Uit die argief, US-taaldebat: 'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

  • 87
Hierdie brief is oorspronklik op 11 April 2016 gepubliseer.

Geagte professor De Villiers

Dis ’n kwade dag wanneer daar in die openbaar gepleit moet word vir die erkenning en versterking van diversiteit en vir die effektiewe behoud van veelvuldigheid as onderskraging van die gedeelde, oorkoepelende waardes waarop Suid-Afrika se Grondwet berus.

Maar dit sou neerkom op burgerlike pligsversuim as dit nié uitgewys word dat die effektiewe verskansing van veelvuldigheid nie net ’n voorvereiste is vir die vaardighede wat oorgedra moet word aan die jonger geslagte sodat hulle tot volwaardige en verantwoordelike landsburgers wat vir hulleself kan dink, mag ontwikkel nie, en nie slegs om onderlinge verdraagsaamheid en begrip te kweek nie, maar ook omdat die wêreld alreeds sedert die omverwerping van kolonialisme en die ontluistering van ideologiese en kulturele hegemonieë besef het dat die stryd teen die verlies van die diverse die snykant van progressiewe kennisverwerwing vergestalt.

Waarom wil u met swak en siniese argumente ’n reaksionêre taalbeleid aan u universiteit opdwing? Wil u werklik dat die Universiteit Stellenbosch ’n konserwatiewe instelling word wat nog net in die nagemaaktheid van ’n koloniale taal, die taal van Coca-Cola en Monsanto, funksioneer?

Kan u dan nie insien dat ’n instelling van hoër onderwys in Suid-Afrika slegs deur die waardering en die uitbou van die plaaslike met werklike wortels in die realiteit en die verwagtings van die streek aanspraak kan maak op universele relevansie nie?

Het u enigsins ’n begrip van die draagwydte van Afrikaans? Weet u nie hoe dit ontstaan het uit die lewenskragtigheid van transformasie en verset en saambestaan in die Boland nie? Kan u in alle opregtheid maak asof u nie besef dat u voorgestelde taalbeleid beteken u keer die rug op die Karoo, die Klein Karoo, Namakwaland, die Kaap … nie? Besef u dan nie dat  u beleid binne afsienbare tyd sal lei tot die vernietiging van ’n absoluut unieke en inheemse omgangstaal wat lewe in die baie monde van vissers en werkers en boere en onderwysers en kerkleiers en regslui … en ’n aanwins is vir die wêreld se eksistensiële ekosisteem nie? Ken u die gedigte van Uys Krige en Ingrid Jonker en Piet Philander? Is u bewus van die besonderse bydrae tot die wêreldliteratuur van ons plaaslike visionêre skrywers soos Jan Rabie en Johan Degenaar en Elsa Joubert? Wil u toesien hoe die taal van Bram Fischer en Beyers Naudé en Neville Alexander en Jakes Gerwel uitgefaseer en afgeskaal en uiteindelik geminag word – tot voordeel van verdomming in die strewe na ’n tweedeklas “wêreldburgerskap”? Is u vertroud met die denke van Martin Versfeld? Of dan – nader aan u nering – het u ’n idee watter rykheid aan kennis en insigte en belangstellings ’n medikus soos Louis Leipoldt gebied het, en dat dit ingebed was in sy taal? 

En weet u tot watter mate u voorgestelde taalbeleid met die onvermydelike konsekwensies daarvan juis spreek van ’n gekoloniseerde en provinsialistiese houding?

Walter Benjamin het al in ’n opstel, “Wesen der Sprache”, daarop gewys dat die Filistynse “instrumentele” siening van taal as Wesen der Sprache, synde die kommunikasie van inligting en niks meer nie, neerkom op ’n bourgeois konsep van taal. 

Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus? Dink u werklik u silwerlinge gaan vir u ’n internasionale aansien koop?

Geagte Professor, u voorgestelde taalbeleid is die dood in die pot vir meertaligheid.

U hoef nie hierdie kultuurmoord te bemiddel nie. Die “pragmatisme” en “realisme” waarvan soms gewag gemaak word, met ’n skaars verskuilde verkleinering van Afrikaans en die ander inheemse tale, is niks anders as intellektuele lafhartigheid en eksistensiële stompsinnigheid nie.

Dis nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees. Dis nou die tyd om te luister! En u sal sien hoe baie goeie wil daar werklik is om u hand te sterk in die verwerkliking van ’n veelsydige universiteit wat sy krag put uit die rykdom aan diversiteit van oorspronge en skeppingspotensiaal van hierdie geweste as smeltkroes en voorbeeld van ons land se moontlikhede.

Met agting

Breyten Breytenbach
Kaapstad
9 April 2016

 

  • 87

Kommentaar

  • Hierdie skrywe het een hartseer draad verweef in elke sin en stelling, die draad het 'n titel: Driekwart van die lesers sal nie sinvol kan lees nie. Hulle is standaard van Afrikaans het alreeds so verswak deur blootstelling aan afgewaterde taalopvoeding.

    • Adri, Stem 100% saam met jou.
      "Dis a awsome, fab song performance wat ek honderd like op n great show in Joburg.
      Daar was so much traksie van fans dis nice man."
      Ek skaam my vir hierdie baster afrikaans !!
      Breyten Breytenbach het Wim uitstekend aangespreek met goeie gerespekteerde afrikaans.
      Kan ons "basterafrikaans sprekendes" maar net sy voorbeeld volg !
      Vir my is n persoon se taalgebruik n aanduiding van sy volkstrots.

  • Daar is mos maar "Liberale" mense wat selfs die pragtige taalveelvuldige skepping van God wil probeer omkeer om hulle eie Babelse toring met eentaligheid in die wêreld te probeer bou en só selfgod te speel.

  • Sandra Claire Bouwer

    U aanspreek van die taalkwessie by ons universiteite word waardeer! Vernaam die behoud daarvan vir soveel mense in daardie streek!

  • Englene Ferrrira

    Wat 'n wonderlike pleitdooi vir die bestsaansreg van Afrikaans. Mag dit goeie Afrikaanse vrugte afwerp.

    • Hier in die Baai, is daar 'n Duitse-, Italiaanse-, Griekse- klub en seker nog baie ander, daar praat hulle hulle moedertaal en almal is welkom en Engels word algemeen aanvaar.

