Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK

  • 1

Op 30 en 31 Maart 2019 het die DAK-Netwerk ’n konferensie by die Old Mutual Ouditorium in Kaapstad gehou.

Die DAK-Netwerk is onlangs gestig en is na drie Khoisan-ikone vernoem: Doman, Autshomao en Krotoa. DAK gebruik dan ook drie pilare – identiteit, maatskaplike bemagtiging en ekonomiese bemagtiging – om ’n platform en ’n stem aan die breë Afrikaanssprekende gemeenskap te gee.

Danie van Wyk

Dié konferensie was die breinkind, of soos heelwat sprekers gesê het, "bruin kind", van Danie van Wyk, een van die direkteure van DAK.

Jerome Topley

Die naweek se program is gelei deur Jerome Topley, ook ’n direkteur van DAK. Hy het reg aan die begin van die gesprek gesê dat die konferensie graag na drie vrae so wou kyk.

  • Wat is die waarheid oor Afrikaans?
  • Hoe kan versoening in of deur Afrikaans bewerkstellig word?
  • Wat kan ons anders doen in Afrikaans, veral as ons na die toekoms wil kyk?

Kort lesings is rondom hierdie vrae gelewer. Daar was ook twee paneelbesprekings en ’n aantal vraag-en-antwoord-sessies.

  1. Die waarheid oor Afrikaans

Verskeie sprekers het gesels oor die waarhede van Afrikaans. Een deurlopende tema is dat Afrikaans gekaap is en vernederlands is om seker te maak dat die taal binne die nasionalistiese ideologie van die wit heersersklas sou kon pas.

Hein Willemse: Afrikaans is gekaap

Hein Willemse

Die eerste spreker was Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria. Hy was ook die eerste van vele sprekers wat ’n direkte aanval geloods het op SJ du Toit, ook dié se tydgenote en navolgers, wat doelbewus Afrikaans as ’n wit taal geskets het. Hulle het Afrikaans gekaap, was Willemse se betoog.

Die probleem is dat Du Toit, en ander, se kaping gemaak het dat Afrikaans twee identiteite gekry het: die Afrikaans van die bodorp waarmee daar smalend gepraat is oor die “ander” Afrikaans, dié van die onderdorp.

Dit het veroorsaak dat Afrikaans die hartstaal van ’n groot aantal sprekers was én ook die taal van daardie einste mense se verdrukking.

Hierdie dualisme is nog met ons, waarsku Willemse. Daar is steeds duidelike assosiasies met apartheid en nasionalisme wat aan die taal kleef.

Volgens Willemse verskraal SJ du Toit se sienings van Afrikaans as wit taal onmiddellik Afrikaans tot ’n koloniale taal. Die feit dat Afrikaans in Afrika ontstaan het, word so ontken. So ook word die rol van tolke soos Doman en Krotoa gewoon geïgnoreer in hierdie witgewaste Afrikaans.

Hierdie verskraling van Afrikaans sluit ook opsetlik die Afrikaans van die Kaapse Moslems uit. Reeds voor Du Toit se taalbeweging is die eerste Afrikaanse boek, deur Abu Bakr Effendi, in Arabiese skrif geskryf. (Daar is reeds elders op LitNet berig oor hierdie boek en die Afrikaans van die Kaapse Moslems. https://www.litnet.co.za/fotoblad-die-afrikaans-van-die-kaapse-moslems-bekendstelling.)

Die bewuste, voortgesette vernederlandsings van Afrikaans onder die Nasionale Party is verder gedryf deur die jag op sogenaamde anglisismes.

Die idee dat Afrikaans eintlik ’n witmanstaal is, sou vir lank ook nog deur die media uitgebasuin word. Enige verwysings na bruin en swart sprekers se Afrikaans was dikwels verkleinerend; dit is gereeld afgemaak as amusant en komies.

Hierdie negatiewe beeld van Afrikaans, gekoppel aan Afrikanernasionalisme, het uiteindelik gelei tot die uitbarsting teen Afrikaans op daardie bloedige dag in Soweto in 1976.

