US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

  • 14

Lynthia Julius was ’n voorgraadse student aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy doen tans ’n meestersgraad by haar alma mater. In haar debuut Uit die kroes (Kwela, 2020) word die Noord-Kaapse leefwêreld opgeroep in verse wat Namawoorde op verrykende wyse inkorporeer.

Ek sit g’rus hier in die Noord-Kaap terwyl ek lees oor wat in Stellenbosch aangaan. Ek gaan net Stellenbosch toe vir die [Toyota US] Woordfees, meer spesifiek, vir die poësie. Die wyn sit drink, die prate oor letterkunde met uitgewers en digters. Terwyl ek sit lees oor wat daar aangaan met Irene en Minerva, dink ek t’rug aan my voorgraadse jare. Hoe woedend ek en my suster was tussen die taaldebatte by Kovsies. Hoe ons heeltyd moes hoor: “You are speaking the language of the oppressor.”

Omtrent so ’n jaar t’rug is ek iewers ’n intern. Ek word toe bevriend met een van die ander interns. Haar moedertaal is Sotho en my Sotho is ’n gebedsaak, so ons praat meestal Engels. So leer ek heeltyd by haar Sotho-woorde en sy verduidelik hoe jy baie goed iemand in Sotho kan beledig. Hier op ’n dag vra sy my om haar Afrikaanse woorde te leer, en kyk, die Oranjerivierafrikaans-prater in my raak opgewonde, want hier hoef ek nou nie te dink aan am is or are plus the verb adding -ing nie.

So gesels ons, ons leer by mekaar. Dis ’n mooi ding. Nie lank nie kom een van die ander interns – ’n wit Engelssprekende man na ons toe en hy sê: “Oh, you’re speaking the language of the oppressor.” Elke keer as ek met my ouma gesels, sê my ouma my ek moet leer om my bek in my gat te steek. Maar hier kom ’n wit man dan nou en praat van “language of the oppressor”. Die jong ken nie eers apartheid nie. Ek kyk hom stip aan en sê: “Boetie, ek gaan jou seermaak. Ek gaan vir jou seermaak.” Hy’t geskrik en ek het toe besluit om maar ná daai woorde my ouma se raad te volg. Ek en my kollega sit leer by mekaar. Ons sit leer taal by mekaar en hier kom ’n man, ’n wit man en kom sê vir ons voor.

Ek is ’n Noord-Kapenaar van Namakwaland. In die woorde van Vito Heyn; “As jy Engels in Namakwaland praat, gaan jy sommer tronk toe.” Ek kan my nie ’n Topline of Grootdrink indink waar mense net Engels praat nie. ’n Vriend van my van Grootdrink het by Sol Plaatje-universiteit kom studeer. Hy neem toe deel aan Mr and Miss Sol Plaatje en die aand van die besigheid vra hulle toe vrae in Engels. Sy naam is Curtis. Curtis, wat nie Engels praat nie, word toe in Engels vrae gevra en hy’t hom so koud geskrik hy’t homself voorgestel as Chrystal. Hy is nou nog die grap.

As daai HK-lede moet vir my ma, ’n Namakwalander, gesê het om by die koshuis net Engels te praat, het my ma geantwoord: “Da’ loop ek huis toe.” As ek te lank in Bloemfontein was en ek kom t’rug Noord-Kaap toe en praat met kassiere Engels, antwoord hulle my in Afrikaans, want vir ’n Afrikaanssprekende gee Engels sooibrand.

My driejarige niggie wat in Johannesburg grootword, word Engels grootgemaak. Verlede jaar November is my oupa (my ma se pa) oorlede. My pa se oudste suster kom toe by my ma se ma se huis aan en gesels met my niggie. Ons sê toe vir haar Tora verstaan nie Afrikaans nie, waarop sy toe vir Tora vra; “How’s the world treating you tomorrow morning?” Ons almal het begin lag, en dis die skoonheid van Afrikaans wees. Jou am is or are’s is nooit altyd reg nie.

