Persverklaring: Suid-Afrikaanse Akademie betreur taaldebakel op Stellenbosch

  • 1

..........

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns spreek haar ernstige kommer uit oor die gebeure die afgelope paar weke by die Universiteit Stellenbosch, een van Suid-Afrika se top universiteite, oor die gebruik van Afrikaans op sy kampus en ook die konseptaalbeleid wat pas bekend gemaak is.

............

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns spreek haar ernstige kommer uit oor die gebeure die afgelope paar weke by die Universiteit Stellenbosch, een van Suid-Afrika se top universiteite, oor die gebruik van Afrikaans op sy kampus en ook die konseptaalbeleid wat pas bekend gemaak is. Hierdie stand van sake het ontaard in ’n onbehaaglike debakel wat wyd in die Afrikaanse taalgemeenskap veroordeel word.

Die bevordering van Afrikaans as ’n akademiese taal ten behoewe van die beoefening van die wetenskap en tegnologie in al sy vertakkinge is reeds meer as ’n eeu die sentrale missie van die SA Akademie en haar meer as 950 lede wat almal oor gevorderde nagraadse kwalifikasies beskik. Die Akademie plaas ’n hoë premie op wetenskap- en beroepsbeoefening in diens van die Suid-Afrikaanse gemeenskap deur die mensekapitaal van ons lede. Ons kommer oor die taalkwessie by Stellenbosch spruit uit die waarneming dat een van ons land se inheemse tale, en daarby die jongste taal uit Afrikabodem wat die afgelope eeu tot volle wasdom as ’n wetenskapstaal ontwikkel het, se waarde klaarblyklik deur die Universiteit Stellenbosch geringgeskat word.

.........

Ons kommer oor die taalkwessie by Stellenbosch spruit uit die waarneming dat een van ons land se inheemse tale, en daarby die jongste taal uit Afrikabodem wat die afgelope eeu tot volle wasdom as ’n wetenskapstaal ontwikkel het, se waarde klaarblyklik deur die Universiteit Stellenbosch geringgeskat word.

..........

Die Akademie betreur die toenemend verbeeldinglose tegnokratiese omgang van Stellenbosch met die werklikheid van veeltaligheid en hoe dit sedert 2014 manifesteer in hierdie universiteit se taalbeplanning, ‑beleid en -implementering. En dít desondanks die taalgebruiksprofiel van die universiteit se primêre voedingsgebied waar Afrikaans die mees gebruikte taal is. ’n Wesenskenmerk van die Wes- en die Noord-Kaap is juis die ryk kulturele en talige diversiteit waarmee hierdie provinsies geseën is en waaruit Stellenbosch sy primêre studentekorps trek.  Hierdie diversiteit behoort immers as ’n hulpbron benut te word in diens van sy primêre voedingsgemeenskap. Kennelik beskou die Universiteit Stellenbosch egter hierdie diversiteit as ’n lastige probleem wat sistematies wégbestuur moet word in hulle  strewe na ’n verskraalde eentalige wetenskapskultuur en internasionale statuur, ten álle koste.

........

Kennelik beskou die Universiteit Stellenbosch egter hierdie diversiteit as ’n lastige probleem wat sistematies wégbestuur moet word in hulle  strewe na ’n verskraalde eentalige wetenskapskultuur en internasionale statuur, ten álle koste.

...........

Dit is onbegryplik dat die Universiteit Stellenbosch se konseptaalbeleid slegs ’n kopknik waag in die rigting van sy gemeenskap se  talige en kulturele diversiteit. Die vraag wat gevra moet word is of hierdie uitmuntende universiteit, wat ’n nuwe generasie moet toerus om hulle plek vol te staan in ’n postpandemie, ontwikkelende land met ’n wankelende ekonomie en gewelddadige samelewing, werklik sy roeping in hierdie konteks begryp?

Uitnemende universiteite tree immers eerstens in ’n bevrugtende vennootskap met hulle onmiddellike en naasliggende gemeenskappe. Suid-Afrikaanse universiteite durf nooit in hierdie dae in ’n hovaardige, eensydige bo-na-benede verhouding met hulle gemeenskappe te staan deur ’n “vyandige omgewing” te skep waar Afrikaanse studente “mikroaggressie” ervaar, soos wat Stellenbosch se eie Departement Afrikaans en Nederlands pas aan sy Rektoraat moes uitwys nie.

Die SA Akademie doen ’n beroep op die Universiteit Stellenbosch om sy jongste konseptaalbeleid grondig te hersien deur ’n taalwetenskaplik verantwoorde en raadplegende taalbeplanningsproses van stapel te stuur. Stellenbosch se voedingsgemeenskap verdien dit.

  • Anne-Marie Beukes, Hoof-uitvoerende beampte, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Lees ook:

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

US-taaldebat 2021: Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch

US-taaldebat 2021: US-koor sing nog in Afrikaans

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

Kaaps is the future of Afrikaans

  • 1

Kommentaar

  • Dr Edna+Deudney+Prinsloo

    'n Wesentlike bedreiging vir onderrig, veral akademiese onderrigin die inheemse tale, Afrikaans, Xhosa, Zulu, Sotho en ander, is die gebrek aan kundige en veral bekostigbare vetrtaaldienste. Onderwysers en lektore beskik gewoonlik nie oor die nodige vakterminologie en veral nie oor die tyd om die nodige vertaalwerk te doen nie. Doelgerigte opleiding van vertalers en terminoloë om bekostigbare dienste te verskaf is 'n vereiste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top