Die Taaldebat op US en die belang van moedertaalonderrig vir enige taalplan

  • 12

 

Die huidige taaldebat op die US laat my dink aan twee honde wat oor ‘n been baklei.

Heinrich Wyngaard het onlangs in ‘n artikel in City Press daarop gewys dat taalvoorkeure aan die US wel uitsluitend kan wees. Die taalbeleid van die US soos dit tans daar uitsien slaag presies daarin. Dit hang natuurlik daarvan af uit watter invalshoek jy dit sien. Etniese swart studente voel uitgesluit ten opsigte van hulle gevoel oor Afrikaans as medium van onderrig. ‘n Groot persentasie bruin Afrikaanssprekende studente voel ook dieselfde, weens die feit dat hulle nie in hul moedertaal onderrig kan word nie. Die enigste groep studente wat nie deur hierdie taalbeleid geraak word nie, is Engelshuistaalsprekers. Hulle is die spreekwoordelike derde hond wat uiteindelik met die been gaan weghardloop.

Ek wil my fokus egter plaas op die verarmde, voorheen benadeelde bruin Afrikaanse student wat in hierdie proses weer die grootste verloorder gaan wees. Hierdie studente het nie slegs ‘n sosio-ekonomiese agterstand nie, maar ook ‘n stryd om in hul moedertaal onderrig te word. Ek haal graag vir Wyngaard aan: “Die sprekers (bruin) sal ernstig benadeel word sou Engels die enigste taal van onderrig word.” Die bekgevegte tussen bekende Afrikaanses/Afrikanergroepe het die neiging om te vergeet dat daar ‘n groep bruin Afrikaanssprekers is met dieselfde grondwetlike regte as alle ander Suid- Afrikaners. Wat egter pla, is dat in hierdie geveg daar bruin slagoffers gaan wees. Piet Croukamp verwys in sy skrywe aan Breyten Breytenbach na die bruin groep as “die lamvangers en dopstelsel se kinders van gister [wat] nou weer voorgestoot kan word om te dien as menseskild teen die werklikhede van ons benepe opinies oor eenvormigheid”. Hierdie stelling van Croukamp is nogal beledigend en strek nie sy argument tot voordeel nie.

Danny Titus vra dus met reg of dit is hoe Croukamp bruin mense vandag tipeer. Wat van dié van die meerderheid Afrikaanssprekers wat ons is? Dit is ‘n voldonge feit dat van die 6,8 miljoen Afrikaanshuistaalsprekers, 3,4 miljoen bruin is volgens Sensus 2011. Gaan daar nou gemaklikheidswys van hulle vergeet word? Die oorlye Russel Botman het dus tereg in April 2007 daarop gewys dat Afrikaans “die hoop [is] vir ‘n beter lewe van baie sprekers reg oor die land”. Bruin Afrikaanssprekers kan nie weer gesien word as meelopers wat altyd “met die baas gekom het” nie. Afrikaans is nie meer die taal van die wit elite nie. Bruin mense gaan dus sentraal binne hierdie debat staan en vir hulself praat.

Ek merk dat die taalplan van die US die belang van moedertaalonderrig totaal ignoreer. Dit is ‘n opvoedkundige feit wat in ag geneem moet word by die daarstelling van so ‘n plan. Die wesenlikheid van moedertaalonderrig word lank nie meer deur opvoedkundiges gedebatteer nie, maar as ‘n voldonge feit aanvaar. Die taalplan van die Universiteit Stellenbosch neem nie hierdie opvoedkundige feite in ag nie.

Verder steun ek ‘n opsie waar daar aan Engels en Afrikaans gelyke geleenthede aan die US verleen word. Afrikaans ìs lewensvatbaar. Daar is genoeg Afrikaanse matriekleerders wat jaarliks in skole in die Wes-Kaap afstudeer om genoeg klaskamers op die kampus te vul. Dit gee ook gelyke kanse aan bruin Afrikaanse leerders wat nie noodwendig in Engels gaan presteer nie. Gaan die deure van geletterdheid weer vir hulle gesluit wees soos gedurende die apartheidsbestel, toe toegang tot die lesingsale van die US verbode was? Dit is juis hierdie studente wat grootliks uit verarmde gemeenskappe kom en wat nie toegang tot finansiële ondersteuning het nie, wat wéér benadeel gaan word.

