
Agtergrond: https://pixabay.com/photos/columns-building-massachusetts-5135499/; foto van Johann Rossouw: verskaf
Skaars ’n week ná die opstel wat ek in aansluiting by Andrew Nash en Anton van Niekerk se besinning oor die verwording van die uitnemendheidsideaal en die universiteitsranglyste op LitNet gepubliseer het, word op 16 November bekendgemaak dat die regsfakulteite van twee van die mees gesiene Amerikaanse universiteite, Harvard en Yale, hulle aan die oorspronklike opsteller van universiteitsranglyste, die US News and World Report, onttrek het.
Dat die nuus oor die twee regsfakulteite op dieselfde dag bekend geword het, is nie toevallig nie, aangesien die een ook na die ander se besluit verwys en hul opgaaf van redes vir hul onderskeie besluite so eenders is – meer daaroor hier onder. Dit is eweneens interessant dat die aankondiging in albei gevalle nie deur die rektore van die universiteite gemaak is nie, maar deur die twee fakulteite se dekane. Ondanks die feit dat ’n mens kan redeneer dat dit ’n dekaan se taak is om so ’n aankondiging oor sy of haar fakulteit te maak, laat dit tog die vraag ontstaan of die twee fakulteite se besluite téén die voorkeure van die twee universiteite se rektorate geneem is. Dit is egter blote bespiegeling.
Dit is sekerlik ook belangrik om die twee fakulteite se besluit nie vir meer aan te sien as wat dit is nie – hulle het nie aan álle universiteitsranglyste onttrek nie, maar bloot aan dié van die US News and World Report. Trouens, die dekaan van Harvard se regsfakulteit is in sy aankondiging van die besluit oor die algemeen positief oor die myns insiens bedenklike ranglyste:
Indien dit goed gedoen word, weerspieël sodanige ranglyste akkurate, relevante inligting oor universiteite, kolleges, en nagraadse en beroepskole wat studente en gesinne mag help om ingeligte keuses te maak oor watter skole die beste in hulle behoeftes voorsien. Dog ranglyste kan ook kenmerke beklemtoon wat diegene wat op hulle staat maak, potensieel mislei en perverse intensiewe kan skep wat skole se besluite beïnvloed op wyses wat studentekeuse ondergrawe en die belange van potensiële studente skaad.
Die taal wat die betrokke dekaan hier bo gebruik – die klem op individuele keuse en belange – is tekenend van die liberale verbruikeristiese siening van die universiteit wat Nash so deurtastend ontleed het en waarvan die ranglyste ’n kenmerk is, maar ten minste word erken dat die metodes wat die opstellers van die ranglyste gebruik, ook hoëronderwysinstellings kan aanmoedig om in dinge te belê wat nie noodwendig goed vir opvoedingsideale of vir die studente is nie.
Dit is in hierdie verband dan interessant wat die redes is wat Harvard en Yale vir hul onttrekking aan die US News and World Report verskaf. Lesers kan self die twee verklarings lees, maar die kern van die saak is dat albei dekane die betrokke ranglys daarvan beskuldig dat dit nie behoorlik rekenskap gee van die twee fakulteite se pogings om arm en middelklasstudente met beurse en ander vorme van finansiële steun te help nie, asook om studente te ondersteun wat verkies om eerder in die openbare sektor te werk waar daar minder geld as in die privaat sektor te make is.
Met ander woorde, die twee fakulteite is van oordeel dat die betrokke ranglys nie in hul gradering van die twee fakulteite nie genoeg erkenning gee aan stappe wat die twee doen om tot maatskaplike gelykheid en die gemeenskaplike goeie (common good) by te dra nie. Deur hulle op hierdie ideale te beroep, plaas die twee fakulteite hulleself egter in ’n spanningsveld tussen twee onversoenbare pole – enersyds dié van openbare ideale, waar die winsmotief per definisie van minder belang is en andersyds dié van die winsmotief, waar openbare ideale hoogstens instrumenteel ingespan word vir privaat belange – presies soos die ideaal van uitnemendheid verword het, soos deur Nash ontleed.
