US-taalbeleid: Ope  brief aan Breyten Breytenbach

  • 28

Geagte mnr Breytenbach

Ek verwys na u ope brief aan prof Wim de Villiers, die US Rektor. Ek skryf hierdie reaksie nie op sy versoek of namens enigiemand behalwe myself nie. U boeiende ope brief het my opnuut onder die indruk gebring van hoe verskillend die verwysingsraamwerke is van waaruit ons na Stellenbosch se “taalprobleem” kyk, en hoe ver ons gevolglik by mekaar verby praat. Omdat ek sulke hoë agting vir u as digter en denker het (ek weet die gevoel is nie wedersyds nie), en omdat ek Afrikaans ook lief het en waarde heg aan diversiteit, wend ek nog hierdie een poging aan om te kyk of ons nie ‘n bietjie meer gemene grond kan vind nie. Ek sal daarby moeite doen om saaklik te skryf en my te weerhou van persoonlike opmerkings.

U maak ʼn groot aantal geldige punte: onderrig in Afrikaans sal bydra tot meer konstruktiewe diversiteit in Suid-Afrika; dit is baie ironies dat inklusiwiteit en diversiteit skynbaar bevorder wil word deur medium van die koloniale taal, Engels; egte universele betekenis kan en is meestal gegrond in die oopskryf van dit wat plaaslik of partikulier is, en dergelike meer. ʼn Baie goeie punt wat u dikwels in die verlede al gemaak het, en by implikasie ook in die ope brief, is dat taal natuurlik nie slegs ʼn instrumentele waarde of betekenis het nie. Taal het ook ʼn hermeneutiese funksie: dit ontsluit (betekenis-)wêrelde; skep daardie wêrelde soms self. Dit gee ʼn eie, unieke, dikwels onvervangbare toonaard aan die werklikheid wat in en deur die taal tot stand gebring word. Ons beleef ʼn Karoodorp op ʼn someraand op ʼn gans unieke wyse via Van Wyk Louw se besondere gedig met dieselfde titel, en daarmee of daardeur ontdek ons iets wat geldig is vir alle mense. “Hoe diep my liefde vir jou lê”  word deur Boerneef omskryf met hoë kranse en ʼn berggans en ʼn veer wat val – almal plaaslik, maar die insig wat dit bring, geld oral. En slegs Afrikaans kan dit met dieselfde trefkrag sê.

Nie een van laasgenoemde argumente is, wat my betref, in dispuut nie; ek gee hulle almal met akklamasie toe. Die probleem wat ʼn hersiening van die US se taalbeleid tans genoodsaak, is egter ʼn heeltemal ander kwessie. Daardie kwessie is die konkrete vraag: hoe kommunikeer ons ten beste, en met die grootste (ook koste-)effektiwiteit met die studente wat elke dag ons klasse sit? U moet tog insien dat dit ʼn ander, baie meer praktiese probleem is. Terwyl ek en u kan saamstem dat taal nie slegs ʼn kommunikasiemiddel is nie, kan u tog nie ontken dat dit óók ʼn kommunikasiemiddel is nie. Ons praat en kommunikeer in klasse. ʼn Fundamentele aanname van laasgenoemde aktiwiteit is dat as ons dit doen, diegene wat ons aanhoor, sal verstaan wat gesê word.

Die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word. Alle navorsing wat in die jongste tyd daaroor gedoen is, dui dit onomwonde aan. Die werklik onthutsende besef waartoe al hoe meer dosente kom, is dat ook in die gevalle waar studente hul huistaal aandui as Afrikaans (en laasgenoemde is reeds ʼn krimpende minderheid op die kampus), ʼn baie groot persentasie van laasgenoemde groep Engels in die klasse verkies.