Ek het Februarie my eerste klas op die Kovsie-kampus gehad. Tydens ons pouse sit ek heel ingedagte en ’n ander student kom gesels in Engels met my. ’n Sjarmante jongman wat baie hoflik is. Ons gesels toe oor die studies en hy vertel wat hy wil word en in die lewe wil bereik. Ons is net twee studente wat groot droom. Ek sê toe vir my suster toe ek t’rug in Kimberley is: “Weet daai man watse onreg hy my aangedoen het om net te kom Engels praat na ek ingedagte gesit het? Ek het so gesukkel om die woorde bymekaar te kry.” Ons het gelag daaroor.

Ek is nie meer woedend oor hoe mense met Afrikaans omgaan by universiteite nie, want die waarheid is, Afrikaans gaan nêrens. In die geval van die twee koshuise moet die HK aangespreek word. Dis nou net die geval waar ’n student bietjie mag bekom en dan wil maak soos hy lus kry. En hoe sê die slimmes? Mag korrupteer. Absolute mag korrupteer absoluut. Vat daai mense wat ’n taal op ander afgedwing het aan en moenie laat hulle maklik van dit af loskom nie. Ek was in my eerste jaar in ’n koshuis verplig om voor ’n standbeeld van ’n uil te kniel en “Heil die uil!” te skree. Ek het geweier; my HK was nie ingenome nie. Ons moet sulke goed aanvat, die mense wat dit op ander afdwing, aanvat. Ek het so ’n gevoel die dames wat hulle lywe so baas oor ander se monde wil hou, gaan niks oorkom in die saak nie, en dis verkeerd.

As jy Engels wil praat, praat hom. So ook met Afrikaans. Die probleem kom in wanneer jy studente kry wat wil ander studente voorsê, en dít is ’n probleem in ons universiteite. Jy is nou HK nou kom dwing jy jou ideologieë op ander af en vir wat? Ons praat nou oor die toekoms van Afrikaans waar ons eintlik moet praat oor studente wat meen hulle kan septer swaai soos hulle wil oor hulle magsposisies in koshuise het.

Ek sê dit weer en ek gaan dit aanhou sê: Afrikaans gaan nêrens. Ons het g’n rede om bekommerd te wees nie. Ons praat die taal, ons skryf in hom, hou feeste in hom, ons drink wyn of bier in hom. Vat Minerva en Irene se mense aan, vat daai hoofdogters aan en maak van hulle ’n voorbeeld. Die besigheid gaan nie oor die oorlewing van Afrikaans nie, want môre koop ons nog steeds Afrikaanse koerante. Môre luister ek nog steeds Gert Vlok Nel. Iemand bid môreoggend in Topline of Grootdrink nog steeds die Onse Vader in Afrikaans en dit kan jy nooit uitvee nie.

Ons gaan klaar deur ’n pandemie, ons het nie nodig om bekommerd te wees oor ons moedertaal nie, want ek kan jou dit belowe: Môreaand om die braaivleisvuur praat Afrikaanssprekendes nie Engels nie en die gedigte wat ek die naweek gaan skryf, sal nie in Engels wees nie.

Maar kyk nou vir my, Noord-Kapenaar, wat wil sent gooi in ’n Wes-Kaap-bord. “Orig,” sal my ma gesê het.

