...
Komaan, mense. Wat ’n absolute belaglikheid wat meer klink na ’n tragikomedie genaamd Kinkels in die kabel aangebied deur die US se Dramadepartement.
...
Is Afrikaans al weer in die spervuur? En is dit wéér by die Universiteit Stellenbosch? Hierdie keer glo omdat daar ’n gerug die ronde gedoen het, blykbaar na aanleiding van ’n “groeiende vlaag klagtes” van (anonieme) eerstejaars gerig aan Frederik van Dyk in sy hoedanigheid as US Konvokasie-sekretaris en amptenaar by StudentePlein. Na bewering het (anonieme) koshuisleiers studente beveel (nogal!) om slegs Engels met mekaar te praat; en om dinge net nog meer dramaties te maak, is die “beleid” (niemand weet wat die oorsprong van die sogenaamde beleid is nie) afgedwing in Minerva-koshuis waar jy na jou kamer gestuur sou word indien jy die “nuwe taalbeleid van die US oortree”.
Bid jou dit aan.
Komaan, mense. Wat ’n absolute belaglikheid wat meer klink na ’n tragikomedie genaamd Kinkels in die kabel aangebied deur die US se Dramadepartement. Tog is dit nie ’n April-gek-fata morgana nie; dis terstond geglo as die waarheid en die kole is aangeblaas wat hopelik ’n verwoestende brand sou ontketen.
En dit het.
...
Ons weet wie die voorlopers, die sleutelbordaktiviste, bewakers, saamlopers, vryers, verdagmakers, puriste, nuwelinge, taal-toi-toiers, ens is. Iemand moet die kinders ’n geskiedenisles gee.
...
Iemand moet die kinders ’n geskiedenisles gee. Dit gaan nie ek wees nie. Ek en ander belanghebbendes praat al te lank oor die dilemma van Afrikaans, en daar is tot op hede nog geen een mens wat ’n oplossing aanbied vir die tameletjie waarin Afrikaans haar bevind nie. Die debat oor die rol van Afrikaans in die instandhouding van apartheid is wêreldbekend; wie aanspraak op die taal het, is welbekend; dat Afrikaans se variante baklei vir ’n sitplek om die tafel, is oorbekend; die oorsprong van Afrikaans is hopelik bekend. Ons weet wie die voorlopers, die sleutelbordaktiviste, bewakers, saamlopers, vryers, verdagmakers, puriste, nuwelinge, taal-toi-toiers, ens is. Iemand moet die kinders ’n geskiedenisles gee.
Suid-Afrika is ’n multikulturele en multitalige land. Suid-Afrika is ’n komplekse land. Vir my is dit amper ondenkbaar dat ek net in een kulturele en/of taalbaan moet bly omdat dit die een is waarin ek gebore is. Ek wil nie in ’n wêreld en in ’n land woon waar die enigste kulturele en/of taalinspirasie dié van my wortels van my komvandaan is nie. Ek is soveel meer omdat ek deel wil wees van die diverse kulture en tale hier aan die suidpunt van Afrika waar dit gekreoliseer het en vloeibaar geraak het. Daar is wat eie is, en daar is wat gemeengoed is. Maar ons moet waak teen lokvalargumente soos die kleuterskoolargument rondom die verbanning van Afrikaans in die sandput van die universiteit.
Wat is die rol van ’n universiteit? Universiteite speel ’n al hoe belangriker rol in die skepping van ’n moderne samelewing. Dis nie net meer plekke om graad te gaan vang nie. Dis nie meer elitistiese enklaves van voorreg nie. Universiteite is belangrike nasionale bates waar vernuwende denke tot die verbetering van ons land, en die wêreld, moet lei. Taal kan help met hierdie verbetering. Taal moet vernuwend aangewend word om die verbeteringsproses aan te help en nie te pootjie nie.
Ek praat steeds Afrikaans en werk steeds in Afrikaans. Daar is nou soveel meer geleenthede as wat daar ooit was.
