Prof Wieland Gevers is die Algemene Sekretaris van die Academy of Science of South Africa. Hy het in 1960 in geneeskunde gekwalifiseer, was ’n Rhodes-beurshouer aan die Oxford Universiteit en het in 1966 ’n DPhil-graad onder Hans Krebs behaal. Hy was ’n post-doktorale genoot van dr Fritz Lipmann aan die Rockefeller Universiteit, Senior Adjunk-Visekanselier aan die Universiteit van Kaapstad (1992-2002) en ’n professor van mediese biochemie sedert 1978. Hy was die (stigter-) President van die Suid-Afrikaanse Biochemiese Vereniging (1975-1976), President van die Royal Society of South Africa (1987-1989), en die Voorsitter van die Academy of Science of South Africa (1998-2004), asook Uitvoerende Beampte vanaf 2004 tot 2008. Gevers het die Mediese Navorsingsraad (MNR) se Navorsingseenhede by die Universiteite van Stellenbosch (1970-1977) en Kaapstad (1979-1994) bestuur. Hy het as Voorsitter van die evalueringspanele van die National Advisory Council on Innovation (2003), die National Research Foundation (2005) en die MNR (2010) gedien en is tans Ondervoorsitter van die Ministriële Evalueringskomitee vir Wetenskap, Tegnologie en Innovasie van Suid-Afrika.
Hy het die volgende toekennings ontvang: twee eredoktorsgrade, die Wellcome Trust- goue medalje vir mediese navorsing, goue medaljes van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie, die MNR en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Suid-Afrika-medalje van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap, en die Nasionale Orde van Mapungubwe in silwer.
Hy is lid van drie wetenskapsakademies, insluitend die Academy of Sciences of the Developing World (TWAS), en ’n Lewenslange Genoot van die Universiteit van Kaapstad.
Opgedateer/Updated: 2011-02-09
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za