US-taalbeleid: Die syfers vertel ’n storie

  • 12

Die dinamika van die taalstryd op die US kan met ’n paar tabelle vertel word.

1. Daar is eerstens die vlug van Engelse studente, van wie die groot meerderheid wit is, na die US. Tabel 1 beeld dit uit.

Tabel 1. Taalprofiel van US-studente

  Afr Eng Totaal
1995  10 985 (74%) 3 039 (20%) 14 946 
2005 11 338 (59%) 7 364 (32%) 22 569
2015 12 754 (44%)  13 316 (44%) 30 150

Daar kan gesien word dat die getal Engelssprekendes aan die US die afgelope tien jaar amper verdubbel het. Hulle is oorweldigend wit.

2. Tabel 2 beeld die krimping van wit getalle uit aan die Universiteit van Kaapstad. Dit het met ’n duisend verminder tussen 2010 en 2014. Dit was waarskynlik grootliks ’n vlug weg van transformasie.

Tabel 2. Universiteit Kaapstad (bevolkingsgroep van studente)

giliomee1

3. Is die stygende persentasie swart studente verantwoordelik vir die druk op Afrikaans aan die US?

Die antwoord is dat die proporsie swart studente afgeneem het.

Tabel 3. Opname van bruin en swart studente

  2001 2015
Bruin studente 10,2% 15,5%
Swart studente 15,4% 14.6%

 

4. Watter wetenskaplike ondersoek deur ’n onafhanklike instansie is al oor die US oor voertaalvoorkeure gedoen?

Sover bekend is die enigste een die Markdata-ondersoek van 2007 wat deur die US-Raad aangestel is.

Tabel 4. Voorkeure uit ’n reeks opsies vir ’n taalbeleid: persentasies wat die keuse sou verwelkom, aanvaar of neutraal sou staan TEENOOR persentasies wat dit onaanvaarbaar sou vind

Taalbeleid-opsies en % wat die opsie verwelkom, aanvaar of neutraal staan Afrikaans
sprekend
%
Engels
sprekend
%
Beide
%
Alle tale
%
Hoofsaaklik en konsekwent Afrikaans
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
83
16
 
43
57
 
65
35
 
68
31
Hoofsaaklik Afrikaans met herhaling van belangrike inhoud in Engels
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
87
11
 
72
28
 
74
26
 
81
18
Hoofsaaklik Afrikaans met addisionele lesings in Engels
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
86
13
 
83
17
 
84
13
 
85
14
Eweredige parallelmedium
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
79
21
 
94
6
 
87
13
 
84
16
Eweredige T-opsie
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
73
27
 
89
11
 
81
19
 
78
22
Sommige vakke in Afrikaans en ander in Engels
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
30
69
 
43
55
 
42
58
 
35
64
Hoofsaaklik Engels, maar met herhaling van inhoud in Afrikaans
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
32
67
 
68
28
 
42
58
 
43
55
Hoofsaaklik en konsekwent Engels
Aanvaarbaar/Neutraal
Onaanvaarbaar
 
26
70
 
64
34
 
39
61
 
37
60

 

Kommentaar: In die resultate in tabel 4 kan gesien word dat die gewildste keuse onder Afrikaanssprekende studente ’n basies Afrikaanse voertaal sou wees, maar met bykomende blootstelling aan Engels. Suiwer Afrikaanse onderrig sou egter ook deur oor die 80% verwelkom word. Daarna is parallelmedium die keuse, gevolg deur ’n eweredige T-opsie. Aparte vakke in aparte tale is redelik ongewild, en so ook opsies wat op basies Engelse onderrig neerkom.

Soos verwag kon word, het die Engelssprekende wit studente al meer daarop aangedring dat hulle hul lesings in Engels wil ontvang namate hul getalle toegeneem het. Informeel stel kenners van die universiteite die kantelpunt op 30%.

5. Hoe word die taalbeleid tans bepaal?

Volgens ’n voorlegging van die rektor, Wim de Villiers, aan die parlementêre portefeuljekomitee in 2015 moet die US sy taalbeleid aanpas namate die "taaldemografie en -voorkeure" van die studente en personeel verander.

Hy het die volgende getalle aangehaal vir die huistaal van studente aan die US in 2015:

Huistaal
45% Engels
42% Afrikaans
3% Xhosa.

