"Herskep Afrikaans": Neville Alexander-gedenklesing 2020

  • 3

Die Historium

Die Afrikaanse Taalmonument en -museum het op 10 Oktober 2020 die Neville Alexander-gedenklesing aangebied in die Historium langs die museum in Pastoriestraat in die Paarl.

Die Afrikaanse Taalmonument

Vanjaar is die Taalmonument 45 jaar oud, iets wat luisterryk gevier sou gewees het as Covid nie ’n stokkie daarvoor gesteek het nie. Nou, met vlak 1 wat byeenkomste weer moontlik maak, is die viering verklein en gekombineer met die Neville Alexander-gedenklesing. Daar word ook jaarliks eerbewyse oorhandig in Alexander se naam. Hierdie jaar is daar boonop ’n spesiale prys toegeken; later meer hieroor.

Poenankies!

Die Historium is versier met vlaggies wat verskillende woorde uit Afrikaans se wye register vertoon, woorde wat ook die komvandaan van ons taal vier.

Chantelle de Kock

Gaste is verwelkom deur Chantelle de Kock, kurator van die Afrikaanse Museum. Sy het genoem dat die opening van die Taalmonument 45 jaar gelede omstrede was, omdat die meeste sprekers van Afrikaans nie toegelaat is om dit by te woon nie.

Dit het verander. Die bestaande raad van die monument werk baie hard om Afrikaans inklusief te maak, ook om ander tale by die Taalmonument te verwelkom.

Die Afrikaanse Taalmuseum

Die Taalmonument en -museum se raad bestaan uit agt lede, sê De Kock, soos die Genootskap van Regte Afrikaners ook destyds uit agt lede bestaan het. Die verskil is dat die huidige raad verteenwoordigend en verwelkomend is van alle sprekers en variante van Afrikaans.

Elvis Saal

Elvis Saal, ’n hoogleraar by Unisa en die voorsitter van die raad, het daarna die Neville Alexander-gedenklesing gehou. Saal is die voorsitter van die Taalmonument en -museum se raad.

Die geleentheid het streng volgens Covid-protokolle plaasgevind, met sprekers wat hulle maskers op pad na die podium afgehaal het. Saal het op ’n ligte noot begin deur te sê dit voel vreemd dat iemand nie vir hom sê “Unmute your mic” nie.

Daarna het hy aangesluit by De Kock en gesê as ons nie die seer van die verlede aanvaar nie, sal ons nie ’n mooi toekoms vir Afrikaans kan bou nie. Neville Alexander het egter onwrikbaar geglo dat Afrikaans die taal van versoening kan word, en Saal wil daardie visie huldig, soos die res van die raad.

Die Neville Alexander-gedenklesing 2020

Elvis Saal sê Alexander se opdrag was: “Herskep Afrikaans.”

Wat sou dit beteken?

’n Deel van herskepping sou die omarming van Kaaps en Gariepafrikaans wees, maar “herskep” gaan dieper. Om te herskep, moet ons ook Afrikaans dekolonialiseer. Die muur tussen “straat” en “standaard” moet afgebreek word.

Dit help nie ons aanvaar ’n paar woorde uit die ander variante en sluit dan “verkeerde” Afrikaans uit sekere ruimtes uit nie. Dit help nie ons aanvaar ander variante as “informeel” en laat hulle nie toe in die meer formele sfere nie.

Om Afrikaans te herskep, moet die hegemonie van die koloniale orde uitgedaag word. Die ruimtes waar die sogenaamde standaard heers, moet ook plek maak vir ander variante.

...
Adam Small het die hegemonie van die letterkunde uitgedaag deur die taal van “stigma” te gebruik om letterkunde te skryf.
...

Saal noem Adam Small as ’n vroeë voorloper in hierdie verband. Hy het die hegemonie van die letterkunde uitgedaag deur die taal van “stigma” te gebruik om letterkunde te skryf. Small se rebellie het nie bloot Kaaps in ruimtes van bevoorregting ingedra nie, dit het ook deure oopgemaak vir ander wat nou vreesloos in hulle eie variante kan skryf. Peter Snyders is as voorbeeld genoem.

Toe, in die jare tagtig, saam met die hoogtepunt in die stryd teen apartheid, het daar ook weer ’n opbloei gekom in die besef dat Kaaps ’n demokratiese alternatief kon word vir die standaard.

So kon Loit Sôls, Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal toe later hulle plekke oopskryf in die literêre ruimte, en dit in Kaaps.

...
Gariepafrikaans is in literêre ruimtes verteenwoordig deur skrywers soos Thomas Deacon, Hans du Plessis en selfs Jan Spies.
...

Gariepafrikaans is in literêre ruimtes verteenwoordig deur skrywers soos Thomas Deacon, Hans du Plessis en selfs Jan Spies; hulle het elkeen op hul eie manier die variant in die dominante literêre domein ingeskryf.

Vandag is daar koerante soos die Son wat ’n mediaruimte binnedring in Kaaps, terwyl sepies soos Arendsvlei en Suidooster die uitsaaimedia gebruik om die muur tussen standaard en straat af te breek.

