Universiteitseminaar: Die US, rassisme en die toekoms

  • 3

Desmond Painter (foto: Izak de Vries)

Oudregter Sisi Khampepe se verslag oor rassisme aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope week wye mediadekking gekry. Heelwat van die reaksies aan die meer ekstreme punte van die spektrum was natuurlik voorspelbaar: Aan die een kant word stereotipes oor die US as die laaste oorblywende apartheidsinstelling herhaal; en aan die ander kant word aangevoer dat die verslag ’n kwalik verhulde manier is om finaal met Afrikaans as akademiese en selfs omgangstaal op kampus af te reken.

..............
Wat die eerste betref, maak die Khampepe-verslag dit duidelik dat die US nie bloot ’n apartheidsreliek is nie, en dat daar wat betref transformasie goeie bedoelinge, gesofistikeerde beleid en doelgerigte toepassing is. Nie net op hoër bestuursvlak nie, maar op fakulteits- en departementele vlak word daar op verskeie maniere werk gemaak daarvan om historiese ongeregtighede en ongelykhede aan te spreek, en die universiteit kan tereg aanspraak maak op suksesse wat dit betref.
..............    

Wat die eerste betref, maak die Khampepe-verslag dit duidelik dat die US nie bloot ’n apartheidsreliek is nie, en dat daar wat betref transformasie goeie bedoelinge, gesofistikeerde beleid en doelgerigte toepassing is. Nie net op hoër bestuursvlak nie, maar op fakulteits- en departementele vlak word daar op verskeie maniere werk gemaak daarvan om historiese ongeregtighede en ongelykhede aan te spreek, en die universiteit kan tereg aanspraak maak op suksesse wat dit betref. Om te sê die US het nog nie aanbeweeg uit die 1980’s nie, is onregverdig. ’n Narratief waarin ’n mitiese Stellenbosch met mitiese Afrikaners bloot vasgesteek het in die verlede, maak dit boonop moeilik om die belange en teenstrydighede wat rassisme in die hede aandryf, voldoende te verstaan.         

Wat die tweede betref, is daar beslis heelwat te sê, ook krities, oor die rol van taal in die dekolonialisering van universiteite in Suid-Afrika, en aan die US in die besonder. Nie een van ons tersiêre instellings het tot op hede nog vorendag gekom met ’n taalbeleid wat beide prakties is én die koloniale taalorde betekenisvol omverwerp nie. Afrikatale kom glad nie tot hulle reg nie, en dit is naïef om voor te gee dat Engels nie ook sosiolinguistiese merkers het wat subtiel gemobiliseer word om mense uit te sluit of te laat voel asof hulle nie heeltemal “op standaard” is nie. Onlangs het een van my honneursstudente, bruin en Engelssprekend, in ’n werkstuk geskryf hoe die uitspraak van r sprekers soos sy merk as anders, en hoe sy en medestudente met wie sy gesels het, die idee geïnternaliseer het dat hulle die r moet sluk ten einde gesofistikeerd te klink en akademies ernstig opgeneem te word.

In my eie ervaring gebeur dit baie selde dat swart personeel en studente vyandig is teenoor Afrikaans en die gebruik daarvan as sodanig. Waarteen hulle hulle verset, is die talle eksplisiete en subtiele maniere waarop taal, en by die US op spesifieke maniere dan Afrikaans, gemobiliseer word as ’n institusionele, akademiese en sosiale versperring.

.............
In my eie ervaring gebeur dit baie selde dat swart personeel en studente vyandig is teenoor Afrikaans en die gebruik daarvan as sodanig. Waarteen hulle hulle verset, is die talle eksplisiete en subtiele maniere waarop taal, en by die US op spesifieke maniere dan Afrikaans, gemobiliseer word as ’n institusionele, akademiese en sosiale versperring.
.................

