US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

  • 7

Foto van Virgina Keppler: Twitter

........

Hou op asemhaal as jy Afrikaans is, maak nie saak of jy bruin, wit, Indiër of swart is nie … Hou tog net op asemhaal.

..........

Hou op asemhaal as jy Afrikaans is, maak nie saak of jy bruin, wit, Indiër of swart is nie … Hou tog net op asemhaal.

Dit kon net sowel die woorde gewees het aan vrouestudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat in die Minerva- en Irene-dameskoshuise bly. Die eerstejaars is aangesê om glad nie Afrikaans daar te praat nie, selfs nie in hul slaapkamers of op WhatsApp nie. Net Engels is aanvaarbaar.

Verkrampte twak, nè!

Al wat die leierskap van dié twee koshuise nog moes doen, was om die studente aan te sê om nie in Afrikaans te droom nie.

Gelukkig het die groep studente besef dat dit teen hul menseregte is om beveel te word om nie Afrikaans te praat nie en het hul talle klagtes ingedien, asook ’n klag by die Mensregtekommissie, wat nou die saak ondersoek. Dié soort diskriminasie mag nie geduld word nie.

Om enige mens te verbied om sy moedertaal te praat, is ’n absolute belediging, ’n klap in die gesig van jou menswees. Dit diskrimineer teen Afrikaanssprekende studente se taal en kultuur en dit spreek boekdele van die universiteit se siening van inklusiwiteit.

.........

Dit gaan oor meertaligheid, en meertaligheid is gelyk aan inklusiwiteit. Bring die Engels, Xhosa en al die ander moedertale by en laat ons dit vier en van mekaar af leer, maar moet dit nie verbied nie.

..........

Die US moet teen dié tyd besef dat sy afdwinging van Engels op Afrikaanse studente, wat die meerderheid is, inklusiwiteit uitsluit. Hulle moet besef dat dit nie hier gaan oor Engels of Afrikaans nie, want Afrikaans is klaar uitverkoop. Dit gaan oor meertaligheid, en meertaligheid is gelyk aan inklusiwiteit. Bring die Engels, Xhosa en al die ander moedertale by en laat ons dit vier en van mekaar af leer, maar moet dit nie verbied nie.

Streng gesproke kan ons teen dié tyd besef die taalstryd by die US is verlore. Engels het gewen as taal van onderrig, maar niemand het die reg om jou jou voorkeur vir Afrikaans te ontneem nie. Studente het die reg om met hul vriende van dieselfde taalgroep te gesels in hul moedertaal. Dit is jou reg.

Dit is ’n feit dat studente reeds ontnugter is deur in Engels klas te loop, veral nadat die meeste van hulle die afgelope 12 jaar in Afrikaans skoolgegaan het.

Dit is dieselfde studente wat uit minderbevoorregte gemeenskappe soos die Wes-Kaap en Noord-Kaap kom waar Afrikaans oorwegend is. Dit is regtig daarom onregverdig dat juis hulle vir ’n tweede keer in hul lewens benadeel word deur hul van hul taal te stroop.

........

As studente nie met mekaar Afrikaans kan praat en in Afrikaans kan sing nie, kan ons net sowel Menseregtedag van die kalender af skrap.

.........

As studente nie met mekaar Afrikaans kan praat en in Afrikaans kan sing nie, kan ons net sowel Menseregtedag van die kalender af skrap.

Om studente te beveel om nie in hul moedertaal met mekaar buite formele strukture te kommunikeer nie, is ’n blatante poging om hulle en hul taal te marginaliseer. Afrikaans is juis sy eerste kopskoot toegedien met die aanvaarding van die US se 2016-Taalbeleid, en nou, terwyl hy lê en bloei, kry hy sy tweede skoot. En al word die taalbeleid vanjaar hersien, kan ons maar net hoop vir gunstige verandering, maar dit is amper of die stryd klaar verlore is.