Dit is duidelik dat die bestuur van die US hul rug op hierdie studente gedraai het en dat dié studente op hierdie wyse weer uitgesluit gaan word. Hierdie keer kan hulle hul egter beroep op die Grondwet om hul reg op moedertaalonderrig erken te kry.

Afrikaans bly steeds die voorkeurtaal vir studie om presies dieselfde rede waarom Duitsers in Duits, Franse in Frans en Engelse in Engels studeer. Afrikaansmoedertaalsprekers verkies studie in hul moedertaal. Dit is die rede waarom Suid-Afrika ‘n ontwikkelende land is: omdat daar nie op hierdie feit ag geslaan word nie. Gaan die US dus hieraan meewerk?

Die pleidooi vir moedertaalonderrig moet egter nie gesien word as ‘n anti-Engelse gevoel nie. Dit is moontlik om moedertaalonderrig te ontvang en terselfdertyd ook ‘n hoë vlak van akademiese taalvaardigheid in Engels te verwerf. Talle Suid-Afrikaners wat in Afrikaans gegradueer het, geniet in die buiteland erkenning vir die werk wat hulle daar in ‘n Engelse of andertalige omgewing doen. ‘n Beduidende aantal nie-Engelssprekende persone wat in hul moedertaal onderrig ontvang het, is Nobelpryswenners.

Moedertaalonderrig kan dus nie tot nadeel van ‘n persoon strek nie. Die oorskakeling na Engels bied geen waarborg vir akademiese sukses nie. Die regering se ongrondwetlike de facto-uitrangering van Afrikaans en ander landstale behalwe Engels, en ook op veral hoëronderwysvlak, het veel daartoe bygedra dat Engels deur baie Afrikaanssprekendes as die “taal van bemagtiging” gesien word. Wat hulle egter nie besef nie, is dat hulle uiteindelik in die ruigtes van onderontwikkeling vasval.

Die keuse van die Afrikaansmoedertaalspreker om in Afrikaans te studeer dien dus ‘n veel groter doel as bloot voldoening aan die voorkeur van die individu. Afrikaanse skole, wit en bruin, moet as uitnemende instellings bekend staan waar gehalte-onderwys onderrig word. Slegs deur puik prestasie sal ons druk op die owerhede van die US kan uitoefen om nie af te sien van ‘n internasionaal-erkende feit, dat suksesvolle lande tot op tersiêre vlak in hul moedertaal onderrig ontvang nie. Enige taalplan by die US moet die bevordering van menseregte en groter gelykheid in ag neem.

Laat ons hoop die Raad van die US sal hierdie keer luister.

  •  Danie van Wyk is lid van die Goeie Hoop Inisiatief, Kuilsrivier.

 

  • 12

Kommentaar

  • Corlia Fourie

    Dankie, Danie van Wyk, dat jy die bruin Afrikaanssprekende mense se standpunt so ondubbelsinnig stel.

  • Baie dankie vir u duidelike konstruktiewe uiteensetting in pragtige Afrikaans. Een sin gaan vermoedelik nie duidelik deur almal geïnterpreteer word nie: "Afrikaans is nie meer die taal van die wit elite nie." Daar bestaan uiteenlopende interpretasie-moontlikhede daarvoor. Maar van meer belang en bemoedigend is die daaropvolgende sin: "Bruin mense gaan dus sentraal binne hierdie debat staan en vir hulself praat." Hopelik ook saampraat. Dit gee hoop.

  • Uiteindelik ’n redelike en weldeurdagte argument wat nie tot die platvloerse redenasievlakke van sommige hoogleraars daal nie. Ek wil ook dankie se vir die gebruik van verstaanbare Afrikaans.

  • conrad steenkamp

    Laat waai, Danie. Een van vele stemme wat gehoor moet word om hierdie debat uiteindelik tot sy reg te laat kom.