      Afrikaanse klub? Nee ons boere kuier by die mense wat nie 'n wet nodig het om hulle taal te beskerm nie ... Hoekom moet daar dan vir ons een wees? Praat jou huistaal by jou huis, spesiale tye het spesiale optredes nodig en dit sluit engelse opvoeding in. Kyk maar hoeveel afrikaanse seuns soek rugby vir engelse skole - dan mors hulle sommer eers 'n jaar om engels te leer praat ...

      • So'n Afrikaanse klub is 'n goeie idee . . . in Nieu-Seeland, Australië, Kanada of waar ookal genoeg Afrikaanssprekendes op vreemde bodem verkeer.
        En waar kom jy aan "eers 'n jaar mors?" In al die Afrikaanse skole leer die kinders Engels as tweede taal aan so almal (meeste) kan Engels praat. Helaas, jou houding vier egter hoogty - daar is baie Afrikaners wat nou tweedehandse Engelse is en ek kan jou verseker, daar word neergesien op hulle. Niemand hou van gatkruipers nie, selfs (miskien veral) dié by wie gat-gekruip word.

      • Jays, dit is 'n absolute drogredenasie dat 'n Afrikaans-moedertaalspreker in Engels grootgemaak moet word om Engels as tweede taal te kan gebruik. En dis 'n absolute drogredenasie dat Afrikaans, na dekades se gebruik en ontwikkeling as volwaardige vaktaal, nou skielik uit alle tersiêre instellings geweer moet word. Watse twak is dit?

        Ek is 'n sprekende voorbeeld van iemand wat in Afrikaans grootgeword het, in Afrikaans skool gegaan het, in Afrikaans op universiteit studeer het, en myself sonder moeite in Engels op my vakgebied handhaaf.

        Ek sien dit male sonder tal dat die stomme kinders, wat weens hulle ouers se minderwaardigheidsgevoel en pretensie, in die Engelse drukgang ingedwing is, nog behoorlik Afrikaans, nog behoorlik Engels magtig is. Hulle praat 'n swak Engels deurspek met gramatikafoute, met 'n swaar nie-Engelse aksent, en hulle Afrikaans gaan mank aan 'n totale gebrek aan die fyn nuanses wat Afrikaans so eg en so enig maak. Die egte, unieke Afrikaanse uitdrukkings en segswyses wat hulle nooit die voorreg gehad het om te gebruik nie, weens die gedwonge verengelsing waaraan hulle onderwerp is, word gevul met die mees verspotte anglisismes, soos byvoorbeeld: "ek sal dit by die volgende vergadering OPBRING".

        Jy doen jou kinders geen guns deur jou kinders so verward groot te maak nie Jay. Hulle kan op op die ou end nog Afrikaans, nog Engels praat. Uiteindelik praat en skryf hulle 'n soort Efrish. Foei.

        • Koffie, jy slaat die spyker op die kop. Pragtige brief.
          Ouers wat hulle kinders Engelse skole toe stuur is eintlik skuldig aan kindermishandeling - in die eerste plek, wie sê vir die ouer daardie kind gaan dieselfde gebrek aan nasietrots as hy (en/of sy vrou) hê? In die tweede bewerkstellig so'n ouer 'n minderwaardigheidskompleks in sy kind; die kind is nie meer Afrikaans nie en is 'n tweedehandsw Engelsman.

      • Duits, Italiaans en Grieks word nie net in klubs in die Kaap gepraat nie, maar in hulle tuislande op universiteite. Van wanneer af het Afrikaners nie genoeg Engelse woordeskat om rugby te kan speel nie? Ons is regtig nou in die era van die "pensée unique" ; watter kulturele armoede!

  • Maar Breyten wat is jou kritiek nou eintlik teen die voorgenome beleid. Jou repliek is vaag. Het jy dit gelees, Breyten?

    • Stem saam Anton. Dis nogal 'n jammerte, want die kommentaar op die blog wys dat baie mense die man, en nie die woord gelees het nie.

      • Thabang, om vir jou op te som: Breyten sê vir die rektor hou op om slapgat te wees en ons naam gat te maak.

    • Johan Scheepers

      Anton, miskien is jy nie mooi bewus van die agtergrond nie? Breyten het nou al male sonder tal oor die afgelope maande gepleit vir inklusiwiteit en diversiteit maw NIE monolitiese Engels as enigste taal op die kampus, in die koshuis, in die lesingsaal en in die gange van die Admin-gebou nie. Breyten pleit vir die behoud van Afrikaans neffens Engels en ook vir die verdere uitbreiding van IsiXhosa. Ek kan werklik nie verstaan hoe jy kan sê hy is vaag nie. Is jy nie maar net gewoon moedswillig om nie te wil verstaan nie?

  • Elena Agostinis

    Miskien vergeet Mr. Breytenbach hoe ons op hierdie spesifieke plek in die geskiedenis van Suid-Afrika beland het? Deur die ernstige gevolge van ekonomiese druk van buite is Apartheid uiteindelik afgeskaf; net so is dit ekonomiese druk en nie liefde vir die taal wat op Stellenbosch gaan seevier nie. Dit is 'n openbare universiteit wat vir sy voortbestaan op o.a. internationale fondse staatmaak en dus ook maar sal moet aanpas by hierdie "nuwe bedeling". Wim de Villiers is u 'n paar stappe vooruit, Mr. Breytenbach!

    • Ek stem nie met u saam nie Elena. Ek het geen probleem met ENIGE andertalige student nie, maar as ek na ander universiteite kyk waar veral van die anderskleurige studente weier om enige universiteitsgelde te betaal, kan ek nie sien hoe dit die universiteit gaan baat om Engelssprekende studente te hê wat nie betaal nie. Ek vra maar net.

  • Mada de Lange

    Baie geluk met so 'n uitsonderlike brief en baie dankie daarvoor. Ek lig my hoed vir jou!

  • Theresa Papenfus

    Dankie Breyten, vir jou vrye denke van altyd af. Dankie vir die klinkende manier waarop jy hierdie stryd aansê. Dankie dat jy steeds weier om dienstig te swyg.

  • Johannes A Barnard

    Breyten is juis die man wat geveg het vir verandering in hierdie land. Is hy tevrede met sy brousel van Nkandlas en moord en doodslag en alles wat sleg is.

