Oor “die taal wat miere daidelik is”
I
Ek moet beken dat ek my boeglam geskrik het toe ek vandag se program sien, en sien dat u wil hê dat ek moet praat onder die hofie “Die waarheid oor Afrikaans”.1 Die lidwoord “die” met al sy implikasies van “bepaaldheid”, van “vastigheid” en van “sekerheid” het my heeltemal onkant gevang, net soos die woord “waarheid”. Daar is waarskynlik niks so onvasvatbaar soos “waarheid” nie – dit is ’n woord en ’n begrip wat geleerdes op alle vastelande al vir eeue besighou. En die enigste sekerheid is die eindelose onsekerhede. Wat is waarheid en waarom is waarheid waarheid? Eens kon Thomas Aquinas in die 13de eeu die waarheid verbind met die aanname dat ons die teenwoordigheid van God in die natuur kan sien. Vir Immanuel Kant, vier eeue later, was dit voor die hand liggend dat alle kennis gekleur word deur menslike subjektiwiteit: ons bekyk ons wêreld deur ons eie filters en dat ons die volle omvang van dié waarheid eintlik nooit kan agterhaal nie.
Ek gaan my nie uitspreek oor die idee van waarheid as sodanig nie, maar my voordrag liewer toespits op ’n stelling van ds SJ du Toit teen die einde van die 19de eeu, en die begin van ’n diskoers wat deels die lotgevalle van Afrikaanssprekendes bepaal het. Vir meer as ’n eeu is hierdie stelling van Du Toit as die “waarheid oor Afrikaans” voorgehou, en het ’n formidabele intellektuele struktuur daaromheen ontstaan. Talle het daarvoor opgeoffer, talle is omrede daarvan ontken, en talle het in verset daarteen gesterf. Vandag vir die toekoms van Afrikaans het ons ’n nuwe, omvattender diskoers nodig. In die loop van die voordrag sal dit sin maak om die stemme van ons verlede te laat saampraat, daarom haal ek hulle soms breedvoerig aan.

Hein Willemse
Foto: Izak de Vries
II
Meesal leef ons in taal en beleef ons taal sonder om daaroor na te dink. Sommige van ons kan ’n hele lewe leef sonder om vir een enkele oomblik stil te staan en na te dink oor hierdie menslike vermoë tot spraak; dat ons ons gedagtes weer kan gee in stringe woorde en sinne, en verstaanbaar kan maak vir andere. Wat nog te sê van die aard van taal, die geskiedenis van taal, of die assosiasies en emosies wat taal opwek? Taal is soos water of soos lug. Dis eenvoudig daar – teenwoordig – en jy dink nie daaraan nie, tot die dag dat dit besoedel, ondrinkbaar, onbeskikbaar of verstikkend is.
Vir talle van ons wat Afrikaanssprekend is, was Afrikaans vir jare om ons soos water of soos lug – altyd aanwesig. Toe breek Junie 1976 aan. Dit is toe leerlinge in die strate van Soweto plakkate omhoog gehou en betoog het teen Afrikaans as ’n onderrigtaal, en talle in die dae en weke daarna beseer en gedood is. Plakkate soos “We don’t want Afrikaans”, “To hell with Afrikaans”, of vir my een van die mees veelseggende: “The black nation is not a place for impurities: Afrikaans stinks!” Dit was ’n dag van herkenning vir ons as Afrikaanssprekendes, ’n oomblik van openbaring. In Derridiaanse terme sou ons waarskynlik die moment kon tipeer as la rupture, “die breuk”, die gebeurtenis. Dit was die oomblik van die herkenning van die taligheid van taal, of meer presies: die “taal-heid” van Afrikaans. Die oomblik waarin nie net die aard van taal as sodanig ontbloot is nie, maar ook die assosiasies van Afrikaans, ons eie verbintenisse en selfs ons sin van verbondenheid.