............
Dat Yale en Harvard spesifiek binne hul eie konteks universiteite van naam geword het, staan soos ’n paal bo water, maar dit moet ook gesê word dat hulle vandag deel vorm van die oorgrote meerderheid liberale Amerikaanse universiteite waar hipermoralistiese onverdraagsaamheid in die naam van inklusiwiteit – oftewel die woke beweging – besig is om akademiese vryheid en die oop gesprek sienderoë te vernietig.
..............
Dat Yale en Harvard spesifiek binne hul eie konteks universiteite van naam geword het, staan soos ’n paal bo water, maar dit moet ook gesê word dat hulle vandag deel vorm van die oorgrote meerderheid liberale Amerikaanse universiteite waar hipermoralistiese onverdraagsaamheid in die naam van inklusiwiteit – oftewel die woke beweging – besig is om akademiese vryheid en die oop gesprek sienderoë te vernietig, tot op die punt waar daar min verskil is tussen die moellahs van Afganistan en hierdie liberale kampusse wat betref ontvanklikheid vir ander standpunte en wêreldbeskouings as jou eie.
In hierdie verband berig ’n konserwatiewe Amerikaanse juris, Sarah Isgur, wat aan Harvard gegradueer het en woordvoerder van die Amerikaanse Departement van Justisie tydens die Trump-administrasie was, hoe ’n konserwatiewe student haar tydens ’n lesing by Yale aangeval het omdat die student haar vroeër die middag Yale se liberale adjunkstudentedekaan met ’n omhelsing sien groet het. Die omhelsing was om Isgur geluk te wens met die onlangse geboorte van ’n baba, maar wat die konserwatiewe student skynbaar nie kon verwerk nie, was die feit dat die konserwatiewe Isgur die liberale adjunkstudentedekaan so hartlik kon groet, al het die twee vroue mekaar sedert hulle studentedae geken en ondanks hulle politieke verskille ’n hartlike persoonlike verhouding gehad het.
..............
Wat die staaltjie interessant maak, is dat dit wys dat terwyl liberale gewoonlik van woke onverdraagsaamheid beskuldig word, dit in hierdie geval ’n konserwatiewe student was wat sig daaraan skuldig gemaak het; weliswaar ’n student van Yale, ’n woke bastion, wat die vraag laat ontstaan in hoe ’n mate die woke houding aan sulke universiteite genormaliseer word, sodat of jy nou liberaal of konserwatief is, jy jou maar so kan gedra.
.................
Wat die staaltjie interessant maak, is dat dit wys dat terwyl liberale gewoonlik van woke onverdraagsaamheid beskuldig word, dit in hierdie geval ’n konserwatiewe student was wat sig daaraan skuldig gemaak het; weliswaar ’n student van Yale, ’n woke bastion, wat die vraag laat ontstaan in hoe ’n mate die woke houding aan sulke universiteite genormaliseer word, sodat of jy nou liberaal of konserwatief is, jy jou maar so kan gedra.
Dit laat ook die vraag ontstaan hoe op dees aarde die ranglyste van hierdie wêreld die woke wegkalwing van akademiese vryheid en die oop gesprek se onvermydelike negatiewe effek op akademiese voortreflikheid van universiteite gaan verreken. Sal die ranglyste miskien ekstra punte begin toeken aan al hoe absurder vorme van inklusiwiteit, sodat inklusiwiteit verword, nes uitnemendheid?