Ek het in ʼn vorige artikel probeer aandui hoekom dit so is; ek gaan nie weer nie; die redes daarvoor is tans merendeels anekdoties. Mnr Breytenbach, hoe nou gemaak as diegene met wie jy in Afrikaans wil kommunikeer om al die pragtige ideale te bereik wat u aanprys en wat ek hierbo as legitiem erken het, feitlik deur die bank (soos veral in ons klasse in Lettere en Sosiale Wetenskappe) dit duidelik maak dat hulle nie Afrikaans wil hê nie, en in al hoe meer gevalle aandui dat hulle Afrikaans glad nie verstaan nie (of baie swak verstaan)?

Een manier om laasgenoemde probleem aan te spreek is parallelmedium; bied elke klas in albei tale aan (deel van die opsies in die huidige en voorgestelde beleid). Goed en wel; parallelmedium kan werk as daar genoegsame belangstelling voor is. Ek kry die indruk dat in sekere fakulteite (byvoorbeeld Ingenieurswese en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) parallelmedium al met groot sukses aangebied is. By ons in Lettere en Sosiale Wetenskappe is die ervaring anders. Nie alleen is effektiewe parallelmedium waar dieselfde dosent albei klasse waarneem de facto onmoontlik vanweë die komplikasies van ʼn oorvol rooster nie, maar daar is talle voorbeelde van Afrikaanse klasse wat parallel met Engels aangebied word waar geen enkele student opdaag nie! Die beskuldiging dat Engels op studente “afgeforseer” word, is van alle waarheid ontbloot; Engels word op aandrang van die studente gebruik! (Dit is natuurlik ook so dat al hoe meer nuwe dosente nie Afrikaans magtig is nie – ʼn amper noodwendige implikasie van die soeke na die beste beskikbare personeel).

Nogtans, sou u oplet, is parallelmedium steeds deel van die nuwe voorstelle vir die US-taalbeleid. So probeer ons ons bes om Afrikaans aan die gang te hou. Ek het dit al gesê en ek sê weer: hoewel ek nie namens die US kan praat nie, is ek oortuig daarvan dat indien daar genoegsame blyke van ʼn wesenlike behoefte aan onderrig in Afrikaans vanuit die studentegemeenskap kom, die US alles moontlik sal doen om sulke behoeftes aan te spreek. Is dit nie egter veelseggend dat ons so min van die studente oor hierdie saak hoor nie? Is dit nie opvallend dat al “studentestem”  ter ondersteuning van u standpunt dié van AfriForum-jeug is nie – ʼn organisasie wat duidelik slegs ʼn klein groepie studente verteenwoordig?

Ek hoop u verstaan nou waarom ek aanvoer dat ons by mekaar verby praat. Ons doen dit omdat ons oor verskillende probleme praat – u oor die toekoms van Afrikaans (waarvoor, in alle billikheid, die US darem nie alleen verantwoordelik gehou kan word nie), en ek oor die haalbare en effektiewe praktyk van taalonderrig op die kampus.

Ek hoop van harte dat Afrikaans in die toekoms ʼn perd sal wees wat ons kan bly ry op Stellenbosch en in Suid-Afrika. Baie keer, egter, vanweë die tanende belangstelling in Afrikaans onder US-studente, voel dit soos ʼn sterwende perd wat gelooi word om regop te bly. Hoekom beveg ons mekaar nie minder en praat liewer konstruktief saam oor hoe om daardie perd sonder geweld nuwe lewe te gee nie?

Anton van Niekerk

Professor in Filosofie
Universiteit Stellenbosch
16 April 201

'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

Breyten Breytenbach
Universiteitseminaar

"Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?"

  • 28

Kommentaar

  • U reduseer Afrikaans tot iets wat bereken moet word en slegs dan waarde het as die getalle klop. As syfers die enigste uitgangspunt is, sal Afrikaans, en enige ander taal wat nie na aan die aantalle van Engels kom nie, altyd die onderspit moet delf. As syfers werkelik so belangrik is, hoekom u doen nie alles daaraan om Afrikaans te bevorder nie en daarvoor te sorg die aantalle van Afrikaanssprekers gaan omhoog? U maak van Afrikaans een tweederangstaal. Die volgende generasie sal daaraan twyfel om Afrikaans door te geef aan hulle kinders want 'n mens kan nie tot volle ontplooiing kom in die taal nie. Dat Afrikaanssprekendes self werk aan die ondergang van hulle eie taal, is baie, baie wraakroepend. En as U ontken dat U of U universiteit die ondergang van Afrikaans bewerkstellig, vertel ons dan welke inisiatiewe U of US neem om die taal te bevorder... Geen enkel nie, hoor ek U sê?