Deur variante van Afrikaans in ruimtes te laat invloei wat tevore slegs vir Standaardafrikaans behou is, legitimeer dit die sprekers van daardie Afrikaans.

Die variante verryk ook die standaard. Dink aan die beeldryke Afrikaans van Afrikaaps, Meet Joe Barber, die musiekspele District Six en Ghoema, die werk van Brasse van die Kaap, HemelBesem, Jitsvinger en Vito.

Dié legitimering van ander variante skuif nie die standaard weg nie. Die twee loop hand aan hand. Tog besef ’n mens dat dit lank sal neem vir die hof om byvoorbeeld Kaaps formeel te gebruik, of om aan die begin van TV-nuus te hoor: “Aweh, ma se kind! Hies’ie nuus nou!”

Dit gebeur reeds dat normgewende instansies soos die AWS en WAT mure begin afbreek deur woorde uit die variante op te neem. Is dit egter genoeg? Leerders word steeds gepenaliseer op skool as hulle legitieme konstruksies soos “pa-goed”, “hulle se mense” of “hom oë” gebruik. Dit maak dat daardie leerders se kreatiewe denke gestrem word. Hulle kan nie skryf soos hulle praat nie. Die onderwyser word egter gedwing om die rooi pen uit te haal, want selfs al is die opvoeder simpatiek teenoor die variant, sal daar in graad 12 gemerk word deur iemand wat gewoon punte sal aftrek en só die leerder sal penaliseer.

Dit bring ons by die vraag hoe ons die variante se grammatika kan legitimeer om sprekers en skrywers daarvan ter wille te wees.

...
Alle monumente is deesdae kontroversieel – dink gewoon aan die beweging rondom #RhodesMustFall.
...

Saal sluit af deur te waarsku dat Afrikaans verder moet kyk as bloot ons eie taal en ons eie variante, veral as ons na die Taalmonument kyk wat vanjaar 45 jaar oud is. Alle monumente is deesdae kontroversieel – dink gewoon aan die beweging rondom #RhodesMustFall. Die Taalmonument mag dalk reeds vir alle Afrikaanssprekendes toeganklik wees, maar wat van ons ander inheemse tale?

In die lig van versoening moet Afrikaans ook uitreik na die ander amptelike tale in die land en ruimtes soos die Taalmonument en -museum moet aktief beskikbaar gestel word vir ander tale. Afrikaans leef nie in ’n vakuum in Suid-Afrika nie.

...
Erkenning dat Afrikaans nie begin het met Van Riebeeck nie, maar lank voor dit, is reeds ’n belangrike stap na die dekolonialisering van ons taal.
...

Dan is daar ook die kwessie van die inheemse tale wat nie amptelik erken word nie. Die Taalmuseum doen baie om erkenning te gee aan die bydraes van die Khoi en die slawe se tale in die totstandkoming van Afrikaans. Erkenning dat Afrikaans nie begin het met Van Riebeeck nie, maar lank voor dit, is reeds ’n belangrike stap na die dekolonialisering van ons taal.

Al hierdie aksies dra by tot Neville Alexander se ideaal om Afrikaans vir versoening te gebruik.

Sang

Ná die lesing het Neels Moir ’n sangitem gelewer.

Neels Moir

Oorhandiging van die eerbewyse

Die Afrikaanse Taalmonument en -museum ken jaarliks twee eerbewyse toe in die naam van Neville Alexander. Die een gaan aan ’n instansie wat ’n belangrike bydrae lewer tot Afrikaans, en die ander aan ’n individu.

Michael Jonas

Michael Jonas, die direkteur van die Afrikaanse Taalmonument en -museum, vertel toe dat daar hierdie jaar, by die viering van 45ste verjaarsdag van Taalmonument, rondom hierdie mylpaal ook ’n derde toekenning gemaak word aan ’n individu wat lewenslank ’n bydrae tot Afrikaans gelewer het. Die volgende sodanige eerbewys sal oorhandig word wanneer die 50ste bestaansjaar van die Taalmonument gevier word.

Riana Dempers

Riana Dempers het die eerbewys vir die instansie aangekondig.

Dit is oorhandig aan die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Stuart van Wyk

Stuart van Wyk het die prys namens die SBA in ontvangs geneem. Die geld gaan gebruik word om ’n skryfprojek van die SBA te befonds.

Michelle Thorpe

Michelle Thorpe het die eerbewys vir die individu aangekondig.

Dit het gegaan aan Gaireyah Fredericks, ’n skrywer wat ook baie doen om jong skrywers op te lei.

Gaireyah Fredericks

Fredericks het aangedui dat die prysgeld haar sal help om studente wat tydens Covid aanlyn by haar studeer het, af te rond.

Stuart van Wyk het daarna die spesiale eerbewys aangekondig vir die persoon wat ’n lewensbydrae tot Afrikaans gemaak het.

Die prys is oorhandig deur Elvis Saal, voorsitter van die Afrikaanse Taalmusuem en -monument

Dié keer is dit toegeken aan Michael le Cordeur.