    • Van wanneer af is 'verandering' die prysgee van jou goed? Jy moet dink swaer en nie net praat omdat praat praat is nie.

    • Johannes, jy is doodreg - Breyten het geveg vir verandering in die land - NIE ONDERDRUKKING EN AFSTELLING/ UITWISSING VAN N TAALGROEP NIE

  • Bruce du Plessis

    Net wat ek nog altyd gesê het. Afrikaans is naas Engels die enigste volwaardige akademiese vaktaal in Suid-Afrika. Behou dit, koester dit. Moet nie die erfenis weggooi om polities "korrek" te wees nie. Moet nie swig onder druk nie. Jy en jou raad sal lank gerespekteer word vir die behoud van iets uniek.

  • Johannes Comestor

    Dit is wenslik dat meer skrywers en akademici hulle stemme ten bate van Afrikaans laat hoor. Wim de Villiers het meer as twee dekades in die buiteland deurgebring. Hy het glad nie sy hand op die pols van die Afrikaner nie. 'n Verdere probleem is dat hy geen agtergrond in die humaniora en sosiale wetenskappe het nie. Hy verstaan nie ideologie en politiek nie, gevolglik loop hy die maklike, breë weg van ANC-gedienstigheid. Afrikaner- en blanke simbole word verruil vir swart simbole. Daarmee hoop De Villiers om Afrika- en wêreldburgerskap te verwerf. 'n Rektor is veronderstel om voorkeur aan akademiese belange bo politieke opportunisme te gee.

  • Groot geeste soos Breytenbach se pleidooi vir die behoud en voortbestaan van Afrikaans is broodnodig en word waardeer.

  • Vergewe en vergeet!? (het Totius gesê-vra): Die ironie is dat ware 'Engelse Taal' waaronder die knieg nou gebuig word gevlug het terug na hul groot Eiland, nadat hulle hebsug en onverdraagsaamheid die suidpunt van Afrika verskroei het... Die mense in my wingerd ken, en erken net een taal! Dit is hulle wat die Kaapse Kultuur en stemme regeer? Vra hulle mening Prof De Villiers...

    Totius (soos De Villiers van Franse herkoms):
    "Daar het ‘n doringboompie
    vlak by die pad gestaan,
    waar lange ossespanne
    met sware vragte gaan.

    En eendag kom daarlangs
    ‘n ossewa verby,
    wat met sy sware wiele
    dwars-oor die boompie ry.

    “Jy het mos doringstruikie
    my anderdag gekrap;
    en daarom het my wiele
    jou kroontjie plat getrap.”

    Die ossewa verdwyn weer
    agter ‘n heuweltop,
    en langsaam buig die boompie
    sy stammetjie weer op.

    Sy skoonheid was geskonde;
    sy bassies was geskeur;
    op een plek was die stammetjie
    so amper middeldeur.

    Maar tog het daardie boompie
    weer stadig reggekom,
    want oor sy wonde druppel
    die salf van eie gom.

    Ook het die loop van jare
    die wonde weggewis –
    net een plek bly ‘n teken
    wat onuitwisbaar is.

    Die wonde word gesond weer
    as jare kom en gaan
    maar daardie merk word groter
    en groei maar aldeur aan.

  • Lieb Swiegers

    Ek wil saam pleit vir die volle behoud van Afrikaans. 'n Eenvoudige beleid nl. Stellenbosch, 'n Afrikaanse universiteit wat anderstaliges wat ook hier wil studeer sal help.

    • Lieb ek stem heelhartig saam met jou! Potchefstroom Universiteit maak gebruik van direkte vertaling vir alle anderstalige studente

    • Ek stem, almal is welkom . . . net soos by die Engelse universiteite. Daar het byvoorbeeld baie Afrikaners by anderstalige universiteite studeer, universiteite soos Wits, Kaapstad, Grahamstad ens. Net so is anderstaliges welkom by Afrikaanse universiteite; hulle sal dan natuurlik net, logieserwys, Afrikaans magtig moet wees, net soos hulle Engels magtig moes wees by Wits en daardie plekke.

  • Welgespreek Breyten. Die taal van 'n mens is soos die taal van alle weses op hierdie planeet. 'n Zebra praat nie dieselfde taal as 'n wildebees nie, al loop hulle saam. Net soos 'n reier nie dieselfde taal praat as 'n bloukraan nie. Tog leef hulle saam en verstaan mekaar se behoeftes. Voordat die geskrewe taal daar was, het die mense met prentjies gekommunikeer en soos ontwikkeling plaasgevind het, kry elkeen sy eie identiteit omdat alles dieselfde is, maar alles is tog verskillend.

  • Anton Krüger

    Ek stem Breyten, te veel mense wil vandag die maklike uitweg met minste weerstand kies, dit is menslik. As sprekers van die taal is dit ons plig om dit op te pas en te verdedig. As oud-Matie is ek erg bekommerd oor die trant waarheen die taalkwessie besig is om te ontwikkel. Dit is tog logies as al die universiteite Engels as voertaal gebruik, dit net 'n kwessie van tyd sal wees dat die skole hulle volg opneem nie, en nou ja dan is ons weer in die 1800's en die taalstryd geskied weer van vooraf.

  • Wilma van den Berg

    Baie dankie vir hierdie uiters relevante en kosbare brief. Ek gaan dit gebruik vir my studente se voorbereiding vir Afrikaans-eksamens.

  • Wat n pragtige visie: "'n veelsydige universiteit wat sy krag put uit die
    rykdom aan diversiteit van oorspronge
    en skeppingspotensiaal van hierdie
    geweste as smeltkroes en voorbeeld
    van ons land se moontlikhede."
    Dankie, Breyten, vir jou Herzblut en
    helder droom.

  • Willem van der Merwe

    Breyten, jy het my altyd geroer, en nog steeds. Ek wil net weet, het Wim de Villiers die brief in sy posbus ontvang?

  • Dankie heer Breytenbach. Ek glo u het uitgedruk wat ons ander bedoel maar nie oor die taalvaardigheid beskikbaar nie. Self het ek niks met US te doen nie, maar my taal word bedreig en daarom reageer ek.
    My vraag is egter, hoeveel skade word daagliks deur, bv. RSG gedoen met die speel van die "kontemporêre" Afrikaanse lirieke waarin die Brits so geil staan soos kosmos op 'n Hoëveldse saailand in die herfs. Of waar programaanbieders se taalgebruik besaai is met distels soos "awesome, cool, show, song . . ." Waar is die dae toe stemtoetse ook gegaan het om die korrekte uitspraak van klanke en woorde?