“Afrikaans stinks!” Afrikaanse mense het verbysterd voor dié soort uitspraak gestaan: ons taal het ’n smet geword. Ons het rasioneel probeer verklaar dat dié en ander slagspreuke, soos “Afrikaans is the language of the oppressor”, uitsprake van verset is; dat dit emotiewe ontlading is; dat die verwerping van ’n onderwysbeleid bedui word en dat teen ’n totale stelsel in opstand gekom word. Ons het besef dat dit nie hier gaan oor die geldigheid of die ongeldigheid van ’n uitspraak nie, maar oor ’n totale belewing. Ons kon die assosiasie met apartheid, politieke en ekonomiese onderdrukking en die aktiewe verwerping van regeringsbeleid en Afrikanernasionalisme insien, maar waarom die taal die skuld gee? is gereeld gevra.
Daar was ook ’n ander kant. Wat van diegene wat nie regstreeks onder die ban van Afrikanernasionalisme geval het nie, wat nie deel van die volk was nie, maar wie se totale belewing van hul wêreld in dié taal geskied het? Ook hulle was Afrikaans in hart en niere. Hoe het hulle op daardie moment van openbaring gereageer? Ook hulle kon hulle nie vereenselwig met die taal wat die draer van Afrikanernasionalisme en apartheid geword het nie. Ook hulle het Afrikaans as onderdrukkend ervaar. Hulle moes leer leef met ’n neerdrukkende teenstrydigheid, ’n dubbele bewussyn: enersyds was Afrikaans hul hartstaal en andersyds was dit die simbool van hul eie verdrukking.
Ons kom uit ’n geskiedenis waar kolonialisme en apartheid hulle – ons – oral gestuit het. Ons voorgeslagte is beperk tot houthakkers en waterdraers wees, en hul potensiaal en inisiatiewe is by die hakskene afgekap. Die Afrikaans wat ons in die bodorp beleef het, of wanneer óór ons gepraat is, was ’n taal van ontheemding, van vervreemding, van ontkenning. Dit is ontsettend om in jou eie taal ’n mindere, ’n vreemdeling, ’n gebrekkige kuriosum geag te word.
Hoe het ons by dié punt beland?
Vir meer as ’n eeu bestaan die aanname dat Afrikaans die eiendom is van één seksie van sy sprekers. Dink aan SJ du Toit se uitspraak in 1874 in De Zuid-Afrikaan: “Afrikaans is ’n witmanstaal, ’n suiwer Germaanse taal, een van suiwerheid, eenvoudigheid, bondigheid en kragtigheid.”2 Die “Hottentotte”, het hy gesê, het hul tale verlaat en dié van “die witman” aangeneem. Met hierdie stellings kamp hy “Afrikaans” af, net soos hy sou doen met die begrip “Afrikaner”, en begin hy ’n diskoers wat alle ander aansprake daarop ontken of verdag maak.
Wat Du Toit ignoreer, is dat die oorspronklike Suid-Nederlandse variant te midde van die 17de- en 18de-eeuse Kaapse mengelmoes, lankal nie meer die taal van die kolonis was nie, maar in die monde van die inheemse mense, voormalige slawe en andere besig was om ’n ander taal te word. Terwyl hy en sy kollegas hul debat oor Afrikaans gevoer het, was die eerste godsdienstige boek alreeds in daardie taal geskryf. Sjeg Abu Bakr Effendi, ’n Koerdiese teoloog, skryf in sy voorwoord tot Bajaan al-Din (’n Uiteensetting van die Geloof, 1869/1877):
(dan es noedigh ik moet skraijwe met die taal wat miere daidelik es tussen hoewaile [hulle], laat hoewaile kan wiet agaama met ghamaakelik op die righte maniere)3
Dit is aan die begin van die Arabies-Afrikaanse skriftradisie. Teen die begin van die 20ste eeu sou skrywers soos Abdullah Abdurauf, Hisham Effendi, Magmoed Ghatieb, Abdurakib ibn Abdul Kahaar en Abdurahim Muhammed al Iraki alreeds hulle godsdienstige tekste in dié tradisie geskryf het, en Muhammed al Iraki sou ’n paar jaar later ’n woordelys opstel met die titel ’n Vaif talige woordelais en kort sinnetjies in Arab, Farsi, Hindistani, Afrikaa en Engels (1905).
