Wat is goeie wetenskap? Wieland Gevers en Susan Veldsman reageer

  • 0

Wieland Gevers (hoofskrywer) en Susan Veldsman reageer op die artikel “Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Fanie de Beer en Braam Roux.

Die uitgebreide artikel deur Braam Roux en Fanie de Beer getiteld “Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid” is een van die mees deurdagte onlangse bydraes tot wesentlike kwessies rakende wetenskapsbeleid in Suid-Afrika, en word as sodanig verwelkom. Hulle pleit tereg vir ’n dieper en wyer debat oor die manier waarop wetenskaplike navorsing en beoefening in die land bevorder moet word, asook oor die koppeling daarvan aan nasionale ontwikkelingstrategie, in die wydste sin van die woord genome. Hulle plaas hul argument in die midde van die vraagstuk na die wyse waarop woorde (beleidstaal) betrekking het op handelinge (die bereiking van lofwaardige doelwitte), ’n probleem wat tans van deurslaggewende belang is vir ons land. Hulle versoek dat algemeen-gebruikte kodewoorde gedekonstrueer en veronderstellinge herondersoek word. Ons is dit hiermee met hulle eens.

Roux en De Beer is veral bekommerd oor die verpolitisering van wetenskaplike navorsing en beoefening en oor die sentralisering van die bestuur daarvan. Hulle bespeur beide tendense in twee groot beleidsdokumente wat onderskeidelik deur die NRF en ASSAf uitgereik is. Ons (Gevers en Veldsman) lewer kommentaar oor die ondersoek wat na ’n moontlike strategiese benadering tot navorsingspublikasie in Suid-Afrika deur ASSAf gedoen is (Report on a strategic approach to research publishing in South Africa 2006: Consensus report).

In hul bekendstelling van ASSAf maak die skrywers nie daarvan melding dat ASSAf (in teenstelling met die NRF) nie ’n regeringsorganisasie is nie, maar wel (ten spyte van sy statutêre aard) ’n multidissiplinêre, vrywillige vereniging bestaande uit senior akademici, meestal uit hoëronderwysinstellings, met verteenwoordiging vanuit alle dissiplines, maar veral vanuit die natuur- en geesteswetenskappe (kyk www.assaf.org.za).

Alle lede van ASSAf, sowel as al sy raadslede, is wetenskaplike navorsers. Dit is te verwagte dat wanneer navorsers van verskillende dissiplines moet saamwerk, hulle in hul benadering tot die aanbeveling van algemene wetenskapsbeleid vir die land na die mees bevredigende "kompromieë” op soek sal wees. Hulle sal nie ’n versameling van onderling onversoenbare, monodissiplinêre perspektiewe aan die beleidmakers kan voorlê nie, en daar sal by die oorweging van talle sake veralgemeen word om voorsiening te maak vir die meeste afwykings wat binne verskillende dissiplines geld. In sommige gevalle ondersoek ASSAf juis hoe hierdie verskille geakkommodeer kan word in die beleid, soos in die geval van die onlangs gepubliseerde Consensus report on clinical research in South Africa, 2009 en die huidige Consensus study on the role and future of humanities.

Dit is binne hierdie konteks dat die kern-aanklagte van verpolitisering en sentralisering teen ASSAf se beleidvoorstel vir wetenskaplike publikasies in Suid-Afrika beoordeel moet word. Die huidige doel en doelwitte van die program het reeds verby die lys gevorder wat aanvanklik in die 2006-verslag genoem is, en lesers moet hulle verwittig van die menige huidige elemente van die program om te oordeel of die benadering ’n “bo na onder”-, gesentraliseerde of “onder na bo”-belangegroep-gebaseerde een is, en of die aanklag deur Roux en De Beer, tw dat ASSAf ’n rol vir homself veronderstel, geregverdig kan word. In die laasgenoemde konteks moet daar gevra word watter rolle enige nasionale wetenskaplike akademie in werklikheid vir homself mag veronderstel, of toe-eien, as dit enigsins ’n betekenisvolle funksie moet vervul. As ’n nieregeringsorganisasie wat uit ongeveer 350 senior akademici bestaan, moet al ASSAf se inisiatiewe ’n streng “onder na bo”-benadering wees, of kan dit proaktief wees, wetende dat terwyl dit handel, dit die vertroue van sy goed ingeligte lidmaatskapskorps moet behou, asook van die breër intellektuele gemeenskap.

