Persvrystelling: Ope brief aan die US-senaat

  • 17

Ope brief aan die US-senaat

17 Maart 2021

Die US het met die voorstel vir ’n “tydelike” afwyking van die taalbeleid ’n belangrike keerpunt bereik. Dié voorstel, wat op Vrydag 19 Maart voor die senaat dien, voorsien dat nuwe kursusse gedurende die eerste semester van 2021 slegs in Engels aangebied kan word.

Die ondertekenaars van hierdie brief doen ’n ernstige beroep op die senaat en die bestuur van die Universiteit om dié voorstel af te keur. Gegewe die snelle verengelsing van onderrig die afgelope vyf jaar, twyfel ons dat so ’n besluit tydelik sal bly. Ons vermoed die argument dat daar nie genoeg tyd vir vertaling in Afrikaans is nie, sal gebruik word om ’n praktyk van slegs Engels ook gedurende die daaropvolgende semesters deur te druk. Dit sal vinnig die nuwe praktyk word.

Die krasse verbod op die gebruik van Afrikaans in amptelike en informele ruimtes aan die US dien noodwendig as agtergrond tot ons eis. Hoe is dit moontlik dat so baie studenteleiers die taalbeleid terselfdertyd op dieselfde manier misverstaan, en hoekom huiwer die US om die skaal van die probleem te erken? Hoekom is daar in 2020 nie onmiddellik op soortgelyke klagtes van studente van die Tygerbergkampus gereageer nie? Dit gaan immers om ’n skreiende minagting van hulle taalregte en die US se taalbeleid.

Let wel, ons blameer nie primêr die studenteleiers vir die genoemde vergrype nie, maar eerder die vae aard van die US se taalbeleid en die manier hoe dit geïmplementeer is. Ons verwag dus dat die Universiteit hiervoor verantwoordelikheid aanvaar en aan studenteleiers sal verduidelik dat die verbod op enige taal teen universiteitsbeleid is. Erger nog, dit is waarskynlik ongrondwetlik.

Ons verwag ook daar sal verduidelik word dat Engelse eentaligheid ook nie in formele situasies afgedwing mag word nie. Die US is tog ’n meertalige instelling en daar kan buigsaam met taal omgegaan word. Transtaling (code switching) dien as goeie voorbeeld van wat moontlik is, iets waarvan die puik taalkundiges aan die US sal kan getuig.

Insidente waartydens studente se monde gesnoer word omdat hulle die “taal van apartheid” praat, dui op ’n onverdraagsame klimaat en enorme onkunde oor hoe diep Afrikaans in ons land se agtergestelde gemeenskappe gewortel is. Dié praktyke bots ook lynreg met dit wat die vaders en moeders van ons Grondwet beoog het. Transformasie deur Engels, pleks van transformasie deur meertaligheid, skep onwerklike situasies op kampus en stel studente met verskillende agtergronde teen mekaar op.

Ons dring dus daarop aan dat die US-rolspelers onmiddellik ophou om kritiek op die taalbeleid en mense se uitsprake oor hulle taalbehoeftes as ’n ideologiese of regse aanslag te stereotipeer. Retoriek van hierdie aard smoor openbare gesprek en ontmoedig Afrikaanssprekendes uit verskillende agtergronde om oor hulle behoeftes te praat. Kom ons klim uit die loopgrawe en praat reguit met mekaar.

Een van die taboetemas wat aandag moet kry, is die bestaan van strukturele diskriminasie teen bruin (en/of swart) Afrikaanssprekendes aan die US, iets wat ook met klas verband hou. Daar is baie stemme wat nie in die US se middelklasdebat oor taal gehoor word nie, omdat hulle glad nie op kampus teenwoordig is nie. ’n Verdere verskraling van Afrikaans sal dit vir hulle nog moeiliker maak om toegang te kry, iets wat ekonomiese gevolge vir hulle en hulle gemeenskappe het. Dit maak min sin om internasionaal sukses te behaal, maar plaaslike gemeenskappe agter te laat.