Dié is tekste geskryf in Afrikaans, geskryf in ’n taal wat die Engelse owerhede verguis het, maar ook deur mense wat later voorstanders van die “suiwer Germaanse taal” sou word. Dié vorm van ’n ontwikkelende Afrikaans is Kombuis-Hollands of Hotnots-Hollands genoem en dit was die taal wat hierdie geestelike leiers gekies het om hulle godsdienstige tekste en rituele in te verwoord. Dit was die taal van hulle gemeenskap. Achmat Davids sê dat Moslems die Arabiese skrif, die skrif waarin die Koran geskryf is, as heilig beskou en dit met eerbied ook in hulle alledaagse omgang hanteer.
The Cape Muslims therefore did not view Afrikaans as a language of inferiority [...] They saw Afrikaans as an inherent part of their psyche and were prepared to transmit it in writing, using their sacred script.4
In dié opsig is dit sinvol om daarop te wys dat skeldname altyd van buite af toegeken word, byna nooit deur die benoemdes self nie.
Linguiste sê dat taalverandering verder terugstrek. Afgesien van die eerste tolke, soos Doman, Autshumao en Krotoa en dié wat voorheen met Europese seevaarders in kontak was, was daar vroeg reeds spore van taalaanpassing. U ken die bekende aanhaling van Willem ten Rhyne uit 1686, nagenoeg 30 jaar na Europese besetting. Te midde van sy bespreking oor die Khoikhoi se geestelike belewing in sy verslag Schediasma se Promontorio Bonae Spei (’n Verslag van die Kaap van Goeie Hoop) gee hy ’n man se gebroke Nederlands weer, ’n aanduiding van ’n nuwe taal wat in wording is:
Dat is doet: Was makom? Duytsman altyt kallom: Icke Hottentots doot makom: Mashy doot, Icke strack nae onse grote Kapiteyn toe, die man sy soon witte Boeba geme.5
(Kom! Wat doen jy? [Die] Hollander sê altyd: Ek maak Hottentotte dood. Wel dood! As ek doodgaan, gaan ek reguit na ons Groot Kaptein. Hy sal my wit osse gee.)
Uit die Kaapse mengelmoes was ’n ander taal aan ‘t ontwikkel wat Du Toit grotendeels ontken het ten gunste van ’n eng nasionalistiese diskoers.
III
’n Diskoers of ’n diskursiewe formasie, sê Michel Foucault, die Franse filosoof, bestaan uit daardie verspreide stellings oor ’n vakgebied, aannames en praktyke wat met verloop van tyd as wetenskaplike waarheid geag word. Op die lange duur neem so ’n diskursiewe formasie die allure van algemeen-aanvaarde feite, van kennis aan. En kennis is mag; die een speel in op die ander. Dit is hierdie kennis/mag wat geleerdes en instellings soos skole en universiteite in ’n samelewing bepaal, en daarmee saam die limiete van ons kennis; wat ons sê en wat ons nie durf sê nie. Maar meer nog: hierdie kennis word dwarsdeur ’n samelewing as die waarheid aanvaar, deur die media versprei, in tempels en op verhoë verkondig, en in kuierplekke en tafelgesprekke sonder teenspraak voorgehou. En so kry die stellings, die diskursiewe formasie vastigheid, en word die kennis waarheid.
Du Toit se uitspraak staan aan die begin van die skepping van so ’n diskoers oor Afrikaans as “witmanstaal”. Hy sou ’n groot rol speel in die oprigting en uitvoering van die aktiwiteite van die Genootskap van Regte Afrikaanders GRA) waar die taal regstreeks verbind is met die aspirasies van ’n opkomende Afrikanernasionalisme. Net so sou hy Afrikanerskap eng omskryf en Die Afrikaanse Patriot as middel gebruik om die Afrikaners te leer dat Afrikaans húl taal – húl “kosbaarste besitting” – is en dat hulle ’n plig het om dit tot “landstaal” te ontwikkel.
