...
Ek sidder as ek myself in die skoene van Afrikaanse plattelandse kinders moet plaas wanneer hul na Engelsmedium moet oorskakel nadat hulle hul 12 jaar in Afrikaans onderrig ontvang het.
...
Afrikaans se geboorte in die stormagtige Kaap was uit die staanspoor onder druk. Die taal wat as Kaaps-Hollands, Kombuis-Hollands of as ’n bastertaal bekend gestaan het, het vir haarself ’n eiesoortige plek op die Afrika-vasteland tussen al die ander tale uitgekerf. Sy moes ’n baie lang pad van groei stap om uiteindelik tot op die hoogste vlak as taal erken te word. Die ontwikkeling oor die afgelope 100 jaar het die taal in ’n unieke ruimte geplaas met ander Suid-Afrikaanse tale wat ligjare ver agter Afrikaans is.
...
Die politiese agenda was maar nog altyd deur taal gedryf. Kultuur word in die taal verpak. Val jy die taal aan, slaan jy die kultuur ook raak.
...
Afrikaans as ’n inheemse Afrikataal in die universiteitspasies is ’n groot voorbeeld vir die ander Afrikatale in Suid-Afrika. ’n Goeie voorbeeld om van te leer wanneer dit by die ontwikkeling van ’n taal kom, sou ’n mens redeneer. ’n Suid-Afrikaanse akademiese skatkis van moontlikhede? Nee, die regering dink nie so nie. Die politiese agenda was maar nog altyd deur taal gedryf. Kultuur word in die taal verpak. Val jy die taal aan, slaan jy die kultuur ook raak. Suid-Afrika is ’n baie goeie voorbeeld hiervan, maar die hele wêreld se geskiedenis dui daarop dat regerings veral met kolonisering of oorloë seker gemaak het dat die maghebber se taal, en dan uiteindelik die kultuur, die botoon voer. Die wiel het uiteindelik weer gedraai en dié keer staan Afrikaans binne die breë Suid-Afrikaanse konteks nie op ’n goeie plek nie.
Ek is vir die afgelope paar jare gereeld as gasspreker deur die Taalsentrum van die Universiteit Stellenbosch genooi om met Nederlandse en Belgiese studente as gasspreker op te tree. Ek was daar in my hoedanigheid as Afrikaanse teaterpraktisyn, digter en kunstenaar. Die studente het vir ’n paar weke ’n kultuur en taalkursus, aangebied deur Helga Sykstus, bygewoon. My bydrae is as belangrik gesien omdat my ervaring as bruin Afrikaanssprekende met ’n ryk kulturele agtergrond, en my werk as kunstenaar, waarde toegevoeg het tot die buitelandse studente se leerervaring. Wat vir my uitgestaan het, was Sykstus se definisie van die kultuur- en taalaspek. Die een definisie wat sy byvoorbeeld gebruik het om kultuur te definieer, lees as volg:
“the characteristics and knowledge of a particular group of people, defined by everything from language, religion, cuisine, social habits, music and arts. […] It can be seen as the growth of a group identity fostered by social patterns unique to the group.”
As kunstenaar en mens het ek heeltemal aanklank gevind by daardie definisie, aangesien dit ruimte gelaat het vir die verskillende skakerings van ons taal se subkulture. Die wonderlike ironie vir my as bruin Afrikaanssprekende was ook die feit dat die einste Nederlanders se nageslag 300 jaar later gefassineer was met die vreemd-bekende klanke van Afrikaans of die fragmente van Nederlands. Tog was hulle ver verwyderd van hul voorouers se beleide wat hierdie “bastertaal” met alle mag uit hul formele instansies gehou het en sodoende onderdruk het. Een van die fokuspunte was die taalverskille tussen Nederlands en Afrikaans. Met my besoeke as kunstenaar aan Nederland en België het ek besef hoe ver verwyder Afrikaans in sy geheel van Nederlands is en hoe divers die kulturele uitdrukkings van Afrikaans is. Hier verwys ek nie net na die Standaardafrikaans nie, maar na elke vertakking of dialek van die taal. Die kulturele uitvloeisels van Afrikaans is landwyd absoluut iets besonders. Elke provinsie het sy eie stem, klanke en uitdrukkings wat dit besonders maak. Tog word ons verbind deur dieselfde naelstring, en dit is waar ons krag lê.