Ons herhaal dus: keur die fakulteite se versoek vir ’n “tydelike” afwyking van die taalbeleid af. Stop die glybaan na ’n Engelsmediumuniversiteit met Afrikaans en Xhosa as hulptaaltjies. Die US se reaksie op hierdie pleidooi vanuit die gemeenskap en burgerlike samelewing sal die atmosfeer bepaal waarin die taalbeleid hersien word. Hierdie senaatsbesluit het historiese implikasies.

Hoor ons. Dit voel asof julle dit tot nou toe nie gedoen het nie.

Uitgestuur deur:

Danie van Wyk: Voorsitter van die DAK-netwerk (063 502 0879)

Conrad Steenkamp: Uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (082 613 6725)

Gemeenskapsleiers wat die ope brief op kort kennisgewing ondersteun het, word aangedui. Let wel: Die lys word voortdurend opgedateer:

  1. Danie van Wyk – Voorsitter, direksie: DAK-netwerk, Wes-Kaapse Koördineerder:  Suid-Afrikaanse Onderwysondersteuningstrust
  2. Dr. Conrad Steenkamp - Hoof Uitvoerende Beampte: Afrikaanse Taalraad
  3. Savarion Arendse - direksielid: DAK-netwerk, finansiële adviseur
  4. Danneline Ramsden – direksielid: DAK-netwerk, Jeugwerker
  5. Verna Stuurman - direksielid: DAK-netwerk, onderwyskundige
  6. Jerome Topley – direksielid: DAK-netwerk, opvoedkundige en radio-omroeper
  7. Shihaam Domingo – direksielid: DAK-netwerk, kunste-entrepreneur
  8. Petro Gordon – direksielid: DAK-netwerk, welsynwerker, skrywer
  9. Willem Fransman – direksielid: DAK-netwerk, skrywer
  10. Seymour Bothman - dosent (Akademia)
  11. Basil Kivedo - Voormalige dosent, onderwysbeplanner, uitvoerende burgemeester van die Breede Valley Munisipaliteit, en afgetrede lid van die Wes-Kaapse Parlement
  12. Atlantis Skolevereniging                                             
  13. David Jantjies – Suid-Afrikaanse Onderwysondersteuningstrust
  14. Lukas Hanekom - Suid-Afrikaanse Onderwysondersteuningstrust
  15. Jan Odendaal - Omgewingsopvoedkundige; voormalige kringbestuurder, WKOD
  16. Ronald Balie – Afgetrede prinsipaal (Ceres-distrik)
  17. Dr. Willa Boezak – Hessekwa-stam
  18. Stamhoof Reggie Boesak – Hessekwa-stam
  19. Wannie Carstens – Emeritusprofessor, NWU
  20. Kaptein John Cornelius Witbooi – Nasionale Stamhoof, Witbooi Namastam van Suid-Afrika
  21. Nadine Blom – Sangeres en prokureur
  22. Virginia Keppler – Oudjoernalis, leier van die Patriotic Alliance in Tshwane
  23. Waldy Kastoor – Voormalige voorsitter, Atlantis Skolevereniging
  24. Drs. Hendrik Theys – Opvoedkundedosent, Navorsingsgenoot, Afrikaanse Taalraad
  25. Dr. Mvula Yoyo – Voormalige Afrikaansdosent en transformasiebestuurder: Mediclinic SA
  26. Ria Olivier – Voormalige Afrikaansdosent en suidelike projekbestuurder: Afrikaanse Taalraad
  27. Prof. Nico Botha – Emeritusprofessor, UNISA, Navorsingsgenoot: Afrikaanse Taalraad
  28. Studenteplein
  29. Prof. Piérre Theron – Voormalige ATR-direksielid, Suid-Kaap
  30. Felicity Titus – Afrikaansdosent
  31. Christo van der Rheede – HUB: AgriSA
  32. Merlyn van der Rheede – Noordelike projekbestuurder, Afrikaanse Taalraad
  33. Audy Hendricks – Gemeenskapsleier, Eersterust
  34. Pastoor Danie Matthys - Cherub Ministries, Pretoria
  35. Pastoor Jackie Matthys – Cherub Ministries, Pretoria
  36. Ds. Pieter Grove – VGK Kuilsrivier
  37. Ds. Steenkamp – VGK Eersterivier
  38. Ds. Zincke – VGK, Vredenburg
  39. Ds. Kotze – VGK Eersterivier
  40. Dr. Flaendorp – VGK Macassar
  41. Kommissaris Aäron Messelaar - Administratiewe hoof: Griekwa-koningshuis
  42. Dennis Malgas – Afgetrede Afrikaansonderwyser
  43. Dr Fiona Ferris – Senior dosent, Departement: Taalkunde en Moderne Tale (UNISA)
  44. Frederik van Dyk – US-student
  45. William Sezoe – US-student
  46. Esra Plaatjies – Afrikaans lééf!
  47. Leon Liedeman – Strateeg: Growcom
  48. Samuel Theron – Uitvoerende hoof:  Sport Implementation Foundation
  49. Danzel Andries – Produksiebestuurder: wynindustrie
  50. Quinton Morkel - Sakesektor
  51. Donovan Kortjé - Sakesektor
  52. Wayne Hendricks - Onderwyskundige
  53. Keith Topley - Sakesektor
  54. Jolene Henn – Hoof: Korporatiewe Sake in die wynindustrie
  55. Harlan Cloete – Radio-omroeper
  56. Mercy Kannemeyer – Uitvoerendekunste-sektor
  57. Marekyn Kruger-Evert – Sekretariaat: Afrikaanse Taalraad
  58. John Muller – Leier, sakeman (konstruksie)
  59. Auburn Kelly – Skoolhoof
  60. Martin Botha – Entrepreneur en sosiale kommentator
  61. Morné Dreyer – Sakesektor
  62. Jerry Scott – Aktivis en sosiale kommentator
  63. Anton Laubscher – Minerale en energie-deskundige
  64. Haneé de Vries – Sakesektor
  65. Prof. Anne-Marie Beukes – Uitvoerende hoof van die SAAWK
  66. Japie Gouws – Direksielid, Afrikaanse Taalraad
  67. Michael Jonas – Voorsitter, Afrikaanse Taalraad
  68. Dr. Annelise de Vries – Ondervoorsitter, Afrikaanse Taalraad
  69. Alana Bailey – Direksielid, Afrikaanse Taalraad
  70. Prof. Marné Pienaar – Kantoor vir veeltalige dienste, Universiteit van Johannesburg
  71. Dr. Leon Schreiber – Parlementslid, Demokratiese Alliansie, Kiesafdelingshoof vir Stellenbosch
  72. Dr. Jeanette de Klerk-Luttig – Opvoedkundige
  • 17