  • Ek is bly dat prof Anton van Niekerk die brief van Breyten Breytenbach ernstig genoeg opneem om rustige repliek daarop te lewer. Ek het geen rede om te twyfel aan sy uiteensetting van studente se taalvoorkeure op Stellenbosch nie. Hy laat egter na om te verduidelik hoe die situasie ontstaan het dat die meeste studente Engels as onderrigmedium verkies. Sedert die aankoms van prof Chris Brink as rektor op Stellenbosch was die universiteit hondsgedienstig aan die ANC-regering se bevoordeling van Engels by tersiêre opvoedkundige instellings. Engelse studente is uit ander provinsies na die US gelok, onder meer deur die toekenning van beurse. Iets wat minder bewysbaar is, maar wat ongetwyfeld gebeur het, is dat dosente Afrikaans help stigmatiseer het. Die verskuiwing van die voorkeur vir Engels op Stellenbosch ten koste van Afrikaans was nie 'n natuurlike nie, maar 'n gemanipuleerde proses. In die lig hiervan klink prof Van Niekerk se mooi woorde oor Afrikaans glad nie oortuigend nie. As Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite en ander opvoedkundige instansies verdwyn, sal daar binnekort nie meer onderwysers wees wat hul vak in Afrikaans kan aanbied nie en dan het die doodsklok vir Afrikaanse skole gelui. Waar gaan die toekomstige NP Van Wyk Louws, Boerneefs en Breyten Breytenbachs dan vir Afrikaans gewen word? Van Niekerk plaas die onus vir wat op Stellenbosch gebeur het volledig op die studente, maar as opvoedkundige behoort hy te weet watter geweldige invloed groepsdruk op jongmense het. Watter eerstejaarstudent sal dit in 'n vyandige klaskameratmosfeer waag om aan te dring op Afrikaans? Ten slotte klink prof Van Niekerk se roerende sentimente oor ons moedertaal maar hol.

  • Avatar
    Godfried Krüger

    Professor, dit gaan alles uteindelik op finansiële lewensvatbaarheid berus. Ek sal graag wil sien of UP of US R400 miljoen per jaar gaan opoffer.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die getal Afrikaanssprekende studente word glo jaarliks minder. Dit is omdat raskwotas om politieke redes afgedwing word; maw by toelating word voorkeur aan nie-wit bo wit studente gegee. Die US wil sy historiese beeld as blanke universiteit uitwis deur teen 2020 'n hoofsaaklik nie-wit universiteit te wees. Het Van Niekerk as akademikus al beswaar teen hierdie politieke agenda geopper en daarop aangedring dat 'n akademiese inrigting soos die US op 'n fundamenteel akademiese grondslag moet funksioneer?
    Voorkeur vir nie-wit studente bring voorkeur vir onderrig in Engels mee. Die US is met sy rasbeleid self die oorsaak vir die agteruitgang van Afrikaans op die kampus. Dit is nie "anekdoties" nie. Polities korrek noem Van Niekerk nie dat Afrikaanssprekende bruin studente uitmunt in hulle dislojaliteit teenoor Afrikaans nie. Veral nadat Russel Botman die rektor geword het, is oorweldigend om nie-akademiese redes voorkeur aan die bevoordeling van bruines as studente en dosente gegee.
    Sommige studente kan of wil nie Afrikaans verstaan nie. Maar swart studente (ek is nie bewus van enige wit of bruin studente nie) word jaarliks op die koste van die belastingbetaler na Kuba gestuur vir mediese onderrig en opleiding. Hulle word verplig om Spaans ('n nie-Afrikataal) aan te leer. Dwarsoor die wêreld word die aanleer van tale aanvaar as iets wat om akademiese redes van studente vereis kan word. Waarom word US-studente nie verplig om Afrikaans (wat in Afrika ontwikkel is) aan te leer nie? Afrikaans is nie net akademies sinvol nie, maar ook sosiaal hoogs bruikbaar.
    Alle dosente is nie (meer) Afrikaans magtig nie. Volgens Van Niekerk is dit omdat die beste dosente aangestel word. Dit is gewoon nie die waarheid nie. Elke keer as die US poste adverteer, word gesê dat voorkeur gegee word aan kandidate uit die "aangewese groepe", dus nie-wittes en vroue. Al meer dosente is nie Afrikaans magtig nie omdat die US dosente op grond van ras en geslag aanstel en bevorder. Het Van Niekerk as akademikus al beswaar geopper teen hierdie nie-akademiese, eintlik anti-akademiese, wanpraktyk?