Ek is nie oortuig dat alle Afrikaanssprekendes hierdie vrees vir die “uitsterf” van Afrikaans op universiteite deel nie. Die grootste faktor hier is die feit dat Standaardafrikaans hom vir baie jare lank onderskei het van die Afrikaans wat deur die bruin stemme gedra is. Nee, ons gaan nie nou klipgooi en baklei hieroor nie. Almal weet mos teen hierdie tyd dat dit so was. Die baarmoeder van die taal wat nou as “Kaaps” gesien word (alhoewel ek myself nie as “Kaaps” identifiseer nie – ek is ’n Bolander met ’n ietwat ander tipe tongklap), is steeds as ’n onding deur die akademie hanteer. Ons ken mos Adam Small se protesgedigte en sy stryd om aandag en lig hierop te skyn.
...
Daar is tientalle Adam Smalls wat met baie grasie hul ding doen. Standaardafrikaans, Kaaps en ander dialekte is besig om saam om die tafel te sit. Ons het kollektief gevorder en ons groei elke dag. Indien Afrikaans nie in die universiteit se ruimtes gaan wees nie, gaan dit ons bedryf seermaak.
...
As kunstenaars beleef ons tans ’n wonderlike tydperk met betrekking tot die pogings vir samesyn van die verskeie maniere waarop daar met die taal omgegaan word. Die dramas wat in Kaaps en ander Afrikaanse dialekte aangebied word, groei jaarliks. Televisieprogramme raak al hoe meer gemaklik met die idee dat mense Afrikaans moet praat soos wat hulle dit op die straat of in hulle huise praat. Die digkuns se oplewing is daar. Daar is tientalle Adam Smalls wat met baie grasie hul ding doen. Standaardafrikaans, Kaaps en ander dialekte is besig om saam om die tafel te sit. Ons het kollektief gevorder en ons groei elke dag. Indien Afrikaans nie in die universiteit se ruimtes gaan wees nie, gaan dit ons bedryf seermaak. Ja, ons sal altyd ’n weg rondom dit vind. Afrikaans is taai en ons sal oorleef, maar dit gaan moeilik wees.
As kunstenaar en kritiese denker wonder ek sommer hardop: Het die akademie nie te lank gesloer om Afrikaans se verskeie dialekte, kulturele uitdrukkings en verskeie kleure onder die vaandel van navorsing en ontwikkeling te plaas nie? Ek wonder … Sou daar nie ’n sterker verenigde front gewees het indien swart, bruin en wit Afrikaanssprekendes uit die staanspoor besluit het om die taal as almal s’n te hanteer nie? Ek volg gereeld die gesprekke oor die taal en daar is iets wat my die hele tyd opval: As Afrikaanssprekendes debatteer en redeneer ons steeds met ons vel se kleur. Dit is kompleks. Ons sukkel om onsself los te maak van daardie aspek. Miskien het dit tyd geword dat ons maniere vind om hierdie keer, ter wille van die nageslag en die behoud van die taal, vir eers net saam te staan en vanuit alle Afrikaanse subkulture ernstig saam te werk om die beleidmakers en besluitnemers daarop te wys dat die verwydering van Afrikaans as Afrikataal ook die einde van ander Afrikatale se ontwikkeling vir universiteite sal beteken.
...
As kunstenaar en kritiese denker wonder ek sommer hardop: Het die akademie nie te lank gesloer om Afrikaans se verskeie dialekte, kulturele uitdrukkings en verskeie kleure onder die vaandel van navorsing en ontwikkeling te plaas nie?
...
Ek sidder as ek myself in die skoene van Afrikaanse plattelandse kinders moet plaas wanneer hul na Engelsmedium moet oorskakel nadat hulle hul 12 jaar in Afrikaans onderrig ontvang het. Die sprong van 12 jaar se moedertaalonderrig in enige Afrikataal na skielike Engels op universiteit kan nie anders as om in ’n uitdagende studie reis te ontaard nie. Geen mens kan dit bekostig nie.
Uiteindelik het geskiedenis ook ’n stem. Ons moet net met ’n oop kop die lesse wat die geskiedenis wil oordra, kan leer. Dit is nie asof Afrikaans skielik vir die eerste keer onderdruk word nie. Tog het die taal altyd ’n manier gevind om terug te veg.
...
