US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

  • 6

Danie van Wyk (foto verskaf)

Die Franse Hugenote het in die 1600’s en 1700’s na Kaap de Goede Hoop gevlug ná die terugtrekking van die Edik van Nantes wat hul godsdiensvryheid as Protestante gewaarborg het. Grond is aan hulle bewillig, waar hulle hulle as setlaars hoofsaaklik in die omgewing van die huidige Franschhoek gevestig het.

Die besluit van die Here XVII was dat hierdie Franse immigrante so spoedig moontlik moes verhollands. Daar was ook spoedig ontevredenheid onder die Franse setlaars omdat gesamentlike godsdiensbeoefening en ’n gemeenskaplike skool vir hulle onmoontlik gemaak is deur die owerhede aan die Kaap. Dit was duidelik dat die Here XVII die Franse taal so gou moontlik wou laat uitsterf. Kerkdienste moes slegs in Nederlands gehou word, want die enigste amptelike taal was Nederlands.

Met verloop van tyd het die Franse taal die ongelyke stryd teen Nederlands verloor. Die Franse Hugenote is ont-taal die dag toe hulle verhoed en verbied is om hul taal te besig, en toe opvoedingsgeleenthede in hul moedertaal ontsê is. Frans was op daardie tydstip reeds ’n hoogs ontwikkelde taal wat groot bydraes kon gelewer het tot die algemene ontwikkeling aan die Kaap, sou dit die geleentheid gegun was. Frans het min neerslag gevind in Afrikaans en word vandag slegs in die plaasname in die Boland en in die vanne van baie Suid-Afrikaners herken. Die Hugenotemonument en die Hugenotegedenkmuseum is op dieselfde perseel in Franschhoek opgerig om die Franse se nalatenskap te eer en te gedenk.

.........

Die krag van taal kan en mag nooit onderskat word nie. In die meer onlangse verlede was die burgeroorlog in Sri Lanka, wat in 2009 geëindig het, grootliks veroorsaak deur die daarstelling van taalbeleide wat tot taalverwydering tussen etniese en taalgroepe gelei het.

.........

Die krag van taal kan en mag nooit onderskat word nie. In die meer onlangse verlede was die burgeroorlog in Sri Lanka, wat in 2009 geëindig het, grootliks veroorsaak deur die daarstelling van taalbeleide wat tot taalverwydering tussen etniese en taalgroepe gelei het. Engels was as die enigste amptelike taal verklaar, terwyl die oorgrote meerderheid mense dit nie kon verstaan of nie gebesig het nie. Die twee inheemse tale, Tamil en Sinhala, is aanvanklik nie erken as amptelike tale nie, en dit was deel van die rede vir die konflik. ’n Naoorlogse aanbeveling was dat beide Tamil en Sinhala as amptelike tale erken word en dat kinders in hul onderskeie moedertale onderrig sal ontvang en nie slegs in Engels nie.

Daar is begrip getoon en beide inheemse tale is erken as tale van geletterdheid, met Engels as ondersteuning. Die aanvaarding van ’n taalbeleid wat akkommoderend was, het grootliks gelei tot die aanvaarding van die verskille onderling, maar ook het ’n gemeenskaplikheid ontwikkel wat aanvaarbaar was vir almal. Hul taalregte word in hul grondwet erken en gewaarborg.

..........

Vandag is dieselfde scenario besig om homself af te speel by die Universiteit Stellenbosch. Die taalbeleid van die US kan in dieselfde lig gesien word as die lot wat die Franse Hugenote getref het. Die verbod op Afrikaanse studente om in Afrikaans te kommunikeer en om onderrig in hul moedertaal te ontvang, is ’n subtiele vorm van ont-taling.

...........

Vandag is dieselfde scenario besig om homself af te speel by die Universiteit Stellenbosch. Die taalbeleid van die US kan in dieselfde lig gesien word as die lot wat die Franse Hugenote getref het. Die verbod op Afrikaanse studente om in Afrikaans te kommunikeer en om onderrig in hul moedertaal te ontvang, is ’n subtiele vorm van ont-taling. Studente word arbitrêr verbied om in hul moedertaal geselsies aan te knoop en om in die algemeen met mekaar te kuier. Dit grens aan die absurde. Afrikaans as medium van onderrig is so afgeskaal dat dit onmoontlik geword het om in die taal lesings te ontvang.

