Koebaai, Afrikaans? Afrikaans as onderrigtaal in skole

  • 5

Lees ook:

Die taalgesprek omtrent die Universiteit Stellenbosch
Draf wiskunde slyp-slyp kaf

Koebaai Afrikaans? Afrikaans as onderrigtaal is onder beleg. Afrikaanse onderwysers aan tradisioneel bruin skole is bekommerd oor die toenemende verengelsing van universiteite soos Stellenbosch. Jean Oosthuizen het met twee Afrikaanse onderwysers by die New Orleans Sekondêre skool in die Paarl, Jerome en Sabina Dumas, gesels om uit te vind hoe dink hulle oor Afrikaans as onderrigtaal en wat is die uitdagings wat hulle in die gesig staar. Jerome sê dit verwar leerders as hulle gedwing word om in Engels onderrig te word.

Jerome en Sabina Dumas is albei onderwysers by die New Orleans Sekondêre skool in die Paarl. Jerome verskyn links op die foto, daarna Sabina - en langs haar sit twee van hulle leerders.

Jy en jou vrou gee albei Afrikaans by ʼn tradisionele bruin skool in die Paarl, die New Orleans Sekondêre skool. As mens kyk na universiteite, is alles besig om te verengels. Is dieselfde besig om ook op skoolvlak te gebeur, en waar laat dit Afrikaans as onderrigtaal?

Nie by ons skool nie. Afrikaans as onderrigtaal hier by ons sal voortleef, want daar is steeds meer Afrikaanse voederskole teenoor die drie Engelse skole. Boonop is daar by daardie skole net een Engelse klas teenoor twee of drie Afrikaanse klasse.

Dink jy die taaldebat soos by die Universiteit Stellenbosch het enige invloed op hoe daar op skoolvlak gedink word oor Afrikaans as onderrigtaal?

Ja. Van ons kinders se ouers dink dit benadeel hulle kinders as hulle hul nie in Engels laat onderrig nie.

Baie mense voer die argument dat Engels tog maar die taal is waarin Suid-Afrikaners besigheid doen en hulle beroepe beoefen. Is dit dan nie beter dat Afrikaans liewer tot ʼn spreektaal by die huis beperk word vir dié wat dit wil praat en almal Engels gebruik wanneer daar verder studeer word nie?

As ons dit doen, kan ons maar koebaai vir Afrikaans sê. Balans is seker die wenresep.

Maar wat van daardie ouers wat verkies om hulle kinders in Engels te laat onderrig al is hulle huistaal Afrikaans. Hoe voel jy as Afrikaanse onderwyser in ʼn tradisionele bruin skool oor hierdie tendens?

Ons voel dat dit die leerders in die meeste gevalle verwar. Baie ouers praat Engels, maar nie formeel nie. Dis slegs algemene Engels. Daar is wel gevalle waar die leerders uit en uit Engels is, maar dit is regtig ʼn klein ʼn persentasie.

New Orleans Sekondêre skool in die Paarl se deelnemers aan die vyfde Skerpskryf in Afrikaans saam met onderwysers Jerome en Sabina Dumas.

Hoe algemeen is dit dat Afrikaanse ouers en leerders verkies om liewer in Engels onderrig te word?

Daar is ʼn sterk neiging tot Engels, maar onthou asseblief dis die ouers wat die besluit neem en vir sommige is dit ʼn statussimbool. Ouers voer aan dat hulle hul kinders vir tersiêre instellings voorberei waar die bronne, leermateriaal en klasse meestal in Engels is.

Die New Orleans Sekondêre Skool waar jy en jou vrou albei Afrikaans gee, is een van die tradisioneel bruin skole wat dit seker finansieel ook nie maklik het nie. Hoe sou jy julle skool beskryf?

Ons skool het slegs twee klasse in elke graad wat Engels is. Dus is 80% van ons skool Afrikaans. Die Engels-huistaal-leerders is tot ʼn groot mate die sterker kandidate by die skool as ons na vanjaar se statistieke (prysuitdeling) kyk. Hulle is ook die welvarendste groep in die skool, daarom ontstaan die vermoede dat hulle beter vaar.

Wat is die grootste uitdagings waarmee julle te kampe het?

Te groot klasse en ʼn tekort aan onderriglokale en -hulpbronne.

Nog een van die tendense by baie sogenaamde bruin skole is dat sommige ouers wat dit kan bekostig, verkies om hulle kinders na ryker skole te stuur wat in die ou bedeling tradisioneel blank was, al is dit heelwat duurder. Ervaar julle dit ook en hoe raak dit julle?

Dit is beslis so, maar dit raak ons nie so erg nie; 90% van ons eie opvoeders se kinders gaan hier skool. Baie professionele ouers (dokters, prokureurs, onderwysers, vakadviseurs, staatsaanklaers en landdroste) stuur ook hul kinders na ons skool. Op ʼn stadium was daar 26 kinders van ons skool se opvoeders by ons skool ingeskryf as leerders.