My grootste bekommernis is dat die ander inheemse tale in Suid-Afrika uiteindelik ook die prys gaan betaal indien Afrikaans nie meer toegelaat kan word in daardie ruimtes nie.
...
Afrikaans is die beste voorbeeld en rigtingwyser van hoe om ’n taal akademies tot op die hoogste vlak te neem. My grootste bekommernis is dat die ander inheemse tale in Suid-Afrika uiteindelik ook die prys gaan betaal indien Afrikaans nie meer toegelaat kan word in daardie ruimtes nie.
Met die afsnydatum vir kommentaar wat 12 April 2021 is, kan ons dus nie anders as om ons stem te laat geld nie, anders gaan ons op die lang duur die hoogste prys vir dié absurde besluit betaal.
...
Die Hollander wil haar nie meer hê nie. Die Engelsman stoot haar aggressief eenkant en hou haar buitekant die koninklike orde. Oorlog sal haar voorland wees.
...
Ek sluit af met ’n stuk woordkuns getiteld:
Wie se kind is sy? Wie se kind is hy? Wie se kind is jy?
Kyk daar lê sy. Poedelnaak. Kaal. Haar hande in vuiste gebal na die hemel. Haar geboortekreet weergalm oor die vlaktes. Deur die berge se valleie en oor die pieke. Die kranse gee antwoord. Die hemele word donkergrysblou. Sy het die kroeskop van die Khoi se kind. Die blou oë van die Europeër. Die hande van die Suidoos-Asië-slaaf. Die rug van die matroos. Sy lyk vreemd bekend. Die vreemde stem van êrens en van nêrens. Sy is toegevou in ’n bloederige kombers. Sy sal haar lewe lank probeer om ontslae te raak van daardie bloederige kombers. Haar naelstring taai en om haar lyf gedraai.
Die Hollander wil haar nie meer hê nie. Die Engelsman stoot haar aggressief eenkant en hou haar buitekant die koninklike orde. Oorlog sal haar voorland wees. Die slaaf, Khoi, matroos en vryburger sit kring om hierdie frats en baster van ’n beeld te aanskou. Wie se kind is sy? Wie se kind is jy?
Sy word verbied om geluide te maak in die kerk. Sy word verwelkom in die Koraan met haar stem wat ink spoeg in die heilige geskrifte. Die Khoi se kind neem haar saam na die onderhandelingstafel waar sy met buskruit en ’n interpretasie van ’n god se woord met alle mag verwyder word. Die vryburgers versorg haar, maar steek haar weg wanneer die koloniale owerhede verskyn. Sy is ’n skande vir die samelewing.
Trek vir haar ’n ander rok aan vermaan die maghebbers. Wetgewing wil haar nie hê nie. Opvoeding wil haar nie hê nie. Godsdiens wil haar nie hê nie. Sy ken die pyn van verwerping. Sy word keer op keer verkrag. Bloederig. Smerig. Skande is haar voorland. Sy dwaal rond op die Khoi-Khoi se bloederige grond. Sy rol rond tussen die matrose en vryburgers se lakens. Sy klopse rond op die Maleiers se spesery tafel.
Oral is sy verwerp. Uiteindelik het sy het haar plek gevind. Kultuur is haar tuiste. Kultuur is haar huis. Sy lê haar kop neer maar die rus is van korte duur. Wie se kind is sy? Wie se kind is jy?
Sy staan op en bal haar vuiste na die hemel. Die nasionaliste span haar in as wapen van verset. Die koningin se kanonne skiet haar ambisies in flarde. Hulle reduseer haar tot die stem sonder rede en mag. Sy word verklaar tot Afrika se Nederlands. Buitekant die kamp van opvoeding en administrasie. Sy soek ook ’n plek aan tafel sodat sy haar stem kan laat hoor.
Die Engelse lê op haar sonder haar toestemming. Die Hollanders saai hul koninklike saad. Sy is swanger. Sy baar. Die seun word gebore. Die seun word ’n man. Die verset het begin. Die seun verlaat sy baster-ma wat hier in die Kaap van Storms haar identiteit gevorm het.
