US-taaldebat 2021: Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch

  • 1

........

Afrikaans as volledig ontwikkelde akademiese taal is ’n belangrike instrument vir akademiese bemagtiging, en dra by tot veeltaligheid.

........

Die huidige debat oor die rol van Afrikaans as onderrigtaal op skool- en universiteitsvlak weerspieël ’n tragiese miskenning van die belang van moedertaalonderrig vir Afrikaanssprekende studente in Suid-Afrika. Op skool en op universiteit speel Afrikaans ’n waardevolle rol in kultuur- en kennisoordrag in vakke soos letterkunde, volkekunde, geskiedenis, wetenskap, biologie, ens, om ingewikkelde wetenskaplike begrippe soos homeostase, diffusie, elektromagnetiese golwe asook die metafore in die letterkunde en poësie te verduidelik.

Afrikaans as volledig ontwikkelde akademiese taal is ’n belangrike instrument vir akademiese bemagtiging, en dra by tot veeltaligheid. Om ingewikkelde wetenskaplike begrippe in Afrikaans te verstaan, maak dit moontlik om internasionale Engelse literatuur in hierdie verband te kan begryp en binne konteks te integreer. As jy eers die begrippe in jou moedertaal bemeester het, raak die bybring van ander tale makliker en stel dit jou in staat om jou in ander tale te kan laat geld. Die universiteit moet kritiese denke by hul studente bevorder, wat die beste in jou moedertaal gedoen kan word. Om daarop aan te dring om die US te verengels, dien eenvoudig nie die samelewing en die behoeftes van die oorgrote meerderheid van studente spesifiek van die Wes-Kaap nie. Hulle kom dikwels uit agtergeblewe gemeenskappe wat nog nie Engels goed bemeester het nie. Taalopvoeding op skoolvlak is ongelukkig ook nie oral na wense nie.

Ek was bevoorreg om geneeskunde voorgraads in Afrikaans aan die US te studeer, asook om ’n nagraadse kwalifikasie in huisartskunde aan die Universiteit van Pretoria, ook in Afrikaans, te verwerf. Professore AJ Brink en Jan Lochner, vorige dekane van die Fakulteit van Geneeskunde aan die US en medewerkers, het die Woordeboek van Afrikaanse Geneeskunde-terme in 1979 die lig laat sien. In die proses is ’n Afrikaanse woordeskat opgebou en is Afrikaans as onderrigtaal in geneeskunde daardeur aansienlik en blywend verryk. As studentedokter aan die UOVS (nou UV) het ek in Afrikaans en Engels in 1990 ’n boek geskryf insake die voorkoming en behandeling van sportbeserings om dokters, fisioterapeute en sportafrigters wat sportbeserings voorkom en behandel, by te staan in hulle taak.

Dit was my voorreg om die nagraadse Departement Huisartskunde aan die US te vestig met die doel om algemene praktisyns beter toe te rus vir hulle taak om ongedifferensieerde pasiënte te verstaan, te diagnoseer en te behandel, of te verwys vir spesialisbehandeling van gekompliseerde ernstige siektes. Pasiënte konsulteer dikwels hulle huisdokter met gewaande of werklike siektes. Die hoofpyn mag die gevolg wees van ’n breingewas, maar dit kan ook wees as gevolg van spanning omdat die pasiënt vrees dat hy ’n ernstige siekte onder lede het. Die rede mag wees dat hy of sy iemand geken het wat begin het met ’n hoofpyn wat later geblyk het die gevolg van ’n breingewas te wees. Die hantering van die pasiënt behels dus nie net om hom of haar te verseker dat hulle “niks makeer” nie, maar ook om hulle gerus te stel in verstaanbare terme dat al die spesiale ondersoeke geen ernstige siekte getoon het nie. Dit word genoem die pasiëntgesentreerde benadering van die huisarts, in teenstelling met die meer siektegesentreerde benadering van die spesialis. Die huisdokter is meer bekend met die huislike en kulturele agtergrond van sy pasiënt wat aanleiding kan gee tot psigosomatiese klagtes as wat die spesialis gewoonlik is.

.........

Op skool en op universiteit speel Afrikaans ’n waardevolle rol in kultuur- en kennisoordrag in vakke soos letterkunde, volkekunde, geskiedenis, wetenskap, biologie, ens, om ingewikkelde wetenskaplike begrippe soos homeostase, diffusie, elektromagnetiese golwe asook die metafore in die letterkunde en poësie te verduidelik.

...........

Ek het ook aan die US die MPhil (Joernalistiek) in Afrikaans verwerf wat my in staat gestel het om gereelde briewerubrieke in Huisgenoot (“Wat sê die dokter?”) te hanteer. Daarin het ek ingewikkelde mediese begrippe in verstaanbare taal vir Jan Alleman verwoord in antwoord op lesers se kwellende vrae.