Op basis hiervan sou Du Toit se nakomelinge en opvolgers ’n formidabele taal- en letterkundige infrastruktuur opbou, een wat wesenlik op die uitsluiting van nie-Afrikaner Afrikaanse sprekers gebou is. Selfs waar hulle as taalgenote erken is, is die oordeel oor hul morele en sosiale plek in die samelewing so fel dat hulle in sommige gevalle tot totale verdoemenis veroordeel is. Ek herinner u aan JH Rademeyer se 1938-studie Kleurling-Afrikaans – die taal van die Griekwas en Rehoboth-basters,waar dialektiese taalondersoek deels versand in pejoratiewe etnografiese beskrywing:
Die kleurlingtaal van ons land het tot dusver nog so goed as geen aandag geniet nie en het nog maar altoos gedien vir een doel: om te amuseer! Dat die kleurling sy gedagte soms op heel komiese wyse kan uitdruk, dat sy beskrywinge aan oorspronklikheid soms niks te wense oorlaat nie en dat hy dikwels gebruik maak van uitdrukkings en wendinge wat vir die blanke vreemd is en dus bereken is om die lagspiere te prikkel, dit weet omtrent elke blanke inwoner van die land.6
Hierdie sprekers van “kleurlingtaal”, beweer Rademeyer verder,
is vandag ’n rampsalige en ontaarde groepie mensekinders [...] wie se luiheid, ontugtigheid en die neiging om te verkwis ingebore skyn. [...] vertroubaarheid en waarheidsliewendheid is deugde wat mens byna vergeefs by hulle soek [...] sterk drank is hulle afgod en jeremiades hulle grootste troos in hierdie tranedal van onreg. Kortom, die indruk wat ’n mens van hulle kry is dat hulle vroeër of later gedoem is tot algehele ondergang.7
Ter opbou van die taalkundige infrastruktuur is teorieë oor die ontstaan van Afrikaans geformuleer om gedagtes oor kreolisering te neutraliseer; woordelyste, spelreëls en etimologieë te skep wat aantoonbaar die plek en rol van die Bolandse variëteit of die moontlikhede van Khoi- en slaweherkomste ondermyn, of grootliks nie in berekening bring nie. ’n Bewuste proses van vernederlandsing, Germaanse taalnormering, die uitweer van anglisismes is onderneem om die smet van “onsuiwerheid”, inheemse, slawe en Engelse invloed in die spreek- en skryftaal te minimaliseer en die stempel van algemene beskaafdheid, van Afrikaans as kultuurtaal, daarop te plaas.
’n Letterkundige stramien is gevestig waar nie-Afrikaner-skrywers buitestanders tot die Afrikaanse letterkunde geag word, of tot kuriosa verklaar is – soos in Gerrit Dekker se woorde wanneer hy SV Petersen se debuut Die enkeling (1944) afmaak as “roue krete van opstand” wat “in ons taal die skrynende leed tot uiting dring van hulle wat die slagoffer is van die sondes van die vaders”.8 Die indruk van uitsluiting is nie, terloops, ’n eiesoortige oordeel of ’n verspreking nie, want dit is ingebed in ’n oorhoofse stelsel waaraan ’n nie-Afrikaner hoogstens ’n sekondêre deelnemer kan wees, en ’n stelsel waarvan die apartheidsbeleid ’n simptomatiese uitvloeisel was.
“Afrikaans stinks!” – ook wanneer uitsluiting teen mede-Afrikaanse sprekers gepleeg is. Die ervaring van uitgeslotenheid het werklike nagevolge gehad. Ek herinner my weer aan die priemende woorde van Petersen in ’n nooit-gepubliseerde artikel in 1952:
Ek praat Afrikaans, ek praat Engels net so goed of net so sleg; ek lees en verstaan wat ek lees in Nederlands en in Duits [...]
Kortom my beskawing is Westers. My land is Suid-Afrika. Begryp u, ek soek nog altyd na die andersheid van my Blanke broer. Hy wil my mos nou ten ene maal om die dood nie erken as sy rasgenoot nie, as sy landgenoot nie, as sy taalgenoot nie, as sy eie vlees en bloed nie. Hy beweer dat ek vir hom ’n probleem geword het. [...]
