US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

  • 13

....

Ampie Coetzee bly my by vir sy volharding, met sy hele wese, in sy onvermoë om dit wat op Stellenbosch met Afrikaans gebeur, te aanvaar of te verstaan.

....

Ter gedagtenis van Ampie Coetzee 

Ampie Coetzee, in lewe hoogleraar aan die Universiteit van Wes-Kaapland (Foto: Izak de Vries)

Die seekoei en die taalbeleid

Waarna ons ook al kyk, sien ons met die eerste oogopslag gewoonlik minder as die hele prentjie. Die oortjies van die seekoei lyk vir ons soos net nog ’n deel van die riviertoneel,  maar as die seekoei eers uit die water klim, is dit ’n ander saak.

Met enige beskouing oor taalbeleid in Suid-Afrika vandag is dit soos wanneer ons die oortjies van die seekoei sien: Dit is belangrik om vroegtydig so volledig moontlik ’n beeld van die situasie te vorm, insluitende dit wat nie eksplisiet gemaak word nie. As jy met ’n gedeeltelike beeld probeer klaarkom, sal jy onkant gevang word. Met taalbeleid sal jy dit moeilik vind om te verstaan waarom mense met soveel mag en aansien – kanseliers en visekanseliers, raadslede en professore, mense wat jy vertrou het – sonder om te blik of te bloos hulle ondernemings kan verbreek of verdraai of vergeet.

Die groter prentjie wat nodig is om die ontwikkeling van Stellenbosch se taalbeleid te begryp, het verskillende aspekte. Een van die heel belangrikstes het te doen met ’n idee van akademiese uitnemendheid wat eers betreklik onlangs by universiteite posgevat het. Hierdie idee is die stuk van die legkaart wat ek hier wil probeer invul.

....

Die Gerwel-verslag van Januarie 2002 het aanbeveel dat Stellenbosch ’n Afrikaans-medium universiteit moet bly (saam met die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit), en die regering het hierdie aanbevelings in November 2002 goedgekeur, byna 20 jaar gelede. In daardie konteks kon Stellenbosch ’n alternatiewe pad gevolg het.

....

Hierdie idee van uitnemendheid het sy oorsprong in die Amerikaanse universiteitswese aan die einde van die 20ste eeu. Dit was die manier waarop universiteite in die ryk Westerse lande die triomf van die neoliberalisme na die ineenstorting van die Sowjetunie gevier het, of universiteite dit wou vier of nie. Nadat kapitalisme sy veronderstelde globale teenstander uitgeskakel het, was dit tyd om die universiteitswese in die beeld van neoliberale kapitalisme te laat herskep.

Die idee van uitnemendheid het kort daarna sy verskyning in Suid-Afrika gemaak, en het deel geword van beplanning van die postapartheid hoëronderwysstelsel, sonder dat die beplanners dit altyd goed verstaan het. Suid-Afrika se oorgang van apartheid na demokrasie het saamgeval met ’n eiesoortige oorgang van ’n hoogs ongelyke welsynstaat na formele gelykheid en groeiende materiële ongelykheid.

Vandag word hierdie idee van uitnemendheid dikwels as vanselfsprekend aangebied, asof dit van die begin af deel van die akademiese lewe was en vanself daarby inpas. Dit word aangebied asof middelmatigheid die enigste alternatief vir uitnemendheid is. Dit is egter in werklikheid ’n stelsel van bestuur wat die akademiese lewe in die afgelope dekades wesenlik verander en verdraai het sonder dat ons dit besef.

Hierdie ideologie van uitnemendheid het in die Engelstalige wêreld begin, waar die neoliberalisme eerste en die sterkste gevestig is, en dit het ook daar verder as elders gevorder. Akademiese voertaal is nie op sigself ’n teiken van uitnemendheid (of neoliberalisme) nie. Maar omdat die stelsel van uitnemendheid grootskaalse mededinging beklemtoon (ook in kontekste waar mededinging ’n slegte opsie is, of ’n misverstand), is die ideale skaal van hierdie vorm van akademiese mededinging globaal, al weet jy nie altyd met watter globale teenstanders jy meeding nie.

Hierdie globale skaal van mededinging bevoordeel wêreldtale soos Engels (bowenal Engels). Chinees, Spaans, Duits, Frans, Russies en Japannees het genoeg lesers om in baie opsigte selfstandig te wees, sonder dat hulle daardeur afgesonder word. Omdat Engels die enigste wêreldtaal is wat in Suid-Afrika gevestig is, is Engelstaligheid ’n sterk wapen vir die ideologie van uitnemendheid by ons universiteite. Terselfdertyd word hierdie idee van uitnemendheid versterk deur die veronderstelling dat die waarde van die universiteit gemeet moet word aan die lonende werksgeleenthede wat dit vir jongmense skep en dat elkeen met sy of haar eie individuele selfbevordering besig is.

Ek twyfel of Stellenbosse beleidmakers ooit in soveel woorde verklaar het dat hulle van Afrikaans as akademiese taal ontslae wil raak met die doel om uitnemendheid te bevorder. Dit is moontlik dat hulle nooit eers daaraan gedink het nie, en selfs dat hulle nie heeltemal begryp dat hulle op pad is om Afrikaans uit die akademie te verwyder nie. Maar ek dink ook nie dat Stellenbosse taalbeleid op enige ander manier werklik verstaan kan word nie.

Ek twyfel ook of beleidmakers op Stellenbosch en elders besef dat die bevordering van sogenaamde uitnemendheid in feite tot die ondermyning van egte onderwys en navorsing lei. Hulle volg net die voorbeeld van ander universiteite, hier en elders, ook van dié wat boaan die wêreld se ranglyste staan. Die enigste verskil in hierdie opsig onder Suid-Afrikaanse universiteite is dat sommige te swak is om hierdie ideaal van uitnemendheid na te streef.