Dit is interessant om te merk dat studente wat ander tale as Afrikaans praat, nie verbied word om met mekaar in hul huistaal te kommunikeer nie. Vir alle praktiese doeleindes kan byvoorbeeld Xhosa-studente dus vrylik met mekaar gesels sonder enige inmenging van die kant van koshuisbestuur. Dit op sigself is ’n diskriminerende praktyk wat tot onnodige wantroue onder studente kan lei.

..........

Dit is interessant om te merk dat studente wat ander tale as Afrikaans praat, nie verbied word om met mekaar in hul huistaal te kommunikeer nie. Vir alle praktiese doeleindes kan byvoorbeeld Xhosa-studente dus vrylik met mekaar gesels sonder enige inmenging van die kant van koshuisbestuur. Dit op sigself is ’n diskriminerende praktyk wat tot onnodige wantroue onder studente kan lei.

............

Indien dit die geval is, kan dit nie anders gesien word as openlike aggressie teenoor Afrikaanse studente en Afrikaans as taal nie. Staar Afrikaans uitwissing in die oë op die US-kampus met so ’n “totale aanslag”? Dit is die tipe vrae wat deur die gemoed van baie Afrikaanssprekers gaan. Die feit dat die US-Taalbeleid veeltaligheid voorstaan en wil bevorder, veroorsaak nou groot twyfel. Dit maak ’n verdere bespotting van ’n beleid wat meer verdelend werk as wat dit ’n gemeenskaplikheid wil skep en bevorder. Daar word nou openlik teenoor Afrikaanse studente gediskrimineer. Dit is ’n vorm van taaluitwissing, en ’n tipe taaldiskriminasie wat nie ’n tersiêre instelling met die statuur van die US tot eer strek as ’n internasionaal gerespekteerde en erkende akademiese instelling nie. Hierdie taalbeleid vervlak die universiteit se status en grens aan kleinlikheid teenoor Afrikaanse studente.

Studente se menswaardigheid word gruwelik aangetas en hul menseregte geskend. Die DAK Netwerk wil aanbeveel dat die Menseregtekommissie in hierdie verband genader word deur die geaffekteerde studente en die universiteitsowerhede dit op daardie vlak moet verduidelik. Dit gaan hier oor meer as net ’n taalbeleid. Ons kan nie toelaat dat ons weer geboelie word soos in ’n vorige politieke bedeling nie. Afrikaans is onder beleg en nou gaan dit om die regte van alle Afrikaanssprekers – wit en bruin ingesluit.

.........

Dit gaan hier oor meer as net ’n taalbeleid. Ons kan nie toelaat dat ons weer geboelie word soos in ’n vorige politieke bedeling nie. Afrikaans is onder beleg en nou gaan dit om die regte van alle Afrikaanssprekers – wit en bruin ingesluit.

...........

Afrikaans is ’n nasionale bate en moet as sulks gesien word. Niemand kan meer op die kantlyn staan en toesien hoe ’n hoogs ontwikkelde wetenskapstaal geleidelik uitgefaseer word nie. Ons vra nie vir ’n taalstryd nie, maar vir ’n bewuswording by alle Afrikaanssprekers om die taal te eien. Ook gaan ons nie op ’n kruistog nie, maar sal alle pogings aanwend, asook alle kanale tot ons beskikking benut, om ons misnoeë uit te druk en weer te gee.

Die DAK Netwerk wil studente aanraai om in hul moedertaal, of dit nou Afrikaans of Xhosa is, te kommunikeer sonder inmenging van die kant van die universiteitsowerhede. Ons is nie anti-Engels nie. Inteendeel, ons het begrip daarvoor dat Engels aangewend kan word om beter begrip onder die kampuspersoneel en studente te bewerkstellig, maar om ’n verbod te plaas op geselskap soos uitgebeeld en beweer word deur Afrikaanse studente, is verregaande en behoort iewers aangespreek te word, en daar behoort oplossings vir die klagtes gevind te word.

Die DAK Netwerk ondersteun Afrikaanse studente in hierdie verband en sal hulle van raad bedien so ver moontlik. Ook vra die DAK Netwerk vir ’n gesprek met die visekanselier en sy bestuursraad om onduidelikhede op te klaar en uit die weg te ruim. Nou is die tyd vir koel koppe en redelikheid om permanente oplossings vir komplekse uitdagings te vind.