Hans du Plessis: Afrikaans het 50 jaar voor Van Riebeeck ontstaan

Hans du Plessis

Die volgende spreker was Hans du Plessis, wat jare lank navorsing gedoen het oor die variëteite van Afrikaans. Hy was ’n kollega van wyle Christo van Rensburg en het ná Van Rensburg se afsterwe die boek Van Afrikaans gepraat persklaar gekry. Die boek is deur LAPA uitgegee in samewerking met Malan Media en die Afrikaanse Taalraad.

Du Plessis se lesing het grootliks oor die inhoud van Van Rensburg se boek gehandel.

Indien ons verstaan dat Afrikaans reeds vir honderde jare in Suid-Afrika gebruik is om kommunikasie te bewerkstellig, sou Afrikaans weer ’n regmatige plek kon inneem as die taal van versoening, sê Du Plessis.

Afrikaans is baie ouer en gevarieerd as wat mense dink.

Die nuwe taal maak reeds 50 jaar voor Van Riebeeck ’n buiging. Teen daardie tyd was daar gereeld skepe wat die Kaap aangedoen het om water en vleis in te neem. Diegene op die skepe kon geensins die plaaslike klapklanke verstaan nie, dus het die Khoi begin om Nederlands en die ander Europese tale aan te leer.

Die slawe wat uit die Ooste gekom het, was dikwels hoogs intellektuele mense, en ook hulle moes met die Nederlanders kommunikeer.

Teen 1700 was Afrikaans dus reeds 100 jaar oud, en daar is drie verskillende variëteite van die taal opgeteken – variëteite wat vandag nog in Afrikaans bestaan: die Afrikaans van die Khoi, wat vandag nagespeur kan word in Gariepafrikaans; die taal van die slawe, wat steeds neerslag vind in Kaaps; en Veeboerafrikaans, wat vandag nog in die Transvaalse Afrikaans nagespeur kan word.

Veeboerafrikaans sou bepalend word in ons geskiedenis. Soos die koloniste dieper in die binneland ingegaan het, moes hulle met die ander veeboere kommunikeer. Du Plessis noem hierdie taalvariëteit ook Voorposafrikaans. Die voorpos was nie ’n plek nie, dit was ’n mentaliteit – soortgelyk aan die manier waarop die “frontier” in die VSA meer as ’n plek was.

Tussen 1700 en 1800 trek die veeboere dieper die binneland in. Die Khoi word stelselmatig verplaas na die Gariep en die slawe bly grootliks in die Kaap agter.

Teen 1800 is Afrikaans dus reeds 200 jaar oud, met drie duidelike dialekte wat in verskillende dele van die land begin vorm aanneem.

SJ du Toit kies toe uiteindelik een van die variëteite, naamlik Voorposafrikaans, en begin daaruit ’n standaard skep.

Standaardafrikaans is egter nie ’n taal nie, sê Du Plessis. Dit is ’n konstruk. Afrikaans is die somtotaal van al die variëteite. Die waarheid oor Afrikaans is dat Afrikanernasionalisme die Afrika-hart uit Afrikaans geruk het.

Du Plessis stem saam dus saam met Willemse: Soos Du Toit, en later die Nasionaliste, Afrikaans weer wou vernederlands, het hulle Afrikaans verarm. Die kollig op Nederlands was polities van aard – dit was soveel makliker om só ’n taal as die wit mense se taal te beskou.

Julian Sonn: Ook die godsdiens is ontken

Julian Sonn

Julian Sonn, ’n dosent in transformerende leierskap, is gevra om telkens die gehoor te betrek en gesprekke tussen die sprekers en die konferensiegangers te fasiliteer.

Hy het die kort na Du Plessis se lesings die gehoor daarop gewys dat sy eie ma-hulle verskuif is van ’n plek waar hulle as veeboere kon boer, na ’n lokasie. Dit was Afrikaanse mense wat dit aan ander Afrikaanse mense gedoen het.

Sy eie Afrikaanse voormense het egter saam met ander Afrikaanse mense teen die San gaan veg – hulle was deel van die kommando’s wat hulle eie mense uitgemoor het.

