US-taalbeleid: Op soek na 'n ronde tafel

  • 11

Danny Titus (foto: Naomi Bruwer)

Die LitNet-gesprekke oor die US se voorgestelde taalbeleid bied stimulerende leesstof. Breytenbach skop af met 'n aandrang op die erkenning en versterking van diversiteit en vra waarom die universiteit (die rektor by name) met "swak en siniese argumente 'n reaksionêre taalbeleid" aan die universiteit opdwing. Die US se taalbeleid sê hulle gebruik taal "op 'n wyse wat gerig [is] op die omgang met kennis in 'n diverse samelewing oor 'n verskeidenheid van akademiese, sosiale, administratiewe en professionele kontekste".

Anton van Niekerk antwoord dat Breyten se brief hom opnuut tref hoe "verskillend die verwysingsraamwerke is van waaruit ons na Stellenbosch se 'taalprobleem' kyk", en hoe ons "gevolglik by mekaar verbypraat".

Praat ons by mekaar verby in die Stellenbosch se taalgesprek? Dit lyk my ook so. Almal het stewige bydraes te make. Iemand sal die verlossende woord moet spreek. Die universiteit natuurlik en dan die howe. Die grondwetlike hof sal heel waarskynlik die argumente opkook, afwater en tot 'n beslissing kom. Aan die een kant is daar die reg op taal soos uiteengesit in die taalklousules van die Grondwet en aan die ander kant die reg op toegang tot onderwys.

Die US-konsepbeleid stel dit dat haar kernfunksie die omgang met kennis is. Dit is binne die konteks van die Grondwet wat bepaal dat elkeen die reg het om aan openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal van eie keuse, waar dit redelikerwys doenlik is.

Die werker aan die universiteit, Anton van Niekerk, stel dit dat "die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word." Hy verwoord dan 'n standpunt vanuit die dosentekorps wat nie ongesiens verby kan gaan nie. "Die werklik onthutsende besef waartoe al hoe meer dosente kom, is dat ook in die gevalle waar studente hul huistaal aandui as Afrikaans (en laasgenoemde is reeds 'n krimpende minderheid op die kampus), 'n baie groot persentasie van laasgenoemde groep Engels in die klasse verkies." Hermann Giliomee dra weer sy statistieke aan wat vrae stel oor die geldigheid van die universiteit se syfers.

Twee aspekte wat my opval uit die insette, is die opposisie teen Engels en die verwysing na bruin Afrikaanssprekendes.

Breytenbach vra of die rektor die universiteit 'n konserwatiewe instelling wil maak "wat nog net in die nagemaaktheid van 'n koloniale taal, die taal van Coca-Cola en Monsanto, funksioneer". Ek dink onwillekeurig aan Salman Rushdie wat jare gelede gepraat het van die gekoloniseerdes wat die taal van die koloniseerde gebruik: "[I]t is in the language of the Empire that the colonised writers hit back." Of aan Vernie February wat in dié verband vir Caliban aanhaal: "You taught me language/ and my profit on't is I know how to curse."

Interessante gesprekke inderdaad.

Wat my die meeste getref het in die insette is Piet Croucamp se reaksie op Breytenbach. Een sin veral oor bruin mense:

Dit bly maar 'n morbiede vermaaklikheid hoe reaksionêres altyd die bruin mense se gebruik van die kombuistaal aan die nekhare insleep by die argumente teen verligting, so asof die lammervangers en die dopstelsel se kinders van gister nou weer voorgestoot word om te dien as menseskild teen die werklikhede van ons benepe opinies oor “eenvormigheid”.

Sy beledigende opmerkings teen Breytenbach ter syde, ek kan steeds nie daaraan ontkom dat dr Croucamp bruin mense hier ten diepste beledig nie.