    • Jy's reg Kys; RSG (en KykNet) ondermyn Afrikaans. Ek vermoed dit is in opdrag van bo (LW nie Bo nie, inteendeel). Soos Wim, is daar marionette aan die hoof van hierdie instansies, meelopers en agterryers.

  • Wolfaardt-Gräbe

    Raak gesê, Breyten, soos altyd en soos gewoonlik. Mag dié wat ore het om te hoor, 'n keer werklik luister na die stemme van digters en filosowe!

  • Leon van den Berg

    Ondanks die ANC-beheerde SABC se pogings om die oorweldigende Afrikaanse nuuskykerstal te verlaag, bly dit verreweg die hoogste vergeleke met al die ander amptelike tale, Engels inkluis. Gesonde diversiteit vereis meer aandag aan die bevordering van ons ander inheemse tale, wat erger deur Engels bedreig word as Afrikaans.

    • Dit is so dat die ander inheemse tale geweldig aandag vereis wat betref bevordering. Dit is egter die taak van die sprekers van daardie tale om aksie te neem. Die feit dat hulle Engels omhels ten koste van hulle eie tale is hulle saak, dit plaas Breyten of enigeen van ons onder geen verpligting nie.

      • Leon van den Berg

        Geen verpligting nie — wel ’n uitdaging. Afrikaans staan sterk genoeg om dit te aanvaar. Die verskynsel om medeburgers aan hul “eie saak” oor te laat is ’n deel van ons probleem. Die Grondwet vereis veeltaligheid, en ook ons moet ons konsekwent daarvoor beywer.

        • Die grondwet vereis nie veeltaligheid nie, hy waarborg dit. Dit is goed, en mooi, en edel as jy die anderstaliges wil bystaan in die bevordering van hulle eie tale maar die 'uitdaging', soos jy dit noem, is hulle s'n. Die idee is egter geplant - hoe weet ek nie - dat, om Afrikaans te bevorder, moet Afrikaanssprekendes ook die swart tale bevorder. Dit is onsin.

  • Hoeveel het jy al ooit tot hierdie land bygedra mnr Breytenbach? Jy betaal nie eens belasting hier nie en het nog nooit. jou moer dus. want ek moet my gat af werk om jou en jou mede verligtes se stelsel te onderhou. jy het nie eens. toe julle held mandela oorgevat het. die moeite gedoen om hier TAX te betaal nie. JOU moer dus. JY het geen sê in hierdie land nie.

    • Oester, hy't dit miskien teen die bestel gehad maar nie teen die taal nie. Inteendeel, anders as instansies soos die Afrikaanse radio en TV wat steeds Afrikaans ondermyn (en ook ewe-blinkoog oor die Nuwe! Verbeterde! SA was, lê hy die heksejag (en die kompromiterende handwriemelende bewegers-met-die-tye) bloot. Ek moet toegee, soos Max, Pierre, Helen, Slabbert en nog 'n menigte ander het hy hom beywer vir hierdie teenswoordige jammerlike gemors maar hy is darem nie anti-Afrikaans nie en Afrikaanssprekendes het ALLE hulp nodig tov hulle taal, maak nie saak uit watter oord nie.

    • Breyten Breytenbach

      Oester: sedert die vroeë negentigjare, vandat ek my Suid-Afrikaanse burgerskap teruggekry het (op my versoek), betaal ek belasting op wat ek ook in die land mag verdien. My moer dus. (Dit kan seker nie dikwels genoeg herhaal word nie...) Ek is jammer om te verneem dat u swaar betaal aan belasting om die verligte stelsel in stand te hou, maar dankbaar dat u my help onderhou. Miskien kan ons eenvoudig ophou betaal? Intussen, as ek kan uithelp...Laat weet.

      • Leon van den Berg

        Ophou belasting betaal is die antwoord! Trouens, ook terugwerkend terugeis, want sedert die laat 1960’s tot die begin 1990’s misbruik die regering my belastinggeld vir mislukte apartheid. En toe misbruik die regering my geld vir ’n mislukte president en sy duur trawante. Ons kom inderdaad, soos Bartho Smit te kenne gee, van ons moer en gaan na ons moer.

        • Die apartheid wat jy in jou kop het, naamlik onderdrukking en uitbuiting, het nooit bestaan nie (miskien wel in die Engelse se tyd). As jy met 'apartheid' afsondelike ontwikkeling bedoel sit jy die pot mis want dit het nie misluk nie. Inteendeel, toe was daar lewensgehalte vir wit en swart, geen rou riool in die riviere nie, geen slaggate nie, geen protesopstande oor onvoldoende/gebrekkige/geen dienslewering nie, niks. Joubertpark was mooi, mense het daar skaak gespeel en tee gedrink, die stasies was mooi en skoon, treine was nie afgebrand nie, Eskom, die Buro vir Standaarde, Onderstepoort en die WNNR het gewerk en was gerespekteer. Die Afrikaanse universiteite se kampusse was skoon, die akademiese standaard puik en die studentelewe heerlik. Skoliere het mekaar nie met skerp / stomp voorwerpe gesteek / geslaan nie.
          En vandag? Vandag is als 'n jammerlike gemors.

  • Sandra Burger

    Al my opgekropte emosie aangaande die taalbeleid aan die US is saamgevat in hierdie formidabele man se briljante skrywe. Ek dank u daarvoor! Mag dit van hulp wees om hulle tot hul sinne te laat kom..

  • Ek is Afrikaanssprekend. My man is Engelssprekend. Ons drie kinders was in Afrikaanse skole en is vandag ten volle tweetalig. Twee seuns het in Afrikaans gestudeer en een in Engels. Dit was my seun se EIE KEUSE om by 'n spesieke instansie in te gaan studeer wat totaal Engels was. Moet ek nou kreun en kerm omdat hulle nie hulle lesings in Afrikaans aangebied het nie? Nee, want dit was die student se keuse!!

  • Hierdie ope brief kan aan al die rektore van die land gestuur word! Dit stel die saak om meertaligheid wat die groter taalstryd is, baie sterk.

    Afrikaans se beste bate is haar inheemsheid en die verskeidenheid van kennis wat in die taal groei - die instrument van dekolonisering.