Dit is eweneens interessant om kennis te neem van hoe ’n gesiene akademikus van Rhodes-universiteit, Sioux McKenna, self onlangs uitgevaar het teen die ranglyste in reaksie op Harvard en Yale se besluit. Terwyl ek in my eie bogenoemde opstel aansluiting gevind het by Anton van Niekerk se uitspraak dat geen universiteitsrektor vandag die moed sal hê om aan die ranglyste te onttrek nie, moes ek tot my blymoedige verleentheid erken dat ek nie wis dat Rhodes volgens McKenna “konsekwent geweier het om aan die ranglyste deel te neem weens die swak wetenskap waarop dit berus” nie. Volpunte aan McKenna en Rhodes, wat na my beste wete eweneens twee ander kritieke besluite ná 1994 geneem het wat wesenlik is vir ware akademiese uitnemendheid, naamlik om doelbewus hulle getal studente te beperk, en om nie fakulteite in skole op te breek nie – hoewel laasgenoemde ’n ander gesprek is.
Ek deel nie McKenna se aanhang van die ideaal van sogenaamde transformasie nie, wat omtrent net in die geval van Rassie Erasmus se Springbokke iets van gehalte opgelewer het, maar ek volg haar sentiment as sy verklaar dat universiteite groot bedrae geld uitgee op die najaag van ’n beter plek op die ranglyste ten koste van “transformasie”. Genadiglik lig sy die begrip transformasie toe met inhoude waarmee die meeste regdenkende mense sekerlik nie kan verskil nie wanneer sy uiteensit presies wat die negatiewe gevolge van die najaag van ’n beter ranglysplek is:
– Ranglyste kombineer maatstawwe wat totaal uiteenlopend is om ’n saamgestelde ranglystelling te bereken.
– Ranglyste ken dikwels ’n hoë waarde aan ’n instelling se reputasie toe, terwyl die reputasie gewoonlik ’n weerspieëling van inkomste en bemarking eerder as opvoedkundige gehalte is. (Praat van oorgeërfde bevoordeling wat in dié geval ingespan word deur sommige Suid-Afrikaanse universiteite met ’n mond waarin gedekolonialiseerde botter nie sal smelt nie, vir ‘n nog hoër ranglysplekkie.)
– Elke ranglys het een stel beoordelingskriteria vir alle instellings, ongeag hulle unieke geskiedenis, plek of akademiese oogmerke.
– Die maatstawwe is ’n getalsgewyse kwantifisering van ingewikkelde, onkwantifiseerbare werklikhede. As ek byvoorbeeld in hierdie opstel skryf Suid-Afrikaanse universiteite se najaag van ranglysplekke is selfkolonialisering van ’n spesiale soort, word die stelling meer waar as hierdie opstel meer aangehaal word, volgens, sê, Google Scholar of academia.edu? Wat was nou weer die storie van dat ’n leuen wat genoeg herhaal word, ’n waarheid word?
............
Dit bring ons dan by die Suid-Afrikaanse universiteitsgonswoord van die oomblik: dekolonialisering.
...............
Dit bring ons dan by die Suid-Afrikaanse universiteitsgonswoord van die oomblik: dekolonialisering. Ofskoon geslagte intellektuele al sedert Kwame Nkrumah in die laat 1950’s tot vandag toe in Afrika sowel as Suid-Afrika geskryf het oor die noodsaak om die koloniale nalatenskap te verwerk en agter te laat, het hierdie ideaal ’n ongekende prominensie verwerf onder die term dekolonialisering tydens die Fallist-studentebeweging van 2015 en 2016. Afgesien van die veldtog teen e-tol, was Suid-Afrikaanse studente se protes teen die onhoudbare verhoging van studiegelde in Oktober 2016 miskien die belangrikste voorbeeld van suksesvolle burgerlike verset teen die mislukkende ANC-regering. Die skouspelagtige wyse waarop die Zuma-administrasie op daardie dag einde Oktober 2016 as’t ware beleër is deur honderde duisende studente by die Uniegebou en met die rektore van die openbare universiteite vergader het, en sonder veel ag op korrekte prosesse en tersaaklike wetgewing toegegee het aan die eis om ’n 0%-studiegeldverhoging vir 2017, was geskiedkundig in die postapartheid bedeling waar die burgery die regering tot verantwoording geroep het – ongeag watter ander dinge oor daardie dag gesê kan word.