Stellenbosch loof sy eie uitnemendheid

As jy wil sien hoe Stellenbosch die kwessie van uitnemendheid beskou, kliek op die eerste hofie op die tuisbladsy van die universiteit se webwerf: http://www.sun.ac.za/afrikaans/Pages/Why-SU.aspx.

Die antwoord op die vraag “Wie is ons?” is dat Stellenbosch ’n voorbok van uitnemendheid is en hierdie stelling ook met ’n hele aantal sinonieme kan oordra.

Selfs die mooi ligging en voorkoms van die dorp Stellenbosch word daarvoor aangewend: “Verskillende argitektoniese eras simboliseer die akademiese onderbou en vestiging van ’n uitnemende instelling.” Maar uitnemendheid is nie hier net ’n metafoor nie: “Die US is een van Suid-Afrika se beste tersiêre instellings gemeet aan navorsingsuitsette, studente-slaagsyfers en geëvalueerde wetenskaplikes, en geniet internasionaal erkenning as ’n uitnemende akademiese instelling.” En dan: “[V]olgens die Times Higher Education World University Rankings is die US een van die beste 300 universiteite in die wêreld”; “die US tel nou onder die wêreld se elite instellings in 10 van die 36 vakke soos wat dit in die QS World University Rankings by Subject vir 2015 verskyn het.” Ensovoorts. Daar kom nog talle sinonieme daarby: wêreldklas, elite, leier, edm.

Die Rooiplein (Universiteit Stellenbosch) (Foto: Lourie Pieterse [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Maar kan jy uit hierdie stellings aflei of hierdie prestasies werklik so indrukwekkend is? Dit lyk meer na verkoopstegniek eerder as duidelike inligting. Dit skep die indruk van groot prestasie sonder dat die leser dit enigsins presies kan beoordeel. Wat bowenal bewys word, is Stellenbosch se gehegtheid aan die ranglyste. Soos ons sal sien, was verkope nog altyd die bedoeling van die ranglyste.

Die ander kant van die munt van uitnemendheid is sigbaar in die volgende afdeling van Stellenbosch se tuisblad, wat handel oor die geskiedenis van die universiteit. Dit bestaan meestal uit foto’s en kort beskrywings van mense, geboue en gebeure soos aanstellings van ’n nuwe rektor of kanselier, besoeke deur hooggeplaaste mense, insluitende Margaret Thatcher en Nelson Mandela; hier en daar ’n jooloptog of ’n atletiekbyeenkoms.

Wim de Villiers, huidige rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US)

Die bedoeling is seker om ’n toeganklike beeld van die universiteit te gee, maar die resultaat is die indruk van ’n universiteit wat hoofsaaklik besig is om sy eie beeld te poets; ’n onsamehangende twitter-feed wat vir een en ’n halwe eeu aanhou. Vir die uitnemende universiteit is die geskiedenis ’n soort versiering. Maar soos ander maniere van slim wees, vang historiese kortsigtigheid sy eie baas.

Waar kom die ranglyste vandaan?

Die stelsel van uitnemendheid is ’n betreklik onlangse ontwikkeling. Dit is effens jonger as die ranglyste waarop dit staatmaak. Maar waar kom die ranglyste vandaan?

Die verhaal begin met die samesmelting van twee nuusblaaie in 1948 om die US News and World Report tot stand te bring. Hierdie tydskrif was soortgelyk aan die twee leidende weeklikse nuusblaaie in die VSA, Time en Newsweek, maar minder analities, en meer gerig op alledaagse sake, insluitende resensies van verbruikersprodukte: yskaste, haardroërs, grassnyers en ander verbruikersitems wat destyds nog ’n skyn van nuwigheid gehad het. ’n Toeganklike manier om hierdie soort joernalistiek te bedryf was om die bekendste van hierdie items in ’n ranglys uiteen te sit. Hierdie ranglystegniek gee ook vir vervaardigers van hierdie produkte die motivering om gedetailleerde inligting aan joernaliste te verskaf.

In 1983 het die nuusblad ook begin met ranglyste vir Amerikaanse kolleges en universiteite, met rofweg dieselfde beginsel van waarde vir geld in gedagte. Hoër onderwys het destyds vinnig uitgebrei, en US News and World Report se jaarlikse ranglys van kolleges en universiteite was ’n groot kommersiële sukses. Die joernaliste wat voorheen fietse en visstokke beoordeel het, het begin om universiteite te evalueer en op ’n ranglys te plaas. Die bylaag wat jaarliks met hierdie ranglyste verskyn het, kort voor die tyd dat aansoeke ingelewer moes word vir die komende jaar se toelating, het geweldige verkope gehad.

....

Om ’n Afrikaanse universiteit te bly sou dit nodig wees om swart en bruin studente op groot skaal te werf en toe te laat wat óf Afrikaanssprekend is óf bereid is om Afrikaans te leer, en dan grootskaalse bronne aan te wend, sowel om armer studente te subsidieer as om nuwe studente Afrikaans te leer ... Dit sou veral nodig wees om swart en bruin studente uit die plattelandse gebiede van die Noord- en Wes-Kaap te werf, dit wil sê, uit die bevolkingsgroepe met die minste toegang tot hoër onderwys in Suid-Afrika vandag.

....

’n Universiteit is egter oneindig komplekser en moeiliker om te beoordeel as ’n fiets of ’n visstok. Maar as jy hoofsaaklik belangstel in die ervaring van die koper, kan jy rofweg dieselfde tegniek by almal toepas.

In 1990 het US News and World Report besluit om ranglyste vir nagraadse programme en beroepskole (regte, medies, argitektuur, ens) by te voeg. Dit was ’n voor die hand liggende manier om op hulle sukses voort te bou. Maar hulle sukses het hulle gou begin inhaal soos wat ander tot hierdie nuwe mark toegetree het; eers koerante en daarna nuwe agentskappe wat hulle ranglyste op die internet gepubliseer het. Teen daardie tyd het sommige universiteite en kolleges reeds gekla oor US News and World Report se slordige werk, en van hierdie instellings het hulle samewerking onttrek. (US News and World Report se reaksie hierop was om universiteite wat nie met hulle wou saamwerk nie, nog altyd by hul ranglyste in te sluit, maar laer in die ranglys as voorheen.) Al hoe meer het tot hierdie nuwe mark toegetree, juis op ’n tyd toe mededinging en bemarking belangriker as ooit tevore geword het.