Tog is die US, juis omdat dit nog nie volledig gekies het vir Engels nie, ironies genoeg uit al die universiteite in Suid-Afrika tans dalk die beste geplaas om iets nuut en omvormend te doen wat betref die skep van ’n meertalige tersiêre instelling en akademiese kultuur. Baie geld word by die US belê in ’n infrastruktuur wat grootskaalse vertaling en tolking ondersteun, en al word daar in die praktyk toenemend in Engels klas gegee, en dan in Afrikaans en Xhosa getolk, sou dit met die bestaande tegnologie en hulp absoluut moontlik wees vir ’n dosent om nie net in Afrikaans nie, maar in Xhosa klas te gee, met tolking in Engels en Afrikaans. Dink net hoe radikaal, hoe prakties dekolonialiserend, dit sou wees indien ’n module by die US in Xhosa aangebied sou word.

..............
Dink net hoe radikaal, hoe prakties dekolonialiserend, dit sou wees indien ’n module by die US in Xhosa aangebied sou word.
................

Studente sou nie net ervaar dat ’n Afrikataal as akademiese taal bemagtig kan word en bemagtigend kan wees nie. Die meerderheid wit studente sou ook in die posisie geplaas word waar húlle ’n slag moet inpas en aanpas by ’n situasie en ’n omgewing wat nie bloot ’n spieëlbeeld is van die wêreld van waar hulle kom nie. Dit sal dalk makliker wees om ander welkom te laat voel wanneer jy self ook soms nodig het om verwelkom te word. Wanneer die moontlikheid vir vervreemding ’n bietjie meer eweredig versprei is.

Maar ek wil nie hier oor taal en “die taaldebat” skryf nie. Dit is onaanvaarbaar dat die gesprek oor rassisme keer op keer ondergeskik gestel word aan die gesprek oor taal – en spesifiek dan die gesprek oor Afrikaans, met “meertaligheid” wat maar net ’n gerieflike retoriese maneuver word om Afrikaans se posisie te bestendig. Reaksies soos dié van die DA se Leon Schreiber versterk net die idee dat daar op die ou end gekies moet word tussen antirassisme en Afrikaans. Dit is moreel onregverdigbaar, gegewe die geskiedenis van die US, en dit is ook selfondermynend vir enige posisie wat wérklik erns wil maak met meertaligheid en die dekolonialisering van ons universiteitswese. As jy vir Afrikaans ’n plek wil beding deur rassisme te ontken of te relativeer, gaan jy niks regkry behalwe om die persepsie te versterk dat Afrikaans deel van die probleem is nie. Wat hierdie relativering moontlik maak, is die foutiewe aanname dat rassisme vandag eintlik nog nét bestaan in die vorm van geïsoleerde individuele gevalle van vooroordeel, diskriminasie of kwetsende taal.

Wat die Khampepe-verslag duidelik maak, en wat swart personeel en studente al járe rapporteer, informeel sowel as in navorsingsverslae, in private gesprekke met wit kollegas en op openbare platforms, is dat die US nog steeds ’n vervreemdende ruimte is – een waarin swart personeel en studente dikwels voel hulle word verdra eerder as om regtig deel te wees van die instelling en waar hulle sonder voorbehoud kan sê: “Dit is my universiteit, my kampus.” Hier verdien die US, en alle wit personeel, wel skerp kritiek. Waarom was dit nodig vir nóg ’n rassisme-skandaal en ’n kommissie van ondersoek vir ons om kennis te neem van die meedoënlose aard van rassisme aan die US en in Stellenbosch? Nie net van die “nuuswaardige” gevalle van blatante rassisme, soos 2022 se urineringsvoorvalle nie, maar die honderde daaglikse voorbeelde van geringskatting en klein vernederings wat swart studente en personeel rapporteer, en wat die US en veral die dorp Stellenbosch vir baie van hulle so ’n onthutsende ruimte maak.

.............
Waarom was dit nodig vir nóg ’n rassisme-skandaal en ’n kommissie van ondersoek vir ons om kennis te neem van die meedoënlose aard van rassisme aan die US en in Stellenbosch? Nie net van die “nuuswaardige” gevalle van blatante rassisme, soos 2022 se urineringsvoorvalle nie, maar die honderde daaglikse voorbeelde van geringskatting en klein vernederings wat swart studente en personeel rapporteer, en wat die US en veral die dorp Stellenbosch vir baie van hulle so ’n onthutsende ruimte maak.
..............

