.........
Dit is almal se grondwetlike reg om te kan studeer, en verder is almal ook geregtig op onderrig in hul moedertaal.
..........
Die akademiese jaar het net begin en die Universiteit Stellenbosch maak klaar droog. Gerugte doen die ronde dat studente in die koshuise beboet kan word as hulle met mekaar Afrikaans praat. Onwerklik, nè? Ek kan my nie indink dat enigiemand vir mense sal vra om nié in hul eie taal met mekaar te kommunikeer nie. Nog ’n skok is dat die universiteit Afrikaans nie as inheemse taal ag nie. WAT?!
Hierdie gerugte kom op ’n moeilike tyd. Honderde duisende studente regoor die land sukkel om hul universiteitsgelde te betaal en hulle kan moontlik nie registreer en/of hul studies voltooi nie. Dit voel amper te entitled en verkeerd om binne hierdie konteks vir Afrikaans te moet opstaan. Ek herinner myself egter daaraan dat meer as een ding op dieselfde tyd waar kan wees. Dit is almal se grondwetlike reg om te kan studeer, en verder is almal ook geregtig op onderrig in hul moedertaal. Wanneer mense se basiese menseregte aangeval word, is dit nie die tyd vir struggle olympics nie. Ons is komplekse wesens wat meer as een ding kan voorstaan. Die manier waarop die Universiteit Stellenbosch studente behandel wat vir iets staan, is kommerwekkend.
Die #FeesMustFall-proteste kom al ’n lang tyd aan, maar steeds is daar mense wat nie op die studente se behoeftes inkoop nie. Studente wat pro-#FeesMustFall is, word as entitled millennials gesien wat net alles verniet wil hê. Terwyl tersiêre onderrig in hierdie land regtig buitensporig duur is en universiteite meer moet en kan doen om te verseker dat almal wat wil studeer, kan studeer.
.........
Dit is een van die dinge van Stellenbosch wat my keer op keer teleurstel. Die bevoorregte rykes gee nie om oor die swaarkry van die gemarginaliseerdes nie. En Stellenbosch is vol van hulle wat eerder sal sit en sauvignon blanc drink as om ’n plakkaat te maak en hul stem te gebruik.
..........
Op eie bodem was die protes klein. ’n Paar studente het ’n sit-in in die Neelsie gedoen om die magtiges se aandag te kry. Waar was die ander studente? Waar was die studente wat nie finansiële behoeftes het nie, maar in solidariteit staan met diegene wat sukkel? Dit is een van die dinge van Stellenbosch wat my keer op keer teleurstel. Die bevoorregte rykes gee nie om oor die swaarkry van die gemarginaliseerdes nie. En Stellenbosch is vol van hulle wat eerder sal sit en sauvignon blanc drink as om ’n plakkaat te maak en hul stem te gebruik.
Okay fine, laat ek net gou briek aandraai hier. Almal hoef natuurlik nie vir alles te staan nie, maar ondersteuning is nodig, want studente sukkel. Is dit wensdenkery om te vra vir net ’n bietjie empatie? Empatie met diegene wat sukkel, diegene wat uitgesluit word; empatie met diegene wat hoop op ’n beter lewe, en empatie met diegene wat opstaan vir dit waarin hulle glo.
Waar laat dit Afrikaans?
..........
As taalaktivis wat vir moedertaalonderrig en veeltaligheid is, is ek bewus van Afrikaans se verlede. Ek weet hoe die gebruik van Afrikaans mense in die verlede uitgesluit het en hoe Afrikaans as wapen vir onderdrukking gebruik is. Gaan Afrikaans ooit van hierdie persepsie ontslae kan raak? Nee. Daarom moet daar gedurig aan Afrikaans gewerskaf word.
...........
As taalaktivis wat vir moedertaalonderrig en veeltaligheid is, is ek bewus van Afrikaans se verlede. Ek weet hoe die gebruik van Afrikaans mense in die verlede uitgesluit het en hoe Afrikaans as wapen vir onderdrukking gebruik is. Gaan Afrikaans ooit van hierdie persepsie ontslae kan raak? Nee. Daarom moet daar gedurig aan Afrikaans gewerskaf word. Die taal is nog jonk, en ons het die geleentheid om die taal te maak wat ons wil hê die taal moet wees.
