Wat verdedig ons? Die Afrikaanse kampus as fabriek

  • 2

Foto: Izak de Vries

...
“Sulke instellings veg nie vir finansiële gewin nie. Hulle beskerm dit waarsonder daar géén geesteslewe en géén Afrikaanse prestasies kan wees nie. Hulle verdedig een van ons kosbaarste bates: die fabrieke wat vaktaal skep.”
...

Die rektor van my geliefde alma mater moet deesdae bontstaan om uitputtende vrae te beantwoord.

  • “Hoekom wend sommige instellings hulle tot regspraak oor wat aan die Universiteit Stellenbosch gebeur?”
  • “Hoekom verontagsaam hierdie universiteit, wat sedert sy stigting ’n vesting was van die oppergesag van die reg, sedert 2016 die taalbeleid in sy jaarboek? En by implikasie die grondwetlike beginsel van gelykberegtiging van tale?”
  • “Watter soort totalitêre stemming moet op enige kampus heers dat ampsdraers die gebruik van sekere tale op vergaderings, in liedere, oor selfone, op rusbanke en selfs in koshuiskamers verbied?”
  • “Watter frustrasie motiveer inheemse intellektueles, soos van die beweging DAK, om ’n optog te hou ten gunste van taalregte en menseregte aan US?”

Ons kan egter vrae stel wat ’n donkerder skadu oor die kampus laat val. Soos: “Wat voorsien u, geagte medikus, gaan gebeur noudat die fakulteit geneeskunde volledig ontafrikaans word? Noudat elke Afrikaanse mediese vak uitfaseer word? Vanaf oogheelkunde tot interne geneeskunde? Vanaf pediatrie tot ortopedie? Vanaf ginekologie tot urologie? Vanaf kardiologie tot chirurgie?” Vaktaal wat oor dekades met sorg geskep is om pasiënte te ondersoek, te diagnoseer, te genees.

...
Op elke lewensterrein is kampusse fabrieke wat vaktaal maak – elke soort vir bepaalde vaardighede – waarsonder geen gemeenskap – Portugese of Franse, Dene of Russe – kan presteer nie.
...

Ek dink ons kan saamstem oor die volgende uitgangspunt: Op elke lewensterrein is kampusse fabrieke wat vaktaal maak – elke soort vir bepaalde vaardighede – waarsonder geen gemeenskap – Portugese of Franse, Dene of Russe – kan presteer nie. Net soos geneeskunde, bevat elke vakwetenskap unieke begrippe, met ander woorde, innerlike beelde wat verskynsels en tendense voorstel, en waarvoor vakwetenskaplikes simbole (klanke en skriftekens) ontwerp word wat by herhaling dieselfde beelde vir mekaar kan oproep. Die wetenskap in elke taal, soos Afrikaans, groei op hierdie wortel van die skep van terme verbind aan begrippe – op die proses van konseptualisering – wat vir die taalgebruiker spesialisvaardighede op die betrokke vakgebied gee.

In die genoemde spore van geneeskunde kantel die domino van die een vak na die ander. Aan die teologiese kweekskool in die Eikestad is verskynsels vanaf kerkgeskiedenis tot leerstellings, prediking tot evangelisering oor ’n leeftyd in Afrikaans gekonseptualiseer. Maar wat het die afgelope dekade hiermee gebeur? U weet.

As fabrieke vir die regswese het regsfakulteite in Afrikaans sin gemaak met regsbegrippe – vanaf hofprosedures tot by die kompleksiteite van die kontraktereg en die strafreg. En noudat Engels by die Ou Hoofgebou tot primêre onderrigtaal verhef is? Wat nou?

Voorts, veral sedert die 1930’s, het haas elke subdissipline van die politieke wetenskap welig gegroei, vanaf politieke stelsels en ideologieë, tot vergelykende regering en internasionale verhoudings, tot politieke sosialisering en verkiesingsgedrag. Naas geakkrediteerde tydskrifartikels het politikologiese meesterwerke die lig gesien, soos Die Westerse politieke tradisie en Moderne politieke teorie.

Weens onder meer demografiese en politieke druk is Afrikaanse politikologie egter vinnig landwyd teruggedryf. Soms amper oornag – soos aan die (voormalige) Randse Afrikaanse Universiteit. En soms met skermutselings – soos aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en van Pretoria (UP). Reeds teen 2004 het vraestelle aan UP se Department of Political Sciences begin aantoon: “This paper is available in English only.” In die eeue oue Westerse kultuur suid van die Hexrivier was die proses meer beredeneerd, taktvol, tree vir tree. Maar nadat Afrikaans oral gevlug het uit vaktydskrifte soos Politeia, het ook Afrikaanse handboeke hier ongeskryf gebly.

