.....
Afrikaans as synde die taal van onderdrukking en ontmagtiging, die taal van apartheid en alles wat daarmee gepaardgaan. En dikwels word Engels dan vooropgestel as die alternatief wat dan kwansuis al hierdie negatiewe konnotasies sou uitskakel. Hierdie houding word dan so op die spits gedryf dat een van die mees belaglike stellings is dat studente wat Xhosa- of Vendasprekend is, beskou word as Engelssprekend in skole en hoëronderwysinstellings!
.....
Dit sou baie naïef wees van enigiemand om die aanname te maak dat taal slegs ’n medium van kommunikasie is. In my naїwiteit het ek dit sowat ’n halwe dekade gelede gewaag om hierdie mening in die openbaar te stel. Niemand wou luister na die konteks waarbinne ek die stelling gemaak het nie, en ek sal dit ook nie hier herhaal nie. Dis juis daardie siening van, of houding jeens, taal en taligheid wat dit maar altyd ’n terrein van stryd sal maak. Binne ons Suid-Afrikaanse sosiopolitieke konteks is taal maar altyd die ideale geskilpunt waardeur ander agendas voorgestel en gedryf kan word. Ons het baie bang geword om die taalkwessie aan te spreek, want dit word soms maklik gekoppel aan “ernstige aangeleenthede” soos identiteit en oorlewing. En ons wil mos nie mense in die gesig vat nie! En ons wil mos ook “polities korrek” wees – wat dít ook al mag beteken.
Dis veral wanneer dit by Afrikaans kom dat die taalgesindhede as problematies gestel word. Terloops, dis glad nie verkeerd om die konteks waarbinne taal gebesig word te problematiseer nie. Die issue hier is dat hierdie problematisering te alle tye alte voorspelbaar is. Afrikaans as synde die taal van onderdrukking en ontmagtiging, die taal van apartheid en alles wat daarmee gepaardgaan. En dikwels word Engels dan vooropgestel as die alternatief wat dan kwansuis al hierdie negatiewe konnotasies sou uitskakel. Hierdie houding word dan so op die spits gedryf dat een van die mees belaglike stellings is dat studente wat Xhosa- of Vendasprekend is, beskou word as Engelssprekend in skole en hoëronderwysinstellings! Hulle moet dan in Engels onderrig word! Hierdeur word Afrikaans dan teenoor Engels geposisioneer as die probleemkind, en word gesê dat hierdie studente maklik sal baat vind by onderrig deur die medium van Engels. Dis juis hierdie laaste aanname wat geproblematiseer behoort te word. Niemand dink daaraan dat Engels nie hul moedertaal is nie, of dink aan diegene vir wie Afrikaans wel die moedertaal is. Watter sin maak dit dat ’n gevestigde “akademiese” taal soos Afrikaans nie meer in ons instellings gebesig word nie? Hoe help dit die student van Khayelitsha dat Trompie Toerien van Genadendal nie meer wiskunde in Afrikaans kan leer nie? Die groot vraag sentreer rondom watter voordeel daar is vir die Xhosasprekende studente as daar nie meer kursusse in Afrikaans aangebied word nie. Die vraag wat ons onsself behoort te vra is hoe ons daartoe kan bydra dat hierdie studente wel in Xhosa kan studeer.
Waarom sou ons wou toelaat dat eentaligheid ons voorland is? Terloops, dit gaan nie oor watter taal die gekose taal is nie, dit gaan oor ’n werklikheid dat ons willens en wetens wil verseker dat die ander tale nie sal ontwikkel nie; dat die sogenaamde inheemse tale ontmagtig sal bly en hopelik eendag sal uitsterf, en so dan ook die taal se sprekers. Hierdie neiging na eentaligheid werk 100% teen die waardes van respek en diversiteit wat die vaders en moeders van hierdie demokrasie so hoog op prys gestel het.
Die taal is en was nog nooit die probleem nie. Taal is uiteindelik slegs ’n middel waardeur die gebruiker haar/sy agenda in werking kan stel. Deur taal kan jy bemagtig of ontmagtig. Dis nie taal se skuld dat daar in die geskiedenis van baie lande wêreldwyd onderdrukking en vernedering ervaar is nie.
Gedurende die negentigerjare en die begin van hierdie eeu het ons ons daarvoor beywer dat sogenaamde Afrikaanse universiteite sal verseker dat studente nie uitgesluit word omdat hulle nie Afrikaans magtig is nie. Vandag moet ons bekommerd wees dat studente nie meer in openbare instellings in nog ’n ander inheemse taal sal kan studeer nie. Moet studente wat in Afrikaans wil studeer, nou na private instellings gaan? Dra dit nie by tot meer polarisering nie? Wat het geword van ons “reënboognasie”? ’n Menigte organisasies en ander instansies is kliphard besig om in Afrikaans te werk (en saam te span) om ander tale te bemagtig. Watter boodskap stuur eentaligheid nou aan dergelike instellings?
Hoe dit ook al sy, eentaligheid kan nie ons voorland wees nie. Taalapartheid is nie beperk tot een taal nie.
Soos altyd, meer vrae as antwoorde.
Quo vadis, Geliefde Land?
Lees ook:
US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?
Persverklaring: Uitnodiging om kommentaar te lewer op eerste konsep van hersiene Taalbeleid (2016)
SU language debate 2021: A riposte: Vader Jansen, slaap jy nóg?
US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?
US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?
SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders
US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid
US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies
Kommentaar
Ek neem aan u is vertroud met die uitdrukking: When in Rome...
Ons reënboog het net een kleur. Dis 'n rooi reënboog. Die trajek van tale wat politieke mag verloor is afwaarts. Enige sosiolinguis sal hierdie feit beaam. Die konstitusie was mooi trooswoordjies op sy dag, maar is nie die papier werd waarop dit geskryf word nie. Taal sal die stok bly waarmee politieke houe geslaan en punte gewen en verloor word. Onafwendbaar sal die privaatsektor nog iets probeer red. Mooi klink die 11 amptelike tale. 'n Warm gevoel gee dit om te weet ook jou taal geniet amptelike erkenning. Maar dis 'n nagmerrie in praktyk.
Nog 'n uitstekende artikel. As die betreurenswaardige onlangse gebeure by die US en Jansen se mondwassery een goeie ding tot gevolg gehad het, was die vele artikels van hoogstaande gehalte, soos hierdie, wat dui op onafhanklike en vrye denke, wat 'n riem onder die hart is. Ek wens daar was 'n manier waarop almal wat hier dieselfde basiese idees (elkeen op haar/sye eie unieke wyse) so mooi boekstaaf, gemeensaak kan maak.
Ek vind dit besonder ironies dat mense bereid is om Engels te praat, gesien die bloed op ingelse hande, maar dan vir my laat te vertel dat geen woord op Afrikaans oor hulle heilige lippies sal val nie. Dit nou, terwyl ek daagliks waarneem tot watter mate Afrikaans nie wit besit is nie. Ek maak 'n punt daarvan om gemeensaak te maak met Afrikaans waar en hoe ek haar vind.