Waarom kan die Universiteit Stellenbosch nie die taalkwessie regkry nie? Ek wil my verstout en my vir ’n oomblik in Wim de Villiers en die raad van Stellenbosch se skoene plaas. ’n Menigte universiteite regoor die land het verengels. Redes hiervoor kan wees dat mense dink Engels is meer inklusief as Afrikaans; Engels berei mense beter voor op die “regte lewe”; en Engels is ’n internasionale handelstaal. Hoeveel waarheid agter hierdie redes steek, kan ek nie vir seker sê nie, maar wat duidelik is, is dat die mense in wie se skoene ek my verbeel, nie ’n maklike taak op hande het nie. Kry ek hulle jammer? Nee. Dink ek hulle gee om oor Afrikaans? Ook nee. Is hulle te besig met window dressing om om te gee oor moedertaalonderrig en veeltaligheid? Beslis. Die Universiteit Stellenbosch maak ’n groot fout deur te wil verengels. Die deur vir moedertaalonderrig en veeltaligheid word toegemaak en inheemse tale ly daaronder. Die meerderheid Afrikaanssprekendes wat in die Wes-Kaap woon, ly daaronder. Hoe kan ons hoop op moedertaalonderrig en veeltaligheid as alles net verengels? Engels is nie die oplossing nie. Mense wat in Engels wil leer, moet die geleentheid kry om dit te doen. Mense wat in hul eie taal wil leer, hul eie variant selfs, moet ook die geleentheid kry om dít te doen. Taal is sentraal tot wie ons is.
..........
Die meerderheid Afrikaanssprekendes wat in die Wes-Kaap woon, ly daaronder. Hoe kan ons hoop op moedertaalonderrig en veeltaligheid as alles net verengels? Engels is nie die oplossing nie. Mense wat in Engels wil leer, moet die geleentheid kry om dit te doen. Mense wat in hul eie taal wil leer, hul eie variant selfs, moet ook die geleentheid kry om dít te doen. Taal is sentraal tot wie ons is.
...........
Die ding wat my die bangste maak, is dat indien Stellenbosch gaan aanhou om Afrikaans te behandel as stiefkind wat hulle nie wil hê nie, Afrikaanssprekendes doodeenvoudig hul eie kampie elders gaan oprig. Dit gaan beteken dat Afrikaans in ’n borrel gaan voortbestaan. Hierdie taal met al haar variante wat floreer in boeke, op televisie, op die verhoog, in musiek ... Dis angswekkend. Almal moet bang wees.
Theo Kemp, skrywer en voorsitter van die Jakes Gerwel Stigting, som die situasie by Stellenbosch perfek op. Hy skryf op Facebook: “Kan dit waar wees dat die US nie Afrikaans ag as n inheemse taal nie? Ek hoop so ek verstaan dit verkeerd. Wat ’n tragiese en kortsigtige besluit. Mag die besluitnemers deur geskiedenis as die agterbakse skurke uitgewys word wat hulle is. Mag almal hulle boikot. Mag mense met ruggraat opstaan. As ’n alumnus skaam ek my. Mag hulle befondsers onttrek en geld insit by instansies wat ernstig is oor veeltaligheid. Dis ’n verbeeldinglose dag as Engels as die enigste onderrigtaal gesien word in so ’n diverse land. Ons is gefaal.”
Ons word inderdaad in die steek gelaat. Die Universiteit Stellenbosch durf nie van inklusiwiteit praat nie. Wim de Villiers en die bestuursraad van Stellenbosch, skrik wakker!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Julle studente sukkel.
Wat kan gewone mense soos ek en jy doen? Die universiteit vra tans vir kommentaar op hul huidige taalbeleid. Gaan na http://www.sun.ac.za/afrikaans/meer-oor/language en sê jou sê. Kommentaar kan tot 12 April gelewer word.
Lees ook:
US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid
SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders
US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?
US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?
SU language debate 2021: A riposte: Vader Jansen, slaap jy nóg?
Persverklaring: Uitnodiging om kommentaar te lewer op eerste konsep van hersiene Taalbeleid (2016)
US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?
Kommentaar
Ek is trots Afrikaans en is baie teleurgesteld in die US. Hoekom word Afrikaans, wat deur die meerderheid van US-studente verstaan word, op so 'n manier behandel ?
Dankie Mercy vir die perspektief. Mag daar 'n oplossing kom.
Die Afrikaanssprekende lede van owerheid van US swig ook onder druk van ANC, EFF asook ander politiek gedrewe drukgroepe. Ek minag die "Ter wille" van-houding!
Dalk word dinge weer beter. Afrikaans word darem nog as tweede taal onderrig in die Engels eerste taal skool waar ek as ontvangsdame werk. Daar is baie baie kinders wat egter die ander inheemse tale praat (Afrikatale) en hulle moet maar Afrikaans neem. So is dit nou maar. Hoop vir spoedige beterskap - ek dink die dinge word dalk uit verband uit geruk en ook die wolhaarstories wat die rondtes doen oor watse taal mense met mekaar mag praat. Sekerlik nie waar nie. Mense is darem meer menslik as dit in hul omgang met mekaar gedoriewaar.