Afrikaans: Rollende massa-aksie by US, 9 April

  • 5

Rollende massa-aksie word van volgende week Vrydag (9 April) vanuit veral bruin Afrikaanse geledere beplan om beswaar te maak teen die volgehoue verengelsing aan die Universiteit Stellenbosch (US) ten koste van Afrikaans.

Die protesgangers beoog om hulle besware soos ’n Martin Luther van ouds teen die deure van die universiteit se hoofgebou vas te spyker.

Dit sal die eerste keer in die geskiedenis wees dat ’n optog van hierdie omvang vanuit hoofsaaklik bruin geledere van stapel gestuur word om protes aan te teken teen die groeiende miskenning van Afrikaans aan die universiteit.

Die protes geskied teen die agtergrond van die huidige hersiening van die universiteit se taalbeleid asook die verbod wat daar na bewering op studente geplaas is om met mekaar Afrikaans te praat in koshuise of Afrikaanse liedjies te sing tydens ’n sangaand by een van die koshuise.

Die Menseregtekommissie het reeds begin met ’n ondersoek na die beweerde skending van Afrikaanse mense se regte op die kampus.

Een van die persone aan die stuur van sake wat volgende week se optog reël, is die voorsitter van DAK Netwerk, Danie van Wyk. DAK Netwerk is in 2016 gestig om hulle te beywer vir die bemagtiging en ontwikkeling van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe.

Danie van Wyk (Foto: Naomi Bruwer)

Van Wyk is een van verskeie bruin taalaktiviste wat keelvol is vir die manier waarop daar teen veral bruin Afrikaanse mense gediskrimineer word op grond van taal.

Soos wat Martin Luther destyds sy 95 stellinge aan die Kasteelkerk (Schlosskirche) in Wittenberg se deure in Duitsland vasgespyker het, wil Van Wyk volgende Vrydag sy protesnotas oor die miskenning van Afrikaans by Maties aan die Universiteit Stellenbosch se deure vasspyker. Hy beloof om nie regte spykers te gebruik nie en sê hy is nie van plan om die Hoofgebou se deure te beskadig nie.

Hy voorsien ’n protes ten gunste van Afrikaans soos wat die Eikestad nog nooit gesien het nie. Ook nie net ’n eendagprotes nie, maar rollende massa-aksie wat hom elke maand gaan herhaal as daar nie ag geslaan word op hulle eise nie.

Van Wyk sê hy en die res van die organiseerders is heeltemal bewus van die beperkings wat COVID-19-regulasies op so ’n massaprotes plaas, maar dit skrik hulle nie af nie. “Ons sal ons saak volkome binne die wet stel met inagneming van al die COVID-19- regulasies,” sê Van Wyk. Die huidige regulasies bepaal dat ’n maksimum van 250 mense in die buitelug mag vergader.

“Ons is heeltemal hiervan bewus en is geensins van plan om die regulasies te oortree nie,” sê Van Wyk. “Ons kan egter nie keer as daar meer as 250 mense opdaag nie, maar het volle vertroue dat die polisie sal weet hoe om die situasie te hanteer as dit nodig is.”

Hy sê soveel mense as moontlik wat ingevolge die COVID-19-regulasies toegelaat word, sal aan die optog deelneem om hulle memorandum aan die universiteit se rektor, prof Wim de Villiers, te oorhandig.

Verskillende organisasies, waaronder die Afrikaanse Taalraad, vorm deel van die protesoptog. Bruin en wit studente, asook Afrikaanse leerders van verskillende skole sal deel daarvan wees.

Nadat die protesskrif aan die universiteitsowerhede, hopelik die rektor self, oorhandig is, sal die optoggangers na die Rooiplein op die kampus beweeg waar iemand die studente sal toespreek.

Net soos tydens apartheid gaan geestelike leiers ook by hierdie aksie betrek word. Daar word reeds voelers uitgesteek na sinodes en ringe van die Verenigende  Gereformeerde Kerk (VGK) om hulle by die protesgangers te skaar en deel te wees van die protes.

“Ons wil hê die geestelike leiers moet ook beswaar aanteken teen hierdie ongeregtigheid soos wat hulle gedoen het teen die onreg van apartheid. Die kerk was op die voorpunt teen apartheid en dit is tyd dat die kerk weer sy profetiese  stem laat hoor,” sê Van Wyk. “Daarom wil ons die hele kerkgemeenskap wat saam met ons teen apartheid geveg het ook by hierdie onreg betrek.