In reaksie op ’n pasiënt se vraag nadat die rubriek gestaak is: “Wanne skryf dokte dan wee virrie Hysgenoot?” het ek twee boekies die lig laat sien wat in 2018 deur Protea Boekhuis uitgegee is, nl “Die dokter as vennoot” en “Die pasiënt as vennoot”. Siektes of beserings wat lewensbedreigend is, benodig dringende mediese of chirurgiese ingryping. Maar toestande te wyte aan ongesonde en destruktiewe lewenswyses, soos vetsug, rookverwante siektes, sekere kankers en osteoporose, benodig nie net mediese behandeling nie, maar die pasiënt moet self ’n bydrae lewer om ’n gesonde leefstyl na te streef. In hierdie proses word siektes voorkom en gesondheid bevorder eerder as dat simptome en tekens bloot met medikasie onderdruk word. Mediese behandeling mag selfs ongewenste newe-effekte openbaar wat ernstige gevolge mag inhou. Die menslike liggaam is dikwels in staat om homself te genees, mits die toestande bevorderlik daarvoor is om genesing te stimuleer.

Mense van alle vlakke van die samelewing het ’n behoefte aan wetenskaplike inligting in hulle moedertaal van die wêreld waarin ons leef om sin te maak van ingewikkelde begrippe in verstaanbare taal. Universiteite is belangrike nasionale bates waar vernuwende denke tot verbetering van ons land en die wêreld moet lei. Sprekers van Standaardafrikaans, Kaaps en ander dialekte moet saam om die tafel sit om hierdie kultuurskat in belang van opvoeding te bewaar en te bevorder sonder politieke beïnvloeding.

........

Mense van alle vlakke van die samelewing het ’n behoefte aan wetenskaplike inligting in hulle moedertaal van die wêreld waarin ons leef om sin te maak van ingewikkelde begrippe in verstaanbare taal. Universiteite is belangrike nasionale bates waar vernuwende denke tot verbetering van ons land en die wêreld moet lei. Sprekers van Standaardafrikaans, Kaaps en ander dialekte moet saam om die tafel sit om hierdie kultuurskat in belang van opvoeding te bewaar en te bevorder sonder politieke beïnvloeding.

...........

 

Jonathan Jansen se verklaring op LitNet dat die “angstigheid” oor Afrikaans beperk is tot ’n klein groep wit Afrikaanssprekendes, hou nie stand nie. Volgens hom is dit net ’n kwessie van tyd voordat alle universiteitskampusse sal migreer na Engels as primêre onderrigtaal namate voorgraadse innames aanhou diversifiseer. Daar is inderdaad sogenaamde bruin Afrikaanssprekendes wat wil veg vir die behoud van Afrikaans as taal om in hulle opvoedkundige behoeftes te voorsien. Ander inheemse taalgroepe mag dalk ook begin aandring op moedertaalonderrig op voorgraadse vlak. Ongelukkig beskik die tale van die swart bevolking (nog) nie oor die nodige nomenklatuur en wetenskaplike woordeskat om studente op voor- en nagraadse vlak op te lei nie. Die debat oor moedertaalonderrig moet egter nie verpolitiseer word nie.

Afrikaans is oor die afgelope 100 jaar ontwikkel deur mense wat identifiseer met mekaar onder andere in taal, godsdiens voedselvoorkeure, maatskaplike gebruike, musiek en kuns. Die taal is te kosbaar om uitgefaseer te word aan die US en ander universiteite wat Afrikaanssprekende studente uit alle vlakke van die samelewing akkommodeer! Die ideoloë van Engels-eentaligheid sal nie rus tot hul dogma in alle openbare ruimtes geld nie. Dit sal ’n tragiese gebeurtenis wees in die kultuurhistoriese geskiedenis van ons land.

  • Dawie van Velden MB ChB (US), MPrax Med (UP), MPhil (Joernalistiek (US)

Lees ook:

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

SU language debate 2021: A riposte: Vader Jansen, slaap jy nóg?

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

Kaaps is the future of Afrikaans

US-taaldebat 2021: Die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    "Om ingewikkelde wetenskaplike begrippe in Afrikaans te verstaan, maak dit moontlik om internasionale Engelse literatuur in hierdie verband te kan begryp en binne konteks te integreer. As jy eers die begrippe in jou moedertaal bemeester het, raak die bybring van ander tale makliker en stel dit jou in staat om jou in ander tale te kan laat geld. Die universiteit moet kritiese denke by hul studente bevorder, wat die beste in jou moedertaal gedoen kan word." Hierdie waarneming, wat heel waarskynlik uit ervaring voortspruit, is seer sekerlik die kern van dr. Van Velden se inset. Dis ook 'n bevestiging van talle navorsing wat oor dekades in hierdie verband gedoen is.

    Dr. Van Velden vat raak wanneer hy sy standpunt in praktiese terme soos volg verduidelik: "Op skool en op universiteit speel Afrikaans ’n waardevolle rol in kultuur- en kennisoordrag in vakke soos letterkunde, volkekunde, geskiedenis, wetenskap, biologie, ens., om ingewikkelde wetenskaplike begrippe soos homeostase, diffusie, elektromagnetiese golwe, asook die metafore in die letterkunde en poësie te verduidelik." Ook hierdie opmerking is male sonder tal in akademiese navorsing bevestig.

    Of prof. De Villiers en sy rooipleinkamerade hierdie uiters praktiese argumente verreken in hul beleidstoepassings op die US is natuurlik 'n ope vraag. Dalk doen hulle dit wel, maar wil bloot nie hê dat feite in die pad staan van hul eie en ander sêkondere oorwegings nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top