Of het ons dit geweet, maar ons word net deur nasionale blootstelling en skade aan ons reputasie en “handelsmerk” oorgehaal om iets daadwerklik te doen? (En wat beskou ons as “daadwerklik”?)

Natúúrlik het ons geweet. In sy onlangse Afrikaanse digbundel Swatland, gepubliseer meer as ’n jaar voor die Khampepe-verslag en ’n selfs meer “ongemaklike” leeservaring, skryf die voormalige US-student Ashwin Arendse só oor sy tyd aan die US en in Stellenbosch:

Maa ek willie nou ondankbaar klink ie,
wan Stellenbosch het vi my oek baie gegie
Soesie privilege om te sien hoe
’n dikgesypte boeġ elke twiede Woensdag
inne sponsored-by-Pappa-Hilux veby ġy
en vi jou skġie jyse hotnot.
Elke jaa se ding, al hoe hadder en mee volbos
soesie jaa anstap.
Dan die whiteys wat die Stellenbosch
anthem sing, “Dis altyd lente
in die oë van die Stellenbosch student.”
Saloet, is altyd lente in Stellenbosch.
Gġoot wit naies wat heeljaa kaalvoet loep
met stġikkies in hulle haġe, ġient of son,
soes ou vooġtġekkeġtjies.

En dit is maar een voorbeeld. Rassisme aan die US en in Stellenbosch is nie ’n geheim nie. Op persoonlike vlak ken ek so baie mense, swart kollegas, oudstudente en vriende, wat letterlik Ashwin Arendse se ervaring van die US en Stellenbosch beaam. Wat doodluiters vertel hoe die k- en h-woorde deur motorruite geslinger word. Wat die US ervaar as ’n plek wat jou ’n graad of ’n salaris kan gee, maar Stellenbosch sover moontlik probeer vermy. Die Khampepe-verslag bevestig wat ons reeds weet. Die US, wit personeel, die dorp, moet veel meer doen om te verstaan hoe hierdie underbelly van onverdraagsaamheid en, selfs meer dikwels, oorbevoorregte onverskilligheid, in stand gehou word.         

Dit is nodig om te sê dat ek met die woord rassisme nie slegs verwys na konflik tussen groepe of wedersydse vooroordeel of suspisie nie. Ek verwys ook en veral na wit normatiwiteit, wit meerderwaardigheid, en wit weerstand teen die wesenlike veranderinge wat wél by die US plaasvind. Eersgenoemde kan betreklik maklik aangespreek word deur te werk aan persoonlike verhoudings oor groepsgrense heen en die bou van samehorigheid en gedeelde doelwitte. Dit is belangrike werk, maar nie voldoende nie.

Laasgenoemde is veel moeiliker om te verander, en gaan meer eerlikheid, durf en politieke verbeelding verg. Een van die groot struikelblokke is dat ons geneig is om maatskaplike probleme te de-politiseer en te reduseer tot interpersoonlike en selfs sielkundige kwessies – wat ironies genoeg tot gevolg het dat dit maklik deur politieke opportuniste vanuit alle oorde gekaap kan word. Rassisme is ’n politieke probleem, en dit is ’n politieke probleem ook vir wit mense – nie net vir diegene wat aan die ontvangkant daarvan is nie. Dit was die primêre ideologiese raamwerk waarbinne ons, as wit mense, onsself polities gekonstitueer het en ’n maatskaplike en kulturele wêreld tot stand gebring het.

.............
Die toekoms van die US, en van Stellenbosch, hang nie af van die mate waartoe wit mense hier ons individuele stereotipes en vooroordele oor ander kan transendeer nie. Daardie toekoms gaan afhang van die mate waartoe wit mense anti-rassisme as ’n eg politieke posisie kan artikuleer en onsself, ons omgewing, en ons verhouding met die kontinent en diegene met wie ons dit deel, fundamenteel in terme daarvan kan herbedink.
..............