Op Afrikaanse kampusse – in die een vak na die ander – is klasse én taakopdragte, vraestelle én verhandelings kort voor lank in hoofsaaklik Engels aangebied. Afrikaanse vaktaal is uitfaseer.

Krygskunde as voorbeeld

Die spoed van hierdie terugtog word deur die vak krygskunde geïllustreer.

Oor talle dekades, maar veral vanaf die 1950’s tot die 1990’s, is, saam met die vervaardiging van wapenstelsels soos die Ratel-IGV (infanteriegevegsvoertuig) en die G5-kanon, vaktaal vir elke item, elke gevegsdril en elke taktiese sprong in lywige studiegidse en woordeboeke omskep. Vanaf die sluitstuk van die LMG (ligte masjiengeweer) tot die bedryf van internasionale kontakreëls vir vlote ter see het die Afrikaanssprekende gemeenskap die militêre geskiedenis, tegnologie en strategie tot ’n vlymskerp wetenskap geslyp.

...
Vanaf die sluitstuk van die LMG (ligte masjiengeweer) tot die bedryf van internasionale kontakreëls vir vlote ter see het die Afrikaanssprekende gemeenskap die militêre geskiedenis, tegnologie en strategie tot ’n vlymskerp wetenskap geslyp.
...

Terwyl die groeiende greep van die nuwe heersers, wat aan Engels voorkeur gee, vanaf 1994 deur die hele Suid-Afrika gevoel word, is Afrikaans uitfaseer aan die weermagsdeelkolleges soos die SA Leërkollege en die SA Lugmagkollege, en met groot haas afgeskaf aan die senior SA Nasionale Verdedigingskollege op Voortrekkerhoogte (nou Thaba Tshwane) en aan die Militêre Akademie in Saldanha, laasgenoemde wat die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde huisves.

Soos in elke ander vak aan histories Afrikaanse of tweetalige kampusse is toonaangewende Afrikaanse gidse in krygskunde deur instrukteurs en dosente – vergelyk Rewolusionêre oorlogvoering en Mobiele oorlogvoering – van verligte rakke af in donker argiewe weggepak.

Dis al hoe moeiliker vir die nuwe geslag Afrikaanse studente om in die strategiese insigte van Soen Tsoe of Carl von Clausewitz te delf of om beroemde veldslae te deurgrond en daaruit te leer, vanaf die Slag van Cannae verby die Slag van Majuba en die Sesdaagse Oorlog tot vandag.

...
In krygskundige vakke het die Afrikaanse jeug onder dertig hulle stem begin verloor. Vaktaal wat oor dekades sorgsaam ontwikkel is, wek by hulle dikwels geen beelde op nie, byvoorbeeld “bindmag” en “afsnymag”.
...

In krygskundige vakke het die Afrikaanse jeug onder dertig hulle stem begin verloor. Vaktaal wat oor dekades sorgsaam ontwikkel is, wek by hulle dikwels geen beelde op nie, byvoorbeeld “bindmag” en “afsnymag”, “blokkeermag” en “opvolgmag”, “maneuvreermag” en “slagtingsgebied”, “relatiewe sterkte” en “beginsels van oorlogvoering” (vanaf “misleiding” en “mobiliteit” tot “konsentrasie van vuur”), asook “skynaanval”, “teenaanval” en “opruiming”, “penetrasie” en “omvleueling”.

Die vaktaalkomitee van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs honderde vaktaalwoordeboeke identifiseer waarin vaktaal, en dus die verwante vaardighede, in Afrikaans, die afgelope eeu neerslag gevind het. Stap vir stap het histories Afrikaanse kampusse egter sedert 1994 hierdie skat uitfaseer.

Dit word, selfs daar waar Totius en Jan S Marais wagstaan, al moeiliker vir Afrikaanse studente om Afrikaanse klasse en besprekings by te woon en om take en eksamens in Afrikaans aan te bied. Naas die paar wat genoem is, word talle ánder subdissiplines, en daarmee saam die woorde en frases vir die dieper insigte en vermoëns in die lewe van die Afrikaanse taalgemeenskap, tans landwyd uitgeroei. As dit langer voortduur, sal van die volkstaal, skeppingstaal en wetenskapstaal later net ’n straattaal oorbly.