“Bruin mense is destyds deur die politieke stelsel van apartheid benadeel. Daar is op grond van kleur teen ons gediskrimineer aan die US en nou word daar weer teen ons gediskrimineer, maar dié keer op grond van ons taal.”

Van Wyk sê dit is belangrik dat daar kennis van geneem word hoe mense op grondvlak oor Afrikaans voel. “Dit is nie ’n wit-Afrikaner-ding wanneer Afrikaans ter sprake is nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap is nie wit nie maar bruin.” Sowat 60% van die Afrikaanse gemeenskap bestaan uit bruin, swart en Indiër-Suid-Afrikaners.

Die US skuld bruin mense ’n verskoning vir die onreg wat hulle aan bruin mense gedoen het, sê Van Wyk. Toe bruin mense aanvanklik toegelaat is om daar te studeer, kon hulle lesings bywoon maar nie volwaardige Maties word nie. Hulle is in die lesinglokale toegelaat, maar kon nie aan die buitemuurse aktiwiteite deelneem, in die koshuise woon of selfs die universiteit se kleurbaadjie dra nie, omdat hulle bruin was. “Hulle moes onsigbare Maties wees. Nou word hulle ’n tweede keer deur die universiteit as tweedeklasstudente behandel, maar dié slag op grond van hulle moedertaal en nie hulle velkleur nie.”

Almal wat ’n liefde het vir Afrikaans is volgens Van Wyk welkom om deel te neem aan die protes. Hy wil egter nie hê dat enige politieke party onder hulle eie vaandel moet deel wees van die aksie nie. “Dié is nie ’n politieke geveg nie maar ’n taalkwessie. Omdat daar later vanjaar ’n munisipale verkiesing plaasvind, wil ons nie hê enige politieke party moet dit vir politieke gewin kaap nie.”

Verskeie ander groepe of instellings het volgens Van Wyk reeds aangedui dat hulle deel wil wees van die protes. “Hierdie is nie sommer net ’n klein eenmalige opstootjie nie. Dit is werklik rollende massa-aksie wat herhaal sal word totdat daar na ons redelike eise geluister word.”

Van Wyk sê hy is uiters teleurgesteld oor die rektor, Wim de Villiers, se hantering van die hele taalkwessie aan die universiteit. “Die universiteitsowerhede toon geen leierskap in die hele debat oor Afrikaans nie, ten spyte daarvan dat ek soms ten koste van myself spesiaal moeite gedoen het om hulle te oorreed om tot ’n billike vergelyk te kom.”

Volgende week se protes is ook nie slegs tot ’n straatbetoging beperk nie. Daar sal  formele voorstelle oor ’n taalbeleid aan die universiteitsowerhede voorgelê word.

Een van die vennote tydens volgende week se protesoptog is die Afrikaanse Taalraad. Die Taalraad het verlede week op Twitter geskryf die US-konseptaalbeleid se klassifikasie van Afrikaans as uitheemse taal spreek van ’n ideologiese, onwetenskaplike benadering en onderskat die weerstand wat hierop sal volg. “Luide protes lê nie in die Taalraad se aard nie, maar hieroor betree selfs ons die barrikades.”

Die voorsitter van die Taalraad, Conrad Steenkamp, het aan LitNet gesê die Taalraad skaar hulle honderd persent agter volgende week se protes by die US. Steenkamp sê die huidige storm oor die US se omstrede taalbeleid en volgende Vrydag se optog is lank nie die laaste sien van die blikkantien nie. Hy sê die breë Afrikaanse gemeenskap is ernstig besorgd oor die wyse waarop Afrikaans by die universiteit uitrangeer word. “Dit is lankal nie meer ’n wit ding of net wit Afrikaanse mense wat moeg is daarvoor nie.”