As jy vandag op Wikipedia soek, sal jy ’n lys kry van meer as 20 agentskappe wat globale ranglyste aanbied, met QS (Quacquarelli Symonds), THE (Times Higher Education) en World Academic Rankings (Sjanghai) in die voorste plekke. Daar is ook ranglyste vir bepaalde streke, byvoorbeeld Asië en Suid-Amerika. Die ranglyste verskil van mekaar, maar die voorste universiteite is gewoonlik ook die rykste.

Om my uiteensetting meer toeganklik te maak, het ek hier gepraat van ranglyste wat universiteite met mekaar vergelyk, eerder as departemente, vaktydskrifte en akademici. Maar hierdie ranglyste word elke dag meer, asook die druk om daarby ingesluit te word. Kursusse word by universiteite aangebied om akademici te leer hoe om hulle prestasies te laat uitblink, dit wil sê, om die skyn van geleerdheid te kultiveer, eerder as geleerdheid self. Die hele karakter van die universiteitswese word in die proses verander. Of die verandering ook verbetering is, is egter ’n ander vraag. Soms lei dit net tot meer gevorderde verneukery. 

Verneukery word die pad na uitnemendheid

Uitnemendheid word gemeet aan die data wat deur die betrokke universiteit of navorser verskaf word. Hierdie data kan egter manipuleer word om ’n valse beeld te skep wat bedoel is om ’n hoër plek op die ranglyste te verseker. Op sy beurt word hierdie manipulasie deel van ’n groter akademiese kultuur wat alles deursyfer vanaf die kanselier tot by die naïefste eerstejaarstudent.

Soms sal die druk om hoër op die ranglyste te kom tot suiwer bedrog lei. Maar daar is volop geleenthede vir akademici en universiteite om ’n valse beeld te skep sonder om die reëls te oortree.

Volgens my waarneming is mense wat ’n lewe in die akademie uitsoek, selde van nature oneerlik in hulle werk. Sommige het wel groter sekerheid oor waarom hulle in ’n bepaalde studieveld wil werk en wat hulle wil vermag, en ander meer geneig om aan te pas by heersende tendense. Sonder dat hulle doelbewus oneerlik is, kan hulle integriteit makliker ondermyn word.

Ek noem hier slegs ’n klein aantal voorbeelde van tegnieke waarmee universiteite kan sorg dat individuele selfbevordering al hoe meer voorrang bo integriteit geniet, beginnende met die mees voor die hand liggende. Sulke tegnieke hoef nie in soveel woorde oorgedra te word nie, en almal sal nie ewe veel daardeur beïnvloed word nie. Maar dit het ’n kumulatiewe uitwerking op die kultuur van die universiteit wat mettertyd as druk aangevoel word, miskien veral deur jonger en nuut-aangestelde akademici.

Eerstens word dosente aangemoedig om soveel moontlik in geakkrediteerde vaktydskrifte te publiseer. Die kriteria vir bevestiging van nuut-aangestelde dosente stel dit voorop.

Dit beteken nie dat hulle eksplisiet afgeraai word om nuwe kursusse te ontwerp en nuwe studiemateriaal te ontwikkel nie. Maar die aard van hierdie aktiwiteite is sodanig dat publikasies maklik getel kan word, asook die bydrae wat dit lewer tot die universiteit se plek op die ranglyste. Die moeite wat die nuut-aangestelde dosent doen om ’n nuwe kursus saam te stel wat haar studente in staat stel om die sentrale vraagstukke van hulle tyd, plek en vakgebied te verstaan, kan nie ewe maklik gemeet word nie, en word daarom nie opgemerk nie. In ’n universiteit wat uitnemend wil wees, sal dit waarskynlik ook nie ewe veel waardeer word nie, selfs indien dit wel opgemerk word.

Maar dit is slegs die begin. Omdat die stelsel van uitnemendheid mededingend is, kan mens nooit seker wees dat een gepubliseerde artikel binne ’n spesifieke tydperk genoeg sal wees nie. As jy onder druk is om ’n tweede artikel te publiseer, is dit makliker om gebruik te maak van materiaal wat vir jou eerste publikasie gebruik is, in gewysigde vorm. En wie weet dan vir seker of twee artikels genoeg sal wees?

As jy werklik desperaat is, is daar altyd die opsie van fopvaktydskrifte wat elke e-pos-adres toegooi met uitnodigings om by hulle te publiseer (soms daarby sommer ’n uitnodiging om hoofredakteur te word), elke voorlegging onmiddellik aanvaar, en eers daarna heftige gelde vra. Daar is universiteite wat tevrede is met die hoogklinkende titels van sulke tydskrifte, en akademici wat bevorder word op grond van hierdie bedrogspul. ’n Bekende geval het in 2016 voorgekom toe die DA-parlementslid en afgetrede professor Belinda Bozzoli uitgevind het dat die publikasies van die SAUK-voorsitter, ’n professor by Unisa, meestal in hierdie fopkategorie geval het. 

Tweedens, in ’n konteks waar die aantal sitasies van ’n akademiese artikel getel word om die skrywer se “impakfaktor” te bereken, is daar nou ’n gebruik waarvolgens akademici in dieselfde studieveld ooreenkom om mekaar se werk in hul eie werk aan te haal in ruil vir aanhaling of sitasie deur ander lede van die betrokke sitasiesindikaat. (Die Engelse term is citation circle.) Die verband van die sitasie met die artikel waarin dit gemaak word, hoef nie duidelik, of selfs werklik, te wees nie. Op hierdie manier word elkeen se erkenning binne die bepaalde veld opgestoot. Diegene wat nie by so ’n sindikaat aansluit nie, sal gou agter raak op die skaal van uitnemendheid.