...
Elke generasie het hulle eie stryd wat hulle moet aanpak om die wêreld ’n beter plek te maak. Die huidige generasie moet hierdie taaltameletjie op die spits dryf, deur inklusiwiteit en nie verdagmakery of sandputspeletjies nie.
...
Ek raak warm onder die kraag as plattelandse Afrikaanssprekende leerders as kanonvuur in die uitsluitingsargument – ’n lokvalargument – gebruik word as ’n debatspunt oor ’n generasie wat kwansuis verlore sou gaan. Wat van ander leerders wat Venda of Pedi as huistaal het?
Elke generasie het hulle eie stryd wat hulle moet aanpak om die wêreld ’n beter plek te maak. Die huidige generasie moet hierdie taaltameletjie op die spits dryf, deur inklusiwiteit en nie verdagmakery of sandputspeletjies nie. Wees beter, doen beter. Watter volbloedmillenniër laat hom/haar vertel om sy/haar mond te snoer en kamer toe te gaan sonder om diegene wat dit gedoen het, aan die kaak te stel? Nie lamlendige beskuldigings wat dui op Karen-gedrag en/of bevooroordeeldheid wat gepaardgaan met ’n eeue oue voorsprong nie. Jy is hier om te baklei vir jou voortbestaan en die rede vir jou plek in die son. Engels is nie verhewe nie, dis net die omgangstaal wat as lingua franca gebruik word in ’n veeltalige land. Verbeel jou as die meerderheid moes sê ons kommunikeer deesdae net in Zoeloe. Verbeel jou.
...
Afrikaans dans op alle vlakke van die samelewing flink rond. Trouens, dit dans nie net nie, dit riel dat die stof spat.
...
En Afrikaans staan steeds trots in die son, gelukkig darem met ’n meer veelkleurige hooftooisel. Afrikaans dans op alle vlakke van die samelewing flink rond. Trouens, dit dans nie net nie, dit riel dat die stof spat. By feeste, boekpublikasies, musiek, teater, TV-kanale, in die parlement waar daar vertalers in jou ore praat as jy nie verstaan nie.
As student wat ’n tersiêre instelling bywoon, is jou doel om elke sel in jou brein uit te daag om beter te wees, om verandering te dryf, om anders te dink, om aan die voorpunt van vernuwing te wees. Afrikaans moet ook vernuwend wees. Dis die hóé wat die gesprek moet wees, nie die “O fok, ‘hulle’ wil nie hê ek moet Afrikaans praat nie.’”
Wees beter. Doen beter. Wees vreesloos in alles wat julle doen, nie net Afrikaans nie.
Lees ook:
US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?
Kommentaar
Ingrid, stem volmondig met jou saam. Afrikaans se oorlewing is die werk van die Afrikaanssprekendes (van alle variëteite). Jare en jare gelede het my ouers (lank voor dit mode was) my jonger suster in 'n Engelse laerskool gesit, meestal omdat hulle gesien het hoe hulle (ouer) seuns sukkel met Engels. Meer as dertig jaar later het ek dieselfde met my seun gedoen en seker gemaak hy kry sy gereelde dosisse Afrikaanse taal en kultuur by die huis. Sy reaksie nadat hy sy hoërskool in Afrikaans voortsit: nie een van die die kinders ken die "ou Afrikaanse volksliedjies en gedigte en stories" waarmee hy groot geword het nie. Ek is bly Afrikaans het (tot 'n beperkte mate as jy na die wyer wêreld daarbuite kyk) 'n akademiese taal (ook) geword, maar ek wonder hoeveel insigte en kennis verlore gaan omdat nie-Afrikaanssprekendes nie die moeite gaan doen om die kennis wat net in die Afrkaanse akademie beskikbaar is, by hulle navorsing in te sluit nie. My ou alma maters (Tukkies en Unisa) is nou Engels: aan my as mens, en my liefde vir ons taal met al sy kulture, doen dit geen afbreek nie.