Studenteprotes: ’n tydbom wat gewag het om te ontplof

  • 0

Foto’s: Unsplash.com

.........

Studente by Wits het die afgelope paar dae betoog teen die finansiële en akademiese uitsluiting van arm studente. Hulle het Donderdag ’n optog gehou na die ANC se hoofkwartier om die regerende party te herinner aan ’n ANC-resolusie wat gratis onderwys aan armes beloof het.

..........

Die afgelope week se studentebetogings by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) wat die lewe van ’n onskuldige omstander geëis het, is ’n tydbom wat geruime tyd al wag om te ontplof.

Aan die wortel van die probleem lê die leë beloftes van die ANC wat sedert 1994 om verskeie redes nie nagekom kan word nie.

Studente by Wits het die afgelope paar dae betoog teen die finansiële en akademiese uitsluiting van arm studente. Hulle het Donderdag ’n optog gehou na die ANC se hoofkwartier om die regerende party te herinner aan ’n ANC-resolusie wat gratis onderwys aan armes beloof het.

Die dood van die 35-jarige Mthokozisi Ntumba wat onskuldig in die skermutseling tussen die polisie en studente doodgeskiet is, is ’n vingerwysing na ’n veel groter probleem as studentebetogings en polisiebrutaliteit. Die vinger wys direk na die ANC wat die armes oor die jare heen heuning om die mond smeer met valse en onuitvoerbare beloftes.

.........

Die dood van die 35-jarige Mthokozisi Ntumba wat onskuldig in die skermutseling tussen die polisie en studente doodgeskiet is, is ’n vingerwysing na ’n veel groter probleem as studentebetogings en polisiebrutaliteit. Die vinger wys direk na die ANC wat die armes oor die jare heen heuning om die mond smeer met valse en onuitvoerbare beloftes.

...........

Donderdag se gebeure, waar ’n onskuldige eggenoot en pa van ’n vierjarige kleuter deur die polisie doodgeskiet is nadat hy, ironies genoeg, sy dokter in ’n kliniek besoek het, bewys opnuut dat geen Suid-Afrikaner veilig is nie, selfs al is hulle nie in ’n konfrontasie met die polisie gewikkel nie.

Die dood van die gestremde 16-jarige Nathaniel Julius wat Down-sindroom gehad het en in Augustus verlede jaar enkele meter van sy huis deur die polisie doodgeskiet is, lê immers nog vars in die geheue.

Om die blaam voor die betogende studente of die polisie se deur te lê mag dalk die aandag vir die oomblik aflei van die werklike probleem, maar dit spreek nie die oorsaak daarvan aan nie.

Dit laat die vraag wie dan wel die blaam moet dra vir die afgelope week se studentebetogings by Wits en die tragiese gevolge daarvan. Is dit die oproerige studente se skuld, die skietlustige polisie s’n, of moet die blaam dalk veel dieper gesoek en voor die deur van die ANC gelê word?

Die reg op vreedsame protes is ’n onvervreembare reg in ’n demokratiese Suid-Afrika wat in ons land se Grondwet verskans word. Om al die blaam voor die studente se deur te lê sou ’n oorvereenvoudigde en onbillike beoordeling van die situasie wees.

Dat die polisie olie op die vuur gooi met hulle hardhandige en skietlustige optrede is ook ’n feit soos ’n koei. Jane Duncan, skrywer van die boek Protest nation: the right to protest in South Africa, skryf in ’n meningsartikel wat dié week in The Conversation verskyn, dat Suid-Afrika ’n lang en sterk tradisie van vreedsame protes in die stryd teen apartheid het.

In die jare na 1994 is hierdie tradisie in ’n demokratiese Suid-Afrika voortgesit deur veral studente-aktiviste en vakbonde, Nuwe navorsing toon volgens Duncan egter al hoe meer ’n onversetlike houding van owerheidskant teen vreedsame betogings.

Selfs ’n onlangse hofuitspraak deur die Konstitusionele Hof wat die reg van vreedsame protes bevestig, kon nie daarin slaag om te verhinder dat sulke optogte as ’n bedreiging beskou word eerder as ’n demokratiese reg nie.

Die wortel van die probleem moet egter veel dieper gesoek word as by die studente se protesoptogte en die polisie se hantering daarvan. Dit lê by die onuitvoerbare beloftes waarmee die ANC die armes in die land al dekades lank mee heuning om die mond smeer terwyl hulle self besig was om die staatskoffers leeg te plunder.

.........