  • Leon van den Berg

    ’n Martin Heidegger het dit reggekry om met sy filosofie uit te styg tot ’n universele vlak, ondanks sy persoonlike beheptheid met Nazisme. Sy werke is selfs in Japannees vertaal. Is ons Afrikaanssprekendes nie só behep met ons taal en “volk” — soos selfs ’n N.P. van Wyk Louw! — dat ons nooit unieke bydraes in Afrikaans op universele vlak tot die wêrelddorp wat Marshall McLuhan al in die vroeë 1960’s voorspel het nie. Die bevordering van veeltaligheid in Afrikaans om veeltaligheid se voordele te demonstreer, kan ons taal op universele vlak in die wêrelddorp plaas. Ingesluit kan wees die oprigting van private skole/kolleges/universiteite met moedertaalonderrig wat wissel van Afrikaans tot Zoeloe: alles 'n Afrikaanse veldtog van onder na bo.

  • Breyten, dankie dat jy groot genoeg is om nie die taal van jou onderdrukkers te onderdruk soos so baie verbitterde en polities korrekte Afrikaanssprekendes geneig is om deesdae te doen nie. Jou teenwoordigheid in die laaste loopgraaf van die vegters vir die oorlewing van Afrikaans, lei tot groot frustrasie by diegene wat weens wraaksugtigheid en gedienstigheid nie so grootmoedig en onderskeidend kan of wil wees nie. Met mense soos jy in ons midde kan ons nie moedswillig deur die oorwegend Afrikaanssprekende kultuurmoordenaars gerieflikheidshalwe getipeer word as verkrampte boere wat na Apartheid terugverlang nie.

    Enkele gedagtes oor die rol van 'n universiteit in enige land van 'n wyse man lank gelede:
    Honderd jaar gelede was daar nie Afrikaanse universiteite nie. Afrikaanssprekendes moes aan Engelse universiteite of oorsee gaan studeer. Ongelukkig het die meeste van daardie geleerdes nie teruggekeer na die eenvoudige plattelandse gemeenskappe wat deur opoffering dit vir hul moontlik gemaak het nie. Selfbevordering, materialisme en vervreemding van hul kultuur en die opoffering van hul moedertaal het hul vervreem en deel van die "moderne wêreld" gemaak. Die keerpunt het gekom met die daarstelling van Afrikaanse universiteite. Die oorwinning van die gees deur die Afrikaanssprekendes het tot hul versnelde opheffing, kultivering en beskawing gelei omdat akademiese leiers op alle terreine na vore gekom het. So het 'n hele gemeenskap hulself aan hul skoenveters opgelig. Dit is 'n les vir al die taalkulture van ons land.

    'n Universiteit wat sy studente vir die wye wêreld opvoed se studente sal deur die wye wêreld opgeëis word. As 'n universiteit 'n groot rol speel in die lewe van 'n kultuur word daardie hele kultuur groot. Dit geld nie slegs vir die Afrikaanse kultuur nie maar vir alle kulture. As 'n universiteit nie daarin kan slaag om groot te dink, groot te wees en groot manne op te lewer nie; as die universiteit nie diep wortel skiet in die kultuur of kulture van sy streek nie ; as hy nie eiesoortig soos sy gemeenskappe is nie, sal daar van daardie kultuur of kulture niks oorbly nie. Is dit nie dalk die werklike onderliggende rede vir die sistematiese uitfasering van Afrikaans nie?

    Geen universiteit kan so vry wees dat dit nie ook gepaard gaan met geen beperkings nie. Enige strewe by 'n universiteit na 'n vryheid so groot dat dit sy kultuurgebondenheid verloen in die naam van akademiese vryheid of uitnemendheid, ontstaan gewoonlik uit internasionale strominge wat by groot internasionale kulture begin en hul belange of ideologie moet dien. Dit is nie vryheid nie maar 'n vreemde soort slawerny en onderworpenheid aan wat skynbaar universeel is. Sodoende word 'n universiteit fondamentloos en juis nie vry of selfstandig nie.

    Vryheid van die dwiglandy van ander tale en kulture se eise en beskouings is die vryheid wat 'n gerespekteerde vrye universiteit vir homself moet en mag opeis.'n Universiteit se vryheid kan wel ingeperk word deur sy eie doel en sy eiewaarde vir die kultuur of kulture wat hy dien.
    Moedertaalonderrig op tersiêre vlak is dus 'n langtermynbelegging vir enige kultuur. Juis daarom is dit elke kultuur se verantwoordelikheid om daarop aan te dring indien daar 'n bewese behoefte vir die voortbestaan daarvan is.

    Breyten die geskiedenis gaan jou nalatenskap sag behandel omdat jy deurlopend konsekwent is in jou uitsprake teen ongeregtigheid - 'n ware rolmodel vir ons almal.

  • Elizabeth Botha

    Die inheemse bevolkings het lankal boedel oorgegee. In stede van hul taalskatte koester word die taal van die 'koloniale verdrukker' klakkeloos aanvaar en nagestreef. Taalregte in die grondwet verskans word gerieflikheidshalwe geïgnoreer. Almal moet 'n wêreldtaal vlot bemeester maar nie ten koste van inheemse tale nie. Meertaligheid is nie 'n luukse nie, hoe meer tale hoe meer vreugde. Duits, Frans, Nederlands en Zoeloe, verryk my lewe. Waar is ons Zoeloe, Xhoza, ens universiteite? Die inheemse bevolkings sal eendag moet rekenskap lewer. Is dit waarvoor Breytenbach in eensame aanhouding opgesluit was? Wat word van die Jan Marais Fonds: “Ter bevordering van het hoger onderwijs te Stellenbosch, doch meer beijzonder van het onderwijs in en door middel van de Hollandse taal in zijn beide vormen (dat wil zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in zodanige onderwijs de Hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiële landstaal zal innemen.”

    • Johannes Comestor

      Elizabeth, dit is Jan Marais se US-stigtingsvoorwaarde wat voorstanders/bevorderaars van Engels, soos Wim de Villiers en Anton van Niekerk, op 'n onetiese manier doelbewus verswyg.

      • Sal Jan Marais se voorwaardes die grondwetlike hof toets slaag? Rektore verkeer onder geweldige druk. Die bakernat van Afrikaans en Apartheid is eerste prys. Malema sal seker nie op Victoria College aandring nie.