Danie van Wyk
Voorsitter: DAK Netwerk

Lees ook:

Ont-taling

US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

From the archive, SU language debate: My thoughts on complexity and the intersectionality of change at Stellenbosch University

US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa

US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos

 

  • 6

Kommentaar

  • Theodore H Kruger

    Die "slapgat" Afrikaners is die oorsaak hiervan en dit nogal die hoofde van die Universiteit. As die Afrikaners hulle steun finansieel ook onttrek van die US, is dit totsiens US.

  • Gustaf Claassens

    Die belangrike punt hier is dat Frans sy vastrapplek geheel en al in Suid-Afrika verloor het onder die Here XVll in die Kaap. Die rede? Owerheidsinstellings van die tyd het Frans uitgesluit en Hugenote is verhoed om in hul taal hul ding te doen. Om dit net onder mekaar te kon praat, het op die lang duur nie veel gehelp nie. Presies wat in SA gebeur en waarvan Stellenbosch 'n goeie voorbeeld is. Gelukkig is almal darem nie Wim de Villiers'e en Jonathan Jansens nie. Daar's meer as genoeg trotse stryders wat sal opstaan vir gelykberegtiging van 'n uniek inheemse taal ... Afrikaans.

  • Pieter Russouw

    Ek is moeg om as Afrikaner van oorspronklike Franse Hugenote, vertrap te word om agteroor te buig om te akkommodeer. Ons sien dit daaglikse. Engelse mense wat saam met my in dieselfde tydvak gebore is, weier om Afrikaans te praat. Hulle moet op TV en oral in Engels tegemoetgegekom word. Dis eienaardig dat hulle alles verstaan wat in Afrikaans gese word; dit was mos 'n kombuistaal. Ons moet wakker word. Die tablet wat ek nou op skryf verander my woorde in Engels. My alma mater moet opstaan teen die vernederende beleid. Ons is soos van ouds, soos ons digter gese het, weer in 'n taalstryd: "Engels, alles engels wat jy sien en hoor. In ons skole en ons kerke word ons moedertaal vermoor!"

  • Nee wat Danie, jy oorreageer.
    Dit was bloot 'n dom Huiskomitee-besluit wat geensins van toepassing is op die hele kampus nie. 'n Storm in 'n teekoppie. En om hierdie insidentjie te vergelyk met die Franse Hugenote is sommer net simpel.
    Ek vermoed die beswaardes is nog broos oor Gelyke Kanse en die nuwe kanselier.
    Get over it!

  • Henri Craemer

    Ek het die artikel gelees en besluit op hierdie standpunte (wat ek ook in die Facebook comments gaan pos):

    WAT IS ANDERS NOU AS VIR DIE HUGENOTE?
    Die Hollandse regering het sekere besluite gemaak wat dit baie moeilik gemaak het vir die Hugenote om Frans te gebruik. Frans was nie 'n anptelike taal soos Afrikaans nie.
    Hulle taalregte was nie beskerm deur 'n Konstitusie nie.
    Godsdiensbeoefening is 'n massiewe ondersteuner van 'n taal se voortbestaan. Die Hugenote was dit ontneem, terwyl godsdienvryheid tans in SA gewaarborg is. By implikasie beteken dit dat die taal waarin gepreek en gedien word nie aangetas mag word nie.
    Die Hugenote het nie die juridiese middele tot hulle beskikking gehad om hulle gebruik van Frans te verseker nie. Waar Afrikaners tans hulle regte in die howe kan verdedig, kon hulle dit nie doen nie.
    WAT OM TE DOEN
    Afrikaanssprekendes moet egter nie net gaan lê en aanvaar dat alles sal regkom nie. Dis ook glad nie nodig om geweldadig te raak nie. Ek is 'n sterk voorstander van passiewe weerstand. Dit neem die vorm aan van die skaamtelose gebruik van Afrikaans in die publiek deur dit te praat en te skryf. Ek skryf tans baie meer in Afrikaans as wat ek sedert die vroeë 1980s gedoen het.
    Skaamtelose gebruik beteken glad geheel en al nie dat ek ander wil forseer om Afrikaans te gebruik nie. Ek gun alle ander moedertaalsprekers presies dieselfde regte as wat ek vir myself toeëien. Om die waarheid te sê, ek wens sprekers van ander inheemse tale doen meer om wetenskaplike terms en begrippe in hulle eie tale te ontwikkel as om bloot die "English terms" oor te neem.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top