...
As dit langer voortduur, sal van die volkstaal, skeppingstaal en wetenskapstaal later net ’n straattaal oorbly.
...

Net op Stellenbosch alleen het sedert die begin van 2016, sewe fakulteite in meer as 250 modules van die riglyne afgewyk om Afrikaans te beskerm. Naas geneeskunde, teologie en regte, waarna hier bo verwys is, het Afrikaans ook in die slag gebly in die fakulteite natuurwetenskappe, landbou, ingenieurswese, ekonomiese en bestuurswetenskappe en opvoedkunde.

Slotsom

Dus, geagte prof Wim de Villiers, weer eens: Hoekom wend sommige instellings, soos Gelyke Kanse, die DA en AfriForum, hulle landwyd tot regspraak oor Afrikaans op kampusse, aan fakulteite en in departemente?

Die antwoord aan u as die enigste en dalk een van die laaste Afrikaanse rektore is dít: “Sulke instellings veg nie vir finansiële gewin nie. Hulle beskerm dit waarsonder daar géén geesteslewe en géén Afrikaanse prestasies kan wees nie. Hulle verdedig een van ons kosbaarste bates: die fabrieke wat vaktaal skep.”

Lees ook:

Luister bo kibbel bou inklusiewe akademiese gemeenskappe

Ikabod vir Afrikaans aan US beteken Ikabod vir US

“Dala Afrikaans!” – die geboorte van ’n nuwe taalbeweging

Belgiese akademikus stuur sterk boodskap aan US

Dala Afrikaans in Stellenbosch se strate

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Heinrich Matthee

    Baie dankie vir 'n uitstekende artikel, Louis. Dankie ook vir jou jarelange bydraes om vakterme in die politieke wetenskappe, krygskunde en strategiese studies te ontwikkel.

    By 'n Arabiese denktenk waar ek na 2000 gewerk het, was daar 'n hele afdeling van vertalers. My kollegas en soms vriende het elke werkdag geswoeg om Arabiese frases vir die nuutste vakterme en idees uit die Engelstalige domein te skep. Dit, terwyl hulle voorouers reeds in die Middeleeue hul eie spitse in die mediese wetenskap, sterrekunde, geografie en filosofie bereik het. In Arabies.

    Daardie moeisaam opgeboude erfenis is vandag vervalle. Verslae van Verenigde Nasies-agentskappe na 2000 het dan ook bevind dat 'n opbloei van goeie moedertaalonderrig en kultuuroordrag baie ontwikkelingsprobleme van Arabiese lande sou aanspreek.

    Afrikaans is as universiteitstaal en in vakgebiede net so moeisaam opgebou. Mens sou verwag dat die erfgename daarvan weet hoe om met 'n kosbare erfenis om te gaan. Die Universiteit van Stellenbosch se Afrikaanse taalbeleid bots egter al jare met Hippokrates se voorskrif: "Ten eerste, doen geen kwaad nie." Die impak daarvan op ons taal en kultuurlewe sal op die langer termyn min verskil van die Mongoolse hordes se vernietiging van Arabiese kultuurskatte in die 1200s.

    Mense is die skeppendste in hulle moedertaal. Die US se huidige Afrikaanse taalbeleid is 'n knie op die keel van talentvolle Afrikaanssprekers. Ek twyfel of die knie maklik sal verskuif, maar die geskiedenis sal ook sy meer as lewenslange oordeel oor die daders vel. Intussen moet ons instellings steun en bou waarin ons in Afrikaans kan leer en skep en beter asemhaal.

  • Louis+du+Plessis
    Louis+du+Plessis

    Inderdaad Heinrich. As Afrikaans sy vaktaal wil behou, vertak en ontwikkel, is dit gebiedend noodsaaklik om te doen wat jy voorstel: "Intussen moet ons instellings steun en bou waarin ons in Afrikaans kan leer en skep en beter asemhaal." Lyk my die aflosstok wat Stellenbosch laat val, is opgetel en vasgevat deur Sol-Tech en Akademia.

    In hierdie verband verdiep ons ons opnuut in Kraal Uitgewers se hoogs insiggewende werk wat op 'n vorige US Woordfees vrygestel is: Heinrich Matthee (redakteur) se "Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd".

    Dit word waardeer dat jy, uit die ryp wêrelde van die Midde-Ooste en Europa, waar jy jou so suksesvol gevestig het, jou insig so gereeld met ons deel en jou so intens vereenselwig met jou alma mater en met jou moedertaal!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top