“‘Hou op so plat praat!’ Elke keer wanneer ek net gemaklik geword het om my Namakwa-Afrikaans te praat, was dít wat ek moes aanhoor.”
.........................
“Hou op so plat praat!” Elke keer wanneer ek net gemaklik geword het om my Namakwa-Afrikaans te praat, was dít wat ek moes aanhoor. Wat dit beteken het, het ek nie geweet nie. Ek het my manier van praat begin verander.
Afrikaans het vir my ’n ingewikkelde kwessie geword. Daai tyd toe het ek mos nog nie geweet dat daar klompies maniere van Afrikaans praat was nie. Al wat ek geweet het, is dat ek hom mosda nou nie reg gepraat het nie. In die hoërskool op Nababeep was ek bang vir mondeling in Afrikaans. Ek praat te plat, het ek gedink.
.........................
“Daarom is ek, ’n honneursstudent aan die UWK waar ek
met my ‘plat’ Afrikaans ’n tuiste gekry het, gemotiveerd
om ander Afrikaanssprekers te help om hul skaamte
oor hul praatwyses en soorte Afrikaans te oorkom.”
.........................
Praat harder, het die mense gesê. Moenie so binnemonds praat nie. Ek het dieper in my taaldop ingekruip, behoorlik xhouboe as ek die taal moes praat. Ek wou selfs Engels begin praat, al het dit óók nie so lekker geklink nie.
Maar hier diep binne my het ek my Afrikaans bly praat. Ek het in Afrikaanse boeke in gevlug. In my kop kon ek hom lees soos ek hom praat. Plat. En glads nie binnemonds nie.
Toe kom ek universiteit toe, na die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe. Hier sal ek nie hoef om Afrikaans te praat nie. Elke dag Engels – die lesings, gesprekke met dosente, studente, nuwe vriende. Nou vir ’n Namakwalander om Engels as sy taal te oorweeg, klink skoon onnosel. Ek het mosda nie baie blootstelling aan Engels gekry nie. Maar as die mense op ons Radio Nfm darem Engels kan praat, sal ek dit seker ook so kan doen, het ek gedink.
Maar was ek dan toe nou verkeerd!
In my eerste groepklas vir Afrikaans en Nederlands sê ons tutor, Natalie Buffels, ons moet ons voorstel aan die klas. Ek het bloedrooi getrek en my half bepis. My grootste vrees word dan nou waar. Ek het my naam en van gesê. Toe draai Natalie na my toe en vra: “En wie praat so mooi?”
.........................
“Ek het begin leer van die ander maniere waarop Afrikaans gepraat word en
dat dit geheel ’n eie naam het ook: variëteite of variasies of dialekte.”
.........................
Ek het gedink die meisie vat my vir ’n one. Ek praat nie weer in die klas nie, het ek myself belowe. Maar sy wou meer hoor. Van waar is jy, wou sy weet. Huiwerig sê ek toe, Nababeep. Springbok. In Namakwaland. Hierdie mense sal nie eens weet waar dit is nie, het ek nog gedink.
Maar my woorde was nog nie eens uit my mond uit nie, toe iemand voor my haar omdraai en dan nou amper net soos ek praat. Sy is Cornélita Nel, het sy gesê, van Okiep. Hoe lekker val die klem darem toe nie op daai “r”- en “n”- klanke nie. Toe het ek geweet: ek hoort hier.
Natalie het my sommer nog baie laat praat in die daaropvolgende groepklasse. Ek het heel gemaklik geloop raak. My Afrikaans het tuis gekom raak in my eie mond, nie net in my kop nie. En toe ek in die tweede semester van my eerste jaar Donique Cloete van Okiep as tutor kry, wou ek my stem in my plat Afrikaans nooit weer verloor nie.
My Afrikaans, my Namakwa-, Namakwalandse of Gariep-Afrikaans was welkom. Net daar het ek besluit ek hou Afrikaans as vak en dat ek nagraads so ver in dié vak wou gaan as wat ek kon. Ek het sommer beter begin vaar in Afrikaans, beter as op skoolvlak, beter as wat ek kon droom toe ek op skool was. Ek het begin skitter.
.........................
“En toe ek in die tweede semester van my eerste jaar
Donique Cloete van Okiep as tutor kry, wou ek my stem
in my plat Afrikaans nooit weer verloor nie. My Afrikaans, my
Namakwa-, Namakwalandse of Gariep-Afrikaans was welkom.”
.........................
Die mense van die Kaap het baie te sê gehad oor my manier van praat, maar dit het my nie meer ongemaklik laat voel dat ek “anders” gepraat het nie. Ek praat anders, maar ek wil niks meer daaraan verander nie. Ek het begin leer van die ander maniere waarop Afrikaans gepraat word en dat dit geheel ’n eie naam het ook: variëteite of variasies of dialekte.
Dit was vir my só mooi dat ek al hoe meer omgee vir mense wat dalk voel wat ek gevoel het oor die manier waarop hulle praat. Ek is bevoorreg, ek is op ’n plek waar jy aanvaar word, al praat jy ook “plat”. Daarom is ek, ’n honneursstudent aan die UWK waar ek met my “plat” Afrikaans ’n tuiste gekry het, gemotiveerd om ander Afrikaanssprekers te help om hul skaamte oor hul praatwyses en soorte Afrikaans te oorkom.
Nou is ek self ’n Afrikaans-tutor in ons departement. En kan ek doen wat soveel ander voor my al vir soveel jare doen: Ek verkondig Afrikaans as heterogene taal, dra by tot die debat oor Afrikaans en sy variëteite en laat my stem in my Namakwalandse Afrikaans hoor oor die plat en die rond van ons taal. Ons héle taal.
Romario Cloete is ’n honneursstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland
Kommentaar
Preek, broetjie. Lieflik, mos!
As jy so kan skryf, wie kan met jou stry as jy praat?
Is dit nie wonderlik en bevrydend om daardie transformasie in jou binneste te ondergaan nie? Ek wou ook Afrikaans in 'n blik druk terwyl ek my verwonder aan die rykheid van ander tale se dialekte en aksente, bv die Skotse aksent of Cockney-dialek. Nou waardeer ek die rykheid van ons taal in sy diversiteit. Om jou vrese en skaamheid te bowe te kom is iets ysliks. Hou vol met die goeie werk om Afrikaans en Afrikaanssprekendes te laat groei en hul volle potensiaal te verwesenlik.
Jy maak my hart so bly! Ek is 'n onderwyseres en my kinders weet almal: Hoe meer divers ons taal is, hoe breër glimlag ek. ❤️
So 'n worsteliing om uit te kom waar jy moes begin het: "Ek praat soos ek praat."
Trotse namakwatjeent ... welgedaan jy is tog so pruut.
Ek's mal oor daai Nama-aksent!
Of sal ek nou sê 'daai variant'!
Dis eintlik 'n Namakwaland-Aksent. Nama Is 'n Khoekhoe-taal.
Hulle gaan waarskynlik praai van "doerie"