Sommige erkende vaktydskrifte het ook die praktyk begin om sitasie van ’n sekere aantal artikels uit daardie spesifieke tydskrif te vereis as voorwaarde vir publikasie. Weer eens is die gedagte dat almal daarby baat deur die aansien van die tydskrif op te stoot waarin hulle eie artikel gepubliseer word. Die vereiste van die getal sitasies word eers na aanvaarding oorgedra. As die gevestigde tydskrifte hierdie praktyk moet volg, is dit ’n aanduiding van hoe diep dié soort verneukery loop.

Derdens is daar maniere waarop personeelsake manipuleer kan word om die betrokke universiteit se plek op die ranglyste te verbeter. Een so ’n tegniek word beskryf in Mark Edmundsen se boek Why teach? In defense of a real education (2013), wat veral klem lê op die vernietigende uitwerking wat die kultuur van uitnemendheid het op studente wat elke insig as ’n klein transaksie beskou, en eers die waarde van die insig moet bereken sodat hulle kan besluit hoeveel aandag dit werd is.

Edmundsen se beskrywing van hierdie proses is subtiel en dikwels afhanklik van fyn waarneming van reaksies op literêre tekste. Maar ek was verbaas oor die krasse tegnieke wat ’n vooraanstaande universiteit gebruik, ten koste van tydelike en deeltydse akademiese personeel, om hulle plek op die ranglyste te verbeter.

....

As Stellenbosch werklik daarin belanggestel het om Afrikaans as akademiese taal te handhaaf of bevorder, sou die universiteit prioriteit gegee het aan ’n uitvoerige en openbare gesprek oor hoe dit moontlik gemaak kon word. Hulle versuim om dit te doen word ’n dekmantel waaronder hulle kan aandring dat daar geen sulke opsies bestaan nie.

....

Dit blyk uit sy beskrywing dat ’n universiteit se plek op die ranglyste ook afhang van die verhouding tussen die getal permanent-aangestelde akademiese personeel en die getal wat korttermynkontrakte het – hoe meer permanent-aangestelde professore, hoe meer uitnemend is die universiteit. Maar hierdie professore is duurder, en hul groter salarisse en byvoordele sou elders gebruik kon word om uitnemendheid op ander maniere te bevorder. Die oplossing waarmee die administrasie hierdie probleem oorkom, is dan om tydelike personeel aan te stel met ingang van die dag nadat die verslag aan die ranglysagentskappe ingedien word. Die ware verhouding tussen vaste en tydelike personeel word gegee, hoewel dit moontlik net op daardie een, enkele dag waar is. Die jongste en kwesbaarste personeel moet dan vir hulle salarisse wag.

Verdere tegnieke sou bygevoeg kon word. Maar die leser sal teen hierdie tyd die patroon herken. Die uitwerking daarvan kan ook oneindig uitbrei, want hierdie veelvoudige misbruike is ingebou, en dit is onmoontlik om hulle konsekwent te kontroleer, tensy ’n parallelle akademie tot stand gebring word om die hele inhoud van die wêreld se vaktydskrifte na te gaan, asook aanstellingsprosedures edm. En wat maak jy as hierdie parallelle akademie ook met nóg ’n laag verneukery begin?

Een laaste verneukery moet genoem word, waarmee universiteite hoofsaaklik hulself verneuk: die reusewinste wat akademiese uitgewers maak deur die werk van akademici te publiseer. Akademici skryf die artikels, redigeer die tydskrifte, en universiteite betaal groot bedrae om toegang tot hul werk in dieselfde tydskrifte te kry. Die voorste uitgewers, veral Elsevier en Taylor & Francis, maak ongekende winste daaruit. Is dit ’n geval van akademiese neoliberalisme wat net gewoonte geword het?

Ranglyste is grootliks ’n weerspieëling van die reputasie van verskillende instellings, en reputasie is nie altyd op ’n vaste fondament gebou nie. Malcolm Gladwell vertel van die hoofregter van die Michigan-deelstaat wat ’n lys van vooraanstaande regsfakulteite aan 100 van sy mederegsgeleerdes gestuur het en elkeen gevra het om hulle ranglys van die beste tien regsfakulteite in die VSA op te stel. Toe die 100 antwoorde inkom, was Penn State University op nommer vyf. Maar Penn State het op daardie stadium nog nooit ’n regsfakulteit gehad nie! Reputasie kan ook ’n hersenskim wees.

Hiermee wil ek nie sê dat elke akademikus – of elke uitnemende akademikus, of selfs die meeste van hulle – van hierdie tegnieke gebruik maak nie. Ek is seker daar is heelwat wat uitstaande werk doen, wat die hoogste standaarde van eerlikheid handhaaf. Maar ek meen hulle sal al hoe minder word soos wat die kultuur van uitnemendheid in intensiteit toeneem. As daardie kultuur lank genoeg voortduur, sal dit uiteindelik vir die verwydering van eerlike akademiese werk sorg.

Die ideologie van uitnemendheid

My indruk is dat die Afrikaanse woord uitnemendheid nog nie heeltemal aanvaarde of inheemse gebruik is nie. Dit bly ’n vertaling van die Engelse woord excellence, met ’n klank van sowel die advertensiewese as die burokrasie in albei tale. In die hedendaagse akademiese konteks is dit ’n inherent oneerlike term.

Uitnemendheid is dit waarmee jy kan wegkom. Maar die strewe na uitnemendheid het werklike kenmerke, en dié lei meestal tot beskadiging van die intellektuele lewe. Ek wil drie algemene kenmerke daarvan noem, en dan ’n vierde wat in lande soos Suid-Afrika van toepassing sal wees.