Sonn het die gehoor ook daarop gewys dat die miskenning van die inheemse mense se bydrae tot taal en kultuur gemaak het dat die geestelike en godsdienstige wysheid van ons voorsate verlore gegaan het – die sendelinge het bloot hulle eie godsdiens op die mense van Afrika kom afdwing.

Paneelbespreking: Die waarheid oor Afrikaans

’n Paneelbespreking oor die waarheid van Afrikaans het daarna plaasgevind. Op die verhoog was Quinton Adams, Cornelia Faasen, Robyn van de Rhede en Earl Basson. Malixole Gwatyu (regs) was die gespreksleier.

’n Groot deel van hierdie gesprek het gehandel oor die toegang tot kapitaal en veral dan hoe dit die kunste raak.

Aan die een kant is kapitaal nog grootliks in die hande van ’n wit minderheid en daar is net ’n beperkte hoeveelheid geld wat na die kunste kan gaan. Dit belemmer die skep van produksies, veral as dit kommersieel haalbaar moet wees. Vir talle mense wat nie eens brood het om te eet nie, is teaterkaartjies iets wat hulle nooit sal kan bekostig nie. In die Noord-Kaap gaan 22% van Afrikaanssprekende kinders honger slaap.

Die ander probleem is dat variëteite van Afrikaans, anders as die standaard, wel soms in produksies verskyn, maar dan gaan kyk net ’n klein deel van die Afrikaanse gehore daarna. So bly ons teatergangers dikwels nog baie gesegregeer.

Kommersiële produksies soos Afrikaans is groot is weer nie verteenwoordigend van alle Afrikaanssprekendes nie.

Dit alles het ’n impak op die taal en reflekteer negatief op enigeen wat nie die sogenaamde Standaardafrikaans praat nie.

William Gumede: Afrikaans as ’n swart taal

William Gumede

William Gumede, verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, vertel hoe hy as ’n Zoeloe in die Oos-Kaap grootgeword het. Dan praat hy boonop Afrikaans.

Gumede verteenwoordig dus ’n mengsel van baie tale en kulture. Hy beskou homself as Afrikaans én Afrikaan.

Hy waarsku dat ons versigtig moet wees om nie bloot swart of wit te dink wanneer ons oor Afrikaans en die toekoms praat nie. Afrikaans en Suid-Afrika is nie so maklik afbakenbaar nie. Gumede stel voor ons moet leer by die mense van Mauritius en die Kaap Verde wat lank terug ’n groter integrasie van die samelewing bewerkstellig het. Afrikaans is ’n veelvlakkige taal, so divers soos al die mense wat deel is van die taal.

Tog moet ons ook erken Afrikaans is juis ook op ’n ander manier tweevlakkig: dit is die taal van die verdrukker én die verdrukte.

Daarom, as ons die siel van die Afrikaans wil soek, moet ons begin met restitusie en ons moet vra wat is die gesamentlike Suid-Afrikaansheid wat ons soek? Ons moet dus seker maak dat ons nie weer taal gebruik om mense uit te sluit nie.

HemelBesem: Luister wie nie op die radio gehoor word nie

Hemelbesem

Simon Witbooi, die kunstenaar wat optree as HemelBesem, sê hy het met Kaaps grootgeword en vir hom was dit baie gou duidelik dat die taal van die skool nie sy huistaal was nie. Talle kinders het soortgelyke ervarings – vandag nog.

Die probleem is vererger omdat sy taal nooit op die amptelike lugweë gespeel is nie. Sý soort Afrikaans is nie op die radio of die TV gehoor nie.

Die radio het musiek gespeel waarmee hy nie kon identifiseer nie. Carike Keuzenkamp se “Mooi Griekeland” het vir hom niks beteken in Worcester nie.

Díe miskenning van jongmense se werklikhede het gemaak dat kinders hul rug op Afrikaans gedraai het en Amerikaanse ikone begin volg het – dit het vir wit kinders ook gegeld.

HemelBesem kan onthou hoe ongelooflik dit vir hom was toe hy die eerste keer die groep Brasse van die Kaap op RSG gehoor het. Hier was mense wat in sý taal musiek gemaak het. Hy het dadelik hulle musiek gaan koop.