  • Dit sou interessant wees om by hierdie statistieke die hoeveelheid engelse wit studente uit Johannesburg te voeg asook die hoeveelheid Afrikaanse studente wie se aansoeke om by Stellenbosch vanjaar te studeer van die hand gewys is ten gunste van sogenaamde transformasie.

  • Anton verduidelik in uitstekende hoëvlak Afrikaans wat 'n allesverterende kwaadaardige kanker Engels vir die witbloedliggaampies van die Afrikaanse bloedjies is.

  • Avatar
    André Badenhorst

    Geagte Professor van Niekerk

    Net 'n 'n laaste vragie of twee: Het u as voorstander vir die T-opsie tydens die destydse besluit daaroor, toe daar hard en duidelik gewaarsku is deur onder andere Dr. Van Zyl Slabbert, dat dit pedagogiese onsin is, en wat daarop gevolg het, toe u stil, maar gelate aanvaar het dat die toestroming van hoofsaaklik wit Engelssprekende studente onder die vaandel van transformasie plaasvind, het u, Professor, hierdie situasie nie voorsien nie? Verwag u nou werklikwaar om van ander om oplossings te verskaf op die praktiese verknorsing wat u en u eendersdenkendes self help skep het?

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Andre, daar is 'n groot mate van eenstemmigheid dat die aanbieding van Engels en Afrikaans in dieselfde klas opvoedkundig 'n onding is. Aparte klasse maak pedagogies baie meer sin. Wat opval, is dat diegene wat hulle deur politieke oorwegings laat lei (soos Van Niekerk) gesamentlike klasse verkies en omdat dit akademies katastrofaal is, bevorder hulle eerder 'n eentalige Engelse as 'n eentalige Afrikaanse US. Diegene wat voorkeur aan akademiese oorwegings gee, verkies aparte klasse. Russel Botman, 'n ANC-kameraad en sterk voorstander van Engels en 'n vyand van Afrikaans, het die aap die openlikste uit die mou gelaat: "Hy het ... dubbelmedium beklemtoon omdat dit verseker dat wit en swart saam in die klasse sit" (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 205). Aparte klasse in Afrikaans en Engels veroorsaak dat hoofsaaklik wittes die Afrikaanse klasse en hoofsaaklik nie-wittes die Engelse klasse bywoon. Dit word as 'n voortsetting van apartheid geetiketteer. Aan die UV verkondig Jonathan Jansen dieselfde standpunt as Botman.

  • Avatar
    Alastair van Huyssteen.

    Beteken al die beleid aan weerskante 'n dooie duit? Of is dit bloot iets om oor te stry om die tyd om te kry?

  • Anton is in die kol. Taalkeuse moet pragmaties beding word, nie ideologies nie. Breyten staan buite die akademie. Vir hom gaan alles oor Afrikaans en identiteitsbehouding. Maw hy is 'n taal fundamentalis wat die taal met sy eng ideologiese aanslag groot skade aandoen. Anton het te doen met die alledaagse problematiek van veranderende taalkeuse van studente. Vir hom is die verbintenis met leer en onderig daagliks in sy klas belangrik.