Ek het reeds die misbruik van bruin mense se getalle deur ander Afrikaanssprekendes op verskillende terreine uitgewys as skynheilig. Maar om ons te sien as 'n "menseskild" wat voorgestoot word asof ons geen wil, standpunt of menswees van ons eie het nie? Dis tog laakbaar, en totaal uit voeling met menswees, die demokrasie van ons land en die bydrae van bruin Afrikaanssprekendes oor die eeue heen.

Maar hy gaan verder: bruin mense praat “kombuistaal”-Afrikaans. Wat het nou geword van Afrikaans in al sy variëteite wat saam die stroom van die Afrikaanse Gariep voed? Het hy al skaapvangers hoor Afrikaans praat? Het hy al wit mense sien skaap vang? Ek was onlangs in die Noord-Kaap met die Menseregtekommissie se Khoi- en San-hoorsittings. Die mense se bydraes was in welluidendende Afrikaans en daar moes in Afrikaans aan hulle getolk word wanneer African-amptenare van die staatsdepartemente in Engels kom getuig het. Hulle het hulle eie tale verloor en Afrikaans het hul moedertaal geword. Interessant dat die SABC Afrikaans nou met Khoi- en San-tale gaan groepeer het hierdie week. Die kombuistaal kry uiteindelik sy plek wat Croucamp se Afrikaans haar wil ontsê. Hopelik sal die Afrikaanse media nou ook begin wakkerskrik en die volle waarheid oor Afrikaans begin vertel.

Kombuistaal is die taal wat in die Hollanders se kombuise gepraat is toe die Hollandse vervoeginge en verbuiginge te moeilik geraak het. Vandaar dat ons praat van "ons" en nie "wij" nie, van "ons is" en nie "wij zijn" nie. Vandaar dat ons Afrikaans praat en nie Nederlands nie.

Die "lammervangers en die dopstelsel se kinders van gister". Wat 'n onsinnige stelling. Dis lank nie net plaaswerkers wat lammers vang nie, of wil Croucamp nou wit mense uitsluit hier? En die dopstelsel se kinders van gister? Wie het die dopstelsel ingestel en wie profiteer vandag nog uit die vergoeding deur wyn in plaas van behoorlike vergoeding? Wie is die eintlike kinders van die dopstelsel?

Dr Croucamp antwoord my in 'n sms dat hy dit as ironie bedoel het. Watter onsin.

Dan kom hy met 'n verdere draai van sy dolk, of sy "ironie". Russel Botman moes volgens hom vir Breytenbach 'n erge klip in die skoen gewees het, sê Croucamp. Maar dan verwys hy na die afgestorwe rektor as "die wederstrewige 'jollie hotnot'”. Nou ja, how low can you go? Behalwe die feit dat "hotnot" vir bruin mense gelykgestel word aan "kaffer", is "jollie hotnot" uiters beledigend vir die studente-aktivis, dominee, teoloog en visekanselier aan die US.

'n "Jollie hotnot" is 'n persoon wat in sy onderdanigheid sy base vermaak met sy voortdurende gelag, gespot en selfvernedering. Die ja-baas-, nee-baas-tipe. Wyle prof Botman? I beg to differ.

Ons leef in 'n era van vryheid van spraak, maar daar is ook beperkinge op daardie vryheid. Miskien moet daar 'n ondersoek kom na dr Croucamp se woordgebruik. Of miskien nie. Miskien moet gewoon aanvaar word dis hoe hy sy visekanselier, prof Rensburg, sien, of die visekanselier Jansen by UV, of Swarts by NMMU of Pretorius by UWK of De la Rey by UP, of miskien moet gewoon aanvaar word dat dit is hoe hy bruin mense sien.

Waar laat dit ons in die gesprek oor die US-beleid?

Aan die Suid-Afrikaanse tafel, nie ‘n hiërargiese vierkantige of reghoekige een nie. Die ronde een waar almal gelyk is en almal met gelyke waardigheid geag word. Gelyke kanse is veel meer as net een stem wat gehoor moet word.