Eerstens word akademiese prestasie hoofsaaklik in kwantitatiewe terme beskou, soos wat hierdie prestasie deur burokratiese prosedures gemeet word. Dit vereis nie dat kollegas mekaar se werk lees en debatteer, of self daarvan weet nie, of dat hulle hulself as deel van ’n gesamentlike strewe sien nie. Dit vereis net dat hulle almal elke jaar dieselfde vorm moet invul en daarvolgens evalueer moet word.

Tweedens is uitnemendheid verbonde aan ’n eties-neutrale beskouing van die akademiese lewe. Het ’n deurbraak in die behandeling van longkanker groter waarde as ’n tegniek om sigarette te verkoop? Jy kan die vraag beantwoord deur publikasies te tel, hoe dikwels hulle aangehaal of siteer word, hoeveel geld vir die navorsing geskenk is, en dies meer. Die kriteria vir uitnemendheid moet op burokratiese wyse kontroleer kan word sonder dat die burokraat self enige kennis van die studieveld het.

Derdens is uitnemendheid ’n mededingende stelsel van individuele prestasie en beloning wat akademiese gemeenskap ignoreer of selfs ontmoedig. Instellings en individue het nie belang in die prestasie van hul kollegas of hul bure nie. Al is hulle kollegas ook vriende of familie, moet hulle in hierdie konteks as mededingers beskou word, tensy hulle byvoorbeeld deel is van dieselfde navorsingspan. Belangstelling in mekaar se werk en uitruil van idees kan al hoe makliker as ’n vorm van diefstal beskou en gevrees word.

In die Suid-Afrikaanse konteks verskaf uitnemendheid ook ’n meganisme vir ’n tipe kolonisering van die intellektuele lewe. Dit vereis dat Suid-Afrikaanse akademici moet meeding om aansien, of die skyn daarvan, in die lande met die grootste en rykste akademiese stelsels, byvoorbeeld deur publikasie in Amerikaanse en Britse vaktydskrifte, of bywoning van oorsese konferensies. Globale perspektiewe is belangrik, maar wat hierdeur aangemoedig word, is gewoonlik blote navolging van globale mag en rykdom.

Het Stellenbosch ’n alternatief gehad? Het hulle dit nou nog? 

Sou enige van hierdie skelmstreke (en nog vele ander) nodig wees as dit nie was vir die hedendaagse kultuur van uitnemendheid nie? Om hierdie vraag om te keer: Is daar werklik ’n gevaar dat die akademiese lewe in chaos sal ontaard sonder die geweldige apparaat van toesig en evaluasie wat in die laaste paar dekades toegeneem het, saam met die eise van uitnemendheid?

Hierdie vrae is nie spesifiek of alleenlik op Stellenbosch van toepassing nie. Maar dit het wel spesifieke toepassing op Stellenbosch, in soverre dit vir Stellenbosch moontlik was om ’n Afrikaanse universiteit te bly, en in ’n mindere of meerdere mate buite die globale ideologie van uitnemendheid.

Die Gerwel-verslag van Januarie 2002 het aanbeveel dat Stellenbosch ’n Afrikaans-medium universiteit moet bly (saam met die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit), en die regering het hierdie aanbevelings in November 2002 goedgekeur, byna 20 jaar gelede. In daardie konteks kon Stellenbosch ’n alternatiewe pad gevolg het.

Jakes Gerwel

Dit was wel onmoontlik vir Stellenbosch om in sy destydse gedaante Afrikaans te bly, dit wil sê as spoguniversiteit vir hoofsaaklik wit Afrikaners, hoofsaaklik uit betreklik ryk families, met sportspanne en ander fasiliteite wat ewe spoggerig is: rofweg die Universiteit Stellenbosch soos ek dit as eerstejaarstudent in 1972 ervaar het.

As Stellenbosch werklik daarin belanggestel het om Afrikaans as akademiese taal te handhaaf of bevorder, sou die universiteit prioriteit gegee het aan ’n uitvoerige en openbare gesprek oor hoe dit moontlik gemaak kon word. Hulle versuim om dit te doen word ’n dekmantel waaronder hulle kan aandring dat daar geen sulke opsies bestaan nie.

....

Dit was wel onmoontlik vir Stellenbosch om in sy destydse gedaante Afrikaans te bly, dit wil sê as spoguniversiteit vir hoofsaaklik wit Afrikaners, hoofsaaklik uit betreklik ryk families, met sportspanne en ander fasiliteite wat ewe spoggerig is: rofweg die Universiteit Stellenbosch soos ek dit as eerstejaarstudent in 1972 ervaar het.

....

Geen individu kan op haar eie daardie leemte vul nie. Dit is ook moeilik om enige individu vir sy optrede te verkwalik waar die gebrek aan gesamentlike gesprek hom dwing om hul eie besluite te maak. Ten spyte van hierdie voorbehoude sal ek ’n paar moontlike riglyne uiteensit, al is dit net om aan te toon dat daar wel iéts is om te bespreek.

Om ’n Afrikaanse universiteit te bly sou dit nodig wees om swart en bruin studente op groot skaal te werf en toe te laat wat óf Afrikaanssprekend is óf bereid is om Afrikaans te leer, en dan grootskaalse bronne aan te wend, sowel om armer studente te subsidieer as om nuwe studente Afrikaans te leer. (Daar was nog altyd wit Engelssprekende studente op Stellenbosch wat in mindere of meerdere mate Afrikaans bemeester het.) Dit sou veral nodig wees om swart en bruin studente uit die plattelandse gebiede van die Noord- en Wes-Kaap te werf, dit wil sê, uit die bevolkingsgroepe met die minste toegang tot hoër onderwys in Suid-Afrika vandag. Om dit te doen, sou dit waarskynlik nodig wees vir die universiteit om nuwe skole in daardie gebiede te bou en miskien self te bestuur.