    • U bydrae wemel van logiese ongesteldhede. Dis ideologie wat die huidige omgewing geskep het waarin 'n pragmatisme afgedwing word waardeur een van die laaste akademiese tuistes van Afrikaans tot niet gemaak word. Ja, Breyten staan buite die akademie want sy intellek oorstyg die huidige middelmatige vlak daarvan. U sou tog nie verwag om iemand van Breyten se statuur as 'n blote professor by een van ons universiteite te sien nie? Dat hy homself hoegenaamd verwerdig om die huidige vlak van akademiese denke hoër te wink, is aangrypend. U merk tereg op dat Anton van Niekerk te doen het met die alledaagse problematiek van die huidige omgewing waarbinne hy beperk is om te funksioneer. Soveel te meer is dit noodsaaklik dat 'n minder geknelde hulpbron soos Breyten toetree. Dit gaan oor veel meer as die behoud van Afrikaans ten voordele van die belangegroep van Afrikaanssprekendes. Dit gaan o.a. oor die welstand van die mensdom se ekosisteem van diverse tale en gevoelswerelde. Die mensdom as geheel verarm wanneer daardie ekosisteem taan.

  • Anton Muller, Breyten se argument is beslis nie "eng ideologies" nie. Hy dring juis aan op diversiteit. Engels alleen is die einde van diversiteit en Afrikaans as taal met hoër kulturele funksies. Daardie kulturele funksies word juis aan 'n universiteit bevestig en uitgebrei. So is die groot Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) byvoorbeeld aan die US gekoppel.

    Die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin. Hoe klop dit met voorspraak vir en aanspraak op Afrikaans as "identiteitsbehouding", waarmee jy waarskynlik Afrikaneridentiteit bedoel?

    Jy, nie Breyten nie, is die eng ideologiese denker.

  • Anton Muller, ek praat natuurlik van die eng, oppervlakkige, gelykmakende ideologie van die pragmatisme.

  • Goeie verduideliking, Anton. Jou uiteensetting is vanuit 'n pragmatiese oogpunt geskryf. Die jonger nuwe generasie verkies by verre Engels. Die ouer generasie kleef naarstiglik aan kultuurgoedere wat vir hulle sin maak en identiteit gee. Onder andere taal en godsdiens. Die kinders dink anders. Die jonger geslag is die toekoms. Die ouer geslag verteenwoordig die verlede.

  • Van wanneer af laat die Universiteit Stellenbosch hom deur sy studente se opinies lei? Gaan soortgelyke leiding gesoek word oor bv iets soos "kleredrag in die klas"? Ek dink nie Prof van Niekerk sal daarmee saamgaan nie. Google bv vir "Deurtrekrekker-TUG lei tot klag teen prof" in Rapport van 11 Junie 2006.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    In wese gaan dit oor (ondeurdagte/doelbewuste/polities korrekte???) korttermyn besluite met langtermyn gevolge waarvan die implikasies (on)gerieflik aan diegene "krap" wat aan hierdie debat deelneem.

    Feit is dat onder die dekmantel van transformasie Engels as onderrigtaal 'n al-hoe-groter vastrapplek in tradisioneel Afrikaanse Universiteite gekry het en noudat dit meer as beduidend is, word dit 'n stappie verder gevoer na 'n "getalle argument." Hmm, baie gerieflik; nie waar nie Prof. Van Niekerk!? Die daaropvolgende toorwoord (gewoonlik in vraagteken vorm vir simpatieke doeleindes) sal die een wees van hoe "PRAKTIES UITVOERBAAR" kan dit tog wees om klasse voortaan in Afrikaans aan te bied? Maar hierdie ding is 'n sagmaak proses en jy val mos nie sommer met die deur in die huis en skaf net af nie....... a nee a, dis immers darem 'n gesofistikeerde tersiêre instelling met akademiese ego's wat op die spel is.