Hy klap die voordeur toe in my aangesig, hy beledig my in die oë van die wêreld, hy fence my in. Ek mag nie dit nie, ek mag nie dat nie. Dis Europeans Only hier, dis Europeans Only daar. Ek is mos nie melaats, of aaklig nie? Ek is nie vuil, of aanstootlik nie?9
Dit is die nagevolge van die diskursiewe formasie van Afrikaans as ’n “witmanstaal” wat vanaf die einde van die 19de eeu die meerderheid van sy sprekers uitsluit, wat aanleiding gee tot die gebeure van 1976, en wat steeds derduisende sprekers vervreem. Dit is hierdie diskoers wat met elegante eufemismes, strategiese aanpassings hier en daar tot waarheid verhef is en wat ’n koersaanpassing benodig indien die voortgesette groei en ontwikkeling van Afrikaans ons erns is.
Ek dank u.
Eindnotas
1 Hierdie toespraak is gelewer tydens die DAK Netwerk-konferensie Waarheid en versoening oor Afrikaans op 30–31 Maart 2019 by die Ou Mutual Konferensiesentrum, Pinelands, Kaapstad.
2 Aangehaal in Hermann Giliomee, The Afrikaners. Biography of a people,Tafelberg, University of Virginia Press, 2003, bl 217.
3 Abu Bakr Effendi, Bajaan al-Din. Konstantinopel, 1877, bl iii. Die oorspronklike teks is ongevokaliseerd en word so behou. Die manuskrip in Arabiese skrif is reeds in 1869 voltooi en as handgeskrewe teks versprei, want dit kon destyds nie plaaslik gedruk word nie. Uiteindelik is dit ag jaar later in Konstantinopel, Turkye gedruk.
4 Achmat Davids, The Afrikaans of the Cape Muslims, reds Hein Willemse en Suleman E Dangor, Protea, 2011, bl 86.
5 Olfert Dapper, Willem ten Rhyne en Johannes Gulielmus de Grevenbroek, The Early Cape Hottentots described in the writings of Olfert Dapper (1668), Willem ten Rhyne (1686) and Johannes Gulielmus de Grevenbroek (1695);vertaal deur I Schapera en B Farrington, reeks 1, nr 14, Van Riebeeck-vereniging, 1933, ble 140–1.
6 JH Rademeyer, Kleurling-Afrikaans – die taal van die Griekwas en Rehoboth-basters, NV Swets & Zeitlinger, 1938, ble 11–12.
7 Rademeyer, ble 22–3.
8 G Dekker, Afrikaanse Literatuurgeskiedenis, 13de druk, bygewerk tot 1966, Nasou Bpk, sj, bl 292; my beklemtoning.
9 SV Petersen, “Agter die grenslyn”, Doc 118.Z.Pr.P., DJ Opperman-argief, JS Gericke-biblioteek, Universiteit Stellenbosch, 1952, bl 2.
Kommentaar
My liewe vriend, goed geskryf, en ek verstaan waarom jy bedruk is. Maar was dit regtig nodig om so 'n lang relaas te skryf, om die wit man te kan bykom? Dit klink vir my baie daarna. Beoordeel gebeure asseblief tog in hul historiese konteks. Net as almal vandag goedwillig saamwerk, sal ons ware deelgenootskap kry. Die verlede is nie mooi nie, maar mens moet dit seker nie gedurig gebruik as rede, om in die pad van ware samesyn te staan nie. Ek waardeer jou besondere kennis en gebruik van Afrikaans. Groete van 'n mede-Afrikaanssprekende.
Dankie Mnr Willemse - jy is my Afrikanerbroer - en ons is saamgesmee in hierdie onophoudelike geveg vir dit WAT VIR ONS ALLES BETEKEN.
GESKIEDENIS HET MET ONS GEBEUR.
Dankie ook aan DAK.
Ek is verbaas om te sien dat Ferdie Du Preez dink dat Hein Willemse bedruk is. Dit was glad nie my indruk van die stuk nie. Bloot realisties - ja. "Witman bykom" Klink vir my vergesog. Dit is juis belangrik om die verlede se besoek en aan te haal om nie weer dieselfde foute te herhaal nie. Dankie Hein.