Lees ook:

US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid

Uit die argief, US-taaldebat: Marlene van Niekerk on the Stellenbosch University language debate

From the archive, SU language debate: My thoughts on complexity and the intersectionality of change at Stellenbosch University

Uit die argief, US-taaldebat: 'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

  • 14

Kommentaar

  • Hannes Deetlefs

    Julle is beslis nie die enigste wat 'n probleem met hul taal (en kultuur!) het nie. My niggie is Nederlands en studeer daar. Sy praat soos haar maats ook sedert die begin van haar studies net nog (gebrekkige) Engels, ook met haar ouers, weier, om ook net 'n woord Nederlands te praat. En sy is nie die enigste nie. In Duitsland is dit dieselfde. As iets in te skoon Duits gepraat word, is dit onmiddellik Nazi. Nee, die probleem met Afrikaans is nie net op Afrikaans beperk nie! Dit het ook veel met "White Supremacy" en "Cancel culture" te doen, die. En, moenie vergeet nie, taal is denke, is kultuur. "What did the one shy palm tree say to the equally shy palm tree? Lets's make a date!" Probeer vertaal!

  • Suma Schreiber

    Lynthia, sjoe ek het lanklaas 'n skryfstuk so geniet! Ek hoorrr en voel sommer daardie pragtige Namakwalandse en Noord-Kaapse dialek. Wonderlik! Dit is juis vir daardie pragtige taal waarvoor ons Afikaanssprekendes o.a. sal veg. Deur Afr. te misken neem hulle die geleentheid van so baie voornemende studente eenvoudig van hul weg. Ons het jare daar gewoon en gewerk en ons is verlief op daardie wêreld, sy mense en sy taal. Dankie vir jou bydrae, niemand kon dit beter gestel het as jy nie. Soos die Namakwalanders sal sê: "Daar praat mens net Engels om te oorleef!" Voorspoed met jou studies.

  • Kyk nou net hoe maak hierdie Namakwalandse dame bruinvoorlyf vir die Stellenbosch hoofdogters! Pragtig geskryf, Lynthia! Ek stem saam met jou!
    Net mense wat Namakwalandse Afrikaans verstaan sal weet wat bruinvoorlyf in hierdie konteks beteken - en nee, dit het niks te doen met etnisiteit nie!
    Hannes Deetlefs: daar sal dadels van kom as mens hierdie woord in Engels probeer vertaal om die hoofdogters ter wille te wees.

  • Gustaf Claassens

    Dis soos om 'n 'jolly' verjaarsdag met vriende vier. Lynthia sit balonne, vlaggies, kreukelpapier en linte in hierdie skryfstuk van haar. Wat 'n lekker taalpartytjie.

  • Chris Marnewick SC

    Ons het 'n nuwe baba hier en ek verwonder my aan die kleinding, uit liefde, natuurlik, maar ook omdat ek besef dat die taal wat die kleintjie hoor soos my rekenaar se "operating system" is. Dag vir dag, soos ons met die kleintjie praat, word haar operating system gevestig en bevestig, tot sy dit self kan gebruik, van die eerste woordjies af, totdat daardie taal soos by Lynthia, so diep ingeburger is dat niemand dit kan uitvee nie. Ek wonder of die "hoofdogters" by Skelmbos dink die Afrikaanse meisies gaan nou skielik in Engels dink, met 'n hulle "operating system" wat eensklaps Afrikaans sal verplaas.

  • Maureen le Roux

    Ek is Afrikaans en was in 'n Engelse skool geplaas in die 50's. Dit was baie moeilike laerskool jare. Emosioneel het dit 'n letsel gelos, want jy is gedurig beledig en uitgeslel as 'n "rock spider en n hairy back". Jy was ook nooit na 'n partytjie genooi nie. Die een goeie ding wat daaruit gekom he, was die feit dat ek vandag myself kan laat geld in beide tale. Dit was in Potchefstroom en meeste kinders in die skool was van welgestelde Joodse en Engelse huise, ek, in teendeel het van pleegouers af gekom. Traumaties.

  • Ronée Robinson

    Ai, jammer is ek nou dat ons nie 'n glasie wyn kan klink nie, Lynthia. (Dis nou sou jy wou!) Dankie vir hierdie wonderlike stuk. Ek gaan onmiddellik jou "Uit die kroes" bestel. Beste wense en alle sterkte met wat jy doen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top