Roux en De Beer is sekerlik bewus daarvan dat ASSAf, waar moontlik, van akademiese benaderings gebruik maak. ASSAf-panele word doelbewus saamgestel as multiperspektief-groepe wetenskaplikes wat bewyse ondersoek, opweeg en ’n konsensusstandpunt oor hulle bevindinge en aanbevelings moet maak. Daarna word konsep-konsensusverslae deur veelvuldige en onafhanklike portuurevalueerders beoordeel. Niks is konteksvry nie, soos Roux en De Beer beweer, en beleid-aanbevelende konsensusposisies is dikwels in ooreenstemming met taalgebruik wat in openbare beleid gebruik word.

Die dissipline-gegroepeerde evaluering van Suid-Afrikaanse wetenskaplike tydskrifte word deur Roux en De Beer as ’n indringer- “bo na onder”- regulerende meganisme gesien, maar in die praktyk behels dit verskeie onafhanklike evaluasies en ’n konsensusverslag wat deur ’n paneel van eweknieë opgestel word. Die klem is op verbetering en ondersteuning, nie op inperking en op “bo na onder”-beheer van die plaaslike wetenskaplike joernale nie. Voorstelle dat sodanige beoordelings beter deur dissiplinêre verenigings gedoen sou word, is debatteerbaar; sulke verenigings bestaan al baie jare lank en het selde, indien ooit, spontaan sulke resensies uitgevoer – sou hulle nou “gedwing” word om dit te doen, deur sentralisering van beleid? Kan sulke resensies in elk geval as onpartydig beskou word?

Die ASSAf Consensus Study on Scholarly Books, 2009 bevat ’n uitgebreide kritiese bespreking van portuurevaluasie en die Akademie is nie “breinloos” in sy bevordering van hierdie vorm van “gehaltebevordering” as een van die belangrikste maatreëls om ’n aantal akademiese doelwitte te bereik nie. ASSAf se benadering tot bibliometriese analise is ook versigtig en oorwoë, en ten gunste van dissipline- en konteks-spesifieke vergelykings, die gebruik van ander impak-maatreëls, en ’n konstante erkenning van wat sitaatanalise regtig is, en hoe baie en hoe min dit vir ons kan sê. ASSAf het begin met die SciELO-SA-platform, deur die subsidiëring van aanlyn- en ope-toegang-publisering van soveel Suid-Afrikaanse wetenskaplike tydskrifte moontlik. Dit vorm deel van ’n indekseringstelsel vir die ontwikkelende land, wat die dominerende Web of Science- (ISI-) analises komplementeer, maar verleng die analises anderkant blote artikelverwysings tot nuwe maatstawwe met nasionale en streeksimpak. Dit kan ook begin om die taal-van-publikasie-kwessies, wat ’n ware globale kennisomgewing inhibeer, aan te spreek.

Wanneer dit kom by die aanklag van die ideologiese kontaminasie van ASSAf se aanbevelings, blyk daar min mee verkeerd te wees om te pleit vir “nasionale vooruitgang en welsyn”, “deelnemende beleidmaking”, en werk “vir die voordeel van die [...] burgerlike samelewing in die algemeen”. Ons is gestimuleer deur die “dekonstruksie” van sulke sinne in akademiese diskoers, maar sal dan ook versoek dat die baie frases wat deur Roux en De Beer gebruik word, eweneens gedekonstrueer word. Die voorstel wat hier bo genoem word, van portuurevaluasie van dissipline-gegroepeerde tydskrifte deur die nasionale dissiplinêre verenigings, kan ook gedekonstrueer word as ’n voorkeur vir “laat die jakkalse besluit oor hoenderhokontwerp”. In werklikheid kan ons talle ander posisies wat deur die skrywers opgeneem word, analiseer in terme van vooraf-geformuleerde ideologiese posisies, onder andere die ontkenning van verwantskappe tussen wetenskap en tegnologiese aktiwiteite en die ekonomie, die problematisering van die kriteria van oorspronklikheid in navorsingspublikasie, en vele ander.

Ter opsomming: Roux en De Beer het ons ’n guns bewys, maar die gesprek moet voortgaan en verfyn word, en uiteindelik sal hulle hul artikel “Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid” moet regverdig in terme van hoe die diskursiewe wisselwerking van wetenskaplike idees ’n land op ’n praktiese manier in staat kan stel om sy hulpbronne oordeelkundig te gebruik tot die voordeel van al sy burgers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top