  • Johannes Comestor

    Blade Nzimande se stelling dat Afrikaans nie die taal van die wit elite is nie, herinner aan Wim de Villiers se dikwels herhaalde stelling dat die Universiteit Stellenbosch (US) nie 'n Afrikaanse universiteit is nie. Nzimande se stelling kan op vyandigheid teenoor (sommige) blankes of op onkunde, moedswilligheid, ens, dui. De Villiers se stelling dui duidelik en ondubbelsinnig op vyandigheid jeens Afrikaans, des te meer omdat hy dit so graag in die jaar (2015) geuiter het toe die US veronderstel was om sy stigtingsdonateur, Jan Marais, te huldig 'n eeu na sy dood. Geen huldigingsgeleentheid is deur die US aangebied nie. 'n Mens kon dit as vanselfsprekend beskou het dat die US die erkentlikheid sou hê om 'n sametrek op die Marais- (of Rooi-) plein ter huldiging van Marais vir US-dosente en -studente te hou. Niks van hierdie aard het plaasgevind nie, ongetwyfeld met die goedkeuring van, moontlik selfs op inisiatief van, De Villiers. Dit is myns insiens een van die skandaligste episodes in die geskiedenis van die US maar (feitlik) geen beswaar het opgeklink nie. De Villiers het daarmee weggekom en hy word toegelaat om volstoom met die verengelsing van die US voort te gaan.

  • Baie dankie dat ons mense nou vir hul taal veg - ons is broers en susters in verdrukking - maak nie saak wat se kleur ons is nie.

  • Kiwidore Ezau Fillis

    Die insae van hoe bruin Afrikaanssprekendes aan hierdie debat gaan deelneem, en kan stukrag gee is die mate van erkenning wat die sogenaamde leiersfront wit Afrikaanssprekendes aan bruin sprekers of deelnemende individue gee. Erkentenis dat die taal sy ontstaan te danke het aan taalvermenging waar die destydse slawe en anderskleurige koloniale boorlinge 'n groot bydrae gelewer het ... dat Afrikaans ’n gemene deler is wat na regte ’n volk oor rassegrense kon saamsnoer, maar agv rasseklassifikasie en ongure wetgewing selfs 'n wig tussen gebruikers van Afrikaans gevestig het.
    Nou het Afrikaanssprekendes die geleentheid om uiteindelik hierdie kloof finaal die nekslag toe te dien deur uit een tong ’n haalbare aksie te loods om Afrikaans as moedertaalonderrig voorop te stel en daarvoor te veg ... Bruin Afrikaanssprekendes moet ook toegelaat word om in die taalontwikkelingsprosesse en organisasies uit eie geledere platform te neem. In my ondervinding as taalleerkrag en skrywer is daar steeds die ongelyke sienswyses en optredes jeens bruin skryfkuns juis agv ons verlede wat mens mismoedig laat mbt geleenthede in die Afrikaanse kopersmark. Ek sal graag deel wil vorm van ’n nuwe ope Afrikaanse ontwikkelingsfeer. Hopelik sal mens in hierdie gesprek geleentheid tot sodanige inset verkry.
    Kiwidore Eza Fillis, Worcester.

  • Danie van Wyk

    In alle respek teenoor Piet Croukamp: Ek het sy stelling rondom..." lammervangers en dopstelsel", heel moontlik verkeerd vertolk. Het dit weer gelees en besef nou die agtergrond waarteen hy die stelling gemaak het.

  • Kiwidore Ezau Fillis

    Sonder om enige negatiwiteit op te wek sal ek grootliks die uwe Danie van Wyk se stelling anders as baie van die kommentators interpreteer ... Sy gebruik van die frase" wit elite " is nie ondebatteerbaar nie en natuurlik het hy ’n rede hoekom hy dit spreek. Ek haal my hoed af vir iemand in die hoë taalhiërargie wat die durf het om sodanige stelling te maak juis omdat die terrein waarin hy hom tans bevind vir eeue voorwaardelik ’n verbode sfeer vir anderskleurige Afrikaanse taalgeeste was. Goed gefinansierde en staatsondersteunde instellings wat ondeursigtig die taal geëien en holistiese verantwoordelikheid vir die bou en ontwikkeling daarvan geneem het. Al ons taalinstellings was wit en derhalwe is pogings van anderskleuriges of insette om te help vorm en bou gruwelik misken maw anderskleurige skeppers en verbruikers van Afrikaans is agter gelos ( FA Brown - digter). Vandag as ons besef dat ons taalvorm optimaal mishanteer en of verdruk word skreeu ons ten hemele vir eendrag, ongeag ras en geloof. Van Wyk is nie ver van die waarheid nie en is dit net reg dat ons na sy pleidooi luister, dat ons kennis neem van wat hy ervaar en almal wat soos hy voel en ook die wat nie sy inset positief interpreteer nie om een tafel te bring. Wees verseker dat opregte begrip, die wil om te verstaan en die erkenning van foute net positief kan eindig. Ek het hoop ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top