Verloor julle nie baie skrander leerlinge wie se ouers hulle na ander ryker skole stuur nie?

Ek vergelyk altyd ons skool se uitslae met ander skole s’n. Ons hoef nie ʼn tree agteruit te staan nie. Dit mag wel in ander gemeenskappe ʼn rol speel.

Ten spyte van moeilike omstandighede slaag julle daarin om goeie presteerders op te lewer. Wat is julle resep vir sukses?

Die leerders is óns kinders – nie hul ouers s’n nie. Ons streef voortdurend na uitmuntendheid.

Ek en jy praat nou Standaardafrikaans met mekaar. Maar daar is nóg ʼn taal (of noem dit ‘n variant as jy wil) wat nog nooit regtig tot sy reg gekom het nie, naamlik Kaaps. Hoe voel jy oor Kaaps en word daar genoeg gedoen om erkenning daarvan op skoolvlak te verleen?

Dit is verblydend dat daar aan Kaaps erkenning gegee word. Dis ʼn eerlike, spontane en lekker-op-die-tong-taal. Nee, daar word nie genoeg aandag daaraan gegee nie.

Miskien moet ons uitgewers blameer. Dis moeilik om gepaste gedigte te kry en min van die gedigte word voorgeskryf. Ek het onlangs Chokers en Survivors gelees, maar ek voel dat sommige gedigte se taalgebruik vir my te kru is om in skole te gebruik.

As ek Kaaps lees, is die klas opwindend vir my leerders. Hulle kan hulle daarmee vereenselwig. Ek kyk na gedigte soos “Advice from above”, “Kô lat ons sing”, “Doemanie”, “Important extratjie”, en hul gunsteling, “die gesteelde tv”.

Hulle geniet dit. (Kyk ook na Diekie vannie Bo-Kaap en kortverhale soos “ʼn Beter lewe vir Mams”. (Ons moet net versigtig wees vir stigmatisering en spraakluiheid, soos in “kla” in plaas van “klaar”.)

Ons het die afgelope tyd gesien hoe die #FeesmustFall-veldtog landswyd uitkring. Skole het ook soortgelyke probleme, nie waar nie? Wat dink jy gaan die invloed van die #FeesmustFall-veldtog op skole hê, indien enigsins?

Uiteindelik kan ek reageer op ʼn beriggie wat een van die leerders in die skoolkoerant geskryf het, “Stink blink toekoms”, waar sy onderhoude gevoer het met leerders wat “bunk” (“Waarvoor moet ek klasse bywoon as my ouers kan my nie kollege toe kan stuur nie?”) Nou moet hulle net hard studeer. Ek dink dis motivering genoeg ... geld is nie meer so ‘n groot probleem nie

Leerders is nou druk besig met eksamens. Wat verwag jy van hierdie jaar se uitslae by julle skool, en is jy optimisties daaroor?

Ek verwag dat ons soortgelyk as verlede jaar gaan presteer. Ons mik vir 100%-slaagsyfer, maar sal tevrede wees met 90%.

Ek glo in Afrikaans gaan ons, soos in die afgelope tien jaar, ʼn 100%-slaagsyfer hê. Ek kan nie namens die ander vakke praat nie.

 

 

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Mnr. en Mev. Dumas, gaan asseblief voort met julle fantastiese werk! Onderwysers soos julle maak van kinders Renaissance-mense. Ek wens skole soos julle skool kan meer ondersteuning kry, want dit is die bewys dat 'n mens nie 'n duur Engelse privaatskool nodig het nie ...

  • Avatar
    rehana mohamed

    Ek is ook 'n onderwyseres aan 'n hoërskool in die Oos-Kaap wat Afrikaans onderrig. Deel die sentimente van die twee leerkragte in die Kaap!

  • Avatar
    Pierre de Villiers

    Op grondvlak vind ek tog dat mense weer terugkeer na Afrikaans. Veral in die winkels, banke, eetplekke en op sypaadjies. Dit is in die akademiese wêreld wat Engels afgedwing word. Dit is dan ook waar ouers verplig voel om hul kinders te laat "probeer" verengels.

  • Avatar
    Georgina Kalipa-Marotola

    Ek is ’n oud-leerder van Noss. Ek het matriek geslaag in 2002. Baie trots dat ek my Afrikaans vlot praat en baie goed ook skryf. Alhoewel ek Xhosa-sprekend ook is, voel ek baie trots dat ek darem viertalig is. So laat ons voortgaan met Afrikaans.
    En alle sterkte met mev en mnr Dumas.

    • Avatar
      Wilhelm Fourie

      Beste Georgina, mense soos jy laat my weer goed voel oor ons land! Enkosi, sala kakuhle!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top