Vrydag die 13de, die US taalstryd en die hashtag-generasie

  • 7

bettina250#OpenStellenbosch, #FeesMustFall, #RhodesMustFall – hierdie was die jaar van die hashtag-generasie.

Die afgelope paar dae het Twitter gegons met lede van #OpenStellenbosch wat ʼn oorwinning met beoogde verandering van die US-taalbeleid verklaar het. Selfs Jay Naidoo het ʼn stuiwer in die armbeurs gegooi.

Elders word daar gegons oor die donkerte van Vrydag die 13de met verwysing na dieselfde beoogde verandering. Vir my is Vrydag die 13de die dag waarop fundamentaliste verwoesting gesaai het in Parys en Beiroet, nie die dag dat Afrikaans in die waakeenheid beland het nie.

Ek moet bieg: ek verstaan die histeriese reaksie op die aankondiging dat Stellenbosch ʼn veranderde taalbeleid oorweeg, glad nie. Die skrif is tog al geruime tyd aan die muur. Het Afrikaanssprekendes gedink as Potch en Tukkies en Vrystaat geval het, dat Maties met vrede gelaat sou word? Het Afrikaanssprekendes regtig gedink dat ʼn groep soos #OpenStellenbosch tevrede sou wees om net samesprekings te voer, en tevrede sou wees met tee in die rektor se kantoor, nadat hulle gesien het hoe effektief #RhodesMustFall was? Is ons regtig so naïef dat ons gedink het daar sal nie iewers ʼn rimpeleffek wees wanneer die regering ʼn toegewing maak omtrent fooiverhogings vir 2016 nie? Iemand moet tog nog steeds betaal; dit sal net nie die studente en hul ouers wees nie. Dit sal klaarblyklik ook nie die regering wees nie.

Nou is die tyd vir nugter en strategies dink, nie vir opruiende toesprake en stellings maak wat vele kere op sosiale media gedeel word, maar wat niks verder vermag nie.

Ek is nie in die binnekringe van die rektor se kantoor, of die senaat of die raad nie. Ek hóéf ook nie te wees om te besef dat die veranderinge wat Vrydag aangekondig is, ʼn oorlewingstrategie is nie. Die universiteit het geld nodig om te oorleef. Die universiteit het die regeringsubsidies nodig – veral noudat hulle hande gebind is om gelde te verhoog. Is die mense wat nou so opruiend stellings maak oor die behoud van die taal, bereid om substantiewe finansiële bydraes te maak sodat die universiteit die regering se geld kan wegwys? Natuurlik nie. Ek verwag daar sal nou vele wees wat daarop sal wys dat dit in elk geval hulle belastinggeld is wat deur die regering gebruik word. Daai selfde mense het saam gejuig toe die regering gedwing was om toegewings te maak oor fooiverhogings, want hulle wil nie ten duurste betaal vir hulle kinders se opvoeding nie.

Once you’ve unleashed the beast, how do you control it? Die antwoord is, jy kan nie. Die gebeure by UWK en UJ die afgelope week het dit bewys. Enige beweging wat met die beste bedoelings ter wêreld begin word, en sukses behaal, loop die gevaar om soos ʼn wegholtrein buite beheer te raak. Iewers gaan daar casualties wees, en ek vermoed ons begin nou die eerste gewondes sien.

#OpenStellenbosch het begin met eise vir gelyke taal, toe verander dit in eise vir Engels as onderrigtaal. Daarna was daar eise vir die verbetering van werkers se toestande. Vandag sien ek op Twitter dat daar ʼn eis is dat die US die apartheidsgeskiedenis van alle werknemers moet openbaar nadat dit bekend geword het dat Wouter Basson, “Doctor Death”, onderrig verskaf aan Maties mediese studente by die Durbanville MediClinic. US doen hulleself beslis geen gunste nie. Daar sou nie redes wees vir sulke eise as hulle in die eerste plek seker gemaak het dat daar gelyke leergeleenthede vir alle studente was nie.

Wim de Villiers is aangehaal as dat hy sou gesê het dis nie US se plig om die hekwagter vir Afrikaans te wees nie. Ek stem met hom saam. Dit kan nie enige enkele instansie of organisasie se plig wees nie. Dis elke Afrikaanssprekende se plig om hekwagter te wees. Die vraag is nou: Wat het Afrikaanssprekendes gedoen om seker te maak die taal word beskerm?