Die diepere belang vir daardie oomblik van verset in die naam van dekolonialisering is dat dit skokgolwe deur die geledere van die ANC-regering gestuur het, want dit was per slot van rekening jong kiesers wie se steun nie bloot op grond van stokou struggle-sentimente aanvaar kan word nie. Dit was dus eweneens voorspelbaar dat dekolonialisasie in ’n ommesientjie deur die Pretoriase hoëronderwysburokrate tot waarde verhef sou word, sodat universiteite nou moet wys wat hulle alles doen om te dekolonialiseer. Onvermydelik word dekolonialisasie dan ook ’n program met kwantifiseerbare doelwitte, oftewel word dit volgens die ou koloniale logika beoordeel.
............
Die gevolg hiervan is dat universiteite wat verkies om aan die ranglyste deel te neem – ’n spesiale soort selfkolonialisering – en direktiewe oor dekolonialisasie moet nakom, twee totaal onversoenbare agendas najaag.
.............
Die gevolg hiervan is dat universiteite wat verkies om aan die ranglyste deel te neem – ’n spesiale soort selfkolonialisering – en direktiewe oor dekolonialisasie moet nakom, twee totaal onversoenbare agendas najaag. Met die verdere gevolg dat die sofisme aan ons universiteite al hoe meer word namate die jaarverslae, bemarking en ander beeldpoetsoefeninge van die universiteite ons almal daarvan probeer oortuig dat albei hierdie agendas nie net nagejaag kan word nie, maar boonop nog met welslae.
Is dit enige wonder dat kognitiewe dissonansie toenemend in openbare Suid-Afrikaanse universiteite aan die orde van die dag is?
Lees ook:
Reaksie op Andrew Nash: "Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?"
Universiteitseminaar: Guerrillas en die universiteit wat moet kom
BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia
Internasionale konferensie: Slow intimacy (Langsame intimiteit)
Universiteitseminaar: Jan Heunis SC beskou die Khampepe-verslag
Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch
Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor
Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC
DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education
Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is
US-taalbeleid: Breyten Breytenbach reageer op Anton van Niekerk se brief
Baqonde-meertaligheidsprojek: "Laat hulle verstaan" (en laat die tegnologie help)
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
A response to Marlene van Niekerk’s contribution to the Stellenbosch University language debate
Persverklaring: Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid
Persverklaring: StudentePlein oorweeg appèlopsies ná hofuitspraak in US-taalsaak
Kommentaar
Weereens dankie, Johann, vir hierdie oorsig van die globale konteks waarin die stelsel van sg. akademiese uitnemendheid, soos deur ranglyste gemeet, nou begin uitrafel.
Dit is nie verbasend dat dekane by Harvard en Yale versigtig is met hulle kritiek op hierdie stelsel nie. Maar hulle kritiek wys in watter rigting die wind begin waai.
Kort na hulle uitsprake, kom die woorde van die uittredende vise-kanselier van Oxford, Louise Richardson, oor regulering van hoër onderwys in die Verenigde Koninkryk, in vandag se Guardian: "I cannot point to a single area in which [bureaucratic regulations] have actually improved the quality of what we do. They are constantly evaluating us, but nobody's evaluating the impact of all this regulation. And I think the impact is primarily to waste funds that I'd much rather be spending on scholarships to students or hiring more teachers rather than people to fill out the next mind-numbing set of consultations" (https://www.theguardian.com/education/2022/nov/26/louise-richardson-oxford-university-state-educted-students-competition-diversity).
Een swaeltjie maak weliswaar geen somer nie, maar hierdie swaeltjies sommer is nie net deur die wind weggewaai nie!