Dinge begin stadig verander. HemelBesem sê Fokofpolisiekar was ’n baanbrekersgroep. Hulle het die weg gebaan vir Karen Zoid, Spoegwolf en die Straatligkinders om meer gereeld op die lug gehoor te word, maar die realiteit is dat die kunstenaars wat in ander variëteite van Afrikaans sing, steeds bitter selde gehoor word.

Dit veroorsaak dat Youngsta CPT, ’n Engelse kunstenaar wat hier en daar Kaaps gooi in sy musiek, veel meer bekend is as baie Afrikaanse kunstenaars, soos EarlyB, wat kies om musiek te maak in die taal wat na aan hulle eie hart is.

HemelBesem verduidelik toe dat die groot probleem lê by die saamstel van speellyste. Die uitsaaiers by die kommersiële stasies mag gewoon nie musiek speel wat nie op die speellys is nie. Dit beteken dat talle uitstekende kunstenaars nie op kommersiële stasies gehoor word nie.

  1. Versoening

Verskeie sprekers het oor versoening gesels.

Paneelbespreking 2: Bekentenisgesprek

Ria Olivier (links) was die as gespreksleier tydens die tweede paneelbespreking. Op die verhoog was Malixole Gwatyu, Hendrik Theys, Giselle Botha en Danie van Wyk.

Hendrik Theys het vertel hoe hy as kind die vlaglied gesing en die Republiekvlaggie geswaai het in 1961. Vir hom was Suid-Afrika en Afrikaans mooi, al moes hy buite die kring staan en kyk na die wit mense binne die kring. Hy wou wees soos die mense binne die kring. Daardie strewe om wit te wees – ook om die suiwer Afrikaans van die wit mense te praat – het dalk vir altyd in hom gebly, sê Theys. Dit is dan ook hoekom hy al die jare net die een variëteit van Afrikaans, die sogenaamde Standaardafrikaans, aan sy studente voorgehou het.

Danie van Wyk vertel dat hy net een variëteit van Afrikaans geken het tydens sy grootwoordjare. Kaaps is vandag nog vreemd vir hom en hy sukkel byvoorbeeld om Nathan Trantraal se Afrikaans te lees. Vir hom was Standaardafrikaans die een ding wat sý deel van die dorp gedeel het met die wit deel van dorp. Al kon hulle nie saambly nie, had hulle ’n gedeelde kode.

Van Wyk sê dat Afrikaans, in al sy variëteite, vandag ook ’n samebindende rol kan vervul. Ons moet dus nou hard werk om dit wat ons gemeen het, te neem en voort te bou daarop.

Giselle Botha, wat ná 1994 gebore is, vra egter: Kan daar ’n “ons” wees? Sy voel ongemaklik om vir klasse in Afrikaans te vra op die kampus waar sy studeer weens die kollektiewe skuld waarmee sy en haar geslag sit.

Hierop het Malixole Gwatyu gereageer deur te sê dat die uitvalle van apartheid vir lank nog mense gaan seer maak – ook wit mense. Ons sou die oorlogterm “collateral damage” in hierdie verband kon gebruik.

Braam Hanekom: Kan Afrikaans en Belhar ons bymekaar bring?

Braam Hanekom

Braam Hanekom, die moderator van die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaapland, het as kerkman gepraat. Hy begin deur te sê ons moet mooi besin oor datums soos 16 Junie en 16 Desember. Ons moet onthou dat 16 Desember, wat vandag as Versoeningsdag bekendstaan, vir baie lank Geloftedag was en dít het versoening ernstig in die wiele gery.

Afrikaans het te lank gepoog om net wit Afrikaners saam te bind. Arnoldus Pannevis het reeds in 1875 gesê die nuwe taal het gom geword wat mense saambind, maar vir Pannevis was dit net waar vir ’n sekere groep.

Godsdiens was ook eens ’n faktor wat wit Afrikaners gebind het, vandaar sy verwysing na 16 Desember. Vandag is godsdiens, soos gebesig in die tradisionele kerke, egter nie meer ’n faktor in ons samelewing nie.