6. Watter vraag stel die US tans by toelating om taalbeleid te bepaal?

Volgens ’n amptenaar van die US word die volgende vrae gestel:

Huistaal

Die vraag aan voorgraadse studente oor hul huistaal vorm deel van die aansoekvorm en word soos volg geformuleer: “Watter taal praat jy meestal by die huis?” Die opvolgvraag is: “As jy gereeld ’n tweede taal by die huis praat, dui dit asseblief hier aan.”

Die enigste ander taalvraag wat op die aansoekvorm gevra word, het betrekking op taal van kommunikasie (“In watter taal wil jy belangrike inligting ontvang?”). Hierdie inligting word dan gebruik om inligting in hulle voorkeurtaal met aansoekers te kommunikeer.

Onderrigtaal

Wat die onderrigtaal betref, word die vraag by registrasie aan die student gevra in watter taal hy/sy haar onderrig verkies. Hierdie aanduiding word dan gebruik om klasindeling te doen waar ’n parallelle onderrigaanbod beskikbaar is. Dit is dan so dat heelwat Afrikaans-huistaalstudente Engels as hul onderrigtaal aandui, aangesien heelwat van ons Afrikaanse studente in Engelse skole is en hul akademiese taal dus Engels is.

Sover bekend het die US nie onlangs die soort vraag oor voertaal gestel wat in die meningsopname van 2007 gestel is nie.

Dit is te betwyfel of die US sy voertaalbeleid professioneel kan bepaal op data rondom wat die rektor "taaldemografie en -voorkeure" noem.

7. Wat is die wetenskaplike waarde van “bewyse” wat dosente veral uit die Lettere en Sosiale Wetenskappe gee vir studente se voertaalvoorkeur?

Nie veel nie.

Die kernvereistesvan enige meningspeiling is dat die respondent oortuig moet wees dat die vraesteller geen persoonlike belang het by die saak nie en dat hy of sy as respondent niks het om met ’n eerlike antwoord te verloor nie. Watter student sal ’n eerlike antwoord gee as hy of sy weet die dosent se grootste begeerte is om parallelmediumklasse te vermy?

Enige universiteit wat sy sout werd is, sal dosente verbied om in ’n klas ’n vraag aan studente te stel oor die voertaalkwessie wat so omstrede geraak het. Dit plaas die studente in 'n onbenydenswaardige posisie.

  • 12

Kommentaar

  • Baie insiggewend - dankie! Hoekom is die dosente van die Departement Afrikaans

    en Nederlands so swygsaam?

  • Beste Prof Giliomee

    Is dit korrek dat US die afgelope aantal jare spesifieke aandag gegee het aan die werwing van wit Engelsprekende studente en minder aandag gegee het aan die werwing van bruin en swart Afrikaanssprekende studente ?

    • Avatar
      Hermann Giliomee

      Ek dink nie die Engelse skoolverlaters is spesifiek geteiken nie. Dit is meer die geval dat hulle (verkeerdelik) verseker is dat hulle nie 'n probleem met die voertaal sal ondervind nie. Eers was Engels veronderstel om net die helfte van die tyd in die T-opsie gebruik te word, maar dit het gou in sommige fakulteite amper heeltemal oorgeneem. Die Raad het geen ag op waarskuwings geslaan nie

  • Ek sien dit is "enrollments" m.a.w. mense wat inskryf. As die syfers eerder kyk na "hoeveel behaal graad" sal die statistieke 'n hele ander storie vertel.

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Dankie hiervoor, dr. Giliomee. Ek dink u en Breyten Breytenbach gaan soos die ou man Wolraad Woltemade destyds iets van ons sinkende Jonge Thomas bo die water help hou om weer ons voete hier te kan vind.

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Uiteindelik word die werklike probleem genoem: die Engelse wit studente wat die US in groot getalle werf. Engelse studente is natuurlik welkom om hier te studeer, maar dan moet hulle bereid wees om ook Afrikaans te leer.