As dit gebeur het, of nog sou gebeur, sou die fokus en struktuur van die universiteit ook moes verander om daarby aan te pas. Sommige veranderinge is voorspelbaar:  byvoorbeeld meer voorgraadse studente en minder nagraadse studente. Maar daar sou ook gevolge wees vir die grootte, en selfs bestaan, van fakulteite en studierigtings. Niemand sou dit vooraf met sekerheid kon voorspel nie. Om die waagstuk te neem, sou ’n manier wees om die beste deel van die historiese trajek van Afrikaans en Stellenbosch getrou te wees, en om gedeeltelik vir die apartheiderfenis te vergoed.

Dit sou miskien tot ’n kleiner universiteit lei, met nuwe gebruike wat vir opvoedkundige geboue gevind moet word. Só ’n heroriëntering sou waarskynlik nie verwelkom word deur die plaaslike toerisme- en restaurantbedryf nie. Die konvokasie, wat wel Afrikaans steun, sou miskien in hierdie konteks minder seker wees.

Hierdie is maar ’n buitestander se oorsig van moontlikhede vir Stellenbosch as Afrikaanse universiteit, dws ’n universiteit wat Afrikaans ’n werklike kans op voortlewing bied. Dié oorsig het sekerlik aanvulling en wysiging nodig. En enige plan van dié aard kan ook misluk. (My standpunt is dat die strewe na uitnemendheid reeds besig is om te misluk.) Maar as so ’n moontlikheid ooit ernstig bespreek en oorweeg is deur die universiteit se leierskap, het dit ’n geheim gebly.

Is so iets nou nog moontlik? Dit sal heelwat moeiliker wees as 20 jaar gelede, om die minste te sê. Maar die eerste stap is maklik: Keer net jou rug op die ideologie van uitnemendheid en die ranglysagentskappe; eers dan kan enige universiteit sy eie prioriteite begin vasstel.

....

Omdat Engels die enigste wêreldtaal is wat in Suid-Afrika gevestig is, is Engelstaligheid ’n sterk wapen vir die ideologie van uitnemendheid by ons universiteite ... Ek twyfel of Stellenbosse beleidmakers ooit in soveel woorde verklaar het dat hulle van Afrikaans as akademiese taal ontslae wil raak met die doel om uitnemendheid te bevorder. Dit is moontlik dat hulle nooit eers daaraan gedink het nie, en selfs dat hulle nie heeltemal begryp dat hulle op pad is om Afrikaans uit die akademie te verwyder nie ... Ek twyfel ook of beleidmakers op Stellenbosch en elders besef dat die bevordering van sogenaamde uitnemendheid in feite tot die ondermyning van egte onderwys en navorsing lei.

....

Integriteit teenoor uitnemendheid

Die onderliggende visie van die voorstanders van uitnemendheid (akademies en andersins) is van ’n wêreld waar alles beplan kan word, ook insig en inspirasie. Dit is ook ’n visie, uiteindelik, waar daar ook uit alles ’n wins gemaak kan word, alhoewel die akademie nog iets van ’n langtermynbelegging is.

Maar dit is nie hoe opvoeding werk nie, en ook nie die intellektuele lewe nie, hetsy binne die akademie of daarbuite. ’n Fabriek kan so werk, as al die masjinerie reg werk en die werkers almal op hulle poste is. Maar die menslike verstand is nie soos ’n masjien nie; mense ontdek hulle eie belangstellings en insigte eerder as om net bevele te volg. Dikwels is dit nie gesag of uitnemendheid wat mense erken en volg nie, maar iets soos die egtheid waarmee iets geglo of gesê word, of die integriteit waarmee die betrokke persoon leef. Jy leer by mense wat self glo wat hulle sê, eerder as dié wat ’n indruk wil maak.

Integriteit is selde ’n sentrale deel van ’n besigheidsplan, hoewel ’n reputasie daarvoor dit mag wees. Integriteit kan nie gemeet word of op ’n ranglys geplaas word nie. ’n Mens moet leer om integriteit te herken, terwyl uitnemendheid bloot van ’n ranglys afgelees kan word, en vasgestel kan word deur publikasies te tel en die rangorde van die tydskrifte waarin dit verskyn, vas te stel.

Integriteit wat deel van ’n advertensieveldtog is, is nie meer integriteit nie. ’n Universiteit wat integriteit geringskat of afskryf, wat dit as hindernis beskou of bloot individuele voorkeur, is maar net ’n slegte nabootsing van ’n universiteit. Integriteit kan nie gemeet word nie, maar daarsonder is die akademiese lewe ’n klug.

Johan Degenaar, Stellenbosse filosoof (Foto: Wikimedia Commons)

Hierdie artikel is die gevolg van ’n reeks van vier opstelle wat ek onlangs geskryf het oor my Stellenbosse leermeester, die filosoof Johan Degenaar, wat in 2015 oorlede is. Ek wou, veral in die derde van hierdie opstelle, beskryf hoe dit was om met hom te gesels en hoe dit so ’n lewensveranderende uitwerking op ons gehad het. As ons ná die lesing met Degenaar iets bespreek het, was ons soms verbaas om te hoor hoe skerp ons eie insigte was, hoe fyn ons vermoë om onderskeidings te maak, hoe sonder moeite ons argumente vorm aangeneem het. Ons was selde bewus daarvan dat Degenaar self – deur die vrae wat hy stel, die frons waarmee hy ons uitgenooi het om verder te verduidelik, die vreugde waarmee hy ’n flinke formulering erken het – dit alles vir ons moontlik gemaak het. Ons het weggegaan met nuwe moed vir ons oortuigings, onbewus of halfbewus van hoe hy daardie moed by ons versterk het.

Dit was ’n lewensverruimende ervaring, maar dit was in sy kern die teenoorgestelde van die uitnemendheid wat Stellenbosch vandag nastreef. Hy het nie erkenning vir homself gesoek nie, en het sy talent gewy aan ’n styl van gesprek wat geen ranglys in getalle sou kon omskep nie. Sy genot in gesprek en sy verset teen die onreg van apartheid was aansteeklik, maar was nooit gerig op sy eie voordeel nie.