Die wiel draai. Die seun rebelleer. Die ossewa se wiele dra die brokke van dit wat oorgebly het saam oor die berge en vlaktes. Die ambisie se artikulasie word ’n nasionalistiese stem. Die seun verwerp sy moeder. Hy ontken sy baarmoeder. Die seun stig sy eie republiek. Die seun groei in status. Die seun dwing sy mag af en boelie die massas. Hy lê sy taal in die sisteme van elke provinsie. Die seun stel die standaard. Die seun verwerp sy ma. Die seun stel beleide op wat die res van die land benadeel. Die seun raak vet. Die seun raak gemaklik. Die seun vorm sy besluite in isolasie. Die seun raak die monster waarmee sy ma in haar wordingsjare gesukkel het. Hy bou wolkekrabbers van dogmas en leringe. Die seun se tong is goue heuning wat die bladsye bevlek met beelde van weelde. Die seun eis die suiwer spasies van die taal.
Die goue jare is verby. Die seun word uitgedaag. Hy weier om te swig. Uiteindelik breek die wêreld se druk sy mag. Die wetgewing wat gelê is deur sy tong se ink word opgehef. Die ander tale tree na vore. ’n Nuwe era word gebore. ’n Eeu en meer later slaan die koningin steeds haar septer. Hoe ironies, want dié keer slaan sy vir seun in die arms van sy ma. Ma se kinders het nou nie meer een stem nie. Ma se kinders het mekaar ook nog nie ontmoet nie. Nou gedwing om mekaar te ontmoet. Die sameloop van omstandighede laat vrae steeds reën vanuit die hoogste donkergrysblou van onse hemel: Wie se kind is sy? Wie se kind is jy?
Lees ook:
US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?
Kommentaar
Ek betreur die wyse waarop die Universiteit Stellenbosch hierdie proses bestuur. Natuurlik kan die belangrikheid en noodsaaklikheid van Engels om brûe te help bou, om die wêreld vir studente wat van oral kom, te help ontsluit, nie ontken word nie. Ook nie die praktiese probleme en uitdagings waar sprekers van verskillende tale betrokke is nie. Maar die verbeeldinglose ivoortoringwyse waarop die US hierdie uitdagings aanpak en hanteer, die onsensitiwiteit, kilheid, afsydigheid, traak-my-nieagtige gebrek aan deernis in ’n veeltalige land en in ’n meertalige provinsie waar die basiese regte van so baie mense vir só lank misken is, laat die hart ineenkrimp.
’n Mens sou dink dat — om jong mense nie net op loopbane voor te berei of op navorsing om geld vir koffers en aansien te in nie, maar hulle terselfdertyd toe te rus om weg te gaan en te help bou aan ’n Suid-Afrika waar mense wat verskillend lyk, verskillend praat, verskillend glo, verskillende tradisies en gewoontes het, mekaar nie bloot verdra nie, maar mekaar in elke opsig aanvaar en in meelewende gemeenskappe wedersyds dra — die US, in plaas van andersheid koelbloedig tot eendersheid te stootskraap, sy bes sou doen om sigbaar ook aan hierdie ideaal te help bou.
Elke student, ongeag waar hy of sy vandaan kom, verdien ’n uitdagende maar veilige leerskool wat verskeidenheid aanmoedig, koester, beskerm — ten spyte van taalhekkies, wat soms maklik oorkom kan word, soms nie. ’n Universiteit wat sy studente hulle eiegoed help beskerm. ’n Universiteit wat sy studente help sien, leer, wys hoe ’n mens jou herkoms en taal kan vier, én dié van ander, hoe studente saam dit alles kan vier, en wedersyds daardeur verryk kan word.
’n Mens sou reken dat die US moeite sou doen om by elke nuwe student juis in te skerp dat wie oor jou, jou taalgebruik, taalkeuse, voorkoms, geloof, kultuur, wat ook al, frons, wie jou die vryheid van hierdie keuses ontneem, ’n oortreder is van jou heel basiese regte as mens, wat deur die grondwet van hierdie land beskerm word.
In plaas van denke te verruim, kyk die US eng en verskralend. Ek treur.
Dankie, me Luther. U is so reg t.o.v. die beginsels en waardes en visie wat u hier formuleer. Maar die Bestuur, met Wim vooraan, dons voort soos 'n troglodiet.
Ek het letterlik hoendervleis soos ek hierdie lees en kan net sê: Dankie. Veral resoneer ek met hierdie frase: Ek wonder … Sou daar nie ’n sterker verenigde front gewees het indien swart, bruin en wit Afrikaanssprekendes uit die staanspoor besluit het om die taal as almal s’n te hanteer nie?