
Fotobron van US-koor: YouTube
Daar verskyn ’n brief in Die Burger: “Mag US-koor nog in Afrikaans sing?” Dít volg op die konsternasie vroeër nadat vrouestudente op die Matie-kampus verbied is om Afrikaans met mekaar te praat. En toe is daar vandeesweek ’n WhatsApp-boodskap van die huiskomitee van Minerva-koshuis aan ’n manskoshuis wat sê die ouens mag net in Engels sêr …
Marguerite van Wyk vertel meer.
.........
Die kwessie van sang en taal is egter veel groter as die vraag of ’n koor in Afrikaans mag sing al dan nie. Dit gaan eerder daaroor dat die koor (en selfs sêrgroepe) soveel beter daaraan toe is as hulle in soveel moontlik tale sing.
............
Dís nou ’n brief: “Mag US-koor nog in Afrikaans sing?”
Wat ’n absurde vraag.
Of is dit?
Die sneller was die taalwoelinge die afgelope ruk op die Matie-kampus. Die jongste omdat vrouestudente in die Irene- en Minerva-koshuise verbied is om Afrikaans te praat. En verlede week val daar toe die WhatsApp-bom wat op Netwerk24 gaan draai. Daarin versoek die huiskomitee van Minerva-vrouekoshuis ’n manskoshuis om net in Engels te sêr.
Terug na die vraag.
’n Dawerend “ja” vir Afrikaans óók, sê een van die ouddirigente, Johan de Villiers (wat die koor van 1977 tot 1984 dirigeer het) en die huidige dirigent, André van der Merwe.
Eweneens was dit vir hóm vanselfsprekend dat kore onder sy leiding ’n beduidende aantal Afrikaanse liedere in hul program insluit, vertel Johan. Dit het ook groot byval gevind onder oorsese gehore tydens buitelandse besoeke. “En dít is baie bevredigend vir ’n dirigent én die sangers,” sê hy.
Die kwessie van sang en taal is egter veel groter as die vraag of ’n koor in Afrikaans mag sing al dan nie. Dit gaan eerder daaroor dat die koor (en selfs sêrgroepe) soveel beter daaraan toe is as hulle in soveel moontlik tale sing.
Johan verduidelik: “Hoewel dit vir my belangrik was om erkenning aan Afrikaanse musiek te gee – en daar is hope voorbeelde daarvan – het die US-koor ook gereeld musiek met Engelse, Xhosa-, Zoeloe- en Sotho-lirieke gesing. Dis immers ook Suid-Afrikaanse landstale. En koormusiek is die ideale medium om verskillende kulture en gemeenskappe se harte saam te laat klop en harmonie op alle vlakke te skep.”
André sluit hierby aan: “Die US-koor sing in ’n verskeidenheid tale, maar dit is belangrik om elke taal en kultuur met respek te hanteer.” Hy leer die 120 lede ook om na mekaar te luister. Maar dít strek veel verder as die musiek. “Want wanneer ons régtig na mekaar luister, leer ons meer van mekaar se kultuur, en ons leefwêreld verruim.”
’n Mens kan redeneer musiek is ’n universele taal, soos die Amerikaanse digter Henry Longfellow gesê het. Maak dit dus regtig saak in watter taal jy sing? Gaan dit nie bloot daaroor dat ’n mens jou luisteraar se hart wil roer nie?
André sê een van die dinge wat hom juis die meeste van die US-koor inspireer, is dat ’n uiteenlopende groep mense Afrikaanse werke met soveel deernis sing. “Inderdaad kry my moedertaal meer dimensie wanneer ’n uiteenlopende groep dit met integriteit sing.” Hy verwys byvoorbeeld na “Die donker” op YouTube.
Hy sê voorts die koor sluit om dié rede (ook) altyd Afrikaanse werke in sy program in. “As ’n rolmodel van die koor kom my passie vir die koor ongeforseer na vore.”
In 2021 se repertorium is dit weer so. Gehore kan uitsien na die “Spokewals” van die komponis Hendrik Hofmeyr (’n toonsetting van twee Boerneef-gedigte) en ’n nuwe verwerking, deur André, van die sanger Joshua na die Reën se “Suiderkruis”.
As ek terugdink aan my universiteitskoordae (in 1984 onder Johan en daarna onder Acáma Fick tot 1986), dan sus dié belewenisse in ’n verskeidenheid tale my soos die kosbare wiegeliedjies wat my ma kleintyd vir ons gesing het. Afrikaans, Frans, Engels, Duits, Latyn, Zoeloe, Sotho … ’n allegaartjie van koorliedere, elkeen deel van die emosionele en kulturele arsenaal en menswees.
Martli Slabber, ’n lemoenboer van Citrusdal en destyds mede-alt in die US-koor, glo ook dat daar selde ná universiteit weer die geleentheid was om musiek – en woorde – met soveel kompleksiteit en skoonheid (en soms eenvoud) te sing. Hoe kan sy ooit Boerneef se “geelkeelkanarie wat kwinkeleer” vergeet, selfs al is daar deesdae min telefoonlyne. En die “stilte ná sedoos gaan lê” is steeds genadig, mymer sy.
Martli maak ’n geldige stelling: “Studente versamel tog nie net kennis op kampusse nie. Universiteite bied ook platforms (soos kore) waar ons saamwerk en ons menswees uitruil.”
.........
Ek is diep dankbaar die US-koor sing nog in baie tale. Die spreekwoord lui immers: “Soveel tale wat jy kan, soveel male is jy man” (of vrou).
..........
Ek is diep dankbaar die US-koor sing nog in baie tale. Die spreekwoord lui immers: “Soveel tale wat jy kan, soveel male is jy man” (of vrou).
Maar om jou moedertaal (wat dit ook al is) lief te hê, is geensins verkeerd nie. En soms moet ’n mens jou stem maar laat hoor (nie net in die koor nie!).
Trouens, lees bietjie wat sê Madiba: “If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his language, that goes to his heart.”
Kommentaar
As Afrikaans, Khoi en San tale nie meer inheems is nie, word daar nie nou teen bruines gediskrimineer nie? Of is hierdie 'n ANC kultuurrewolusie om geforseerde etniese amalgamasie af te dwing nie, mbv 'n Engelse taalweergawe as amptelike taal?