Kommentaar

  • Theodore H Kruger

    As oud Matie van 1962 STEM ek saam, die optrede van US bestuur gaan hulle nog berou, hulle vertrap my Voorvaders se werk. Per slot van rekening, wie het die US gebou? Nie sg. Engelssprekendes wat nou na US stroom omdat hulle universiteite nie kan byhou en swak standaarde beoefen nie, bv morele standaarde.

  • Johannes Van Der Merwe

    Keur asseblief die fakulteite se versoek vir 'n "tydelike" afwyking van diè taalbeleid af.

  • Frans Badenhorst

    Afrikaans is 'n Afrika taal. Gebruik vir bevryding van kolonialisme en om stemme te werf in 'die geskiedkundige referendum wat effektief die afgryse van Apartheid beïndig het sonder 'n burgeroorlog. Afrikaans is diep gewortel in mense wat deel was van die stryd ("the Struggle") teen Apartheid. Stellenbosch en Afrikaans het baie om trots te wees en kan daarop voortbou. Om te diskrimineer teen enige (wit, bruin of swart) studente wat onderrig in Afrikaans verkies, is ongrondwetlik. In baie gevalle sal die onderdrukking van Afrikaans neerkom op rassisme en groter stremming tussen rasse tot gevolg hê. Erkenning van meer tale nie net Engels (of Afrikaans nie) moet aangemoedig word by US.

  • Dankie vir die optrede. In woorde van CP Hoogenhout: "in die skole, in die kerke word ons moedertaal vermoor",

  • Naòmi Morgan

    Indien dit ongrondwetlik is, moet regstappe volg. Dit dui ook op die verwoestende invloed van sekere rektore met hul eie agendas.