Hopelik sal die US-owerhede gaan stil sit en diep dink oor wie hul studente is en watter taal die meeste van die studente praat. Dalk sal hulle op grond hiervan met ’n taalbeleid na vore kom wat die meerderheid studente sal insluit met voorsiening vir die minderheidsgroepe se studente, want ook hul menseregte is van belang hier.

As ek kyk na hoe die kwessie van die vrouestudente hanteer word in vergelyking met hoe die kwessie van die leerlinge by Pretoria High School for Girls in 2016 hanteer is, is dit duidelik dat die Afrikaanse kind se regte minder belangrik geag word. Daar is dan geen bohaai gemaak behalwe deur dié wat Afrikaanssprekend is nie.

Destyds met die Pretoria-skoolleerlinge se opstand teen die skool se reëls, waar daar teen hul hare en hul gebruik van hul etniese tale gediskrimineer is, het die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, hom gehaas na die skool om te gaan hoor hoe leerlinge onder andere glo gedwing is om net Engels op die skoolgronde te praat en glad nie hul eie moedertale nie. Die storie het groot opslae gemaak, en na die regeringsamptenare se ingryping het die skool die leerlinge verskoning gevra en hul reëls en regulasies so aangepas om te verseker dat alle leerlinge ingesluit voel by die skool. En ons was almal bly, want dit is waaroor inklusiwiteit gaan.

Nou sit ek al dae lank en wonder wanneer ons gaan hoor van die regerende party se standpunt rondom die Afrikaanse studente by die US. Maar die stilte is oorverdowend, seker omdat dit Afrikaans is. En ek besef dat Afrikaanssprekendes, en veral dié wat na 1994 gebore is, steeds gestraf word vir die sondes van die apartheidduiwel waarin hul geen aandeel gehad het nie.

Die boodskap wat hier uitgestuur word, is duidelik een van afsku teenoor die taal. Dit is ’n boodskap dat Afrikaans onwelkom is in alle universiteite en nou ook in koshuise en in parke en tussen dié wat die taal deel en lief het.

.........

Kan ons werklikwaar hierdie land ’n demokrasie noem as ons taal, die taal wat die derde meeste gepraat word in Suid-Afrika, so versmoor word? Hoe kan ons die verlede se onregte behoorlik aanspreek as ons steeds na 26 jaar diskrimineer op grond van taal?

...........

Kan ons werklikwaar hierdie land ’n demokrasie noem as ons taal, die taal wat die derde meeste gepraat word in Suid-Afrika, so versmoor word? Hoe kan ons die verlede se onregte behoorlik aanspreek as ons steeds na 26 jaar diskrimineer op grond van taal?

Ek haal my hoed af vir die vrouestudente wat standpunt ingeneem het, en ek sal saam met julle aanhou Afrikaans praat, sing en dans, want dit is mooi en dit is eie aan ons, eie aan ons land.

Student, staan op vir jou regte en praat jou Afrikaans, sing jou Afrikaans, en dans jou Afrikaans. Wees trots en laat die Afrikaanse taal oor jou tong rol, want dit is wie jy is, trots Afrikaans. So leef dit elke dag.

En moenie mislei word deur die US se statistieke dat die meeste studente glo in Engels wil studeer nie. Ons kinders het nie ’n keuse nie – Engels word letterlik op hul afgedwing.

  • Virginia Keppler is ’n joernalis en ook leier van die Patriotic Alliance in Tshwane.

Lees ook:

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: Die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch

Kaaps is the future of Afrikaans

Afrikaans: US-protesaksie vanaf 9 April

Afrikaans: Rollende massa-aksie by US, 9 April

  • 7

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

    Met so 'n van soos u s'n is dit vir my 'n riem onder die hart om te sien u is net so 'n nugter mens soos die sterrekundige van destyds, Johan Kepler.

  • Wilhelm Fourie

    Dis 'n uitstekende artikel. Die skrywer is die eerste persoon wat tereg na die dubbele standaarde verwys wanneer hierdie skandaal met Pretoria Girls' High vergelyk word. Baie dankie daarvoor en vir die res van die baie goeie redenasie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top