Universiteite regoor die land moet reeds die rieme dunner as dun sny om hulle skamele begrotings te laat klop. Daar is geen kans dat daar van universiteitskant enige verdere hulp kan kom om die studente se eise aan te spreek nie.

..........

Universiteite regoor die land moet reeds die rieme dunner as dun sny om hulle skamele begrotings te laat klop. Daar is geen kans dat daar van universiteitskant enige verdere hulp kan kom om die studente se eise aan te spreek nie.

By Wits is ongeveer 27 000 van die universiteit se 37 500 studente afhanklik van een of ander vorm van finansiële subsidiehulp of van beurse. Die universiteit self administreer reeds elke jaar R1 miljard se finansiële bystand in een of ander vorm.

Die enigste ander moontlike bron is die staatskas. Maar daardie fonteintjie het ook opgedroog. Enige moontlikheid dat daar dalk nog water uit daardie droë fontein getap kon word, het met die koms van die COVID-19-maatreëls soos water in die woestyn verdamp.

Soos gewoonlik het die afgelope week se gebeure by Wits, ondanks die leë fonteine, tot nuwe beloftes gelei. Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, het Donderdag onder druk beloof om die studente te help met geld wat hy nie het nie.

Nadat hy eers bakhand by die tesourie gaan aanklop het en meegedeel is daardie beursie is dolleeg, moes hy hand in die hare nuwe planne maak, want beloftes maak skuld.

Die enigste manier waarop hy enigsins kan probeer om op een of ander manier van sy beloftes na te kom, is om elders in sy departement drastiese besnoeiings aan te bring, maar nugter weet waar hy gaan besnoei.

Vrydag moes die ANC se top ses amptenare in aller yl met Nzimande vergader om studente se probleme by hoëronderwysinstellings te bespreek en die spreekwoordelike vlamme te probeer blus voordat die kampusse regtig brand.

Die ANC se woordvoerder, Pule Mabe, sê daar is besluit om in te gryp en te help om oplossings te vind vir die probleme waarmee arm studente te doen het. Begrotingsprioriteite sal hersien moet word om broodnodige finansiering na instellings vir hoër onderwys te herlei, het Mabe gesê. Hoe hulle dít egter gaan regkry, sal net hulle weet.

Wat die afgelope week gebeur het op Wits se kampus, is die gevolg van die ANC se eie onuitvoerbare beloftes en ’n direkte nalatenskap van Jacob Zuma voordat hy teen sy sin uit sy presidensiële stoel geskop is.

.........

Wat die afgelope week gebeur het op Wits se kampus, is die gevolg van die ANC se eie onuitvoerbare beloftes en ’n direkte nalatenskap van Jacob Zuma voordat hy teen sy sin uit sy presidensiële stoel geskop is.

..........

Gratis tersiêre onderwys was immers een van Zuma se laaste ydel beloftes voordat hy dit soos ’n warm patat in sy opvolger se skoot gegooi het in ’n poging om die guns van die armes te wen.

Waar die geld vandaan moet kom om hierdie beloftes te vervul, weet niemand nie, want die geld daarvoor bestaan eenvoudig nie. Nzimande het Donderdag tydens ’n nuuskonferensie gesê die kabinet het besluit hy moet sy departement se begroting herstruktureer om daarvoor te betaal. Daar bestaan egter geen duidelikheid waar hy die geld gaan afknyp en hoe dit in elk geval naastenby genoeg sal wees om aan die studente se eise te voldoen nie.

Intussen hou universiteite regoor die land, wat almal sukkel om kop bo water te hou as gevolg van die besnoeiings van hulle staatstoelae, asem op om te sien wanneer die betogings dalk ook na hulle kampusse gaan oorspoel. Die enigste sekerheid in hierdie stadium is dat enige hoop op infrastruktuurprojekte wat in die vooruitsig gestel is, weer eens onbepaald uitgestel sal moet word om te probeer vergoed vir die ANC se onhaalbare verwagtings wat by duisende studente en voornemende studente geskep is.

Die president van die Wits-studenteraad, Mpendulo Mfeka, het reeds gesê hulle sal aanstaande week ’n hofaansoek indien om te verseker dat gratis, kwaliteitonderrig ’n werklikheid word, en daar kan verwag word dat nog universiteite hulle voorbeeld sal volg.

 

Lees ook:

Open Stellenbosch: The elephant in the room

Open Stellenbosch: Beyond the rainbow, towards a change of climate

Open Stellenbosch: Academic imperialism at Stellenbosch and in higher education

 

Die impak van COVID-19 op studente en tersiêre instellings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top