    • My woordfees-woord: klakkeloos. Elke woord het 'n storie - en nes die res van Afrikaanse woorde, indien die storie nie vertel word in verstaanbare konteks wat lewendigheid in jou gehoor laat opvlam nie, val jou storie plat. Kaplats plat!

  • Luan Staphorst

    [xrↄnta:l]
    vir Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Helize van Vuuren

    Woorde is my kontinent,
    & poësie is my republiek.
    - Johann De Lange

    onder sondes van my
    voorgeslagte word jy besit
    had ek grond kon ek jou
    bewerk want jy is taal my taal

    maar ek is
    ek is bloot tuinbooi
    en die kontinent soek nie
    ‘n wit kaffer nie
    nog minder die republiek.
    en ek is
    ek is die versinde ekke:
    nooit bhuti, maar boetedoener.

    Tog
    maar tog skiet my werwels
    wortel en ver-werf

    want met aarsembenemende leefde
    wat my ontrand my ontbind
    my verplant
    en uitstorwe in
    hierdie verstrikte tong
    hierdie gekerfde land
    hierdie mondwond
    uit wie se kont
    ek kruipend
    bly
    swerf

    met die lug wat nog-nog natterig
    bly dobber
    in die voering van my nerf

    sal ek knielend sterf
    knielend swerf
    sterf-sterf

    so
    ja so word die handvattende grondvreters
    ter aarde gesluk

    nie met ‘n roggel
    maar ‘n keelkliewende koggel

    (soos oorgelewer aan W.H.I. Bleek en L.C. Loyd te Tafelbaai
    G.R. von Wielligh te klipspelonk in die Karoo
    maar vertolk deur Antjie Vlaktes op die 17de April 2016)

    *Luan Staphorst is 'n 3de-Jaar BA Afrikaans student verbonde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.

  • Oudstudent en steeds verlief oppie Kaap

    Dat 'n vrydenker soos Breyten Breytenbach nou so 'n bitter betoog moet lewer vir onse Taal by Universiteit Stellenbosch! Dis korrek as hy sê dat die huidige WvV-taalbeleid die akademiese keuses vir sovele van die Kaapse Skiereiland en die Boland totaal sal verskraal of sal vernul.
    Stellenbosch Universiteit en sy leier, spesifiek Wim de Villiers, probeer so hard om polities korrek te wees dat mens nie meer Blou-gemaak mag wees nie. Geen plek dus vir enige ander kulture nie - ook nie vir Blou ruimtewesens nie.
    Ek ry daagliks by die straat-mimiekers met hulle witgeverfde gesigte verby en wonder wanneer hulle in die moeilikheid gaan kom omdat hulle dan kwansuis "nie polities korrek" sou wees nie. Arme drommels fopdos ("cross dress") boonop ook nog.
    Sterkte aan die voornemende Afrikaanse studente aan Stellenbosch. As oud-student van die Teologiese Seminarie in Dorpstraat, was dit vir my blye dag om te ontdek dat soveel nuwe studente met nuwe kulture die gange van die TS bewandel, met Christenwees as die gemeenskaplike band, maar dat daar helaas vir wit studente al hoe minder ruimte aan die TS en ander fakulteite is.
    Repos alleurs? Academia alleurs? Scientia, Philosophia alleurs?

  • Ja oudstudent, academia ailleurs (Orania dalk, of op 'n universiteitskip, of in die woestyn of op 'n berg?) want repos in 'n mengelmoes is daar beslis nie.

  • Leon van den Berg

    Wanneer jy ongelukkig voel oor iets, kan jy kies tussen minstens: 1) vergeefs daaroor kla en 2) soos ’n boer ’n plan maak. Met genoeg mense wat jou plan steun deur daarin te belê, kan jy minstens een Afrikaanse private universiteit laat bou.

  • Jan van Gansbaai

    Eers het Dan Roodt Afrikaans probeer red, toe Steve Hofmeyr, nou kom prof Breytenbach. Jul bly in ons bede.

  • Adrie Dippenaar

    Baie dekades gelede het ons as minderheidsgroep Afrikaans as moderne taal hier te lande gevestig, met latere bewondering van die hele wêreld. Hoekom word ons dan nie eers die erkenning gegun om ons ten minste net by die tradisionele Afrikaanse universteite Afrikaans as een van die voertale te gebruik nie? Dit STINK mos van diskriminasie?! Daar is plek vir almal hier en iewers moet mens mos darem tuis voel in vel en gees en vlees. Jou taal doen juis dit vir jou, julle sal mos weet! Ek sou net graag wou weet wat nou gaan word van al die Afrikaanse skenkings en beurse wat spesifiek, met voorgeskrewe voorwaardes, vir die bevordering van Afrikaans aangewend moes word?

    • Because, the current government is not my mentor, they can force local music onto the population, but I, will not force my language onto anybody. If our language has a critical mass, it will not die, don't s stoop to a level below that of our Afrikaans ...

  • Gerhard Scheepers

    Lieb Swiegers jou ou doring, mag jou boompie wortels diep torring, doringtakke hoog en wyd swaai gaan lawaai waar anti-Afrikaners kom krap-krap kraai oor hul verrottende mishoop van buit!
    Luan Staphorst stap vooruit!

  • spook speurder

    Wat Marius as: ".. nie vryheid nie maar 'n vreemde soort slawerny en onderworpenheid aan wat skynbaar universeel is. Sodoende word 'n universiteit fondamentloos en juis nie vry of selfstandig nie." beskryf kan gerus ordentlik selfs duideliker die lig in gebring word.
    Dankie.

  • Hans Richardt

    Selfbestuur is van belang om Afrikaans te behou en te bevorder.
    Victoria kollege sou destyds by Cape town university ingelyf word en dan was Kaap net Engels, toe Jan Marais skenking gegee het om dit te red, met klem op Nederlands en ook Afrikaans.
    Nou 💯 jaar later is dit net weer waar dit toe was, agv politieke korrektheid. Wat my altyd verdwaas laat, is dat diè wie dit in werkplek doen, dit nie in hul privaat lewe ook doen nie.
    Voorskriftelik vir ander, maar nie vir hulself nie?

  • Dankie, Breyten, lank leef Afrikaans, my Moeder se taal, die taal waarin ek bid, droom, liefhet.