  • 11

Kommentaar

  • So 'n ooglopende toenemende gravitas in die bydraes hier kan die hoekige tafel rond trek.

  • Avatar
    Breyten Breytenbach

    Net 'n klein regstelling as u my sal veroorloof, en dis eintlik bedoel op iets wat Croukamp kwytgeraak het. Russel Botman was nooit vir my "'n klip in die skoen nie." Hoekom sou dit ook wees? Ek het respek vir hom gehad. Hy was 'n veel beter vise-kanselier as sy voorganger of sy opvolger. Dis tragies dat hy so vroeg gesterf het.

  • Anton van Niekerk antwoord dat Breyten se brief hom opnuut tref hoe "verskillend die verwysingsraamwerke is van waaruit ons na Stellenbosch se 'taalprobleem' kyk", en hoe ons "gevolglik by mekaar verbypraat".
    Dit is presies hoekom Afrikaners hul reg op selfbeskikking eerder moet ernstig opneem want ten spyte van die feit dat Afrikaners meer as 370 jaar in Afrika bly, het hulle nog nie een enkele eienskap van 'swart' Afrikane se kultuur of waardestelsel aangeneem nie. Alhoewel die Bruin gemeenskap ’n taal deel met Afrikaners beteken dit nie dat hulle ons kultuur en/of waardestelsel deel nie. As gevolg van Afrikaners se skuld aan apartheid sal daar altyd van Afrikaners verwag word om ’n mindere posisie te handhaaf en sal hulle reg om hul eie taal, kultuur, sosiale, ekonomiese en politieke status te bepaal nooit erken word nie ten spyte van die feit dat dit deur internasionale menseregte verskans is.

  • Pragtig Danny Titus!
    Ek stem volmondig met u saam dat Piet Croukamp nie net oor die vingers getik word nie maar dat sy stem nooit weer op RSG of SABC of KykNet of enige openbare media gehoor word nie. Ek sal ook nooit weer enige van sy galbraak lees of na luister nie.

    • Ondersteun hierdie voorstel ten sterkste.
      Ons is nou moeg daarvoor dat dit die soort opinies is wat deur ons media aan ons voorgehou word as die enigste opinie terwyl alle ander geïgnoreer word. Die oorgrote meerderheid Afrikaners dink nie soos hierdie hippies nie ...

  • Avatar
    Alastair van Huyssteen.

    Ek glo regtig nie Dr Croucamp wou beledig nie, en het dit ook nie so beleef of gelees nie, maar wel (reeds voor sy verduideliking waarna hierbo verwys word) as ironiese taalgebruik. Op dieselfde vlak as wat ek al jare 'n "rockspider" of "hairy back" genoem word deur goedbedoelende souties. Ons moet darem die ironie behou. As 'n soutie my openlik so noem weet ek hy minag my nie.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Titus spesialiseer in randeiers. Waar is sy standpunt (of 'n voorlegging van die ATKV) oor Afrikaans aan die US? Is Titus ten gunste van gelyke status vir Afrikaans en Engels of ondersteun hy, soos Michael le Cordeur, die verengelsingsbeleid van Wim de Villiers? Die lakmoestoets is: Is Titus se huistaal Afrikaans en voed hy sy kinders in Afrikaans op? Die Engels in sy teks dui aan wat die antwoord is.

  • Geykte kanse
    Meer as ’n eeu gelede het
    Die Boeregeneraal De Wet
    Hom aan die Engelse oorgegee
    Al was dit teen Gods wee.
    Daarna het hy steeds as Bittereinder volhard
    En teen alle goeie raad in die Rebellie beland
    Wat het hy daarby gebaat
    Behalwe net nog méér haat?
    Teen die einde van die eeu
    Hardloop hy wéér weg van die sneeu
    Sommer reguit die 21ste in;
    Steeds kan hy net homself bemin.
    Nou het sy naam muteer na Hans Wors
    Onteenseglik segsman van al ons gemors,
    Soos byvoorbeeld ons geliefde taal
    Wat helaas nie die paal kan haal.
    Die Afrikaner wil nie leer nie
    Wat die geskiedenis hom gee nie,
    Van Bittereinder tot Taalstryder
    Die een die ander
    Soos vinkel en koljander.