  • As oudstudent van die 1960s erg ontsteld met hierdie ontkenning van ons trotse Afrikaans. Ondersteun die inisiatief ten volle!

  • Gerda van der Linde

    Daar word gepraat van nie genoeg tyd om in Afrikaans te vertaal nie. Wat het dan van die studiemateriaal geword wat reeds in Afrikaans is?

  • Judith Beneke

    Afrikaans het net soveel reg om 'n universiteitstaal en taal en huistaal te wees. Dit is iedereen en ander se grondwetlike en mensereg vir jou bestaan. Alle tale verdien dieselfde plek en respek in die grondwet en menseregtebeleid.

  • Afrikaans het die US gebou. Afrikaanse geld het dit betaal, personeel doktorsgrade in die buiteland laat verdien, elke jaar topposisies geondersteun en nie net projekte van wêreldgehalte se uitvoering geborg nie, maar ook die taalverraaiers wat hierdie selfbehebte politieke verraad pleeg se sakke gevul - en doen nog steeds. Of neem hul net Engelse skenkings?

  • Andries van der Walt

    Kom ons hou op praat en doen wat Solidariteit gedoen het. Bou ons eie Afrikaanse universiteit. Dalk ook tyd vir 'n tweede Reddingsdaad Bond.

  • Frans Badenhorst

    Ons het. Sy naam is Stellenbosch Universiteit. Hoe lyk dit met 'n Afrikaans (asook wat ook al taal meeste studente verkies) aanlyn universiteit. Unisa het hulp nodig - het te veel aansoeke.

  • Uli Kaempffer

    Alle Afrikaanse universiteite is deur die Afrikaners opgerig. Geen ander taal, tensy 'n anderstalige betrokke sou wees in Afrikaans, het enigsins bygedra tot die oprigting van die universiteite nie. Wat ook baie betreurenswaardig is, is dat Afrikaners self deel neem aan die afskaffing afrokaans. Dis amper om n mes in die rug van die Afrikaner te steek. Plaas sit diegene sy/haar voet neer! Dubbeltalige medium kan nog aanvaar word. Verder, om te dink dat ons as jong manne moes veg vir ons "ideologie"? Ons het besluit om hande te neem met die res van SA, maar NOOIT ingestem om alles net so laat val soos warm pap. Ons is immers nog deel van die SA, ingeskryf in die grondwet!!

  • Anna-Marie Groenewald

    Ek stem 100% saam met die beswaarmakers teen verengelsing. Dit verarm die studente sowel as die land se kultuurskatte en benadeel studente op voorgraadse vlak, maar ook studente wat later in Europa wil werk en studeer. Hulle benadeel ook die inheemse kultuur van Suid-Afrika, want taal is nie net taal nie, dis ook kultuur.
    Verder is dit hartverskeurend dat 'n universiteit, wat ondersoekende, moderne en ope en wetenskaplike denke moet aanmoedig, so verkrompe raak soos in die Middeleeue met heksejagte teen sekere taalgebruikers. Ek bevraagteken die sg. buitengewone intelligensie wat in die video-onderhoud met Freek Robinson aan Wim de Villiers toegedig word. As rektor Wim nie weet dat Engels die enigste amptelike taal is wat uitheems is nie, en nie eers die feit dat Afrikaans inheems aan Suid-Afrika kan verstaan en erken nie, bevraagteken ek nie net sy intelligensie nie, maar die hele universiteit se geloofwaardigheid as opvoedkundige en onpartydige navorsinginstelling.

  • Wim de Villiers is die ANC se handlakei wat hulle politieke agenda dryf. Die ANC skree altyd kolonialisme, maar hang nou die taal van die grootste kolonialiste aan. Netsoveel as wat Afrika deur Engelssprekendes gekolonialiseer is, so is dele daarvan deur Hollanders, Portugese en Franse gekolonialiseer. En soos Frans Badenhorst uitwys, net soos Afrikaanssprekendes apartheid bedryf het in hulle taal, het hulle dit ook beëindig vanaf 1992. Hulle het net die agterbaksheid en laakbaarheid van die ANC onderskat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top