    Praktiese probleme of dan onuitvoerbaarheid (sien dinge soos tydsaspek, druk programme, tekort aan personeel, duplisering ens.) alleen kan nie goed genoeg wees om net af te skaf nie, sal die besef wees. Daarom sal iets meer substantief gevind moet word om by te sit ten einde afrikaans die "doodskoot" te gee, iets wat mense aan hul lywe voel....... En daardie doodskoot ( party sal self sê; "koeël" of "dolk in die rug") is die begrip "finansieël onbekostigbaar!!" En om dit lekker op die tong te laat val sal die gebruik van woorde soos "in nuwe tydsera" of "21ste eeu" en waar met "feite en nie emosies" nie gewerk moet word," gebruik word.

    En so, met al hierdie opeenvolgende begrippe wat prosesmatig is sal Afrikaans dan as taal finaal die aftog moet blaas........ logika, nie waar nie Prof. Van Niekerk!?

    Kom ons vergeet vir die oomlik goeie argumente soos dat Afrikaans as onderrigtaal in die Grondwet gewaarborg word. Die vraag wat elkeen vir homself moet afvra is: "Is Afrikaans as onderrigtaal 'n prioriteit op u agenda - ja of nee?" As dit is, sal diegene soos Breyten Breytenbach, taalkenner Prof. Theo Du Plessis en talle ander natuurlik hulle daarvoor beywer en redes aanvoer hoekom Afrikaans behoue moet bly ongeag uitdagings en probleme. Vir diegene vir wie dit nie regtig 'n prioriteit is nie kan mens die soort pragmatiese redenasies en redes verwag soos aangebied deur Prof Van Niekerk en sy ondersteuners. Punt is, daar is geen waarborge in die lewe nie, net keuses en ek glo dat elke mens geregtig is op 'n mening en standpunt, ook Prof. Du Plessis. My keuse is om nie met hom saam te stem nie. Ek gooi liewer my gewig in agter Breytenbach & Kie en die taal waarin ek dink, droom en leef..........

  • Charl Adams, is Afrikaans dus iets van die verlede omdat die jeug so besluit het? Jong Afrikaanse mense doen hulleself 'n onreg aan deur in 'n ander taal as hulle moedertaal te wil studeer, en die volwasse opvoeders wat hulle aanmoedig om dit te doen, is doodgewoon onverantwoordelik.

  • In my gesprekke met ouers van huidige studente en uit my eie ervaring tydens my seun se vyf studiejare, blyk dit dat Afrikaanssprekende studente nie gewillig is of was om aan te dring op Afrikaans nie, bloot om onenigheid of konfrontasie te vermy. Dit is deels waarom die studente wat volgens Van Niekerk nie gehoor word nie, verkies om stil te bly. Watter ouer kan bekostig dat sy kind soos 'n wafferse aktivis ( OS) oor als wil betoog en hul studies in die proses verwaarloos? Indien meer Engelstalige studente toelating verkry is dit ook logies dat die aanvraag na Engels ook sal toeneem. Die rektor dui aan in sy nuutse kommunikasie dat US in 2015 meer as R70m spandeer het om veral die senior akademiese personeel te transformeer. Joan Hambidge se vrae aan Piet Croucamp is ook veelseggend, veral haar mening ivm Engels. Hoe gaan die rektor en pesoneel by veeltaligheid uitkom indien dosente nie meer Afrikaans magtig is nie? Die haas waarmee die huidige taalbeleid hersien word, getuig nie van 'n manier om Afrikaans 'n nuwe lewe te gee soos Anton van Niekerk voorstel nie. Daar is reeds amper net te veel hekkies opgestel om te verklaar waarom studente nie ook in Afrikaans hul onderrig kan ontvang nie. Dalk moet Van Niekerk 'n slag by die talle forums waar hy kapsie maak teen die 'afdwing' van Afrikaans vir die lesers verduidelik hoe hy op konsruktiewe wyse 'nuwe lewe ' aan die perd kan gee. Ek wag in spanning!

