US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

  • 10

...
Dis duidelik dat die Stellenbosch University- (SU-) ruimtes by die dag meer en meer toksies raak.
...

Dis duidelik dat die Stellenbosch University- (SU-) ruimtes by die dag meer en meer toksies raak. Ek was glad nie verbaas toe ek lees oor vrouestudente wat glo by die Minerva- en Irene-dameskoshuise gesê is dat hul nie daar mag Afrikaans praat nie.

Maar tog is ek terselfdertyd net dankbaar vir die feit dat die dames nie soos sementbekke gehoor gaan gee het aan hierdie verkrampte taalbeleid van SU nie. Hoe lank geskied hierdie nonsens nie nou al nie, en hoe baie van ons studente was dalk net te bang om uit te kom en stem dik te maak oor hierdie diskriminerende gedrag teenoor ons as Afrikaanssprekendes?

Ek het toevallig verlede jaar dieselfde tipe storie gehoor by ’n student wat ’n mentor by die Irene-dameskoshuis was. Sy het vertel van hoe daar eenkeer ’n samekoms was, en toevallig was daar toe nou ’n klompie nie-Afrikaanssprekendes wat saam gesels en ’n groepie Afrikaanssprekende wat saam gekuier en gethetha het!

Na ’n hele tyd het die nie-Afrikaanssprekendes se gesprek droog geloop en daar was toe ’n hele naarheid oor die feit dat die Afrikaanse groep hul gesprek terdeë geniet. Die student het vertel dat daar toe later ’n vergadering byeengeroep is nadat een van die studente ’n klag ingedien het omdat sy uitgesluit gevoel het .

Nou kyk, mens verstaan mos nou die redenasie wanneer daar vir jou gesê word dat daar eerder Engels gepraat moet word tydens formele aktiwiteite, want natuurlik sal almal mos nou nie Afrikaans verstaan nie. Maar aan die ander kant, en spesifiek wanneer mens nou kyk na hierdie kleiner mentorgroepies wat tydens die verwelkomingsperiode op koshuise gevorm word, dan moet mens die feit in ag neem dat nie almal wat pas hulle voetjies op universiteit kom sit het, Engels magtig is nie.

Ek onthou verlede jaar as nuweling in my koshuis het my mentor vir my gesê dat ek meer as welkom is om my kommentaar of vrae in Afrikaans voor die res van die groep te vra; hy sal my dan in Afrikaans beantwoord. Maar terselfdertyd het hy dit wat gesê is, in Engels opgesom sodat die res van die groep wat nie Afrikaans verstaan nie, net kan weet dat ons darem nou nie van hulle gestaan en skinder het nie – as jy snap wat ek bedoel. En niemand het ’n probleem daarmee gehad nie.

So, dis nie asof dit godsonmoontlik is om vir eerstejaars te sê luister, as jy ’n bietjie sukkel met Engels, of as jy gemaklik is om in jou moedertaal iets te vra en ek kan dit verstaan, is jy meer as welkom om dit so te doen nie. Maar dan is die vraag ook natuurlik, is die mentors en HK bereid om so iets te doen? Is hulle bereid om dus inklusiwiteit op ’n gepaste wyse te laat voortstreef in plaas van hamer op die SU-ideologie dat Engels inklusiwiteit bevorder?

...
Hoe de hel kan eentaligheid inklusiwiteit bevorder? Uit watter woordeboek kry hulle daai snert?
...

Hoe de hel kan eentaligheid inklusiwiteit bevorder? Uit watter woordeboek kry hulle daai snert?

Wat seker my moer die meeste strip oor hierdie hele ding, is die feit dat die vrouestudente glo ook gesê was dat hulle ook nie Afrikaans ná formele aktiwiteite mag praat nie – dis nou byvoorbeeld in jou eie tyd en ruimte met jou eie vriende en ouers. Hoe blerrie belaglik! Betaal ek dan nie om ’n inwoner van hierdie koshuis te wees nie?

...
Hoe blerrie belaglik! Betaal ek dan nie om ’n inwoner van hierdie koshuis te wees nie?
...

Behoort die spasie dus dan aan jou dat jy nou voel jy het die reg om vir my te sê dat ek nie die reg het om my reg op taalvryheid uit te leef nie? Absolute onsin. Kyk, dis nou vir jou diskriminasie op ’n ander vlak.

Toe SU met die aanvaarding van hul 2016-Taalbeleid Afrikaans uitskop, het hul reeds een van ons as Afrikaanssprekendes se regte ontneem. Met hierdie nuutste kwessie word daar nou duidelik ook teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer op grond van hul taal en kulture, wat absoluut absurd is!

Natuurlik moet mens ook die bestuur van SU hiervoor blameer en verantwoordelik hou. Want hulle is die mense wat hierdie belaglike taalbeleid saamgestel het om blykbaar “meertaligheid en inklusiwiteit te bevorder”.

Nou ja, dis mos nou so duidelik soos flippen daglig dat met hierdie kwessie was daar meertaligheid en inklusiwiteit te siene. Ek meen, is die universiteit nie veronderstel om sy studenteleiers goed op te lei oor hul beginsels, waardes, maar belangriker, hul sogenaamde inklusiewe beleide nie?

Hoekom as die taalbeleid dan nou hamer op die feit dat Engels gepraat moet word gedurende formele aktiwiteite (wat ons maar volg om die beleid te gehoorsaam), word eerstejaars dan gesê dat hul ook nie ná formele aktiwiteite Afrikaans mag gebruik nie? Waar in die taalbeleid staan dit?