Daar was bitter min gedoen om sosiale kohesie te skep onder die verskillende rassegroepe wat Afrikaans praat. Wit Afrikaanssprekendes wil nog steeds aandring dat daar net een manier is om Afrikaans te praat, en al die ander se manier van praat is verkeerd. Kaaps word nie in gedrang gebring deur die US se taalbeleid nie. Kaaps was nog nooit as onderrigtaal beskou nie – hoogstens as ʼn amusante variant wat bestudeer moet word. Ditto met die taal gepraat deur die Gonukwas, die Griekwas en dies meer. Dis Standaardafrikaans wat die knyptang voel. Ironies genoeg wys elke verklaring wat ek tot dusver gesien het, vinnig daarop dat die arme bruin kinders die ergste gaan swaarkry as Stellenbosch nie meer Afrikaans is nie. Die statistieke wat aantoon dat meer bruin as wit mense Afrikaans praat, word ook vinnig uitgepluk. Hoe dan om te verklaar dat die oorgrote meerderheid van studente wat Stellenbosch toe kom, nie bruin is nie? Die studentegetalle reflekteer nie die statistieke nie. Daar is beslis nie 60% bruin en swart Afrikaanse studente nie. Die gesig van Afrikaans in die media verbeeld, is definitief nie 60% bruin nie. Toyota verskaf nie geborgde voertuie vir bruin skrywers en kunstenaars soos wat hulle dit vir wit kunstenaars doen nie. Bruin en swart kunstenaars kry nie dieselfde (of dan 60% van) die lugtyd in die media nie. Dis wit kunstenaars wat al die blootstelling kry, dis wit kunstenaars wat al die bevoorregting kry. Niemand kla daaroor nie; dit word inderwaarheid as die norm aanvaar. Hoekom dan kla as die persepsie geskep word dat Afrikaans die taal van die wit mense is?

Die raad moet die finale besluit oor die voorgestelde taalbeleid maak, na verneem word op 30 November. Is enigeen besig om op Maties se webwerf te gaan, te kyk wie op die raad is, en hulle te lobby om teen die besluit te stem? Of is dit nou maar net weer ʼn geval dat daar populistiese stellings in die media gemaak word, maar niemand is bereid om kop uit te steek en iets daadwerkliks te doen nie?

Daar word as rede vir die skielike besluit om die taalbeleid te verander, aangevoer dat Engels die “common language” in die land is, en dat indien die universiteit wil tred hou met die veranderde samelewing, dan moet hulle die taal van onderrig verander.

Ek dink nie dis die volle waarheid nie. Ek dink die universiteit is polities in ʼn hoek gedryf, en hulle het geen keuse gehad oor die besluit wat hulle maak nie.

Die skrif is tog al vir ʼn rukkie aan die muur.

Ek moet bieg: ek is moeg om te lees van meertaligheid, en dekolonisasie en Frantz Fanon se skryfwerk. Ek is siek en sat daarvoor om te lees van die waarde van moedertaalonderrig. Moet my nie verkeerd verstaan nie: als wat gesê word oor hierdie onderwerpe, is waar. Fanon het waardevolle goed gesê oor kolonialisme. Ek dink net nie dis relevant nie. Ek dink dis alles deel van ʼn  ingewikkelde rookskerm.

As moedertaalonderrig regtig ʼn ernstige agendapunt was, hoekom dan nie vra dat tale soos Xhosa uitgebrei word nie? Hoekom het meertaligheid eers regtig in  die volksmond begin lê toe Afrikaans as onderrigtaal in die gedrang kom? Is dit nie net ʼn set om die eie te probeer beskerm nie?

En in elk geval, as alles verengels word, hoe is dit meertaligheid? Dit lyk vir my bra na eentaligheid.

Vir die #OpenStellenbosch crowd: as dekolonisasie regtig so ʼn brandpunt is, hoekom dan vra om in die taal van die aartskoloniseerder onderrig te word? As julle regtig van kolonialisme ontslae wou raak, hoekom dan nie vra om in ʼn inheemse Afrika-taal onderrig te word nie? Hoekom nie aandring dat ons trotse inheemse tale tot hulle regmatige plek as volle amptelike tale, met al die bevoorregting daaraan verbonde, verhef word nie? Of is julle so deeglik gekoloniseer dat julle dit nie eers besef nie?

Maak dit saak dat niemand as wenners uit hierdie stryd kan tree nie? Maak dit saak dat ja, baie bruin studente wat ook nie Engels magtig is nie, en opvoeding in Afrikaans verkies, nou as collateral damage in die slag bly?

Onderliggend aan hierdie voorgestelde taalbeleid is ʼn eenvoudige, maar gruwelike mistasting: die aanname van die universiteit dat hulle dosente Engels met dieselfde vlotheid as Afrikaans kan praat, en hulle studente Engels na behore verstaan. Ek is nie beledigend teenoor enigeen nie. Dis ʼn feit soos ʼn koei dat daar fyner nuanses is wat net eenvoudig verlore raak in vertaling. Ons almal het al in genoeg lesings gesit met vakkundige persone wat al die kennis in die wêreld het, en dit nie kan oordra nie. Om kennis van die vak te hê, is net een vereiste daarvan om met uitnemendheid te doseer. Jy moet ook taalvaardig wees om daai kennis te kan oordra, en hier gaan ons die wiele sien afkom.