  • Jamie Uys het 'n film gehad, waarin 'n karakter elke dag 'n Engelse en ook 'n Afrikaanse koerant gekoop het. Die karakter het dan die twee koerante verwissel na gelang wie ook al met hom sou praat, want hy wou nie standpunt toon wat teenoorgesteld is van die persoon voor hom nie. Prof. Wim se manier van dinge doen laat my baie aan daardie karakter dink.
    Nou 'n ander punt: In die Afrikaanssprekende taalgemeenskap het ons ook 'n diversiteit. Dit is belangrik dat daardie kleurryke diversiteit erken word sodat Afrikaans nie as 'n snobistiese taal gesien word nie, maar as 'n taal vir sprekers in Suid Afrika wat 'n eie identiteit wil koester. Daar moet 'n formele Afrikaans bly bestaan, sodat dit as 'n akademiese taal kan bly bestaan, maar die informele variante van Afrikaans moet nie as minderwaardig gesien word nie. So kan goeie verhoudings gebou word. Prof. Anna Neethling-Pohl het gesê dat jy kan altyd iets leer van die nederigste mens. Ek het dit ook so ondervind.

  • Hans Richardt

    US se taaldebat is nie meer van belang vir my nie. Die US het in nes van politieke korrektheid ontaard.

  • EK STEM 100% SAAM DAT ONS TAAL MOET GBROEI WANT DIS 'N JONG TAAL. DIE GROEI MOET, NA MY BESKEIE MENING, LIEWER UIT NUUTSKEPPINGS GROEI AS VERBASTERING DEUR WOORDE LUKRAAK UIT ANDER TALE IN TE SPAN, VERAL UIT ENGELS. VERBASTERING VAN DIE TAAL IS BESLIS NIE GROEI NIE, EK BESKOU DIT AS VERARMING. WAAR OORSPRONKLIKE NUUTSKEPPING GEBRUIK KAN WORD IS DIT TOG VERRYKING. BYVOORBEELD 'N WOORD WAT EK GISTER OP 'N BLAD, "AFRIKAANSE ARGAIESE UITDRUKKINGS IS 'COOL'" GEVIND HET VIR 'N ENGELSE WOORD "TINSEL" NAAMLIK "FOELIEVERE", IS TOG BAIE BETER AS DIE ENGELSE WOORD WAT SO MAKLIK GEBRUIK WORD.

  • Ek kan nie verstaan waarom mense so uitvaar teen Engels nie. Engels is maar net 'n geluidstroom wat deur die menslike spraakorgane volgens sekere reëls gemaak word, en waarmee daar regoor die wêreld gekommunikeer word. Hoe sal ons met Russe, Franse, Chinese en Japannese sonder Engels oor die weg kom? Wie ken een van die Yupik-dialekte, ekskuus, een van die Inuïet-dialekte, om met 'n Eskimo, ekskuus, 'n Inuïet, te gesels? Ons wêreldmarkte sal in duie stort, en ons sal maar uintjies moet grawe om aan die lewe te bly. (So erg is dit darem ook nie.)

    Neem al die Engels uit Afrikaans en jy sit met 'n verarmde ou taaltjie waarmee ons skaars mielies mee kan plant. (Ook darem nie so erg nie!) Moenie Engels beskuldig nie. Arresteer liewer die boosdoeners wat Engels verkeerdelik gebruik. Gaan wurg liewer daardie Big Brother wat Newspeak ten koste van Afrikaans op Afrikaanssprekendes wil afdwing. (En dit nadat 1984 al dekades gelede verby is.)

  • Onlangs spreek ek my in Vrye Weekblad se briewekolom uit oor die 'taalkwessie' wat van tyd tot tyd opvlam op die Universiteit van Stellenbosch-kampus.
    'n Leser reageer en skryf: 'Mnr. Adams, jou pro-ANC en anti-Afrikaanse sentimente is welbekend en afgesaag'

    Een van die kenmerke van Suid-Afrika en Suid-Afrikaners is dat ons nie op ons bekke geval is nie. Ons voel sterk oor sake van die dag en trek gou 'n seepkissie nader om ons opinies vrye teuels te gee in persoon, in koerante en aanlyn. Ons hou, merendeels, nie terug nie en noem 'n ding op sy naam. Maar hierdie vryheid van spraak wat ons almal vandag geniet en wat vasgepen is in ons Grondwet, was nie altyd vir almal beskore nie. Daar was 'n tyd toe dit net die voorreg was van 'n klein minderheid om prontuit te kon praat.

    Vir dekades was die monde van die meerderheid gesnoer en het jy nie 'n piep gehoor vanuit die swart gemeenskappe nie. En as iets uit hul geledere rugbaar geword het, was dit meestal gesaniteerde woorde wat daarteen sou waak om nie die heersers aanstoot te gee nie. Teenstribbelrige mense het hulle gewend tot die "grapevine" en 'ondergronds' hul seg gesê.

    Maar, dit was natuurlik nie die geval met ons wittes nie. Destyds, tydens Britse okkupasie, het ons lustig meegedoen en aanvanklik in geradbraakte Engels ons saak gestel in 'n pers wat hoofsaaklik in koloniale besit was. Mettertyd het ons die "language" baasgeraak en kon ons vryelik deelneem aan die diskoerse van die dag. Natuurlik was hierdie 'verengelsing' nie altyd aanvaarbare gedrag in sekere dele van die Afrikaans-Hollandse gemeenskap nie, en indien jy jou ooglopend sou vereenselwig met die Engelssprekendes, was jy uitgekryt as 'n hanskhaki.

    My ouma, 'n nooi Rousseau, het vertel hoe hulle as Afrikaanssprekende skoolkinders in die Koo-gebied naby Montagu in 'n hoekie moes sit met die "dunce cap" op hul hoofde as iemand sou gaan verklik het by die onderwyser dat "They are talking that strange language again, Miss". Sy het ook vertel hoe hulle net Afrikaans sou praat op die plaas as die Miss een keer per kwartaal huisbesoek sou doen in haar kar-en-perd "buggy"!