Sy vrae sou dus wees: Kan Afrikaans dalk versoenend werk? Kan Afrikaans gesprekke skep wat versoening sal bewerkstellig? Kan Afrikaans dalk weer mense op godsdienstige vlak saambind?

Die sinode van die NG Kerk in die Wes-Kaap het byvoorbeeld reeds Belhar as ’n belydenis aanvaar, wat maak dat hierdie sinode baie nader aan die VG Kerk is as aan die landswye NG Kerk se sinode. Sou taal dus kon maak die NG Kerk in die Wes-Kaap deel kon word van die VG Kerk?

Vir Hanekom het taal die vermoë om ’n unieke potensiaal onder mense te weeg te bring. Die taal het gemaak dat ons uitstekende wyn kan maak en satelliete in die ruimte kan plaas. Kan die taal ook versoening te weeg bring?

Hanekom sê dit sou kon, maar dan moet daar eerlike gesprekke in die taal gevoer word. Gesprekke oor restitusie, ekonomiese geregtigheid en vaardighede is nodig. Ons kan nie net oor die taal praat nie, ons moet ook in hierdie taal oor ’n nuwe volkskongres praat. Ons moet praat oor armoede, oor gedeelde waardes en die onderwys.

Ons het groot foute gemaak in die verlede, dus moet die toekoms via ’n nederige gesprek geskied. Die taal en die gesprekke daarin mag nooit weer eksklusief wees nie.

Stan Henkeman: Mense wil versoening hê

Stan Henkeman

Stan Henkeman, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (Institute for Justice and Reconciliation), sê mense is oorweldigend ten gunste van versoening. Hy kan dit sê, want die instituut doen jare lank reeds navorsing onder alle Suid-Afrikaners.

Wanneer hulle vir mense vra wat versoening beteken, dan kom woorde soos “verskoning”, “vergifnis” en “aanbeweeg” ter sprake.

En taal? Waar pas taal in? Daardie vraag word beantwoord wanneer die instituut vir mense vra wat hulle saambind. Twee faktore kom sterk na vore: ras en taal. Dié twee is gewoonlik baie na aan mekaar. In 2015 was taal ’n effens groter bindende faktor as ras, maar in 2017 het ras meer stemme gekry as taal.

Taal kan dus samewerking bewerkstellig.

Die instituut wil egter ook weet: Wat verdeel ons? Ongelykheid is die heel grootse faktor. Daarna kom ras egter weer ter sprake.

Ons moet dus aandag gee aan ongelykheid, want Suid-Afrika se vlakke van ongelykheid het toegeneem ná 1994. Ons het op hierdie gebied agteruit geboer. Wit mense kry volgens die statistiek steeds makliker werk, al is die persepsie soms anders. Demokrasie het ons dus nie gelykgemaak nie.

Daar moet dus ’n intervensie wees as ons wil voortgaan na versoening.

Ons moet ook die trauma van die verlede aanspreek. Kolonialisme en die Groepsgebiedewet het mense se menslikheid verpletter. Daar, in die kunsmatig-geskepte woonbuurte waar geen sosiale kohesie was nie, moet die kinders vandag vaskyk in dwelmhuise en bendes wat op mekaar skiet.

Ons moet verder teruggaan – na die volksmoorde, die uitwissing van die Khoi en die San. Talle inheemse tale is in hierdie proses uitgewis en die opbloei van Afrikaans het ’n rol daarin gespeel.

Arundhati Roy het gesê as ’n mens eers goed begin sien, kan jy hulle nie weer onsien nie. Ons moet dus hieroor praat. Om stil te bly oor hierdie kwessies is net so polities as om daaroor te praat.

Ons moet dus praat. Ons moet selfs ontwrig, want ons moet die agenda bepaal vir die pad vorentoe.

Ons moet geregtigheid soek. Geregtigheid moet voor versoening kom, want versoening is die beloning wat volg op die waarheid en die regstel van dit wat verkeerd is.