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Enige leser wat die afgelope tien jaar of meer aan Van Niekerk se verbale diarree in Die Burger blootgestel is, weet dat hy alles in sy vermoë gedoen het om Afrikaans (en diegene wat dit aan die US wil behou) te diskrediteer. Watter Afrikaanssprekende student in sy departement het dan die vrymoedigheid om op Afrikaans aan te dring?

  • Stalinbos kry wat hom toekom. Linkse "denkers" wat nou kwaad word vir mekaar omdat hulle deur die skerpioen gesteek is en 'n paar ander wat nog dink hulle gaan nie gesteek word nie. Van Kopdoek tot Van Niekerkie, die hele spul liberaliste slaan mekaar nou met hulle handsakke oor die laaste (reeds vergane) instelling van blanke uitnemendheid.

    Soos Breyten gemeld het as jy eers jou eie verraai het, gaan die ander jou ook nie aanvaar nie, selfs al hou ek van wat jy sê Breyten.

  • Watter wit Afrikaansspreker student gaan dit waag om by sy tydgenote op US dit te waag om in klasse (van Van Niekerk, Gouws ea) vir Afrikaans te stem? Was die stemmery in die geheim of mondelings met hande in die lug afgedwing, en volgens watter reg in die Grondwet durf lektore dit waag? Is Van Niekerk onbewus van die nuwe Fascistiese ster "1652's" waarmee Afrikaanssprekende studente gebrandmerk word?
    Onlangs tydens die Woordfees het dit opgeval hoe bruin en wit studente onder mekaar in Afrikaans kommunikeer, fluisterend. Tydens 'n gesprek (nie op die feesprogram nie) gereël op 10 Maart vir Jeffreys met die 2 vise-kanseliers van UCT en US in die Kaya, is die gesprek ontwrig deur 'n paar onbeskofte, dreigend intimiderend protesterende swart jongmense (waarskynlik OS-studente?).
    Sekuriteit en die organiseerders van KykNet en Woordfees is ingeroep: die gesprek is summier stop gesit en die sprekers weggelei. Toe wit feesbesoekers kapsie maak, is hulle dreigend gekonfronteer met woorde soos: "go back to your f.... country of origin"; we do not want you here, this is our country"; “f-off, voetsek you children of colonists and Boer pigs". Later die aand is voertuie op kampus aan die brand gesteek ens ens. Wie wil teen persoonlike hoë koste, die Woordfees in die toekoms weer besoek as die US nie hul nié-presterende boelie-studente kan skors, en verhoed dat fees-aktiwiteite ontwrig en selfs kanselleer word? .
    Is daar ooit deur die US teen hierdie "studente" opgetree, (soos teenoor die "pers" studente en teenoor feesbesoekers apologie aangeteken? Die media was stil hieroor. Verwag Van Niekerk, De Villiers, Le Cordeur en kie dat Afrikaanssprekende studente wie daagliks verdag gemaak word, hul huistaal met 'n "verkiesing" in 'n lesinglokaal sal kies?
    As ek reg onthou, het Van Niekerk kort na '94 waarskynlik sy Damaskus-oomblik gehad: hy't sy Afrikaner-identiteit (askuus, ek is nie so nie) afgesweer en daarvan gedistansieer, soos toendertyd gedurig in sy koerantbriewe gereklameer. Professor, was u as filosoof in die etiek nogal, in die 80's saam met Breyten, Van Zyl Slabbert, Giliomee en ander onafhanklike vrydenkers en kreatiewe "verligtes" in Dakar? Indien nie, kan u nie namens Afrikaans aan US praat nie, selfs al skryf u voortdurend in hierdie taal wat u aktief op US help vernietig. Wonder u ooit wat Degenaar en hedendaagse kontinentale denkers van u (on)logiese argumente sou dink?
    Dankie vir u poging om ter elfder ure praktiese oplossings by u teenstanders te help soek, maar U repliek aan Breyten kan nie vertrou word nie.
    Rig eerder u planne aan die "uitmuntende" buitelandse US-lektore, wie te lui is om Afrikaans te leer praat, en eerder hul aanstellings en tyd gebruik om met hul viertrekvoertuie die land te verken. Selfs party se lesings in 'n swak Engels is onverstaanbaar vir wit Engelssprekende studente: gaan luister of maak gerus klankopnames van hierdie lesings!
    En, hou in gedagte dat met kennis van 'n akademiese Afrikaans kan studente maklik Nederlands lees en die gesproke taal verstaan, selfs Duits maklik aanleer, terwyl met Engels studente nie eens Frans of enige ander kontinentale taal met begrip kan lees nie, nog minder die taal op straat verstaan.
    'n Engels-alleenlik verskraal die ervaring en stuur af op verdomming van die hedendaagse SA-student wat reeds met 'n gebrek aan blootstelling en 'n onderrig-agterstand na universiteite kom.