Die toekoms van die US, en van Stellenbosch, hang nie af van die mate waartoe wit mense hier ons individuele stereotipes en vooroordele oor ander kan transendeer nie. Daardie toekoms gaan afhang van die mate waartoe wit mense anti-rassisme as ’n eg politieke posisie kan artikuleer en onsself, ons omgewing, en ons verhouding met die kontinent en diegene met wie ons dit deel, fundamenteel in terme daarvan kan herbedink. Dit gaan meer verg as stellinginname teen individuele dade van rassisme. Wat dit gaan verg, is ’n fundamentele herverbeelding van wie ons is.

 

  • Desmond Painter is medeprofessor en voorsitter van die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy skryf in sy eie hoedanigheid.

Lees ook:

Universiteitseminaar: Jan Heunis SC beskou die Khampepe-verslag

Aan wie behoort die woorde?

Reclaiming Multilingualism

Monolingualism, not Afrikaans, must fall

Om te twyfel

Gelyke Kanse: Afrikaans, die sondebok

Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch

Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor

US-taaldebat 2021: Kinkel in die kabel

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

Wat verdedig ons? Die Afrikaanse kampus as fabriek

Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC

Is Afrikaans aan die US ’n spyker ryker in haar doodskis?

DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education

Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos

US-taalbeleid: Breyten Breytenbach reageer op Anton van Niekerk se brief

US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa

Baqonde-meertaligheidsprojek: "Laat hulle verstaan" (en laat die tegnologie help)

BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson

A response to Marlene van Niekerk’s contribution to the Stellenbosch University language debate

Persverklaring: Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid

Persverklaring: StudentePlein oorweeg appèlopsies ná hofuitspraak in US-taalsaak

Kan die akademie uitnemendheid oorleef?

Reaksie op Andrew Nash: "Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?"

BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia

Universiteitseminaar: Guerrillas en die universiteit wat moet kom

  • 3

Kommentaar

  • Weldeurdagte stuk deur Desmond, soos gewoonlik. Dit is 'n politieke kwessie, ja, maar 'n negatiewe een in die filosofiese sin. Etniese Afrikaanse mense van alle soorte is stelselmatig ontmagtig sedert 1994, iets wat nie noodwendig tot hul nadeel gestrek het nie, want (demokratiese) mag kom met pligte en take. Maar dit beteken wel dat hulle nie meer die instellings het om op groot genoeg skaal te herbedink aan 'n nie-rassigheid nie. Dit sou kon geskied het as daar gehou is by die Jakes Gerwell-kompromie van twee Afrikaanse universiteite wat behoue bly, maar daardie koeël is lankal deur die kerk. Afrikaanse mense is verdoem tot 'n negatiewe politiek, die politiek van ontmagtiging. Die vraag moet gevra word: hoeveel van die hardnekkige rassisme is te wyte aan hierdie ontmagtiging. Nie om dit aanvaarbaar te maak nie, maar om te verstaan of dit ten spyte van nie-rassige opvoeding in ons skole bly voortbestaan, en hoeveel die staatsbestel daarmee te doen het.

  • André Badenhorst

    Ek en Desmond Painter dink oor verskillende goed radikaal anders, maar as dit by Afrikaans op Stellenbosch kom, dan trek ons min of meer in dieselfde rigtiing.

    Dis net jammer dat sy aanklag teen verstarde denke wat telkens “de breede weg” van verengelsing volg, soos gewoonlik geen verskil gaan maak nie. Net so ook met die onderbou van rasissme in daardie einste denke en die gepaardgaande “window dressing” met die afskaling van Afrikaans. En soos wat ons koppe teen hierdie selfde muur van ontwykendheid stamp, raak ons al hoe meer verdeeld.

    Die ding is, Wim en sy vennote kan nie sê hulle het nie geweet nie, want die waarskuwings lê uit alle hoeke en oor al die jare verspreid op hierdie platform.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top