Michael le Cordeur

Le Cordeur het gesê hy gaan sy geld aan die Distrik Ses Museum skenk.

Vele tongvalle, een taal

Die jonger garde het toe spreekbeurte gekry. Michael Jonas het ’n paneel jong Afrikaanses gevra oor veeltaligheid in Afrikaans – hoe sien hulle dit? “Vele tongvalle, een taal” was die titel van die gesprek.

Vele tongvalle, een taal

Die paneel het bestaan uit William Sezoe, ’n voorgraadse student en radio-aanbieder, Giselle Botha, ’n nagraadse student, en Monn-Lee Geduld, ’n onderwyser.

Giselle Botha

Botha het begin deur te sê dat daar verskeie maniere is om as Afrikaanse persoon uit te reik na ander. Sy probeer byvoorbeeld Frans praat met van die karwagte, maar noem ook dat ’n mens moeite kan doen om tale soos Xhosa te probeer verstaan, al kan jy nie self antwoord in Xhosa nie. Engels is ’n opsie om sodanige gesprekke te help fasiliteer, maar Engels word ook in haar oë misbruik aan die Universiteit Stellenbosch om nie veeltaligheid aan te moedig nie.

William Sezoe

William Sezoe het dit ook baie duidelik gestel dat die Universiteit Stellenbosch se Engelse klasse dit vir hom en baie ander studente moeilik maak. Veeltaligheid is volgens hom nie ’n groot realiteit op kampus nie. Daar is wel dienste, soos die fluistertolke, wat aan studente beskikbaar gestel word, maar dan is die notas dikwels nie vertaal nie. Sezoe erken dat dit soms vir dosente moeilik sou kon wees om groot groepe studente in meer tale te bedien, maar wys toe daarop dat daar tydens inperking dosente was wat hulle lesings in Afrikaans én Engels op die internet beskikbaar gestel het.

Monn-Lee Geduld

Monn-Lee Geduld, ’n hoërskoolonderwyser, sê dat daar in die keuse van voorgeskrewe werke gans te min aandag gegee word aan Kaaps of aan Gariepafrikaans. Die kurrikulum is só eng dat daar bitter min tyd is om die leerders in die klaskamer aan die variante van Afrikaans bloot te stel. Die opvoeder moet uiteindelik ekstra werk inbou in ’n reeds vol kurrikulum om so iets moontlik te maak. Gebeur dit wel, doen dit baie vir Afrikaanse leerders wat hulle eie stemme in die klaskamer hoor, sê Geduld.

Nadat die gehoor die geleentheid gegun is om vrae te vra, is die gesprek afgesluit.

Lees ook:

Video: "Die toekoms van Kaaps"-webinaar

Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat

Video: NP Van Wyk Louw-gedenklesing ‒ Jeremy Vearey (18 Junie 2020)

Teks en fotografie: Izak de Vries

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Chantelle de Kock, die kurator van die Afrikaanse Museum, beweer "dat die opening van die Taalmonument 45 jaar gelede omstrede was omdat die meeste sprekers van Afrikaans nie toegelaat is om dit by te woon nie." Dit is inderdaad so dat die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes, wit en bruin, nie by daardie gebeurtenis teenwoordig was nie. Maar wat sy waarskynlik bedoel, is dat bruin mense nie by die opening toegelaat is nie. Dit word egter weerspreek in "Die Afrikaanse Taalmonument: Van konsep tot gestalte," 'n publikasie wat op die ATM-webwerf beskikbaar is. "Verskeie bruin skrywers en verteenwoordigers van ander sektore van die bruin gemeenskap [is] genooi en 'n beduidende aantal van hulle, asook groot getalle bruin skoolkinders, het die verrigtinge bygewoon" (bladsy 8).

  • Johannes Comestor

    Daar word beweer dat die ATM-raad van agt lede verteenwoordigend van Afrikaanssprekendes is. Maar daar dien net een of twee wit mense in hierdie raad. Is dit verteenwoordigend? Op die ATM-webwerf is daar 'n foto van die personeel. Daar is blykbaar net enkele wit mense. Is dit verteenwoordigend? Kyk na die teks en foto's hierbo. Wit mense is die uitsonderings. Is dit naastenby 'n spieelbeeld van Afrikaanssprekendes? My indruk is dat wit mense (doelbewus) deur die ATM gemarginaliseer word. Is dit deel van die dekolonisering van Afrikaans waarvan Elvis Saal melding maak? Is dit taalkundig sinvol om Christo van Rensburg se stelling te herhaal dat Afrikaans 'n halfeeu voor 1652 ontstaan het, of behoort ons ons eerder af te vra of dit nie (bloot) 'n uitdrukking van politieke byderwetsheid is nie? Wit mense het ongetwyfeld die grootste bydrae tot Afrikaans gelewer en hulle is sekerlik die lojaalste ondersteuners van Afrikaans. Die artikel hierbo wek 'n heeltemal ander indruk.

  • Leopold Scholtz

    As ek reg onthou, was daar wel deeglik 'n kleinerige groep Afrikaanse bruin mense by die opening van die Taalmuseum teenwoordig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top