Die onlangse ope brief waarin die Departement Afrikaans en Nederlands by US tot die stryd toegetree het, was volgens Steenkamp ’n deurslaggewende gebeurtenis in die hele taalkwessie. “Dit is iets wat nie deur die universiteit geïgnoreer kan word nie. Daar word vrae gevra waarop daar antwoorde gegee sal móét word. Daar kan nie blindelings voortgegaan word met die Stalingrad-benadering nie. Een of ander tyd sal daar werklik geluister moet word na die billike eise van die breë Afrikaanse gemeenskap,” sê Steenkamp. Hy hoop volgende week se protes kan ’n bydrae lewer om Afrikaans se stem weer helder en sonder vrees vir diskriminasie op die Matie-kampus te laat hoor.

Luister en lees ook:

Afrikaans: US-protesaksie vanaf 9 April

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

Persvrystelling: Ope brief aan die US-senaat

Persverklaring: Uitnodiging om kommentaar te lewer op eerste konsep van hersiene Taalbeleid (2016)

Departement Afrikaans en Nederlands in opstand oor Afrikaans by US

US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Kinkel in die kabel

Kaaps is the future of Afrikaans

’n Taalbom bars al weer in Stellenbosch

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

Uit die argief (2006): Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na Apartheid

Uit die argief: Is Afrikaans uitheems?

’n Onderhoud met Danie van Wyk, nuwe voorsitter van die DAK Netwerk

Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK

  • 5

Kommentaar

  • Jean Oosthuizen skryf van 'rollende massa-aksie' volgende Vrydag.
    Klink vir my opruiend, amper soos die gepeupel wat die Capitol in Washington, VSA, bestorm het.
    Maar om jou saak te stel, met die nodige goedkeuring, vir sulke vreedsame protesaksie, is jou goeie reg.
    Ek dink Danie van Wyk en ander wat soos hy argumenteer sit die pot lelik mis.
    'n Onlangse studie van eerstejaarstudente wys dat 79,4% Engels verkies.
    Van studente met Afrikaans as huistaal het 45,6% aangedui dat hulle Engels verkies, op van 25,8% in 2017 en 37% verlede jaar.
    Dus,'n groeiende trajek.
    Ek verneem ook dat bykans 80% van alle bruin studente ten gunste is van Engels as doseertaal.
    Die realiteit is dat die jongmense van vandag besef dat Engels deure opmaak in die sakesektor nadat hulle afgestudeer het.
    Dit is opvallend dat dit hoofsaaklik ouer Afrikaanssprekendes is wat hierdie aksies dryf, sommige wat hartlik meegedoen het aan die ou Afrikanerhegemonie en uitsluiting van die verlede.
    Ek dink ons jongmense van alle kleure en gemeenskappe sien hierdie 'aksies' vir wat dit regtig is.

  • Charl Adams, toe jy verstand kry, toe hoor jy ook die gesegde "die Kaap is Hollands". Jy het seker maar met die Kaapse kombuis-Engels groot geraak. Iets om oor na te dink.

  • Jean Oosthuizen

    Charl Adams ek weet regtig nie hoe maak jy die som dat Vrydag se protes amper is soos die "gepeupel wat die Capitol in Washington bestorm" het nie. Anders as in Washington was hier nêrens oproepe wat tot gewelddadige aksie aanleiding kan gee nie. Daar is geen sprake om iets te bestorm nie. Die term rollende massa-aksie beteken slegs dat dit nie eenmalig is nie, maar dat die protesgangers beoog om daarmee vol te hou. Vreedsame protes word in ons grondwet gewaarborg en so ook die beskerming van taalregte.

  • Jean, jou metafoor van Luther en dat protesgangers Vrydag soos hy hul besware teen die deur van die hoofgebou op die kampus sal vasspyker, is opruiend, om die minste te sê.
    Luther was uitgesproke anti-semities en het Jode as sy vyand beskou.
    Sommige historici skryf dat die moontlikheid bestaan dat Luther se haat jeens die Jode later aanleiding sou gee tot die Derde Reich en Hitler se opgang.
    Dus, nie die vredeliewende oubaas wat baie hom voor uitmaak nie.
    'n Kombinasie van 'rollende massa-aksie' en die Luther-metafoor het beslis die potensiaal om te ontaard in iets leliks.
    Dit, en die feit dat só 'n optog gebaseer is op wilde anti-Afrikaanse aantygings teen die Universiteit, wat van alle waarheid ontbloot is, beskou ek gewoon as onverantwoordelik en herinner aan die goedkoop populisme van die EFF.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top