Dala Afrikaans in Stellenbosch se strate

  • 3

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, het op 9 April 2021 ’n protesoptog deur Stellenbosch se strate gelei om DAK se verontwaardiging met die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid te kenne te gee.

Hoewel Jerome Topley, ’n bestuurslid van DAK, dit duidelik gemaak het dat die optog nie oor ras gaan nie, was dit opmerklik dat die leierskap nie uit die bevoorregte gemeenskappe kom nie en meer as een persoon het in gesprekke na die “bruin Afrikaanssprekendes” verwys.

Die DAK Netwerk is ’n organisasie wat ten doel het om te arbei vir die bemagtiging van agtergestelde Afrikaanssprekendes, want “60% van die Afrikaanse gemeenskap bestaan uit bruin, swart en Indiese Suid-Afrikaners,” aldus DAK se webruimte.

DAK, ’n mooi sambreelnaam vir ’n organisasie wat almal wil koester, se naam is saamgestel uit die eerste letters van die name van drie belangrike historiese leiers: Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa. Al drie was wel ter tale.

Doman was ’n lid van die Goringhaikwa en was een van die eerste tolke wat deur Van Riebeeck aangestel is. Doman was selfs vir ’n jaar in Java om sy Nederlands te verbeter.

Autshumao, ook soms bekend as Herry die Strandloper, was die leier van die Khoi-vissersgemeenskap aan die Kaap. Hy was ’n bekende tolk vir die passasiers van Engelse skepe wat aan die Kaap aangedoen het.

Krotoa het as tienjarige vir die Van Riebeeck-gesin begin werk. Sy was vlot in Nederlands en kon ook Engels en Portugees praat.

Dié veeltaligheid van die agtergestelde gemeenskappe en hulle voortdurende verlies aan hulle eie taal is vanoggend baie duidelik onder die aandag van die pers gebring deur Christoffel van Wyngaard, ’n leier van die Khoesan.

Sy boodskap was eenvoudig. Die Khoi en die Griekwa praat deesdae Afrikaans. Dit is nou hulle moedertaal, want hul eie tale word nie meer gehuldig nie. Sy kinders, en die kinders van sy gemeenskap, het Afrikaans grootgeword en het in Afrikaans skoolgegaan. Hulle het goed gedoen in daardie taal. Nou word hulle gedwing om in Engels te studeer. Hulle taal is reeds een keer gesteel; nou gebeur dit weer.

Kinders uit sy gemeenskap is skaam om te sê as hulle nie verstaan nie. Om sy gemeenskap se kinders van Afrikaans te ontneem, is ’n onreg, het Van Wyngaard gesê.

Verskeie optoggangers het as Griekwa, Khoi of Boesman deelgeneem aan die optog, juis om Afrikaans te ondersteun.

Daar is met veel humor verwys na optoggangers wat in tradisionele drag geklee was en video’s geneem het. “Dink jy ’n Boesman kan nie ’n selfoon gebruik nie?” het Van Wyngaard gevra.

Die optog het op Die Braak in Stellenbosch se middedorp begin en geëindig.

Enigeen was welkom om deel te neem, maar Van Wyk het dit duidelik gemaak dat hy nie politieke partye daar wou hê om die saak te kaap nie.

Die inklusiewe aard van die gebeure is visueel en ouditief getoon toe ’n gebed deur ’n Christen-pastoor opgevolg is deur die brand van ’n hopie heilige kruie deur twee Rastafariërs.

“Ons is die kruiedokters van die Boesmans,” het Ras Joseph verduidelik terwyl Ras Yellow ’n vredespyp aangesteek het.

“Ons wil statig en vreedsaam wees,” het Van Wyk die optoggangers gewaarsku. Hoewel daar ’n swaar polisieteenwoordigheid was, het alles inderdaad vreedsaam verloop.

Daar was selfs ’n mooi oomblik toe DAK se banier omwaai en van die polisiemanne met bakstene nader gestaan het om hulle te help vaspak. “Is julle so verveeld dat julle self wil klipgooi?” het een van die joernaliste gevra.

