Elders gesien: #Menseregtedag, eis jou taalregte op

  • 3

Foto: Jeffrey Pietersen | Afrikaanse Taalmonument

 
William Xkhoa Sezoe skryf op Facebook:
#menseregtedag Eis jou taalregte op en help verseker dat jou taal voortbestaan!

Dis eintlik vreemd om Mensregtedag te vier in Suid-Afrika terwyl nog soveel van ons regte daagliks geskend word. Een van ons mees basiese regte, ons taalregte, word nie eens deur ons eie regering erken nie, in ieder geval nie in die praktyk nie. Ná 27 jaar van demokrasie moes ons nou al aan die einde gekom het van die dekolonialiseringsproses, maar dit is duidelik dat ons meer in die rigting van ’n herkolonialiseringstaat beweeg, aangesien Engels koning kraai tot die nadeel van Suid-Afrika se inheemse tale en hul sprekers.

Ná 27 jaar is moedertaalonderrig steeds ook nie juis ’n praktyk nie, en dit terwyl die Grondwet dit vir ons belowe. Indien die regering wel meertaligheid binne ’n diverse konteks wou bevorder, sou ons teen hierdie tyd ook al handboeke en vraestelle in ons ander inheemse tale gesien het.

Prof. Wannie Carstens noem in sy boek, Die Storie van Afrikaans, dat niemand iets vir Afrikaans gaan doen as ons dit nie self doen nie. Dieselfde geld vir die ander inheemse tale. Kyk byvoorbeeld na die Khoi en San, die eerste mense van Suid-Afrika. Dit is hartseer om te sien dat daar na 27 jaar van demokrasie nog nie beweging gekom het om Khoekhoegowab as amptelike taal te erken nie.

Dit is dus duidelik dat ons regering ons as landsburgers se basiese taalregte en toegang tot moedertaalonderrig skend!

Dus lê ons toekoms en die toekoms van ons tale in ons eie hande. Ons moet self inisiatief neem, maar ons het ook die reg om die regering verantwoordelik te hou vir hul beloftes. Dit het tyd geword dat die sprekers van ons inheemse tale moet hande vat, om mekaar te help en te bevorder sodat ons sterker kan word en verhoed dat ons almal op ‘n streep verengels!

Ons het ’n keuse – ons hoef nie deel te wees van ’n herkolonialiseringsproses nie. Die antwoord lê dus in ons tonge. Maak jou stem dik en help verseker dat ons inheemse tale voortleef!

  • 3

Kommentaar

  • Judith Beneke

    Hierdie waarheid is so goed gesê, dankie vir die wat opstaan vir ons taalregte se bestaan. Moedertaalonderrig is jou basiese mensereg vir elkeen in ons land. Wat 'n tragiese rigting om ander taalregte te onderdruk, wat 'n hartseer vir elkeen se menswees. Engels het almal onder druk gehad in ons vroeë geskiedenis en Afrikaans het opgestaan vir oorlewing. Engels as 'n internasionale taal is wêreldwyd aanvaar wat ook goed is maar dit kan nie en moet nie 'n moedertaal onderdruk nie. In die tydperk soos deur die skrywer genoem was daar geen maar geen ondersteuning vir elke taal nie en dit terwyl daar so baie kundige mense is wat dit 'n lewenstaak kon maak om ander tale te bemagtig vir alle tipe opleiding. Elke taal se menseregte behoort hierdie onreg aan te spreek. Verstaan die mense in SA wat is menseregte en hoe dit werk, geen persoon mag en of kan onderdruk word nie.

  • Wilhelm Fourie

    Dit is baie goed geskryf! Die skrywer is 100% dat ons in die rigting van 'n herkoloniseringstaat beweeg.

  • Ronée Robinson

    Ek van hoe u dit stel: ons het 'n keuse en, die toekoms van ons tale lê in ons hande. Ek is ook met u dat ons nou in die rigting van 'n herkonolisasieproses beweeg. Dankie hiervoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top