Flip Buys: Die pad na versoening

Flip Buys

Flip Buys, die uitvoerende hoof van Solidariteit, sê ons kan nie die verlede verander nie, maar ons moet die toekoms bou. Die verlede was verdeeld en het talle mense benadeel, maar ons moet seker maak dat die toekoms nie aanhou om mense te benadeel nie.

Elke gemeenskap skryf hulleself in die geskiedenis in as sentraal. Die Afrikaners het gedink die wêreld draai om hulle. Dit was verkeerd, maar juis daarom moet ons oor mekaar se geskiedenisse praat, want al bly ons in een land, kom ons uit verskillende wêrelde.

Vir hom is sy oupa en ouma se swaarkry in die konsentrasiekampe ’n narratief wat sy hele menswees beïnvloed het. Suid-Afrika se geskiedenis het dus baie fasette: imperialisme, konsentrasiekampe, rassisme. Dit als het mense verdruk.

Die probleem, sê Buys, is dat die nuwe regering ook weer neig na ’n monokultuur; hy pleit dat ons multikultureel saam met mekaar moet kan bestaan. Om minderhede eenvoudig weer deel te maak van die meerderheid sal nie versoening bring nie.

Buys sluit aan by die ander sprekers en sê ongelykheid is die grootste probleem in Suid-Afrika. Die gebrek aan dienste pla almal. By Solidariteit wil hulle iets daaraan doen en hulle lewer dus staatsdienste sonder staatsinkomste.

Hy blameer ook ouer Afrikaanse maatskappye dat hulle deesdae nie genoeg doen om arm mense te help nie. Buys verwys na die opleidingskollege wat hulle gebou het, ter waarde van meer as R100 miljoen, en die grootste enkele skenking daarvoor was R10, sê hy. Dit was egter moontlik om met baie mense se R10-skenkings ’n wonderlike produk te skep.

Op hierdie manier wil hulle ter plaatse ’n vriendelike ruimte skep vir jongmense wat nou oorsee wil gaan bly. Korrupsie en verval in die land veroorsaak woede en stop pogings tot versoening. Dit vervreem die jeug. Daarom probeer Solidariteit welvaart skep. Die toekoms moet sterker wees as die verlede. Ons moet fokus op die punte waaroor ons saamstem; ons moenie dat ons verskille in geskille ontaard nie.

  1. Die toekoms

Twee akademici het vorentoe gekyk en gevra: Hoe hanteer ons die toekoms?

Michael le Cordeur: Ons pad vorentoe

Michael le Cordeur

Michael le Cordeur, van die Universiteit Stellenbosch, het sy praatjie begin deur te sê hy het slegte nuus: Versoening gaan lank vat.

Die goeie nuus, daarenteen, is dat Afrikaans nie sal uitsterf nie.

Afrikaans is meer as 300 jaar oud, maar dit dra swaar aan die 40 jaar wat die Nasionale Party aan bewind was.

CJ Langenhoven het Afrikaans gestigmatiseer toe hy ons taal vir die “wit man” toegeëien het.

Christo van Rensburg wys vir ons in sy boek Van Afrikaans gepraat dat Afrikaans nie ’n witmenstaal is nie. Dit behoort ewe veel aan swart mense, bruin mense en die baie Indiërs wat ook Afrikaans praat.

Afrikaans het apartheidswoorde geskep om mense apart te hou. Ons moet dit erken. Ons moet egter ook baie versigtig wees vir die woorde wat steeds mooi klink, maar erg problematies is. Afrikaanse mense praat gou oor “moedertaalonderrig” – maar wat bied “moedertaalonderrig” vir die kinders wat Xhosa, of enige ander inheemse taal, naas Afrikaans, praat?

Tans kan sommige kinders die eerste drie jaar van hul lewens in hul moedertale onderrig word, maar wat dan? Aan die einde van graad 3 gaan hulle met vakansie en loop aan die begin van graad 4 in ’n Engelse klas in. Wat dan?

Le Cordeur vra toe hoeveel van die mense teenwoordig ’n toets sou kon aflê in Xhosa? Dit word nou van swart kinders verwag om na Engels oor te skakel en dit alles gebeur onder die mooi term “moedertaalonderrig”.