  • Toe Afrikaanssprekende studente nog in die meerderheid was het die bestuur van US verdraagsaamheid en diversiteit bepleit.
    Toe word verdere verengelsing geadverteer onder die vaandel van uitnemendheid.
    Toe hul besef hierdie aanspraak is ongegrond, begin hul die snaar van toeganklikheid en uitsluiting tokkel om verdere verengelsing te bevorder.
    Toe hul besef 'n dubbelmedium Stellenbosch is eintlik toeganklik vir almal en sluit niemand uit nie, maak hul nou, sonder enige wetenskaplike bewyse, daarop aanspraak dat die meerderheid Afrikaanssprekende studente deesdae nogal ewe smeek vir Engelse klasse - verbeel jou!
    Noudat die Engelssprekende studente weens hul eie "keurings" en werwingsbeleid uiteindelik in die meerderheid is, nou vergeet hul gerieflikheidshalwe van hul vroeëre beroep op verdraagsaamheid en diversiteit. Ewe skielik word hul volbloed Westminister demokrate wat glo in die oppergesag van die wense van die meerderheid - die ou "winner takes all"-beginsel.
    En daar het jy dit - sit en bly stil en luister want die meerderheid het gepraat.
    "Too late for tears", soos die Ingelsman sou sê.

  • The proof of the pudding (is in the eating): Dankie prof Giliomee, dit is hierdie harde syferbewyse wat nodig is om die feite van die US-bestuur se onderduimse en doelbewuste verengelsing (deur o.a. toelating van meer Engelssprekende wit studente, as bruin of wit Afrikaanssprekers toe te laat) aan die kaak te stel.

    22 April is die afsnydatum vir belangstellendes om "insette" te stuur. Wonder net wie is die waghond en regter wat waak oor WAT kennis van geneem is, m.a.w. gaan AL die insette, besware en kommentaar deursigtig publiseer word sodat almal kan sien op watter feite die US-bestuur hul "nuwe" voorgestelde taalbeleid, evalueer het om inwerking te stel? Waarom maak hulle nie ook gebruik van 'n onafhanklike en geheime stembrief deur ouers, studente en donateurs nie? Geen buitelandse lektore of studente mag enige seggenskap of stemreg hê oor die taalbeleid op US, nog minder oor Afrikaans! Wat Kitchener nie kon regkry, het slinkse Afrikaansspreker rektore en akademici binne 'n dekade op US reggekry!!
    Gaan hulle hiermee wegkom?

  • Avatar
    Christie Redelinghuys

    'n Taal is veel meer as 'n kommunikasiemedium, soos uitgewys deur die digter Breyten Breytebach wat bereid was om vir sy anti-apartheidoortuigings 7 jaar tronkstraf uit te dien. 'n Taal omhels 'n kultuur, letterkunde, akademiese insette in daardie taal, en wat nog al. 'n Taal omvat 'n hele lewenswyse wat verdwyn as die taal verdwyn. Wat 'n droewe dag as niemand bv meer "Agaat" van Marlene van Niekerk kan lees en verstaan nie? Of Breyten se gedigte? Of Willem Anker? Afrikaans IS NIE 'n KOMBUISTAAL NIE EN MOET NIE WEER AS SULKS BEHANDEL WORD NIE!

  • Avatar
    Frans Petoors

    Hoe lank nog voordat die Engelse weer op ons spoeg, of ons weer in die hoek laat staan, of in 'n streepsak ophys as ons Afrikaans praat. Die ANC en Malema sal nie ophou voordat hulle ons taal vermoor het nie, al ontken hulle dit. Veg prof Wim de Villiers en sy personeel vir hulle "jobs" of word ons weer verraai deur ons eie mense?

  • MISDAADRAAD
    Stop jou magsmisbryk, hou op stront aanvang,
    Afrikaans se stand is van meer belang!

    Disse taal wattek leef enne taal wattek praat,
    dissie taal wattie raad mette passie haat,
    disse lae hou enne gatkryp daad
    disse vuil gekonkel vannie raad.
    Ek rol moue op, so ek staan en veg
    vir my taal se stand en grondwetlike reg,
    jy besit nie die taal se titelakte
    en dit issie deel van jou artifakte.
    Te vrot om my taal te respekteer
    moet jy liewer gwan en abdikeer,
    jou nikswerd mond is net in staat
    om drukgroepe skaamteloos na te praat.
    Die politieke taalmoord vannie raad
    is lafhartig enne vylgat daad,
    vat jou hande weg, hou jou hande af,
    flush jou stink beleid innie toilet af.
    Jy miskenning deur daarop te pis
    laat my veg vir iets wat reeds myne is.

    Stop jou magsmisbryk en stront aanvang:
    Afrikaans is tops! ... Dis van groot belang!
    Marius Titus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top