Toe ek hierdie LitNet-artikel begin skryf het, het ek gedink ek voer daardie gesprek met Degenaar wat amper 50 jaar gelede begin het, nog ’n stap verder. Maar soos ek hieraan geskryf het, het ek al hoe meer gevind dat die een met wie ek gedagtes uitruil, nie soseer Degenaar was nie, maar Ampie Coetzee, my vriend en eertydse kollega by die Universiteit van Wes-Kaapland, wat ná sy aftrede by die Breytenbach-sentrum in Wellington betrokke was. Degenaar en Coetzee was albei voorstanders van Afrikaans as akademiese taal. Maar Coetzee bly my by vir sy volharding, met sy hele wese, in sy onvermoë om dit wat op Stellenbosch met Afrikaans gebeur, te aanvaar of te verstaan.

Daarom wil ek Ampie Coetzee met my opdrag van hierdie opstel onthou. Want al wil mens wat ook al verstaan, behoort die weggooi van ’n taal eintlik onbegryplik te bly.

5 Februarie 2021

Lees ook:

Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid

Wat is goeie wetenskap? Wieland Gevers en Susan Veldsman reageer

Robert Greig on the language debate at Stellenbosch University

Geagte professor De Villiers

Reclaiming Multilingualism

Suid-Afrika se uitgespoegde druiwepit (vir Universiteit Stellenbosch)

Uit die Argief: Die oorlewing van die nie-dominante tale van Suid-Afrika ‒ ’n Kommentaar deur Neville Alexander

Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small

Koebaai, Afrikaans? Afrikaans as onderrigtaal in skole

"'n Skande wat onthou sal word": Die diktaat van Open Stellenbosch

Vrydag die 13de, die US taalstryd en die hashtag-generasie

The role of African universities in the intellectualisation of African languages

University Seminar 2016: Achille Mbembe on the new politics of the South African student

Ont-taling

Die Taaldebat op US en die belang van moedertaalonderrig vir enige taalplan

US-taalbeleid: Op soek na 'n ronde tafel

Misdirected anger towards Afrikaans

Uit die LitNet-argief (2006–2012):
Uit die LitNet-argief (1999–2006):
  • 13

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Fyn nuanses in 'n weldeurdagte inset wat mens dwing om opnuut te verken en te beoordeel. In die 'heerlike spookasem'-beeld van sogenaamde akademiese uitnemendheid wat deur prof. 'Slim Wim' de Villiers en van sy kollegas voorgehou word, lê die werklike 'waarde' eintlik in die ongesonde suikerkonsentrasies met katastrofale diabetiese gevolge ... die vernietiging van iets wat eie aan onsself is en op eie bodem ontstaan het; Afrikaans as taal.

    Andrew Nash ruk met hierdie bydrae die masker van ranglysjagters af. In goeie Afrikaans, die 'leuen-leef' mentaliteit word uitgewys vir wat dit is. 'n Oppervlakkige benadering waar die eie beeld gepoets word onder die dekmantel van akademiese voortreflikheid. Hierdie korttermyn benadering is geen waarborg vir langtermyn sukses nie. Die bydrae was nodig en daarvoor is mens dankbaar.

  • Breyten Breytenbach

    Wat 'n absouut vernietigende uiteensetting oor waaroor die verneukkultuur van Stellenbosch Universiteit werklik gaan in navolging en as stotterende voorbeeld van 'n wêreldwye verbruikerswaansin! Helderder kan dit nie wees nie. Dankie, Andrew Nash! En ek verstout my om ook namens bra Ampie Coetzee u argumente te onderskryf.

    'n Versugting ...: Dat u skerp maar onaanvegbare analise ook onder die wérklike aandag gebring mag word van hulle wat die bewinds- en bestuursbesluite formuleer en afdwing aan daardie universiteit. Hulle is immers ook méns en bedeel met gesonde verstand, selfs al het die etiese beginsels iewers agterweë gebly. Sou hulle dan nie tot ander insigte kon geraak en in samewerking en solidariteit met die minder gegoedes wil begin rug styfmaak téén die oorheersing van die reaksionêre sg. "globale" gelykmaking deur reklame en geldsug nie? Hulle moet tog ook bewus wees van die korrupte moeras van "uitnemendheid" waarin dit die wêreld laat beland het? Dit kan mos nie lekker wees om jouself so soos 'n wafferse kader van 'n blinde oorheersingsbeweging aan te hou belieg nie!

  • Breyton in die Gees saam met sy gabba Ampie wys op die minderwaardigheid en aftakeling van Afrikaans as universiteitstaal deur 'n hierjy-eenoog-kader.
    Met dank en erkenning aan Andrew Nash vir die oopkrap van die US-katnes.

  • Andries G H van der Walt

    Die besluit van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch is niks anders as om in die goeie boekies van die regerende party te bly nie. Mens hoef net Wim de Villiers se brief wat onlangs gepubliseer is te lees om te besef dat dit 'n absolute politieke besluit is wat daarop gemik is om aan te pas by die regering se hoër onderwysbeleid. Hy sê dit self.

    Maar in 2018 het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys die volgende gesê: "Afrikaans kan nie net weggegooi word nie. Daar is ’n plek vir almal en elke taal in Suid-Afrika." Sy sê Afrikaans is nie net Afrikaners se taal nie, want daar is meer mense wat nie wit is nie wat Afrikaans praat en die taal moet bewaar word.

    Matthews Phosa het op die Nasionale Beraad van die Afrikaanse Skrywersvereniging op November 1999 hom so uitgespreek oor Afrikaans: "Daar is egter menige Afrikaanssprekendes in ons land wat vrees vir die uitsterf van hulle pragtige taal. Ek wil julle die versekering gee dat solank as wat julle die taal praat en solank as wat julle dit vir julle kinders aan moedersknie leer, hierdie taal nooit sal uitsterf nie. Dit is immers die taal waarin julle dink en waarin julle bid. Dit is die taal waarin julle kommunikeer, waarin julle sing en waarin julle liefhet. Geen mens kan dit van julle af wegneem nie. Wees trots op Afrikaans en praat dit waar julle moontlik kan. Leer julle kinders om hierdie taal lief te kry en te waardeer en hulle sal dit nooit vergeet nie."