Eerlike gesprekke oor die toekoms is moeilik en gaan lank vat.

Ons moet erken bruin mense is nie genooi na die opening van die Afrikaanse Taalmonument nie. Ons moet bely taalhandboeke het gesê die taal van die bruin mense is onbeskaafd.

Ons moet hierdie waarhede aanspreek voor versoening moontlik is.

Dan, vir die toekoms, moet ons ook breër dink en besef dat daar naas die Taalmonument ’n moskee in die Bo-Kaap staan wat dalk ’n groter hoeksteen vir Afrikaans kan wees.

Vir die toekoms moet ons vra: Wie is die ware helde van Afrikaans? Is dit werklik SJ du Toit? Of is dit dalk iemand soos Abu Bakr Effendi? Wat van Achmat Davids?

Anton van Niekerk: Taal maak ons uniek

Taal het homo sapiens gehelp om uit te styg bo ander diere, sê Anton van Niekerk, van die Universiteit Stellenbosch.

Taal is nie bloot ’n kulturele erfenis nie; dit laat ons biologies oorleef. Taal laat ons toe om ons sosiale organisasies te stig. Taal is ook die manier waarop ’n mens kyk – dit is die voertuig, dalk ook die kamera én selfs die projektor waarmee ons die wêreld verstaan.

Johan Degenaar het gesê hy het die wêreld deur Afrikaans leer ken. Die probleem is dat Afrikaans juis verskillende beelde gelewer het aan mense van verskillende velkleure, dialekte en uitsprake. Afrikaans kon so gebruik word om ’n koloniserende invloed te hê.

Afrikaans het eens gemaak dat die wit man ’n seker toekoms gehad het.

Vandag is die toekoms onseker.

Vir Van Niekerk het die toekoms onseker begin word toe hy bewus word van die protes by UWK. Vanaf die kampus op Stellenbosch kon hy sien sy kollegas by UWK gee gewoon nie om vir die toekoms waaroor hy so seker was op Stellenbosch nie.

Daar was protes teen Afrikaans, daar was protes in Afrikaans.

Kyk ons na die toekoms, dan besef ons hedendaagse studente gee nie veel om vir Afrikaans nie. Hulle sien Afrikaans skynbaar nie as ’n voertuig wat hulle in sosiale kohesie met ander landsgenote die toekoms in kan neem nie.

Dit sal moet verander vir Afrikaans. Ons sal moet ruimtes en geleenthede skep waar jongmense Afrikaans as bemagtigend kan sien.

Die taal alleen is nie genoeg nie. Dit wat ons bymekaar gaan hou – of uitmekaar sal laat spat – is ’n gemeenskaplike waardestelsel; dit moet ons weer laat protesteer. Ons moet kan protesteer teen die vergrype wat vandag ook in ons samelewing aangaan.

Ons sal dus verbeeldingryk ’n ruimte moet skep vir almal waarbinne ons na gesamentlike waardes kan streef.

Ons kan so ’n ruimte in Afrikaans skep, maar die taal alleen is nie genoeg om ons te bind nie. Dit moet ons ook erken om die toekoms in te gaan.

  • Foto's en teks: Izak de Vries

Lees ook

DAK-konferensie: Oor “die taal wat miere daidelik is”

  • 1

Kommentaar

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Die is vir my die funksie en die Taal Doendinge wat DAK Netwerk gereeld moet aanbied. Daar moet 'n "Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK II (2) Twee!" beplan word en baie gou! Veral as ons nou kyk na die hele polemiek rondom die Afrikaanse of Taal Monument want nou deur sommige gesien word as, "'n Ikoon van versoening," noem Danie van Wyk dit. Kom ons luister ook na die teenstemme van hulle want NIE saamstem nie. Kom ons praat! Kom ons Thorro soos Lyntjie Jaars sê of kom ons "Wietie" soos ons hier in die Noorde sê. Dit is belangrik dat ons praat en kan ek voorstel dat daar Engelse sprekers van Owerheids ... van ANC kan MOET wees. In afwagting!!! (Yours in anticipation!)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top