Die klassifikasie van Afrikaans

“Terwyl mites en emosies alreeds die houdbaarheid van taalafbakening onder verdenking plaas, is die eerste kenmerk, naamlik norme, wel ’n begrip wat ’n mens in staat stel om ietwat genuanseerd en met ’n mate van objektiwiteit te kyk na hoe tale in die wêreld geklassifiseer word. By die beoordeling van hoe ’n bepaalde taal, soos Afrikaans, of ’n groep tale, soos Germaans, geklassifiseer word, moet die vraag na die norme wat toegepas word, dan voorop staan.”