John Cartwright het by die optog aangesluit om steun aan alle inheemse tale te verleen. Hy het as jong man Engels aan die US doseer en sê Engelssprekendes het juis na die US gegaan om ook Afrikaans aan te leer. Sy deelname aan die optog was ’n manier om te sê dat alle inheemse tale tot volle akademiese tale verhef moet word.

By die Konservatorium het Leslie van Rooi die optog ingewag. Hy is ’n senior lid van die US se bestuur.

Van Rooi en Van Wyk het mekaar ’n hartlike korona-groet gegee.

“Ek stap graag saam,” het Van Rooi toe gesê en tot by die hoofgebou saamgestap.

Hermann Giliomee en sy vrou, Annette, het die optog by die hoofgebou ingewag.

Op die trappe van die hoofgebou het Van Wyk die griefskrif voorgelees en dit daarna formeel aan Van Rooi oorhandig.

Lees die volledige berig deur Jean Oosthuizen hier.

Griefskrif met sewe eise vir Afrikaans aan US oorhandig

Direk daarna het Van Wyk die griefskrif ook simbolies aan die hoofgebou se deur “vasgespyker” met wondergom.

Die optog is van daar af terug na Die Braak.

Enkele kort toesprake het gevolg en Van Wyk het almal bedank, waarna die Volkslied gesing is.

John Steenhuysen, die leier van die opposisie, het die reël oor “geen politieke partye by die optog nie” baie letterlik opgeneem en het dus direk daarná opgedaag om ook sy steun aan die gebeure toe te sê.

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Persverklaring: Lewer inset op hersiene US-taalbeleid teen 12 April 2021 

Elders gesien: US-koshuis en slegs Engelse liedjies vir sêr

Persverklaring: Suid-Afrikaanse Akademie betreur taaldebakel op Stellenbosch

Departement Afrikaans en Nederlands in opstand oor Afrikaans by US

Afrikaans: US-protesaksie vanaf 9 April

Afrikaans: Rollende massa-aksie by US, 9 April

Strate toe vir Afrikaans by US: 9 April

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

Ont-taling

’n Onderhoud met Danie van Wyk, nuwe voorsitter van die DAK Netwerk

Persvrystelling: Ope brief aan die US-senaat

Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK

Uit die argief: Is Afrikaans uitheems?

US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

Kaaps is the future of Afrikaans

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

’n Taalbom bars al weer in Stellenbosch

US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

Uit die argief (2006): Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na Apartheid

Afrikaans: the language of dissent

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Ronée Michelle Robinson

    Ek begryp nou nie: Die guru, Jonathan Jansen, vertel ons Afrikaans is 'n wit ding, uitsluitlik vir sg verregse taalstryders. So spreek hy, onder andere vanuit die hoogtes van eentaligheid:
    "in the insular world of the white, conservative Afrikaans taalstryder, the battle for the continuing dominance of the language in schools and universities is an existential struggle. Your very being depends on it; your sense of ethnic self-worth relies on it."

    It was time for lies. [Dit nou met verwysing na diegene wat nie té gelukkig is oor die feit dat mens nie 'n woord op Afrikaans mag fluister op Stellenbosch nie].

    [Anxiety about Afrikaans:] I have long tried to understand the language anxieties of my fellow citizens. It is, let’s be frank, unique to a small group of white Afrikaans speakers. You will not find this burden about a language among any other language groups (for want of a better description) in South Africa. There are very few so-called coloured speakers of Afrikaans who would go to battle for the language, much to the frustration of their white compatriots; as one of the leaders of the bruin mense (the innocent insult of choice in Stellenbosch) recently said in an open gathering: “Stop speaking for us!”

  • Kolskoot, Ronée Michelle! As ek vir professore De Villiers en Jansen voor my geestesoog sien, kom een woord gedurig by my op: Hanskakies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top