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Jean Roux, Christiaan Rudolf de Wet het hom nooit aan die Engelse oorgegee nie. Lees sy boek Strijd tusschen Boer en Brit, vertaal as The Three Years' War (New York: Scribner's Sons, 1902, 416p). Die Kindle-weergawe is gratis by Amazon beskikbaar. De Wet is wel in die Rebellie gevang.

  • Jean , ek ervaar jou verdraaiing van ons geskiedenis as erg vernederend en ongevraagd. Jou uitbeelding van die Afrikaner as 'n lafhartige, dom, hardkoppige, haatstokende, voortvlugtende, verwaande, bespotlike, selfaanstellerige, domastrante wese, is uiters veralgemenend, beledigend en ongegrond.
    Volgens jou moes ons almal "joiners" gewees het en al ons goud , diamante en ons vryheid, grond en ons taal met 'n lojale kniebuiging aan die Queen op 'n silwer skinkbord oorhandig het. Daarna moes ons eerder ons boerebloed onder die Union Jack in Delville Bos gaan stort het as om te veg vir beginsels en dit wat vir ons kosbaar is. Jy beweer dit is ons wat al die haat gestook het en nie die imperialistiese kolonialiste nie - bog man. Jy moet dadelik jou naam en van verander na John Rex. So - die Engelse bemin alle volke en alle tale en beslis nie net hulself nie. Net die Afrikaners is so egosentries - ai, ai John, ag ek bedoel Jean - regtig? Die taalstryders word nou weer hansworse (Donkies) genoem soos toentertyd omdat ons nie die hanskakies as ons segsmanne wou aanvaar nie. Ja, vandag is dit inderdaad weer die hanskakies wat ons taalstryders as hansworse(taalbulle) uitbeeld en optree as ons beterweterige, selfaangestelde segsmanne. Met "taalhensoppers" is ons "geliefde taal" gedoem om te faal en gaan dit beslis nie "die paal haal" nie. Jean, as die Afrikaner lankal die les van boedeloorgawe geleer het wat jy propageer, sou hy lank reeds nie meer bestaan het nie. Gun ons net dit wat die Engelsman vir homself en sy kultuur opeis - niks meer nie maar ook niks minder nie - is dit te veel gevra? Hierdie debat gaan in elk geval oor Afrikaans en die Afrikaanssprekende en nie net oor die Afrikaner soos jy dit nou uitbeeld nie. Die joiner en die taalhensopper, die een die ander , soos vinkel en koljander.

  • Jean voor ek vergeet - "onteenseglik segsman van al ons gemors" - watter deel van ons taal en ons kultuur beskou jy as gemors of is ons hele taal en kultuur in jou oë maar net 'n "gemors"?
    Hoekom moet die Afrikaner altyd "leer wat die geskiedenis hom gee" - en soos 'n goeie en getroue slaaf altyd maar net aan die ontvangkant wees terwyl die Engelse die geskiedenis kan dikteer en skryf na hartelus en selfs opeis waarop hul nie eens geregtig is nie - of pla dit nie vir jou nie?
    As jou kultuur jou opsaal met 'n ondraaglike skuldgevoel, is dit jou volste reg om vir jou 'n ander kultuur te kies en ek sal jou keuse respekteer, maar moenie ons beledig en van ons verwag om dieselfde te doen as ons nie soos jy daaroor voel nie. Dit pla my dat jy en mense soos Piet Croucamp, wat ooglopend nie van Afrikaans hou nie, so lelik en beledigend omgaan met die mense wat hartstogtelik veg vir die voortbestaan van 'n pragtige Afrika-taal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top