  • Avatar
    Johan Scheepers

    Ai Anton, net soos in die vroeë 70's om die brugtafel lyk my jy het steeds die gewoonte om die verkeerde kant om te "finesse"?

  • Avatar
    Stanley van den Heever

    Nee wat ou Anton. Dis ook net 'n filosoof van twyfelagtige vermoëns wat soos jy sal redeneer. Jy was aandadig daaraan om die US van 'n wit Afrikaanse universiteit na 'n wit Engelse universiteit te transformeer. Om nou die meerderheid wit Engelse studente te vra in watter taal hulle wil klas hê is mos nou opperste boereverneukery. Dink jy regtig ons is sulke swape om vir so 'n patetiese argument te val? As jy Afrikaans afgeskaf wil hê verskaf aan ons wetenskaplik gefundeerde redes vir jou voorstel. Ons mag dalk met jou saamstem as jy die nodige bewyse verskaf!

  • U besef natuurlik, vriende, dat Anton 'n briljante man is. Hy kan hom uitdruk in ’n Afrikaans wat ek sonder die HAT kan verstaan.
    Ongelukkig. Ten spyte van 'n Kanselliersmedalje, kon hy nie voortydig waarsku teen die mistasting van Apartheid (of eufemisties "Afsonderlike Ontwikkeling nie). Noudat daardie boot verby gespoel het, lyk dit vir my asof Anton, soos Wolraad en sy dapper perd, die laaste flarde van sy statuur as "Groot Denker en Filosoof" uit die kake van sy tydsgenote se opinie wil red. (Lees maar nog ’n keer as jy sukkel, Anton) Vandaar sy obsessiewe skryfsels aan die kant van wat hy sien as redelikheid, maar wat ongelukkig maar lyk soos "Die Opinie van die Dag."
    Dis ongelukkig so dat die Taaldebat op Stellenbosch net die snotneus is van die agtste werklike probleem. En dat die droë hoesie en seer keel nie op Stellenbosch aangespreek kan word nie. Maar in Pretoria. Of Luthuli-huis. Of waar ook al die ses heersers van Suid-Afrika hul strategieë beplan. Waar die diversiteit en inklusiwiteit waarvan Anton praat, werklik deel van ons Hoofstroomdenke moet word. Solank as ons (kollektief, maar meer akkuraat dalk "hulle") nog kort-kort ou koeie opgrawe, en herbegrawe, om 'n populistiese emosionele agenda te dryf, sal die studente stem soos waarheen realiteite by die US, hulle die laaste 15 jaar gelei het. Dit gaan maar sukkel, beide an julle, om vir Afrikaans te stem as ek weet dat my vriend Kolisile Zaantsi, wat hier langs my in Lettere en Wysbegeerte sit, xan nie 'n woord van die braaksels van werklike filosowe, gaan verstaan nie.
    Anton se kruipende onderdanigheid, en olierige sarkasme met Breyten se opinie van hom as Digter en Denker, laat ’n smaak in my mond soos die goeie Tassies in die Ou Dros. Die volgende oggend ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top