

Towards the fullness of the Afrikaans language

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Eers aan die einde van sy vierde paragraaf kom Willemse by Afrikaans uit. Voor dit skryf hy oor slawerny en kolonialisme en is sy teks en gesindheid wesenlik antiblank. As hy werklik na die volheid van Afrikaans gestreef het, sou hy naas die GRA die oorwegend wit Afrikaanssprekendes genoem het wat oor baie dekades as bv joernaliste, skrywers en leksikograwe voortreflik gestalte aan Afrikaans gegee het. Elders het Willemse geskryf: "Ons moet onthou dat die bruisende toekoms van Afrikaans ... in ons veeltalige [!] stedelike strate soos die van Kaapstad en sy townships vorm aanneem" (Frank Hendricks en Charlyn Dyers, reds, Kaaps in fokus, Stellenbosch: Sun Media, 2016, p 75). Willemse is ten gunste van wat hy "vermenging" noem; dat die geradbraakte taal Kaaps maar die toekoms van Afrikaans kan wees. Ek, daarenteen, beywer my vir Afrikaans wat so suiwer moontlik en veral so vry moontlik van Engels moet wees.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Johannes se opmerking illustreer die belangrikste paradigma waardeur Afrikaans waarskynlik nooit sal kan breek nie - Afrikaans as die taal van die wit Afrikaner. Die minderheid sprekers van die taal sal bly daarop roem dat die beginsels wat deur Genootskap en later die Akademie vir Wetenskap en Kuns daar gestel was, die enigste ware Afrikaans verteenwoordig. Ek vier nie self 14 Augustus nie. Dis wel lekker dat die boeke goedkoper is in boekwinkels. Die hele storie is maar 'n magstryd en een waarin ek nie sin het nie.

    Meanwhile, back at the ranch, is dit anyways - voorwaards die empaaier.

  • Sal Hein Willemse nou ‘n opvolg artikel ook In Engels vir ons skryf hoe hierdie nederige taal ‘n moderne taal geword het wat publikasies en geleerdheid van omtrent elke vakrigting kon skep en geleentheid gebied het vir baie om in hul moedertaal onderrig te ontvang en hulself te ontwikkel.

  • Matthys J. Strydom
    Matthys J. Strydom

    Laat ons tog net ophou om te stry en te baklei oor wie of wat die grootste bydrae tot die skepping van Afrikaans gelewer het. Laat ons met dankbaarheid en liefde ons taal geniet en gebruik, sonder bymotiewe.
    En aanhou om te help bou daaraan.
    Waak teen die laksheid en luiheid om te dink aan die regte Afrikaanse woord/uitdrukking, of by die gebrek daaraan,liewer een te skep. Ontdek hoe bevredigend DIT is.
    Ons ideal moet nie wees dat Afrikaans voortbestaan nie, maar dat dit moet bly ontwikkel.
    Dit kan net groei as dit in die onderwys gebruik word - en dit kan net gebeur in inrigtings wat onafhanklik van die (huidige) staat bedryf word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top