    How do languages become extinct?

    Outright genocide is one cause of language extinction. For example, when European invaders exterminated the Tasmanians in the early 19th century, an unknown number of languages died as well. Far more often, however, languages become extinct when a community finds itself under pressure to integrate with a larger or more powerful group. Sometimes the people learn the outsiders' language in addition to their own; this has happened in Greenland, a territory of Denmark, where Kalaallisut is learned alongside Danish. But often the community is pressured to give up its language and even its ethnic and cultural identity. This has been the case for the ethnic Kurds in Turkey, who are forbidden by law to print or formally teach their language. It has also been the case for younger speakers of Native American languages, who, as recently as the 1960s, were punished for speaking their native languages at boarding schools. (Linguistic Society of America https://www.linguisticsociety.org/resource/faq-what-endangered-language n.d.)

  • Helize van Vuuren

    Andries, jy hoef nie uit Amerikaanse bronne aan te haal nie ‒ in Suider-Afrika anno Maart en April 2021 is die jongste voorbeelde van "punished for speaking their language" by US. Gedenk ook die 29 San-tale wat almal (buiten 'n klein handjievol verarmde, verdrukte Ju'/hoan in die verre noorde van Namibië en in Botswana) stilweg heen is onder politieke en ekonomiese druk. So ook vanaf 1750 Khoi-tale.

    Al waarin ons land later "uitnemend" sal wees, is in die enorme konsentrasie van STERFTE VAN TALE (met die GEBOORTEWIEG van Afrikaans in en om Stellenbosch, ook die uiteindelike SARKOFAAG daarvan).

  • Nico M Ferreira

    Ek vra myself af wat is dan nou ewe skielik fout daarmee om die strewe na uitnemendheid aan te hang? Is alle instansies in SA dan nie veronderstel om uit die modder van gemiddeldheid te kom deur te mik na uitnemendheid nie?
    Uit die artikel en die kommentare kry ons die volgende:
    "verneukery word die pad na uitnemendheid"
    "uitnemendheid is 'n inherent oneerlike term"
    "uitnemendheid is dit waarmee jy wegkom"
    "sodra jy uitnemendheid aanhang, het jy 'n probleem met integriteit"
    "dit is hoekom US 'n taalprobleem het" [eina!]
    "...die verneukkultuur van Stellenbosch Universiteit..." [eina!]
    "...korrupte moeras van uitnemendheid..."
    Dit alles in 'n skrywe oor US se taalbeleid. Is dit net moontlik dat die skrywer 'n probleem het met die PROSES oor hoe navorsers hulle statistieke oor die pas afgelope jaar se navorsing moet rapporteer? Natuurlik het elke instansie sy jakkalsies wat uitgevind het hoe om statistieke te manipuleer. Maar om dit nou in verband te bring met uitnemendheid en US se taalbeleid is darem 'n baie dun argument.
    Hierdie artikel gaan oor "publish or perish". [Verskoon die Engels]. Moontlik sou 'n skrywe met meer voorbeelde aan die NRF van meer waarde wees. Moet ook nie vergeet van die etiese komitees op elke kampus nie. En die feit dat 'n "buitestaander" krities is oor US se uitnemendheid, is so 'n bietjie onprofessioneel. Ek is nogals opgewonde dat US, UK en UP erkenning in die buiteland geniet - want wragties, ons sukkel maar om weg te bly van die laaste plek op enige lys.

  • Ek het in my opstel probeer verduidelik dat uitnemendheid ‘n sistematies-misleidende term is. As ek u nie oortuig het nie, is dit moontlik my skuld. Maar as u nie verstaan het dat hierdie (en ander) terminologie misleidend gebruik kan word nie, is daar nie veel wat ek daaraan kan doen nie. (Ek twyfel of u advertensies vir Coke of Pepsi ook as heeltemal betroubaar beskou.) Akademiese werk wat as uitnemend beskou word, hoef nie oneerlik te wees nie. Maar die ranglys-stelsel moedig allerlei kleiner en groter vorms van oneerlikheid aan, en dit sal onvermydelik toeneem.

    Die kern van my argument is dat integriteit nie gemeet kan word nie, en dat integriteit ‘n noodsaaklike deel is van werklik uitnemende akademies werk.

    Ek meen ook dat ek duidelik gemaak het waarom ek daardie fokus (op uitnemendheid) gekies het spesifiek om Stellenbosch se taalbeleid te bespreek. Stellenbosch is nie enig in sy nastreef van uitnemendheid nie. Dit is wel ongewoon, en waarskynlik enig, in so verre hierdie universiteit die geleentheid het om Afrikaans as akademiese taal te handhaaf en uit te bou. Stellenbosch het tot dusver daardie geleentheid verwerp, hoewel daardie verwerping ook nie openlik of eerlik verklaar word nie. Miskien nog ‘n geval van die sistematiese oneerlikheid van die stelsel van sogenaamde uitnemendheid?

  • 'Uitnemendheid' dies a rapid death in the context of any debate surrounding language of SA's erstwhile oppressors. Words of the late Prof Bleksley have it that for any poser in life, look for a natural equivalent for solutions. In this instance it can be found in the mouths of any Afrikaner steeped in the history of their language and existence over many decades of strife. Wat was dit?, 'Skouer teen die wiel', when in search of excellence, progress and success.
    Trouble is, a shoulder pushing in one direction is completely overwhelmed by three others in opposition. The wagon just turns in circles, That's the reality in all walks of life now in SA, and rest assured that two of those three will be radicals with dogged determination to negate any and all efforts to retain the language they have come to despise. Sad, but place yourself in their shoes! Daar bestaan vandag geen heenkome behalwe emigrasie, want die toekoms vir Afrikaans in Afrika is baie bleek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top