    Vrye spraak is iets wat ons Afrikaanssprekende blankes nog altyd vir onsself toegeëien het en dit is in 'n sekere sin verstaanbaar dat daar nou 'n hewige reaksie is vanuit veral die ouer garde wat terugverlang na 'n Afrikaanse kampus. Feit is dat Afrikanerhegemonie en uitsluiting iets van die verlede is en dat die handjievol oud-leerkragte en die hoofstroom Afrikaanse pers met 'n verbete terugvegpoging besig is om die 'Taal' te red van oënskynlike 'ondergang'.

    Myns insiens kan die bogenoemde leser en ander wat soos hy redeneer, gerus ontspan. Afrikaans sal altyd in die volksmond bly, maar hierdie keer proporsioneel tot ons getalle en in perspektief gesien teen die agtergrond van die breë samelewing se belange.

    Wat die leser se 'pro-ANC' aantyging betref, net dit: Ek sal altyd die beuel blaas vir sosiale geregtigheid, ongeag waarvandaan dit kom. Ek is en sal nooit 'n ingeskrewe lid van'n hoofstroom politieke party wees nie, maar sal met my hele wese billikheid en redelike optrede verdedig. Die ANC het baie foute en is onder die vergrootglas vir hul onkapabele gedrag en korrupsie in hul geledere. Diesulkes moet aan die pen ry. Die amptelike opposisie, daarenteen, skiet hulself in die voet met hul ewige gesanik oor minderheidsregte wat hulle voel verontagsaam word.

    Regtig?

    Met die historiese bevoorregting wat ons steeds geniet en die wye agterstand in swart geledere is die DA se narratief uit pas met die daarstel van 'n regverdige en 'n geregverdigde bestel. Ons moet ook toegee dat regstelling en transformasie nog 'n paadjie het om te loop. Ons is goed op pad en moet net kophou, al is dit 'afgesaag'. Ek het 'n sterk vermoede dat veral ons jongmense weet waarvan ek praat.

    Daar is die afgelope klompie jare 'n hewige bakleiery tussen die meer, sal ons maar sê, behoudende akademici en alumni van Stellenbosch Universiteit (Hermann Giliomee, Jan Heunis, Christo Viljoen et al), en nou ook Willa Boezak wat in Vrye Weekblad skryf dat Afrikaans afgeskeep word op die kampus. Aan die ander kant is die groepering waarby ek my skaar (Wim de Villiers, Lesley van Rooi, Jonathan Jansen et al) wat voel dat regstelling en transformasie nog nie ten volle bereik is by die US nie.

    Soos Lina Spies sê, het die taaldebat 'n totale ideologiese inslag gekry. Baie bruin Afrikaanssprekendes vertrou, aldus Spies, nie die wit stryders vir die taal nie weens agterdog dat dit meer gaan oor die 'Afrikanersaak' as die belange van die Afrikaanstalige studente".

    Die 'geveg' het al 'n draai gaan maak in die Hooggeregshof waar die 'Gelyke kanse'-groepering die loef afgesteek is. Die rektor, Wim de Villiers, word ook (verkeerdelik) gekritiseer dat hy gekonkel het met die aanstelling van die nuwe kanselier, regter Edwin Cameron, wat die 'Gelyke kanse'-uitspraak gelewer het in die Grondwetlike Hof. In vanjaar se Konvokasieverkiesing was die stryd om die Voorsitterskap juis oor Afrikaans aan die US. Met die verkiesing van advokaat Heunis en sy 'stalgenote', soos Die Burger hulle noem, kring die polemiek nou weier uit. Ek is op rekord dat ek De Villiers en die Senaat se visie vir die US ten volle ondersteun.

    Die Universiteit van Stellenbosch het 'n ongelukkige verlede van Afrikaans en Afrikanerhegemonie. Die transformasieprojek is goed op koers, maar nog nie voltooi nie. Intussen is veral die 'ouer garde' ontstoke en verlang met heimweë na hul ou Afrikaanse /Afrikaner-heimat. Daardie dae is verby.

    Maar, bygesê, het hierdie nuwe petalje oor geforseerde Afrikaans in 'n koshuis(e) niemand enige guns bewys nie. Dis bloot laf en die administrasie moet dit hokslaan voordat dit enige verdere skade kan doen. Natuurlik het die 'behoudendes' onmiddellik van hulle laat hoor en het hul mondstuk, Die Burger, dit wyd rugbaar gemaak in hoofopskrifte. Die rektor, die Senaat en die ganse administasie word nou van voor af beskuldig van taalrassisme en die DA verkla die Universiteit nou by die Menseregtekommissie.

    Prof. Jonathan Jansen tweet: "The day I believe the DA is serious about mother tongue (Afrikaans) at Stellenbosch is the day I see them agitating for the teaching of mother tongue (isiXhosa) in the schools & universities of the Western Cape. Until then, their political visits to SU counts as rank opportunism."

    Vir my is dit 'n tipiese geval van oorreaksie en 'overkill', waar die een wat die hardste skreeu hoop om aandag te kry. Miskien 'n desperate kreet van'n desperate groep?

    Opsommenderwys, net dit:
    - Die US moet toeganklik bly vir alle taalgemeenskappe, waarvan Afrikaans een is.
    - Voorgraads kan jy eksamens skryf in enige taal van jou voorkeur (Afrikaans, Engels en isiXhosa).
    - Die hoof-doseermedium is Engels wat as lingua franca dien, en tolkdienste en verduidelikings in Afrikaans is beskikbaar op aanvraag.
    - Nagraadse studies (met enkele uitsonderings) en veral M- en PhD-verhandelings wat internasionaal deur portuurgroepe geëvalueer en gepubliseer word, is uiteraard in Engels.

    Die vraag ontstaan: Is daar al 'n opname onder alle (nie net Afrikaansprekende) studente gedoen om hul opinies te kry oor hul taal-/tale-voorkeur waarin studente bedien moet word?

    Ek sal my hoed opvreet as die oorgrote meerderheid nie by verre ten gunste van Engels as algemene spreektaal is nie. Die ouer mense moet gewoon bykom.

  • Hierdie skrywes is meestal ver bo die koppe/vuurmaakplek van lede van die US-"bestuursbende."
    Twyfel of enige van hulle al een van Elsa Joubert se romans, of Antjie Krog se digbundels onder oë gehad het.
    Met die dat hulle so die lere na internasionale ranglyste klim, kan daar tog seker nie tyd vir ligsinnighede soos die lees van boeke wees nie?
    Breyten jy stel te hoë eise aan die intelektuele "armes van gees".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top