US-taaldebat 2021: Die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch

  • 0

Foto: Unsplash.com

  • Hierdie bydrae is uit eie beweging van die skrywer aan die LitNet-redaksie gestuur.

Dit is teleurstellend dat akademici aan die US taal gebruik om ongelukkigheid, ontevredenheid en onenigheid nie net onder die universiteitsgemeenskap nie, maar onder die meeste Afrikaanssprekendes in die land te veroorsaak. Om Afrikaans as nie-inheemse taal te verklaar, is nou regtig om mens die joos in te jaag.

Afrikaans en grondbesit is albei sensitiewe aangeleenthede wat met omsigtigheid hanteer moet word. Is die US-owerhede se geheue dan so kort dat hulle vergeet het van die 1976-opstande toe die wit Afrikaanse hegemonie Afrikaans op selfs swarttalige skole afgedwing het? Het hulle die gevolge daarvan so gou vergeet?

Afrikaans as moedertaal is so belaai met emosie dat die ontkenning daarvan as spreek- en skryftaal enigiemand wat dit as hartstaal gebruik, warm onder die keel maak. Geen gebore en getoë Afrikaanssprekende sal dit sonder meer aanvaar dat hulle van hul grondwetlike reg op moedertaalonderrig op skool en universiteit uitgesluit word nie.

.........

Die gebruik van Afrikaans het sy oorsprong op Suid-Afrikaanse bodem in die vorm van Kreools wat deur die Moslem-slawe, Khoekhoe- en Hollandse gemeenskappe gepraat is. Geskiedkundiges en taalkundiges wys telkens daarop dat Afrikaans alreeds in die laat 1700’s in Arabies vertaal is.

..........

Die gebruik van Afrikaans het sy oorsprong op Suid-Afrikaanse bodem in die vorm van Kreools wat deur die Moslem-slawe, Khoekhoe- en Hollandse gemeenskappe gepraat is. Geskiedkundiges en taalkundiges wys telkens daarop dat Afrikaans alreeds in die laat 1700’s in Arabies vertaal is. Daar bestaan ook ’n mening dat ’n groep inheemse volke wat handel met die Nederlanders gedryf het, ’n verdraaide Nederlands gepraat het wat op die vroeë ontstaan van Afrikaans dui.

Dat Afrikaans kwansuis eers in 1875 sy ontstaan sou gehad het, is ’n mite wat sonder meer deur wit Afrikaanssprekendes aanvaar is en in die verlede deur hul magsugtigheid en verabsolutering van hul eiesoortigheid in ander Afrikaanssprekendes se verstand afgedwing was. Die Voortrekkers het die Kaapkolonie verlaat weens die verengelsingsbeleid van die Britte sedert hul tweede besetting van die Kaap in 1806. Hul ontevredenheid was gebaseer op die feit dat hulle taal, naamlik Nederlands, en hulle regeringsmag van hulle weggeneem was. Daarom verskyn hul verset teen Engels ook in hul poësie. Afrikaans was nie ’n rede vir die Groot Trek nie.

Die ontwikkeling van Afrikaans in sy huidige gevorderde status is grootliks toe te skryf aan die wit Afrikaanssprekendes wat politieke mag van 1948 tot 1994 geniet het. Enkele bruin Afrikaanssprekendes het ’n groot rol in die uitbreiding van die letterkunde gespeel. Adam Small is erken as een van die Sestigers wat meestal uit akademici bestaan het en wat in die letterkunde en taalkunde Afrikaans op ’n hoёr vlak geplaas het. In die lettere, opvoedkunde, natuur- en sosiale wetenskappe het Afrikaans nie slegs nasionale status geniet nie, maar ook internasionale status.

Meer as 80% van die bruin gemeenskap in Suid-Afrika is Afrikaanssprekend en word vanaf 1994 deur landsbeleid gedwing om Engels te besig omdat transformasie, wat deesdae ’n pynwoord geword het, toegepas word. As mens deesdae die woord “transformasie” hoor, dan kom die gedagte van vervanging op. Die werklike betekenis van transformasie is om te “verander na” (op Suid-Afrika toegepas: die beste van alle landsburgers). Met ander woorde, transformasie is gerig op regstelling en oopstelling van die demokratiese werklikheid wat van die histories benadeeldes voor 1994 ontneem is. Dit wil nie sê daar moet op ’n ongrondwetlike wyse onder andere van die bevoordeeldes van die vorige bestel weggeneem word ten einde restitusie en gelykheid te bewerkstellig nie; met die onderwysstelsel en Afrikaans as akademiese taal weggedoen moet word nie; na werkreservering en diskriminasie op grond van velkleur teruggekeer moet word nie. Die voorsiening van hoёronderwysgeleenthede aan nie-Afrikaanssprekende student moet nie daartoe lei dat studente wie se moedertaal Afrikaans is, uitgesluit word nie.

.........

Dit is net eenvoudig aangrypend hoe leerders en studente wat in hul moedertaal onderrig ontvang, beter presteer as niemoedertaalstudente. Meertaligheid wat in ’n land soos Suid-Afrika ondersteun word en wat in die Grondwet uitgespel word, behoort nastrewenswaardig te wees, maar dan moet die ander nege amptelike tale ook akademies ontwikkel word ten einde dit op universiteitsvlak te verwerklik.

..........

Parallelmediumonderwys (enkeltaalonderrig) in Suid-Afrika het ’n geskiedenis van sukses, veral in stedelike gebiede, teenoor dubbelmediumskole (tweetalige onderrig) wat verwarring onder leerders en studente veroorsaak. Ek het ervaring van parallelmedium as leerder en as onderwyser. Dit is net eenvoudig aangrypend hoe leerders en studente wat in hul moedertaal onderrig ontvang, beter presteer as niemoedertaalstudente. Meertaligheid wat in ’n land soos Suid-Afrika ondersteun word en wat in die Grondwet uitgespel word, behoort nastrewenswaardig te wees, maar dan moet die ander nege amptelike tale ook akademies ontwikkel word ten einde dit op universiteitsvlak te verwerklik.

Die US sal hom die vraag moet afvra in watter mate die afskaffing van Afrikaans tot versoening onder Suid-Afrikaners lei en waarom Afrikaans nie gebruik kan word om versoening te laat realiseer eerder as om dit uit te sluit, wat verbittering meebring nie. Suid-Afrika is ’n land van diverse kulture, veelvolkigheid en veeltaligheid. As ons nie ons verskille en gemeenskaplikhede onder mekaar kan raaksien nie, en veral ons gemeenskaplikheid kan gebruik om versoening te bewerkstellig nie, sal die groot geeste soos Desmond Tutu en die ontslape David Piedt en Beyers Naudé se drome van ’n versoenende en verenigde Suid-Afrika ’n hersenskim bly.

Lees ook:

’n Taalbom bars al weer in Stellenbosch

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

US-taaldebat 2021: Kinkel in die kabel

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top