Die kompromie wat Stellenbosch nou wil aangaan, is om almal in ʼn tweede of selfs derde taal te onderrig, in plaas daarvan om moeite te doen om seker te maak al hulle studente kry kwaliteitsonderrig in hul eerste taal.

Dis ʼn soort gelykheid, ek gee toe. Dis gelykheid wat almal ewe veel benadeel, en waaruit niemand ooit kan wen nie.

Daar is jare reeds ʼn besef wanneer daar van arbeidsgelykheid gepraat word, dat daar eenvoudig verskille is. Mans raak nie swanger nie. Die meeste vroue het nie die spiere om swaar fisieke arbeid te verrig nie. Blinde mense kan nie busbestuurders word nie. Daar’s ʼn besef dat daar voorsiening gemaak moet word vir verskillende vermoëns by verskillende mense. Dis hoekom daar opritte by die meeste geboue is, om toegang vir rolstoele te vergemaklik. Daar was nie ʼn oplossing voorgestel dat, om gelykheid te bewerkstellig, almal nou in rolstoele gesit moet word nie – en dis in effek wat Stellenbosch nou wil doen. Dis ʼn oplossing wat uiteindelik kwaliteitsonderrig die nek gaan inslaan.

Ek het heelwat klagtes gehoor oor die gehalte van fluistertolkdienste vanuit studente se oogpunt. Ek het egter hierdie jaar, toe ek by ʼn slypskool ʼn aanbieder was, ervaar wat dit is uit die dosent se oogpunt. Net een student het die dienste van ʼn fluistertolk gebruik. Dit was egter ʼn lae gedruis net onder die vlak van irritasie wat absoluut steurend is.Ek kan my net indink hoe dit moet klink wanneer daar vyf of tien studente is wat fluistertolke gebruik – selfs as daar aangeneem word dat die gehalte van die tolke ewe goed is, moet dit die lesinglokaal chaoties maak. Hoe dit tot kwaliteitsonderrig kan bydra, weet ek nie.

like_litnet_op_facebookSal dit bydra tot sosiale kohesie om die taal van onderrig te verander, maar daar word niks gedoen om iets omtrent die onderliggende ongelyke magstrukture te doen nie? Wit bevoorregting, en swart frustrasie, moet eers volledig aandag geniet voordat taal enigsins op ʼn gelyke speelvlak gebesig kan word.

Tot dan is enige verandering in taalbeleid net ʼn kosmetiese verandering wat niemand help nie.

 

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Rehana Mohamed

    Goed geskryf,Bettina ... interessant,my ook beslis laat dink, veral oor die Bruin kwessie!

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Wyngaard word in PEN Afrikaans gereken as 'n voorstander van Afrikaans, al het sy die onnodige irriterende gewoonte om onnodige Engelse woorde in Afrikaanse teks (en seker ook spraak) te gebruik. Maar hoe kan sy sonder meer vrede hê met wat met Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) gebeur? Die skrif is glo reeds lank aan die muur. Beteken dit dat Afrikaanssprekendes in toegee-modus moet gaan? Wat het FW de Klerk se toegewings ons in die sak gebring? 'n Staat fluks op pad na mislukking, bv finansiële inploffing.
    Hoe kan Wyngaard van Afrikaanssprekendes ekstra finansiële bydraes vir die behoud van Afrikaans verwag as dit juis Afrikaners is wat die US oor dekades as 'n Afrikaanse universiteit uitgebou het? Dit is diegene wat Engels as 'n addisionele onderrigtaal wil hê wat vir die ekstra uitgawes moet betaal.
    Hoe kan Wyngaard beswaar teen "opruiende" toesprake en stellings ten behoewe van Afrikaans hê as die voortbestaan van Afrikaans aan die US en elders bedreig word? Dit is juis nou dat almal wat Afrikaansgetrou en -lojaal is alles in hulle vermoë vir die Afrikaanssaak moet doen. Dit sluit skryfwerk en bekke-oopmaak in.
    Deel van die Afrikaansstrategie moet wees om die valse profete van Afrikaans te identifiseer en isoleer.

  • Avatar
    Etienne Terblanche

    Beste Bettina, baie dankie vir jou uiters, uiters waardevolle stuk skryfwerk hier. Dit is regtig stof tot nadenke, en ek sê dit sonder enige ironie. My hart is seer vir Afrikaans vandag. My hart is seer oor die "collateral damage" - 'n briljante frase in die konteks tans. Hoe lank kom hierdie "collateral damage" nie al met ons saam nie? Is dit te laat om sogenaamde bruinmense in te nooi, aktief in te bring, in die tersiêre toneel? Asseblief, ek hoop nie so nie, ag vader tog. En hoe lank moet Afrikaans nog die stiefkind wees van al die probleme in die land?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top