Daar is mos duidelik teenstrydigheid wat hier aan die gang is. Die Taalbeleid sê die een ding, maar die aksie is heeltemal van die pad af. Nou hoe en vir wat is daar dan nou sodanig ’n taalbeleid as die ding nie eers kop toe gevat word nie? Die ding is mos juis daar gestel sodat dit ook prakties uitgevoer moet word, dan nie?

Ons studente se regte was hier weer eens van hul ontneem, en SU voel duidelik nie eens jammer oor die gebeure nie. Daar was tot op hede nog nie ’n apologie van SU aan hierdie jong siele nie en dit is jammer, maar dit wys ook ongelukkig hoe min daar van Afrikaanssprekendes gedink word.

...
Daar was tot op hede nog nie ’n apologie van SU aan hierdie jong siele nie en dit is jammer, maar dit wys ook ongelukkig hoe min daar van Afrikaanssprekendes gedink word.
...

Verbeel jou dit was Open Stellenbosch wat hul bek gerek het oor die feit dat HK-lede, mentors of wie ook al vir hulle gesê het dat hul nie Engels of enige ander inheemse taal in hul vrye tyd buite op die Minerva-rusbankie in die tuin mag sit en praat nie.

Maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag.

Aluta Continua Maties!

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Lees ook:

Nuwe taalstorm oor Afrikaans by Universiteit Stellenbosch

Gees van die US se taalbeleid “verkeerd geïnterpreteer”

"Herskep Afrikaans": Neville Alexander-gedenklesing 2020

Fotoblad: ATR-Kokertoekennings 2019

  • 10

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Goor om te hoor, William, maar die abjater-administrasie by die US se kutteltjies rakende inklusiwiteit is soos ʼn ulkus in die oor. ʼn Soortgelyke agterstevoor verdigsel is die fundamentalistiese siening dat die “boerka-verbod” in Switserland op onderdrukking van vroueregte neerkom. Gepraat van die versluiering van vroueregte en gaslighting: dit is sinvol om kennis te neem van die onlangse uitspraak rakende die sogenaamde SLAPP-suit.

  • Gustaf Claassens

    Jy het moeite gedoen en hier kom skryf wat baie dink en voel, William Sezoe. Dis so nodig, want word dit nie gedoen nie, dink die klomp taal-hensoppers dat almal hulle agterlike taalbeleid steun. Welgedaan en hou jou pen vol ink.

    Ek dink hierdie woorde van Breyten Breytenbach jare gelede, rond jou stuk mooi af: “Dis maar net my taal. Niemand anders kan hom praat nie. Niemand kan hom verstaan nie. Ek bedoel: my taal is vir my so ’n intieme dimensie dat ek my net nooit daarvan kan losdink nie. Dis of dit in my vasgelê is deur daardie jeugjare van my, daardie jeugervaringe, daardie Afrikanerskap, die Afrikanertaal en als wat daarmee saamgaan, daardie ritme, daardie manier van praat in die Kaap. Afrikaans is jou droomwêreld ..."

  • William, jy vat die gevoel teenoor Stellenbosch Uniformity raak. Kom ons kyk hoe lank dit neem voordat die woke-brigade jou ideologies probeer toespin.

  • Dankie vir studente soos jy en ook die dames. Daar is ander universiteite wat anderstaliges kan huisves. Om reeds onderrigtyd in te kort met herhalings of opsommings in Engels beroof julle van waardevolle kennisoordrag in die taal van jou keuse. Waarmee is die bestuur van Stellenbosch besig, die tweede Engelse universiteit in die Wes-Kaap?

  • Ek glo daar is meer studente in die Wes-Kaap wat Afrikaans as huistaal praat.

    Wat nou van die wie se huistaal Engels is? Natuurlik is daar UCT wat eksklusief Engels is.

  • Willem van Vuuren

    Naamveradering voorstel: The Unidiversity of Stellenbosch. Uniligualism for the sake of diversity!

  • Willie Oosthuizen

    Dit gaan nie oor taal nie , dit gaan oor die ANC se onvermoë om die Wes-Kaap polities te wen. Daarom ondermyn hulle elke instansie wat hulle nasionaal kan beinvloed. Waarom neem die studente wat Afrikaans wil bevorder en werklike inklusiwiteit wil bevorder nie die kampus politiek oor nie.

  • William.
    Dankie dat jy jou sê sê en nie huiwer om aan alle Maties te toon hoe om "nie jou bek te hou" oor dinge wat verkeerd is nie.
    Te lank is gesteun op Oud-Maties se menings oor die "Taalkwessie"... Jou stem as jong koshuisstudent val beslis nie op dowe ore nie.
    Ons salueer jou eie mening.

  • Dankie vir al die ridderlikhede teenoor die US se liederlikhede. As destydse musiekdosent en samesteller van die gedenkboek vir die Konservatorium se 100 jaar (2005) het navorsing oor die vroeë jare van die instansie getoon dat taalverskeidenheid vanselfsprekend was. Jannasch was 'n Duitssprekende sendeling-kind van Mamre, en Endler 'n Oostenryker. Daar was 'n wilde verskeidenheid ander "uitlanders" wat die Musiekdepartement opgebou het tot 'n wêreldklas instansie. Jannasch se raad aan 'n orrelstudent: "Mein Kind, you must begelei your gemeente with jou voete ..." En almal het verstaan ... sonder die ewige inmenging van vandag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top